Waardeer jy Jehovah se organisasie?
“So sê die HERE: Die hemel is my troon en die aarde die voetbank van my voete.”—JESAJA 66:1.
1, 2. (a) Watter sigbare bewyse kan jy opnoem dat Jehovah ’n organisasie het? (b) Waar woon Jehovah?
GLO jy dat Jehovah ’n organisasie het? Indien wel, waarom glo jy dit? Jy antwoord dalk: ‘Wel, ons het ’n Koninkryksaal. Ons het ’n goed georganiseerde gemeente met ’n liggaam van ouer manne. Ons het ’n behoorlik aangestelde kringopsiener wat ons gereeld besoek. Ons woon georganiseerde kring- en streekbyeenkomste by. Ons het ’n takkantoor van die Wagtoringgenootskap in ons land. Dit alles en baie meer bewys tog sekerlik dat Jehovah ’n funksionerende organisasie het.’
2 Sulke kenmerke lewer bewys van ’n organisasie. Maar as ons slegs sien en erken wat hier op die aarde is, het ons nie ’n geheelbeeld van Jehovah se organisasie nie. Jehovah het vir Jesaja gesê dat die aarde slegs Sy voetbank is, maar dat die hemel Sy troon is (Jesaja 66:1). Na watter “hemel” het Jehovah verwys? Na ons atmosfeer? Na die buitenste ruimte? Of na ’n ander lewensvlak? Jesaja praat van Jehovah se “heilige en heerlike woning”, en die psalmis beskryf hierdie hemel as “sy woonplek”. Die “hemel” in Jesaja 66:1 verwys derhalwe na die onsigbare geesteryk waarin Jehovah die oppermagtige, of hoogste, posisie beklee.—Jesaja 63:15; Psalm 33:13, 14.
3. Hoe kan ons twyfelgedagtes te bowe kom?
3 As ons waarlik Jehovah se organisasie wil verstaan en waardeer, moet ons dus na die hemel kyk. En vir party skep dit ’n probleem. Hoe weet ons dat Jehovah se hemelse organisasie werklik bestaan, aangesien dit onsigbaar is? Party gaan miskien selfs deur ’n tonnel van twyfelgedagtes en wonder: ‘Hoe kan ons seker wees?’ Wel, hoe kan geloof twyfelgedagtes te bowe kom? Twee sleutelmaniere is om ’n indringende persoonlike studie van God se Woord te maak en Christelike vergaderinge gereeld by te woon en daaraan deel te neem. Dan sien ons die lig van waarheid aan die einde van die tonnel. Ander knegte van God het ook al twyfelgedagtes gehad. Kom ons kyk na die geval van Elisa se kneg toe Israel deur die koning van Aram aangeval is.—Vergelyk Johannes 20:24-29; Jakobus 1:5-8.
Hy het die hemelse leërskaar gesien
4, 5. (a) Watter probleem het Elisa se kneg gehad? (b) Hoe het Jehovah op Elisa se gebed gereageer?
4 Die koning van Aram het ’n swaar leër in die nag na Dotan gestuur om Elisa gevange te neem. Wat ’n skok was dit tog vir Elisa se kneg toe hy vroeg die oggend opstaan en uitgaan, moontlik om ’n bietjie vars lug op die plat dak van hulle Midde-Oosterse huis te skep! ’n Hele Aramese leër met perde en strydwaens het die stad omsingel en gewag om God se profeet gevange te neem. Die kneg het vir Elisa gesê: “Ag, my heer, hoe sal ons maak?” Elisa het blykbaar kalm en met oortuiging geantwoord: “Vrees nie; want die wat by ons is, is meer as die wat by hulle is.” Die kneg moes seker gewonder het: ‘Waar is hulle? Ek kan hulle nie sien nie!’ Soms kan dit ook ons probleem wees—ons sien, of onderskei, nie die hemelse leër met die oë van ons verstand nie.—2 Konings 6:8-16; Efesiërs 1:18.
5 Elisa het gebid dat sy kneg se oë geopen word. Wat het toe gebeur? “En die HERE het die oë van sy dienaar geopen, dat hy kon sien, en meteens was die berg vol perde en waens van vuur rondom Elisa” (2 Konings 6:17). Ja, hy het die hemelse leër gesien, engeleleërs wat gewag het om God se kneg te beskerm. Nou kon hy verstaan waarom Elisa soveel vertroue gehad het.
6. Hoe kan ons insig in Jehovah se hemelse organisasie verkry?
6 Het ons ook soms ’n gebrek aan onderskeiding soos wat Elisa se kneg gehad het? Is ons geneig om slegs die fisiese sy van situasies te sien wat ons of die Christelike werk in sekere lande bedreig? Indien wel, kan ons verwag om ’n spesiale visioen te sien om ons te verlig? Nee, want ons het iets wat Elisa se kneg nie gehad het nie—’n hele boek wat baie visioene bevat, die Bybel, wat ons insig in die hemelse organisasie kan gee. Hierdie geïnspireerde Woord gee ook rigsnoere om ons denke en lewenswyse reg te stel. Maar ons moet ons inspan om na onderskeidingsvermoë te soek en waardering vir Jehovah se reëling aan te kweek. En ons kan dit doen deur persoonlike studie, tesame met gebed en bepeinsing.—Romeine 12:12; Filippense 4:6; 2 Timoteus 3:15-17.
Studeer om te kan onderskei
7. (a) Watter probleem het sommige dalk wat persoonlike Bybelstudie betref? (b) Waarom is persoonlike studie die moeite werd?
7 Vir baie mense, soos diegene wat dit nooit geniet het om op skool te studeer nie of wat nooit die geleentheid gehad het om te studeer nie, is persoonlike studie nie noodwendig ’n aangename vooruitsig nie. Maar as ons Jehovah se organisasie met die oë van ons verstand wil sien en waardeer, moet ons ’n begeerte aankweek om te studeer. Kan jy ’n lekker maaltyd geniet sonder voorbereiding? Soos enige sjef of kok vir jou sal sê, verg die voorbereiding van ’n lekker maaltyd baie werk. Tog kan dit in ’n halfuur of minder opgeëet word. Daarenteen kan ons lewenslange voordele uit persoonlike studie trek. Ons sal leer om van persoonlike studie te hou wanneer ons die vooruitgang sien wat ons kan maak. Die apostel Paulus het tereg gesê dat ons voortdurend op onsself en op ons onderrigting moet let en moet voortgaan om ons op openbare voorlesing toe te lê. Voortdurende inspanning is nodig, maar die voordele kan ewigdurend wees.—1 Timoteus 4:13-16.
8. Watter gesindheid beveel Spreuke ons aan om te hê?
8 ’n Wyse man van die ou tyd het gesê: “My seun [of dogter], as jy my woorde aanneem en my gebooie by jou bewaar, sodat jy jou oor laat luister na wysheid, jou hart neig tot verstand; ja, as jy na die insig roep, na die verstand jou stem verhef, as jy daarna soek soos na silwer en dit naspeur soos verborge skatte, dan sal jy die vrees van die HERE verstaan en die kennis van God vind.”—Spreuke 2:1-5.
9. (a) Hoe vergelyk die waarde van goud met “die kennis van God”? (b) Watter hulpmiddels het ons nodig om juiste kennis te verkry?
9 Sien jy waar die verantwoordelikheid lê? ‘As jy’ is die frase wat herhaaldelik gebruik word. En let op die uitdrukking: ‘As jy dit naspeur soos verborge skatte.’ Dink aan die mynwerkers wat eeue lank vir silwer en goud in Bolivia, Mexiko, Suid-Afrika en ander lande gedelf het. Hulle het hard gewerk en pikke en grawe gebruik om die rots uit te grawe waaruit hulle die edelmetale sou kry. Vir hulle was goud so kosbaar dat hulle in een myn in Kalifornië, VSA, tonnels van 591 kilometer gegrawe het en ’n vertikale diepte van ongeveer 1,5 kilometer bereik het—net om goud te vind. Maar kan jy goud eet? Goud drink? Sal dit jou in ’n woestyn aan die lewe hou as jy besig is om van honger en dors om te kom? Nee, die waarde daarvan is kunsmatig en arbitrêr en verander van dag tot dag soos wat daar in die internasionale markte gesien kan word. Tog het mense al daarvoor gesterf. Hoeveel moeite is dit dan werd om geestelike goud, “die kennis van God”, te verkry? Dink net, die kennis van die Soewereine Heer van die heelal, sy organisasie en sy voornemens! Hiervoor kan ons geestelike pikke en grawe gebruik. Dit is Bybelpublikasies wat ons help om in Jehovah se Woord te delf en die betekenis daarvan te verstaan.—Job 28:12-19.
Hoe om vir insig te delf
10. Wat het Daniël in ’n visioen gesien?
10 Kom ons doen ’n bietjie geestelike delwery sodat ons die kennis van Jehovah se hemelse organisasie kan begin kry. Die sleutel tot hierdie insig vind ons in Daniël se visioen van die Oue van dae op sy troon. Kom ons kyk daarna. Daniël skryf: “Ek het bly kyk totdat trone reggesit is en ’n Oue van dae gaan sit het; sy kleed was wit soos sneeu en die hare van sy hoof soos skoon wol; sy troon was vuurvlamme, die wiele daarvan ’n brandende vuur; ’n stroom van vuur het gevloei en voor Hom uit gegaan; duisend maal duisende het Hom gedien, en tienduisend maal tienduisende het voor Hom gestaan; die gereg het gaan sit, en die boeke is geopen” (Daniël 7:9, 10). Wie was hierdie duisendes wat Jehovah gedien het? Die kruisverwysings in die New World Translation, wat as “pikke” en “grawe” gebruik word, neem ons na verwysings soos Psalm 68:17 (NW) en Hebreërs 1:14. Ja, dié wat gedien het, was hemelse engele!
11. Hoe kan Daniël se visioen ons help om Elisa se woorde te verstaan?
11 Daniël se verslag sê nie dat hy al die getroue engele gesien het wat God tot sy beskikking het nie. Daar kan nog miljoene ander wees. Maar ons kan nou beslis verstaan waarom Elisa kon sê: “Die wat by ons is, is meer as die wat by hulle is.” Al het die leër van die koning van Aram die ondersteuning van ontroue engele, die demone, gehad, het Jehovah se hemelse leër hulle in getal oortref!—Psalm 34:8; 91:11.
12. Hoe kan jy meer aangaande engele te wete kom?
12 Miskien sal jy graag meer omtrent hierdie engele wil weet, soos die rol wat hulle in Jehovah se diens speel. Uit die Griekse woord vir engel kan ons sien dat hulle boodskappers is, want dit beteken ook “boodskapper”. Hulle pligte behels egter baie meer. Maar om uit te vind wat dit is, sal jy moet delf. As jy Insight on the Scriptures beskikbaar het, kan jy die artikel “Angels” bestudeer, of jy kan ouer artikels in Die Wagtoring oor engele raadpleeg. Jy sal verbaas wees oor hoeveel jy aangaande hierdie hemelse knegte van God kan leer en hoeveel waardering jy vir hulle ondersteuning kan opbou (Openbaring 14:6, 7). Maar in God se hemelse organisasie doen party geesskepsele gespesialiseerde werk.
Wat Jesaja gesien het
13, 14. Wat het Jesaja in ’n visioen gesien, en watter uitwerking het dit op hom gehad?
13 Laat ons nou bietjie in Jesaja se visioen delf. Wanneer jy hoofstuk 6, vers 1 tot 7 lees, behoort jy beïndruk te wees. Jesaja sê dat hy ‘Jehovah op ’n troon sien sit het’, en “serafs het bo Hom gestaan”. Hulle het Jehovah se heerlikheid verkondig en sy heiligheid geloof. Jy hoef net hierdie verslag te lees en dit sal jou diep tref. Wat was Jesaja se reaksie? “Toe het ek gesê: Wee my, ek is verlore [in Sjeool]! Want ek is ’n man onrein van lippe en woon onder ’n volk wat onrein van lippe is; want my oë het die Koning, die HERE van die leërskare, gesien!” Hoe beïndruk was hy tog nie met daardie visioen nie! Is jy?
14 Hoe kon Jesaja dus tydens hierdie glorieryke gesig staande bly? Hy verduidelik dat ’n seraf tot sy redding gekom en gesê het: “Jou skuld is weg en jou sonde versoen” (Jesaja 6:7). Jesaja kon op God se barmhartigheid vertrou en aandag skenk aan Jehovah se woorde. Sou jy nie nou graag meer omtrent hierdie hooggeplaaste geesskepsele wou weet nie? Wat moet jy dan doen? Delf na meer inligting. Een hulpmiddel is die Watch Tower Publications Index met sy verwysings wat jy kan gebruik om baie bronne van verklarende inligting op te spoor.
Wat het Esegiël gesien?
15. Wat toon dat Esegiël se visioen betroubaar is?
15 Laat ons nou na ’n ander soort geesskepsel kyk. Esegiël het die voorreg gehad om ’n inspirerende visioen te hê terwyl hy nog ’n gevangene in Babilon was. Maak asseblief jou Bybel oop by Esegiël hoofstuk 1, die eerste drie verse. Hoe begin die verslag? Sê dit: ‘Lank, lank gelede, in ’n ver land . . . ’? Nee, dit is nie ’n sprokiesverhaal in ’n mitologiese tyd nie. Vers 1 sê: “In die dertigste jaar, in die vierde maand, op die vyfde van die maand, toe ek onder die ballinge by die Kebarrivier was, is die hemele geopen en het ek gesigte van God gesien.” Wat merk jy op omtrent hierdie vers? Dit gee ’n presiese datum en ’n spesifieke plek aan. Hierdie besonderhede wys na die vyfde jaar van die ballingskap van koning Jojagin, die jaar 613 v.G.J.
16. Wat het Esegiël gesien?
16 Die hand van Jehovah het op Esegiël gekom, en hy het ’n ontsagwekkende visioen begin sien van Jehovah op ’n troon in ’n ontsaglike hemelse strydwa wat groot wiele met oë al op die buitenste rand gehad het. Die besonderhede waarin ons hier belangstel, is dat daar vier wesens was wat elk by ’n wiel gestaan het. “Dít was hulle voorkoms: hulle het die gestalte van ’n mens gehad; en elkeen het vier aangesigte gehad en elkeen van hulle vier vlerke. . . . En hulle aangesigte het gelyk soos die gesig van ’n mens; en al vier het die gesig van ’n leeu gehad aan die regterkant en al vier het die gesig van ’n bees [“bul”, NW] aan die linkerkant; ook het al vier die gesig van ’n arend gehad.”—Esegiël 1:5, 6, 10.
17. Wat beeld die vier gesigte van die gerubs af?
17 Wat was hierdie vier lewende wesens? Esegiël self sê vir ons dat hulle gerubs was (Esegiël 10:1-3, 14). Waarom het hulle vier gesigte gehad? Om die Soewereine Heer Jehovah se vier vernaamste eienskappe af te beeld. Die arend se gesig was ’n simbool van versiende wysheid (Job 39:30-32). Wat het die gesig van die bul afgebeeld? Dit is bekend dat ’n vegtende bul met sy geweldige sterk nek en skouers al ’n perd en ruiter in die lug opgelig het. Die bul is beslis ’n simbool van Jehovah se onbeperkte krag. Die leeu word as ’n simbool van moedige geregtigheid gebruik. Laastens is dit gepas dat die gesig van ’n mens God se liefde afbeeld, aangesien die mens die enigste aardse skepsel is wat hierdie eienskap op intelligente wyse aan die dag kan lê.—Matteus 22:37, 39; 1 Johannes 4:8.
18. Hoe dra die apostel Johannes by tot ons begrip van die hemelse organisasie?
18 Daar is ander visioene wat ons kan help om ’n geheelbeeld te verkry. Dit sluit Johannes se visioene in wat in die Bybelboek Openbaring opgeteken is. Soos Esegiël sien hy Jehovah op ’n glorieryke troon saam met gerubs. Wat doen die gerubs? Hulle herhaal die serafs se verklaring in Jesaja hoofstuk 6 en sê: “Heilig, heilig, heilig is Jehovah God, die Almagtige, wat was en wat is en wat kom” (Openbaring 4:6-8). Johannes sien ook ’n lam by die troon. Wie beeld dit af? Niemand anders nie as die Lam van God, Jesus Christus.—Openbaring 5:13, 14.
19. Wat het jy deur middel van hierdie studie omtrent Jehovah se organisasie geleer?
19 Wat het ons dus deur middel van hierdie visioene geleer? Dat Jehovah God op sy troon aan die hoof van die hemelse organisasie is en dat hy die Lam, Jesus Christus, wat die Woord, of Logos is, aan sy sy het. Dan het ons ’n hemelse leërskaar engele gesien wat serafs en gerubs insluit. Hulle is deel van ’n groot, verenigde organisasie wat Jehovah se voornemens uitvoer. En een van daardie voornemens is die wêreldwye verkondiging van die goeie nuus in hierdie tyd van die einde.—Markus 13:10; Johannes 1:1-3; Openbaring 14:6, 7.
20. Watter vraag sal in die volgende artikel beantwoord word?
20 Laastens het ons Jehovah se Getuies op aarde wat in hulle Koninkryksale vergader sodat hulle kan leer hoe om die Soewereine Heer se wil te doen. Ons besef ongetwyfeld nou dat dié wat by ons is meer is as dié wat by Satan en die vyande van die waarheid is. Die vraag wat nog beantwoord moet word, is: Hoe is die hemelse organisasie betrokke by die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk? Die volgende artikel sal dit en ander sake ondersoek.
Hersieningsvrae
◻ Wat moet ons verstaan om Jehovah se organisasie te waardeer?
◻ Watter ondervinding het Elisa se kneg gehad, en hoe het die profeet hom bemoedig?
◻ Hoe moet ons persoonlike studie beskou?
◻ Hoe gee Daniël, Jesaja en Esegiël besonderhede van die hemelse organisasie?
[Prent op bladsy 13]
Persoonlike studie hou baie groter voordele in as ’n goed voorbereide maaltyd
[Prent op bladsy 15]
Jehovah het Elisa se gebed verhoor deur hom ’n visioen van ’n hemelse leërskaar te gee