Deel 4—Medo-Persië—Die vierde groot wêreldmoondheid in Bybelgeskiedenis
Die Meders en die Perse was betrokke by talle gebeure wat in die Bybel verhaal word. Hulle word ook in ’n aantal Bybelprofesieë gemeld. Wil jy graag meer oor hierdie eertydse en interessante nasies weet?
DIE eertydse Meders en Perse was op mars! Kores die Grote, wat reeds ’n ryk beheer het, het hulle aangevoer. Hy het toe sy aandag op magtige Babilon, die belangrikste wêreldmoondheid van daardie tyd, gevestig.
In die hoofstad van Babilon het koning Belsasar, wat volgens die Bybel “onder die invloed van die wyn” was, ’n fees vir duisend vooraanstaande gaste gehou. Hulle het hul afgode luidrugtig geprys terwyl hulle uit heilige voorwerpe gedrink het wat uit Jehovah se tempel in Jerusalem geneem is (Daniël 5:1-4, vgl. NAV). Hulle het veilig gevoel binne Babilon se sterk mure.
Buitekant het Kores se leër egter die waters van die Eufraatrivier wat deur Babilon geloop het, verlê. Toe daardie natuurlike versperring verwyder is, het sy soldate deur die vlak water met die rivierbedding op geloop—vlak by Babilon se mure verby en tot in die stad deur oop poorte wat op die rivier uitgekyk het. Voor sonsopkoms was Belsasar dood, het Babilon geval en het Medo-Persië die vierde groot wêreldmoondheid van Bybelgeskiedenis geword! Maar wie was hierdie Meders en Perse?
Die Meders het van die bergagtige hoogvlakte oos van Assirië gekom. Sommige reliëfs wat in Assirië gevind is, beeld hulle of met kleredrag wat lyk soos skaapvelmantels oor baadjies en oprygstewels, wat gepas was vir hulle herderswerk op die hoogvlaktes. Die Meders het feitlik geen geskrewe verslae nagelaat nie. So te sê alles wat ons van hulle weet, word uit die Bybel, uit Assiriese tekste en van klassieke Griekse geskiedskrywers geleer. Die Perse het oorspronklik dikwels ’n nomadiese lewe in die streek noord van die Persiese Golf gelei. Namate hulle ryk groter geword het, het hulle ’n besonderse voorliefde vir weelderigheid ontwikkel.
Die Meders was aanvanklik die heersende volk, maar in 550 v.G.J. het Kores die Grote van Persië ’n vinnige oorwinning oor die Mediese koning Astuages behaal. Kores het die gewoontes en wette van die twee volke gekombineer, hulle koninkryke verenig en hulle verowerings uitgebrei. Hoewel die Meders aan die Perse ondergeskik was, was die ryk beslis tweeledig. Meders het hoë ampte beklee en het Persiese leërs aangevoer. Vreemdelinge het van die Meders en die Perse gepraat, of as hulle ’n enkelvoudige benaming gebruik het, was dit “die Meder”.
Voordat die Meders en die Perse Babilon aangeval het, het die profeet Daniël ’n gesig ontvang van ’n ram met twee horings wat hierdie tweeledige nasie afgebeeld het. Daniël het geskryf: “En die twee horings was hoog, ook was die een hoër as die ander, en die hoogste het laaste uitgekom.” Daar het geen twyfel bestaan oor die ram se identiteit nie, want die engel het vir Daniël gesê: “Die ram wat jy gesien het met die twee horings, is die konings van die Meders en die Perse.”—Daniël 8:3, 20.
Daniël was in Babilon toe dit geval het en hy was ’n ooggetuie van die Meders en die Perse se koms. Darius die Meder, die eerste heerser van die pasverowerde stad, het 120 beskermers van die ryk aangestel en het drie amptenare oor hulle gestel. Daniël was een van die drie (Daniël 5:30–6:4). Met die oog op Daniël se hoë administratiewe posisie voor, sowel as na Babilon se val, kan ’n mens jou nouliks voorstel dat Kores nie bewus gemaak is van die Hebreeuse profesie wat twee eeue tevore gesê het dat Babilon deur ’n man met die naam Kores verower sou word nie.—Jesaja 45:1-3.
Jerusalem word herstel
Babilon se val het die weg berei vir die opkoms van ’n ander stad—Jerusalem. Dit het sedert sy vernietiging deur die Babiloniërs in 607 v.G.J. byna 70 jaar lank woes gelê. Die Bybelprofesieë het gesê dat Kores Jerusalem sou laat herbou en die fondament van sy tempel sou laat lê.—Jesaja 44:28.
Het dit gebeur? Ja. Die priester, geleerde en skrifgeleerde Esra berig dat Kores bevel gegee het dat Jehovah se aanbidders kon “optrek na Jerusalem wat in Juda is, en die huis van die HERE, die God van Israel, bou: Hy is die God wat in Jerusalem is” (Esra 1:3). Esra 2:64, 65 maak melding van ongeveer 50 000 mense wat die terugtog na Jerusalem onderneem en die tempelskatte met hulle saamgedra het. In 537 v.G.J. het mense weer in die land begin woon—net 70 jaar nadat Jerusalem geval het.—Jeremia 25:11, 12; 29:10.
Argeologie het bevestig dat so ’n bevel in ooreenstemming met Kores se beleid was. Op ’n kleisilinder wat in die puinhope van Babilon gevind is, sê Kores: “Ek het van (hierdie) heilige stede . . . die heiligdomme herstel wat lank woes gelê het, die beelde teruggestuur wat (voorheen) daarin was en permanente heiligdomme vir hulle geskep. Ek het (ook) al hulle (voormalige) inwoners byeengebring en hulle wonings (aan hulle) teruggegee.”
Samaritaanse vyande van die Jode het later deur ’n keiserlike verbod die herbouing van die tempel gestop. Jehovah se profete Haggai en Sagaria het die volk aangespoor en die bouwerk is hervat. “Darius, die koning” het ’n soektog gelas om Kores se oorspronklike verordening te vind wat die tempel se herstel magtig. Die Bybel sê dat ’n skrifrol met ’n memorandum wat bevestig het dat die tempelwerk wettig was by Ekbatana (Agmeta), Kores se somerwoning, gevind is. Daardie werk is in die sesde jaar van die Persiese koning Darius I voltooi.—Esra 4:4-7, 21; 6:1-15.
Bewys van grootsheid
In die gesig wat vroeër gemeld is, het Daniël die Medo-Persiese “ram [met twee horings] sien stoot na die weste en na die noorde en na die suide, en al die diere [ander nasies] kon voor hom nie standhou nie, en daar was niemand wat uit sy mag gered het nie; maar hy het gedoen net wat hy wou, en het magtig geword” (Daniël 8:4). Hierdie gesig is ten minste teen Darius se tyd vervul. As bewys van sy prestasies het Darius die Grote homself op ’n groot reliëf laat afbeeld wat steeds op ’n hoë rotswand by Behistoen, op die ou pad tussen Babilon en Ekbatana, gesien kan word. Behalwe die verowering van Babilon het die Medo-Persiese “ram” gebied in drie belangrike rigtings beset: noord tot in Assirië, wes deur Klein-Asië en suid tot in Egipte.
Ongeveer 640 kilometer suidoos van hulle somerwoning by Ekbatana het die Persiese keisers ’n reusepaleis by Persepolis gebou. ’n Reliëf aldaar toon Darius op sy troon, en op ’n inskripsie spog hy: “Ek is Darius, grote koning, koning van konings, koning van lande . . . wat hierdie paleis gebou het.” ’n Paar hoë pilare van hierdie grootse hoofstad staan vandag nog. ’n Ander hoofstad was by Susa (Susan) wat sentraal tussen Babilon, Ekbatana en Persepolis geleë was. Daar het Darius die Grote nog ’n grootse paleis gebou.
Darius is deur sy seun Xerxes opgevolg, wat klaarblyklik die “Ahasveros” van die Bybelboek Ester was. Dit sê dat Ahasveros “geregeer [het] oor ’n ryk van honderd sewe en twintig provinsies wat gestrek het van Indië af tot by Kus” (NAV) toe hy op “sy troon in die vestingstad Susan was”. Dit was daar waar Ahasveros die pragtige jong Ester sy koningin gemaak het (Ester 1:1, 2; 2:17). In die Louvre-museum in Parys kan jy ’n swierige bulkapiteel sien wat bo-op ’n hoë pilaar in hierdie paleis gestaan het, asook muurversierings wat trotse Persiese boogskutters en pragdiere afbeeld. Albasterflakons, juwele en ander items wat daar gevind is, pas goed by die Bybel se verklarings oor die intensiewe skoonheidsbehandelings wat Ester gekry het en oor die weelde wat in Susan bestaan het.—Ester 1:7; 2:9, 12, 13.
Verhale deur Xerxes se Griekse vyande het onder andere vertel van huweliksprobleme en hoe die Persiese koning glo deur sekere van sy howelinge oorheers is. Hoewel die feite moontlik deurmekaar en verdraaid is, gee hierdie verhale skynbaar ’n paar basiese gedagtes van die boek Ester weer, wat sê dat die koning hardkoppige koningin Vasti onttroon en haar deur Ester vervang het en dat Ester se neef Mordegai ’n hoë magsposisie in die ryk verkry het.—Ester 1:12, 19; 2:17; 10:3.
Jehovah se aanbidders word vriendelik behandel
In die jaar 468 v.G.J. het Xerxes se opvolger Artasasta (Longimanus) die priester Esra, wat na die oorspronklike vrystelling van die Jode deur Kores in Babilon gewoon het, gemagtig om na Jerusalem terug te keer en die ware aanbidding van Jehovah daar te bevorder. Ongeveer 1 500 mans en hulle gesinne—waarskynlik altesaam 6 000 persone—het Esra vergesel en ’n groot bydrae vir Jehovah se tempel saam met hulle gebring.—Esra 7:1, 6, 11-26.
Dit was ook in die paleis by Susan dat hierdie einste Artasasta in sy 20ste jaar (455 v.G.J.) Nehemia se versoek toegestaan het om teruggestuur te word om Jerusalem en sy mure te herbou. Dit was die begin van die “sewentig weke” van jare van Daniël se profesie wat Jesus se verskyning as “Messias die Leier” presies op tyd in die jaar 29 G.J. voorspel het.a—Daniël 9:24, 25, NW; Nehemia 1:1; 2:1-9.
’n Paar dokumente wat in Aramees op papirus geskryf is, is by Elefantine, ’n eiland in Egipte se Nylrivier, gevind. Hierdie dokumente openbaar die akkuraatheid waarmee die Bybelskrywers Esra en Nehemia toestande sowel as amptelike kommunikasie gedurende die Persiese heerskappy beskryf het. In Biblical Archaeology sê professor G. Ernest Wright: “Nou . . . kan ons sien dat die Aramees van Esra presies volgens sy tyd is, terwyl dié van die regeringsdokumente die algemene soort is wat ons gewoonlik met die Persiese ryk assosieer.” Een van die dokumente het ’n Persiese koninklike bevel bevat oor die Pasgaviering deur die Joodse gemeenskap in Egipte.
Medo-Persië swig voor Griekeland
In ’n gesig het Daniël gesien hoe Medo-Persië as ’n ram met twee horings afgebeeld word. Daarna, twee eeue voordat dit gebeur het, het hy gesien dat “daar uit die weste ’n bokram [aankom] wat so vinnig oor die aarde beweeg dat hy nie grond raak nie” (NAV). Die vinnige bokram het “die ram [gestoot] en sy twee horings verbreek; en daar was geen krag in die ram om voor hom stand te hou nie” (Daniël 8:5-7). Het dit volgens die geskiedenis werklik met Medo-Persië gebeur?
Ja, in die jaar 334 v.G.J. het Alexander die Grote vanuit Griekeland na die weste gegaan. Hy het blitssnel, soos ’n bokram, deur Asië getrek en die een oorwinning na die ander oor die Perse behaal. Hy het uiteindelik, in 331 v.G.J., by Gaugamela ’n Persiese leër van ’n miljoen man uitmekaargejaag. Hulle aanvoerder, Darius III, het gevlug en is later deur voormalige vriende vermoor. Die vierde wêreldmoondheid is tot ’n val gebring deurdat sy horings afgebreek is, en Alexander se ryk het die vyfde van die groot wêreldmoondhede van Bybelgeskiedenis geword. Dit sal in ons nommer van 15 April 1988 bespreek word.
Die Medo-Persiese wêreldmoondheid het net meer as twee eeue lank bestaan—vanaf die nag wat dit Babilon in 539 v.G.J. omvergewerp het totdat dit deur Alexander verower is. Dit is ongeveer net so lank soos die tyd wat verloop het sedert die Franse Revolusie of sedert die stigting van die Verenigde State van Amerika. Gedurende so ’n betreklik kort tydperk het die Meders en die Perse onvoorbedag ’n groot rol gespeel by die vervulling van Jehovah God se voornemens en sy onfeilbare profesieë.
[Voetnoot]
a Kyk bladsye 56-66 van die boek “Let Your Kingdom Come” wat deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap uitgegee word vir ’n breedvoerige bespreking van hierdie profesie en sy vervulling.
[Kaart/Prent op bladsy 26]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Medo-Persiese Ryk
INDIË
Ekbatana
Susa (Susan)
Persepolis
Babilon
Jerusalem
EGIPTE
[Prent]
Puinhope van Persepolis, Persië se seremoniële hoofstad
[Erkenning]
Manley-ateljees
[Prent op bladsy 29]
Graf van Kores in Iran