“Wie het wysheid neergelê in die wolke?”
“WANNEER julle ’n wolk in die westelike streke sien opkom, sê julle dadelik: ‘Daar kom ’n storm’, en dit gebeur ook so. En wanneer julle sien dat ’n suidewind waai, sê julle: ‘Daar sal ’n hittegolf wees’, en dit gebeur.” Hierdie woorde van Jesus, wat deur die Evangelieskrywer Lukas opgeteken is, is voorbeelde van weervoorspellings in eertydse Palestina (Lukas 12:54, 55). In sekere omstandighede kon die mense van die ou tyd die tekens bestudeer en akkurate korttermynvoorspellings maak.
Weerkundiges gebruik vandag gesofistikeerde instrumente, soos satelliete wat om die aarde wentel, Dopplerradar en kragtige rekenaars, om weerpatrone oor langer periodes te bepaal. Maar hulle voorspellings is dikwels verkeerd. Waarom?
Baie faktore maak dit moeilik om die weer akkuraat te voorspel. Onvoorsiene veranderinge in temperatuur, humiditeit, lugdruk sowel as windsnelheid en -rigting kan sake byvoorbeeld bemoeilik. Boonop is daar ook nog die ingewikkelde wisselwerking tussen die son, wolke en oseane, wat wetenskaplikes nog nie ten volle verstaan nie. Daarom bly weervoorspelling ’n onpresiese wetenskap.
Die mens se beperkte kennis van die weer herinner ons aan die vraag wat aan Job gestel is: “Wie verwek die doudruppels? Uit wie se moederskoot kom die ys te voorskyn? . . . Kan jy jou stem na die wolke verhef, sodat ’n oorvloed van water jou oordek? . . . Wie het wysheid neergelê in die wolke? Of wie het verstand gegee aan die wolkgevaarte? Wie kan die wolke met wysheid tel? En die watersakke van die hemel—wie giet hulle leeg?”—Job 38:28-37.
Die antwoord op al hierdie vrae is: Jehovah God en nie die mens nie. Ja, hoe wys mense ook al mag voorkom, die wysheid van ons Skepper is baie ver bo dit verhewe. Dit is werklik ’n liefdevolle gebaar van hom om sy wysheid vir ons in die Bybel beskikbaar te stel sodat ons ons weg voorspoedig kan maak.—Spreuke 5:1, 2.