Hou aan soek soos na verborge skatte
HOE kosbaar is die juwele van wysheid in God se Woord, die Bybel, tog nie! Hierdie juwele openbaar die goddelike voorneme en stel vir ons opwindende dinge in die vooruitsig. Hulle gee vertroosting en wys ons hoe om God te behaag (Romeine 15:4). Hierdie juwele help ons ook om verstandig te wees wanneer ons met ander omgaan. Wysheid van God help ons inderdaad om “die pad van die lewe” tevrede en gelukkig te bewandel.—Psalm 16:11; 119:105.
Aangesien wysheid baie voordele inhou, moet ons dit hoog op prys stel. “Al die woorde van my mond is reg”, sê die verpersoonlikte wysheid. “Daarin is niks wat slinks of vals is nie, hulle is almal duidelik vir die verstandige en reg vir die wat kennis gevind het. Neem my tug aan, en nie silwer nie, en kennis liewer as uitgesoekte goud. Want wysheid is beter as korale, en al die kleinode kan daar nie mee vergelyk word nie.”—Spreuke 8:8-11.
Waarom aanhou soek?
Gewoonlik is ’n soektog na begraafde juwele, goud of silwer vergeefs. Dit hoef nie met ’n soektog na goddelike wysheid die geval te wees nie. Maar hoe kan ons in hierdie soektog suksesvol wees? Wel, sukses hang af van hoe vurig ons hierdie skat begeer en hoe hard ons sal werk om dit te vind. As ons die werklike waarde daarvan besef, sal ons dit bo alle ander kosbaarhede op prys stel. “Hoeveel beter is dit [immers] om wysheid te verkry as goud, en verkiesliker om verstand te verwerf as silwer.”—Spreuke 16:16.
Spreuke 2:1-6 maan: “My seun, as jy my woorde aanneem en my gebooie by jou bewaar, sodat jy jou oor laat luister na wysheid, jou hart neig tot verstand [“onderskeidingsvermoë”, NW]; ja, as jy na die insig roep, na die verstand jou stem verhef, as jy daarna soek soos na silwer en dit naspeur soos verborge skatte, dan sal jy die vrees van die HERE verstaan en die kennis van God vind (want die HERE gee wysheid, uit sy mond kom kennis en verstand . . . ).”
Aangesien begraafde skatte verborge is, moet ’n mens daarna soek. Terwyl hulle grawe, offer party ontspanningstyd, voedsel en slaap op. Maar hulle meen dat hierdie opoffering die moeite werd is wanneer die skat gevind word. Ons moet soortgelyke opofferings maak om God se wysheid te soek. Net soos ’n soektog na begraafde skatte veeleisende grawery vereis, verg die soektog na wysheid volharding. Dit is nie genoeg om die Bybel en Christelike publikasies vlugtig te lees nie. Tyd, navorsing en bepeinsing is nodig om geestelike juwele te vind. Maar hoe genotvol is dit tog nie wanneer ons insig in die Skrif verkry nie!—Nehemia 8:13.
’n Suksesvolle skattejag
Ja, dit bring geluk mee as ons in God se Woord delf en juwele van wysheid vind (Spreuke 3:13-18). Met dié doel voor oë is dit verstandig om ’n goeie persoonlike of gesinsbiblioteek op te bou. Maar wat moet dit bevat? Buiten ’n goeie woordeboek vind Jehovah se Getuies dit nuttig om verskeie Bybelvertalings en Christelike Bybelpublikasies te hê, waaronder elke jaar se eksemplare van Die Wagtoring en sy medetydskrif Ontwaak! ’n Biblioteek moet natuurlik behoorlik gebruik word as dit ons as skatsoekers moet help.
In ons soektog na wysheid kan ons die onderwerp- en teksregister van die Watch Tower Publications Index of saakregisters agter in die Wagtoringgenootskap se boeke of tydskrifbundels raadpleeg. Hulle is basiese instrumente om goddelike wysheid te soek. Trouens, hulle is soos ’n kaart wat ons na “verborge skatte” van goddelike wysheid kan lei (Spreuke 2:4). As ons nie sekere publikasies het wat vir navorsing nodig is nie, is hulle dalk by die plaaslike Koninkryksaal van Jehovah se Getuies beskikbaar.
Kom ons lig nou ’n suksesvolle soektog na skatte toe. Wanneer ons die Bybel lees, wonder ons dalk hoe Judas Iskariot gesterf het nadat hy Jesus Christus verraai het. Mattheüs 27:5 sê dat Judas “weggeloop en homself gaan ophang” het. Maar Handelinge 1:18 sê: “Hy . . . het vooroor geval en oopgebars, en al sy ingewande het uitgestort.” Hoe het Judas dan gesterf? Ons kan ’n antwoord vind deur hierdie tekste in die “Scripture Index” van die publikasie Insight on the Scriptures na te slaan. Dit sê: “Mattheüs bespreek blykbaar die wyse van die selfmoordpoging, terwyl Handelinge die gevolg daarvan beskryf. As die twee verslae gekombineer word, lyk dit of Judas homself oor ’n krans probeer hang het, maar die tou of tak het gebreek sodat hy geval en op die rotse daaronder oopgebars het. Volgens die topografie om Jerusalem is so ’n voorval moontlik” (Deel 2, bladsy 130). Kyk asseblief bladsy 10 van hierdie tydskrif aangaande Insight on the Scriptures.
Die gebruik van ’n konkordansie stel ons in staat om Bybeltekste te vind. Wanneer ons ’n teks bespreek, moet ons natuurlik die konteks in ag neem. Kom ons kyk ter toeligting na Psalm 144:12-14. Hierdie verse gee ’n beskrywing van sommige mense wat sê: ‘Ons seuns is soos plante, ons dogters soos pilare wat uitgebeitel is na die boustyl van ’n paleis; ons skure vol, ons kleinvee teel by duisende aan, ons beeste is gelaai.’ Ons dink moontlik dat hierdie woorde op God se volk van toepassing is, maar die konteks toon dat dit nie die geval is nie. In vers 11 smeek die psalmis Dawid om gered te word van mense wat leuens spreek. Hulle het gespog oor hulle seuns, dogters, kleinvee en beeste. Volgens vers 15 het sulke oortreders gesê: “Welgeluksalig is die volk met wie dit so gaan.” Maar Dawid het andersyds gesê: “Welgeluksalig is die volk wie se God die HERE is!”
’n Oorvloed van geestelike juwele!
’n Suksesvolle soektog na wysheid bring beslis geluk mee. En geestelike juwele wat deur navorsing gevind kan word, sluit bevredigende antwoorde op Bybelvrae in. Watter antwoorde vind ons tog nie as ons aanhou soek nie! Waar het Kain byvoorbeeld sy vrou gekry? Die Wagtoring (15 Desember 1981) het gesê: “Die Bybel sê vir ons dat Adam en Eva baie kinders gehad het, nie net twee [Kain en Abel] nie. ‘Die dae van Adam ná die geboorte van Set [nog ’n seun], was agthonderd jaar. En hy het seuns en dogters gehad’ (Gen. 5:4). Waar sou jy, met daardie inligting, nou sê dat Kain sy vrou gekry het? Ja, hy moes met een van sy susters getrou het. Vandag kan dit gevaarlik wees vir kinders wat gebore word vir ouers wat so na aan mekaar verwant is. Maar aan die begin van die mensegeskiedenis, toe die mensdom veel nader aan volmaaktheid was, was dit nie ’n probleem nie.”
Veronderstel ons lees die Bybelboek Spreuke. As ons die woorde in Spreuke 1:7 lees, kan ons wonder: ‘Wat is “die vrees van die HERE”?’ Navorsing kan ons lei na Die Wagtoring van 15 Mei 1987, wat gesê het: “Dit is ontsag, diep eerbied en ’n heilsame vrees om hom te mishaag omdat ons sy goedertierenheid en goedheid waardeer. ‘Vrees van die HERE’ beteken dat ons erken dat hy die Opperregter en die Almagtige is, wat die reg en die mag het om diegene wat aan hom ongehoorsaam is te straf of dood te maak. Dit beteken ook dat ’n mens God getrou dien, hom ten volle vertrou en haat wat hy sê sleg is.”
Hou aan soek!
Die Wagtoring word uitgegee om opregte soekers na wysheid te help om kosbare geestelike juwele te vind. Ons almal het wysheid en ’n begrip van God se Woord nodig. Spreuke 4:7,8 sê: “Die beginsel van die wysheid is: Verwerf wysheid en verwerf insig deur al wat jy besit. Hou dit hoog, dan sal dit jou verhoog; dit sal jou eer as jy dit omhels.”
Alleenlik deur insig in die Skrif te verkry en wysheid reg te gebruik, kan ons ware geluk vind. Ja, en alleenlik deur goddelike wysheid te beoefen, kan ons Jehovah God behaag. Moet dus nie toelaat dat enigiets jou verhinder om na wysheid te soek soos na verborge skatte nie.
[Prente op bladsy 4, 5]
’n Soektog na begraafde skatte verg veeleisende grawery. Moet ons nie in ons soektog na goddelike wysheid volhard nie?