Is jy tevrede met Jehovah se geestelike voorsienings?
“Beproef My tog hierin, sê die HERE van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ’n oorvloedige seën sal uitstort nie.”—MALEAGI 3:10.
1. Deur watter voorsienings word die meeste lewende wesens bevredig?
AS JY ophou om lug in te asem, sal jy binne ’n paar minute sterf. As jy ophou om water te drink, sal jy binne ’n paar dae sterf. As jy ophou om voedsel te eet, sal jy binne ’n paar weke sterf. As jy ophou om jou met Jehovah se geestelike voorsienings te voed, sal jy, wanneer jy sterf, vir ewig dood bly. Jehovah voorsien die lug, water en voedsel wat alle lewende wesens nodig het. Die psalmis sê gevolglik vir Jehovah: “U maak u hand oop en versadig alles wat lewe met welbehae” (Psalm 145:16). Die begeerte van die meeste lewende dinge word deur die materiële voorsienings bevredig. Maar dit is nie die geval met menseskepsele nie.
2. Wat is die mens se hartsbegeerte, en watter voorsiening is nodig vir die bevrediging daarvan?
2 Jesus het hierop gewys toe hy gesê het: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan” (Mattheüs 4:4). Die laere skepping het geen begrip van die ewigheid nie, maar die mens het, soos Prediker 3:11 (NAV) sê: “Hy het ook aan die mens ’n besef gegee van die onbepaalde tyd.” Of soos die Revised Standard Version dit weergee: “Hy het die ewigheid in die mens se verstand geplaas.” Die mens het derhalwe ’n hartgrondige begeerte om vir ’n onbepaalde tyd, ja, vir ewig, te lewe. Lug, water en brood alleen is nie genoeg daarvoor nie. Geestelike voorsienings wat berus op “elke woord wat deur die mond van God uitgaan”, is nodig om vir ewig te lewe. Dit word vandag in een boek, die Bybel, gevind, en die voorraad is onuitputlik—alles wat jy nodig het, en meer as wat jy kan behou. Hierdie kas is nooit leeg nie.
3. Wat het Jesus uitgesonder as die allerbelangrikste, en watter geheim het Paulus geleer?
3 Jesus het ons geleer om te bid om die nodige stoflike voedsel: “Gee ons vandag ons daaglikse brood.” Kort daarna het hy geestelike sake egter in die eerste plek gestel toe hy gesê het: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid” (Mattheüs 6:11, 33). Stoflike voedsel hou ons ’n dag op ’n slag aan die lewe; volgehoue geestelike voeding kan dit lewenslank, selfs vir ewig, doen. Ons moet ons dus nie oor stoflike dinge bekommer nie. Paulus het nie. Hy het van geestelike middele gepraat wat hom in staat gestel het om ondanks fisiese omstandighede vergenoeg te wees en gesê: “Ek het die geheim van beide geleer: om versadig te wees en om honger te ly, om oorvloed te hê en om gebrek te ly. Vir alle dinge het ek die sterkte deur hom wat aan my krag verleen.”—Filippense 4:12, 13, NW.
Onheil tref die ontevredenes
4. Watter voorsienings was nie vir die eerste mensepaar genoeg nie, en wat wou hulle nog hê?
4 Baie is egter nie tevrede met Jehovah se voorsienings nie. Ons eerste ouers was nie. Hulle het in ’n paradystuin gewoon—pragtige natuurskoon was ’n lus vir hulle oë, welriekende blomme het die lug gegeur wat hulle ingeasem het, heerlike voedselsoorte het hulle smaakknoppe geprikkel en die sang van voëls het hulle ore gestreel. Daarbenewens het hulle die interessante werk gehad om na hierdie tuin om te sien asook die seën om die aarde met volmaakte kinders te vul. Maar hulle was selfsugtig. Wat God gegee het, was nie genoeg nie. Hulle wou meer hê. Hulle wou self besluit wat reg en wat verkeerd is. Hulle het ook, en die heel eerste besluit wat hulle geneem het, was rampspoedig en het gelei tot die verlies van alles, vir hulle en vir hulle nakomelinge.—Genesis 3:1-7, 16-19.
5. Waarmee het Jehovah die Israeliete geseën, en wat was hulle reaksie?
5 Die Israeliete het hulle slegte voorbeeld gevolg. God het hulle van slawerny in Egipte bevry, hulle ’n nasie gemaak, hulle ’n volmaakte Wet gegee, hulle op hulle woestyntrek gelei, hulle van klere voorsien wat nooit verslyt het nie en hulle wonderdadig aan die lewe gehou met manna wat uit die hemel geval en water wat uit ’n rots gestroom het. Maar hulle was nie tevrede met Jehovah se voorsienings nie (1 Korinthiërs 10:1-5). Terwyl hulle deur die woestyn getrek het, het hulle herhaaldelik gekla.—Exodus 13:21, 22; Numeri 11:1-6; Deuteronomium 29:5.
6. Watter weg het vernietiging oor die Israeliete as ’n nasie gebring?
6 Hulle het steeds gemurmureer nadat hulle hulle in die Beloofde Land gevestig het—’n vrugbare, waterryke land ‘wat oorgeloop het van melk en heuning’. Omdat hulle steeds ondankbaar, steeds ontevrede met Jehovah se voorsienings was, het hulle opgehou om hom te aanbid, hulle tot afgodiese seksaanbidding gewend, hulle kinders aan Molog geoffer en vernietiging oor hulself as ’n nasie gebring. Ná hulle van Babiloniese gevangenskap bevry is, het hulle mondelinge tradisies gevolg wat God se Woord ongeldig gemaak het. Op die ou end het hulle hulle beloofde Messias, Christus Jesus, om die lewe gebring.—Deuteronomium 6:3; 8:7-9; Rigters 10:6; 1 Konings 14:22-24; 2 Konings 21:1-16; Jesaja 24:1-6; Mattheüs 15:3-9; 27:17-26.
7. Hoe bewandel die Christendom se geestelikes vandag nog dieselfde weg as die ontroue priesters van Maleagi se tyd?
7 Tot vandag toe verkies die mensdom oor die algemeen nog valse godsdiensleringe. Die geestelikes verag Jehovah se naam en gebruik dit nie eens nie. Hulle doen hom oneer aan met onskriftuurlike leerstellings soos die Drie-eenheid, die onsterflike siel en die ewige foltering in die helse vuur. Hulle leerstellings is nie net besmet met leuens wat van eertydse Babilon en Egipte kom nie, maar is ook in baie gevalle vergiftig deur die loëning van Christus se losprys en die aanvaarding van evolusie. Hulle ontneem Jehovah die eer wat hom toekom, net soos die priesters in Maleagi se dag gedoen het.—Maleagi 1:6-8; 3:7-9.
8. (a) Watter uitnodiging het die priesters van Maleagi se dag en die godsdiensleiers van vandag verwerp? (b) Wie het wel die uitnodiging aangeneem, en met watter gevolg?
8 Die Israeliete is destyds aangespoor om hulleself te reinig en na Jehovah terug te keer. “Keer terug na My, en Ek wil na julle terugkeer”, het Jehovah gesê. Hy het hulle verder genooi: “Beproef My tog hierin, sê die HERE van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ’n oorvloedige seën sal uitstort nie” (Maleagi 3:7, 10). Net ’n oorblyfsel van die Joodse volk het teruggekeer; vandag het ’n getroue oorblyfsel van geestelike Israel uit hierdie wêreld se valse godsdienste gekom. Saam met ’n toenemende groot menigte ander regverdige aanbidders loof hulle Jehovah as sy Getuies (Johannes 10:16). Jehovah het sy belofte gehou en vir hulle ‘die vensters van die hemel oopgemaak en op hulle ’n oorvloedige seën uitgestort’—’n ware feesmaal van geestelike voedsel!—Jesaja 25:6.
’n Oorvloed van geestelike voedsel
9. Watter geestelike voorsienings is vandag beskikbaar, hoe, en met watter gevolg?
9 “Die getroue en verstandige dienskneg” wat Jesus vir ons dag voorspel het, is besig om ’n oorvloed van geestelike voedsel te voorsien (Mattheüs 24:45). Verlede jaar alleen het meer as driemiljoen van Jehovah se Getuies, in 208 lande en eilande van die see en in sowat 200 tale, hierdie geestelike voorsienings deur besoeke van huis tot huis en die verspreiding van honderdmiljoene boeke, tydskrifte en Bybels beskikbaar gestel. Talle het hierdie geestelike voedsel benut en is bevredig: Ruim 225 000 nuwelinge is in een jaar gedoop!
10. Watter voorsienings is daar om ag te slaan op Paulus se vermaning om te vergader?
10 Jehovah se geestelike voorsienings is ook beskikbaar gestel deur streekbyeenkomste, kringbyeenkomste en die vyf weeklikse vergaderinge wat gereeld in nagenoeg 52 000 gemeentes van Jehovah se Getuies gehou word—alles in gehoorsaamheid aan Paulus se vermaning in Hebreërs 10:25 dat ‘ons nie ons onderlinge byeenkoms moet versuim nie’.
11. Wat lig die gewenste manier waarop geestelike voedsel voorberei moet word toe?
11 Wanneer ’n vrou gaste vir ’n ete nooi, kook sy nie net ’n stuk vleis en plak dit op ’n bord neer nie. Sy gebruik speserye en souse om dit ’n smaaklike geur te gee en versier dit om lekker te lyk. Net die voorkoms en geur daarvan is genoeg om die mond te laat water en die maagsappe te laat vloei. Dit is hoe Jehovah se geestelike voorsienings voorberei is—nie op ’n droë, ensiklopediese wyse nie, maar smaaklik om die verstand te behaag en die hart te raak. Elke Christen moet daardie voorbeeld volg. “Moet die oor nie woorde toets soos die verhemelte spys proe nie?”—Job 12:11.
12. Watter voorbeelde het ons van geestelike voedsel wat smaaklik voorberei is?
12 Die Teokratiese Bedieningskool-Handleiding lê in sy eerste les klem op die gebruik van welgevallige woorde. Salomo het nie net die regte woorde gebruik nie, maar ook welgevallige woorde (Prediker 12:10). Psalm 45:2 (NW) het omtrent die Messias, Jesus Christus, voorspel: “Innemendheid is op u lippe uitgestort.” Dit was ook so. Sy toehoorders “was verwonderd oor die aangename woorde wat uit sy mond kom”. Hulle het dig by hom gebly om hom te hoor, vroeg tempel toe gekom om hom te hoor, met genoeë na hom geluister en was verbaas oor sy onderrigwyse. Dienaars wat gestuur is om hom in hegtenis te neem, het gesê: “Nooit het ’n mens so gespreek soos hierdie mens nie” (Lukas 4:22; 19:48; 21:38; Markus 12:37; Mattheüs 7:28; Johannes 7:46). Die Bedieningskool-Handleiding is geskryf om ons te help om welgevallige woorde van waarheid te spreek. Benut jy dit ten volle?
13. In watter mate benadruk Efesiërs 5:15-17 dat ‘tyd uitgekoop moet word’, en waarom word klem hierop gelê?
13 Efesiërs 5:15-17 vermaan ons: “Pas dan op dat julle nougeset wandel, nie as onwyse nie, maar as wyse; en koop die tyd uit, omdat die dae boos is. Daarom moet julle nie onverstandig wees nie, maar verstaan wat die wil van die Here is.” Die Griekse woord wat hier met “tyd” vertaal is, beteken nie tyd net in ’n algemene sin nie, maar slaan op ’n vasgestelde tyd, ’n gepaste tyd vir ’n spesifieke doel. Die Griekse werkwoord wat met ‘uitkoop’ vertaal is, is in die intensiewe vorm en “beteken in hierdie konteks waarskynlik om ‘intensief op te koop’; d.w.s., om elke geleentheid wat hom voordoen aan te gryp”.a Knyp jy tyd van jou rooster af om jou wys te maak deur Jehovah se geestelike voorsienings te benut? Jy behoort. Ons almal behoort. Waarom? “Omdat die dae boos is.”
Van ’n geestelike woestyn tot ’n geestelike paradys
14. Watter Bybelvers dien as voorbeeld van watter kenmerk van ons New World Translation Reference Bible?
14 ’n Besondere geestelike voorsiening is ons New World Translation of the Holy Scriptures—With References, wat in 1984 uitgegee is. Dit het talle kenmerke wat dit moontlik maak om ‘uitgekoopte tyd’ te gebruik om ons kennis te vermeerder.b Een voorbeeld is sy kruisverwysings. Beskou Psalm 1:3, wat handel oor die toestand van die man wat dag en nag oor God se wet peins. Daardie vers lui: “Hy sal wees soos ’n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit.” Daar is meer, veel meer, by hierdie vers betrokke as wat dit vir die leser lyk wat dit bloot vinnig lees en aangaan.
15. Watter vrae word oor die boom van Psalm 1:3 geopper, en watter insig gee Jesaja 44:4?
15 Let asseblief op: Die boom is geplant. Wie het dit geplant? Dit is by strome, in die meervoud. Groei een boom op die oewers van verskeie strome? Nee. Wees dus weetgierig. Waaroor handel hierdie boom? Die kruisverwysings open die oë van ons verstand. Dit is Jesaja 44:4, 61:3 en Jeremia 17:8. Jesaja 44:4 sê dat sy volk soos bome “by waterlope” sal wees. Baie waterlope? Ja! Die lope is leivore wat die bome in ’n boord natmaak!
16. Watter verdere opheldering gee Jesaja 61:3 en Jeremia 17:8?
16 Jesaja 61:3, (vgl. NW) noem hierdie bome “[groot bome] van geregtigheid, ’n planting van die HERE, tot sy verheerliking”. Jehovah is die een wat hulle plant en natmaak, en hy is die een wat verheerlik word deur die vrugte wat hierdie bome dra! Jeremia 17:8 vergelyk die man wat dag en nag oor God se wet peins met “’n boom wat by die water geplant is en sy wortels uitskiet by die stroom en nie vrees as daar hitte kom nie, maar sy blad bly groen; en in ’n jaar van droogte is hy nie besorg nie en hou nie op om vrugte te dra nie”. Sy blare verwelk nie; alles wat hy doen, is voorspoedig!
17. Wat word nou omtrent Psalm 1:3 duidelik, en watter rol speel ons daarin?
17 Nou val die skille van ons oë af! Psalm 1:3 skets ’n pragtige beeld. Diegene wat dag en nag oor Jehovah se wet peins, is soos bome wat by ’n onuitputlike waterbron geplant is. Hulle is nie meer ’n deel van die geestelik dor wêreldse organisasies nie, maar gaan nou met God se organisasie om wat die verfrissende water van die waarheid in oorvloed ontvang. Hulle is inderdaad in ’n geestelike paradys, word geestelik verfris en dra geestelike vrugte tot eer van Jehovah. En dink net! God gebruik sy Getuies om mense weg van die dor, verskroeide wêreldse organisasies na hierdie verfrissende, waterryke geestelike paradys te rig.
18. Hoe reageer party wanneer hulle sien dat ander in die getuieniswerk uitmunt, en waarom skiet hulle dalk te kort?
18 As ons hierdie werk bekwaam wil volbring, moet ons ons verstand en hart dissiplineer om al Jehovah se geestelike voorsienings te benut. Party hoor hoe ander Bybeltekste verduidelik en sê dan: “Ek wens ek ken die Bybel soos hy!” Maar as sulke persone hulleself dissiplineer om die Bybel te bestudeer, kan hulle ook hulle Bybelkennis vermeerder. Party hoor hoe ander by die deure getuig en sê dan: “Ek wens ek kon soos sy by die deure getuig!” Maar as hulle hulleself dissiplineer om dikwels aan die velddiens deel te neem, en die boek Redenering uit die Skrif gebruik, kan hulle ook bekwamer Getuies word. Party hoor hoe ander Bybeltoesprake hou en sê dan: “Ek wens ek kon soos hy toesprake hou.” Maar, weer eens, as sulke persone hulleself dissiplineer om hulle toespraaktoewysings goed voor te berei, en die lesse van die Teokratiese Bedieningskool-Handleiding ter harte neem, sal hulle ook hulle spraakvermoë verbeter.
19. Wat is die sleutel om ons potensiaal ten opsigte van die getuieniswerk te ontwikkel?
19 Dit is weliswaar goed om te wens, maar jy sal niks bereik as jy net wens sonder om jou in te span nie. Dit is werk wat die wens verwesenlik. Dissiplineer jouself om die tyd uit te koop, en doen die werk wat die wens sal verwesenlik. As jy ’n spier nie gebruik nie, sal dit slap word. As jy ’n vaardigheid nie gebruik nie, sal dit verdwyn. As jy jou verstand nie gebruik nie, sal denkvermoë afneem. As jy kennis nie gebruik nie, sal jy verloor wat jy het. Die reël is in elke geval: “Gebruik dit of verloor dit.” ‘Geestesvermoëns word deur gebruik geoefen.’ Dan “sal denkvermoë self oor jou wag hou, en onderskeidingsvermoë self sal jou beveilig”.—Hebreërs 5:14; Spreuke 2:11, NW.
20. Wat sal ons vermy as ons Jehovah se geestelike voorsienings benut, en wat sal ons geniet?
20 Benut dus Jehovah se geestelike voorsienings. Verheug jou saam met sy tevredenes. Ontkom aan die hongersnood wat Amos voorspel het: “Kyk, daar kom dae, spreek die Here HERE, dat Ek ’n honger in die land stuur, nie ’n honger na brood nie en nie ’n dors na water nie, maar om die woorde van die HERE te hoor” (Amos 8:11). Skaar jou by diegene wat eet en hulle verheug, nie by diegene wat die voedsel verwerp en beskaamd staan nie: “Daarom, so sê die Here HERE: Kyk, my knegte sal eet, maar julle sal honger bly; kyk, my knegte sal drink, maar julle sal dors wees; kyk, my knegte sal bly wees, maar julle sal beskaamd staan.”—Jesaja 65:13.
[Voetnote]
a Kyk The New International Dictionary of New Testament Theology, Deel 1, bladsy 268, deur Colin Brown.
b Dit is miskien nog nie in jou taal beskikbaar nie, maar jy sal ongetwyfeld die bogenoemde voorbeeld in die gebruik daarvan interessant vind.
Onthou jy?
◻ Hoe het die nasie Israel sy ontevredenheid met Jehovah se voorsienings getoon?
◻ Hoe is Maleagi 3:10 ten opsigte van Jehovah se Getuies vervul?
◻ Wat is die grondbetekenis van Psalm 1:3?
◻ Waarom is dit noodsaaklik om die dinge te benut wat ons deur middel van Jehovah se geestelike voorsienings leer?
[Prent op bladsy 15]
Diegene wat oor Jehovah se wet peins, is soos bome wat by ’n onuitputlike waterbron geplant is