Afgesonder om wêreldwyd vreugdevolle lowers te wees
“Loof Jah! Bring lof, o knegte van Jehovah, loof die naam van Jehovah.”—PSALM 113:1, NW.
1, 2. (a) Wie verdien in ooreenstemming met Psalm 113:1-3 dat ons hom entoesiasties loof? (b) Watter vraag kan gepas gevra word?
JEHOVAH GOD is die Grootse Skepper van hemel en aarde, ons Universele Soewerein tot in alle ewigheid. Hy verdien inderdaad dat ons hom entoesiasties loof. Daarom beveel Psalm 113:1-3 (NW): “Loof Jah! Bring lof, o knegte van Jehovah, loof die naam van Jehovah. Mag Jehovah se naam geseën word van nou af en tot onbepaalde tyd. Van die opgang van die son tot sy ondergang moet Jehovah se naam geloof word.”
2 As God se Getuies is ons verheug om dit te doen. Hoe opwindend is dit tog dat Jehovah God binnekort sal toesien dat hierdie vreugdevolle loflied wat ons vandag sing die hele aarde vul! (Psalm 22:28). Word jou stem in hierdie groot wêreldwye koor gehoor? Indien wel, maak dit jou seker baie gelukkig om van hierdie verdeelde, vreugdelose wêreld afgesonder te wees!
3. (a) Wat maak Jehovah se volk besonder en uniek? (b) Op watter maniere is ons afgesonder?
3 Die feit dat ons Jehovah eendragtig loof, maak ons besonder en uniek. Ons praat en onderrig op eenvormige wyse en gebruik dieselfde metodes om ‘die oorvloed van Jehovah se goedheid’ bekend te maak (Psalm 145:7, NW). Ja, as Jehovah se toegewyde volk is ons afgesonder vir die diens van ons God, Jehovah. God het vir sy eertydse toegewyde volk, Israel, gesê om hulle van die nasies om hulle af te sonder en hulle nie met die gebruike van daardie nasies te besoedel nie (Exodus 34:12-16). Hy het vir sy volk wette gegee om hulle dit te help doen. Jehovah het eweneens vandag vir ons sy Heilige Woord, die Bybel, gegee. Die onderrigting daarin toon ons hoe ons afgesonder van hierdie wêreld kan bly (2 Korintiërs 6:17; 2 Timoteus 3:16, 17). Ons word ook nie soos die monnike en nonne van Babilon die Grote in kloosters afgesonder nie. Ons volg Jesus Christus se voorbeeld deur openbare lowers van Jehovah te wees.
Volg Jehovah se Vernaamste Lower na
4. Hoe het Jesus die voorbeeld daarin gestel om Jehovah te loof?
4 Jesus het nooit afgewyk van sy voorneme om Jehovah te loof nie. En dit het hom van die wêreld afgesonder. In die sinagoges en by die tempel in Jerusalem het hy God se heilige naam geloof. Op die bergtop of op die seestrand, waar mense ook al bymekaargekom het, het Jesus Jehovah se waarhede in die openbaar verkondig. Hy het gesê: “Ek loof u in die openbaar, Vader, Here van hemel en aarde” (Matteus 11:25). Selfs toe Jesus deur Pontius Pilatus verhoor is, het hy getuig: “Hiervoor is ek gebore, en hiervoor het ek in die wêreld ingekom, om van die waarheid te getuig” (Johannes 18:37). Jesus het die belangrikheid van sy werk besef. Oral waar Jesus was, het hy van Jehovah getuig en hom in die openbaar geloof.
5. Op wie is Psalm 22:23 van toepassing, en wat moet ons gesindheid wees?
5 In Psalm 22:23 vind ons hierdie profetiese stelling aangaande Jehovah se Vernaamste Lower: “Ek wil u Naam aan my broers vertel, in die vergadering U prys.” En in Hebreërs 2:11, 12 pas die apostel Paulus hierdie tekste toe op die Here Jesus en op diegene wat Jehovah God vir hemelse heerlikheid geheilig het. Hulle is, soos hy, nie skaam om Jehovah se naam in die vergadering te loof nie. Het ons hierdie selfde geestesgesindheid wanneer ons ons gemeentelike vergaderinge bywoon? Ons entoesiastiese deelname aan die vergaderinge, verstandelik sowel as mondelings, loof Jehovah. Maar hou ons vreugdevolle lofbetuigings daar op?
6. Watter bevel het Jesus sy dissipels gegee, en hoe verheerlik liefhebbers van die lig God?
6 Volgens Matteus 5:14-16 het die Here Jesus ook sy volgelinge beveel om hulle lig te laat skyn sodat ander Jehovah sou loof. Hy het gesê: “Julle is die lig van die wêreld. . . . Laat julle lig . . . voor die mense skyn, sodat hulle julle voortreflike werke kan sien en heerlikheid kan gee aan julle Vader wat in die hemele is.” Liefhebbers van die lig gee heerlikheid aan God. Doen hulle dit bloot deur goeie, mensliewende dinge te sê en te doen? Nee, hulle doen dit eerder deur Jehovah eendragtig te verheerlik. Ja, liefhebbers van die lig wy hulle aan God toe en word sy vreugdevolle lowers. Het jy al hierdie vreugdevolle stap gedoen?
Vreugde omdat hulle Jehovah loof
7. Waarom is Jehovah se lowers so vreugdevol, en watter vreugde het hulle op Pinksterdag 33 G.J. ondervind?
7 Waarom is Jehovah se lowers so vreugdevol? Omdat vreugde ’n vrug van God se heilige gees is. In Galasiërs 5:22 word dit net ná liefde genoem. Jesus se dissipels in die eerste eeu het hierdie vrug van Jehovah se gees geopenbaar. Op die dag van Pinkster 33 G.J., toe God sy gees op ongeveer 120 van Jesus se dissipels uitgegiet het, het hulle almal Jehovah in verskillende tale begin loof. Godvresende Jode wat uit baie nasies na Jerusalem gekom het, ‘was verbysterd en het hulle verwonder’. Hulle het uitgeroep: “Ons hoor hulle in ons tale oor die luisterryke dinge van God praat”! (Handelinge 2:1-11). Wat was die gevolg van hierdie wonderlike veeltalige lofbetuiging aan Jehovah? Ongeveer 3000 Jode en Joodse proseliete het die goeie nuus van die Koninkryk aangaande die Messias aanvaar. Hulle is gedoop, het die heilige gees ontvang en het gretig hulle stemme bygevoeg as vreugdevolle lowers van Jehovah (Handelinge 2:37-42). Wat ’n seëning was dit tog!
8. Wat het die Christene ná Pinkster gedoen om hulle vreugde te vergroot?
8 Die verslag sê voorts: “Hulle was dag vir dag voortdurend eendragtig in die tempel aanwesig, en hulle het hulle maaltye in privaat wonings genuttig en voedsel met groot vreugde en opregtheid van hart geniet, terwyl hulle God geloof en by die hele volk guns gevind het. Terselfdertyd het Jehovah voortgegaan om daagliks dié wat gered word by hulle te voeg” (Handelinge 2:46, 47). Was dit bloot hulle omgang met mekaar en die voedsel wat hulle geniet het wat hulle groot vreugde verskaf het? Nee, hulle vreugde het grootliks daaruit voortgespruit dat hulle Jehovah God dag vir dag geloof het. En hulle vreugde het toegeneem toe hulle sien hoe duisende op hulle boodskap van redding reageer. Dieselfde geld vir ons vandag.
Vreugdevolle lowers in alle nasies
9. (a) Wanneer en hoe het God begin om vir mense uit alle nasies die geleentheid te bied om sy goeie nuus te hoor? (b) Waarom is heilige gees op Kornelius en sy metgeselle uitgestort vóór hulle gedoop is?
9 Jehovah wou nie hê dat sy knegte die lig na net een nasie uitdra nie. Hy het derhalwe van 36 G.J. af vir mense uit alle nasies die geleentheid gebied om sy goeie nuus te hoor. God het Petrus beveel om na die huis van ’n nie-Joodse leëroffisier in Sesarea te gaan. Daar het hy Kornelius by sy intieme vriende en familielede gevind. Terwyl hulle aandagtig na Petrus se woorde geluister het, het hulle in hulle harte geloof in Jesus beoefen. Hoe weet ons dit? Omdat daardie nie-Joodse gelowiges God se heilige gees ontvang het. Gewoonlik is die gawe van God se gees slegs uitgestort ná ’n persoon gedoop is, maar by daardie geleentheid het Jehovah sy goedkeuring van hierdie nie-Jode vóór hulle onderdompeling getoon. As Jehovah dit nie gedoen het nie, sou Petrus nie seker kon wees dat God nou nie-Jode as Sy knegte aanvaar het en dat hulle aan die vereistes vir waterdoop voldoen het nie.—Handelinge 10:34, 35, 47, 48.
10. Hoe is daar van die ou tyd af voorspel dat mense uit alle nasies Jehovah sou loof?
10 Van die ou tyd af het Jehovah voorspel dat mense uit alle nasies hom sou loof. Hy sou vreugdevolle lowers in elke land hê. Ter stawing hiervan het die apostel Paulus profesieë uit die Hebreeuse Geskrifte aangehaal. Hy het vir die internasionale gemeente van Christene in Rome gesê: “Verwelkom mekaar dus, net soos die Christus ons ook verwelkom het, tot heerlikheid van God. Want ek sê dat Christus in werklikheid ter wille van God se waaragtigheid ’n dienaar van die besnedenes geword het, om die beloftes te bevestig wat Hy aan hulle voorvaders gedoen het en sodat die nasies God weens sy barmhartigheid sou verheerlik. Net soos daar geskrywe staan [in Psalm 18:50]: ‘Dit is waarom ek u openlik onder die nasies sal erken, en tot u naam sal ek melodieë sing.’ En weer sê hy [in Deuteronomium 32:43]: ‘Wees bly, o nasies, saam met sy volk.’ En weer [in Psalm 117:1]: ‘Loof Jehovah, alle nasies, en laat al die volke hom loof.’”—Romeine 15:7-11.
11. Hoe het God mense uit alle nasies gehelp om sy waarhede te leer, en wat was die gevolg?
11 Mense kan Jehovah nie eendragtig loof nie tensy hulle hulle hoop vestig op Jesus Christus, die een wat God aangestel het om oor mense uit alle nasies te heers. God het ’n internasionale onderrigprogram in werking gestel om hulle te help om Sy waarhede wat tot ewige lewe lei te waardeer. Hy gee leiding deur sy ‘getroue slaaf’-klas (Matteus 24:45-47). Die gevolg? Meer as vyfmiljoen vreugdevolle stemme besing Jehovah se lof in meer as 230 lande. En nog miljoene ander toon belangstelling daarin om dieselfde te doen. Kyk net hoeveel die Gedenkmaal in 1996 bygewoon het: 12 921 933. Wonderlik!
’n Groot skare vreugdevolle lowers is voorspel
12. Watter roerende visioen het die apostel Johannes gesien, en wat is die lewende werklikheid daarvan?
12 In ’n visioen het die apostel Johannes “’n groot skare” uit alle nasies gesien (Openbaring 7:9). Wat is die tema van die lofliedere wat hierdie groot skare saam met God se gesalfde oorblyfsel sing? Johannes sê vir ons: “Redding is ons verskuldig aan ons God, wat op die troon sit, en aan die Lam” (Openbaring 7:10). Dit word moedig in alle wêrelddele verkondig. Deur as ’t ware palmtakke te waai, loof ons God eendragtig as die Universele Soewerein en erken ons vreugdevol voor hemel en aarde dat ons ons redding “verskuldig” is aan hom en sy Seun, die Lam, Jesus Christus. O, hoe opwindend moes dit tog vir die apostel Johannes gewees het om hierdie roerende visioen van die groot skare te sien! En hoe opwindend is dit tog vandag vir ons om self die lewende werklikheid te sien, en om selfs deel te wees, van wat Johannes gesien het!
13. Wat maak Jehovah se volk anders as die wêreld?
13 As Jehovah se knegte is ons trots om sy naam te dra (Jesaja 43:10, 12, NW). Die feit dat ons Getuies van Jehovah is, maak ons anders as hierdie wêreld. Watter vreugde is dit tog om God se kenmerkende naam te dra en om die doen van sy Goddelike werk as ons doel in die lewe te hê! Jehovah se grootse voorneme om sy naam te heilig en sy soewereiniteit te regverdig deur middel van die Koninkryk het sin aan ons lewe gegee. En hy het ons gehelp om ’n plek te hê in sy Goddelike voorneme met betrekking tot sy naam en Koninkryk. Hy het dit op drie maniere gedoen.
Toevertrou met die waarheid
14, 15. (a) Wat is een manier waarop God ons gehelp het om ’n plek te hê in sy Goddelike voorneme met betrekking tot sy naam en Koninkryk? (b) Hoe verskil die Koninkryk wat in 1914 G.J. opgerig is van die een wat in 607 v.G.J. omvergewerp is?
14 Eerstens het Jehovah die waarheid aan sy volk toevertrou. Die opwindendste openbaring is dat sy Koninkryk in 1914 begin regeer het (Openbaring 12:10). Hierdie hemelse regering verskil van die tipiese koninkryk in Jerusalem, waar konings in die geslagslyn van Dawid gekroon is. Daardie koninkryk is omvergewerp, en van 607 v.G.J. af was Jerusalem geheel en al aan die heerskappy van heidense wêreldmagte onderworpe. Die nuwe Koninkryk wat Jehovah in 1914 opgerig het, is ’n hemelse mag wat nooit aan enigiemand behalwe Jehovah onderworpe sal wees nie, en dit sal ook nooit vernietig word nie (Daniël 2:44). Die heerskappy daarvan is ook anders. Hoe? Openbaring 11:15 antwoord: “Daar het harde stemme in die hemel gekom wat sê: ‘Die koninkryk van die wêreld het die koninkryk van ons Here en van sy Christus geword, en hy sal vir ewig en altyd as koning heers.’”
15 “Die koninkryk van ons Here en van sy Christus” oefen gesag uit oor die hele mensewêreld. Hierdie nuwe manier waarop Jehovah aan sy soewereiniteit uitdrukking gee, wat sy Messiaanse Seun en Jesus se 144 000 broers insluit, van wie die meeste nou reeds tot hemelse heerlikheid opgewek is, is nie bloot van akademiese belang nie—iets teoreties wat studente dalk geniet om te bespreek nie. Nee, hierdie hemelse Koninkryk is ’n werklike regering. En ons gelukkige vooruitsig om vir ewig in volmaaktheid te lewe as gevolg van sy heerskappy gee ons oorvloedige rede om aan te hou om ons te verheug. Omdat sulke waarhede van Jehovah se Woord aan ons toevertrou is, beweeg dit ons om altyd met lof daarvan te praat (Psalm 56:10, NW). Doen jy dit gereeld deur almal te vertel dat God se Messiaanse Koninkryk nou in die hemel regeer?
Gehelp deur heilige gees en ’n wêreldwye broederskap
16, 17. Wat is die tweede en derde manier waarop God ons gehelp het om ’n plek in sy Goddelike voorneme te hê?
16 ’n Tweede manier waarop God ons gehelp het om ’n plek in sy Goddelike voorneme te hê, is deur ons sy heilige gees te gee, wat ons in staat stel om die pragtige vrugte daarvan in ons lewe voort te bring en sy goedkeuring te verkry (Galasiërs 5:22, 23). Daarbenewens het Paulus aan gesalfde Christene geskryf: “Ons het . . . die gees [ontvang] wat van God kom, sodat ons die dinge sou ken wat goedgunstig deur God aan ons gegee is” (1 Korintiërs 2:12). As ons op Jehovah se gees reageer, kan ons almal nou die huidige goeie dinge wat hy goedgunstig vir ons gegee het, ken en verstaan—sy beloftes, wette, beginsels, ensovoorts.—Vergelyk Matteus 13:11.
17 Die derde manier waarop God ons help, is deur ons wêreldwye broederskap en Jehovah se wonderlike organisatoriese reëling vir aanbidding. Die apostel Petrus het daarvan gepraat toe hy ons aangemoedig het om ‘lief te wees vir die hele gemeenskap van broers’ (1 Petrus 2:17). Ons liefdevolle, internasionale gesin van broers en susters help ons om Jehovah met groot vreugde van hart te dien, soos Psalm 100:2 beveel: “Dien die HERE met blydskap; kom voor sy aangesig met gejubel.” Vers 4 sê verder: “Gaan sy poorte in met lof, sy voorhowe met lofgesang; loof Hom, prys sy Naam.” Hetsy ons dus in die openbaar predikingswerk doen of ons vergaderinge bywoon, ons kan vreugde hê. Watter vrede en veiligheid het ons tog in die pragtige voorhowe van Jehovah se geestelike tempel gevind!
Loof Jehovah met vreugde!
18. Waarom kan ons ons verheug terwyl ons Jehovah loof ondanks vervolging of ander probleme wat ons ondervind?
18 Ongeag watter moeilike omstandighede, vervolging of ander probleme ons dalk ondervind, laat ons ons daarin verheug dat ons in Jehovah se huis van aanbidding is (Jesaja 2:2, 3). Onthou dat vreugde ’n eienskap van die hart is. Ons vroeë Christenbroers en -susters was vreugdevolle lowers van Jehovah ondanks die baie ontberinge en verliese wat hulle ondervind het (Hebreërs 10:34). Ons mede-aanbidders vandag is net soos hulle.—Matteus 5:10-12.
19. (a) Watter herhaalde bevele beweeg ons om Jehovah te loof? (b) Waarvan hang ons ewige lewe af, en wat is ons vasbeslote om te doen?
19 Ons almal wat Jehovah dien, put vreugde daaruit om gehoorsaam te wees aan die Bybel se bevele om hom te loof. Die boek Openbaring onderbreek herhaaldelik God se lofbetuigings met die uitdrukking “Loof Jah!” (Openbaring 19:1-6). In die ses verse van Psalm 150 word daar 13 keer vir ons gesê om Jehovah te loof. Dit is ’n universele beroep op die hele skepping om saam vreugdevol Jehovah se lof te besing. Ons ewige lewe hang daarvan af dat ons by hierdie groot Halleluja-koor aansluit! Ja, die enigste mense wat vir ewig sal lewe, is diegene wat Jehovah onophoudelik loof. Daarom is ons vasbeslote om so na as moontlik aan sy lojale wêreldwye gemeente te bly namate die einde nader kom. Dan kan ons hoop om te sien hoe die slotwoorde van Psalm 150 ten volle vervul word: “Laat alles wat asem het, die HERE loof! Halleluja!”
Hoe sou jy antwoord?
◻ Wat maak Jehovah se volk besonder en uniek?
◻ Waarom is Jehovah se knegte so vreugdevol?
◻ Wat maak ons anders as die wêreld?
◻ Op watter drie maniere het God ons gehelp om ’n plek in sy Goddelike voorneme te hê?
[Prent op bladsy 17]
Waar Jesus ook al was, het hy van Jehovah getuig en hom in die openbaar geloof