Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 7/1 bl. 23-28
  • “Jehovah is my Herder”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Jehovah is my Herder”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Jehovah, ’n liefdevolle herder
  • Jehovah beskerm sy skape
  • ’n Ryk feesmaal te midde van vyande
  • Jehovah is ons Herder
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • “Jehovah is my Herder”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Psalm 23:4 – “Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee”
    Verduidelikings van Bybelverse
  • Waar ons vertroosting kan vind
    Leer by die Groot Onderwyser
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 7/1 bl. 23-28

“Jehovah is my Herder”

“Jehovah is my Herder. Niks sal my ontbreek nie.”—PSALM 23:1, NW.

1, 2. Wat was party van Dawid se prestasies, en hoeveel psalms het by gekomponeer?

STEL jou hierdie toneel voor: Filistynse troepe konfronteer die leër van Israel. Goliat, ’n Filistynse reus, is uitdagend. ’n Jong man, wat slegs met ’n slinger en klippe gewapen is, hardloop hom tegemoet. ’n Goed gemikte klip deurdring die reus se skedel en hy sterf. Wie was die jong man? Dawid, ’n herder wat hierdie verbasende oorwinning met die hulp van Jehovah God behaal het.—1 Samuel, hoofstuk 17.

2 Mettertyd het hierdie jong man Israel se koning geword en 40 jaar regeer. Hy was ’n bedrewe harpspeler en het baie poësie onder goddelike inspirasie gekomponeer. Dawid het ook meer as 70 pragtige psalms geskryf wat vandag ’n bron van groot aanmoediging en leiding vir Jehovah se volk is. Die bekendste hiervan is Psalm 23. Slaan gerus jou Bybel oop en volg terwyl ons hierdie psalm vers vir vers bestudeer.

Jehovah, ’n liefdevolle herder

3. (a) By watter geleenthede het Dawid sy lewe in gevaar gestel om sy skape te beskerm? (b) In watter sin is Jehovah ons Herder?

3 “Jehovah is my Herder” (Psalm 23:1, NW). As ’n ervare herder het Dawid geweet hoe om die skape te lei, te voed en te beskerm. By een geleentheid het hy byvoorbeeld sy skape moedig teen ’n leeu beskerm en by ’n ander geleentheid teen ’n beer (1 Samuel 17:34-36). Dawid se skape het hulle herder volkome vertrou. Maar hy was self ’n skaap met betrekking tot Jehovah. Aangesien Dawid veilig in God se liefdevolle sorg gevoel het, kon hy sê: “Jehovah is my Herder.” Geniet jy hierdie gevoel van veiligheid onder die Groot Herder, Jehovah God? Hy lei, voed en beskerm beslis vandag sy aanbidders. Daarbenewens sien getroue, liefdevolle onderherders as aangestelde ouere manne in gemeentes van Jehovah se Getuies ywerig na die skape om.—1 Petrus 5:1-4.

4. Hoe kom ons situasie vandag ooreen met die van die Israeliete in die woestyn?

4 “Niks sal my ontbreek nie.” Dink noukeurig na oor hierdie stelling. Geniet jy nie ’n aangename gevoel van kalmte en vertroue as gevolg van Jehovah se liefdevolle sorg nie? Kan jy onthou wat met die Israeliete gebeur het toe hulle 40 jaar lank in die woestyn rondgetrek het? Jehovah het in al hulle lewensbehoeftes voorsien! Dit is ook vandag die geval. Dit ontbreek Jehovah se getroue knegte aan niks nie. Talle kan hierdie geïnspireerde woorde van Dawid tot hulle eie maak: “Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie” (Psalm 37:25). Vandag word ’n oorvloed van geestelike voedsel deur “die getroue en verstandige dienskneg” voorsien (Mattheüs 4:4; 24:45-47). Benewens etlike vergaderinge per week het ons die Bybel, Die Wagtoring en Ontwaak! en talle ander publikasies. Selfs in lande waar die predikingswerk van Jehovah se Getuies verbied is, ontvang hulle gereeld ’n voorraad geestelike voedsel. Dit ontbreek Jehovah se skape aan niks nie!

5. Waarom is Jehovah se skape vandag vreedsaam en rustig, en met watter gevolg?

5 “Hy laat my neerlê in groen weivelde” (Psalm 23:2). Daar was groot groen weivelde rondom talle stede in eertydse Israel. Soos ’n liefdevolle herder destyds sy skape na goeie, veilige weivelde gelei het, sorg Jehovah vandag vir sy skape. Die psalmis sê: “Ons is die volk van sy weide” (Psalm 79:13; 95:7). Letterlike skape floreer wanneer hulle tevrede is en in die hitte van die dag kan rus. Jehovah se skape is vandag vreedsaam en gerus want hulle het vertroue in ryp herders—opgeleide opsieners in gemeentes en kringe. Die geestelike kuddes neem gevolglik toe. Baie mense wat voorheen deur die valse herders van Babilon die Grote sleg behandel is, is nou, as Jehovah se skape, baie gelukkig en tevrede.

6. Hoe lei Jehovah ons ‘na waters waar rus is’?

6 “Na waters waar rus is, lei Hy my heen.” In Israel moes ’n herder sy kudde na ’n poel of ’n stroom lei vir water. Maar dit was dikwels in die droë seisoen moeilik om water te vind. Vandag ‘lei Jehovah ons na waters waar rus is’ deur die waters van waarheid in oorvloed te voorsien. (Vergelyk Esegiël 34:13, 14.) En die profeet Jesaja rig hierdie geesdriftige uitnodiging: “o Almal wat dors het, kom na die waters” (Jesaja 55:1). Deur hierdie geestelike water in te neem, ontvang die skape beskerming teen die vurige oordele wat oor diegene gaan kom “wat God nie ken nie en . . . wat aan die evangelie . . . nie gehoorsaam is nie”.—2 Thessalonicense 1:8; Openbaring 7:16, 17.

7. Wanneer is geestelike verkwikking van Jehovah veral nuttig, en onder watter omstandighede kan gememoriseerde Bybeltekste baie waardevol wees?

7 “Hy verkwik my siel” (Psalm 23:3). Wanneer ons moeg, in die moeilikheid of mismoedig is of ernstige teenstand ondervind, verkwik Jehovah ons deur middel van sy Woord. Dit is derhalwe goed vir Christene om dit ’n gebruik te maak om elke dag ’n deel van die Bybel te lees. Doen jy dit? Party vind dit nuttig om sekere tekste, soos Exodus 34:6, 7 of Spreuke 3:5, 6, te memoriseer. Waarom is dit nuttig? Wel, as ’n krisis sou ontstaan en jy nie ’n Bybel byderhand het nie, kan vertroostende Skriftuurlike gedagtes jou onmiddellik versterk. Baie broers wat in tronke of gevangeniskampe gesit is omdat hulle vas by regverdige beginsels gestaan het, is grootliks verkwik en versterk toe hulle gememoriseerde tekste onthou het. Ja, God se Woord kan “die hart verheug” en ‘die oë laat straal’!—Psalm 19:7-10, NW.

8. Is dit maklik om “die spore van geregtigheid” te volg, maar waartoe lei dit wanneer dit gedoen word?

8 “Hy lei my in die spore van geregtigheid.” Spore van geregtigheid is moeilik om te volg, maar hulle lei tot die lewe. Soos Jesus gesê het: “Die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei” (Mattheüs 7:14). Die apostel Paulus het ’n verwante gedagte gemeld toe hy vir die dissipels in Listre, Ikonium en Antiochië gesê het: “Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan.” En Paulus het gewis geweet waarvan hy praat. Hy is kort tevore by Listre gestenig en is daar gelaat in die waan dat by dood is!—Handelinge 14:19-22.

9. (a) Hoe lei God ‘ons in die spore van geregtigheid’? (b) In watter opsig kan Psalm 19:15 nuttig wees? (c) Watter tekste kan ons help om die valstrikke van ongeoorloofde seks te vermy?

9 Jehovah ‘lei ons in die spore van geregtigheid’ deur ons deur middel van sy Woord en organisasie te rig en te leer. Maar die meeste mense volg die breë en wye pad “wat na die verderf lei” (Mattheüs 7:13). Wydverspreide geslagsonreinheid en die snel toenemende plaag van Vigs beklemtoon die nodigheid vir Christene om slegte omgang te vermy (1 Korinthiërs 15:33). Ons moet ook sorg dat ons gedagtes nie in onrein weë afdwaal nie (Psalm 19:15). Te dien einde moet ons altyd die goeie raad toepas wat God se Woord gee oor seks en oor hoe om die talle valstrikke van onsedelikheid te vermy.—1 Korinthiërs 7:2-5; Efesiërs 5:5; 1 Thessalonicense 4:3-8.

10. (a) Watter verantwoordelikheid het Jehovah se Getuies ten opsigte van die goddelike naam? (b) Waarom kritiseer wêreldse mense ons dikwels? (c) Onder watter omstandighede sal Jehovah ons help?

10 “Om sy Naam ontwil.” Jehovah se Getuies het die groot verantwoordelikheid om God se naam te verheerlik en dit geen smaad aan te doen nie (Mattheüs 6:9; Exodus 6:3, NW; Esegiël 38:23, vgl. NW). Talle wêreldse mense is gou om Jehovah se volk beskuldigend met die vinger na te wys. As dit gedoen word as gevolg van ons standpunt ten opsigte van Bybelbeginsels met betrekking tot neutraliteit of die heiligheid van bloed is ons gewete skoon. Maar as dit sou gebeur omdat ons oortree het, sou ons Jehovah tot oneer strek (Jesaja 2:4; Handelinge 15:28, 29; 1 Petrus 4:15, 16). Ons moet dus die kwaad haat (Psalm 97:10). As ons vervolging moet ondergaan, sal Jehovah ons altyd om sy naam ontwil help en beskerm.

Jehovah beskerm sy skape

11. Wat word bedoel met die “dal van doodskaduwee”, en waaraan herinner dit ons in verband met Jesus?

11 “Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee [“diepe skaduwee”, “NW”], ek sal geen onheil vrees nie” (Psalm 23:4). Dit laat ons miskien aan die diep klowe, of valleie, dink wat tussen die berge van Judea aan die westelike kant van die Dooie See loop. ’n Vallei of ravyn waar roofdiere in die skaduwees skuil, is ’n gevaarlike plek vir skape. Dawid het in sy lewe deur talle gevaarlike valleie gegaan, met die dood wat hom in die gesig staar. Maar aangesien God hom gelei het, was hy vol vertroue en het hy nie geswig voor toomlose vrees nie. Ons moet ook sulke vertroue in Jehovah hê. Hierdie vermelding van “diepe skaduwee” kan ons ook laat dink aan Jesaja se profesie: “Die wat in die land van diepe skaduwee woon—lig het op hulle geskyn.” Mattheüs het na hierdie profesie verwys en dit op Jesus Christus toegepas deur te sê: “Die volk wat in duisternis sit, het ’n groot lig gesien, en die wat sit in die land en skaduwee van die dood, vir hulle het ’n lig opgegaan.” Hoe? Deur die groot predikingsveldtog wat Jesus onderneem het.—Jesaja 9:2, NW; Mattheüs 4:13-16.

12. (a) Hoe het Jehovah se knegte hulle in talle lande by vervolging aangepas, en met watter gevolg? (b) Hoe het Petrus die vroeë Christene wat vervolg is, aangemoedig?

12 Dawid het ‘geen onheil gevrees nie’. Dieselfde geld vir Jehovah se knegte vandag, al is hulle nie gewild in hierdie bose wêreld wat deur Satan regeer word nie (1 Johannes 5:19). Baie mense haat hulle in werklikheid, en hulle word in party lande kwaai vervolg. Maar hulle gaan voort om die goeie nuus van die Koninkryk in hierdie lande te verkondig, alhoewel nie so openlik soos hulle dit gewoonlik sou doen nie. Hulle weet dat Jehovah met hulle is en hulle sal beskerm (Psalm 27:1). Goeie vooruitgang word in baie lande gemaak waar die Koninkrykswerk ondergronds gedoen moet word. In sulke lande maak Jehovah se Getuies die woorde van die psalm hulle eie: “Die HERE is vír my; ek sal nie vrees nie: wat kan ’n mens my doen?” (Psalm 118:6). Hierdie Getuies is in ’n posisie soortgelyk aan die van die vroeë Christene aan wie die apostel Petrus hierdie bemoedigende woorde geskryf het: “As julle ook moet ly ter wille van die geregtigheid, salig is julle. En vrees hulle glad nie, en wees nie ontsteld nie.”—1 Petrus 3:14.

13. (a) Watter interessante verandering vind in Psalm 23:4 plaas, en waarom? (b) Hoe kan Christene hulle vrese te bowe kom?

13 “Want U is met my.” Let asseblief op ’n baie interessante faktor in hierdie sinsnede. Die geïnspireerde psalmis het van die derde persoon na die tweede persoon oorgeslaan. In plaas van te praat van Jehovah as “Hy”, gebruik Dawid nou die voornaamwoord “U”. Waarom? Want dit is intiemer. Gevaar bring ons nader aan ons liefdevolle Vader, Jehovah. Ons geniet dan ’n baie intiemer verhouding met hom. Ons kan hom deur gebed en smeking om beskerming vra en sodoende ons vrese te bowe kom.—Vergelyk Sefanja 3:12.

14. (a) Watter instrumente het herders in Dawid se tyd gehad, en hoe het hulle dit gebruik? (b) Hoe beskerm Christenherders vandag die kudde?

14 “U stok en u staf dié vertroos my.” Die Hebreeuse woord sjeʹwet, wat met “stok” vertaal word, kan ’n herder se kromstaf beteken. Die stok sowel as die staf kan vir verdediging gebruik word asook om gesag af te beeld of aan te dui. Hierdie instrumente sou gewis baie nuttig wees om roofdiere soos wolwe en slange weg te dryf. ’n Herder se kromstaf kon ook gebruik word om skape ’n stootjie in die regte rigting te gee of selfs om ’n skaap wat te naby aan ’n plek dwaal waar hy kan val en seerkry terug te trek. Jehovah voorsien vandag getroue herders, ouere manne in gemeentes, wat die kudde teen geestelike roofdiere soos afvalliges verdedig. Of die ouere manne moet dalk diegene vermaan wat traag word in hulle vergaderingbywoning of wat van Christelike gedrag afwyk.

’n Ryk feesmaal te midde van vyande

15. (a) Watter betekenisvolle verandering van illustrasie kom in Psalm 23:5 voor? (b) Watter feite toon dat Jehovah se volk geestelik goed gevoed is, in teenstelling met wie?

15 “U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders” (Psalm 23:5). Hier het ons ’n betekenisvolle verandering van illustrasie, van ’n herder na ’n gasheer. As ’n uiters vrygewige gasheer voorsien Jehovah ’n oorvloed van geestelike voedsel deur die gesalfde “dienskneg”-klas (Mattheüs 24:45). Ofskoon ons in ’n vyandige wêreld lewe, is ons goed gevoed. Die Wagtoring word in meer as honderd tale gepubliseer sodat mense wat in sulke verskillende plekke soos Suid-Afrika, Groenland, die Salomons-eilande en Indië woon geestelik gevoed kan word. Daarbenewens het die ongeveer 55 000 gemeentes wêreldwyd goed opgeleide openbare sprekers en onderrigters en puik vergaderplekke, met inbegrip van honderde nuwe Koninkryksale. Meer as 3 000 000 tuisbybelstudies word gehou om sagmoediges te help. Diegene in Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, ly daarenteen honger.—Jesaja 65:13.

16. (a) Wat het ’n sekere Fariseër, in teenstelling met ’n sondige vrou, versuim om vir Jesus te doen? (b) Watter soort olie voorsien Jehovah vandag vir sy getroue knegte?

16 “U maak my hoof vet met olie.” In eertydse Israel het ’n gasvrye gasheer olie voorsien om sy gaste se hoofde te salf. Dit is interessant dat Jesus by ’n sekere geleentheid die gas van ’n Fariseër was wat nie Jesus se hoof met olie gesalf het of water voorsien het om sy voete te was nie. Toe het ’n sondige vrou sy voete met haar trane gewas en hulle met spesiale, welriekende olie gesalf (Lukas 7:36-38, 44-46). Maar Jehovah is ’n baie gasvrye gasheer! Hy voorsien die geestelike “vreugde-olie” vir sy getroue knegte (Jesaja 61:1-3). Ja, Jehovah se volk is vandag beslis vreugdevol.

17. (a) Waarop dui ’n ‘welgevulde beker’? (b) Hoe voorsien Jehovah vandag vir sy knegte ’n ‘welgevulde beker’?

17 “My beker loop oor.” ’n Ander weergawe is: “My beker is welgevul” (NW). Dit dui op geestelike oorvloed. Hoewel dit nie op onmatige drinkery slaan nie, bevat hierdie woorde die gedagte van ’n beker goeie wyn. Hierdie drank het genesende eienskappe, soos Paulus se raad aan Timotheus toon: “Moenie langer water alleen drink nie, maar gebruik ’n bietjie wyn ter wille van jou maag en jou herhaalde ongesteldhede” (1 Timotheüs 5:23). In geestelike sin maak wyn ook ons harte bly (Psalm 104:15). Ons liefdevolle Vader, Jehovah, voorsien milddadig ’n geestelike feesmaal van goeie dinge vir sy getroue knegte, met inbegrip van ’n ‘oorlopende beker’ van vreugde.

18. (a) Wie geniet Jehovah se goedheid en guns, en hoe toon Psalm 103:17, 18 dit? (b) Watter wonderlike vooruitsig is daar vir diegene wat aan Jehovah getrou bly?

18 “Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe” (Psalm 23:6). Goedheid is deel van die vrug van Jehovah se heilige gees (Galasiërs 5:22). Diegene wat in God se weg wandel, geniet sy goedheid en guns, oftewel goedertierenheid (Psalm 103:17, 18). Met sterk geloof in Jehovah kan sy Volk enige beproewing verduur wat oor hulle kom. Hulle is altyd die voorwerpe van sy seën en liefdevolle sorg. En getrouheid tot die einde sal ewige lewe in die nuwe wêreld beteken. Wat ’n wonderlike vooruitsig is dit tog!

19. (a) Wat beteken dit om ‘in die huis van Jehovah te bly’? (b) Wat het Jehovah se organisasie opgerig om vandag ware aanbidding te bevorder, en waarom beskou duisende toegewyde mense dit as ’n voorreg om daar te dien? (c) Wie anders is vasbeslote om God vir ewig te dien?

19 “En ek sal in die huis van [Jehovah] bly in lengte van dae.” Die tabernakel was in Dawid se dag God se heiligdom, want die tempel was nog nie gebou nie. Aangesien die psalmis ’n welwillende gasheer in gedagte gehad het, het ‘verblyf in Jehovah se huis’ ’n goeie verhouding met God as Sy gas beteken (Psalm 15:1-5). Vandag kan daardie huis geïdentifiseer word met Jehovah se heilige tempel, sy reëling vir ware aanbidding. Koning Salomo het die voorreg gehad om die eerste stoflike tempel te bou, wat ryklik versier was met goud en gebou is om Jehovah te eer. Wat ’n groot voorreg was dit tog om daar te dien! Alhoewel so ’n tempel nie meer bestaan nie, het God ’n heilige organisasie om hom te eer en ware aanbidding te bevorder. As een middel om dit te doen, het Jehovah se organisasie Bethelhuise in talle lande opgerig. “Bethel” beteken “Huis van God”, en duisende toegewyde mense dien in hierdie teokratiese sentrums. Party van hierdie manne en vroue het “in lengte van dae” op hierdie manier gedien, daar hulle die grootste deel van hulle lewe in Betheldiens deurgebring het. Miljoene ander, wat nie lede van ’n Bethelgesin is nie, is net so vasbeslote om Jehovah vir ewig te dien.

20. (a) Waarom is Psalm 23 ’n uitsonderlike deel van die Skrif, en wat help dit ons om op te bou? (b) Watter voorregte lê vir Jehovah se getroue knegte voor?

20 Die 23ste Psalm is soos ’n juweel met talle fasette wat met lig skitter. Dit verheerlik die glorieryke naam van ons liefdevolle hemelse Vader, Jehovah, en toon hoe hy sy skape lei, beskerm en versorg. Gevolglik is sy volk gelukkig, geestelik goed gevoed en neem hulle vinnig in getal toe, selfs in lande waar daar bittere teenstand is. Psalm 23 help ons ook om ’n hartlike, intieme band met ons Skepper op te bou. En wanneer ons na die sterrehemel kyk, soos Dawid dikwels gedoen het terwyl hy sy kudde opgepas het, is ons dankbaar dat die Skepper van hierdie ontsagwekkende heelal as ’n liefdevolle Herder vir ons sorg. Hy bied ook liefdevol vir ons die ewige lewe in die nuwe wêreld aan as ons ons onkreukbaarheid teenoor hom handhaaf. Hoe wonderlik sal dit tog wees om sulke getroue, verrese knegte van God soos Dawid te ontmoet! En wat ’n voorreg is dit tog om Jehovah, die Groot Herder, tot in alle ewigheid te dien!

Hoe sou jy antwoord?

◻ Hoe is Jehovah ons liefdevolle Herder?

◻ Hoe lei God ‘ons in die spore van geregtigheid’?

◻ Hoe beskerm Jehovah sy skape?

◻ In watter opsig het God vir ons ’n tafel te midde van ons vyande berei?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel