Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 1/1 bl. 3-5
  • Die waarheid verander lewens

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die waarheid verander lewens
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Doel in die lewe
  • ’n Nuwe gesin
  • “Ek het soos ’n leeu geveg”
    2015 Jaarboek van Jehovah se Getuies
  • Verligting van die wanhoop van my jeug
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Jehovah verseker Daniël van ’n wonderlike beloning
    Gee ag op Daniël se profesie!
  • “Ek is sy oë en hy is my voete”
    Ontwaak!—1991
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 1/1 bl. 3-5

Die waarheid verander lewens

DIT is ongelukkig waar dat die lewe van so baie mense vandag moeilik en selfs vol wanhoop is. Is dit vir sulke mense moontlik om geluk te vind? Party is misdadigers en beroof hulle medemens. Kan hulle ooit eerlike lede van die gemeenskap word? Die antwoord op albei vrae is: Ja. Mense kan verander. Lewens kan verander word. Die apostel Paulus het getoon hoe dit moontlik is toe hy geskryf het: “Word verander deur julle verstand te hervorm, dat julle julle van die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God kan vergewis.”—Romeine 12:2.

Die “volmaakte wil van God” waarna hier verwys word, herinner ’n mens moontlik aan wat Jesus vir sy dissipels gesê het meer as 20 jaar voordat Paulus die bogenoemde woorde geskryf het. Jesus het gesê: “Julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:32). Met “die waarheid” het Jesus die Goddelik geïnspireerde inligting bedoel—veral inligting aangaande God se wil—wat vir ons in die Bybel bewaar is (Johannes 17:17). Maak Bybelwaarheid mense werklik vry? Verander mense se lewens werklik wanneer hulle in ooreenstemming met God se wil leef? Ja, beslis. Beskou ’n paar voorbeelde.

’n Doel in die lewe

Moisés, in Gibraltar, was tot onlangs nog ’n baie ongelukkige man. Hy sê: “Ek was ’n dronkaard en het op straat geslaap. Ek het verlore gevoel. Elke aand het ek God gevra om my genadig te wees en my nie nog ’n dag te laat deurmaak nie. Ek het gehuil terwyl ek God gevra het waarom ek in hierdie wêreld is as ek niks werd, werkloos, sonder familie en sonder iemand is wat my help. Waarom moet ek bly lewe?” Toe het iets gebeur.

Moisés sê voorts: “Ek het geweet dat God my gebed verhoor het toe ek Roberto, een van Jehovah se Getuies, ontmoet het. Roberto het my ’n Bybel en ’n eksemplaar van die Bybelstudiehulp Wat vereis God van ons?a gegee. Ons het die Bybel elke dag saam gestudeer op die bankie waarop ek snags geslaap het. Ná ’n maand het Roberto my na ’n vergadering in die plaaslike Koninkryksaal van Jehovah se Getuies geneem. Kort voor lank het Bybelwaarheid my beskouing heeltemal laat verander. Ek slaap nie meer op straat nie; en ek drink of rook ook nie meer nie. My lewe het verander, en ek is gelukkig. Ek hoop om binnekort gedoop te word en Jehovah as een van sy Getuies te dien.”

Wat ’n verandering! Wanneer mense sonder hoop is, is dit dikwels weens ’n gebrek aan kennis. Hulle weet niks van God of sy wonderlike voornemens nie. Toe Moisés daardie kennis opgedoen het, het dit hom die krag en moed gegee om ’n ander lewensweg in te slaan. Die psalmis se gebed tot God is in Moisés se geval beantwoord: “Stuur u lig en u waarheid; laat dié my lei; laat dié my bring na u heilige berg en na u woninge.”—Psalm 43:3.

In Belize het Daniël ’n soortgelyke ondervinding gehad. Daniël het nie op straat geslaap nie—hy het ’n hoë pos beklee. Maar hy was 20 jaar lank aan dwelms en alkohol verslaaf en het ’n onsedelike lewe gelei. Hoewel Daniël as ’n Katoliek grootgemaak is, kon hy geen sin in die lewe sien nie en het hy aan die bestaan van God getwyfel. Hy het na verskillende kerke gegaan om hulp te soek, maar het gevind dat baie van sy vriende wat kerkgangers is en selfs dié wat geestelikes is dwelms of alkohol misbruik. Intussen het sy vrou op die punt gestaan om van hom te skei.

Uit wanhoop het Daniël hom in ’n rehabilitasiesentrum laat opneem. Hy het egter geweet dat hy ná sy ontslag gou weer dwelms sou gebruik as hy nie hulp ontvang nie. Maar watter soort hulp? In Mei 1996, twee dae nadat hy uit die rehabilitasiesentrum ontslaan is, het Daniël een van Jehovah se Getuies genader en hom met dié versoek verbaas: “Studeer asseblief die Bybel met my.” Die Getuie het gereël om die Bybel twee keer per week met Daniël te studeer, en Daniël het spoedig sy lewe na God se wil begin skik en sy ou vriende met Christenvriende vervang wat nie dwelms of alkohol misbruik nie en wat onsedelikheid vermy. Sodoende het Daniël gevind dat die Bybel se woorde waar is: “Gaan met die wyse om, dan word jy wys; maar hy wat met dwase verkeer, versleg” (Spreuke 13:20). Hy het weldra gesê: “Dit is die eerste keer in my lewe dat ek weet hoe dit voel om ’n skoon gewete te hê.” Ook Daniël se lewe het verander.

In Puerto Rico het ’n man eweneens ’n merkwaardige verandering ondergaan. Hy was in die gevangenis en is as baie gevaarlik beskou, aangesien hy al ’n hele paar mense doodgemaak het. Kon Bybelwaarheid hom verander? Ja. Dit was vir ’n Getuie van Jehovah moontlik om vir hom ’n paar eksemplare van Die Wagtoring en Ontwaak! te gee, en hy het gou vir nog gevra. ’n Bybelstudie is met hom begin, en namate Bybelwaarheid sy hart begin raak het, was die veranderinge wat hy gemaak het vir almal sigbaar. Een van die eerste bewyse van sy verandering was toe hy sy lang hare kort gesny en sy yl baard afgeskeer het.

Die Bybel sê dat God sondaars vergewe wat waarlik berou het en hulle lewenswyse verander. Paulus het geskryf: “Weet julle nie dat onregverdiges God se koninkryk nie sal beërf nie? . . . En tog is dit wat party van julle was. Maar julle is skoon gewas” (1 Korintiërs 6:9, 11). Hierdie man is ongetwyfeld deur dié woorde vertroos, asook deur die woorde van Handelinge 24:15: “Daar [gaan] ’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges . . . wees.” Hy het gesê: “Ek wil daar wees wanneer die opstanding van die dooies plaasvind sodat ek diegene wie se lewe ek geneem het om vergifnis kan vra.”

’n Nuwe gesin

Luis, ’n voltydse evangeliedienaar van Jehovah se Getuies in Argentinië, is eendag aan ’n jong man voorgestel wat ’n hartseer verlede gehad het. Hy het van sy geboorte af in verskeie inrigtings grootgeword omdat sy ouers hom nie wou hê nie. Toe hy ongeveer 20 was, het hy uitgevind waar sy moeder is en besluit om naby haar te gaan woon. Hy het hard gewerk, baie geld gespaar en na die stad gereis waar sy moeder was. Sy het hom by haar laat bly totdat sy geld opgeraak het en hom toe gevra om te gaan. Hierdie verwerping het gemaak dat hy selfmoord wou pleeg.

Luis kon egter Bybelwaarheid aan hierdie jong man verkondig. Hierdie waarheid sluit die versekering in: “Ingeval my eie vader en my eie moeder my werklik verlaat, sou Jehovah self my opneem” (Psalm 27:10, NW). Die jong man het gevind dat hy ’n hemelse Vader het wat hom nooit sal verlaat nie. Hy is nou gelukkig om deel te wees van ’n nuwe gesin, Jehovah se gesin.

Nog ’n man in dieselfde land het vir een van Jehovah se Getuies gesê dat hy van Die Wagtoring hou. Waarom? Omdat dit sy huwelik gered het. Terwyl hierdie man eendag sy werksplek verlaat het, het hy blykbaar in die vullismandjie ’n Wagtoring gesien met die titel “Egskeiding” in groot letters daarop. Aangesien hy huweliksprobleme gehad het en hy en sy vrou reëlings begin tref het om ’n geregtelike skeiding te verkry, het hy die tydskrif uitgehaal en dit begin lees. Hy het dit huis toe geneem en saam met sy vrou gelees. Die egpaar het die Bybelse raad in die tydskrif probeer toepas (Efesiërs 5:21–6:4). Hulle verhouding het spoedig verbeter. Hulle het die reëlings vir die skeiding stopgesit en studeer nou die Bybel as ’n verenigde egpaar.

In Uruguay was ’n ander man, met die naam Luis, alles behalwe gelukkig. Dwelmverslawing, spiritisme, afgodediens, alkoholmisbruik—dit is van die dinge wat sy lewe deurmekaargekrap het. Uiteindelik het Luis, uit pure frustrasie, ’n ateïs geword. ’n Vriend het hom die boek Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?b gegee. Die gevolg was dat hy vlugtig met Jehovah se Getuies in aanraking was, maar Luis het gou weer tot alkohol en dwelms teruggekeer. Toe hy hom in ’n oomblik van groot benoudheid op ’n vullishoop bevind, het hy gebid en sy gebed tot “die vader van Jesus Christus” gerig, aangesien hy nie seker was van God se naam nie.

Hy het God gevra om hom te wys of daar enige rede is waarom hy in die wêreld is. “Net die volgende dag”, vertel Luis, “het ’n kennis vir my ’n boek gegee wat hy nie meer wou hê nie. Die titel daarvan? Openbaring—Sy groot klimaks is ophande!”c Die boek het hom sy vraag help beantwoord. Luis het weer om hulp gebid sodat hy die godsdiens kon vind wat hom sou wys hoe om God te dien. Wat ’n verrassing! Die deurklokkie het gelui, en twee Getuies van Jehovah het buite gestaan. Luis het onmiddellik die Bybel saam met hulle begin studeer. Hy het vinnig gevorder en voel nou geseënd om ’n gedoopte Getuie te wees. Hy lei ’n skoon lewe en help ander om ook ’n doel in hulle lewe te vind. In sy geval is die woorde van Psalm 65:3 bewaarheid: “O Hoorder van die gebed, tot U moet alle vlees kom.”

Allan, in die Filippyne, was voorheen ’n studenteaktivis. Hy het aan ’n organisasie behoort wat hom dit ten doel gestel het “om die regering tot ’n val te bring sodat toekomstige geslagte gelyke regte kon hê”. Eendag het hy egter met Jehovah se Getuies in aanraking gekom en in die Bybel geleer wat God se voorneme vir die mensdom is. Daardie voorneme sluit die geïnspireerde belofte in: “Nog ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie wees nie . . . Die ootmoediges daarenteen sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede” (Psalm 37:10, 11). Allan het gesê: “Ek het gou agtergekom dat ons beweging vir iets veg wat lank gelede in die Bybel beloof is. Alles wat ons so vurig begeer het, sal onder God se Koninkryk voorsien word.” Allan ondersteun nou God se Koninkryk en help ander om geloof in Bybelwaarheid te stel.

Ja, lewens word verander wanneer mense ag slaan op die waarheid van God se Woord, die Bybel. Trouens, die tyd is op hande wanneer almal wat behoue bly mense sal wees wat hulle lewe in ooreenstemming met God se wil gebring het. Wat ’n verandering sal dit tog nie wees nie! Dan sal dié profesie vervul word: “Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek.”—Jesaja 11:9.

[Voetnote]

a Uitgegee deur die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania.

b Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.

c Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel