Neem jou toevlug tot Jehovah
“Tot u, o Jehovah, het ek my toevlug geneem.”—PSALM 31:1, NW.
1. Hoe spreek Psalm 31 vertroue uit in Jehovah se vermoë om as toevlug te dien?
’N MELODIEUSE stem sing van ’n man wat hom, hoewel hy verstandelik en liggaamlik uitgeput is, tot Jehovah wend. Geloof seëvier, sê die woorde van daardie gewyde lied. Hierdie man vind in die wagtende arms van die Almagtige beskutting teen vervolgers. “Tot u, o Jehovah, het ek my toevlug geneem”, lui sy psalm. “O mag ek nooit beskaamd staan nie. Voorsien deur u regverdigheid vir my ontkoming.”—Psalm 31:1, NW.
2. (a) Op grond van watter twee pilare kan ons op Jehovah as ons sterkte vertrou? (b) Watter soort God is Jehovah?
2 Die psalmis het een toevlug—die beste een! Daar kan twyfel oor ander dinge bestaan, maar hierdie feit staan vas: Jehovah is sy sterkte, sy vesting. Sy vertroue is op twee vaste pilare gegrond. Een, sy geloof, waarin Jehovah hom nie sal teleurstel nie, en twee, Jehovah se regverdigheid, wat beteken dat Hy Sy kneg nooit vir goed sal verlaat nie. Jehovah is nie ’n God wat sy getroue knegte teleurstel nie; hy verbreek nie sy beloftes nie. Hy is eerder ’n God van waarheid en ’n beloner van diegene wat opreg op hom vertrou. Geloof sal uiteindelik beloon word! Daar sal ontkoming wees!—Psalm 31:6, 7.
3. Hoe verheerlik die psalmis Jehovah?
3 Wanneer die psalmis sy vloeiende musiek komponeer wat van die sombere klanke van hartseer en smart tot die hoogtes van vertroue styg, gee dit hom innerlike krag. Hy verheerlik Jehovah vir Sy lojale liefde. “Geloofd sy die HERE”, sing hy, “want Hy het sy goedertierenheid [“liefderyke goedhartigheid”, NW] aan my wonderbaar gemaak, in ’n vaste stad.”—Psalm 31:22.
’n Magtige koor Koninkryksverkondigers
4, 5. (a) Watter magtige koor loof Jehovah vandag, en hoe het hulle dit gedurende hierdie afgelope diensjaar gedoen? (Sien tabel op bladsye 12-15.) (b) Hoe toon die Gedenkmaalbywoningsyfer dat daar nóg mense is wat by die koor Koninkryksverkondigers wil aansluit? (Sien tabel.) (c) Watter groep in julle gemeente kan by die koor aansluit?
4 Die woorde van daardie psalm het vandag weer nuwe betekenis aangeneem. Lofliedere tot Jehovah kan nie deur enige bose teenstander, deur enige natuurramp of deur enige ekonomiese teenspoed onderdruk word nie; Jehovah se liefderyke goedhartigheid het waarlik vir sy volk iets wonderliks geword. ’n Magtige koor, met ’n hoogtepunt van 4 709 889 in 231 lande, het gedurende die afgelope diensjaar wêreldwyd die boodskap van God se Koninkryk laat hoor. Jehovah se hemelse regering onder Christus Jesus is ’n toevlug wat hulle nie sal teleurstel nie. Verlede jaar het hierdie Koninkryksverkondigers in 73 070 gemeentes altesaam 1 057 341 972 uur aan die evangelisasiewerk bestee. Dit het daartoe gelei dat 296 004 mense hulle toewyding aan God deur waterdoop gesimboliseer het. En wat ’n wonderlike verrassing het almal tog nie gehad wat verlede Augustus die Goddelike Onderrigting- Internasionale Streekbyeenkoms in Kiëf, in die Oekraïne, bygewoon het nie. Hulle het gesien hoe geskiedenis gemaak word toe hulle die grootste massadoop van ware Christene wat tot nog toe opgeteken is, aanskou het! Soos daar in Jesaja 54:2, 3 voorspel is, neem God se volk in ongekende getalle toe.
5 Maar daar is nóg gewillige onderdane van God se Koninkryk wat by die koor wil aansluit. Verlede jaar het ’n verstommende 11 865 765 die herdenking van Jesus se dood bygewoon. Ons hoop dat baie van hulle hulle gedurende hierdie diensjaar sal bekwaam om die Koninkrykslied van deur tot deur te sing. Hoe woedend moet daardie vooruitsig die vyand van die waarheid, Satan die Duiwel, tog nie maak nie!—Openbaring 12:12, 17.
6, 7. Verduidelik hoe ’n belangstellende man hom met Jehovah se hulp van demoonteistering bevry het.
6 Satan sal probeer keer dat ander by daardie magtige koor aansluit. Verkondigers in Thailand vind byvoorbeeld dat al hoe meer mense deur demone geteister word. Maar talle opregtes is met Jehovah se hulp bevry. Nadat een man ’n toordokter uit nuuskierigheid besoek het, was hy tien jaar lank in die demone se mag. Hy het hom met die hulp van ’n geestelike uit hulle mag probeer bevry, maar daar was nie werklik ’n verbetering nie. ’n Voltydse bedienaar van Jehovah se Getuies het ’n Bybelstudie met die man begin en hom uit die Bybel geleer wat die enigste manier is waarop ’n mens jou uit die demone se mag kan bevry—deur juiste kennis van die waarheid in te neem, geloof in Jehovah God te stel en smeekbedes tot hom te rig.—1 Korinthiërs 2:5; Filippense 4:6, 7; 1 Timotheüs 2:3, 4.
7 Die nag ná hierdie bespreking het die man ’n droom gehad waarin sy oorlede vader hom gedreig het indien hy sou weier om weer ’n spiritistiese medium te word. Sy gesin het begin swaarkry. Die man het egter nie moed opgegee nie en het sy Bybellesse voortgesit en vergaderinge begin bywoon. Tydens een van daardie studies het die pionier verduidelik dat voorwerpe wat tydens spiritistiese rituele gebruik word die demone soms die geleentheid bied om mense te teister wat hulle uit die demone se mag probeer bevry. Die man het onthou dat hy olie het wat hy voorheen as toormiddel gebruik het. Hy het nou besef dat hy dit moet weggooi. Sedert hy daarvan ontslae geraak het, is hy nog nie weer deur die bose geeste lastig geval nie. (Vergelyk Efesiërs 6:13; Jakobus 4:7, 8.) Hy en sy vrou maak goeie vordering met hulle studie en woon gereeld die vergaderinge vir Bybelonderrigting by.
8, 9. Watter ander struikelblokke het sommige Koninkryksverkondigers oorkom?
8 Ander struikelblokke kan die klanke van die goeie nuus demp. Vanweë ’n uiters onderdrukkende ekonomiese situasie in Ghana word werkers ontslaan. Die lewenskoste het die hoogte ingeskiet, wat dit ’n wesenlike probleem maak om net die allernodigste te verkry. Hoe bied Jehovah se volk die situasie die hoof? Deur op Jehovah, en nie op hulleself nie, te vertrou. Eendag het ’n man byvoorbeeld ’n toegeplakte koevert by die ontvangstoonbank van die takkantoor gelaat. In die koevert was daar R660, of die minimum loon vir drie maande. ’n Anonieme persoon het dit geskenk, maar op die koevert het daar gestaan: “Ek het my werk verloor, maar Jehovah het my ’n ander laat kry. Ek is dankbaar teenoor hom en sy Seun, Christus Jesus. Ek gee hiermee ’n beskeie bydrae om met die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk te help voor die einde kom.”—Vergelyk 2 Korinthiërs 9:11.
9 Vergaderingbywoning help met die opleiding van diegene wat aansluit by die magtige koor wat Jehovah prys. (Vergelyk Psalm 22:23.) In die suidelike deel van Honduras is daar byvoorbeeld ’n gemeente met die naam El Jordán. Wat is so besonders omtrent hierdie groepie? Dit is hulle getroue vergaderingbywoning. Van die 19 verkondigers moet 12 ’n breë rivier oorsteek om elke week die vergaderinge by te woon. Dit is nie ’n groot probleem gedurende die droë seisoen nie, aangesien hulle die rivier kan oorsteek deur rotse as trapklippe te gebruik. Maar gedurende die reënseisoen verander toestande. Wat eers ’n gewone plaat water was, word ’n sterk stroom wat alles in sy pad wegspoel. Om hierdie struikelblok te oorkom, moet die broers en susters goed kan swem. Voor hulle die rivier oorsteek, sit hulle hulle vergaderingklere in ’n tina (metaalhouer) wat hulle in ’n plastieksak sit. Die sterkste swemmer gebruik die tina as ’n dobber en lei die groep na die oorkant toe. Wanneer hulle veilig aan die oorkant is, droog hulle hulle af, trek hulle hulle aan en kom hulle opgewek en silwerskoon by die Koninkryksaal aan!—Psalm 40:10.
’n Vesting waarin ons kan woon
10. Waarom kan ons ons gedurende spanningsvolle tye tot Jehovah wend?
10 Of jy nou regstreeks deur demone aangeval word of weens ander dinge spanning ervaar, Jehovah kan jou sterkte wees. Roep hom in gebed aan. Hy luister aandagtig na selfs die sagste sugtinge van sy volk. Die psalmis het uitgevind dat dit waar is en het geskryf: “Neig u oor tot my, red my gou; wees vir my ’n rots om in te vlug, ’n baie vaste huis om my te verlos. Want U is my rots en my bergvesting; en om u Naam ontwil sal U my lei en my bestuur. U sal my laat uitgaan uit die net wat hulle vir my gespan het, want U is my toevlug.”—Psalm 31:3-5.
11. Verduidelik waarom Jehovah se vesting nie ’n tydelike plek is nie.
11 Jehovah voorsien nie net ’n tydelike toevlug nie, maar ’n oninneembare vesting waarin ons veilig kan woon. Sy leiding en riglyne laat sy volk nie in die steek nie. Goddelike mag sal al die slinkse planne van Satan en sy gebroedsel kragteloos maak (Efesiërs 6:10, 11). Terwyl ons heelhartig op Jehovah vertrou, sal hy ons uit Satan se strikke verlos (2 Petrus 2:9, NAV). Gedurende die afgelope vier jaar word die predikingswerk van Jehovah se Getuies in sowat 35 lande weer vryelik gedoen. In die wêrelddele waar die maatskaplike, ekonomiese of politieke toestande die verkondiging van die goeie nuus belemmer, het sommige skaapgeaarde mense ook na plekke verhuis waar hulle makliker bereik kan word. Japan is so ’n plek.
12. Hoe het ’n pionier in Japan Jehovah sy sterkte gemaak?
12 Japan het ’n toestroming van gasarbeiders uit die buiteland ondervind, en talle anderstalige gemeentes is gestig. Die ondervinding van ’n broer in ’n Japannese gemeente toon hoe produktief hierdie anderstalige veld is. Hy wou gaan dien waar daar hulp nodig is. Maar hy het reeds tien Bybelstudies gehou waar hy was. Een van sy vriende het skertsend gesê: “As jy gaan na waar daar hulp nodig is, sal jy daar 20 Bybelstudies moet hou!” Hy het ’n toewysing ontvang en na Hirosjima toe gegaan. Maar ná vier maande het hy net een Bybelstudie gehad. Eendag het hy ’n man uit Brasilië besoek wat net Portugees magtig was. Aangesien die broer nie met die man kon kommunikeer nie, het hy ’n handboek oor Portugees gekoop. Nadat hy ’n paar alledaagse uitdrukkings geleer het, het hy die man weer besoek. Toe die broer hom in Portugees gegroet het, was die man baie verbaas en het hy met ’n groot glimlag die deur wyd oopgemaak en die broer ingenooi. ’n Bybelstudie is begin. Gou het die broer 22 studies gehou—14 in Portugees, 6 in Spaans en 2 in Japannees!
Doen die predikingswerk met vertroue
13. Waarom moet niemand ons skuldig laat voel sodat ons Jehovah sal dien nie?
13 Jehovah se volk sing die Koninkrykslied met vrymoedigheid en met die vaste vertroue dat Jehovah hulle toevlug is (Psalm 31:15). Hulle sal nie beskaamd staan nie—Jehovah sal hulle nie verneder nie, want hy sal sy woord gestand doen (Psalm 31:18). Die Duiwel en sy demoonmagte sal beskaamd staan. Aangesien Jehovah se volk die opdrag het om ’n boodskap te verkondig waarvoor hulle hulle nie hoef te skaam nie, doen hulle ook nie die predikingswerk omdat ander mense hulle skuldig laat voel nie. Dit is nie die wyse waarop Jehovah, of sy Seun, sy volk aanspoor om Hom te dien nie. Wanneer mense se harte vol vertroue en waardering vir Jehovah se goedheid en liefderyke goedhartigheid is, beweeg hulle goeie hartstoestand hulle mond om te spreek (Lukas 6:45). Hoeveel tyd ons dus ook al elke maand aan die diens bestee, dit is iets goeds, en nie ’n skande nie, veral as daardie tyd ons beste is. Het Jesus en sy Vader dan nie die weduwee se penning ten volle waardeer nie?—Lukas 21:1-4.
14. Watter kommentare kan jy oor die pionierwerk lewer? (Sien ook die tabel.)
14 Vir al hoe meer verkondigers beteken heelhartige aanbidding dat hulle as pioniers dien—’n hoogtepunt van 890 231 verlede jaar! As die vorige jaar se vermeerdering gehandhaaf word, sal hierdie syfer waarskynlik 1 000 000 oorskry. Die volgende ondervinding toon hoe ’n suster in Nigerië die pioniergeledere betree het. Sy skryf: “Toe ek my hoërskoolloopbaan so te sê voltooi het, het ek gaan help kos maak vir dié wat die pionierskool van Jehovah se Getuies bygewoon het. Daar het ek twee susters ontmoet wat ouer as my ouma was. Toe ek uitgevind het dat hulle pioniers is wat die skool bywoon, het ek by myself gedink: ‘As daardie twee susters pioniers kan wees, kan ek mos ook!’ Nadat ek dus my skoolloopbaan voltooi het, het ek ook ’n gewone pionier geword.”
15. Hoe kan informele getuieniswerk die weg vir ander baan sodat hulle hulle toevlug tot Jehovah kan neem?
15 Nie almal kan pioniers wees nie, maar hulle kan die getuieniswerk doen. In België het ’n 82-jarige suster gaan vleis koop. Sy het gemerk dat die slagter se vrou taamlik ontsteld was oor onlangse politieke omwentelings. Daarom het die suster die traktaat Wat glo Jehovah se Getuies? by die geld ingesit toe sy betaal het. Toe die suster die winkel weer besoek het, het die slagter se vrou sonder om ’n oomblik te aarsel gevra wat die Bybel oor ’n moontlike derde wêreldoorlog sê. Die suster het die boek Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind? vir haar geneem. Toe die bejaarde suster ’n paar dae later na die slaghuis toe gegaan het, het die slagter se vrou nog vrae vir haar gehad. Die suster het hierdie vrou innig jammer gekry; sy móés eenvoudig vir haar ’n Bybelstudie aanbied, en die vrou het dit aanvaar. Nou wil die slagter se vrou haar laat doop. Wat van die slagter? Hy het die traktaat gelees en bestudeer nou ook die Bybel.
‘’n Skat van goedheid’
16. Hoe het Jehovah ’n skat van goedheid vir sy volk weggelê?
16 Het Jehovah dan nie gedurende hierdie spanningsvolle laaste dae sy ‘liefderyke goedhartigheid wonderbaar gemaak’ aan die wat hulle toevlug tot hom geneem het nie? Soos ’n liefdevolle, beskermende vader het Jehovah ’n skat van goedheid vir sy aardse kinders weggelê. Hy vervul hulle met vreugde voor almal wat dit aanskou, net soos die psalmis sê: “o, Hoe groot is u goedheid wat U [as ’n skat] weggelê het vir die wat U vrees, wat U uitgewerk het vir die wat by U skuil, in teenwoordigheid van die mensekinders!”—Psalm 31:20, 22, vgl. NW.
17-19. Watter goeie resultate het dit in Ghana gehad toe ’n bejaarde man sy huwelik laat wettig het?
17 Wêreldse mense word dus ooggetuies van die eerlikheid van diegene wat Jehovah aanbid, en hulle verwonder hulle daaroor. In Ghana het ’n 96-jarige man byvoorbeeld na die huweliksregistrasiebeampte se kantoor toe gegaan en gevra dat sy gemeenregtelike huwelik van 70 jaar nou geregistreer word. Die huweliksbevestiger het geskok gevra: “Is jy seker jy wil dit doen? Op jóú ouderdom?”
18 Die man het verduidelik: “Ek wil een van Jehovah se Getuies wees en voor die einde van die wêreld deelneem aan die belangrikste werk—die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk. Hierdie werk lei tot die ewige lewe. Jehovah se Getuies gehoorsaam die siviele reg, waaronder die wet dat huwelike geregistreer moet word. Registreer dus asseblief my huwelik.” Die beampte was stomgeslaan. Hy het die huwelik geregistreer, en die bejaarde man het die plek vreugdevol verlaat omdat sy huwelik nou wettig was.—Vergelyk Romeine 12:2.
19 Agterna het die huweliksbeampte nagedink oor die dinge wat hy gehoor het. “Jehovah se Getuies . . . die belangrikste werk . . . die einde van die wêreld . . . God se Koninkryk . . . die ewige lewe.” Hy was dronkgeslaan oor wat al hierdie dinge in die lewe van ’n 96-jarige man beteken het en het besluit om na die Getuies te soek sodat hy die saak verder kon ondersoek. Hy het ’n tuisbybelstudie aanvaar en vinnig vordering gemaak. Vandag is hierdie huweliksregistrasiebeampte ’n gedoopte Getuie. As ons Jehovah gehoorsaam selfs in wat ander moontlik as kleinighede beskou, kan dit tot talle goeie dinge vir ons lei en vir diegene wat ooggetuies van ons gedrag is.—Vergelyk 1 Petrus 2:12.
20. Hoe het een suster in Myanma se eerlikheid tot ’n goeie getuienis gelei?
20 Ouer mense wat toegelaat het dat die waarheid eerlike mense van hulle maak, stel ’n goeie voorbeeld vir jongmense in hierdie oneerlike wêreld. So ’n jong suster woon in Myanma. Sy kom uit ’n arm en nederige gesin van tien kinders. Haar pa, ’n pensionaris, is ’n gewone pionier. Eendag het die suster ’n diamantring by die skool opgetel en dit dadelik na haar onderwyseres toe geneem. Toe die klas die volgende dag bymekaargekom het, het die onderwyseres vir die klas gesê hoe die ring gevind en ingegee is sodat dit aan die eienares terugbesorg kon word. Toe het sy die jong suster gevra om voor die hele klas te staan en te verduidelik waarom sy dit gedoen het, omdat sy geweet het dat ander kinders dit dalk sou gehou het. Die suster het verduidelik dat sy ’n Getuie van Jehovah is en dat haar God nie van diefstal of enige soort oneerlikheid hou nie. Die hele skool het daarvan gehoor, en dit het ons jong suster ’n goeie geleentheid gegee om vir onderwysers asook leerlinge te getuig.
21. Hoe weerspieël jongmense se gedrag dat hulle op Jehovah vertrou?
21 In België het ’n onderwyser in die klas iets interessants oor Jehovah se Getuies gesê. Hy het die gedrag van een van sy leerlinge, ook ’n jong suster, raakgesien en gesê: “Ek dink nou anders oor Jehovah se Getuies. Vooroordeel het my laat dink dat hulle uiters onverdraagsaam sal wees. Maar hulle is die verdraagsaamste mense, hoewel hulle nie hulle beginsels prysgee nie.” Elke jaar gee onderwysers vir hulle beste leerlinge pryse. Een van die pryse word vir die kursus in sedekunde gegee. Die pryse vir die beste punte in hierdie vak is drie agtereenvolgende jare deur hierdie onderwyser aan kinders van Jehovah se Getuies toegeken. Dit gebeur dikwels met diegene wat lojaal op Jehovah vertrou.—Psalm 31:23, NW.
22. Hoe sluit Psalm 31 triomfantlik af, en hoe help dit ons gedurende die laaste dae van hierdie stelsel van dinge?
22 Psalm 31 weerklink met ’n triomfantlike slot: “Wees sterk, en laat julle hart sterk wees, almal wat op die HERE wag!” (Psalm 31:25 NW). Terwyl ons dus al hoe nader aan die laaste dae van Satan se goddelose stelsel kom, sal Jehovah baie na aan ons kom, ons sý krag gee en ons glad nie verlaat nie. Jehovah is getrou en sal ons nie in die steek laat nie. Hy is ons toevlug; hy is ons toring.—Spreuke 18:10.
Onthou jy?
◻ Waarom kan ons met vertroue ons toevlug tot Jehovah neem?
◻ Watter bewyse toon dat ’n magtige koor moedig tot lof van die Koninkryk sing?
◻ Waarom kan ons seker wees dat Jehovah se volk nie in Satan se net sal bly nie?
◻ Watter skat het Jehovah weggelê vir diegene wat hulle toevlug tot hom neem?
[Tabel op bladsy 12-15]
WÊRELDRAPPORT VAN JEHOVAH SE GETUIES VIR DIE 1993-DIENSJAAR]
(See bound volume)
[Prente op bladsy 16, 17]
Diegene wat hulle toevlug tot Jehovah neem, is ’n magtige koor Koninkryksverkondigers—altesaam 4 709 889!
1. Senegal
2. Brasilië
3. Chili
4. Bolivia