Hoe om woede te beheers
MEER as 2 000 jaar gelede het die Griekse filosoof Aristoteles die woord “katarsis” gebruik om die “suiwering” of ontlading van emosionele spanning te beskryf wat plaasvind wanneer ’n mens na ’n tragiese toneelstuk of drama kyk. Die idee was dat ’n persoon sielkundig verkwik sou voel nadat hy van al sy spanning ontslae geraak het.
Vroeg in die vorige eeu het die Oostenrykse neuroloog Sigmund Freud ’n soortgelyke beskouing voorgestaan. Hy het beweer dat negatiewe emosies wat opgekrop of onderdruk word, later as ’n sielkundige versteuring, soos histerie, te voorskyn sal kom. Freud het dus volgehou dat ’n mens eerder aan jou woede uiting moet gee as om dit te onderdruk.
In onlangser jare het navorsers wat die katarsisteorie gedurende die ’70’s en ’80’s getoets het, min of geen bewyse gevind wat dit steun nie. Na aanleiding van hierdie bevindings het die sielkundige Carol Tavris geskryf: “Dit is tyd om die katarsisteorie, eens en vir altyd, die doodskoot te gee. Die opvatting dat ’n mens van vyandige gevoelens ontslae raak wanneer jy na geweld kyk (of ‘daaraan uiting gee’), is feitlik nog nooit deur navorsing gesteun nie.”
’n Ander sielkundige, Gary Hankins, het gesê: “Navorsing toon dat jy dikwels meer gespanne voel, nie minder gespanne nie, as jy op ’n katartiese wyse aan al jou woede ‘uiting gee’.” Deskundiges op die gebied van geestesgesondheid sal dalk nooit oor die katarsisteorie saamstem nie. Maar baie mense het baat gevind by ’n ander bron van wysheid, die Bybel.
“Laat staan die toorn”
Die gedagte dat jy jou woede moet beheers, word pragtig uitgedruk deur die Bybelpsalmis Dawid. Hy het gesê: “Laat staan die toorn en laat vaar die woede; moenie driftig wees nie; dit is net om kwaad te doen” (Psalm 37:8). As ’n mens nie iets wil sê of doen waaroor jy later spyt sal wees nie, moet jy in die eerste plek nie “driftig”, of toornig, raak nie. Dit is natuurlik makliker gesê as gedaan. Maar dit is moontlik! Kom ons bespreek drie dinge wat jou kan help om jou woede te beheers.
Verminder die intensiteit van woede
Om woede te verminder, moet jy eers kalmeer en ontspan. Probeer om nie die eerste ding te sê wat in jou gedagte opkom nie. As jy voel dat jy opgewerk raak en beheer oor jou emosies gaan verloor, moet jy hierdie Bybelraad toepas: “Die begin van twis is soos iemand wat waters loslaat; gaan dus weg voordat die rusie uitgebreek het.”—Spreuke 17:14.
Dit is wat ’n man met die naam Jack gehelp het om sy gewelddadige humeur onder beheer te kry. Jack se pa het dikwels dronk geword en woedeuitbarstings gehad. Terwyl Jack grootgeword het, het hy ook ’n gewelddadige persoonlikheid ontwikkel. Hy vertel: “Wanneer ek kwaad geword het, het dit gevoel asof ek aan die brand is. En ek het met woorde en vuiste aan my woede uiting gegee.”
Maar dinge het begin verander toe Jack die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer het. Hy het tot die besef gekom dat hy met God se hulp kan verander en leer om sy woede te beheers. En hy hét verander! Jack vertel hoe hy gereageer het toe ’n werksmaat woedend op hom gevloek het: “Dit het my bloed laat kook. Ek wou hom net daar gryp en op die vloer neergooi.”
Wat het Jack uiteindelik gehelp om kalm te bly? Hy verduidelik: “Ek onthou dat ek gebid het: ‘Asseblief Jehovah, help my om te kalmeer!’ Toe het ek vir die eerste keer gevoel hoe ’n kalmte oor my kom, en ek kon omdraai en wegstap.” Jack het sy studie van die Bybel voortgesit. Hy het baie tyd bestee aan gebed en bepeinsing oor tekste soos Spreuke 26:20, wat sê: “Waar daar geen hout is nie, gaan die vuur dood.” Dit het Jack gehelp om uiteindelik sy woede te beheers.
Leer om te ontspan
“’n Kalm hart is die lewe van die vlees” (Spreuke 14:30). As ’n mens hierdie basiese Bybelwaarheid toepas, kan dit jou emosionele, fisiese en geestelike gesondheid verbeter. Begin deur eenvoudige ontspanningstegnieke te leer, wat help om woede te verminder. Die volgende tegnieke het individue al gehelp om stresverwante woede teë te werk:
● Haal diep asem. Dit is een van die beste—en vinnigste—maniere om jou woede te laat bedaar.
● Terwyl jy diep asemhaal, kan jy ’n woord of frase herhaal wat jou kalmeer, soos “ontspan”, “moenie jou daaraan steur nie” of “bly kalm”.
● Raak verdiep in iets wat jy geniet—lees iets, luister na musiek, werk in die tuin of doen iets anders wat jou laat ontspan.
● Oefen gereeld en eet gesond.
Moenie onrealistiese verwagtinge koester nie
Jy sal die mense of die dinge wat jou woede laat ontvlam, moontlik nie heeltemal kan vermy nie, maar jy kan leer om jou reaksie te beheer. Dit beteken dat jy jou denke moet verander.
Mense met baie hoë verwagtinge is geneig om meer te sukkel met woede. Waarom? Want as iemand of iets nie aan hulle hoë standaarde voldoen nie, voel hulle gou teleurgesteld en kwaad. Om hierdie perfeksionistiese gesindheid teë te werk, moet jy onthou: “Daar is nie ’n regverdige mens nie, nie eers een nie . . . Alle mense het afgewyk” (Romeine 3:10, 12). As ons dus dink dat ons of enigiemand anders volmaak kan wees, sal dit net tot ’n gevoel van mislukking lei.
Dit is wys om nie te veel van onsself of ander te verwag nie. Die Bybel sê: “Ons almal struikel dikwels. As iemand in woord nie struikel nie, is hy ’n volmaakte man” (Jakobus 3:2). Ja, “daar is geen mens regverdig op die aarde wat voortdurend goed doen en nie sondig nie” (Prediker 7:20). As ons dus voorgee om te wees wat ons nie is nie—volmaak—sal dit tot ’n lewe vol frustrasie en woede lei.
As onvolmaakte mense raak ons almal soms kwaad. Maar ons kan besluit hoe ons aan ons woede uiting sal gee. Die apostel Paulus het mede-Christene vermaan: “Wees toornig, en moet nogtans nie sondig nie; laat die son nie ondergaan terwyl julle in ’n ergerlike gemoedstemming is nie” (Efesiërs 4:26). Ja, deur ons woede te beheers, kan ons op ’n positiewe manier aan ons gevoelens uiting gee, ’n manier wat almal tot voordeel sal strek.
[Venster/Prente op bladsye 8, 9]
LEER OM TE ONTSPAN
Haal diep asem
Verdiep jou in iets wat jy geniet
Oefen gereeld