“Soos in die hemel net so ook op die aarde”
“Die Katolieke geloof meld Vier Laaste Dinge: Dood, Oordeel, Hel, Hemel.”—Catholicism, onder redaksie van George Brantl.
LET daarop dat die aarde ontbreek op hierdie lys van moontlikhede vir die mensdom. Dit is glad nie verbasend nie, aangesien die Katolieke Kerk, soos verskeie ander godsdienste, glo dat die aarde eendag vernietig sal word. Die Dictionnaire de Théologie Catholique maak dit duidelik onder die inskrywing “Einde van die wêreld”: “Die Katolieke Kerk glo en leer dat die teenswoordige wêreld, soos God dit geskep het en in sy huidige vorm, nie vir ewig sal bestaan nie.” ’n Onlangse Katolieke kategismus ondersteun ook hierdie idee: “Ons wêreld . . . is bestem om te verdwyn.” Maar as ons planeet gaan verdwyn, wat dan van die Bybel se beloftes van ’n aardse paradys?
In die Bybel word daar duidelik van ’n toekomstige paradys op aarde gepraat. Die profeet Jesaja het byvoorbeeld die aarde en sy bewoners so beskryf: “Hulle sal beslis huise bou en dit bewoon; en hulle sal beslis wingerde plant en die vrug daarvan eet. Hulle sal nie bou sodat iemand anders dit bewoon nie; hulle sal nie plant sodat iemand anders dit eet nie. Want die dae van my volk sal wees soos die dae van ’n boom; en die werk van hulle eie hande sal my uitverkorenes ten volle benut” (Jesaja 65:21, 22). Die Jode, aan wie God hierdie beloftes gemaak het, was seker daarvan dat hulle land—trouens, die hele aarde—eendag ’n paradys, tot ewige voordeel van die mensdom, sou word.
Psalm 37 bevestig hierdie hoop. “Die sagmoediges sal die aarde besit” (Psalm 37:11). Hierdie vers praat nie net van ’n tydelike herstel van die nasie Israel in die Beloofde Land nie. Dieselfde psalm sê spesifiek: “Die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop woon” (Psalm 37:29).a Let daarop dat ewige lewe op aarde volgens hierdie psalm ’n beloning vir “die sagmoediges” sal wees. In ’n Franse Bybel sê ’n kommentaar oor hierdie vers dat die woord “sagmoedig” “’n baie breër betekenis het as wat uit vertalings blyk; dit sluit die ongelukkiges in, dié wat ter wille van Jahweh beproef of vervolg word, nederige harte wat onderdanig is aan God”.
Op die aarde of in die hemel?
In die Bergpredikasie het Jesus ’n belofte gemaak wat ons herinner aan die tekste wat hierbo aangegee word: “Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe” (Matteus 5:5, Ou Afrikaanse Bybelvertaling). Weer eens word daar na die aarde verwys as ’n ewige beloning vir die getroues. Maar Jesus het dit aan sy apostels duidelik gemaak dat hy vir hulle ’n plek berei “in die huis van [sy] Vader” en dat hulle saam met hom in die hemel sal wees (Johannes 14:1, 2; Lukas 12:32; 1 Petrus 1:3, 4). Hoe moet ons dan beloftes van aardse seëninge verstaan? Is dit vandag van belang, en indien wel, vir wie?
Verskeie Bybelgeleerdes sê dat “die aarde” wat in Jesus se Bergpredikasie en selfs in Psalm 37 genoem word, bloot simbolies is. Volgens sy kommentare in die Bible de Glaire het F. Vigouroux in hierdie verse “’n afbeelding van die hemel en van die Kerk” gesien. Vir M. Lagrange, ’n Franse Bybelnavorser, is hierdie seën “nie ’n belofte dat die sagmoediges die aarde sal besit waarop hulle lewe nie, nóg onder die huidige stelsel nóg onder ’n volmaakter orde, maar dit is die plek, waar dit ook al is, wat die koninkryk van die hemele is”. Vir ’n ander navorser is dit ’n “simboliese gebruik van aardse waardes om van die hemel te praat”. Vir nog ander “is die land van die belofte, Kanaän, geestelik en verteenwoordig dit die vaderland daarbo, die koninkryk van God, die gewaarborgde besitting van die sagmoediges. Dit is ook die betekenis van hierdie beeld in Psalm 37 en elders.” Maar moet ons gou wees om die letterlike aarde uit God se beloftes uit te sluit?
’n Ewige voorneme vir die aarde
In die begin was die aarde nou verbonde aan God se voorneme vir die mens. “Wat die hemel betref, aan Jehovah behoort die hemel, maar die aarde het hy aan die mensekinders gegee”, het die psalmis geskryf (Psalm 115:16). God se oorspronklike voorneme vir die mensdom het dus verband gehou met die aarde, nie met die hemel nie. Jehovah het die eerste mensepaar die opdrag gegee om die tuin van Eden uit te brei sodat dit die aarde oordek (Genesis 1:28). Dit was nie ’n tydelike voorneme nie. Jehovah bevestig in sy Woord dat die aarde vir ewig sal bestaan: “’n Geslag gaan, en ’n geslag kom; maar die aarde bly tot onbepaalde tyd staan.”—Prediker 1:4; 1 Kronieke 16:30; Jesaja 45:18.
God se beloftes verdwyn nooit in die vergetelheid nie, want hy is die Allerhoogste, en hy sien toe dat dit vervul word. Die Bybel gebruik die natuurlike waterkringloop as ’n illustrasie om te verduidelik dat die vervulling van God se beloftes onafwendbaar is: “Net soos die stortreën en die sneeu uit die hemel neerdaal en nie daarheen terugkeer nie, tensy dit die aarde deurweek en dit laat voortbring en uitspruit, . . . so sal my woord [God se woord] wees wat uit my mond uitgaan. Dit sal nie sonder resultate na my toe terugkeer nie, maar dit sal beslis doen wat my behaag en sal beslis sukses behaal in alles waarvoor ek dit gestuur het” (Jesaja 55:10, 11). God maak beloftes aan mense. ’n Sekere hoeveelheid tyd gaan miskien verby voordat daardie beloftes verwesenlik word, maar dit sal nie tot niet gaan nie. Dit ‘keer terug’ na hom nadat alles wat geuiter is, volbring is.
Dit het Jehovah sekerlik “behaag” om die aarde vir die mensdom te skep. Teen die einde van die sesde skeppingsdag het hy verklaar dat alles “baie goed” was (Genesis 1:31). Die omskepping van die aarde in ’n ewige paradys is deel van God se voorneme wat nog nie verwesenlik is nie. Nogtans sal God se beloftes ‘nie sonder resultate na hom toe terugkeer nie’. Al die beloftes van volmaakte lewe op aarde, waar mense vir ewig in vrede en veiligheid sal woon, sal vervul word.—Psalm 135:6; Jesaja 46:10.
God se voorneme sal vir seker vervul word
Die sonde van ons eerste ouers, Adam en Eva, het God se oorspronklike voorneme om die aarde ’n paradys te maak, tydelik verhinder. Ná hulle ongehoorsaamheid is hulle uit die tuin gesit. So het hulle die voorreg verloor om deel te hê aan die vervulling van God se voorneme dat volmaakte mense op ’n paradysaarde woon. God het nietemin dinge so gereël dat sy voorneme verwesenlik sal word. Hoe?—Genesis 3:17-19, 23.
Die situasie in Eden kan vergelyk word met dié van ’n man wat ’n huis op ’n pragtige stuk grond begin bou. Terwyl hy die fondament lê, kom iemand en vernietig sy handewerk. Die man laat vaar nie sy projek nie, maar doen eerder stappe om te verseker dat die huis voltooi word. Selfs al beteken hierdie ekstra werk dat hy meer geld moet uitgee, laat dit nie twyfel ontstaan oor die raadsaamheid van die oorspronklike projek nie.
God het eweneens reëlings getref om te verseker dat sy voorneme verwesenlik word. Kort ná die sonde van ons eerste ouers het hy ’n hoop vir hulle nakomelinge bekend gemaak—’n “saad” wat die skade ongedaan sou maak. In die vervulling van hierdie profesie was die primêre deel van die saad God se Seun, Jesus, wat na die aarde toe gekom het en sy lewe as ’n offerande gegee het om die mensdom terug te koop (Galasiërs 3:16; Matteus 20:28). Nadat Jesus tot hemelse lewe opgewek is, sou hy die Koning van die Koninkryk word. Die sagmoediges wat die aarde beërwe, is in die eerste plek Jesus, saam met uitgekose getroues wat tot hemelse lewe opgewek word om medeheersers in hierdie Koninkryk te word (Psalm 2:6-9). Mettertyd sal hierdie regering beheer oor die aarde se aangeleenthede oorneem om God se oorspronklike voorneme te verwesenlik en die aarde in ’n paradys te verander. Miljoene der miljoene sagmoediges ‘beërwe die aarde’ in die sin dat hulle baat vind by die heerskappy van hierdie Koninkryk deur Jesus Christus en sy medeheersers.—Genesis 3:15; Daniël 2:44; Handelinge 2:32, 33; Openbaring 20:5, 6.
“Soos in die hemel net so ook op die aarde”
Hierdie redding wat twee bestemmings insluit, ’n hemelse en ’n aardse, word gemeld in ’n visioen wat die apostel Johannes gesien het. Hy het konings, wat uit Christus se getroue dissipels gekies is, op hemelse trone gesien. Die Bybel sê spesifiek dat hierdie metgeselle van Christus ‘as konings oor die aarde gaan heers’ (Openbaring 5:9, 10). Let op die tweeledige aspek van die verwesenliking van God se voorneme—’n herstelde aarde onder die leiding van ’n hemelse Koninkryk, wat uit Jesus Christus en sy mede-erfgename bestaan. Al hierdie goddelike reëlings maak dit moontlik dat die aardse Paradys uiteindelik herstel sal word in ooreenstemming met God se oorspronklike voorneme.
In sy modelgebed het Jesus sy dissipels genooi om te bid dat God se wil geskied “soos in die hemel net so ook op die aarde” (Matteus 6:9, 10, OAB). Sou hierdie woorde sin maak as die aarde sou verdwyn of bloot ’n simbool van die hemel is? Sou dit eweneens sin maak as al die regverdiges hemel toe sou gaan? God se wil vir die aarde word duidelik in die Skrif uiteengesit, van die skeppingsverslag tot die visioene in die boek Openbaring. Die aarde sal beslis word wat God hom voorgeneem het—’n paradys. Dit is die wil van God, wat hy belowe om uit te voer. Getroue mense op aarde bid dat hierdie wil geskied.
Ewige lewe op aarde was die oorspronklike voorneme van die Skepper, die God wat ‘nie verander het nie’ (Maleagi 3:6; Johannes 17:3; Jakobus 1:17). Hierdie tydskrif, Die Wagtoring, verduidelik al langer as ’n eeu hierdie twee aspekte van die verwesenliking van God se voorneme. Dit stel ons in staat om die beloftes van ’n herstelde aarde te verstaan wat in die Skrif gevind word. Ons nooi jou om verdere ondersoek in te stel deur met Jehovah se Getuies te gesels of met die uitgewers van hierdie tydskrif in aanraking te kom.
[Voetnoot]
a Hoewel baie Bybelvertalings die Hebreeuse term ’eʹrets as “land” pleks van “aarde” weergee, is daar geen rede om ’eʹrets in Psalm 37:11, 29 te beperk tot net die land wat aan die nasie Israel gegee is nie. Old Testament Word Studies deur William Wilson omskryf ’eʹrets as “die aarde in die grootste sin, die bewoonbare sowel as onbewoonbare dele; saam met ’n beperkende woord word dit vir ’n deel van die aarde se oppervlak gebruik, ’n land of staat”. Die eerste en vernaamste betekenis van die Hebreeuse woord is dus ons planeet, die aarde.—Sien Die Wagtoring, 1 Januarie 1986, bladsy 31.
[Prent op bladsy 4]
In die Bybel word daar duidelik van die toekomstige Paradys op aarde gepraat
[Prent op bladsy 7]
Sou Jesus se modelgebed sin maak as die aarde sou verdwyn?