Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w93 3/15 bl. 13-18
  • Jehovah verag nie ’n gebroke hart nie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah verag nie ’n gebroke hart nie
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Rein hart is nodig
  • Heilige gees is noodsaaklik
  • Die vreugde van redding
  • Wat word oortreders geleer?
  • Aanvaarbare offerandes aan God
  • Besorg oor reine aanbidding
  • Jehovah hoor ons pleidooie
  • Jehovah se barmhartigheid red ons van wanhoop
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Belydenis wat lei tot genesing
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Vertrou op God se gees om veranderinge in die lewe te hanteer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Wat beteken Jehovah se vergifnis vir jou?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
w93 3/15 bl. 13-18

Jehovah verag nie ’n gebroke hart nie

“Die offers van God is ’n gebroke gees; ’n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!”—PSALM 51:19.

1. Hoe beskou Jehovah sy aanbidders wat ernstig sondig, maar berou het?

JEHOVAH kan ‘homself in ’n wolk hul, sodat geen gebed kan deurdring nie’ (Klaagliedere 3:44). Maar hy wil toeganklik vir sy volk wees. Selfs al sondig een van sy aanbidders ernstig, maar hy het berou, onthou ons hemelse Vader die goeie dinge wat daardie persoon gedoen het. Die apostel Paulus kon derhalwe vir mede-Christene sê: “God is nie onregverdig om julle werk te vergeet nie en die liefdearbeid wat julle betoon het vir sy Naam.”—Hebreërs 6:10.

2, 3. Wat moet Christen- ouere manne in ag neem wanneer hulle te doen het met medegelowiges wat gesondig het?

2 Christen- ouere manne moet ook medegelowiges se jare van getroue diens aan God in ag neem. Dit sluit die heilige diens in van berouvolle persone wat ’n misstap begaan het of wat selfs ernstig gesondig het. Christenherders dra die geestelike welsyn van almal in God se kudde op die hart.—Galasiërs 6:1, 2.

3 ’n Berouvolle oortreder het Jehovah se barmhartigheid nodig. Maar meer is nodig. Dit word duidelik getoon deur Dawid se woorde in Psalm 51:12-21

’n Rein hart is nodig

4. Waarom het Dawid om ’n rein hart en ’n nuwe gees gebid?

4 As ’n toegewyde Christen weens sonde in ’n swak geestelike toestand is, kan ons ons afvra: Wat het hy benewens Jehovah se barmhartigheid en vergifnis nodig? Wel, Dawid het gepleit: “Skep in my ’n rein hart, o God, en gee in my opnuut in die binneste van my ’n vaste [“standvastige”, NW] gees” (Psalm 51:10). Dawid het hierdie versoek blykbaar tot God gerig omdat hy besef het dat die neiging om growwe sonde te pleeg steeds in sy hart was. Ons is dalk nie betrokke by die soort sondes wat Dawid in verband met Batseba en Uria verstrik het nie, maar ons het Jehovah se hulp nodig sodat ons die versoeking kan weerstaan om ons aan enige ernstige, sondige gedrag skuldig te maak. Trouens, ons het moontlik persoonlik Goddelike hulp nodig sodat ons sulke sondige neigings soos hebsug en haat—misdade wat soortgelyk is aan diefstal en moord—uit ons hart kan verwyder.—Kolossense 3:5, 6; 1 Johannes 3:15.

5. (a) Wat beteken dit om ’n rein hart te hê? (b) Wat wou Dawid hê toe hy om ’n nuwe gees gevra het?

5 Jehovah vereis dat sy knegte “’n rein hart” moet hê, dit wil sê dat hulle beweegrede of oogmerk rein moet wees. Dawid het besef dat hy nie sulke reinheid aan die dag gelê het nie, en hy het gebid dat God sy hart reinig en dit in ooreenstemming met Goddelike standaarde bring. Die psalmis wou ook ’n nuwe, regskape gees, of geestesgesindheid, hê. Hy het ’n gees nodig gehad wat hom sou help om versoeking te weerstaan en standvastig aan Jehovah se wette en beginsels getrou te bly.

Heilige gees is noodsaaklik

6. Waarom het Dawid gesmeek dat Jehovah nie sy heilige gees van hom af moes wegneem nie?

6 Wanneer ons wanhopig oor ons foute of oortredinge is, kan ons voel dat God ons enige oomblik gaan verstoot en sy heilige gees, of werkende krag, aan ons gaan onttrek. Dawid het so gevoel, want hy het Jehovah gesmeek: “Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie” (Psalm 51:13). Berouvolle en nederige Dawid het gevoel dat sy sondes hom onwaardig gemaak het om Jehovah te dien. Om van God se aangesig verwerp te word, sou beteken dat ’n mens sy guns, vertroosting en seën verloor. Om geestelik herstel te word, het Dawid Jehovah se heilige gees nodig gehad. Met die heilige gees op hom kon die koning biddend Goddelike leiding vra sodat hy Jehovah kon behaag, sonde kon vermy en in wysheid kon regeer. Dawid was bewus van sy sondes teen die Gewer van heilige gees en het gepas gesmeek dat Jehovah dit nie van hom moes wegneem nie.

7. Waarom moet ons om heilige gees bid en daarteen waak dat ons dit bedroef?

7 Wat van ons? Ons moet om heilige gees bid en daarteen waak dat ons dit bedroef deur nie die leiding daarvan te volg nie (Lukas 11:13; Efesiërs 4:30). Anders sal ons die gees verloor en sal ons nie die godgegewe vrugte daarvan soos liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing kan openbaar nie. Jehovah God sal veral sy heilige gees van ons af wegneem as ons aanhou om onberouvol teen hom te sondig.

Die vreugde van redding

8. Wat moet ons hê as ons sondig maar die vreugde van redding wil geniet?

8 ’n Berouvolle sondaar wat geestelik herstel, kan hom weer in Jehovah se voorsiening van redding verheug. Dawid het hierna gesmag en God gesmeek: “Gee my weer die vreugde van u heil [“redding”, NW], en ondersteun my deur ’n gewillige gees” (Psalm 51:14). Hoe wonderlik was dit tog om hom in die sekere hoop van redding deur Jehovah God te verheug! (Psalm 3:8). Nadat Dawid teen God gesondig het, het hy daarna verlang om weer die vreugde van redding deur Hom te ervaar. Later het Jehovah voorsiening gemaak vir redding deur middel van die losprysoffer van sy Seun, Jesus Christus. As ons as God se toegewyde knegte ernstig sondig, maar weer die vreugde van redding wil geniet, moet ons ’n berouvolle gesindheid hê sodat ons nie teen die heilige gees sondig nie.—Mattheüs 12:31, 32; Hebreërs 6:4-6.

9. Wat het Dawid gevra toe hy God versoek het om hom “deur ’n gewillige gees” te ondersteun?

9 Dawid het gevra dat Jehovah hom “deur ’n gewillige gees” ondersteun. Dit verwys blykbaar nie na God se gewilligheid om hom te help of na sy heilige gees nie, maar na Dawid se dwingende geestesgesindheid. Dawid wou hê God moet hom ondersteun deur aan hom ’n gees van gewilligheid te gee om te doen wat reg is en nie weer eens in sonde te verval nie. Jehovah God ondersteun sy knegte voortdurend en hy rig diegene op wat deur allerhande beproewinge neergeboë is (Psalm 145:14). Hoe bemoedig hierdie wete ons tog, veral as ons gesondig het maar berouvol is en Jehovah graag vir altyd getrou wil dien!

Wat word oortreders geleer?

10, 11. (a) Wat kon Dawid Israelitiese oortreders leer? (b) Dawid kon sondaars leer nadat hy self eers wat gedoen het?

10 As God dit sou toelaat, wou Dawid onselfsugtig iets doen wat sy waardering vir Jehovah se barmhartigheid sou toon en ander sou help. Die berouvolle koning het vervolgens in sy gebed tot Jehovah gesê: “Ek wil die oortreders u weë leer, dat die sondaars hulle tot U kan bekeer” (Psalm 51:15). Hoe kon sondige Dawid oortreders God se Wet leer? Wat kon hy vir hulle sê? En watter nut sou dit stig?

11 Wanneer Dawid Israelitiese oortreders Jehovah se weë leer in die hoop dat hulle hulle van ’n goddelose weg sou bekeer, kon hy toon wat ’n euwel sonde is, wat berou beteken en hoe God se barmhartigheid verkry kan word. Aangesien Dawid die foltering ervaar het wat deur Jehovah se onguns en ’n skuldige gewete meegebring is, sou hy ongetwyfeld ’n medelydende onderrigter van berouvolle, gebroke sondaars wees. Hy kon natuurlik eers nadat hy self Jehovah se standaarde aanvaar en Sy vergifnis ontvang het, sy eie voorbeeld gebruik om ander te leer, want diegene wat weier om hulle aan God se vereistes te onderwerp, het geen reg om ‘God se insettinge te vertel’ nie.—Psalm 50:16, 17.

12. Hoe het Dawid baat gevind by die wete dat God hom van bloedskuld bevry het?

12 Dawid het sy voorneme op ’n ander manier herhaal en gesê: “Red my van bloedskuld, o God, God van my heil [“redding”, NW]! Laat my tong u geregtigheid uitjubel” (Psalm 51:16). Bloedskuld het die veroordeling van die dood meegebring (Genesis 9:5, 6). Die wete dat die God van sy redding hom van bloedskuld in verband met Uria se dood bevry het, het Dawid dus gemoedsrus gegee. Sy tong kon toe God se geregtigheid, en nie sy eie nie, uitjubel (Prediker 7:20; Romeine 3:10). Dawid kon nie sy onsedelikheid uitwis of Uria uit die graf terugbring nie, net soos iemand vandag nie die kuisheid van ’n persoon kan herstel wat hy verlei het of iemand kan opwek wat hy doodgemaak het nie. Moet ons nie hieroor nadink wanneer ons versoek word nie? En hoe moet ons tog nie Jehovah se barmhartigheid wat in geregtigheid aan ons betoon word, waardeer nie! Trouens, waardering behoort ons aan te spoor om ander na hierdie Bron van geregtigheid en vergifnis te rig.

13. Slegs onder watter omstandighede kan ’n sondaar sy lippe met reg open om Jehovah te loof?

13 Geen sondaar kan sy lippe met reg open om Jehovah te loof, tensy God hulle in barmhartigheid as ’t ware open om Sy waarhede te spreek nie. Dawid het gevolglik gesing: “Here, open my lippe, dat my mond u lof kan verkondig” (Psalm 51:17). Met die las van sy gewete af omdat God hom vergewe het, is Dawid beweeg om oortreders Jehovah se weë te leer en kon hy Hom vryelik loof. Almal wie se sondes soos Dawid s’n vergewe is, moet waardering toon vir Jehovah se genade teenoor hulle, en hulle behoort van elke geleentheid gebruik te maak om God se waarheid bekend te maak en ‘sy lof te verkondig’.—Psalm 43:3.

Aanvaarbare offerandes aan God

14. (a) Watter offerandes is volgens die Wetsverbond vereis? (b) Waarom sou dit verkeerd wees om te dink dat ons vir voortgesette wandade kan vergoed deur in ander opsigte goed te doen?

14 Dawid het diepe insig verkry wat hom laat sê het: “Want U [Jehovah] het geen lus in slagoffer nie, anders sou ek dit gee; in brandoffer het U geen behae nie” (Psalm 51:18). Die Wetsverbond het vereis dat diereoffers aan God geoffer word. Maar offerandes kon nie vergoed vir Dawid se sondes van owerspel en moord, wat met die dood strafbaar was nie. Anders sou hy geen koste ontsien het om diereoffers aan Jehovah te bring nie. Sonder hartgrondige berou is offerandes waardeloos. Dit sou dus verkeerd wees om te dink dat ons vir voortgesette wandade kan vergoed deur in ander opsigte goed te doen.

15. Watter gesindheid het ’n toegewyde persoon met ’n gebroke gees?

15 Dawid het bygevoeg: “Die offers van God is ’n gebroke gees; ’n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!” (Psalm 51:19). In die geval van ’n berouvolle sondaar is aanvaarbare ‘offers van God ’n gebroke gees’. So ’n persoon het nie ’n strydlustige gesindheid nie. Die hart van ’n toegewyde persoon met ’n gebroke gees is diep bedroef oor sy sonde, is verootmoedig omdat hy bewus is van God se afkeur en is gewillig om enigiets te doen om God se guns te herwin. Ons kan God niks waardevols aanbied nie tot ons ons van ons sondes bekeer en ons hart in uitsluitlike toegewydheid aan hom gee.—Nahum 1:2, NW.

16. Hoe beskou God iemand wat gebroke van hart is oor sy sonde?

16 God verwerp nie ’n offerande soos ’n gebroke en verslae hart nie. Ons moet ons derhalwe nie aan wanhoop oorgee nie, al ondervind ons as sy volk ook watter probleme. As ons op die een of ander manier op die lewenspad gestruikel het sodat ons hart om Goddelike barmhartigheid uitroep, is dit nie ’n tevergeefse situasie nie. Selfs al het ons ernstig gesondig, maar ons is berouvol, sal Jehovah nie ons gebroke hart verag nie. Hy sal ons op grond van Christus se losprysoffer vergewe en ons tot Sy guns herstel (Jesaja 57:15; Hebreërs 4:16; 1 Johannes 2:1). Ons gebede moet egter, soos Dawid s’n, om ’n herstel van God se guns wees en nie om die verdiende bestrawwing of teregwysing vry te spring nie. God het Dawid vergewe, maar hy het hom ook getugtig.—2 Samuel 12:11-14.

Besorg oor reine aanbidding

17. Wat moet sondaars doen, buiten om God om sy vergifnis te smeek?

17 As ons die een of ander ernstige sonde gepleeg het, sal dit ongetwyfeld swaar op ons gemoed rus, en ’n berouvolle hart sal ons beweeg om God om vergifnis te smeek. Ons moet nietemin ook vir ander bid. Hoewel Dawid daarna uitgesien het om God weer eens op ’n aanvaarbare wyse te aanbid, het sy psalm nie ander selfsugtig buite rekening gelaat nie. Dit sluit hierdie pleidooi tot Jehovah in: “Doen goed aan Sion na u welbehae; bou die mure van Jerusalem op.”—Psalm 51:20

18. Waarom het berouvolle Dawid vir Sion gebid?

18 Ja, Dawid het daarna uitgesien om weer God se guns te geniet. Maar dit was ook die nederige psalmis se bede dat ‘God na sy welbehae goed doen aan Sion’, Israel se hoofstad, Jerusalem, waar Dawid gehoop het om God se tempel te bou. Dawid se ernstige sondes het die hele volk bedreig, want die hele volk kon weens die koning se oortreding ly. (Vergelyk 2 Samuel, hoofstuk 24.) Sy sondes het in werklikheid “die mure van Jerusalem” ondermyn, sodat hulle nou herbou moes word.

19. Waarvoor sal dit gepas wees om te bid as ons gesondig het, maar vergifnis ontvang het?

19 As ons ernstig gesondig het, maar God se vergifnis ontvang het, sal dit gepas wees om te bid dat hy enige skade wat ons gedrag veroorsaak het op die een of ander manier herstel. Ons het dalk smaad op sy heilige naam gebring, die gemeente benadeel en ons gesin hartseer besorg. Ons hemelse Vader kan enige smaad verwyder wat op sy naam gebring is, hy kan die gemeente deur middel van sy heilige gees opbou en kan die hart van ons geliefdes wat hom liefhet en dien, vertroos. Of sonde hierby betrokke is of nie, die heiliging van Jehovah se naam en die welstand van sy volk moet altyd vir ons van die allergrootste belang wees.—Mattheüs 6:9.

20. Onder watter omstandighede sou Jehovah behae gehad het in Israel se offerandes?

20 Wat sou nog gebeur het as Jehovah die mure van Sion herbou het? Dawid het gesing: “Dan sal U [Jehovah] ’n welbehae hê in die offers van geregtigheid, in brandoffer en voloffer; dan sal hulle stiere offer op u altaar” (Psalm 51:21). Dit was Dawid se opregte begeerte dat hy en die volk Jehovah se guns moes geniet sodat hulle Hom op ’n aanvaarbare wyse kon aanbid. God sou dan behae gehad het in hulle brandoffers en hulle voloffers. Dit sou die geval wees omdat dit offerandes van geregtigheid sou wees wat geoffer is deur toegewyde, opregte en berouvolle mense wat God se guns geniet het. Uit dankbaarheid vir Jehovah se barmhartigheid sou hulle op sy altaar stiere offer—die beste en duurste offerandes. Ons eer Jehovah vandag deur die beste van wat ons het aan hom te bring. En ons offerandes sluit “die jong stiere van ons lippe” in, lofoffers aan ons barmhartige God, Jehovah.—Hosea 14:2, NW; Hebreërs 13:15.

Jehovah hoor ons pleidooie

21, 22. Watter lesse bevat Psalm 51 waarby ons kan baat vind?

21 Dawid se hartgrondige gebed wat in Psalm 51 opgeteken is, toon dat ons ’n waarlik berouvolle gees moet hê as ons gesondig het. Die psalm bevat ook lesse waarby ons kan baat vind. As ons byvoorbeeld sondig, maar berou het, kan ons op God se barmhartigheid vertrou. Maar ons moet hoofsaaklik besorg wees oor enige smaad wat ons op Jehovah se naam gebring het (Verse 3-6). Ons kan, soos Dawid, op grond van ons oorgeërfde sondigheid ’n beroep op ons hemelse Vader se barmhartigheid doen (Vers 7). Ons moet die waarheid praat en ons moet wysheid van God soek (Vers 8). As ons gesondig het, behoort ons Jehovah om reiniging, ’n rein hart en ’n standvastige gees te smeek.—Verse 9-12.

22 Uit Psalm 51 kan ons ook sien dat ons nooit moet toelaat dat ons in ons sonde verhard word nie. As ons dit sou doen, sal Jehovah sy heilige gees, of werkende krag, van ons wegneem. Met God se gees op ons kan ons ander egter met welslae sy weë leer (Verse 13-15). As ons sondig, maar berou het, sal Jehovah toelaat dat ons voortgaan om hom te loof omdat hy nooit ’n gebroke en verslae hart verag nie (Verse 16-19). Hierdie psalm toon verder dat ons gebede nie net om onsself moet draai nie. Ons moet eerder om die seëning en geestelike welstand bid van almal wat die ware aanbidding van Jehovah beoefen.—Verse 20, 21.

23. Waarom moet Psalm 51 ons beweeg om moedig en optimisties te wees?

23 Hierdie hartroerende psalm van Dawid moet ons beweeg om moedig en optimisties te wees. Dit help ons om te besef dat ons nie moet dink alles is verlore nie, selfs al het ons gesondig. Waarom nie? Omdat Jehovah se barmhartigheid ons van wanhoop kan red as ons berou het. As ons berouvol is en ten volle aan ons liefdevolle hemelse Vader toegewy is, hoor hy ons pleidooi om barmhartigheid. En hoe bemoedigend is dit tog om te weet dat Jehovah nie ’n gebroke hart verag nie!

Hoe sou jy antwoord?

◻ Waarom moet Christene ’n rein hart en God se heilige gees hê?

◻ Wat kan ’n berouvolle persoon oortreders van Jehovah se wet leer?

◻ Hoe beskou Jehovah ’n gebroke en verslae hart?

◻ Watter lesse word in Psalm 51 gevind?

[Prent op bladsy 15]

Bid jy om heilige gees en waak jy daarteen om dit te bedroef?

[Prent op bladsy 17]

Toon waardering vir Jehovah se genade deur sy waarheid bekend te maak

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel