Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w93 12/15 bl. 16-21
  • Kweek godvrugtige vrees aan

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kweek godvrugtige vrees aan
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Eer Jehovah
  • Liefdevolle teregwysing
  • Die grootste geluk
  • Kweek ware wysheid aan
  • Liefde vir goeie werke
  • Haat die kwaad!
  • Bou ’n intieme verhouding met Jehovah op
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Bybelboek nommer 20—Spreuke
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Verkry wysheid en aanvaar dissipline
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • “Jehovah self gee wysheid”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
w93 12/15 bl. 16-21

Kweek godvrugtige vrees aan

“Vrees die HERE, en wyk af van die kwaad.”—SPREUKE 3:7.

1. Vir wie is Spreuke geskryf?

DIE Bybelboek Spreuke bevat ’n skat van geestelike raad. Jehovah het hierdie handleiding aanvanklik voorsien om sy tipiese volk Israel te onderrig. Vandag verskaf dit wyse woorde aan sy heilige Christenvolk, “op wie die eindes van die eeue gekom het”.—1 Korinthiërs 10:11; Spreuke 1:1-5; 1 Petrus 2:9.

2. Waarom is die waarskuwing in Spreuke 3:7 vandag baie gepas?

2 In Spreuke 3:7 lees ons: “Wees nie wys in jou eie oë nie; vrees die HERE, en wyk af van die kwaad.” Van ons eerste ouers se tyd af, toe die Slang Eva verlei het met die belofte dat hulle ‘goed en kwaad sou ken’, kon blote menslike wysheid nog nooit in die mensdom se behoeftes voorsien nie (Genesis 3:4, 5; 1 Korinthiërs 3:19, 20). Dit was nog nooit in die geskiedenis duideliker as in hierdie 20ste eeu nie—hierdie “laaste dae” waarin die mensdom, wat die vrugte van ateïstiese, evolusionistiese denke pluk, deur rassisme, geweld en elke soort onsedelikheid geteister word (2 Timotheüs 3:1-5, 13; 2 Petrus 3:3, 4). Dit is ’n ‘nuwe wêreld-wanorde’ wat nóg deur die VN, nóg deur die verdeelde godsdienste van die wêreld reggestel kan word.

3. Watter gebeure is vir ons dag voorspel?

3 God se profetiese Woord deel ons mee dat demoonmagte uitgegaan het na “die konings van die aarde en die hele wêreld, om hulle te versamel vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God . . . op die plek wat in Hebreeus genoem word Armageddon” (Openbaring 16:14, 16). Jehovah gaan daardie konings, of heersers, binnekort met skrik vervul. Dit sal wees soos die skrik wat op die Kanaäniete geval het toe Josua en die Israeliete gekom het om die oordeel aan hulle te voltrek (Josua 2:9-11). Maar vandag is dit die een wat deur Josua afgebeeld is, Christus Jesus—die “Koning van die konings en die Here van die here”—wat ‘die grimmigheid en die toorn van God, die Almagtige’, oor die nasies sal uitstort deur ‘hulle te slaan en hulle met ’n ysterstaf te regeer’.—Openbaring 19:15, 16.

4, 5. Wie sal gered word, en waarom?

4 Wie sal dan gered word? Die mense wat gered sal word, sal nie diegene wees wat met skrik vervul is nie, maar almal wat ’n eerbiedige vrees vir Jehovah aangekweek het. Hulle is nie wys in hulle eie oë nie, maar “wyk af van die kwaad”. Hulle voed nederig hulle verstand met goeie dinge, sodat die kwaad uit hulle denke verdryf word. Hulle koester ’n heilsame eerbied vir die Soewereine Heer Jehovah, die “Regter van die ganse aarde”, wat binnekort almal gaan vernietig wat die kwaad aankleef, net soos hy die verdorwe Sodomiete uitgewis het (Genesis 18:25). Ja, vir God se eie volk ‘is die vrees van die HERE ’n fontein van die lewe, om van die strikke van die dood af te wyk’.—Spreuke 14:27.

5 In hierdie dag van Goddelike oordeel sal almal wat hulle ten volle aan Jehovah toewy en die vrees koester dat hulle hom ooit sal mishaag die waarheid van die beeldspraak in Spreuke 3:8 besef: “[Die vrees van die HERE] sal genesing wees vir jou liggaam en verkwikking vir jou gebeente.”

Eer Jehovah

6. Wat moet ons aanspoor om op Spreuke 3:9 ag te slaan?

6 Ons vrees vir Jehovah wat uit waardering voortspruit, tesame met ons vurige liefde vir hom, moet ons aanspoor om op Spreuke 3:9 ag te slaan: “Eer Jehovah met jou waardevolle dinge en met die eerstelinge van jou hele opbrengs” (NW). Ons word nie gedwing om Jehovah met ons offers te eer nie. Ons moet dit vrywillig doen, soos daar ongeveer 12 keer van Exodus 35:29 tot Deuteronomium 23:23 met betrekking tot die offerandes in eertydse Israel getoon word. Hierdie eerstelinge wat ons aan Jehovah bring, moet die allerbeste gawes wees wat ons kan gee, ter erkenning van die goedheid en liefderyke goedhartigheid wat ons van hom af ontvang (Psalm 23:6, NW). Dit moet ons besluit weerspieël om voortdurend “eers die koninkryk van God en sy geregtigheid” te soek (Mattheüs 6:33). En wat is die resultate as ons Jehovah met ons waardevolle dinge eer? “Dan sal jou skure vol word van oorvloed en jou parskuipe oorloop van mos.”—Spreuke 3:10.

7. Watter eerstelinge moet ons aan Jehovah offer, en waartoe sal dit lei?

7 Jehovah seën ons hoofsaaklik op ’n geestelike manier (Maleagi 3:10). Daarom moet die eerstelinge wat ons aan hom offer hoofsaaklik van ’n geestelike aard wees. Ons moet ons tyd, energie en lewenskrag gebruik om sy wil te doen. Dit weer sal ons krag gee, net soos dit vir Jesus versterkende “voedsel” geword het (Johannes 4:34). Ons geestelike skure sal vol word, en ons sal oorloop van vreugde, wat deur mos, oftewel nuwe wyn, voorgestel word. Daarbenewens kan ons, terwyl ons met vertroue om genoeg materiële voedsel vir elke dag bid, gereeld milddadig uit ons middele bydra om die wêreldwye Koninkrykswerk te ondersteun (Mattheüs 6:11). Alles wat ons besit, met inbegrip van ons materiële middele, het ons van ons liefdevolle hemelse Vader af ontvang. Hy sal verdere seëninge op ons uitstort, in die mate waarin ons hierdie waardevolle dinge tot sy lof gebruik.—Spreuke 11:4; 1 Korinthiërs 4:7.

Liefdevolle teregwysing

8, 9. Hoe moet ons teregwysing en tug beskou?

8 Spreuke hoofstuk 3 praat in verse 11 en 12 weer van die gelukkige vader-seun-verhouding wat in godvrugtige gesinne, sowel as tussen Jehovah en sy geliefde geestelike kinders op aarde, bestaan. Ons lees: “My seun, verag die tug van die HERE nie, en laat sy kastyding [“teregwysing”, NW] nie jou weersin wek nie, want die HERE tugtig hom wat Hy liefhet, ja, soos ’n vader die seun in wie hy behae het.” Mense van die wêreld haat dit om tereggewys te word. Jehovah se volk moet dit verwelkom. Die apostel Paulus het hierdie woorde uit Spreuke aangehaal en gesê: “My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; want die Here tugtig hom wat Hy liefhet . . . Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie ’n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter ’n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is.”—Hebreërs 12:5, 6, 11.

9 Ja, teregwysing en tug is ’n noodsaaklike deel van ons elkeen se opleiding, hetsy ons dit van ons ouers ontvang, deur die Christengemeente of wanneer ons tydens ons persoonlike studie oor die Skrif peins. Om op tugtiging ag te slaan, is ’n saak van lewe en dood, soos Spreuke 4:1, 13 ook sê: “Hoor, julle seuns, na die tug van die vader, en luister om insig te leer ken; hou vas aan die tug, laat dit nie los nie; bewaar dit, want dit is jou lewe.”

Die grootste geluk

10, 11. Wat is party aspekte van die welgevallige woorde in Spreuke 3:13-18?

10 Watter pragtige woorde volg nou, ja, ‘welgevallige en regte woorde van waarheid’! (Prediker 12:10). Hierdie geïnspireerde woorde van Salomo beskryf ware geluk. Dit is woorde wat ons op ons hart moet graveer. Ons lees:

11 “Gelukkig die mens wat wysheid gevind het, en die mens wat verstand [“onderskeidingsvermoë”, NW] verkry; want die verkryging daarvan is beter as dié van silwer, en die verwerwing daarvan beter as van goud; dit is kosteliker as korale, en al jou kleinode kan daar nie mee vergelyk word nie. In sy regterhand is lengte van dae, in sy linkerhand rykdom en eer; sy weë is lieflike weë, en al sy paaie is vrede. Dit is ’n lewensboom vir die wat dit aangryp, en elkeen wat dit vashou, is gelukkig.”—Spreuke 3:13-18.

12. Hoe moet wysheid en onderskeidingsvermoë ons tot nut strek?

12 Wysheid—hoe dikwels word dit nie in die boek Spreuke gemeld nie—altesaam 46 keer! “Die vrees van Jehovah is die begin van wysheid.” Hierdie wysheid is die goddelike, praktiese wysheid wat op kennis van God se Woord gegrond is en wat sy volk in staat stel om in veiligheid te wandel te midde van die gevaarlike, onstuimige toestande wat in Satan se wêreld woed (Spreuke 9:10, NW). Onderskeidingsvermoë, wat 19 keer in Spreuke gemeld word, gaan hand aan hand met wysheid en help ons om Satan se liste te weerstaan. Wanneer die groot Teenstander sy listige planne uitvoer, maak hy van eeue se ondervinding gebruik. Maar ons het iets wat ’n baie beter leermeester as ondervinding is—goddelike onderskeidingsvermoë, die vermoë om tussen reg en verkeerd te onderskei en die regte weg te kies. Dit is wat Jehovah ons deur sy Woord leer.—Spreuke 2:10-13, vgl. NW; Efesiërs 6:11.

13. Wat kan ons gedurende moeilike ekonomiese tye beskerm, en hoe?

13 Die ekonomiese chaos in vandag se wêreld is ’n voorspel tot die vervulling van die profesie in Esegiël 7:19: “Hul silwer sal hulle op die strate gooi, en hulle goud sal ’n voorwerp van afsku wees; hul silwer en hul goud sal hulle nie kan red in die dag van die grimmigheid van die HERE nie.” Al die materiële rykdom op aarde kan nie met die reddende krag van wysheid en onderskeidingsvermoë vergelyk word nie. Wyse koning Salomo het by ’n ander geleentheid gesê: “Wysheid is ’n beskutting, geld is ’n beskutting; maar die voordeel van kennis is: die wysheid hou die besitter daarvan in die lewe” (Prediker 7:12). Ja, gelukkig is almal wat vandag in Jehovah se lieflike weë wandel en wat wyslik die “lengte van dae” kies, die ewige lewe wat God se gawe aan almal is wat geloof in Jesus se losprysoffer beoefen!—Spreuke 3:16; Johannes 3:16; 17:3.

Kweek ware wysheid aan

14. Op watter maniere het Jehovah voortreflike wysheid aan die dag gelê?

14 Dit is gepas dat ons as mense, wat na die beeld van God geskep is, daarna streef om wysheid en onderskeidingsvermoë aan te kweek, eienskappe wat Jehovah self aan die dag gelê het toe hy sy wonderlike skeppingswerke tot stand gebring het. “Die HERE het deur wysheid die aarde gegrond, deur verstand [“onderskeidingsvermoë”, NW] die hemele vasgestel” (Spreuke 3:19, 20). Daarna het hy lewende skepsele gemaak—nie deur die een of ander raaiselagtige, onverklaarbare evolusieproses nie, maar deur direkte skeppingsdade—almal “volgens hulle soorte” en met ’n wyse doel (Genesis 1:25). Toe die mens uiteindelik met veel hoër intelligensie en groter vermoëns as die diere geskep is, het die gejuig van die engeleseuns van God sekerlik luid deur die hemele weergalm. (Vergelyk Job 38:1, 4, 7.) Jehovah se oordeelkundige versiendheid, sy wysheid en sy liefde kan duidelik gesien word in alles wat hy op die aarde geskep het.—Psalm 104:24.

15. (a) Waarom is dit nie genoeg om wysheid net aan te kweek nie? (b) Watter vertroue moet Spreuke 3:25, 26 by ons inboesem?

15 Ons moet Jehovah se eienskappe van wysheid en onderskeidingsvermoë nie net aankweek nie, maar hulle ook aankleef deur nooit ons studie van sy Woord te verwaarloos nie. Hy vermaan ons: “My seun, laat dit nie uit jou oë wyk nie, bewaar beleid en oorleg [“praktiese wysheid en denkvermoë”, NW], dan sal dit die lewe wees vir jou siel en ’n versiersel vir jou hals” (Spreuke 3:21, 22). Dan kan ons in veiligheid en met gemoedsrus wandel, selfs gedurende hierdie tyd waarin die dag van “skielike verderf” soos ’n dief nader kom en binnekort oor Satan se wêreld gaan losbars (1 Thessalonicense 5:2, 3). Tydens die groot verdrukking self ‘sal jy nie bang hoef te wees vir ’n skielike skrik of vir die ondergang van die goddelose as dit kom nie; want die HERE sal jou vertroue wees, en Hy sal jou voet bewaar vir die strik’.—Spreuke 3:23-26.

Liefde vir goeie werke

16. Watter optrede word benewens ywer in die bediening van Christene vereis?

16 Dit is nou die tyd om ywer aan die dag te lê in die verkondiging van hierdie goeie nuus van die Koninkryk tot ’n getuienis vir al die nasies. Maar hierdie getuieniswerk moet met ander Christelike werke gepaardgaan, soos in Spreuke 3:27, 28 beskryf word: “Hou ’n weldaad nie terug van hom aan wie dit toekom as dit in jou mag is om dit te doen nie. Sê nie vir jou naaste nie: Gaan en kom terug, dan sal ek môre gee—terwyl jy dit het.” (Vergelyk Jakobus 2:14-17.) Omdat ’n groot deel van die wêreld in die greep van armoede en hongersnood vasgevang is, is daar al dringende beroepe op ons gedoen om ons medemens, veral ons geestelike broers, te help. Hoe het Jehovah se Getuies daarop gereageer?

17-19. (a) In watter dringende behoefte is daar gedurende 1993 voorsien, en wat was die reaksie daarop? (b) Wat toon dat ons broers wat in moeilike omstandighede verkeer “meer as oorwinnaars” is?

17 Hier is ’n voorbeeld: Gedurende die afgelope jaar is ’n dringende oproep om hulp uit die voormalige Joego-Slawië ontvang. Die broers in die buurlande het wonderlik gereageer. Gedurende hulle koue wintermaande verlede jaar kon talle konvooie met noodlenigingsvoorrade in die oorlogsgebied ingaan en nuwe publikasies, warm klere, voedsel en medisyne na hulpbehoewende Getuies neem. By een geleentheid het die broers aansoek gedoen om 15 ton noodlenigingsvoorrade in te neem, maar toe hulle die permit ontvang het, was dit vir 30 ton! Jehovah se Getuies in Oostenryk het gou nog drie vragmotors gestuur. Altesaam 25 ton het die voorgenome bestemming bereik. Hoe verheug was ons broers tog oor hierdie oorvloedige geestelike en materiële voorsienings!

18 Hoe het daardie broers gereageer? Vroeër vanjaar het ’n ouere man geskryf: “Dit gaan goed met die broers en susters in Sarajevo, en die belangrikste is dat ons nog geestelik sterk is om hierdie sinnelose oorlog te kan verduur. Die voedselsituasie was ’n groot probleem. Mag Jehovah julle seën en beloon vir wat julle vir ons gedoen het. Die owerhede het groot respek vir Jehovah se Getuies vanweë hulle voorbeeldige lewenswyse en vanweë hulle respek vir die owerhede. Ons is ook dankbaar vir die geestelike voedsel wat julle aan ons gestuur het.”—Vergelyk Psalm 145:18.

19 Hierdie broers wat in sulke gevaarlike omstandighede verkeer, toon ook hulle waardering deur hulle ywerige deelname aan die veldbediening. Baie van hulle bure kom vra hulle om ’n tuisbybelstudie. In die stad Toesla, waar vyf ton voedselvoorrade afgelewer is, het 40 verkondigers vir die maand ’n gemiddelde van 25 uur elk in die velddiens gerapporteer, wat goeie ondersteuning vir die nege pioniers in die gemeente was. Hulle het ’n merkwaardige bywoningsyfer van 243 tydens die herdenking van Jesus se dood gehad. Hierdie dierbare broers is inderdaad “meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het”.—Romeine 8:37.

20. Watter “gelykmaking” is in die voormalige Sowjetunie teweeggebring?

20 Die milddadigheid wat weerspieël is in die groot konvooie noodlenigingsvoorrade en warm klere wat na die Sowjetunie gestuur is, is geëwenaar deur die ywer van die broers in daardie gebiede. In Moskou is die Gedenkmaal byvoorbeeld vanjaar deur 7 549 bygewoon, vergeleke met 3 500 verlede jaar. Gedurende dieselfde tydperk het die gemeentes in daardie stad van 12 tot 16 toegeneem. In die hele voormalige Sowjetunie (die Baltiese State uitgesluit) het die gemeentes met 14 persent, die Koninkryksverkondigers met 25 persent en die pioniers met 74 persent toegeneem. Wat ’n ywerige en selfopofferende gesindheid is dit tog! Dit herinner ’n mens aan die eerste eeu toe daar “’n gelykmaking” teweeggebring is. Die Christene wat geestelike en materiële middele gehad het, het milddadige gawes aan dié gestuur op plekke waar daar ’n behoefte was, terwyl die ywer van die geteisterdes vreugde en bemoediging aan die gewers verskaf het.—2 Korinthiërs 8:14, NW.

Haat die kwaad!

21. Hoe word die wyse en die dwase in die slotwoorde van Spreuke hoofstuk 3 met mekaar vergelyk?

21 Die derde hoofstuk van Spreuke gee vervolgens ’n reeks vergelykings en sluit af met hierdie vermaning: “Wees nie afgunstig op ’n man van geweld en verkies geeneen van sy weë nie. Want die verkeerde is vir die HERE ’n gruwel, maar sy verborgenheid is met die opregtes. Die vloek van die HERE is in die huis van die goddelose, maar Hy seën die woning van die regverdiges. As dit spotters betref, spot Hy, maar aan die ootmoediges gee Hy genade. Die wyse sal eer beërwe, maar die dwase behaal skande.”—Spreuke 3:29-35.

22. (a) Hoe kan ons voorkom dat ons onder die dwases gereken word? (b) Wat haat die wyses, en wat kweek hulle aan, met watter beloning?

22 Hoe kan ons voorkom dat ons onder die dwases gereken word? Ons moet leer om die kwaad te haat, ja, die dinge te verafsku wat Jehovah verafsku—al die bedrieglike weë van hierdie gewelddadige, bloedskuldige wêreld. (Sien ook Spreuke 6:16-19.) Ons moet eerder die goeie aankweek—regskapenheid, regverdigheid en sagmoedigheid—sodat ons in nederigheid en in die vrees van Jehovah “rykdom en eer en die lewe” kan ontvang (Spreuke 22:4). Dit sal die beloning wees vir dié van ons wat getrou die vermaning toepas: “Vertrou op Jehovah met jou hele hart.”

Wat is jou antwoord?

◻ Hoe geld die temateks van hierdie studie in ons dag?

◻ Hoe kan ons Jehovah eer?

◻ Waarom moet ons teregwysing nie verag nie?

◻ Waar kan ons die grootste geluk vind?

◻ Hoe kan ons die goeie liefhê en die kwaad haat?

[Prent op bladsy 18]

Diegene wat hulle beste aan Jehovah offer, sal ryklik geseën word

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel