Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w93 12/15 bl. 11-16
  • Vertrou op Jehovah!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vertrou op Jehovah!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vaderlike onderrig
  • ’n Blywende vertroue
  • Steun op Jehovah
  • “In al jou weë . . .”
  • Spreuke 3:5, 6 – “Steun nie op jou eie insig nie”
    Verduidelikings van Bybelverse
  • Bou ’n intieme verhouding met Jehovah op
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Versterk jou vertroue in Jehovah
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Vertroue is noodsaaklik vir ’n gelukkige lewe
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
w93 12/15 bl. 11-16

Vertrou op Jehovah!

“Vertrou op Jehovah met jou hele hart.”—SPREUKE 3:5, NW.

1. Watter indruk het Spreuke 3:5 op ’n jong man gemaak, en met watter blywende resultate?

IEMAND wat baie jare lank sendingwerk gedoen het, skryf: “‘VERTROU OP DIE HERE MET JOU HELE HART, EN STEUN NIE OP JOU EIE INSIG NIE.’ Daardie woorde uit die Bybel, wat in ’n raam teen ’n muur gehang het in ’n huis waar ek besoek afgelê het, het my aandag getrek. Ek het die res van die dag daaroor nagedink. Ek het my afgevra: Kan ek met my hele hart op God vertrou?” Hierdie persoon was toe 21. Hy is nou 90, dien steeds getrou as ’n ouere man in Perth, Australië, en kan terugkyk op ’n lewe wat verryk is deur die goeie vrugte van heelhartige vertroue op Jehovah, onder andere 26 moeilike jare as sendeling in Ceylon (nou Sri Lanka), Birma (nou Myanma), Maleia, Thailand, Indië en Pakistan, wat destyds nuwe sendingvelde was.a

2. Watter vertroue behoort Spreuke 3:5 by ons in te boesem?

2 “Vertrou op Jehovah met jou hele hart”—hierdie woorde in Spreuke 3:5, soos dit in die New World Translation weergegee word, moet ons almal beweeg om voort te gaan om ons lewe heelhartig aan Jehovah te wy, vol vertroue dat hy ons geloof kan versterk sodat ons selfs reusagtige struikelblokke sal kan oorkom (Mattheüs 17:20). Kom ons beskou Spreuke 3:5 nou in sy konteks.

Vaderlike onderrig

3. (a) Watter aanmoediging kry ons in die eerste nege hoofstukke van Spreuke? (b) Waarom moet ons noukeurig op Spreuke 3:1, 2 ag slaan?

3 Die eerste nege hoofstukke van die Bybelboek Spreuke is vol vaderlike onderrig, wyse raad van Jehovah aan almal wat daarna uitsien om sy seuns in die hemel te wees of “die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God” op ’n paradysaarde te geniet (Romeine 8:18-21, 23). Dit is wyse raad wat ouers in die opvoeding van hulle seuns en dogters kan gebruik. Spreuke hoofstuk 3 bevat uitstekende raad en begin met die vermaning: “My seun, vergeet my onderwysing nie, en laat jou hart my gebooie bewaar.” Namate die laaste dae van Satan se wêreld hulle einde nader, moet ons al hoe meer op Jehovah se vermanings ag slaan. Dit het dalk soms al gevoel of die tyd nooit sal verbygaan nie, maar die belofte aan almal wat volhard, is dat ‘lengte van dae en jare van lewe en vrede vir hulle vermeerder sal word’—die ewige lewe in Jehovah se nuwe stelsel.—Spreuke 3:1, 2.

4, 5. (a) Watter gelukkige verhouding word in Johannes 5:19, 20 beskryf? (b) Hoe geld die raad in Deuteronomium 11:18-21 nog in ons dag?

4 ’n Gelukkige verhouding tussen ’n vader en seun kan baie kosbaar wees. Ons Skepper, Jehovah God, het dit so bepaal. Christus Jesus het aangaande sy eie hegte verhouding met Jehovah gesê: “Die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hý doen, dit doen die Seun ook net so. Want die Vader het die Seun lief en toon Hom alles wat Hy self doen” (Johannes 5:19, 20). Dit was Jehovah se doel dat so ’n hegte verhouding ook tussen hom en sy hele aardse gesin, sowel as tussen menslike vaders en hulle kinders, moes bestaan.

5 In eertydse Israel is ’n hegte gesinsverhouding aangemoedig. Jehovah het die vaders daar vermaan: “Lê dan hierdie woord van my weg in julle hart en in julle siel, en bind dit as ’n teken op julle hand en laat dit as ’n voorhoofsband tussen julle oë wees, en leer dit aan julle kinders deur daaroor te spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan; en skryf dit op die deurposte van jou huis en op jou poorte, sodat julle dae en die dae van julle kinders in die land wat die HERE aan julle vaders met ’n eed beloof het om aan hulle te gee, kan vermenigvuldig soos die dae van die hemel bo-oor die aarde” (Deuteronomium 11:18-21). Die geïnspireerde Woord van ons Grootse Onderrigter, Jehovah God, kan ouers en hulle kinders, sowel as al die ander in die Christengemeente wat hom dien, in ’n hegte verhouding met hom saambind.—Jesaja 30:20, 21, NW.

6. Hoe kan ons by God en by mense guns vind?

6 Wyse vaderlike raad vir God se volk, vir oud en jonk, word vervolgens in verse 3 en 4 van Spreuke hoofstuk 3 gegee: “Mag liefderyke goedhartigheid en waaragtigheid jou nie verlaat nie. Bind hulle om jou hals. Skryf hulle op die tafel van jou hart, en vind so guns en goeie insig in die oë van God en van die aardse mens” (NW). Jehovah God self stel die beste voorbeeld ten opsigte van die betoning van liefderyke goedhartigheid en waaragtigheid. Soos Psalm 25:10 sê: “Al die paaie van Jehovah is liefderyke goedhartigheid en waaragtigheid” (NW). In navolging van Jehovah moet ons hierdie eienskappe en hulle beskermende krag soos ’n kosbare halssnoer koester en hulle onuitwisbaar op ons hart graveer. Dan kan ons vurig bid: “O Jehovah, . . . laat u liefderyke goedhartigheid en u waaragtigheid my voortdurend beveilig.”—Psalm 40:11, NW.

’n Blywende vertroue

7. Op watter maniere het Jehovah getoon dat hy betroubaar is?

7 Webster’s Ninth New Collegiate Dictionary definieer vertroue as “vaste geloof in die karakter, vermoë, krag of waarheid van iemand of iets”. Jehovah se karakter is stewig in sy liefderyke goedhartigheid geanker. En ons kan volle vertroue hê in sy vermoë om te doen wat hy belowe het, want selfs sy naam, Jehovah, identifiseer hom as die groot Voornemer (Exodus 3:14, NW; Ex 6:2-8, NW). As die Skepper is hy die Fontein van krag en dinamiese energie (Jesaja 40:26, 29, NW). Hy is die verpersoonliking van waarheid, want ‘dit is onmoontlik dat God sou lieg’ (Hebreërs 6:18). Ons word dus aangemoedig om ons volle vertroue in Jehovah, ons God, die groot Bron van alle waarheid, te stel, wat die almagtige krag het om diegene te beskerm wat op hom vertrou en al sy grootse voornemens op ’n glorieryke wyse uit te voer.—Psalm 91:1, 2; Jesaja 55:8-11.

8, 9. Waarom is daar so ’n gebrek aan vertroue in die wêreld, en hoe is Jehovah se volk anders?

8 In die verdorwe wêreld om ons is daar ongelukkig ’n groot gebrek aan vertroue. Ons vind eerder dat hebsug en korrupsie aan die orde van die dag is. Die volgende boodskap het op die voorblad van die tydskrif World Press Review vir Mei 1993 gepryk: “DIE GOLF VAN KORRUPSIE—onwettige geld in die Nuwe Wêreldorde. Die grootskaalse korrupsie strek van Brasilië tot Duitsland, van die Verenigde State tot Argentinië, van Spanje tot Peru, van Italië tot Mexiko, van die Vatikaan tot Rusland.” Die mens se sogenaamde nuwe wêreldorde, wat op haat, hebsug en wantroue gegrond is, bring net groter ellende vir die mensdom mee.

9 In teenstelling met die politieke nasies is Jehovah se Getuies gelukkig omdat hulle ‘die nasie is wie se God Jehovah is’. Hulle is die enigste nasie wat werklik kan sê: “Op God vertrou ons.” Elkeen van hulle kan vreugdevol uitroep: “Deur God sal ek sy woord prys; . . . Ek vertrou op God, ek vrees nie.”—Psalm 33:12, NW; 56:5, 12.

10. Wat het talle jong Christene die krag gegee om hulle onkreukbaarheid te handhaaf?

10 In ’n Asiatiese land waar duisende jong Getuies al wreed geslaan en in die tronk gegooi is, het vertroue op Jehovah die meeste van hulle in staat gestel om te volhard. Een nag in die tronk het ’n jong Getuie wat wreed gemartel is, gevoel dat hy niks meer kon verduur nie. Maar ’n ander jong man het stilletjies in die donker na hom toe gesluip. Hy het gefluister: “Moenie jou geloof prysgee nie; ek het dit gedoen en het nog nooit weer gemoedsrus gehad nie.” Die eerste jong man het opnuut besluit om standvastig te bly. Ons kan die volle vertroue hê dat Jehovah ons sal help om al Satan se pogings om ons onkreukbaarheid te ondermyn die hoof te bied.—Jeremia 7:3-7; 17:1-8; 38:6-13, 15-17.

11. Hoe word ons beweeg om op Jehovah te vertrou?

11 Die eerste gebod sê ten dele: “Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart” (Markus 12:30). Wanneer ons oor God se Woord peins, sink die wonderlike waarhede wat ons leer diep in ons hart in en beweeg dit ons om ons geheel en al aan die diens van ons wonderlike God, die Soewereine Heer Jehovah, te wy. ’n Hart wat oorloop van waardering vir hom—vir alles wat hy ons leer, vir ons doen en nog vir ons gaan doen—beweeg ons om volkome op sy redding te vertrou.—Jesaja 12:2, NAV.

12. Hoe het baie Christene deur die jare heen hulle vertroue op Jehovah getoon?

12 Hierdie vertroue kan met verloop van jare opgebou word. ’n Nederige Getuie van Jehovah wat van April 1927 af meer as 50 jaar lank getrou by die Wagtoringgenootskap se hoofkwartier in Brooklyn gedien het, het geskryf: “Aan die einde van daardie maand het ek ’n koevert met ’n toelae van $5,00 [R16,00] daarin ontvang en ’n pragtige kaartjie waarop die Bybelteks Spreuke 3:5, 6 verskyn het . . . Ek het alle rede gehad om op Jehovah te vertrou, want by die hoofkwartier het ek spoedig begin besef dat Jehovah ’n ‘getroue en verstandige dienskneg’ het wat getrou al die Koninkryksbelange hier op die aarde behartig.—Mattheüs 24:45-47.”b Hierdie Christen het nie ’n liefde vir geld in sy hart gekoester nie, maar hy wou ‘’n onuitputlike skat in die hemel’ verkry. Die duisende wat vandag by die Wagtoringgenootskap se Bethelhuise rondom die wêreld dien, doen dit eweneens onder ’n soort wetlike gelofte van armoede. Hulle vertrou op Jehovah om in hulle daaglikse behoeftes te voorsien.—Lukas 12:29-31, 33, 34.

Steun op Jehovah

13, 14. (a) Waar alleenlik kan ons betroubare raad vind? (b) Wat moet ’n mens vermy as jy vervolging met welslae wil verduur?

13 Ons hemelse Vader vermaan ons: “Steun nie op jou eie begrip nie” (Spreuke 3:5, NW). Wêreldse raadgewers en sielkundiges sal nooit eers naastenby Jehovah se wysheid en begrip hê nie. “Sy begrip is onmeetlik” (Psalm 147:5, NW). Ons moenie op die wysheid van prominente mense van die wêreld of op ons eie onbetroubare emosies steun nie, maar ons moet ons eerder tot Jehovah, sy Woord en die ouere manne in die Christengemeente vir betroubare raad wend.—Psalm 55:23; 1 Korinthiërs 2:5.

14 Menslike wysheid of trots vanweë ons posisie sal vir ons niks beteken wanneer die vinnig naderende dag van groot beproewinge aanbreek nie (Jesaja 29:14; 1 Korinthiërs 2:14). Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het ’n bekwame maar trotse herder van God se volk in Japan op sy eie begrip gesteun. Onder druk het hy afvallig geraak, en die meeste van die kudde het ook weens die vervolging tou opgegooi. ’n Lojale Japannese suster, wat moedig die verskriklike behandeling in smerige tronkselle verduur het, het gesê: “Diegene wat getrou gebly het, het geen uitsonderlike vermoëns gehad nie en was doodgewone mense. Ons almal moet beslis altyd met ons hele hart op Jehovah vertrou.”c

15. Watter goddelike eienskap is noodsaaklik as ons Jehovah wil behaag?

15 Dit verg nederigheid om op Jehovah te vertrou in plaas van op ons eie begrip. Hoe belangrik is hierdie eienskap tog vir almal wat Jehovah wil behaag! Ja, selfs ons God toon nederigheid in sy handelinge met sy intelligente skepsele, al is hy die Soewereine Heer van die ganse heelal. Hoe dankbaar is ons tog daarvoor. “Hy daal daartoe af om na die hemel en aarde te kyk, en rig die geringe selfs uit die stof op” (Psalm 113:6, 7, NW). Deur sy groot genade vergewe hy ons al ons tekortkominge op grond van sy grootste gawe aan die mens, die kosbare losprysoffer van sy geliefde Seun, Christus Jesus. Hoe dankbaar moet ons tog vir hierdie onverdiende goedhartigheid wees!

16. Hoe kan broers verantwoordelikhede in die gemeente nastreef?

16 Jesus self herinner ons aan die volgende: “Wie homself verhoog, sal verneder word, en wie homself verneder, sal verhoog word” (Mattheüs 23:12). Gedoopte broers moet in nederigheid verantwoordelikhede in die Christengemeente nastreef. Maar opsieners moet hulle aanstelling nie as ’n statussimbool beskou nie, maar as die geleentheid om met nederigheid, waardering en ywer te werk, soos Jesus, wat gesê het: “My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.”—Johannes 5:17; 1 Petrus 5:2, 3.

17. Wat moet ons almal besef, en tot watter bedrywigheid sal dit lei?

17 Laat ons altyd nederig en biddend besef dat ons in Jehovah se oë maar net stof is. Hoe bly kan ons dus wees dat ‘die goedertierenheid [“liefderyke goedhartigheid”, NW] van die HERE van ewigheid tot ewigheid is oor die wat Hom vrees, en sy geregtigheid vir kindskinders’! (Psalm 103:14, 17). Ons moet derhalwe almal ywerige studente van God se Woord wees. Die tyd wat ons aan persoonlike en gesinstudie bestee en by gemeentelike vergaderinge deurbring, moet van ons kosbaarste ure elke week wees. Ons doen op dié manier “kennis van die Allerheiligste” op. Dit is wat ‘begrip is’.—Spreuke 9:10, NW.

“In al jou weë . . .”

18, 19. Hoe kan ons Spreuke 3:6 in ons lewe toepas, en wat sal die resultate wees?

18 Spreuke 3:6 vestig ons aandag op Jehovah, die Goddelike Bron van begrip, en sê vervolgens: “Slaan ag op hom in al jou weë, en hy self sal jou paaie reguit maak” (NW). Om op Jehovah ag te slaan, beteken om deur gebed na aan hom te bly. Ongeag waar ons ons bevind of watter situasie opduik, ons het onmiddellik toegang tot hom deur gebed. Of ons nou ons dagtake verrig, vir die velddiens voorberei of van huis tot huis gaan om sy Koninkryk te verkondig—ons kan gedurig bid dat hy ons werk sal seën. Dan kan ons die onskatbare voorreg en vreugde smaak om ‘met God te wandel’, met die vertroue dat hy ‘ons paaie reguit sal maak’ soos hy in die geval van godvresende Henog, Noag en getroue Israeliete soos Josua en Daniël gedoen het.—Genesis 5:22; 6:9; Deuteronomium 8:6; Josua 22:5; Daniël 6:24; sien ook Jakobus 4:8, 10.

19 Wanneer ons ons begeertes by Jehovah bekend laat word, kan ons die vertroue hê dat ‘die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, ons harte en ons sinne sal bewaar in Christus Jesus’ (Filippense 4:7). Hierdie vrede van God, wat deur ’n vreugdevolle gelaat weerspieël word, kan ons boodskap aantreklik maak vir huisbewoners wat ons tydens ons predikingswerk teëkom (Kolossense 4:5, 6). Dit kan ook diegene bemoedig wat dalk ly weens die druk of ongeregtigheid wat so algemeen in vandag se wêreld is, soos die volgende verhaal toon.d

20, 21. (a) Hoe het die onkreukbaarheid van Jehovah se Getuies ander gedurende die Nazi-skrikbewind bemoedig? (b) Watter besluit moet die stem van Jehovah ons beweeg om te neem?

20 Max Liebster, ’n Jood van geboorte wat die Slagting op feitlik wonderbaarlike wyse oorleef het, het sy tog na ’n Nazi-uitwissingskamp soos volg beskryf: “Ons is in treinwaens opgesluit wat in talle klein selletjies vir twee persone omskep is. Ek is in een van hulle ingegooi en die gevangene wat reeds in die sel was, het ’n kalm uitdrukking in sy oë gehad. Hy was daar omdat hy God se wet geëerbiedig het en verkies het om eerder tronk toe te gaan en moontlik doodgemaak te word as om die bloed van ander mense te vergiet. Hy was een van Jehovah se Getuies. Sy kinders is van hom weggeneem en sy vrou is tereggestel. Hy het verwag dat dieselfde met hom sou gebeur. Die 14 dae lange tog het ’n antwoord op my gebede verskaf, want ek het gedurende hierdie reis na die dood die hoop op die ewige lewe gevind.”

21 Nadat hy in die Auschwitz-“leeukuil” was, soos hy dit genoem het, en gedoop is, het hierdie broer met een van Jehovah se Getuies getrou wat self in die tronk was en wie se vader in die konsentrasiekamp by Dachau lyding verduur het. Terwyl haar vader daar was, het hy gehoor dat sy vrou en jong dogter ook in hegtenis geneem is. Hy het sy reaksie soos volg beskryf: “Ek was diep bekommerd. Toe het ek eendag terwyl ek in ’n ry gestaan het om te stort ’n stem gehoor wat Spreuke 3:5, 6 aanhaal . . . Dit het soos ’n stem uit die hemel weergalm. Dit was presies wat ek nodig gehad het om my balans te herwin.” Eintlik was dit die stem van ’n ander gevangene wat hierdie teks aangehaal het, maar die insident beklemtoon watter kragtige uitwerking God se Woord op ons kan hê (Hebreërs 4:12). Mag Jehovah se stem vandag kragtig tot ons spreek deur die woorde van ons jaarteks vir 1994: “Vertrou op Jehovah met jou hele hart”!

[Voetnote]

a Sien die artikel “Ek het met my hele hart op Jehovah vertrou”, soos vertel deur Claude S. Goodman in The Watchtower van 15 Desember 1973, bladsye 760-5.

b Sien die artikel “Vasberade om Jehovah te loof”, soos vertel deur Harry Peterson in Die Wagtoring van 15 November 1968, bladsye 524-7.

c Sien die artikel “Jehovah verlaat nie sy knegte nie”, soos vertel deur Matsoeë Isjii in Die Wagtoring van 1 Mei 1988, bladsye 21-5.

d Sien ook die artikel “Bevryding! Hoe dankbaar was ons tog”, soos vertel deur Max Liebster in The Watchtower van 1 Oktober 1978, bladsye 20-4.

Ter opsomming

◻ Watter soort raad word in Spreuke gegee?

◻ Hoe strek vertroue op Jehovah ons tot voordeel?

◻ Wat beteken dit om op Jehovah te steun?

◻ Waarom moet ons in al ons weë op Jehovah ag slaan?

◻ Hoe maak Jehovah ons paaie reguit?

[Prente op bladsy 15]

Die vreugdevolle Koninkryksboodskap vind weerklank by regskapenes

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel