Hoofstuk 38
Wat sal ek met my lewe doen?
“Ek was eers nie bekommerd oor die toekoms nie. Maar hoe nader ek aan die einde van my skoolloopbaan gekom het, hoe meer het ek besef dat ek in die regte wêreld uitgaan, met regte werk. En regte rekeninge.”—Alex.
STEL jou voor jy beplan ’n reis wat jou ver van die huis af sal wegneem. Jy sal heel moontlik eers na ’n kaart kyk om te besluit wat die beste roete is. Dis ook so wanneer jy jou toekoms beplan. “Jy het baie opsies”, sê Michael, ’n jong man wat nou by een van die takkantore van Jehovah se Getuies dien. Hoe kies jy uit die hele verskeidenheid opsies? “Dit het alles te doen met doelwitte”, sê Michael.
Dink aan ’n doelwit as die plek waar jy wil uitkom. Jy sal heel moontlik nie daar uitkom as jy doelloos ronddwaal nie. Dis baie beter om as ’t ware ’n kaart te kry en jou roete te beplan. Sodoende volg jy die raad in Spreuke 4:26: “Maak die pad van jou voet gelyk.” Die Contemporary English Version vertaal hierdie frase soos volg: “Weet waarheen jy op pad is.”
In die jare wat voorlê, sal jy baie belangrike besluite neem oor aanbidding, werk, die huwelik, familie en ander noodsaaklike dinge. As jy eers weet waarheen jy op pad is, sal dit makliker wees om verstandige keuses te maak. Maar wanneer jy jou roete in die lewe beplan, is daar een faktor wat jy beslis nie moet ignoreer nie.
“Dink aan jou Skepper”
As jy werklik gelukkig wil wees, moet jy die woorde van die wyse koning Salomo ter harte neem: “Dink aan jou Skepper in jou jong dae” (Prediker 12:1, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling). Met ander woorde, jou keuses in die lewe moet gerig word deur jou begeerte om God gelukkig te maak.
Waarom is hierdie prioriteit belangrik? Die Bybel sê in Openbaring 4:11: “U is waardig, Jehovah, ja, ons God, om die heerlikheid en die eer en die krag te ontvang, want u het alles geskep, en weens u wil het hulle bestaan en is hulle geskep.” Alle lewende wesens in die hemel en op die aarde is aan die Skepper dank verskuldig. Is jy dankbaar dat hy vir jou “lewe en asem en alles” gegee het? (Handelinge 17:25). Beweeg jou waardering vir alles wat Jehovah God vir jou gegee het, jou nie om iets vir hom terug te gee nie?
Baie jongmense onder Jehovah se Getuies het aan hulle Skepper gedink deur die voltydse bediening te betree. Kyk na ’n paar van die opwindende diensgeleenthede wat vir jou beskikbaar is.
Pionierdiens. Gewone pioniers bestee heelwat tyd in die bediening. Deur opleiding en ondervinding verbeter hulle hulle vaardigheid as Bybelonderrigters.
Diens waar hulp nodig is. Party trek na ’n gebied waar daar min Koninkryksverkondigers is. Ander leer ’n nuwe taal en dien saam met ’n anderstalige gemeente in die omgewing, of hulle trek selfs na ’n ander land.a
Sendingdiens. Bekwame pioniers met goeie gesondheid en stamina word opgelei vir diens in die buiteland. Sendelinge lei ’n opwindende, bevredigende lewe.
Betheldiens. Lede van die Bethelgesin dien in takkantore van Jehovah se Getuies. In party lande sluit dit die produksie en versending van Bybellektuur in.
Internasionale diens. Internasionale dienaars reis na ander lande om te help met die bou van Koninkryksale, Byeenkomssale en takfasiliteite.
Bedieningsopleidingskool. Ongetroude ouer manne en bedieningsknegte wat aan die vereistes voldoen, word opgelei in organisatoriese sake en in die openbare spreekkuns. Party gegradueerdes kry ’n toewysing in ’n ander land.
Beplan jou roete
Die voltydse bediening is ’n edele doelwit, en dit bring tallose seëninge mee. Maar vooruitbeplanning is nodig. Vra jou byvoorbeeld af: ‘Watter vermoëns en vaardighede het ek wat ek kan gebruik om my te onderhou?’
Kelly se doelwit was om ’n pionier te word, en daarom het sy haar roete beplan wat werk betref. “Ek moes iets kies wat my sou help om my in my bediening te onderhou”, sê sy.
Kelly het op hoërskool vir ’n beroepsgerigte kursus ingeskryf. Dit het haar gehelp om haar primêre doelwit te bereik. “Ek wou in die voltydse bediening wees”, sê Kelly. “Alle ander dinge was minder belangrik.” Kelly is gelukkig met haar keuse. “Ek voel dit was die beste besluit wat ek kon geneem het”, sê sy.
Vra hulp
As jy in ’n onbekende gebied reis, sal jy heel moontlik iewers hulp moet vra. Jy kan dieselfde doen wanneer jy jou toekoms beplan. Vra ander vir raad. Spreuke 20:18 sê: “Deur raad word planne stewig bevestig.”
Jou ouers is een noodsaaklike bron. Maar jy kan ook die raad van ander ryp Christene vra wat godvrugtige wysheid in hulle lewe openbaar. “Kyk na volwassenes in jou gemeente, of in naburige gemeentes, wat ’n goeie voorbeeld stel”, sê Roberto, ’n lid van die Bethelgesin in sy twintigerjare.
Meer as enigiemand anders wil Jehovah God jou help om keuses in jou lewe te maak wat vir jou ware geluk sal bring. Vra hom dus om jou te help om ‘voort te gaan om te begryp wat sy wil is’ in verband met jou toekoms (Efesiërs 5:17). Volg in elke aspek van jou lewe die raad van Spreuke 3:5, 6: “Vertrou op Jehovah met jou hele hart en moenie op jou eie begrip steun nie. Slaan ag op hom in al jou weë, en hy sal jou paaie reguit maak.”
Vir meer inligting, kyk na die DVD “Young People Ask—What Will I Do With My Life?” Dit is in meer as 30 tale beskikbaar
[Voetnoot]
a Sien die venster op bladsy 164.
SLEUTELTEKSTE
“‘Stel my . . . op die proef’, het Jehovah van die leërs gesê, ‘of ek nie vir julle die sluise van die hemel sal oopmaak en op julle ’n seën sal uitstort totdat daar geen gebrek meer is nie.’”—Maleagi 3:10.
WENK
Praat met mense wat al jare lank in die voltydse bediening is. Vra hulle waarom hulle daardie loopbaan gekies het en watter seëninge hulle ontvang het.
HET JY GEWEET . . . ?
’n Elektriese stroom kan ’n toestel laat werk. So ook kan God se heilige gees jou beweeg om baie in sy diens te bereik.—Handelinge 1:8.
AKSIEPLAN!
Om my te help om meer vreugde in die bediening te kry, sal ek praat met ․․․․․
Wat ek graag vir my ouer(s) hieroor wil vra ․․․․․
WAT DINK JY?
● Watter vermoëns en vaardighede het jy?
● Hoe kan jy jou vermoëns gebruik om Jehovah te loof?
● Watter vorm van voltydse diens wat in hierdie hoofstuk genoem word, sal jy die meeste geniet?
[Lokteks op bladsy 313]
Ek het groot bewondering vir my ouers. Hulle volgehoue ywer in die bediening, die manier waarop hulle finansiële probleme hanteer het en die aanmoediging wat hulle my gegee het om aan die voltydse bediening deel te neem, het alles ’n goeie uitwerking op my gehad.’’—Jarrod
[Venster op bladsy 314]
Werkblad
My doelwitte
Merk watter doelwitte jy graag wil stel. Skryf in die ruimtes hieronder jou persoonlike doelwitte neer asook enige nuwes.
In die bediening
□ Vermeerder die tyd wat ek in die bediening deurbring tot ․․․․․ uur per maand
□ Versprei ․․․․․ stukke lektuur elke maand
□ Gebruik die Bybel wanneer ek oor my geloof praat
□ Doen ․․․․․ herbesoeke elke maand
□ Begin ’n Bybelstudie
Ander doelwitte: ․․․․․
Wanneer ek studeer
□ Lees ․․․․․ bladsye van die Bybel elke dag
□ Berei voor vir die weeklikse vergaderinge
□ Doen navorsing oor die volgende Bybelonderwerpe: ․․․․․
In die gemeente
□ Gee ten minste een antwoord gedurende elke vergadering
□ Gesels met ’n ouer persoon wat ek graag beter wil leer ken
□ Besoek ’n bejaarde of siek lid van die gemeente
Ander doelwitte: ․․․․․
Vandag se datum ․․․․․
Kyk oor ses maande weer hierna, en kyk hoe jy gevorder het om jou doelwitte te bereik. Pas hulle aan of skryf nuwes neer waar nodig.
[Prent op bladsy 312]
As ’n mens nie doelwitte het nie, sal jy jou energie mors en nêrens kom nie