Kom jy jou hele verpligting teenoor god na?
“Die ware God self sal elke soort werk in die gerig bring met betrekking tot alles wat verborge is, of dit goed of sleg is.”—PREDIKER 12:14, NW.
1. Wat voorsien Jehovah aan sy volk?
JEHOVAH ondersteun diegene wat voortdurend aan hom as hulle Grootse Skepper dink. Sy geïnspireerde Woord gee hulle die nodige kennis om hom ten volle te behaag. God se heilige gees lei hulle om sy wil te doen en “om vrug te dra in elke goeie werk” (Kolossense 1:9, 10). Daarbenewens voorsien Jehovah geestelike voedsel en teokratiese leiding deur “die getroue en verstandige slaaf” (Matteus 24:45-47). God se volk word dus op baie maniere deur hom geseën terwyl hulle Jehovah dien en die lewensbelangrike werk doen om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig.—Markus 13:10.
2. Watter vrae ontstaan moontlik met betrekking tot ons diens aan Jehovah?
2 Ware Christene is verheug om heilige diens aan Jehovah te verrig. Maar party raak moontlik mismoedig en dink dat hulle werk niks beteken nie. Byvoorbeeld, toegewyde Christene wonder dalk soms of hulle gewetensgetroue pogings werklik die moeite werd is. Wanneer hulle oor hulle gesinstudie en ander bedrywighede nadink, kom vrae soos die volgende dalk by ’n gesinshoof op: ‘Is Jehovah werklik tevrede met wat ons doen? Kom ons ons hele verpligting teenoor God na?’ Die Prediker se wyse woorde kan ons help om hierdie vrae te beantwoord.
Is alles tevergeefs?
3. Wat is die toppunt van vergeefsheid in ooreenstemming met Prediker 12:8?
3 Party dink moontlik dat die wyse man se woorde nie juis aanmoedigend vir enigiemand is nie—hetsy oud of jonk. “Alles tevergeefs, sê die Prediker, dit is alles tevergeefs” (Prediker 12:8). Dit is in werklikheid die toppunt van vergeefsheid om die Grootse Skepper gedurende ’n mens se jeug te ignoreer, oud te word sonder om hom te dien en net ’n hoë ouderdom te hê as bewys van ’n lang lewe. Vir so ’n persoon was alles tevergeefs, of nutteloos, al sterf hy met rykdom en roem in hierdie wêreld wat in die mag van die bose, Satan die Duiwel, lê.—1 Johannes 5:19.
4. Waarom kan daar gesê word dat nie alles tevergeefs is nie?
4 Alles is nie tevergeefs vir diegene wat ’n skat in die hemel weglê as Jehovah se getroue knegte nie (Matteus 6:19, 20). Hulle het volop om te doen in die lonende werk van die Here, en sulke arbeid is beslis nie tevergeefs nie (1 Korintiërs 15:58). Maar as ons toegewyde Christene is, is die vraag: Hou ons ons in hierdie laaste dae besig met ons godgegewe werk? (2 Timoteus 3:1). Of het ons ’n lewenstyl aangeneem wat nie veel anders is as dié van ons medemens oor die algemeen nie? Hulle behoort dalk aan verskillende godsdienste en is moontlik baie godsdienstig, hulle gaan gereeld na hulle plekke van aanbidding en probeer doen wat hulle vorm van aanbidding van hulle vereis. Hulle is natuurlik nie verkondigers van die Koninkryksboodskap nie. Hulle het nie juiste kennis dat dit “die tyd van die einde” is nie en hulle het geen gevoel van dringendheid oor die dae waarin ons lewe nie.—Daniël 12:4.
5. Wat moet ons doen as ons lewe om die alledaagse dinge van die lewe begin draai?
5 Jesus Christus het van ons kritieke tye gesê: “Net soos die dae van Noag was, só sal die teenwoordigheid van die Seun van die mens wees. Want soos hulle in daardie dae voor die vloed was—hulle het geëet en gedrink, manne het getrou en vroue is in die huwelik gegee, tot die dag dat Noag in die ark ingegaan het; en hulle het geen ag daarop geslaan totdat die vloed gekom en hulle almal weggesleur het nie—só sal die teenwoordigheid van die Seun van die mens wees” (Matteus 24:37-39). Dit is nie verkeerd om matig te eet en te drink nie, en die huwelik is ’n reëling wat deur God self ingestel is (Genesis 2:20-24). Maar as ons agterkom dat ons lewe om die alledaagse dinge van die lewe begin draai, moet ons dit ’n saak van gebed maak. Jehovah kan ons help om Koninkryksbelange eerste te stel, te doen wat reg is en ons verpligting teenoor hom na te kom.—Matteus 6:33; Romeine 12:12; 2 Korintiërs 13:7.
Toewyding en ons verpligting teenoor God
6. Wat is ’n belangrike manier waarop party gedoopte individue nie hulle verpligting teenoor God nakom nie?
6 Party gedoopte Christene moet ernstig bid omdat hulle nie die verpligtinge in die bediening nakom wat hulle aanvaar het toe hulle hulle aan God toegewy het nie. Die afgelope paar jaar word ver oor die 300 000 persone jaarliks gedoop, maar die aantal bedrywige Getuies van Jehovah vermeerder nie dienooreenkomstig nie. Party wat Koninkryksverkondigers geword het, het opgehou om die goeie nuus te verkondig. Maar ons weet dat individue selfs voor hulle gedoop word ’n betekenisvolle aandeel aan die Christelike bediening moet hê. Hulle is dus bekend met Jesus se opdrag aan sy volgelinge: “Gaan . . . en maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees, en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het” (Matteus 28:19, 20). Tensy hulle uitsonderlike beperkings weens hulle gesondheid of ander faktore buite hulle beheer het, kom gedoopte individue wat nie meer as bedrywige Getuies van God en Christus dien nie, nie hulle hele verpligting teenoor ons Grootse Skepper na nie.—Jesaja 43:10-12.
7. Waarom moet ons gereeld byeenkom vir aanbidding?
7 Eertydse Israel was ’n nasie wat aan God toegewy was, en onder die Wetsverbond het die volk verpligtinge teenoor Jehovah gehad. Alle mans moes byvoorbeeld drie jaarlikse feeste bywoon, en ’n man wat die Pasga doelbewus nie gevier het nie, is “uitgeroei” (Numeri 9:13; Levitikus 23:1-43; Deuteronomium 16:16). Om hulle verpligting teenoor God na te kom as sy toegewyde volk, moes die Israeliete vir aanbidding byeenkom (Deuteronomium 31:10-13). Die Wet het nêrens gesê: ‘Doen dit as jy tyd daarvoor kry’ nie. Vir diegene wat nou aan Jehovah toegewy is, neem die woorde van Paulus beslis groter betekenis aan: “Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en voortreflike werke aan te spoor en nie ons onderlinge vergadering nalaat soos party die gewoonte het nie, maar mekaar aanmoedig, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom” (Hebreërs 10:24, 25). Ja, om gereeld met medegelowiges te vergader, is deel van ’n toegewyde Christen se verpligting teenoor God.
Dink goed na oor jou besluite!
8. Waarom moet ’n jong, toegewyde persoon biddend nadink oor sy heilige diens?
8 Jy is moontlik ’n jong persoon wat aan Jehovah toegewy is. Jy sal ryk seëninge ontvang as jy Koninkryksbelange eerste in jou lewe stel (Spreuke 10:22). Met gebed en sorgvuldige beplanning kan jy moontlik ten minste jou jonger jare in die een of ander faset van die voltydse diens deurbring—’n goeie manier om te toon dat jy aan jou Grootse Skepper dink. Anders kan materiële belange die meeste van jou tyd en aandag in beslag begin neem. Soos mense oor die algemeen, sal jy moontlik jonk trou en skuld begin maak om materiële dinge te bekom. ’n Betalende loopbaan neem dalk ’n groot deel van jou tyd en energie in beslag. As jy kinders het, sal jy dekades lank gesinsverantwoordelikhede moet nakom (1 Timoteus 5:8). Jy het dalk nie van jou Grootse Skepper vergeet nie, maar dit is goed om te besef dat jou vroeë beplanning, of ’n gebrek daaraan, kan bepaal hoe jou volwasse lewe sal wees. In latere jare sal jy moontlik terugkyk en wens dat jy ten minste tydens jou jong lewe meer in heilige diens aan ons Grootse Skepper gedoen het. Waarom dink jy nie eerder nou al biddend na oor jou vooruitsigte nie, sodat jy bevrediging sal put uit jou heilige diens aan Jehovah gedurende jou jonger jare?
9. Watter moontlikheid bestaan daar vir iemand wat ouer geword het en voorheen groot verantwoordelikhede in die gemeente gedra het?
9 Dink nou aan ’n ander situasie—dié van ’n man wat voorheen as ’n herder van “die kudde van God” gedien het (1 Petrus 5:2, 3). Hy het om die een of ander rede uit vrye wil afstand gedoen van hierdie voorregte. Hy is weliswaar nou ouer, en dit is dalk moeiliker vir hom om in God se diens voort te gaan. Maar moet hy dalk weer na teokratiese voorregte streef? Dink net watter seën so ’n man vir ander kan wees as hy meer verantwoordelikhede in die gemeente kan dra! En aangesien niemand net met betrekking tot homself lewe nie, sal sy vriende en geliefdes ook verheug wees as hy sy diens kan uitbrei tot eer van God (Romeine 14:7, 8). Bowenal sal Jehovah nie vergeet wat enigiemand in sy diens doen nie (Hebreërs 6:10-12). Wat kan ons dus help om aan ons Grootse Skepper te dink?
Hulpmiddele om aan ons Grootse Skepper te dink
10. Waarom was die Prediker in ’n uitstekende posisie om riglyne te gee wat ons kan help om aan ons Grootse Skepper te dink?
10 Die Prediker was in ’n uitstekende posisie om riglyne te gee wat ons kan help om aan ons Grootse Skepper te dink. Jehovah het sy opregte gebede verhoor deur hom buitengewone wysheid te gee (1 Konings 3:6-12). Salomo het die hele omvang van menseaangeleenthede deeglik ondersoek. Hy was boonop deur God geïnspireer om sy bevindings neer te skryf sodat ander daarby baat kon vind. Hy het geskryf: “En behalwe dat die Prediker ’n wyse was, het hy die volk nog kennis geleer en het oorweeg en ondersoek; hy het baie spreuke opgestel. Die Prediker het gesoek om welgevallige woorde te vind en wat reg geskrywe is—woorde van waarheid.”—Prediker 12:9, 10.
11. Waarom moet ons Salomo se wyse raad aanvaar?
11 Die Griekse Septuagint het hierdie woorde so vertaal: “En daarbenewens, omdat die prediker wys was, omdat hy die mensdom wysheid geleer het; sodat die oor welgevallige dinge in gelykenisse mag vind, het die prediker ywerig gesoek na aangename woorde en wou hy korrekte woorde—woorde van waarheid—neerskryf” (The Septuagint Bible, deur Charles Thomson vertaal). Salomo het die harte van sy lesers probeer bereik met welgevallige woorde en waarlik interessante en nuttige onderwerpe. Aangesien sy woorde wat in die Skrif opgeteken staan deur heilige gees geïnspireer is, kan ons sy bevindings en wyse raad sonder enige voorbehoud aanvaar.—2 Timoteus 3:16, 17.
12. Hoe sal jy in jou eie woorde sê wat Salomo volgens Prediker 12:11, 12 gesê het?
12 Selfs sonder hedendaagse drukmetodes was daar in Salomo se dag ’n oorvloed boeke beskikbaar. Hoe moes hierdie lektuur beskou word? Hy het gesê: “Die woorde van die wyse manne is soos prikkels; en soos spykers, diep ingeslaan, is die versamelde spreuke; hulle is deur die enige Herder gegee. En buitendien, my seun, wees gewaarsku; aan baie boeke maak kom geen einde nie, en baie studie is vermoeiing van die vlees.”—Prediker 12:11, 12.
13. Hoe kan die woorde van diegene wat Goddelike wysheid besit soos prikkels wees, en wie is soos “spykers, diep ingeslaan”?
13 Die woorde van diegene wat Goddelike wysheid besit, is soos prikkels. Hoe so? Dit spoor die lesers of luisteraars aan om vooruitgang te maak in ooreenstemming met die wyse woorde wat hulle lees of hoor. Verder is diegene wat hulle met “versamelde spreuke”, of waarlik wyse en nuttige woorde, besig hou, soos “spykers, diep ingeslaan” of standvastig. Dit is dalk die geval omdat die goeie woorde van hierdie individue Jehovah se wysheid weerspieël, en dit kan derhalwe die lesers of luisteraars bestendig maak en ondersteun. Behoort jy nie, as jy ’n godvresende ouer is, alles in jou vermoë te doen om hierdie wysheid in die verstand en hart van jou kind in te skerp nie?—Deuteronomium 6:4-9.
14. (a) Watter soort boeke verdien nie “baie studie” nie? (b) Aan watter leesstof moet ons die meeste aandag gee, en waarom?
14 Maar waarom het Salomo die woorde hierbo omtrent boeke gesê? Wel, in vergelyking met Jehovah se Woord bevat die oneindige hoeveelheid boeke van hierdie wêreld bloot menslike redenasies. Baie van die gedagtes daarin weerspieël dié van Satan die Duiwel (2 Korintiërs 4:4). Daarom is “baie studie” van sulke sekulêre bronne van weinig blywende waarde. Trouens, ’n groot deel daarvan kan geestelik skadelik wees. Laat ons, soos Salomo, peins oor wat God se Woord oor die lewe sê. Dit sal ons geloof versterk en ons nader aan Jehovah laat kom. Te veel aandag aan ander boeke of bronne van inligting kan ons vermoei. Veral wanneer sulke geskrifte die produk van wêreldse redenasies is wat strydig met Goddelike wysheid is, is dit onheilsaam en kan dit geloof in God en sy voornemens ondermyn. Laat ons dus onthou dat die nuttigste geskrifte van Salomo se dag en ons s’n dié is wat die wysheid weerspieël van die “enige Herder”, Jehovah God. Hy het die 66 boeke van die Heilige Skrif voorsien, en ons behoort die meeste aandag hieraan te gee. Die Bybel en nuttige publikasies van die ‘getroue slaaf’ stel ons in staat om “die kennis van God” te vind.—Spreuke 2:1-6.
Ons hele verpligting teenoor God
15. (a) Hoe sal jy Salomo se woorde omtrent “die hele verpligting van die mens” opsom? (b) Wat moet ons doen as ons ons verpligting teenoor God wil nakom?
15 Die Prediker, Salomo, som sy hele ondersoek op deur te sê: “Die slot van die saak, nadat alles gehoor is, is: Vrees die ware God en onderhou sy gebooie. Want dit is die hele verpligting van die mens. Want die ware God self sal elke soort werk in die gerig bring met betrekking tot alles wat verborge is, of dit goed of sleg is” (Prediker 12:13, 14, NW). ’n Heilsame vrees of eerbiedige ontsag vir ons Grootse Skepper sal ons, en hopelik ook ons gesinne, beskerm sodat ons nie ’n onverskillige lewe sal lei wat eindelose probleme en verdriet vir ons en ons geliefdes kan meebring nie. Heilsame vrees vir God is rein en is die begin van wysheid en kennis (Psalm 19:10; Spreuke 1:7, NW). As ons insig het wat op God se geïnspireerde Woord gegrond is en die raad daarin op alle dinge toepas, sal ons ons “hele verpligting” teenoor God nakom. Nee, dit is nie ’n kwessie van ’n lys verpligtinge opstel nie. Wat eerder vereis word, is dat ons die Skrif ondersoek wanneer ons probleme in die lewe probeer oplos en dat ons dinge altyd op God se manier doen.
16. Wat sal Jehovah doen wat oordeel betref?
16 Ons moet besef dat ons Grootse Skepper alles raaksien (Spreuke 15:3). Hy “sal elke soort werk in die gerig bring”. Ja, die Allerhoogste sal alle dinge oordeel, met inbegrip van die dinge wat die menseoog nie kan sien nie. As ons van sulke faktore bewus is, kan dit as ’n dryfveer dien om God se gebooie te onderhou. Maar die grootste dryfveer moet liefde vir ons hemelse Vader wees, want die apostel Johannes het geskryf: “Dít is wat die liefde vir God beteken, dat ons sy gebooie onderhou; en tog is sy gebooie nie swaar nie” (1 Johannes 5:3). En aangesien God se gebooie saamgestel is vir ons ewige welsyn, is dit nie net reg nie maar ook waarlik wys om dit te onderhou. Dit is nie swaar vir liefhebbers van die Grootse Skepper nie. Hulle wil hulle verpligting teenoor hom nakom.
Kom jou hele verpligting na
17. Wat sal ons doen as ons werklik ons hele verpligting teenoor God wil nakom?
17 As ons wys is en werklik ons hele verpligting teenoor God wil nakom, sal ons, behalwe dat ons sy gebooie onderhou, ’n eerbiedige vrees hê om hom te mishaag. Trouens, “die vrees van Jehovah is die begin van wysheid”, en diegene wat sy gebooie onderhou, het “goeie insig” (Psalm 111:10, NW; Spreuke 1:7, NW). Laat ons dus wys optree en Jehovah in alle dinge gehoorsaam. Dit is veral nou lewensbelangrik, want die koning Jesus Christus is teenwoordig, en die dag waarop hy as God se aangestelde Regter oordeel sal voltrek, is naby.—Matteus 24:3; 25:31, 32.
18. Wat sal die uiteinde vir ons wees as ons ons hele verpligting teenoor Jehovah God nakom?
18 Ons word almal nou deur God ondersoek. Is ons geestelikgesind of het ons toegelaat dat wêreldse invloede ons verhouding met God ondermyn? (1 Korintiërs 2:10-16; 1 Johannes 2:15-17). Hetsy oud of jonk, laat ons alles in ons vermoë doen om ons Grootse Skepper te behaag. As ons Jehovah gehoorsaam en sy gebooie onderhou, sal ons die vergeefse dinge verwerp van die ou wêreld wat besig is om verby te gaan. Dan kan ons die hoop op die ewige lewe in God se beloofde nuwe stelsel van dinge koester (2 Petrus 3:13). Wat ’n wonderlike vooruitsig is dit tog vir almal wat hulle hele verpligting teenoor God nakom!
Hoe sal jy antwoord?
◻ Waarom sal jy sê dat nie alles tevergeefs is nie?
◻ Waarom moet ’n jong Christen biddend nadink oor sy heilige diens?
◻ Watter soort boeke verdien nie “baie studie” nie?
◻ Wat is “die hele verpligting van die mens”?
[Prent op bladsy 20]
Alles is nie tevergeefs vir diegene wat Jehovah dien nie
[Prent op bladsy 23]
Anders as baie boeke van hierdie wêreld is God se Woord verkwikkend en nuttig