Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w08 1/1 bl. 10-12
  • Bou jou gesin op met “welgevallige woorde”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Bou jou gesin op met “welgevallige woorde”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Dink aan wat jy gaan sê en hoe om dit te sê
  • Leer om jou gevoelens te beheer
  • Soek die regte woorde
  • “Uit die oorvloed van die hart”
  • Dink voordat jy praat!
  • Gebruik jou tong wyslik
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
  • Hoe kan jy stry teen negatiewe gevoelens?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Ons woorde moet opbouend wees
    Hoe om in God se liefde te bly
  • Waarom jou spraak saak maak
    Ontwaak!—2011
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
w08 1/1 bl. 10-12

Bou jou gesin op met “welgevallige woorde”

MET elke minuut wat verbygegaan het, het David se frustrasie toegeneem. Terwyl hy in die motor vir sy vrou gewag het, het hy sy horlosie dopgehou. Teen die tyd dat Diane, sy vrou, uiteindelik by die huis uitgekom het, was daar geen keer meer aan sy woede nie.

“Hoe kan jy my so laat wag?” het hy geskreeu. “Jy is altyd laat! Waarom kan jy nie net een keer in jou lewe betyds klaar wees nie?”

Diane was verpletter. Sy het in trane uitgebars en weer in die huis ingehardloop. David het onmiddellik sy fout besef. Sy uitbarsting het sake net vererger. Wat kon hy nou doen? Hy het die enjin afgeskakel, diep gesug en haar stadig binnetoe gevolg.

Dit is ’n realistiese scenario, nie waar nie? Het jy al ooit gewens dat jy jou woorde kon terugtrek? Wanneer ons praat sonder om te dink, sê ons dikwels dinge waaroor ons later spyt is. Die Bybel sê tereg: “Die hart van die regverdige dink na sodat hy kan antwoord.”—Spreuke 15:28.

Dit kan egter moeilik wees om helder te dink voordat ons praat, vernaamlik wanneer ons kwaad, bang of seergemaak voel. Veral wanneer ons vir gesinslede probeer sê hoe ons voel, kan ons maklik die ander persoon begin beskuldig of kritiseer. Dit kan weer tot seergemaakte gevoelens of ’n rusie lei.

Wat kan ons doen om beter resultate te behaal? Hoe kan ons voorkom dat ons emosies die oorhand oor ons kry? Ons kan nuttige raad vind by die Bybelskrywer Salomo.

Dink aan wat jy gaan sê en hoe om dit te sê

Terwyl Salomo, die skrywer van die Bybelboek Prediker, sy gedagteprikkelende uiteensetting oor die vergeefsheid van die lewe neergeskryf het, het hy klaarblyklik sterk gevoel oor sy onderwerp. “Ek het die lewe gehaat”, het hy gesê. Op een stadium het hy dit die “nietigheid van nietighede” genoem (Prediker 2:17; 12:8, voetnoot in NW). Tog is Prediker nie ’n lys van Salomo se frustrasies nie. Hy het nie gemeen dat dit gepas is om dinge sommer net prontuit te sê nie. In die slot van die boek toon Salomo dat hy “gesoek [het] om die welgevallige woorde te vind en korrekte woorde van waarheid neer te skryf” (Prediker 12:10). ’n Ander vertaling sê dat hy “hierdie dinge op die beste en juisste manier probeer verduidelik het”.—Contemporary English Version.

Salomo het blykbaar besef dat hy sy gevoelens in toom moet hou. Hy het hom as ’t ware bly afvra: ‘Is wat ek beplan om te sê, werklik waar of juis? Sal die woorde wat ek wil gebruik, vir ander welgevallig, aanvaarbaar wees?’ Deur “welgevallige woorde” van waarheid te soek, kon hy verhoed dat sy eie gevoelens sy denke vertroebel.

Die gevolg is nie net ’n letterkundige meesterstuk nie, maar ook ’n skat van goddelik geïnspireerde wysheid oor die doel van die lewe (2 Timoteus 3:16, 17). Kan die manier waarop Salomo ’n emosiebelaaide onderwerp benader het, ons help om beter met ons geliefdes te kommunikeer? Kyk na ’n voorbeeld.

Leer om jou gevoelens te beheer

Ter toeligting: ’n Seun kom met sy rapport van die skool af huis toe en lyk moedeloos. Sy pa kyk na die lys vakke en sien dat hy in een gedruip het. Die pa is onmiddellik woedend en dink terug aan al die kere dat die seun nie sy huiswerk wou doen nie. Die pa voel lus om te sê: “Jy is net lui! As jy so aanhou, sal jy nooit êrens in die lewe kom nie!”

Voordat die pa toelaat dat negatiewe gevoelens sy reaksie bepaal, sal dit verstandig wees as hy hom afvra: ‘Is wat ek dink, werklik waar of juis?’ Hierdie vraag kan hom help om sy gevoelens van die feite te skei (Spreuke 17:27). Sal die seun werklik ’n mislukking wees omdat hy met een vak sukkel? Is hy lui van geaardheid of skram hy maar net weg van sy huiswerk omdat hy sukkel om sekere aspekte van daardie vak te verstaan? Die Bybel beklemtoon herhaaldelik hoe nuttig dit is om ’n redelike, realistiese beskouing van sake te hê (Titus 3:2; Jakobus 3:17). Om ’n kind op te bou, moet ’n ouer “korrekte woorde van waarheid” gebruik.

Soek die regte woorde

Wanneer die pa besluit het wat hy gaan sê, kan hy hom afvra: ‘Hoe kan ek dit sê in woorde wat vir my seun welgevallig, aanvaarbaar sal wees?’ Dit is weliswaar nie maklik om die regte woorde te vind nie. Maar ouers moet onthou dat tieners dikwels geneig is tot ’n alles-of-niks-benadering. Hulle kan een mislukking of swakheid neem en die belangrikheid daarvan vergroot sodat dit begin bepaal hoe hulle hulleself sien. As ’n ouer oorreageer, kan hy negatiewe denke in sy kind vererger. Kolossense 3:21 sê: “Moenie julle kinders vertoorn nie, sodat hulle nie mismoedig word nie.”

Woorde soos “altyd” en “nooit” veralgemeen of oordryf gewoonlik die feite. Laat dit enige ruimte vir die kind om sy waardigheid te behou wanneer ’n ouer sê: “Jy sal nooit êrens in die lewe kom nie”? As sulke veroordelende woorde in baie situasies in die lewe gebruik word, kan ’n kind homself as ’n absolute mislukking begin beskou. Dit is natuurlik nie net ontmoedigend nie, maar ook onwaar.

Dit is gewoonlik baie beter om die positiewe aspekte van enige situasie te benadruk. Die pa in ons illustrasie kan dalk iets sê soos: “My kind, ek kan sien dat jy ontsteld is omdat jy in ’n vak gedruip het. Maar ek weet dat jy oor die algemeen hard werk op skool. Kom ons praat ’n bietjie oor hierdie vak en vind ’n manier waarop jy enige probleme hiermee kan oorkom.” Om vas te stel wat die beste manier is om sy seun te help, kan die pa ook ’n paar spesifieke vrae vra om te sien of daar enige onderliggende probleme is.

So ’n vriendelike en weldeurdagte benadering sal waarskynlik baie doeltreffender wees as ’n emosionele uitbarsting. “Aangename woorde”, verseker die Bybel ons, is “soet vir die siel en ’n genesing vir die gebeente” (Spreuke 16:24). Kinders—en eintlik alle gesinslede—floreer in ’n vreedsame, liefdevolle milieu.

“Uit die oorvloed van die hart”

Dink terug aan die man wat in die scenario aan die begin genoem is. Sou dit nie beter gewees het as hy die tyd geneem het om “welgevallige woorde” van waarheid te soek eerder as om teenoor sy vrou uiting te gee aan sy frustrasie nie? ’n Man wat hom in so ’n situasie bevind, kan hom gerus afvra: ‘Al moet my vrou daaraan werk om stipteliker te wees, is dit werklik waar dat sy altyd laat is? Is dit die beste tyd om die saak te opper? Sal woedende, kritiese woorde haar ooit aanspoor om te wil verander?’ As ons stilstaan om ons sulke vrae af te vra, kan dit ons help om nie ons geliefdes onbewustelik seer te maak nie.—Spreuke 29:11.

Maar gestel ons gesinsbesprekings loop alewig op ’n rusie uit? Dan moet ons dalk dieper kyk en die gevoelens agter ons woorde in oënskou neem. Wat ons sê, veral wanneer ons ontsteld is of onder druk verkeer, kan baie openbaar oor watter soort persoon ons werklik innerlik is. Jesus het gesê: “Uit die oorvloed van die hart spreek die mond” (Matteus 12:34). Met ander woorde, wat ons sê, weerspieël dikwels ons diepste gedagtes, begeertes en gesindhede.

Het ons ’n realistiese, optimistiese en hoopvolle uitkyk op die lewe? Dan sal die toon en inhoud van ons gesprekke dit waarskynlik weerspieël. Is ons geneig om onbuigsaam, pessimisties of veroordelend te wees? Indien wel, kan ons ander ontmoedig deur wat ons sê of deur hoe ons dit sê. Ons besef dalk nie hoe negatief ons denke of spraak geword het nie. Ons dink miskien selfs dat ons sienswyse reg is. Maar ons moet oppas dat ons onsself nie bedrieg nie.—Spreuke 14:12.

Gelukkig het ons God se Woord. Die Bybel kan ons help om ons denke te ondersoek en te bepaal watter daarvan reg is en watter ons moet verander (Hebreërs 4:12; Jakobus 1:25). Ongeag watter oorgeërfde neigings ons het of hoe ons grootgemaak is, ons almal kan besluit om ons denke en dade te verander as ons werklik wil.—Efesiërs 4:23, 24.

Benewens om die Bybel te gebruik, kan ons iets anders doen om te bepaal hoe ons kommunikeer. Vra ander. Vra byvoorbeeld jou huweliksmaat of kind om vir jou eerlik te sê hoe jy in hierdie opsig vaar. Praat met ’n volwasse vriend wat jou goed ken. Dit sal nederigheid verg om te aanvaar wat hulle sê en om die nodige veranderinge aan te bring.

Dink voordat jy praat!

Met ander woorde, as ons ander werklik nie met ons woorde wil seermaak nie, moet ons doen wat Spreuke 16:23 sê: “Intelligente [oftewel, wyse] mense dink voordat hulle praat; wat hulle sê, het dan meer oorredingskrag” (Today’s English Version). Dit is miskien nie altyd maklik om ons gevoelens te beheer nie. Maar as ons probeer om ander eerder te verstaan as om hulle te beskuldig of te verkleineer, sal dit makliker wees om die regte woorde in ’n situasie te gebruik.

Nie een van ons is natuurlik volmaak nie (Jakobus 3:2). Ons almal praat soms sonder om te dink (Spreuke 12:18). Maar met die hulp van God se Woord kan ons leer om te dink voordat ons praat en om die gevoelens en belange van ander bo ons eie te stel (Filippense 2:4). Laat ons vasbeslote wees om “welgevallige woorde” van waarheid te soek, veral wanneer ons met gesinslede praat. Dan sal ons spraak ons geliefdes nie seermaak of afbreek nie, maar hulle genees en opbou.—Romeine 14:19.

[Prent op bladsy 12]

Hoe kan jy voorkom dat jy iets sê waaroor jy later spyt sal wees?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel