Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • rs bl. 95-bl. 117
  • Drie-eenheid

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Drie-eenheid
  • Redenering uit die Skrif
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wanneer iemand sê—
  • Jesus Christus
    Redenering uit die Skrif
  • Wat van “bewysplase” van die Drie-eenheid?
    Moet jy aan die Drie-eenheid glo?
  • Juiste kennis van God en sy Seun lei tot die lewe
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Jesus Christus—God se geliefde Seun
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
Sien nog
Redenering uit die Skrif
rs bl. 95-bl. 117

Drie-eenheid

Definisie: Die sentrale leer van die kerke van die Christendom. Volgens die Athanasiaanse Geloofsbelydenis is daar drie goddelike Persone (die Vader, die Seun, die Heilige Gees), waarvan elkeen na bewering ewig en almagtig is, geeneen groter of minder as die ander is nie, elkeen na bewering God is, terwyl hulle saam tog net een God uitmaak. Ander uiteensettings van die dogma beklemtoon dat hierdie drie “Persone” nie aparte en onderskeie individue is nie, maar drie modusse waarin die goddelike wese bestaan. So beklemtoon sommige Trinitariërs hulle geloof dat Jesus Christus God is, of dat Jesus en die Heilige Gees Jehovah is. Nie ’n Bybelleerstelling nie.

Wat is die oorsprong van die Drie-eenheidsleer?

The New Encyclopædia Britannica sê: “Nòg die woord Drie-eenheid nòg die uitdruklike leerstelling kom in die Nuwe Testament voor, en Jesus en sy volgelinge het ook nie bedoel om die Sjema in die Ou Testament, ‘Hoor, Israel, die Here onse God is ’n enige Here’ te weerspreek nie (Deut. 6:4). . . . Die leerstelling het geleidelik oor etlike eeue heen en deur middel van talle geskille ontstaan . . . Teen die einde van die 4de eeu . . . het die leerstuk van die Drie-eenheid wesenlik die vorm aangeneem wat dit sedertdien behou het.”—(1976), Micropædia, Dl. X, bl. 126.

Die New Catholic Encyclopedia sê: “Die formulering ‘een God in drie Persone’ was nie voor die einde van die 4de eeu stewig gevestig nie en was beslis nie voor daardie tyd ten volle in die Christelike lewe en sy geloofsbelydenis opgeneem nie. Maar dit is juis hierdie formulering wat die eerste aanspraak op die titel die Drie-eenheidsleer het. Onder die Apostoliese Vaders was daar niks wat in die minste met so ’n mentaliteit of perspektief ooreengekom het nie.”—(1967), Dl. XIV, bl. 299.

In The Encyclopedia Americana lees ons: “Die Christelike godsdiens spruit uit Judaïsme, en Judaïsme is streng Unitaries [die geloof dat God een persoon is]. Die pad wat van Jerusalem na Nicea gelei het, was nouliks reguit. Die vierde-eeuse Drie-eenheidsleer het nie die vroeg-Christelike leer aangaande die aard van God juis weergegee nie; inteendeel, dit was ’n afwyking van hierdie leer.”—(1956), Dl. XXVII, bl. 294L.

Die Nouveau Dictionnaire Universel berig: “Plato se drie-eenheid, op sigself slegs ’n herskikking van ouer drie-eenhede wat uit die dae van vroeëre volke dateer, blyk die rasionele filosofiese drie-eenheid van hoedanighede te wees wat gelei het tot die drie hipostases of goddelike persone wat die Christenkerke leer. . . . Hierdie Griekse filosoof [Plato, vierde eeu G.J.] se opvatting van die goddelike drie-eenheid . . . kan in al die antieke [heidense] godsdienste gevind word.”—(Parys, 1865-1870), geredigeer deur M. Lachâtre, Dl. 2, bl. 1467.

In sy Dictionary of the Bible sê John L. McKenzie, S.J.: “Die drie-eenheid van persone binne die eenheid van natuur is gedefinieer in terme van ‘persoon’ en ‘natuur’, wat Griekse filosofiese terme is; die terme kom in werklikheid nie in die Bybel voor nie. Die trinitariese definisies het voortgespruit uit lang geskille waarin hierdie terme en ander soos ‘wese’ en ‘substansie’ verkeerdelik deur sommige teoloë op God toegepas is.”—(New York, 1965), bl. 899.

Kom die begrippe wat in daardie leerstelling vervat word in die Bybel voor, al erken Trinitariërs dan ook dat nòg die woord “Drie-eenheid” nòg ’n konstatering van die Drie-eenheidsleer daarin voorkom?

Leer die Bybel dat die “Heilige Gees” ’n persoon is?

Sommige tekste wat van die heilige gees praat, dui oënskynlik persoonlikheid aan. Die heilige gees word byvoorbeeld ’n trooster (Grieks, pa·raʹkle·tos) genoem wat “leer”, “getuig”, “spreek” en “hoor” (Joh. 14:16, 17, 26; 15:26; 16:13). Maar ander tekste sê dat mense met die heilige gees “vervul” is, dat sommige daarmee ‘gedoop’ of daarmee “gesalf” is (Luk. 1:41; Matt. 3:11; Hand. 10:38). Laasgenoemde verwysings na die heilige gees pas beslis nie ’n persoon nie. Om te verstaan wat die Bybel in sy geheel leer, moet al hierdie tekste in aanmerking geneem word. Wat is die redelike gevolgtrekking? Dat die eerste tekste wat hier gesiteer is, God se heilige gees, sy werkende krag, deur middel van beeldspraak verpersoonlik, net soos die Bybel ook wysheid, sonde, die dood, water en bloed verpersoonlik. (Kyk ook bladsye 144, 145, onder “Gees”.)

Die Heilige Skrif sê vir ons wat die persoonlike naam van die Vader is—Jehovah. Dit deel ons mee dat die Seun Jesus Christus is. Maar nêrens in die Skrif word ’n persoonlike naam vir die heilige gees gebruik nie.

Handelinge 7:55, 56 vertel dat Stefanus ’n gesig van die hemel gehad het waarin hy “Jesus . . . aan die regterhand van God” sien staan het. Maar hy sê nie dat hy die heilige gees gesien het nie. (Kyk ook Openbaring 7:10; 22:1, 3.)

Die New Catholic Encyclopedia erken: “Die meeste tekste in die N[uwe] T[estament] openbaar God se gees as iets, nie as iemand nie; dit word veral gesien in die parallelisme tussen die gees en die krag van God” (1967, Dl. XIII, bl. 575). Dit sê ook: “Die Apologete [Griekse Christenskrywers van die tweede eeu] het te gebrekkig van die Gees gepraat; met ’n mate van antisipasie, ’n mens kan sê te onpersoonlik.”—Dl. XIV, bl. 296.

Onderskryf die Bybel die leer dat die Vader en die Seun nie aparte en onderskeie individue is nie?

Matt. 26:39: “[Jesus Christus] het ’n bietjie verder gegaan en op sy aangesig geval en gebid en gesê: My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.” (As die Vader en die Seun nie onderskeie individue was nie, sou so ’n gebed sinloos wees. Jesus sou tot homself gebid het, en dit sou dan noodwendig die Vader se wil gewees het.)

Joh. 8:17, 18: “[Jesus het die Joodse Fariseërs geantwoord:] Dit is ook in julle wet geskrywe dat die getuienis van twee mense waar is. Dit is Ek wat van Myself getuig; en die Vader wat My gestuur het, getuig van My.” (Jesus het dus beslis van homself gepraat as ’n individu wat apart en onderskeie van die Vader is.)

Kyk ook bladsye 218, 219, onder “Jehovah”.

Leer die Bybel dat al die lede van die sogenaamde Drie-eenheid ewig is en dat geeneen ’n begin gehad het nie?

Kol. 1:15, 16: “Hy [Jesus Christus] is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping; want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is.” In watter sin is Jesus Christus “die Eersgeborene van die hele skepping”? (1) Trinitariërs sê dat “Eersgeborene” hier vernaamste, voortreflikste, uitnemendste beteken; Christus word dus nie beskou as ’n deel van die skepping nie, maar as die uitnemendste ten opsigte van diegene wat geskape is. As dit die geval is, en as die Drie-eenheidsleer waar is, waarom word die Vader en die heilige gees dan nie ook die Eersgeborene van die hele skepping genoem nie? Maar die Bybel pas die uitdrukking slegs op die Seun toe. Volgens die gebruiklike betekenis van “eersgeborene” dui dit aan dat Jesus die oudste in Jehovah se gesin seuns is. (2) Voor Kolossense 1:15 word die uitdrukking “die eersgeborene van” meer as 30 keer in die Bybel gebruik, en elke keer wat dit op lewende skepsele toegepas word, het dit dieselfde betekenis—die eersgeborene maak deel uit van die groep. “Die eersgeborene van Israel” is een van die kinders van Israel; “die eersgeborene van Farao” is een van Farao se gesin; “die eersgeborene van die diere” is self diere. Wat laat sommige dan ’n ander betekenis daaraan heg in Kolossense 1:15? Is dit die Bybel se gebruik van die woord of is dit ’n vooropgesette idee waarvoor hulle bewys soek? (3) Toon Kolossense 1:16, 17 dat Jesus nie geskape is nie wanneer dit sê: “In Hom is alle dinge geskape . . . alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape”? Die Griekse woord wat hier met “alle dinge” vertaal is, is panʹta, ’n verboë vorm van pas. In Lukas 13:2 gee NAV en KNT dit weer met “al die ander”; LB lui “die ander”. (Kyk ook Lukas 21:29 en Filippense 2:21 in NAV.) In harmonie met al die ander dinge wat die Bybel oor die Seun sê, heg NW dieselfde betekenis aan panʹta in Kolossense 1:16, 17, sodat dit ten dele lui: “Deur middel van hom is alle ander dinge geskape . . . Alle ander dinge is deur tussenkoms van hom en vir hom geskape.” Daar word dus getoon dat hy ’n geskape wese is, ’n deel van die skepping van God.

Openb. 1:1; 3:14: “Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het . . . Skryf aan die engel van die gemeente van die Laodicense: Dít sê die Amen, die getroue en waaragtige Getuie, die begin [Grieks, ar·kheʹ] van die skepping van God.” (KJ, Dy, CC en NW, asook ander, gee dit op soortgelyke wyse weer.) Is daardie weergawe korrek? Sommige huldig die beskouing dat dit hier bedoel dat die Seun ‘die beginner van God se skepping’ is, dat hy die ‘oorspronklike bron’ daarvan is. Maar Liddell en Scott se Greek-English Lexicon gee “begin” as die eerste betekenis van ar·kheʹ aan (Oxford, 1968, bl. 252). Die logiese gevolgtrekking is dat die een wat in Openbaring 3:14 aangehaal word, ’n skepsel is, die eerste van God se skeppingswerke, dat hy ’n begin gehad het. Vergelyk Spreuke 8:22, waar, soos baie Bybelkommentators toegee, dit die Seun is van wie daar as verpersoonlikte wysheid gepraat word. Volgens NAV, RS, NE en JB sê dit daar dat die spreker “geskep” is.

Met verwysing na die Messias sê Miga 5:1 profeties: “Sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid.” Maak dit hom dieselfde as God? Dit is opmerklik dat in plaas van “uit die dae van die ewigheid” te sê, NAV die Hebreeus weergee met “die gryse verlede”; JB, “vervloë dae”; NW, “die dae van onbepaalde tyd”. In die lig van Openbaring 3:14, wat hierbo bespreek is, bewys Miga 5:1 nie dat Jesus geen begin gehad het nie.

Leer die Bybel dat nie een van die lede van die sogenaamde Drie-eenheid groter of minder as die ander is nie, dat almal gelyk en dat almal almagtig is?

Mark. 13:32: “Van daardie dag en dié uur weet niemand nie, ook nie die engele in die hemel of die Seun nie, maar net die Vader.” (Dit sal natuurlik nie die geval wees indien die Vader, Seun en Heilige Gees gelyk was en een Godheid uitgemaak het nie. En as, soos sommige sê, die Seun deur sy menslike natuur verhinder is om dit te weet, bly die vraag staan: Waarom het die Heilige Gees nie geweet nie?)

Matt. 20:20-23: “[Toe sê die moeder van die seuns van Sebedeüs vir Jesus:] Sê dat hierdie twee seuns van my in u koninkryk mag sit, een aan u regter- en een aan u linkerhand. Maar Jesus antwoord en sê: . . . My beker sal julle drink en met die doop waarmee Ek gedoop word, sal julle gedoop word; maar om te sit aan my regter- en aan my linkerhand berus nie by My om te gee nie, maar is vir hulle vir wie dit deur my Vader berei is.” (Hoe eienaardig tog as Jesus, soos beweer word, God was! Het Jesus hier bloot volgens sy “menslike natuur” geantwoord? Sou dit konsekwent wees om so ’n verduideliking te probeer gee indien Jesus, soos die Trinitariërs sê, waarlik “God-mens” was—sowel God as mens, nie die een of die ander nie? Toon Mattheüs 20:23 nie eerder dat die Seun nie aan die Vader gelyk is nie, maar dat die Vader sekere regte vir homself behou het nie?)

Matt. 12:31, 32: “Elke sonde en lastering sal die mense vergewe word, maar die lastering teen die Gees sal die mense nie vergewe word nie. En elkeen wat ’n woord spreek teen die Seun van die mens, dit sal hom vergewe word; maar elkeen wat spreek teen die Heilige Gees, dit sal hom nie vergewe word nie, in hierdie eeu nie en ook in die toekomende nie.” (As die Heilige Gees ’n persoon was en God was, sou hierdie teks die Drie-eenheidsleer direk weerspreek, want dit sou beteken dat die Heilige Gees in ’n sekere opsig groter as die Seun is. Wat Jesus gesê het, toon eerder dat die Vader, aan wie die “Gees” behoort het, groter as Jesus, die Seun van die mens, is.)

Joh. 14:28: “[Jesus het gesê:] As julle My liefgehad het, sou julle bly wees dat Ek gesê het: Ek gaan na my Vader, omdat my Vader groter is as Ek.”

1 Kor. 11:3: “Ek wil hê dat julle moet weet dat Christus die hoof is van elke man, en die man die hoof van die vrou, en God die hoof van Christus.” (Dit is dus duidelik dat Christus nie God is nie, en dat God Christus se meerdere is. Ons moet daarop let dat dit omstreeks 55 G.J. geskryf is, nagenoeg 22 jaar nadat Jesus teruggekeer het hemel toe. Die waarheid wat hier gestel is, geld dus vir die verhouding tussen God en Christus in die hemel.)

1 Kor. 15:27, 28: “Hy [God] het alles aan sy [Jesus se] voete onderwerp, maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat Hy uitgesonder is wat alles aan Hom onderwerp het. En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees.”

Die Hebreeuse woord Sjad·dai en die Griekse woord Panto·kraʹtor word albei met “Almagtige” vertaal. Albei woorde in die oorspronklike tale word herhaaldelik vir Jehovah, die Vader, gebruik (Ex. 6:2; Openb. 19:6). Nie een van die uitdrukkings word ooit vir die Seun of die heilige gees gebruik nie.

Leer die Bybel dat elk van die lede van die sogenaamde Drie-eenheid God is?

Jesus het in gebed gesê: “Vader, . . . dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is” (Joh. 17:1-3, NAV). (Die meeste vertalings gebruik die uitdrukking “die enigste ware God” hier met verwysing na die Vader. Hy kan mos nie “die enigste ware God” wees as daar twee ander is wat in dieselfde mate as hy God is nie, of hoe? Enige ander wat “gode” genoem word, moet òf vals òf bloot ’n weerspieëling van die ware God wees.)

1 Kor. 8:5, 6: “Al is daar ook sogenaamde gode, of dit in die hemel en of dit op die aarde is—soos daar baie gode en baie here is—tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom.” (Dit noem die Vader die “een God” van Christene en plaas hom in ’n ander klas as Jesus Christus.)

1 Pet. 1:3: “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus!” (Die Skrif verwys herhaaldelik na die Vader as Jesus Christus se “God”, selfs ná Jesus se hemelvaart. In Johannes 20:17, ná Jesus se opstanding, het hyself van die Vader as “my God” gepraat. Later, toe hy in die hemel was, het hy weer dieselfde uitdrukking gebruik, soos opgeteken in Openbaring 3:12. Maar nêrens in die Bybel word daar gesê dat die Vader die Seun “my God” noem nie, en nòg die Vader nòg die Seun praat ooit van die heilige gees as “my God”.)

Kyk bladsye 232-236, onder “Jesus Christus”, vir kommentaar oor tekste wat deur sommige gebruik word om te probeer bewys dat Christus God is.

In Theological Investigations erken Karl Rahner, S.J.: “Θεός [God] word nietemin nooit vir die Gees gebruik nie”, en: “ὁ θεός [letterlik, die God] word nooit in die Nuwe Testament gebruik om van die πνεῦμα ἅγιον [heilige gees] te praat nie.”—(Baltimore, Md.; 1961), uit Duits vertaal, Dl. I, bl. 138, 143.

Bied enige van die tekste wat deur Trinitariërs gebruik word om hulle opvatting te steun ’n vaste grondslag vir daardie leerstelling?

’n Persoon wat werklik probeer om die waarheid oor God te wete te kom, gaan nie die Bybel deursoek in die hoop om ’n teks te vind wat hy so kan uitlê dat dit pas by wat hy reeds glo nie. Hy wil weet wat God se Woord self sê. Hy sal moontlik afkom op enkele tekste wat hy meen op meer as een manier vertolk kan word, maar wanneer hulle met ander Bybelse verklarings oor dieselfde onderwerp vergelyk word, sal die betekenis daarvan duidelik word. Ons moet uit die staanspoor daarop let dat die meeste van die tekste wat as “bewys” van die Drie-eenheid gebruik word in werklikheid slegs twee persone meld, nie drie nie; al was die Trinitariese verklaring van die tekste ook korrek, sou dit nog nie bewys dat die Bybel die Drie-eenheid leer nie. Beskou die volgende:

Tekste waar ’n titel van Jehovah ook vir Jesus Christus gebruik word of volgens bewering op Jesus van toepassing is

Alfa en Omega: Wie kom hierdie titel tereg toe? (1) In Openbaring 1:8 word daar gesê dat God, die Almagtige, die draer daarvan is. Volgens AB word daardie titel in vers 11 toegepas op iemand wat uit die daaropvolgende beskrywing Jesus Christus blyk te wees. Maar geleerdes erken dat die verwysing na die Alfa en die Omega in vers 11 oneg is, en daarom kom dit nie in NAV, RS, NE, JB, NAB en Dy voor nie. (2) Baie vertalings van Openbaring in Hebreeus erken dat dit Jehovah is wat in vers 8 beskryf word, en daarom herstel hulle die persoonlike naam van God aldaar. Kyk die NW-naslaanbybel van 1984. (3) Openbaring 21:6, 7 toon dat Christene wat geestelike oorwinnaars is ‘seuns’ sal wees van die een wat as die Alfa en die Omega bekend staan. Dit word nooit gesê van die verhouding van geesgesalfdes tot Jesus Christus nie. Jesus het van hulle as sy ‘broeders’ gepraat (Hebr. 2:11; Matt. 12:50; 25:40). Maar daardie ‘broeders’ van Jesus word “kinders van God” genoem (Gal. 3:26; 4:6). (4) In Openbaring 22:12 voeg NAV die naam Jesus in sodat dit lyk of die verwysing na die Alfa en die Omega in vers 13 op hom van toepassing is. Maar die naam Jesus kom nie daar in die Grieks voor nie, en ander vertalings voeg dit nie in nie. (5) In Openbaring 22:13 word daar gesê dat die Alfa en die Omega ook “die eerste en die laaste” is, ’n uitdrukking wat in Openbaring 1:17, 18 op Jesus toegepas word. Die uitdrukking “apostel” word eweneens op Jesus Christus sowel as op sekere van sy volgelinge toegepas. Maar dit bewys nie dat hulle dieselfde persoon is of dieselfde rang het nie, nie waar nie? (Hebr. 3:1). Die getuienis dui dus daarop dat die titel “die Alfa en die Omega” op die almagtige God, die Vader, van toepassing is, en nie op die Seun nie.

Verlosser: Die Skrif praat herhaaldelik van God as die Verlosser of Heiland. In Jesaja 43:11 sê God selfs: “Daar is geen Heiland buiten My nie.” Is God en Jesus dieselfde, daar Jesus ook Verlosser genoem word? Glad nie. Titus 1:3, 4 praat van “God, ons Verlosser” en dan van “God die Vader en die Here Jesus Christus, ons Verlosser”. Albei persone is dus verlossers. Judas 25 (NAV) toon die verhouding aan wanneer dit sê: “God, ons Verlosser deur Jesus Christus ons Here.” (Kyk ook Handelinge 13:23.) In Rigters 3:9 word dieselfde Hebreeuse woord (mo·sjiʹa‛, wat met “verlosser” of “redder” vertaal word) wat in Jesaja 43:11 gebruik word, op Otniël, ’n rigter in Israel, toegepas. Maar dit het Otniël beslis nie Jehovah gemaak nie. As ons Jesaja 43:1-12 lees, sien ons dat vers 11 beteken dat Jehovah alleen die Een was wat vir Israel verlossing, of redding, bewerk het; daardie verlossing het nie van enige van die gode van die omliggende nasies gekom nie.

God: In Jesaja 43:10 sê Jehovah: “Voor My is geen God geformeer nie, en ná My sal daar geeneen wees nie.” Beteken dit dat Jesus Jehovah moet wees omdat Jesus Christus in Jesaja 9:5 profeties “Sterke God” genoem word? Die verband antwoord weer eens: Nee! Geeneen van die afgodsaanbiddende Heidense nasies het vóór Jehovah ’n god geformeer nie, want nie een het voor Jehovah bestaan nie. En hulle sou ook nie in die toekoms ’n ware, lewende god formeer wat kon profeteer nie (Jes. 46:9, 10). Maar dit beteken nie dat Jehovah nooit iemand gemaak het wat tereg ’n god genoem kan word nie (Ps. 82:1, 6; Joh. 1:1, NW). In Jesaja 10:21 word Jehovah ’n “sterke God” genoem, net soos Jesus in Jesaja 9:5; maar slegs Jehovah word ooit “die Almagtige” genoem.—Gen. 17:1.

As ’n sekere titel of benaming op meer as een plek in die Skrif voorkom, moet ’n mens nie oorhaastig die gevolgtrekking maak dat dit altyd na dieselfde persoon verwys nie. Sulke redenering sou lei tot die gevolgtrekking dat Nebukadnesar Jesus Christus was, omdat albei “koning van die konings” genoem word (Dan. 2:37; Openb. 17:14); en dat Jesus se dissipels in werklikheid Jesus Christus was, omdat albei “die lig van die wêreld” genoem word (Matt. 5:14; Joh. 8:12). Ons moet altyd kyk na die verband en na ander plekke in die Bybel waar dieselfde uitdrukking voorkom.

Gevalle waar geïnspireerde Bybelskrywers gedeeltes in die Hebreeuse Skrifte wat duidelik op Jehovah van toepassing is op Jesus Christus toegepas het

Waarom pas Johannes 1:23 die woorde in Jesaja 40:3 toe op wat Johannes die Doper gedoen het om die pad vir Jesus Christus voor te berei, terwyl Jesaja 40:3 duidelik die voorbereiding van die pad van Jehovah bespreek? Omdat Jesus sy Vader verteenwoordig het. Hy het in sy Vader se naam gekom en hy het die versekering gehad dat sy Vader altyd met hom was omdat hy die dinge gedoen het wat sy Vader behaag.—Joh. 5:43; 8:29.

Waarom pas Hebreërs 1:10-12 die woorde in Psalm 102:26-28 toe op die Seun, terwyl die psalm sê dat dit tot God gerig is? Omdat die Seun die een is deur wie God die skeppingswerke verrig het wat daar deur die psalmis beskryf word. (Kyk Kolossense 1:15, 16; Spreuke 8:22, 27-30.) In Hebreërs 1:5b word woorde uit 2 Samuel 7:14 aangehaal en op die Seun van God toegepas. Hoewel daardie teks in eerste instansie op Salomo van toepassing was, het die latere toepassing daarvan op Jesus Christus nie beteken dat Salomo en Jesus dieselfde is nie. Jesus is “meer as Salomo” en doen ’n werk wat deur Salomo afgeskadu is.—Luk. 11:31.

Tekste wat die Vader, die Seun en die Heilige Gees saam meld

Mattheüs 28:19 en 2 Korinthiërs 13:13 is voorbeelde hiervan. Nie een van hierdie tekste sê dat die Vader, die Seun en die Heilige Gees gelyk of mede-ewig is of dat al drie God is nie. Die Skriftuurlike getuienis wat reeds op bladsye 98-102 aangebied is, dui aan dat ons nie sulke gedagtes uit die tekste moet aflei nie.

Hoewel McClintock en Strong se Cyclopedia of Biblical, Theological, and Ecclesiastical Literature die Drie-eenheidsleer voorstaan, erken dit aangaande Mattheüs 28:18-20: “Op sigself lewer hierdie teks nie onomstootlike bewys van die persoonlikheid van die drie subjekte wat gemeld word nie, en ook nie van hulle gelykheid of goddelikheid nie” (Herdruk van 1981, Dl. X, bl. 552). Aangaande ander tekste wat ook die drie saam meld, erken hierdie Cyclopedia dat hulle, gesamentlik beskou, “onvoldoende” is om die Drie-eenheid te bewys. (Vergelyk 1 Timotheüs 5:21, waar God en Christus en die engele saam gemeld word.)

Tekste in die Hebreeuse Skrifte waarin die meervoudsvorm van selfstandige naamwoorde vir God gebruik word

In Genesis 1:1 word die titel “God” vertaal uit ’Elo·himʹ, wat in Hebreeus in die meervoud is. Trinitariërs lê dit uit as ’n aanduiding van die Drie-eenheid. En volgens hulle impliseer Deuteronomium 6:4 die eenheid van die lede van die Drie-eenheid wanneer dit sê: “Die HERE onse God [uit ’Elohimʹ] is ’n enige HERE.”

Die meervoudsvorm van die selfstandige naamwoord hier in Hebreeus is die meervoud van majesteit of uitnemendheid. (Kyk NAB, St. Josef-uitgawe, Bybelwoordeboek, bl. 330; ook, New Catholic Encyclopedia, 1967, Dl. V, bl. 287.) Dit bevat geen gedagte van pluraliteit van persone in ’n godheid nie. Wanneer daar in Rigters 16:23 van die valse god Dagon gepraat word, word daar eweneens ’n vorm van die titel ’elo·himʹ gebruik; die meegaande werkwoord is in die enkelvoud, wat toon dat daar van net een god gepraat word. In Genesis 42:30 word Josef die “heer” (’ado·neʹ, die meervoud van uitnemendheid) van Egipte genoem.

Grieks het nie ’n ‘meervoud van majesteit of uitnemendheid’ nie. In Genesis 1:1 het die vertalers van LXX dus ho The·osʹ (God, enkelvoud) as die ekwivalent van ’Elo·himʹ gebruik. In Markus 12:29, waar ’n antwoord van Jesus weergegee word waarin hy Deuteronomium 6:4 aangehaal het, word eweneens die Griekse enkelvoud ho The·osʹ gebruik.

In Deuteronomium 6:4 bevat die Hebreeuse teks die Tetragrammaton twee keer, en daarom is die meer korrekte lesing: “Jehovah onse God is een Jehovah” (NW). Die nasie Israel, vir wie dit gesê is, het nie in die Drie-eenheid geglo nie. Die Babiloniërs en die Egiptenaars het triades aanbid, maar daar is duidelik aan Israel gesê dat Jehovah anders is.

Tekste waaruit ’n mens meer as een afleiding kan maak, afhangende van die Bybelvertaling wat gebruik word

Wat is die korrekte weergawe indien ’n gedeelte grammaties op meer as een manier vertaal kan word? Die een wat met die res van die Bybel ooreenstem. As ’n persoon ander dele van die Bybel ignoreer en sy geloof om ’n gunstelingweergawe van ’n bepaalde vers bou, dan weerspieël sy opvattings nie die Woord van God nie, maar in werklikheid sy eie idees en moontlik dié van ’n ander onvolmaakte mens.

Johannes 1:1, 2:

AB lui: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God.” (Die bewoording in RS, KJ, Dy, JB en NAB is soortgelyk.) Maar NW lui: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was ’n god. Hy was in die begin by God.”

Watter vertaling van Johannes 1:1, 2 stem ooreen met die verband? Johannes 1:18 sê: “Niemand het ooit God gesien nie.” Vers 14 sê duidelik: “Die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou.” Verse 1, 2 sê ook dat hy in die begin “by God” was. Kan iemand by iemand wees en terselfdertyd daardie persoon wees? In Johannes 17:3 (NAV) spreek Jesus die Vader aan as “die enigste ware God”; as “’n god” weerspieël Jesus dus bloot sy Vader se goddelike hoedanighede.—Hebr. 1:3.

Strook die lesing “’n god” met die reëls van Griekse grammatika? Sommige naslaanwerke betoog sterk dat die Griekse teks vertaal moet word: “Die Woord was God.” Maar nie almal is dit hiermee eens nie. In sy artikel “Kwalitatiewe predikatiewe selfstandige naamwoorde sonder lidwoorde: Markus 15:39 en Johannes 1:1” het Philip B. Harner gesê dat sinsdele soos die een in Johannes 1:1 “waar die werkwoord voorafgegaan word deur ’n predikaat sonder lidwoord hoofsaaklik kwalitatief van betekenis is. Dit toon aan dat die logos die aard van theos het.” Hy stel voor: “Die sinsdeel kan moontlik vertaal word met ‘die Woord het dieselfde aard as God gehad’” (Journal of Biblical Literature, 1973, bl. 85, 87). In hierdie teks is dit dus betekenisvol dat die woord the·osʹ, waar dit die tweede keer voorkom, sonder die bepalende lidwoord (ho) is en in Grieks voor die werkwoord in die sin geplaas word. Dit is interessant dat vertalers wat daarop aandring om Johannes 1:1 weer te gee met “Die Woord was God” nie huiwer om die onbepaalde lidwoord (’n) te gebruik wanneer hulle ander gedeeltes vertaal waar ’n enkelvoudige predikatiewe selfstandige naamwoord sonder ’n lidwoord voor die werkwoord voorkom nie. In Johannes 6:70 noem AB sowel as NAV Judas Iskariot byvoorbeeld “’n duiwel”, en in Johannes 9:17 beskryf hulle Jesus as “’n profeet”.

In sy Dictionary of the Bible sê John J. McKenzie, S.J.: “Joh. 1:1 moet streng vertaal word ‘die woord was by die God [= die Vader], en die woord was ’n goddelike wese’.”—(Die vierkantige hakies is syne. Uitgegee met nihil obstat en imprimatur.) (New York, 1965), bl. 317.

In harmonie met die voorgaande lui AT: “die Woord was goddelik”; Mo, “die Logos was goddelik”; NTIV, “die woord was ’n god”. In sy Duitse vertaling stel Ludwig Thimme dit soos volg: “Die Woord was ’n soort God.” Wanneer die Woord (wat Jesus Christus geword het) “’n god” genoem word, strook dit met die gebruik van daardie woord in die res van die Skrif. In Psalm 82:1-6 word menseregters in Israel byvoorbeeld “gode” (Hebreeus, ’elo·himʹ; Grieks, the·oiʹ, in Johannes 10:34) genoem omdat hulle verteenwoordigers van Jehovah was en sy wet moes spreek.

Kyk ook die aanhangsel van die NW-naslaanbybel van 1984, bl. 1579.

Johannes 8:58:

AB lui: “Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, voordat Abraham was, is Ek [Grieks, e·goʹ ei·miʹ].” (NE, KJ, TEV, JB, NAB en RS lui almal “is Ek” [“I am”], en sommige gebruik selfs hoofletters om die gedagte van ’n titel oor te dra. Hulle probeer sodoende om die uitdrukking in verband te bring met Exodus 3:14, waar God, volgens hulle weergawe, na homself verwys met die titel “Ek is” [“I am”].) Maar in NW lui die laaste deel van Johannes 8:58: “Voordat Abraham in aansyn geroep is, was ek gewees.” (Dieselfde gedagte word oorgedra deur die bewoording in AT, Mo en CBW.)

Watter weergawe stem ooreen met die verband? Die vraag van die Jode (vers 57) waarop Jesus geantwoord het, het in verband gestaan met ouderdom, nie identiteit nie. Jesus se antwoord het logies gehandel oor sy ouderdom, die lengte van sy bestaan. Dit is interessant dat geen poging aangewend word om e·goʹ ei·miʹ as ’n titel op die heilige gees toe te pas nie.

A Grammar of the Greek New Testament in the Light of Historical Research, deur A. T. Robertson, sê: “Die werkwoord [ei·miʹ] . . . Soos enige ander werkwoord druk dit soms bestaan uit, soos in [e·goʹ ei·miʹ] (Joh. 8:58).”—Nashville, Tenn.; 1934, bl. 394.

Kyk ook die aanhangsel van die NW-naslaanbybel van 1984, bl. 1582, 1583.

Handelinge 20:28:

AB lui: “Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het.” (Die bewoording in KJ, Dy, NAB en JB is soortgelyk.) Maar in NW lui die laaste deel van die vers: “die bloed van sy eie [Seun].” (Die bewoording in TEV en NAV is soortgelyk. Hoewel RS se uitgawe van 1953 lui “met sy eie bloed”, lui die uitgawe van 1971 “met die bloed van sy eie Seun”.)

Watter weergawe(s) stem ooreen met 1 Johannes 1:7, wat lui: “Die bloed van Jesus Christus, sy [God se] Seun, reinig ons van alle sonde”? (Kyk ook Openbaring 1:4-6.) Het God, volgens Johannes 3:16, sy eniggebore Seun gestuur, of het hyself as ’n mens gekom sodat ons die lewe kan hê? Dit was nie God se bloed nie, maar die bloed van sy Seun wat uitgestort is.

Kyk ook die aanhangsel van die NW-naslaanbybel van 1984, bl. 1580.

Romeine 9:5:

AB lui: “Aan wie die vaders behoort en uit wie die Christus is na die vlees—Hy wat oor alles is, God, lofwaardig tot in ewigheid! Amen.” (Die bewoording in NAV, KJ, Dy en JB is soortgelyk.) Maar in NW lui die laaste deel van die vers: “uit wie Christus gespruit het na die vlees: God, wat oor alles is, sy geseënd tot in ewigheid. Amen.” (Die bewoording in RS, NE, TEV, NAB en Mo stem almal met dié van NW ooreen.)

Sê hierdie vers dat Christus “oor alles” is en dat hy gevolglik God is? Of praat dit van God en Christus as onderskeie individue en sê dit dat God “oor alles” is? Watter weergawe van Romeine 9:5 stem ooreen met Romeine 15:5, 6, wat eers tussen God en Christus Jesus onderskei en die leser dan aanspoor om ‘die God en Vader van onse Here Jesus Christus te verheerlik’? (Kyk ook 2 Korinthiërs 1:3 en Efesiërs 1:3.) Kyk wat volg in Romeine hoofstuk 9. Verse 6-13 toon dat die ontplooiing van God se voorneme nie van vleeslike afstamming afhang nie, maar van die wil van God. Verse 14-18 praat van God se boodskap aan Farao, soos opgeteken in Exodus 9:16, om die feit te beklemtoon dat God oor alles is. In verse 19-24 word God se voortreflikheid verder toegelig deur ’n ooreenkoms met ’n pottebakker en die kleivoorwerpe wat hy maak. Hoe gepas is die uitdrukking dan tog in vers 5: “God, wat oor alles is, sy geseënd tot in ewigheid. Amen”!—NW.

The New International Dictionary of New Testament Theology sê: “Rom. 9:5 is omstrede. . . . Dit is maklik, en taalkundig heeltemal moontlik, om die uitdrukking op Christus toe te pas. Die vers sou dan lui: ‘Christus wat oor alles God is, geseënd vir ewig. Amen.’ Selfs dan sou Christus nie geheel en al met God gelykgestel word nie, maar bloot beskryf word as ’n wese met ’n goddelike natuur, want die woord theos het geen lidwoord nie. . . . Die veel waarskynliker verklaring is dat die woorde ’n doksologie aan God is.”—(Grand Rapids, Mich.; 1976), uit Duits vertaal, Dl. 2, bl. 80.

Kyk ook die aanhangsel van die NW-naslaanbybel van 1984, bl. 1580, 1581.

Filippense 2:5, 6:

AB lui: “Hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was. Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie.” (KJ en Dy het dieselfde bewoording. NAV lui: “Hy . . . het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie.”) Maar in NW lui die laaste deel van daardie passasie: “Wat, alhoewel hy in God se gedaante bestaan het, geen gewelddadige inbesitneming [Grieks, har·pag·monʹ] oorweeg het, naamlik om aan God gelyk te wees nie.” (RS, NE, TEV en NAB dra dieselfde gedagte oor.)

Watter gedagte stem ooreen met die verband? Vers 5 vermaan Christene om Christus na te volg in die saak wat hier bespreek word. Kon hulle aangespoor word om dit “geen roof” nie, maar as hulle reg te beskou om “aan God gelyk te wees”? Beslis nie! Maar hulle kan die een navolg wat “geen gewelddadige inbesitneming oorweeg het, naamlik om aan God gelyk te wees nie” (NW). (Vergelyk Genesis 3:5.) So ’n vertaling stem ook ooreen met wat Jesus Christus self gesê het: ‘My Vader is groter as Ek.’—Johannes 14:28.

The Expositor’s Greek Testament sê: “Ons kan geen gedeelte vind waar [har·paʹzo] of enige van sy afgeleide vorme [har·pag·monʹ inkluis] die betekenis het van ‘in besit hou’, ‘behou’ nie. Dit beteken skynbaar sonder uitsondering ‘beslag lê op’, ‘gewelddadig gryp’. Dit is dus ontoelaatbaar om van die ware betekenis ‘gryp na’ oor te gaan tot ’n betekenis wat heeltemal verskillend is, naamlik ‘vashou’.”—(Grand Rapids, Mich.; 1976), geredigeer deur W. Robertson Nicoll, Dl. III, bl. 436, 437.

Kolossense 2:9:

AB lui: “In Hom [Christus] woon al die volheid van die Godheid [Grieks, the·oʹte·tos] liggaamlik.” (’n Soortgelyke gedagte word oorgedra deur die weergawes in NAV, KJ, NE, RS, JB, NAB en Dy.) Maar NW lui: “In hom woon die hele volheid van die goddelike hoedanigheid liggaamlik.” (AT, We en CKW sê “God se natuur” in plaas van “Godheid”. Vergelyk 2 Petrus 1:4.)

Daar moet toegegee word dat nie almal Kolossense 2:9 eenders uitlê nie. Maar wat stem ooreen met die res van die geïnspireerde brief aan die Kolossense? Het Christus iets in homself gehad wat syne was omdat hy God is, ’n deel van ’n Drie-eenheid? Of is “die volheid” wat in hom woon iets wat hy ontvang het as gevolg van iemand anders se besluit? Kolossense 1:19 (AB, KJ, Dy) sê dat die ganse volheid in Christus gewoon het omdat dit “die Vader behaag” het dat dit so sou wees. NAV sê “God het besluit” dat dit so moes wees.

Beskou die onmiddellike verband van Kolossense 2:9: In vers 8 word lesers gewaarsku om nie mislei te word deur diegene wat die wysbegeerte en die oorlewering van mense voorstaan nie. Hulle word ook meegedeel dat in Christus “al die skatte van wysheid en kennis verborge is” en aangespoor om ‘in Hom te wandel’, “gewortel en opgebou in Hom en bevestig in die geloof” (Verse 3, 6, 7). Dit is in hom, en nie in die ‘vaders’ of die verkondigers van menslike filosofie nie, dat ’n sekere kosbare “volheid” woon. Het die apostel Paulus daar gesê dat die “volheid” wat in Christus was Christus God self gemaak het? Nie volgens Kolossense 3:1 wat sê dat Christus “aan die regterhand van God sit” nie.—Kyk NAV, KJ, Dy, TEV, NAB.

Volgens Liddell en Scott se Greek-English Lexicon beteken the·oʹtes (die nominatief, waarvan the·oʹte·tos afgelei is) “goddelikheid, goddelike natuur” (Oxford, 1968, bl. 792). Die besit van ware “goddelikheid” of van die “goddelike natuur” maak Jesus as die Seun van God nie gelyk aan of mede-ewig met die Vader nie, net so min as wat die feit dat alle mense “menslikheid” of die “menslike natuur” deelagtig is hulle gelyk of almal ewe oud maak.

Titus 2:13:

NAV lui: “. . . terwyl ons uitsien na die gelukkige dag wat ons verwag. Op daardie dag sal die heerlikheid van ons grote God en Verlosser, Jesus Christus, verskyn.” (Soortgelyke bewoording word in AB, RS, NE, TEV en JB aangetref.) NW lui egter: “in afwagting van die gelukkige hoop en glorieryke manifestasie van die grote God en van ons Verlosser, Christus Jesus.” (Die bewoording in NAB is soortgelyk.)

Watter vertaling stem ooreen met Titus 1:4, wat praat van “God die Vader en die Here Jesus Christus, ons Verlosser”? Hoewel die Skrif ook van God as ’n Verlosser praat, tref hierdie teks ’n duidelike onderskeid tussen God en Christus Jesus, die een deur wie God verlossing voorsien.

Sommige voer aan dat Titus 2:13 toon dat Christus sowel God as Verlosser is. Dit is interessant dat AB, NAV, RS, NE, TEV en JB Titus 2:13 weergee op ’n wyse wat so opgevat kan word, maar nie dieselfde reël volg in hulle vertaling van 2 Thessalonicense 1:12 nie. In The Greek Testament sê Henry Alford: “Ek wil beweer dat [’n vertaling wat in Titus 2:13 duidelik tussen God en Christus onderskei] aan al die grammatikale vereistes van die sin voldoen: dat dit struktureel en kontekstueel waarskynliker is en meer met die Apostel se skryfwyse ooreenstem.”—(Boston, 1877), Dl. III, bl. 421.

Kyk ook die aanhangsel van die NW-naslaanbybel van 1984, bl. 1581, 1582.

Hebreërs 1:8:

AB lui: “Van die Seun [sê Hy]: U troon, o God, is tot in alle ewigheid.” (Die bewoording in NAV, RS, KJ, NE, TEV, Dy, JB en NAB is soortgelyk.) NW lui egter: “Maar met betrekking tot die Seun: ‘God is u troon vir ewig en altyd.’” (AT, Mo en By dra dieselfde gedagte oor.)

Watter weergawe stem ooreen met die verband? Die voorafgaande verse sê dat dit God is wat praat, nie dat hy aangespreek word nie; en die volgende vers bevat die uitdrukking “u God”, wat toon dat die persoon wat aangespreek word nie die allerhoogste God is nie, maar ’n aanbidder van daardie God. Hebreërs 1:8 haal Psalm 45:7 aan, wat oorspronklik tot ’n mensekoning van Israel gerig was. Die Bybelskrywer van hierdie psalm het seer sekerlik nie gedink dat hierdie mensekoning die almagtige God is nie. In JP lui Psalm 45:7 egter: “U Godgegewe troon.” (RS [vers 6] lui: “U goddelike troon.” NE [vers 6] sê: “U troon is soos God se troon.”) Daar is gesê dat Salomo, wat moontlik die koning is wat oorspronklik in Psalm 45 aangespreek is, “op Jehovah se troon” gesit het (1 Kron. 29:23, NW). In ooreenstemming met die feit dat God die “troon” of Bron en Handhawer van Christus se koningskap is, toon Daniël 7:13, 14 en Lukas 1:32 dat God sulke gesag aan hom gee.

Hebreërs 1:8, 9 haal aan uit Psalm 45:7, 8, waaroor Bybelgeleerde B. F. Westcott sê: “Die LXX laat twee vertalings toe: [ho the·osʹ] kan in albei gevalle (U troon, o God, . . . Daarom het, o God, u God . . . ) as ’n vokatief beskou word, of dit kan in die eerste geval (God is u troon, of U troon is God . . . ) as die onderwerp (of die gesegde) beskou word, en in die tweede geval (Daarom het God, u God, . . . ) as bystelling [ho the·osʹ sou]. . . . Dit is nouliks moontlik dat [’Elo·himʹ] in die oorspronklike tot die koning gerig kon wees. Die veronderstelling druis dus in teen die opvatting dat [ho the·osʹ] in die LXX ’n vokatief is. Dit lyk dus oor die algemeen die beste om die vertaling God is u troon (of, U troon is God), dit wil sê, ‘U koninkryk is gegrond op God, die onbeweeglike Rots’, in die eerste sinsdeel te verkies.”—The Epistle to the Hebrews (Londen, 1889), bl. 25, 26.

1 Johannes 5:7, 8:

AB lui: “Want daar is drie wat getuig in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een; en daar is drie wat getuig op die aarde: die Gees en die water en die bloed, en die drie is eenstemmig.” (KJ en Dy sluit ook hierdie Trinitariese gedeelte in.) NW sluit egter nie die woorde “in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een; en daar is drie wat getuig op die aarde” in nie. (NAV, RS, NE, TEV, JB en NAB laat ook die Trinitariese gedeelte weg.)

Aangaande hierdie Trinitariese gedeelte het tekskritikus F. H. A. Scrivener geskryf: “Ons hoef nie te aarsel om ons oortuiging uit te spreek dat die omstrede woorde nie deur St. Johannes geskrywe is nie: dat hulle oorspronklik in Latynse eksemplare in Afrika ingevoeg is uit die kanttekening, waar hulle as ’n vrome en ortodokse verklaring van vers 8 geplaas was: dat hulle uit die Latynse in twee of drie laat Griekse kodekse ingesluip het, en daarvandaan tot in die gedrukte Griekse teks, ’n plek waarop hulle geen regmatige aanspraak gehad het nie.”—A Plain Introduction to the Criticism of the New Testament (Cambridge, 1883, derde uitgawe), bl. 654.

Kyk ook die voetnoot oor hierdie verse in JB, en die aanhangsel van die NW-naslaanbybel van 1984, bl. 1580.

Ander tekste wat volgens Trinitariërs elemente van hulle leerstelling stel

Let op dat die eerste van hierdie tekste slegs van die Seun praat; die ander praat van die Vader sowel as die Seun; nie een praat van die Vader, die Seun en die Heilige Gees en sê dat hulle een God uitmaak nie.

Johannes 2:19-22:

Het Jesus, deur wat hy hier gesê het, bedoel dat hy homself uit die dode sou opwek? Beteken dit dat Jesus God is, aangesien Handelinge 2:32 sê: “Hierdie Jesus het God opgewek”? Glad nie. So ’n beskouing is strydig met Galasiërs 1:1, waar die opstanding van Jesus toegeskryf word aan die Vader, nie aan die Seun nie. Met ’n soortgelyke uitdrukkingswyse het Jesus in Lukas 8:48 vir ’n vrou gesê: “Jou geloof het jou gered.” Het sy haarself genees? Nee; dit was krag van God af deur Christus wat haar genees het omdat sy geloof gehad het (Luk. 8:46; Hand. 10:38). Deur sy volmaakte gehoorsaamheid as ’n mens het Jesus eweneens die Vader van die morele grondslag voorsien om hom uit die dood op te wek en Jesus aldus as God se Seun te erken. As gevolg van Jesus se getroue lewensweg kon daar tereg gesê word dat Jesus self vir sy opstanding verantwoordelik was.

In Word Pictures in the New Testament sê A. T. Robertson: “Dink aan [Johannes] 2:19 waar Jesus gesê het: ‘En in drie dae sal Ek dit oprig.’ Hy het nie bedoel dat hy homself uit die dood sou opwek sonder toedoen van die Vader as die aktiewe agent nie (Rom. 8:11).”—(New York, 1932), Dl. V, bl. 183.

Johannes 10:30:

Het Jesus, toe hy gesê het: “Ek en die Vader is een”, bedoel dat hulle gelyk is? Sommige Trinitariërs sê so. Maar in Johannes 17:21, 22, het Jesus gebid dat sy volgelinge “almal een mag wees”, en bygevoeg: “sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is”. In al hierdie gevalle het hy dieselfde Griekse woord (hen) vir “een” gebruik. Dit spreek vanself dat Jesus se dissipels nie almal ’n deel van die Drie-eenheid geword het nie. Maar hulle deel wel ’n eenheid van doel met die Vader en die Seun, dieselfde soort eenheid wat God en Christus verenig.

In watter posisie plaas geloof in die Drie-eenheid diegene wat daaraan vashou?

Dit plaas hulle in ’n baie gevaarlike posisie. Die getuienis is onomstootlik dat die leerstuk van die Drie-eenheid nie in die Bybel aangetref word nie, en dit strook ook nie met wat die Bybel leer nie. (Kyk die voorafgaande bladsye.) Dit is ’n gruwelike wanvoorstelling van die ware God. Jesus Christus het egter gesê: “Daar kom ’n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid” (Joh. 4:23, 24). Jesus het dit dus duidelik gestel dat diegene wat nie ‘in waarheid aanbid nie’, wie se aanbidding nie strook met die waarheid wat in God se Woord uiteengesit is nie, nie “ware aanbidders” is nie. Vir Joodse godsdiensleiers van die eerste eeu het Jesus gesê: “So het julle dan die gebod van God kragteloos gemaak ter wille van julle oorlewering. Geveinsdes, tereg het Jesaja oor julle geprofeteer toe hy gesê het: Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is” (Matt. 15:6-9). Dit geld vandag eweseer vir diegene in die Christendom wat liewer mensetradisies voorstaan as die duidelike waarhede van die Bybel.

Wat die Drie-eenheid betref, sê die Athanasiaanse Geloofsbelydenis dat die lede daarvan “onbegryplik” is. Die leraars van die leerstelling sê dikwels dat dit ’n “verborgenheid” is. So ’n Drie-enige God is ongetwyfeld nie die een wat Jesus in gedagte gehad toe hy gesê het nie: “Ons aanbid wat ons weet” (Joh. 4:22). Ken jy werklik die God wat jy aanbid?

Elkeen van ons kom voor ernstige vrae te staan: Het ons die waarheid opreg lief? Wil ons waarlik ’n goedgekeurde verhouding met God hê? Nie almal het die waarheid opreg lief nie. Baie ag die goedkeuring van hulle familielede en metgeselle belangriker as liefde vir die waarheid en vir God (2 Thess. 2:9-12; Joh. 5:39-44). Maar, soos Jesus in opregte gebed tot sy hemelse Vader gesê het: “Dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het” (Joh. 17:3). En Psalm 144:15 sê eerlik: “Gelukkig is die volk wie se God Jehovah is!”—NW.

Wanneer iemand sê—

‘Glo jy aan die Drie-eenheid?’

Jy kan antwoord: ‘Dit is vandag ’n baie gewilde opvatting. Maar het u geweet dat Jesus en sy dissipels dit nie geleer het nie? Ons aanbid gevolglik die Een wat Jesus gesê het aanbid moet word.’ Dan kan jy byvoeg: (1) ‘Hier is die gebod wat Jesus gesê het die grootste is . . . (Mark. 12:28-30).’ (2) ‘Jesus het nooit daarop aanspraak gemaak dat hy aan God gelyk is nie. Hy het gesê . . . (Joh. 14:28).’ (3) ‘Wat is dan die oorsprong van die Drie-eenheidsleer? Kyk wat sê bekende ensiklopedieë daaroor. (Kyk bladsye 95, 96.)’

Of jy kan sê: ‘Nee, ek glo nie daaraan nie. Die rede is dat daar Bybeltekste is wat ek nooit met daardie opvatting kon versoen nie. Hier is een van hulle (Mark 13:32). Moontlik kan u dit vir my uitlê.’ Dan kan jy byvoeg: (1) ‘Hoe is dit moontlik dat die Vader dinge weet wat die Seun nie weet nie as die Seun aan die Vader gelyk is?’ As hulle sê dat dit slegs vir sy menslike natuur gegeld het, kan jy vra: (2) ‘Maar waarom weet die heilige gees nie?’ (As die persoon opreg in die waarheid belangstel, kan jy hom wys wat die Skrif oor God sê [Ps. 83:18, NW; Joh. 4:23, 24].)

’n Ander moontlikheid: ‘Ons glo aan Jesus Christus, maar nie aan die Drie-eenheid nie. Waarom nie? Omdat ons glo wat die apostel Petrus omtrent Christus geglo het. Kyk wat het hy gesê . . . (Matt. 16:15-17).’

Nog ’n wenk: ‘Ek vind dat nie almal dieselfde ding in gedagte het wanneer hulle van die Drie-eenheid praat nie. Ek kan moontlik u vraag beter beantwoord as ek weet wat u bedoel.’ Dan kan jy byvoeg: ‘Ek waardeer daardie verduideliking, maar ek glo maar net wat die Bybel leer. Het u al ooit die woord “Drie-eenheid” in die Bybel gesien? . . . Maar word Christus in die Bybel gemeld? . . . Ja, en ons glo in hom. Een van die tekste waar dit van Christus praat, is Mattheüs 16:16. (Lees dit.) Dit is wat ek glo.’

Of jy kan antwoord (indien die persoon die aandag spesifiek op Johannes 1:1 vestig): ‘Ek weet wat daardie vers sê. In sommige Bybelvertalings sê dit dat Jesus “God” is, en ander sê dat hy “’n god” is. Waarom is dit die geval?’ (1) ‘Is dit moontlik omdat die volgende vers sê dat hy “by God” was?’ (2) ‘Is dit moontlik ook as gevolg van wat dit hier in Johannes 1:18 sê?’ (3) ‘Het u al ooit gewonder of Jesus self iemand as God aanbid? (Johannes 20:17).’

‘Glo jy aan die godheid van Christus?’

Jy kan antwoord: ‘Ja, beslis. Maar ek het moontlik nie dieselfde in gedagte as u wanneer u van “die godheid van Christus” praat nie.’ Dan kan jy byvoeg: (1) ‘Waarom sê ek so? Wel, in Jesaja 9:5 word Jesus Christus as “Sterke God” beskryf, maar slegs sy Vader word ooit in die Bybel die almagtige God genoem.’ (2) ‘En let op dat Jesus sy Vader in Johannes 17:3 “die enige waaragtige God” noem. Jesus is dus hoogstens ’n afskynsel van die ware God.’ (3) ‘Wat moet ons doen om God te behaag? (Joh. 4:23, 24).’

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel