Die Skepper kan jou lewe sinvoller maak
“Laat hulle die Naam van die HERE loof; want Hý het bevel gegee—en hulle is geskape.”—PSALM 148:5.
1, 2. (a) Watter vraag moet ons ondersoek? (b) Hoe hou die skepping verband met Jesaja se vraag?
“HET jy dit nie te wete gekom nie?” Dit klink dalk soos ’n uitlokvraag wat baie laat vra: ‘Het ek wát nie te wete gekom nie?’ Maar dit is ’n ernstige vraag. En die antwoord sal vir ons die heel duidelikste wees as ons die agtergrond ken—die 40ste hoofstuk van die Bybelboek Jesaja. ’n Eertydse Hebreër, Jesaja, het dit geskryf, en gevolglik is dit ’n ou vraag. Tog is dit ook baie modern en hou dit verband met dít wat jou lewe sinvol kan maak.
2 Aangesien die vraag in Jesaja 40:28 (NW) so belangrik is, moet ons ernstig daarna kyk: “Het jy dit nie te wete gekom nie of het jy dit nie gehoor nie? Jehovah, die Skepper van die uiterstes van die aarde, is ’n God tot onbepaalde tyd.” Die ‘te wete kom’ hou dus verband met die aarde se Skepper, en die konteks toon dat meer as net die aarde ingesluit word. Twee verse vroeër het Jesaja oor die sterre geskryf: “Slaan julle oë op in die hoogte en kyk. Wie het hierdie dinge geskep? Hy wat hulle leër volgens getal uitlei . . . Weens die oorvloed van dinamiese energie, en omdat hy sterk in krag is, ontbreek nie een van hulle nie.”
3. Waarom behoort jy meer omtrent die Skepper te wil weet, al weet jy reeds heelwat omtrent hom?
3 Ja, die vraag “Het jy dit nie te wete gekom nie?” het eintlik met die Skepper van ons heelal te doen. Jy is dalk persoonlik daarvan oortuig dat Jehovah God die “Skepper van die uiterstes van die aarde” is. Jy weet ook dalk heelwat omtrent sy persoonlikheid en sy weë. Maar sê nou jy ontmoet ’n man of ’n vrou wat twyfel of daar ’n Skepper is en beslis nie weet watter soort persoon hy is nie? Dit behoort ons nie te verbaas as ons so iemand ontmoet nie, want daar is miljoene der miljoene mense wat nie die Skepper ken of aan hom glo nie.—Psalm 14:1; 53:2.
4. (a) Waarom is dit gepas om nou die Skepper in ag te neem? (b) Watter antwoorde kan die wetenskap nie voorsien nie?
4 Onderwysinrigtings bring baie skeptici voort wat meen dat die wetenskap die antwoorde op vrae oor die oorsprong van die heelal en lewe het (of nog sal vind). In Die oorsprong van lewe (oorspronklike Franse titel: Aux Origines de la Vie) sê die skrywers Hagene en Lenay: “Die oorsprong van die lewe is aan die begin van die een-en-twintigste eeu nog steeds ’n geskilpunt. Hierdie netelige probleem vereis ondersoeke in alle velde, van die onmeetlikheid van die ruimte tot die oneindige kleinheid van materie.” In die laaste hoofstuk, “Die vraag bly onbeantwoord”, erken hulle nietemin: “Ons het na ’n paar wetenskaplike antwoorde gekyk op die vraag: Hoe het lewe op die aarde ontstaan? Maar waarom het lewe ontstaan? Het die lewe ’n doel? Die wetenskap kan nie hierdie vrae beantwoord nie. Dit ondersoek bloot die ‘hoe’ van dinge. ‘Hoe’ en ‘waarom’ is twee heeltemal verskillende vrae. . . . Wat die vraag ‘waarom’ betref, moet filosofie, godsdiens en—bowenal—elkeen van ons die antwoord vind.”
Waar om antwoorde en sin in die lewe te vind
5. Watter soort mense kan veral baat vind deur meer aangaande die Skepper te leer?
5 Ja, ons wil verstaan waarom lewe bestaan—en veral waarom ons hier is. Daarbenewens moet ons in mense belangstel wat nog nie tot die slotsom gekom het dat daar ’n Skepper is nie en beslis min omtrent sy weë weet. Of dink aan diegene wat weens hulle agtergrond ’n heel ander begrip van God het as wat die Bybel leer. Miljarde het in die Ooste of in ander plekke grootgeword waar die meeste mense nie dink aan ’n persoonlike God, ’n werklike persoon met ’n persoonlikheid wat jou aantrek nie. Die woord “god” laat hulle aan ’n vae mag of ’n abstrakte oorsaak dink. Hulle het nie die Skepper of sy weë leer ken nie. Watter seëning sal hulle tog ontvang, onder andere die vooruitsig op die ewige lewe, as hulle, of miljoene met soortgelyke beskouings, daarvan oortuig kan word dat die Skepper bestaan! Hulle kan ook iets uiters seldsaams vind—ware sin, ’n ware doel en gemoedsrus, in die lewe.
6. Hoe stem baie se lewens vandag ooreen met die ondervinding van Paul Gauguin en met een van sy skilderye?
6 Ter toeligting: In 1891 het die Franse skilder Paul Gauguin ’n sinvolle lewe in Frans-Polinesië, ’n skynbare paradys, gaan soek. Maar sy losbandige verlede het gou siekte oor hom en ander gebring. Terwyl hy die dood voel nader kom het, het hy ’n groot skildery gemaak waarin hy blykbaar ‘lewe as ’n groot raaisel uitgebeeld het’. Weet jy wat Gauguin daardie skildery genoem het? “Waar kom ons vandaan? Wat is ons? Waar gaan ons heen?” Jy het ander moontlik al soortgelyke vrae hoor vra. Baie vra sulke vrae. Maar wat kan hulle doen as hulle geen bevredigende antwoorde—geen ware sin in die lewe—vind nie? Hulle kom miskien tot die gevolgtrekking dat hulle lewe nie veel van dié van diere verskil nie.—2 Petrus 2:12.a
7, 8. Waarom is wetenskaplike ondersoek op sigself nie voldoende nie?
7 Jy kan dus verstaan waarom iemand soos Freeman Dyson, ’n professor in fisika, kon skryf: “Ek is in goeie geselskap wanneer ek weer die vrae vra wat Job gevra het. Waarom ly ons? Waarom is die wêreld so onregverdig? Waarom is daar pyn en tragedie?” (Job 3:20, 21; 10:2, 18; 21:7). Soos ons gesê het, wend baie mense hulle tot die wetenskap vir antwoorde in plaas van tot God. Bioloë, oseanograwe en ander verbreed die mens se kennis van ons aarde en lewe daarop. Sterrekundiges en fisici, wat navorsing in ’n ander rigting doen, leer al hoe meer van ons sonnestelsel, die sterre en selfs verafgeleë sterrestelsels. (Vergelyk Genesis 11:6.) Tot watter redelike gevolgtrekkings kan sulke feite ons lei?
8 Party wetenskaplikes praat van die “verstand” van God of sy “handskrif” wat in die heelal geopenbaar word. Maar sien hulle dalk die kern van die saak oor die hoof? Die tydskrif Science het gesê: “Wanneer navorsers sê dat die kosmologie die ‘verstand’ of ‘handskrif’ van God openbaar, skryf hulle aan die Goddelike toe wat in werklikheid moontlik die minder belangrike aspek van die heelal is—die fisiese samestelling daarvan.” Trouens, fisikus en Nobelpryswenner Steven Weinberg het geskryf: “Hoe beter ’n mens die heelal verstaan, hoe sinloser lyk dit.”
9. Watter getuienis kan ons en ander help om aangaande die Skepper te leer?
9 Maar jy is dalk een van die miljoene wat die saak ernstig bestudeer het en wat besef dat ware sin in die lewe verband hou met kennis van die Skepper. Dink aan wat die apostel Paulus geskryf het: “Mense kan nie sê dat hulle God nie ken nie. Van die begin van die wêreld af kon mense sien watter soort persoon God is deur die dinge wat Hy gemaak het. Dit openbaar Sy krag wat ewigdurend is. Dit toon dat Hy God is” (Romeine 1:20, Holy Bible, New Life Version). Ja, daar is feite oor ons wêreld en oor ons wat mense kan help om die Skepper te erken en sodoende sin in die lewe te vind. Kom ons kyk na drie aspekte hiervan: die heelal om ons, die oorsprong van lewe en ons eie verstandelike vermoëns.
Redes om te glo
10. Waarom moet ons nadink oor die “begin”? (Genesis 1:1; Psalm 111:10, NW).
10 Hoe het ons heelal ontstaan? Jy weet dalk uit verslae oor ruimteteleskope en ruimteverkenning dat die meeste wetenskaplikes besef dat ons heelal nie altyd bestaan het nie. Dit het ’n begin gehad en is steeds aan die uitdy. Waarop dui dit? Luister na sterrekundige sir Bernard Lovell: “As die Heelal die een of ander tyd in die verlede eens in ’n feitlik singulêre toestand van oneindige kleinheid en oneindige digtheid was, moet ons vra wat daar voorheen was . . . Ons moet die probleem van ’n Begin oplos.”
11. (a) Hoe groot is die heelal? (b) Waarop dui die presisie in die heelal?
11 Die samestelling van ons heelal, ons aarde inkluis, weerspieël verbasende fyn instelling. Byvoorbeeld, twee merkwaardige eienskappe van ons son en ander sterre is langdurige doeltreffendheid en bestendigheid. Tans word daar geskat dat die sigbare heelal tussen 50 miljard (50 000 000 000) en 125 miljard sterrestelsels bevat. En ons Melkwegstelsel bevat miljarde der miljarde sterre. Dink nou hieraan: Ons weet dat die brandstof-en-lug-verhouding in ’n motorenjin kritiek is. As jy ’n motor het, sal jy dalk ’n opgeleide werktuigkundige vra om die enjin in te stel, sodat jou motor gladder en doeltreffender kan loop. As sulke fyn instelling belangrik is met ’n blote enjin, wat dan van die doeltreffende “brandende” son byvoorbeeld? Die betrokke sleutelkragte is presies ingestel sodat lewe op die aarde kan bestaan. Het dit net toevallig ontstaan? Job van die ou tyd is gevra: “Het jy die reëls aangekondig wat die hemele beheer of die natuurwette op die aarde vasgestel?” (Job 38:33, The New English Bible). Geen mens het nie. Waar kom die presisie dan vandaan?—Psalm 19:2.
12. Waarom is dit nie onredelik om te dink dat ’n magtige Intelligensie vir die skepping verantwoordelik is nie?
12 Kom dit dalk van iets of Iemand wat nie met die menseoog gesien kan word nie? Kom ons kyk na hierdie vraag in die lig van die moderne wetenskap. Die meeste sterrekundiges aanvaar nou dat daar uiters kragtige hemelliggame is—gravitasiekolke. Hierdie gravitasiekolke kan nie gesien word nie, tog is deskundiges daarvan oortuig dat hulle bestaan. Die Bybel sê eweneens dat daar in ’n ander ryk magtige skepsele is wat nie gesien kan word nie—geesskepsele. As sulke magtige, onsigbare wesens bestaan, is dit dan nie moontlik dat die presisie waarvan die ganse heelal getuig by ’n magtige Intelligensie ontstaan het nie?—Nehemia 9:6.
13, 14. (a) Wat het die wetenskap oor die oorsprong van lewe uitgevind? (b) Wat dui die bestaan van lewe op die aarde aan?
13 ’n Tweede bewysvoering wat mense kan help om ’n Skepper te aanvaar, hou verband met die oorsprong van lewe. Sedert die eksperimente van Louis Pasteur word daar aanvaar dat lewe nie deur selfontstaan uit niks voortkom nie. Hoe het lewe op aarde dan ontstaan? In die vyftigerjare het wetenskaplikes probeer bewys dat dit stadig in ’n vroeë oseaan kon ontwikkel het toe ’n oeratmosfeer herhaaldelik deur weerlig getref is. Onlangser getuienis toon egter dat dit onwaarskynlik is dat lewe op die aarde so ontstaan het omdat daardie soort atmosfeer nooit bestaan het nie. Gevolglik soek party wetenskaplikes na ’n verduideliking wat minder gebrekkig is. Maar slaan hulle nie ook die bal mis nie?
14 Nadat die Britse wetenskaplike sir Fred Hoyle die heelal en lewe daarin dekades lank bestudeer het, het hy gesê: “Dit wou voorkom of dit beter is om te veronderstel dat die oorsprong van lewe ’n doelbewuste intellektuele daad was as om die ongelooflike klein waarskynlikheid te aanvaar dat lewe weens toevallige natuurkragte ontstaan het.” Ja, hoe meer ’n mens oor die wonders van lewe leer, hoe logieser is dit dat lewe by ’n intelligente Bron ontstaan het.—Job 33:4; Psalm 8:4, 5; 36:10; Handelinge 17:28.
15. Waarom kan daar gesê word dat jy uniek is?
15 Die eerste bewysvoering hou dus verband met die heelal, en ’n tweede met die oorsprong van lewe op aarde. Nou kom ons by ’n derde een—ons uniekheid. Alle mense is in baie opsigte uniek, en dit beteken dat jy ook uniek is. Hoe so? Jy het waarskynlik al gehoor dat die brein met ’n kragtige rekenaar vergelyk is. Onlangse ontdekkings toon egter dat hierdie vergelyking eintlik verkeerd is. ’n Wetenskaplike by Massachusetts se Instituut vir Tegnologie het gesê: “Vandag se rekenaars kom nie eens naby ’n 4-jarige mens wat hulle vermoë betref om te sien, te praat, te beweeg of gesonde verstand te gebruik nie. . . . Daar is al geraam dat selfs die kragtigste superrekenaar se vermoë om inligting te verwerk gelyk is aan die senustelsel van ’n slak—’n klein fraksie van die vermoë waaroor die superrekenaar in [jou] skedel beskik.”
16. Waarop dui jou vermoë om ’n taal te praat?
16 Taal is ’n vermoë wat jy danksy jou brein het. Terwyl party mense twee, drie of meer tale praat, maak die vermoë om selfs net een te praat ons uniek (Jesaja 36:11; Handelinge 21:37-40). Professors R. S. en D. H. Fouts het gevra: “Kan slegs die mens . . . deur taal kommunikeer? . . . Al die hoër diere kommunikeer beslis deur middel van . . . gebare, reuke, fluite, roepe en sang, en selfs die gedans van die bye. Maar dit lyk nie of ander diere benewens die mens ’n saamgestelde grammatiese taal het nie. En iets wat moontlik baie betekenisvol is, is dat diere nie prente teken wat iets voorstel nie. Hulle krabbel net, en dit is al wat hulle kan doen.” Ja, slegs mense kan die brein gebruik om ’n taal te praat en sinvolle prente te teken.—Vergelyk Jesaja 8:1; 30:8; Lukas 1:3.
17. Watter belangrike verskil bestaan daar wanneer ’n dier in ’n spieël kyk en wanneer ’n mens dit doen?
17 Boonop het jy selfbewustheid; dit wil sê jy is bewus van jouself (Spreuke 14:10). Het jy al gesien hoe ’n voël, hond of kat in ’n spieël kyk en dan pik, grom of aanval? Hulle dink hulle sien ’n ander dier, want hulle herken hulleself nie. Wanneer jý daarenteen in ’n spieël kyk, weet jy dat dit jy is (Jakobus 1:23, 24). Jy kyk moontlik hoe jy lyk of wonder hoe jy oor ’n paar jaar sal lyk. Diere doen dit nie. Ja, jou brein maak jou uniek. Wie moet erkenning hiervoor ontvang? Hoe het jou brein ontstaan as God dit nie geskep het nie?
18. Watter verstandelike vermoëns onderskei jou van diere?
18 Jou brein stel jou ook in staat om kuns en musiek te waardeer sowel as om ’n sedelikheidsgevoel te hê (Exodus 15:20; Rigters 11:34; 1 Konings 6:1, 29-35; Matteus 11:16, 17). Waarom besit jý hierdie vermoë en nie die diere nie? Hulle gebruik hulle brein hoofsaaklik om in hulle onmiddellike behoeftes te voorsien—om kos te kry, ’n maat te vind of nes te maak. Net mense dink verder as die onmiddellike toekoms. Party dink selfs aan die uitwerking wat hulle dade jare later op die omgewing of hulle nageslag sal hê. Waarom? Prediker 3:11 (NW) sê van mense: “Selfs onbepaalde tyd het [die Skepper] in hulle hart gesit.” Ja, jou vermoë om oor die betekenis van onbepaalde tyd te dink of selfs om jou die ewige lewe voor te stel, is iets besonders.
Laat die Skepper jou lewe sinvoller maak
19. Watter drieledige redenasie kan jy gebruik om ander te help om oor die Skepper te dink?
19 Ons het slegs drie gebiede aangeraak: die presisie wat in die ontsaglike heelal gesien word, die oorsprong van lewe op die aarde en die onbetwisbare uniekheid van die mensebrein, met sy verskillende vermoëns. Waarop dui hierdie drie dinge? Hier is ’n redenasie wat jy kan gebruik om ander te help om tot ’n gevolgtrekking te kom. Jy kan begin deur te vra: Het die heelal ’n begin gehad? Die meeste sal saamstem dat dit wel ’n begin gehad het. Vra dan: Het daardie begin vanself plaasgevind of is dit teweeggebring? Die meeste mense erken dat die begin van die heelal teweeggebring is. Dit lei tot die laaste vraag: Is die begin teweeggebring deur iets wat ewig is of deur Iemand wat ewig is? Wanneer die punte op dié manier duidelik en logies aangebied word, kan baie mense gehelp word om tot die gevolgtrekking te kom: Daar moet ’n Skepper wees! Behoort ons nie ’n sinvolle lewe te kan lei as dit so is nie?
20, 21. Waarom is dit noodsaaklik dat ons die Skepper ken as ons ’n sinvolle lewe wil lei?
20 Ons hele bestaan, met inbegrip van ons sedelikheidsgevoel en die sedelikheid self, moet met die Skepper verbind word. Dr. Rollo May het geskryf: “Die enigste toereikende struktuur van sedelikheid is dié wat gebaseer is op die fundamentele betekenis van lewe.” Waar kan dit gevind word? Hy sê verder: “Die fundamentele struktuur is die natuur van God. Die beginsels van God is die beginsels wat die lewe van die begin van die skepping af tot die einde ten grondslag lê.”
21 Ons kan dus goed begryp waarom die psalmis nederig sowel as verstandig was toe hy die Skepper gesmeek het: “HERE, maak my u weë bekend; leer my u paaie. Lei my in u waarheid en leer my, want U is die God van my heil” (Psalm 25:4, 5). Namate die psalmis die Skepper beter leer ken het, sou sy lewe beslis sinvoller, doelgerigter en meer koersvas wees. Dit kan ook so met elkeen van ons wees.—Exodus 33:13.
22. Wat behels dit om die Skepper se weë te leer ken?
22 As ons die Skepper se “weë” leer ken, behels dit dat ons meer leer oor watter soort persoon hy is, oor sy persoonlikheid en sy weë. Maar hoe kan ons die Skepper beter leer ken, aangesien hy onsigbaar en ontsaglik kragtig is? Die volgende artikel sal dit bespreek.
[Voetnoot]
a Dr. Viktor E. Frankl het na aanleiding van ondervindinge in Nazi-konsentrasiekampe tot dié besef gekom: “Die mens se soeke na sin is ’n primêre krag in sy lewe en nie ’n ‘sekondêre rasionalisering’ van instinktiewe drifte”, soos in diere nie. Hy het bygevoeg dat ’n opname in Frankryk wat dekades ná die Tweede Wêreldoorlog gedoen is, “getoon het dat 89% van die mense wat ondervra is, erken het dat die mens vir ‘iets’ moet lewe”.
Hoe sal jy antwoord?
◻ Waarom het ons meer as net wetenskaplike inligting oor ons heelal nodig?
◻ Waarna kan jy verwys om ander aan die Skepper te laat dink?
◻ Waarom is kennis van die Skepper ’n sleutel tot ’n bevredigende, sinvolle lewe?
[Diagram/Prent op bladsy 18]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Tot watter gevolgtrekking kom jy?
Ons heelal
↓ ↓
Het geen Het ’n begin
begin gehad nie gehad↓ ↓
Het vanself ontstaan Is geskep
↓ ↓
Deur IETS Deur IEMAND
wat ewig is wat ewig is
[Prent op bladsy 15]
Die uitgestrektheid van die heelal en die presisie wat daarin weerspieël word, het baie mense aan die Skepper laat dink
[Erkenning]
Bladsye 15 en 18: Jeff Hester (Arizona State University) and NASA