Hoofstuk 21
Jehovah se plae oor die Christendom
Visioen 5—Openbaring 8:1–9:21
Onderwerp: Ses van die sewe trompetstote
Tyd van vervulling: Vandat Christus Jesus in 1914 op die troon geplaas is tot die groot verdrukking
1. Wat gebeur wanneer die Lam die sewende seël oopmaak?
“DIE vier winde” is teruggehou totdat die 144 000 lede van geestelike Israel verseël en die groot menigte vir oorlewing goedgekeur is (Openbaring 7:1-4, 9). Maar voordat daardie hewige storm oor die aarde losbars, moet Jehovah se ongunstige oordele teen Satan se wêreld ook bekend gemaak word! Wanneer die Lam die sewende en laaste seël oopmaak, kyk Johannes ongetwyfeld belangstellend toe om te sien wat gaan gebeur. Hy vertel ons nou van sy ondervinding: “En toe hy [die Lam] die sewende seël oopmaak, het ’n stilte in die hemel gekom, omtrent ’n halfuur lank. En ek het die sewe engele gesien wat voor God staan, en sewe trompette is vir hulle gegee.”—Openbaring 8:1, 2.
’n Tyd vir vurige gebed
2. Wat vind plaas gedurende die simboliese halfuur van stilte in die hemel?
2 Dit is ’n betekenisvolle stilte! ’n Halfuur kan soos ’n lang tyd voel wanneer jy wag dat iets moet gebeur. Nou word selfs die voortdurende hemelse loflied nie meer gehoor nie (Openbaring 4:8). Waarom nie? Johannes sien die rede in sy visioen: “En ’n ander engel het daar aangekom en by die altaar gaan staan met ’n goue reukwerkhouer; en ’n groot hoeveelheid reukwerk is vir hom gegee om dit saam met die gebede van al die heiliges op die goue altaar te offer wat voor die troon was. En die rook van die reukwerk het saam met die gebede van die heiliges uit die hand van die engel opgestyg voor God.”—Openbaring 8:3, 4.
3. (a) Waaraan herinner die brand van reukwerk ons? (b) Wat is die doel van die halfuur van stilte in die hemel?
3 Dit herinner ons daaraan dat reukwerk onder die Joodse stelsel van dinge daagliks by die tabernakel en, in latere jare, by die tempel in Jerusalem gebrand is (Eksodus 30:1-8). Wanneer hierdie reukwerk gebrand is, het die niepriesterlike Israeliete buite die heilige gebied gewag en—ongetwyfeld stil, in hulle harte—gebid tot die Een na wie die rook van die reukwerk opgestyg het (Lukas 1:10). Johannes sien nou hoe iets soortgelyks in die hemel gebeur. Die reukwerk wat deur die engel geoffer word, hou verband met “die gebede van die heiliges”. Trouens, in ’n vroeëre visioen is daar gesê dat reukwerk sulke gebede verteenwoordig (Openbaring 5:8; Psalm 141:1, 2). Die doel van die simboliese stilte in die hemel is dus blykbaar sodat die gebede van die heiliges wat op die aarde is, gehoor kan word.
4, 5. Watter geskiedkundige verwikkelinge help ons om vas te stel watter tydperk met die simboliese halfuur van stilte ooreenstem?
4 Kan ons vasstel wanneer dit gebeur het? Ja, ons kan, deur die konteks tesame met geskiedkundige verwikkelinge vroeg in die dag van die Here te ondersoek (Openbaring 1:10). Gedurende 1918 en 1919 was daar ’n merkwaardige ooreenkoms tussen gebeure op die aarde en die scenario wat in Openbaring 8:1-4 beskryf word. Gedurende die 40 jaar voor 1914 het die Bybelstudente—soos Jehovah se Getuies destyds bekend gestaan het—met vrymoedigheid aangekondig dat die tye van die nasies in daardie jaar sou eindig. Die rampspoedige gebeure van 1914 het bewys dat hulle reg was (Lukas 21:24; Matteus 24:3, 7, 8). Maar baie van hulle het ook geglo dat hulle in 1914 van hierdie aarde af na hulle hemelse erfenis geneem sou word. Dit het nie gebeur nie. Pleks daarvan het hulle gedurende die Eerste Wêreldoorlog ’n tyd van hewige vervolging deurgemaak. Op 31 Oktober 1916 is die eerste president van die Wagtoringgenootskap, Charles T. Russell, oorlede. Toe, op 4 Julie 1918, is die nuwe president, Joseph F. Rutherford, en sewe ander verteenwoordigers van die Genootskap na die strafgevangenis in Atlanta, Georgia, geneem nadat hulle ten onregte tot baie jare gevangenisstraf gevonnis is.
5 Die opregte Christene van die Johannes-klas was verward. Wat het God nou van hulle verlang? Wanneer sou hulle hemel toe geneem word? ’n Artikel met die titel “Die oes het geëindig—Wat sal volg?” het in The Watch Tower van 1 Mei 1919 verskyn. Dit het hierdie toestand van onsekerheid weerspieël en die getroues aangespoor om te bly volhard en bygevoeg: “Ons glo dat daar nou tereg gesê kan word dat die insameling van die koninkryksklas ’n voldonge feit is, dat al sulke persone reeds verseël is en dat die deur toe is.” Gedurende hierdie moeilike tydperk het die vurige gebede van die Johannes-klas opgestyg, asof in die rook van ’n groot hoeveelheid reukwerk. En hulle gebede is verhoor!
Vuur word na die aarde geslinger
6. Wat gebeur ná die stilte in die hemel, en in antwoord waarop?
6 Johannes sê vir ons: “Maar die engel het dadelik die reukwerkhouer geneem, en hy het dit met vuur van die altaar gevul en dit na die aarde geslinger. En daar het donderslae gekom en stemme en weerligstrale en ’n aardbewing” (Openbaring 8:5). Ná die stilte is daar meteens dramatiese bedrywigheid! Dit is blykbaar in antwoord op die gebede van die heiliges, aangesien dit veroorsaak word deur vuur wat van die reukaltaar geneem is. In 1513 v.G.J., by die berg Sinai, het donderslae en weerligstrale, ’n harde geluid, vuur en ’n skudding van die berg aangedui dat Jehovah sy aandag op sy volk rig (Eksodus 19:16-20). Net so dui die soortgelyke verskynsels waarvan Johannes vertel, aan dat Jehovah aandag skenk aan sy knegte op die aarde. Maar wat Johannes sien, word in tekens oorgedra (Openbaring 1:1). Hoe moet die simboliese vuur, donderslae, stemme, weerligstrale en aardbewing dan vandag vertolk word?
7. (a) Watter simboliese vuur het Jesus gedurende sy bediening op die aarde aangesteek? (b) Hoe het Jesus se geestelike broers ’n vuur in die Christendom aangesteek?
7 Jesus het by een geleentheid vir sy dissipels gesê: “Ek het gekom om ’n vuur op die aarde te maak” (Lukas 12:49). Hy het inderdaad ’n vuur aangesteek. Deur sy ywerige predikingswerk het Jesus God se Koninkryk die vernaamste geskil voor die Joodse volk gemaak, en dit het vurige getwis dwarsdeur daardie nasie laat ontstaan (Matteus 4:17, 25; 10:5-7, 17, 18). In 1919 het Jesus se geestelike broers op die aarde, die groepie gesalfde Christene wat die moeilike dae van die Eerste Wêreldoorlog oorleef het, ’n soortgelyke vuur in die Christendom aangesteek. In September van daardie jaar was Jehovah se gees baie duidelik te sien toe sy lojale Getuies van heinde en verre in Cedar Point, Ohio, VSA, vergader het. Joseph F. Rutherford, wat pas tevore uit die gevangenis vrygelaat is en kort daarna sou sien dat alle aanklagte teen hom teruggetrek word, het hierdie byeenkoms met vrymoedigheid toegespreek en gesê: “In gehoorsaamheid aan die bevel van ons Heer, en ter erkenning van ons voorreg en plig om oorlog te voer teen die vestings van dwaling wat die mense al so lank in slawerny hou, was en is ons roeping om die inkomende glorieryke koninkryk van die Messias aan te kondig.” Dit is die primêre geskil—God se Koninkryk!
8, 9. (a) Hoe het J. F. Rutherford die gesindheid en begeerte van God se volk gedurende die moeilike oorlogsjare beskryf? (b) Hoe is vuur na die aarde geslinger? (c) Hoe was daar donderslae, stemme, weerligstrale en ’n aardbewing?
8 Met verwysing na die onlangse beproewinge van God se volk het die spreker gesê: “So meedoënloos was die vyand se aanval dat baie lede van die Here se dierbare kudde verbysterd was en in verstomming stilgestaan het, terwyl hulle gebid en gewag het dat die Here sy wil moet aandui. . . . Maar ondanks die kortstondige ontmoediging was daar ’n brandende begeerte om die boodskap van die koninkryk te verkondig.”—Sien The Watch Tower van 15 September 1919, bladsy 280.
9 Daardie begeerte is in 1919 bevredig. Hierdie klein maar bedrywige groepie Christene is in geestelike sin aan die brand gesteek om ’n wêreldwye verkondigingsveldtog aan te pak. (Vergelyk 1 Tessalonisense 5:19.) Vuur is na die aarde geslinger in die sin dat God se Koninkryk die brandende geskil gemaak is, wat dit nog steeds is! Sterk stemme het stilte vervang en die Koninkryksboodskap met helderheid verkondig. Dawerende stormwaarskuwings uit die Bybel het weerklink. Helder strale van waarheid het soos weerligstrale uit Jehovah se profetiese Woord geskyn, en die fondamente van die godsdiensryk is geskud, asof deur ’n sterk aardbewing. Die Johannes-klas het gesien dat daar vir hulle werk is. En daardie werk brei vandag nog steeds op glorieryke wyse oor die hele bewoonde aarde uit!—Romeine 10:18.
Engele maak hulle gereed om
op die trompette te blaas
10. Wat maak die sewe engele hulle gereed om te doen, en waarom?
10 Johannes sê verder: “En die sewe engele met die sewe trompette het hulle gereedgemaak om daarop te blaas” (Openbaring 8:6). Wat beteken dit wanneer daar op hierdie trompette geblaas word? In die dae van Israel is belangrike dae of merkwaardige gebeurtenisse deur ’n trompetgeskal aangekondig (Levitikus 23:24; 2 Konings 11:14). Net so sal die trompetstote wat Johannes gaan hoor, die aandag op lewensbelangrike sake vestig.
11. Met watter voorbereidingswerk op die aarde was die Johannes-klas van 1919 tot 1922 druk besig?
11 Terwyl die engele hulle gereedgemaak het om op hierdie trompette te blaas, het hulle ongetwyfeld ook ’n voorbereidingswerk op die aarde gerig. Van 1919 tot 1922 was die verlewendigde Johannes-klas besig om die openbare bediening te herorganiseer en uitgewersfasiliteite op te bou. In 1919 het die tydskrif The Golden Age, vandag bekend as Ontwaak!, die lig gesien as “’n blad van feite, hoop en oortuiging”—’n trompetagtige instrument wat ’n sleutelrol sou speel in die blootlegging van valse godsdiens se politieke betrokkenheid.
12. Wat kondig elke trompetstoot aan, en aan watter gebeure in Moses se dag laat dit ons dink?
12 Soos ons nou sal sien, kondig elkeen van die trompetstote ’n dramatiese toneel aan waarin verskriklike plae dele van die aarde tref. Party hiervan laat ons aan die plae dink wat Jehovah gestuur het om die Egiptenaars in Moses se dag te straf (Eksodus 7:19–12:32). Dié plae was uitinge van Jehovah se oordeel oor daardie nasie en het dit vir God se volk moontlik gemaak om aan slawerny te ontkom. Die plae wat Johannes sien, bring iets soortgelyks tot stand. Maar dit is nie letterlike plae nie. Dit is tekens wat Jehovah se regverdige oordele simboliseer.—Openbaring 1:1.
Wat die “derde” beteken
13. Wat gebeur wanneer daar op die eerste vier trompette geblaas word, en watter vraag laat dit ontstaan?
13 Soos ons sal sien, word plae oor “’n derde” van die aarde, van die see, van die riviere en waterfonteine en van die aarde se ligbronne uitgestort wanneer daar op die eerste vier trompette geblaas word (Openbaring 8:7-12). ’n Derde is ’n aansienlike deel van iets, maar nie alles nie. (Vergelyk Jesaja 19:24; Esegiël 5:2; Sagaria 13:8, 9.) Watter “derde” sal dus hierdie plae die meeste verdien? Die oorgrote meerderheid van die mensdom is deur Satan en sy saad verblind en verderf (Genesis 3:15; 2 Korintiërs 4:4). Die situasie is soos Dawid dit beskryf het: “Hulle het almal afgewyk, hulle is almal tesame verdorwe; daar is niemand wat goed doen nie, nie eers een nie” (Psalm 14:3). Ja, die hele mensdom loop gevaar om ’n ongunstige oordeel te ontvang. Maar een deel daarvan is besonder skuldig. Een deel—“’n derde”—moes van beter geweet het! Wat is hierdie “derde”?
14. Wat is die simboliese derde wat die teisterende boodskappe van Jehovah ontvang?
14 Dit is die Christendom! In die 1920’s het haar ryk ongeveer ’n derde van die mensdom omvat. Haar godsdiens is die vrug van die groot afvalligheid van die ware Christelike godsdiens—die afvalligheid wat Jesus en sy dissipels voorspel het (Matteus 13:24-30; Handelinge 20:29, 30; 2 Tessalonisense 2:3; 2 Petrus 2:1-3). Die geestelikes van die Christendom beweer dat hulle in God se tempel is en het hulle as leraars van die Christelike godsdiens voorgedoen. Maar hulle leerstellings verskil hemelsbreed van Bybelwaarheid, en hulle bring God se naam voortdurend in minagting. Die Christendom, wat gepas deur die simboliese derde voorgestel word, ontvang sterk, teisterende boodskappe van Jehovah. Hierdie derde van die mensdom verdien hoegenaamd geen goddelike guns nie!
15. (a) Is elkeen van die trompetstote tot ’n spesifieke jaar beperk? Verduidelik. (b) Wie se stem is by dié van die Johannes-klas gevoeg om Jehovah se oordele te verkondig?
15 Ooreenkomstig die feit dat daar ’n reeks trompetstote is, was spesiale resolusies ’n kenmerk van sewe byeenkomste van 1922 tot 1928. Maar die trompetstote was nie beperk tot daardie jare nie. Namate die dag van die Here vorder, word die Christendom se goddelose weë voortdurend en onafgebroke kragtig blootgelê. Jehovah se oordele moet ondanks internasionale haat en vervolging wyd en syd, aan alle nasies, verkondig word. Eers dan breek die einde van Satan se stelsel aan (Markus 13:10, 13). Gelukkig het die groot menigte nou hulle stem by dié van die Johannes-klas gevoeg om hierdie dawerende verklarings van wêreldbelang te doen.
’n Derde van die aarde word verbrand
16. Wat gebeur wanneer die eerste engel op sy trompet blaas?
16 Johannes skryf van die engele: “En die eerste het op sy trompet geblaas. En daar het hael en vuur gemeng met bloed gekom, en dit is na die aarde geslinger; en ’n derde van die aarde is verbrand, en ’n derde van die bome is verbrand, en al die groen plantegroei is verbrand” (Openbaring 8:7). Dit kom ooreen met die sewende plaag oor Egipte, maar wat beteken dit vir ons tyd?—Eksodus 9:24.
17. (a) Wat beteken die woord “aarde” in Openbaring 8:7? (b) Hoe word die Christendom se derde van die aarde verbrand?
17 In die Bybel verwys die woord “aarde” dikwels na die mensdom (Genesis 11:1; Psalm 96:1). Aangesien die tweede plaag oor die see is, wat ook met die mensdom te doen het, moet “die aarde” verwys na die skynbaar bestendige mensegemeenskap wat Satan opgebou het en wat vernietig gaan word (2 Petrus 3:7; Openbaring 21:1). Die plaagscenario toon dat die Christendom se derde van die aarde verskroei word deur die versengende hitte van Jehovah se misnoeë. Haar prominente lede—wat soos bome in haar midde staan—word verbrand deur die verkondiging van Jehovah se ongunstige oordeel. As die Christendom se honderdmiljoene kerklidmate voortgaan om haar godsdiens te ondersteun, word hulle almal soos verskroeide grashalms, geestelik verlep in God se oë.—Vergelyk Psalm 37:1, 2.a
18. Hoe is Jehovah se oordeelsboodskap by die byeenkoms in 1922 in Cedar Point verkondig?
18 Hoe word hierdie oordeelsboodskap oorgedra? Gewoonlik nie deur die wêreld se nuusmedia, wat deel van die wêreld is en God se “slaaf” dikwels smaad nie (Matteus 24:45). Dit is op ’n merkwaardige wyse verkondig by die tweede geskiedkundige byeenkoms van God se volk in Cedar Point, Ohio, op 10 September 1922. Hulle het eenparig en geesdriftig ’n resolusie met die titel “’n Uitdaging aan wêreldleiers” aangeneem. In ondubbelsinnige terme het dit die volgende reguit waarskuwing aan die hedendaagse simboliese aarde gerig: “Ons doen derhalwe ’n beroep op die nasies van die aarde, hulle heersers en leiers, en op al die geestelikes van al die konfessionele kerke van die aarde, hulle volgelinge en bondgenote, die wêreldhandel en die invloedryke politici, om bewyse te lewer ter regverdiging van hulle standpunt dat hulle vrede en voorspoed op die aarde kan bewerkstellig en vir die mense geluk kan bring; en as hulle dit nie kan doen nie, doen ons ’n beroep op hulle om gehoor te gee aan die getuienis wat ons as getuies vir die Here gee, en laat hulle dan sê of ons getuienis waar is of nie.”
19. Watter getuienis aangaande God se Koninkryk het God se volk aan die Christendom gegee?
19 Watter getuienis het hierdie Christene gegee? Dit: “Ons glo en verklaar dat die Messias se koninkryk die volmaakte geneesmiddel vir al die kwale van die mensdom is en vrede op die aarde en welwillendheid aan mense, die begeerte van alle nasies, sal teweegbring; dat dié wat hulle nou gewillig onderwerp aan sy regverdige heerskappy wat reeds begin het, met blywende vrede, lewe, vryheid en eindelose geluk geseën sal word.” In hierdie verdorwe tye, wanneer mensgemaakte regerings, veral dié in die Christendom, hopeloos misluk in hulle pogings om die mensdom se probleme op te los, weerklink hierdie uitdagende trompetstoot selfs kragtiger as in 1922. Hoe waar is dit tog dat God se Koninkryk in die hande van sy oorwinnende Christus die mensdom se enigste hoop is!
20. (a) Deur middel waarvan is oordeelsboodskappe in 1922 en daarna deur die gemeente van gesalfde Christene uitgebasuin? (b) Wat het as gevolg van die eerste trompetstoot in die Christendom gebeur?
20 Deur middel van resolusies, traktate, boekies, boeke, tydskrifte en toesprake is hierdie en latere verklarings deur die gemeente van gesalfde Christene uitgebasuin. Die eerste trompetstoot het tot gevolg gehad dat die Christendom geslaan word asof met die verharde water van ’n swaar haelbui. Haar bloedskuld, weens haar aandeel aan die oorloë van die 20ste eeu, is geopenbaar, en daar is getoon dat sy die vurige uiting van Jehovah se gramskap verdien. Die Johannes-klas, wat later deur die groot menigte ondersteun is, het aangehou om die eerste trompetstoot te laat weerklink en so die aandag op Jehovah se beskouing van die Christendom te vestig, naamlik dat sy vernietiging verdien.—Openbaring 7:9, 15.
Soos ’n brandende berg
21. Wat gebeur wanneer die tweede engel op sy trompet blaas?
21 “En die tweede engel het op sy trompet geblaas. En iets soos ’n groot berg wat met vuur brand, is in die see geslinger. En ’n derde van die see het bloed geword; en ’n derde van die skepsele in die see wat ’n siel het, het gesterf, en ’n derde van die bote het vergaan” (Openbaring 8:8, 9). Wat beeld hierdie skrikwekkende toneel af?
22, 23. (a) Watter resolusie was ongetwyfeld die gevolg van die tweede trompetstoot? (b) Wat word deur “’n derde van die see” voorgestel?
22 Ons kan dit die beste verstaan teen die agtergrond van die byeenkoms van Jehovah se volk wat op 18-26 Augustus 1923 in Los Angeles, Kalifornië, VSA, gehou is. Die hooftoespraak wat Saterdagmiddag deur J. F. Rutherford gehou is, het gehandel oor die onderwerp “Skape en bokke”. Die “skape” is duidelik geïdentifiseer as die regverdiggesindes wat die aardse ryk van God se Koninkryk sou beërf. ’n Resolusie wat daarop gevolg het, het die aandag gevestig op die huigelary van “afvallige geestelikes en ‘die vernaamste lede van hulle kuddes’, naamlik wêreldse mense met groot finansiële en politieke invloed”. Dit het ’n beroep gedoen op die “menigte mense in die konfessionele kerke wat vrede en orde liefhet . . . om hulle te onttrek aan die onregverdige kerkstelsels wat deur die Here as ‘Babilon’ bestempel word” en om hulle gereed te maak “om die seëninge van God se koninkryk te ontvang”.
23 Hierdie resolusie was ongetwyfeld die gevolg van die tweede trompetstoot. Dié wat met verloop van tyd aan daardie boodskap gehoor sou gee, sou hulle afskei van dié wat Jesaja met hierdie woorde beskryf het: “Maar die goddeloses is soos die onstuimige see, wanneer dit nie tot bedaring kan kom nie, waarvan die waters seegras en modder bly opgooi” (Jesaja 57:20; 17:12, 13). “Die see” is dus ’n goeie afbeelding van die rustelose, onstabiele en opstandige mensdom wat onrus en revolusie aanstook. (Vergelyk Openbaring 13:1.) Die tyd sal aanbreek wanneer hierdie “see” nie meer sal bestaan nie (Openbaring 21:1). Intussen spreek Jehovah, met die tweede trompetstoot, oordeel uit oor ’n derde daarvan—die onstuimige deel wat in die ryk van die Christendom self is.
24. Wat word afgebeeld deur die brandende bergagtige massa wat in die see geslinger is?
24 ’n Groot bergagtige massa wat met vuur brand, word in hierdie “see” geslinger. In die Bybel simboliseer berge dikwels regerings. God se Koninkryk word byvoorbeeld as ’n berg uitgebeeld (Daniël 2:35, 44). Verderflike Babilon het ’n “uitgebrande berg” geword (Jeremia 51:25). Maar die bergagtige massa wat Johannes sien, brand nog steeds. Die feit dat dit in die see geslinger word, is ’n goeie afbeelding van hoe heerskappy gedurende en ná die Eerste Wêreldoorlog ’n brandende geskil onder die mensdom geword het, veral in die lande van die Christendom. In Italië het Mussolini Fascisme ingevoer. Duitsland het Hitler se Nazisme aangeneem, terwyl ander lande verskeie vorme van sosialisme op die proef gestel het. ’n Drastiese verandering het in Rusland plaasgevind, waar die Bolsjewistiese revolusie die eerste Kommunistiese staat opgelewer het, met die gevolg dat godsdiensleiers van die Christendom mag en invloed in een van hulle voormalige vestings verloor het.
25. Hoe was heerskappy ná die Tweede Wêreldoorlog nog steeds ’n brandende geskil?
25 Die eksperimente met Fascisme en Nazisme is deur die Tweede Wêreldoorlog beëindig, maar heerskappy was nog steeds ’n brandende geskil, en die mense-see het aangehou om te kolk en om nuwe revolusionêre regerings voort te bring. In die dekades ná 1945 is hierdie regerings op baie plekke, soos China, Viëtnam, Kuba en Nicaragua, ingestel. In Griekeland het ’n eksperiment met militêre diktatorskap misluk. In Kampuchea (Kambodja) het ’n proefneming met fundamentalistiese Kommunisme volgens berig meer as tweemiljoen lewens geëis.
26. Hoe het die “berg wat met vuur brand” opskuddings in die see van die mensdom bly veroorsaak?
26 Daardie “berg wat met vuur brand”, het opskuddings in die see van die mensdom bly veroorsaak. Daar was berigte van konflikte oor heerskappy in Afrika, die Amerikas, Asië en die eilande van die Stille Oseaan. Baie van hierdie konflikte het plaasgevind in lande van die Christendom of waar die Christendom se sendelinge aktiviste geword het. Rooms-Katolieke priesters het selfs by Kommunistiese guerrillagroepe aangesluit en as lede daarvan geveg. Terselfdertyd het Protestantse evangeliese groepe hulle in Sentraal-Amerika daarop toegelê om ’n teenwig te vorm vir wat hulle die Kommuniste se “wrede en meedoënlose dors na mag” genoem het. Maar nie een van hierdie beroeringe in die see van die mensdom het vrede en veiligheid gebring nie.—Vergelyk Jesaja 25:10-12; 1 Tessalonisense 5:3.
27. (a) Hoe het “’n derde van die see” soos bloed geword? (b) Hoe het “’n derde van die skepsele in die see” gesterf, en wat gaan met “’n derde van die bote” gebeur?
27 Die tweede trompetstoot openbaar dat mense wat by revolusionêre konflikte oor heerskappy betrokke geraak het in plaas van hulle aan God se Koninkryk te onderwerp, bloedskuldig is. Veral die Christendom se “derde van die see” het soos bloed geword. Alle lewende dinge daarin is in God se oë dood. Nie een van die radikale organisasies wat soos bote op daardie derde van die see dryf, kan uiteindelike skipbreuk vermy nie. Hoe bly is ons tog dat miljoene sagmoedige mense nou ag geslaan het op die trompetagtige oproep om hulle af te skei van dié wat hulle nog steeds in die bekrompe nasionalisme en bloedskuld van daardie see bevind!
’n Ster val uit die hemel
28. Wat gebeur wanneer die derde engel op sy trompet blaas?
28 “En die derde engel het op sy trompet geblaas. En ’n groot ster wat soos ’n lamp brand, het uit die hemel geval, en dit het op ’n derde van die riviere en op die waterfonteine geval. En die naam van die ster word genoem Als. En ’n derde van die waters het in als verander, en baie van die mense het van die waters gesterf, want dit is bitter gemaak” (Openbaring 8:10, 11). Weer eens help ander dele van die Bybel ons om te sien hoe hierdie teks in die dag van die Here van toepassing is.
29. Wat vervul die simboliek van “’n groot ster wat soos ’n lamp brand”, en waarom?
29 Ons het reeds die simboliek van ’n ster in Jesus se boodskappe aan die sewe gemeentes teëgekom, waarin die sewe sterre die ouer manne in die gemeentes simboliseer (Openbaring 1:20).b Vanaf die tyd dat hulle met die heilige gees verseël word as ’n pand van hulle hemelse erfenis, woon gesalfde “sterre”, tesame met al die ander gesalfdes, in geestelike sin in hemelse plekke (Efesiërs 2:6, 7). Maar die apostel Paulus het gewaarsku dat daar uit die midde van hierdie sterre afvalliges, sektariërs, sou kom wat die kudde sou mislei (Handelinge 20:29, 30). Sulke ontrouheid sou ’n groot afvalligheid tot gevolg hê, en hierdie gevalle ouer manne sou ’n saamgestelde mens van wetteloosheid uitmaak wat homself tot ’n goddelike posisie onder die mensdom sou verhef (2 Tessalonisense 2:3, 4). Paulus se waarskuwings is vervul toe die geestelikes van die Christendom op die wêreldtoneel verskyn het. Hierdie groep word gepas voorgestel deur die simbool van “’n groot ster wat soos ’n lamp brand”.
30. (a) Wat is bedoel toe die koning van Babilon aangespreek is as een wat uit die hemel geval het? (b) Waarna kan ’n val uit die hemel verwys?
30 Johannes sien hierdie spesifieke ster uit die hemel val. Hoe? Die ervarings van ’n eertydse koning help ons om dit te verstaan. Jesaja het met die koning van Babilon gepraat en gesê: “Hoe het jy uit die hemel geval, o glansende, o seun van die dagbreek! Hoe is jy teen die aarde neergevel, jy wat die nasies magteloos gemaak het!” (Jesaja 14:12). Hierdie profesie is vervul toe Babilon deur Kores se leërs omvergewerp is en sy koning skielik geval het van wêreldheerskappy tot ’n skandelike nederlaag. ’n Val uit die hemel kan dus daarna verwys dat iemand ’n hoë posisie verloor en in skande verval.
31. (a) Wanneer het die geestelikes van die Christendom uit ’n “hemelse” posisie geval? (b) Hoe het die waters wat die geestelikes opgedis het, in “als” verander, en met watter gevolg vir baie?
31 Toe die geestelikes van die Christendom van die ware Christelike godsdiens afvallig geraak het, het hulle geval uit die verhewe “hemelse” posisie wat Paulus in Efesiërs 2:6, 7 beskryf het. In plaas van vars waters van waarheid aan te bied, het hulle “als” opgedis, bitter leuens soos die helse vuur, die vaevuur, die Drie-eenheid en voorbeskikking; hulle het die nasies ook na oorlog gelei en versuim om hulle as morele knegte van God op te bou. Die gevolg? Geestelike vergiftiging van dié wat die leuens geglo het. Hulle geval was soortgelyk aan dié van die ontroue Israeliete van Jeremia se dag, vir wie Jehovah gesê het: “Kyk, ek laat hulle als eet, en ek sal hulle gifwater gee om te drink. Want van die profete van Jerusalem af het afvalligheid oor die hele land uitgegaan.”—Jeremia 9:15; 23:15.
32. Wanneer het die Christendom se val uit die geestelike hemele duidelik geword, en hoe is dit gedramatiseer?
32 Hierdie val uit die geestelike hemele het in 1919 duidelik geword toe die klein oorblyfsel van gesalfde Christene, en nie die Christendom se geestelikes nie, oor die Koninkryksbelange aangestel is (Matteus 24:45-47). En van 1922 af is hierdie val gedramatiseer toe dié groep Christene hulle veldtog hervat het om die tekortkominge van die geestelikes van die Christendom openlik bloot te lê.
33. Hoe is die geestelikes van die Christendom by die byeenkoms in 1924 in Columbus, Ohio, VSA, ontmasker?
33 Opmerkenswaardig in hierdie verband was die aankondiging wat gedoen is by die byeenkoms wat The Golden Age beskryf het as “die grootste byeenkoms van Bybelstudente wat tot nog toe gehou is”. Hierdie byeenkoms het op 20-27 Julie 1924 in Columbus, Ohio, plaasgevind. Ongetwyfeld onder leiding van die engel wat op die derde trompet geblaas het, is ’n kragtige resolusie daar aangeneem, waarvan 50 miljoen eksemplare later as ’n traktaat versprei is. Dit is uitgegee onder die titel Ecclesiastics Indicted (Aanklag teen die geestelikes). ’n Tussenhofie het die geskil na vore gebring: “Die saad van die belofte versus die saad van die slang.” Die Aanklag self het die Christendom se geestelikes volledig ontmasker met betrekking tot sake soos hulle aanvaarding van hoogdrawende godsdienstitels, die feit dat hulle handelsreuse en beroepspolitici die vernaamste lede van hulle kuddes maak, dat hulle vernaam wil wees in die oë van mense en dat hulle weier om die boodskap van die Messias se Koninkryk aan die mense te verkondig. Dit het beklemtoon dat elke toegewyde Christen deur God aangestel word om “die dag van die wraak van ons God” te verkondig en “om al die treurendes te vertroos”.—Jesaja 61:2.
34, 35. (a) Wat het met die geestelikes se mag en invloed gebeur sedert die derde engel op sy trompet begin blaas het? (b) Wat hou die toekoms in vir die Christendom se geestelikes?
34 Sedert die derde engel op sy trompet begin blaas het, het die geestelikes se oorheersing van die mensdom geleidelik afgeneem, sodat baie min van hulle vandag nog die byna godgelyke mag het wat hulle in vroeëre eeue geniet het. Danksy die predikingswerk van Jehovah se Getuies het groot getalle mense besef dat baie leerstellings wat deur die geestelikes verkondig word, geestelike gif—“als”—is. Verder is die geestelikes se mag in Noord-Europa byna uitgeput, terwyl die staat in party ander lande hulle invloed streng beperk. In Katolieke dele van Europa en in die Amerikas het die geestelikes se skandelike gedrag in geldelike, politieke en sedelike sake hulle reputasie beklad. Van nou af kan hulle posisie net vererger, aangesien hulle binnekort dieselfde einde as alle ander valse godsdiensbeoefenaars sal hê.—Openbaring 18:21; 19:2.
35 Jehovah se plae oor die Christendom is nog nie klaar nie. Kyk wat ná die vierde trompetstoot gebeur.
Duisternis!
36. Wat gebeur nadat die vierde engel op sy trompet geblaas het?
36 “En die vierde engel het op sy trompet geblaas. En ’n derde van die son en ’n derde van die maan en ’n derde van die sterre is getref, sodat ’n derde van hulle verduister sou word en die dag vir ’n derde daarvan nie verlig sou word nie, en so ook die nag” (Openbaring 8:12). Die negende plaag oor Egipte was ’n plaag van letterlike duisternis (Eksodus 10:21-29). Maar wat is hierdie simboliese duisternis wat as ’n plaag oor mense kom?
37. Hoe beskryf die apostels Petrus en Paulus die geestelike toestand van diegene buite die Christengemeente?
37 Die apostel Petrus het vir mede-Christene gesê dat hulle in geestelike sin in duisternis was voordat hulle Christene geword het (1 Petrus 2:9). Paulus het ook die woord “duisternis” gebruik om die geestelike toestand van diegene buite die Christengemeente te beskryf (Efesiërs 5:8; 6:12; Kolossense 1:13; 1 Tessalonisense 5:4, 5). Maar wat van diegene in die Christendom wat beweer dat hulle in God glo en wat sê dat hulle Jesus as hulle Redder aanvaar?
38. Watter feit omtrent die Christendom se “lig” basuin die vierde engel uit?
38 Jesus het gesê dat ware Christene aan hulle vrugte herken sou word en dat baie wat beweer dat hulle sy volgelinge is, “werkers van wetteloosheid” sou wees (Matteus 7:15-23). Niemand wat kyk na die vrugte van die derde van die wêreld wat uit die Christendom bestaan, kan ontken dat sy in groot geestelike duisternis rondtas nie (2 Korintiërs 4:4). Sy is die laakbaarste, want sy beweer dat sy Christelik is. Dit is gevolglik gepas dat die vierde engel die feit uitbasuin dat die Christendom se “lig” in werklikheid duisternis is en dat haar bronne van “lig” Babilonies—nie-Christelik—is.—Markus 13:22, 23; 2 Timoteus 4:3, 4.
39. (a) Hoe het die resolusie wat by die byeenkoms in 1925 aangeneem is, die Christendom se valse lig beskryf? (b) Watter verdere ontmaskering is in 1955 gedoen?
39 Ooreenkomstig daardie hemelse aankondiging het ’n maksimum opkoms van God se volk op 29 Augustus 1925 by ’n byeenkoms in Indianapolis, Indiana, VSA, vergader en ’n reguit resolusie met die titel “Boodskap van hoop” vir publikasie aangeneem. Weer eens is sowat 50 miljoen eksemplare in etlike tale versprei. Dit het die valse lig beskryf wat deur die kombinasie van handelswoekeraars, politieke leiers en die geestelikes aangebied word, as gevolg waarvan “die volke in duisternis verval het”. En dit het die aandag op God se Koninkryk gevestig as die ware hoop om “die seëninge van vrede, voorspoed, gesondheid, lewe, vryheid en ewige geluk” te ontvang. Dit het moed van die groepie gesalfde Christene geverg om sulke boodskappe teen die reuseorganisasie van die Christendom te verkondig. Maar hulle het dit van die vroeë 1920’s tot nou toe deurgaans gedoen. In onlangser tye, in 1955, is die geestelikeklas verder ontmasker deur die wêreldwye verspreiding van ’n boekie wat in baie tale verskyn het, Die Christenheid of die Christelikheid—Watter een is “die lig van die wêreld”? Vandag het die huigelary van die Christendom so duidelik geword dat baie in die wêreld dit self kan sien. Maar Jehovah se volk het nie opgehou om haar te ontmasker as ’n koninkryk van duisternis nie.
’n Vlieënde arend
40. As wat word die Christendom deur die vier trompetstote blootgelê?
40 Hierdie eerste vier trompetstote het waarlik meegebring dat die verlate en dodelike toestand van die Christendom blootgelê word. Haar deel van “die aarde” is aan die kaak gestel as iets wat Jehovah se oordeel verdien. Daar is getoon dat revolusionêre regerings wat in haar lande en elders verskyn, skadelik is vir geestelike lewe. Die gevalle toestand van haar geestelikes is blootgelê, en die algemene duisternis van haar geestelike toestand is ontbloot vir almal om te sien. Die Christendom is waarlik die laakbaarste deel van Satan se stelsel van dinge.
41. Wat sien en hoor Johannes gedurende ’n onderbreking in die reeks trompetstote?
41 Wat moet nog geopenbaar word? Voordat ons die antwoord op hierdie vraag vind, is daar ’n kort onderbreking in die reeks trompetstote. Johannes beskryf wat hy vervolgens sien: “En ek het gesien, en ek het ’n arend wat in die middel van die hemel vlieg, met ’n harde stem hoor sê: ‘Wee, wee, wee dié wat op die aarde woon, weens die res van die trompetstote van die drie engele wat op die punt staan om op hulle trompette te blaas!’”—Openbaring 8:13.
42. Wat word moontlik deur die vlieënde arend afgebeeld, en wat is sy boodskap?
42 ’n Arend vlieg hoog in die lug, sodat mense in ’n uitgestrekte gebied dit kan sien. Dit het buitengewone skerp gesigsvermoë en kan ver vooruit sien (Job 39:29). Een van die vier lewende wesens, of gerubs, rondom God se troon is as ’n vlieënde arend uitgebeeld (Openbaring 4:6, 7). Hetsy dit hierdie gerub of ’n ander versiende kneg van God is, dit verkondig luidkeels ’n dinamiese boodskap: “Wee, wee, wee”! Laat die aarde se bewoners aandagtig luister wanneer die drie oorblywende trompetstote gehoor word, waarvan elkeen met een van hierdie weë verband hou.
[Voetnote]
a In teenstelling hiermee toon Openbaring 7:16 dat die groot menigte nie die verskroeiende hitte van Jehovah se misnoeë ondervind nie.
b Hoewel die sewe sterre in Jesus se regterhand die gesalfde opsieners in die Christengemeente afbeeld, is die ouer manne in die meeste van die nagenoeg 100 000 gemeentes in die wêreld vandag lede van die groot menigte (Openbaring 1:16; 7:9). Wat is hulle posisie? Aangesien hulle hulle aanstelling deur heilige gees deur middel van die gesalfde “getroue en verstandige slaaf”-klas ontvang, kan daar gesê word dat hulle onder Jesus se beherende regterhand is, want hulle is ook sy onderherders (Jesaja 61:5, 6; Handelinge 20:28). Hulle ondersteun die “sewe sterre” in die sin dat hulle dien waar bekwame gesalfde broers nie beskikbaar is nie.
[Tabel op bladsy 139]
Die Christendom se waters as als blootgelê
Leringe en gesindhede van die Christendom Wat die Bybel werklik sê
God se persoonlike naam Jesus het gebid dat God se naam
is onbelangrik “Die gebruik geheilig moet word. Petrus het
van enige eienaam vir die gesê: “Elkeen wat die naam van
enigste God . . . is heeltemal Jehovah aanroep, sal gered word”
onvanpas vir die universele (Handelinge 2:21; Joël 2:32;
geloof van die Christelike Kerk” Matteus 6:9; Eksodus 6:3;
(Voorwoord by die Revised Openbaring 4:11; 15:3; 19:6).
Standard Version).
God is ’n Drie-eenheid: “Die Die Bybel sê dat Jehovah groter
Vader is God, die Seun is God, is as Jesus en die God en hoof
en die Heilige Gees is God, en van Christus is (Johannes 14:28; 20:17;
tog is daar nie drie Gode nie, 1 Korintiërs 11:3).
maar een God” (The Catholic Die heilige gees is God se
Encyclopedia, uitgawe van 1912). werkende krag (Matteus 3:11;
Die mensesiel is onsterflik: Die mens is ’n siel. By die
“Wanneer die mens sterf, word dood hou die siel op om te dink
sy siel en liggaam geskei. Sy of te voel en keer dit terug na
liggaam . . . ontbind . . . Die die stof waaruit dit gemaak is
mensesiel sterf egter nie” (What (Genesis 2:7; 3:19; Psalm 146:3, 4;
Happens After Death, ’n Rooms- Prediker 3:19, 20; 9:5, 10;
Katolieke publikasie). Esegiël 18:4, 20).
Die goddeloses word ná hulle Die loon van die sonde is die
doodin die hel gestraf: “Volgens dood, nie lewe in pyniging nie
die tradisionele Christelike leer (Romeine 6:23). Die dooies rus
is die hel ’n plek van eindelose onbewus in die hel (Hades, Sjeool)
foltering en pyn” (The World Book en wag op ’n opstanding (Psalm 89:48;
Encyclopedia, uitgawe van 1987). Johannes 5:28, 29; 11:24, 25;
“Die titel Middelares [vroulike Die enigste middelaar tussen God en
middelaar] word op Ons Liewe mense is Jesus (Johannes 14:6;
Vrou toegepas” (New Catholic 1 Timoteus 2:5; Hebreërs 9:15; 12:24).
Encyclopedia, uitgawe van 1967). Kindertjies moet gedoop word: Doop is vir diegene van wie reeds
“Van die staanspoor af het die dissipels gemaak is en wat geleer
Kerk die Sakrament van die Doop is om Jesus se bevele te gehoorsaam.
aan kindertjies toegedien. Om aan die vereistes vir doop te
Hierdie gebruik is nie alleen as voldoen, moet ’n persoon God se
geoorloof beskou nie, maar daar Woord verstaan en geloof beoefen
is ook geleer dat dit absoluut (Matteus 28:19, 20; Lukas 3:21-23;
noodsaaklik is vir redding” (New Handelinge 8:35, 36).
Catholic Encyclopedia, uitgawe van 1967).
Die meeste kerke is verdeel in Alle eerste-eeuse Christene was
’n lekedom en ’n geestelikeklas bedienaars en het die goeie nuus
wat vir die lekedom preek. Die verkondig (Handelinge 2:17, 18;
geestelikes word gewoonlik ’n Romeine 10:10-13; 16:1). ’n
salaris vir hulle bediening gegee Christen moet ‘verniet gee’, nie vir
en word oor die lekedom verhef ’n salaris nie (Matteus 10:7, 8).
deur titels soos “Dominee”, Jesus het die gebruik
“Vader” of “Sy Eminensie”. van godsdienstitels streng
verbied (Matteus 6:2; 23:2-12;
Beelde, ikone en kruise word Christene moet vlug vir elke
in aanbidding gebruik: “Die soort afgodediens, insluitende
beelde . . . van Christus, van sogenaamdrelatiewe aanbidding
die Maagdelike Moeder van God (Eksodus 20:4, 5;
en van die ander heiliges moet 1 Korintiërs 10:14; 1 Johannes 5:21).
. . . in kerke gehou word en Hulle aanbidGod nie deur
gepaste eerbied en eer moet aanskouing nie, maarmet gees en
daaraan betoon word” (Verklaring waarheid (Johannes 4:23, 24;
van die Konsilie van Trente 2 Korintiërs 5:7). [1545-63]).
Kerklidmate word geleer dat Jesus het verkondig dat God
God se voornemens deur die se Koninkryk, nie die een of ander
politiek verwesenlik sal word. politieke stelsel nie, die hoop vir die
Wyle kardinaal Spellman het mensdom is (Matteus 4:23; 6:9, 10).
gesê: “Daar is net een weg tot Hy het geweier om by
vrede . . . , die hoofweg van die politiek betrokke te raak
demokrasie.” Nuusberigte vertel (Johannes 6:14, 15). Sy Koninkryk
van godsdiens se betrokkenheid was geen deel van hierdie wêreld
by die wêreld se politiek (selfs nie; daarom moes sy volgelinge
by opstande) en haar ondersteuning geen deel van hierdie wêreld wees
van die VN as “die laaste hoop op nie (Johannes 18:36; 17:16).
harmonie en vrede”. Jakobus het teen vriendskap met
die wêreld gewaarsku (Jakobus 4:4).
[Prent op bladsy 132]
Die oopmaak van die sewe seëls lei tot sewe trompetstote
[Prente op bladsy 140]
“’n Uitdaging aan wêreldleiers” (1922)
Hierdie resolusie het gehelp om Jehovah se plaag teen “die aarde” bekend te maak
[Prent op bladsy 140]
“’n Waarskuwing aan alle Christene” (1923)
Jehovah se ongunstige oordeel teen “’n derde van die see” is wyd en syd deur hierdie resolusie verkondig
[Prente op bladsy 141]
“Aanklag teen die geestelikes” (1924)
Die uitgebreide verspreiding van hierdie traktaat het gehelp om mense te waarsku dat die “ster” van die Christendom se geestelikes geval het
[Prent op bladsy 141]
“Boodskap van hoop” (1925)
Hierdie reguit resolusie is gebruik om te openbaar dat die Christendom se vermeende ligbronne in werklikheid bronne van duisternis is