Lesse uit die Skrif: Klaagliedere 1:1–5:22
Jehovah gee hoop in tye van smart
JEHOVAH is “die God wat hoop gee”, selfs in tye van smart (Romeine 15:13, NW). Dit is ’n punt wat verduidelik word in die boek Klaagliedere wat in 607 v.G.J. deur Jehovah se profeet en getuie Jeremia voltooi is. Maar kom ons bespreek sommige van die lesse wat dit bevat.
Jerusalem se verknorsing
Sonde bring geen vreugde nie. Kyk! Sondige Jerusalem, wat eens Juda se hoofstad vol mense was, sit verlate. Juda self is soos ’n wenende weduwee-vorstin omdat sy verwoes is. “Liefhebbers” soos Egipte het haar nie van Babiloniese verowering in 607 v.G.J. gered nie. Mense stroom nie meer vir feeste na Sion toe nie. Haar kinders is gevangenes, en vyande lag oor haar val. Onreine vreemdelinge het die tempel ontheilig, en haar volk moes kosbaarhede in ruil vir voedsel gee. Dit alles vanweë sonde!—1:1-11.
Jehovah is regverdig wanneer hy kwaaddoeners straf. Jerusalem self erken dit wanneer sy spreek. Sy vra of daar enige smart is soos die pyn wat God oor haar gebring het. Hy het vuur gestuur wat die tempel verwoes het. Die stad se sondes het ’n juk geword, en bloed het soos sap gevloei toe God haar “parskuip” getrap het. Sion het haar hande in smart en smeking uitgebrei, maar het geen trooster gevind nie, en Jehovah was regverdig toe hy wederstrewige Jerusalem gestraf het. Mag hy net so streng teen haar jubelende vyande optree.—1:12-22.
‘Jehovah se toorn’
Verantwoordelike persone dra skuld as hulle nie sonde veroordeel nie. God het Jerusalem “uit die hemel op die aarde” neergewerp en toegelaat dat dit en sy “voetbank”, die tempel, vernietig word (Psalm 132:7). Hy het sodoende ‘die koninkryk van Juda ontheilig’. Die tempel is soos ’n blote hut deur vyande vernietig wie se seëvierende krete soos ’n feestelike gejubel was. Sterwende kinders het hulle moeders om kos gesmeek. Maar wie het veral skuld gedra? Valse profete wat misleidende uitsprake verkondig het pleks van Jerusalem se sonde te veroordeel (Jeremia 14:13). Gebed is gepas, want so baie het in hierdie ‘dag van Jehovah se toorn’ gesterf!—2:1-22.
Jehovah se barmhartigheid is blywend
Ons moet geduldig op Jehovah hoop. Jeremia beklemtoon hierdie gedagte wanneer hy as verteenwoordiger van die beproefde volk praat. God laat sy gebed onverhoord, en hy het die tema van sy vyande se spotlied geword. Sy ‘hoop op Jehovah’ het skynbaar vergaan. Maar hy sal “’n wagtende houding” hê, omdat ‘Jehovah goed is vir die wat op Hom hoop’.—3:1-27, vgl. NW
Ware berou het goddelike barmhartigheid tot gevolg. Jeremia, wat hiervan oortuig is, gee die aansporing: “Laat ons ons . . . tot die HERE bekeer.” Soos met ’n wolkmassa van toorn het Jehovah toegang tot hom deur gebed versper vanweë die volk se sonde. Maar Jeremia bid: “Ek roep u Naam aan, [Jehovah]. . . . Verberg u oor nie vir my ontboeseming . . . nie.” Onberouvolle vyande sal natuurlik vernietig word.—3:28-66.
“Bring ons terug”
Ons kan deur moedswillige sonde vernietiging oor onsself bring. Die kosbare “kinders van Sion” is vanweë Juda se sonde as waardelose, stukkende erdekruike beskou. In die beleëring was diegene wat deur die swaard verslaan is beter daaraan toe as ander wat stadig van honger gesterf het. God het inderdaad “sy toorngloed uitgegiet”. Onreine profete en priesters het blindelings rondgedwaal, en koning Sedekia—“die gesalfde van die HERE”—is gevange geneem. God kon toe sy aandag wy aan sondige Edom.—4:1-22.
Jehovah alleen gee ware hoop in tye van smart. Jeremia het dit besef, want hy het gesmeek: “Dink, HERE, aan wat oor ons gekom het.” ‘Uitlanders woon in ons huise. Ons dra die gevolge van ons vaders se sonde, en blote seuns dra vuurmaakhout in gedwonge arbeid.’ Jeremia hoop nogtans op barmhartigheid en bid: “Bring ons terug, o Jehovah, tot uself, en ons sal geredelik terugkom.”—5:1-22, vgl. NW
Peins nou oor hierdie lesse wat ons uit Klaagliedere leer: Sonde bring nie vreugde nie, God is regverdig wanneer by sondaars straf, en verantwoordelike persone is skuldig as hulle nie oortreding veroordeel nie. Ons moet geduldig op Jehovah hoop, vol vertroue dat goddelike barmhartigheid betoon word as ons ware berou het, terwyl ons deur moedswillige sonde vernietiging oor onsself kan bring. Hierdie geïnspireerde boek oortuig ons ook daarvan dat Jehovah alleen ware hoop in tye van smart gee.
[Venster op bladsy 27]
BYBELTEKSTE ONDERSOEK
◻ 1:15—“Die Here het die parskuip getrap vir die jonkvrou, die [“maagdelike”, NW] dogter van Juda”, omdat hy dit wat gebeur het, beveel en toegelaat het. “Die maagdelike dogter van Juda” was Jerusalem, wat soos ’n ongerepte vrou beskou is. Toe die Babiloniërs daardie hoofstad van Juda in 607 v.G.J. vernietig het, was daar groot bloedvergieting. Dit kan vergelyk word met sap wat uit druiwe in ’n parskuip gepars word. Jehovah sal toesien dat die Christendom, teenbeeldige Jerusalem, op soortgelyke wyse verbrysel word.
◻ 2:6 (NW)—God se “hut” was die tempel in Jerusalem. Toe daardie heiligdom deur die Babiloniërs vernietig is, het hy toegelaat dat dit ‘op ’n gewelddadige wyse behandel word’, soos ’n blote hut in ’n tuin. So ’n tydelike skuiling teen die warm son word afgebreek.
◻ 3:16—Een ramp wat Jehovah toegelaat het om oor ontroue Jerusalem te kom as gevolg van die stad se verowering deur die Babiloniërs word beskryf in die woorde: “Hy het my die tande op gruisklippertjies laat stukkend byt.” Blykbaar moes die Israeliete, toe hulle na ballingskap onderweg was, brood bak in holtes wat in die grond gegrawe is. Daar het derhalwe gruisklippertjies in die brood gekom, en ’n persoon wat sulke brood geëet het, kon sy tande breek.
◻ 4:3—Die wreedheid van moeders teenoor hulle kinders word hier gekontrasteer met die moedersorg van jakkalse. Hoewel jakkalse as wrede diere beskou kan word, gee selfs hulle ‘die speen en laat hulle hul kleintjies drink’. As gevolg van groot voedselskaarstes in beleërde Jerusalem het verhongerde Joodse vroue wreed geword in die sin dat hulle geen melk gehad het om aan hul kinders te gee nie en in werklikheid hulle eie kinders geëet het om aan die lewe te bly (Klaagliedere 2:20). Die vroue het dus ook soos volstruise geword wat hulle eiers lê en agterlaat.
◻ 5:7—Die Jode van Jeremia se dag moes die ongeregtighede van hulle vaders dra, maar dit beteken nie dat Jehovah kinders regstreeks vir die sondes van hulle ouers straf nie. Die slegte gevolge van oortreding word in werklikheid deur latere geslagte ondervind (Jeremia 31:29, 30). Dit sal derhalwe goed wees as ons onthou dat ons persoonlik aan Jehovah rekenskap moet gee.—Romeine 14:12.