Hoofstuk twee
Daniël—’n Boek in die soeklig
1, 2. Waarom trek party die boek Daniël in twyfel, en waarom dink jy dat dit belangrik is om getuienis ter verdediging daarvan te bespreek?
STEL jou voor jy is in die hof om na ’n belangrike hofsaak te luister. ’n Man word van bedrog aangekla. Die aanklaer hou vol dat die man skuldig is. Maar die beskuldigde staan al jare lank as ’n eerlike man bekend. Sou jy nie daarin belangstel om die getuienis vir die verdediging te hoor nie?
2 Jy is in ’n soortgelyke situasie wat die Bybelboek Daniël betref. Die skrywer daarvan was ’n man wat bekend was vir sy eerlikheid. Die boek wat sy naam dra, geniet al duisende jare lank hoë agting. Dit word aangebied as ware geskiedenis wat opgeteken is deur Daniël, ’n Hebreeuse profeet wat gedurende die sewende en sesde eeu v.G.J. gelewe het. Akkurate Bybelchronologie toon dat sy boek die tydperk van omstreeks 618 tot 536 v.G.J. dek en teen laasgenoemde jaar voltooi is. Maar tog trek party die boek in twyfel. Sommige ensiklopedieë en ander naslaanwerke impliseer of sê direk dat dit ’n bedrogspul is.
3. Wat sê The New Encyclopædia Britannica oor die egtheid van die boek Daniël?
3 The New Encyclopædia Britannica erken byvoorbeeld dat die boek Daniël vroeër “oor die algemeen beskou is as betroubare geskiedenis wat ware profesieë bevat”. Die Britannica beweer egter dat Daniël in werklikheid “in ’n latere tyd van nasionale krisis geskryf is—toe die Jode kwaai vervolging onder [die Siriese koning] Antiogos IV Epifanes verduur het”. Volgens die ensiklopedie is die boek tussen 167 en 164 v.G.J. geskryf. Hierdie selfde werk voer aan dat die skrywer van die boek Daniël nie die toekoms voorspel nie, maar bloot “gebeure wat in die verlede plaasgevind het as profesieë van toekomstige gebeure” aanbied.
4. Wanneer het kritiek teen die boek Daniël begin, en wat het in latere eeue tot soortgelyke kritiek aanleiding gegee?
4 Waar kom sulke idees vandaan? Kritiek teen die boek Daniël is niks nuuts nie. Dit het al in die derde eeu G.J. met ’n filosoof genaamd Porfirius begin. Soos baie ander in die Romeinse Ryk het hy bedreig gevoel deur die invloed van die Christelike godsdiens. Hy het 15 boeke geskryf om hierdie “nuwe” godsdiens te ondermyn. Die 12de was teen die boek Daniël gerig. Porfirius het gesê dat die boek ’n bedrogspul is wat in die tweede eeu v.G.J. deur ’n Jood geskryf is. Soortgelyke aanvalle is in die 18de en 19de eeu gedoen. Volgens die beskouing van hoër kritici en rasionaliste is profesie—die voorspelling van toekomstige gebeure—iets onmoontliks. Daniël het ’n geliefkoosde teiken geword. Hy en sy boek is as ’t ware voor die hof gedaag. Kritici het beweer dat hulle oorgenoeg bewys het dat Daniël nie die boek gedurende die Joodse ballingskap in Babilon geskryf het nie, maar dat iemand anders dit eeue later geskryf het.a Sulke aanvalle het so algemeen geword dat een skrywer selfs ’n verdediging geskryf het met die titel Daniel in the Critics’ Den.
5. Waarom is die kwessie oor die egtheid van Daniël belangrik?
5 Is daar bewyse vir die selfversekerde bewerings van die kritici? Of steun die getuienis die verdediging? Hierdie saak is vir ons van groot belang. Nie net die reputasie van hierdie ou boek nie, maar ook ons toekoms is hierby betrokke. As die boek Daniël ’n bedrogspul is, is die beloftes daarin oor die mens se toekoms net leë woorde. Maar as dit betroubare profesieë bevat, sal jy ongetwyfeld gretig wees om te weet watter betekenis hulle het vir ons wat vandag leef. Kom ons hou dit in gedagte terwyl ons ’n paar van die aanvalle teen Daniël ondersoek.
6. Watter aantyging word soms oor die geskiedenis in Daniël gemaak?
6 Kyk byvoorbeeld na die aantyging wat in The Encyclopedia Americana gemaak word: “Baie geskiedkundige besonderhede uit die vroeër tydperke [soos dié van die Babiloniese ballingskap] is erg verdraai” in Daniël. Is dit werklik die geval? Kom ons kyk een vir een na drie beweerde foute.
’N KONING WAT NIE BESTAAN HET NIE?
7. (a) Waarom was Bybelkritici lank in hulle skik oor Daniël se verwysings na Belsasar? (b) Wat het geword van die idee dat Belsasar net ’n denkbeeldige karakter was?
7 Daniël het geskryf dat Belsasar, ’n “seun” van Nebukadnesar, as koning geheers het in Babilon toe die stad tot ’n val gebring is (Daniël 5:1, 11, 18, 22, 30). Kritici het hierdie punt lank bestry, want Belsasar se naam het nêrens buite die Bybel voorgekom nie. Kenners van die antieke geskiedenis het eerder Nabonidus, Nebukadnesar se opvolger, as die laaste Babiloniese koning geïdentifiseer. Daarom het Ferdinand Hitzig in 1850 gesê dat Belsasar klaarblyklik net in die skrywer se verbeelding bestaan het. Maar klink Hitzig se mening nie vir jou ’n bietjie vermetel nie? Sou die feit dat hierdie koning nêrens vermeld word werklik bewys dat hy nooit bestaan het nie—veral aangesien hy gedurende ’n tydperk geleef het waaroor daar, soos erken word, maar min geskiedenisverslae is? Hoe dit ook al sy, in 1854 is ’n paar klein kleisilindertjies in die ruïnes van die antieke Babiloniese stad Ur, in wat nou suidelike Irak is, opgegrawe. Hierdie spykerskrifdokumente van koning Nabonidus het ’n gebed vir “Bel-sar-ussur, my oudste seun” ingesluit. Selfs die kritici moes erken: Dit was die Belsasar van die boek Daniël.
8. Hoe is Daniël se beskrywing van Belsasar as ’n heersende koning waar bewys?
8 Maar die kritici was nog nie tevrede nie. “Dit bewys niks”, het een van hulle, ’n man met die naam H. F. Talbot, geskryf. Hy het gesê dat die seun van die inskripsie moontlik ’n blote kind was, terwyl Daniël hom as ’n heersende koning uitbeeld. Net ’n jaar nadat Talbot se aanmerkings gepubliseer is, is nog spykerskriftablette opgegrawe wat van Belsasar se sekretarisse en huisknegte gepraat het. Hy was beslis nie ’n kind nie! Hierdie kwessie is uiteindelik opgelos deur ander tablette wat gesê het dat Nabonidus soms jare lank nie in Babilon was nie. Hierdie tablette het ook getoon dat hy gedurende hierdie tye “die koningskap [van Babilon] toevertrou” het aan sy oudste seun (Belsasar). Gedurende hierdie tyd was Belsasar in werklikheid koning—’n medebewindhebber met sy vader.b
9. (a) In watter sin het Daniël moontlik bedoel dat Belsasar die seun van Nebukadnesar was? (b) Waarom is kritici verkeerd as hulle beweer dat Daniël nie eers indirek na die bestaan van Nabonidus verwys nie?
9 Party kritici is steeds nie tevrede nie en maak die beswaar dat die Bybel Belsasar nie die seun van Nabonidus noem nie, maar die seun van Nebukadnesar. Ander sê weer dat Daniël nie eers indirek na die bestaan van Nabonidus verwys nie. Maar nie een van hierdie besware hou stand wanneer hulle ontleed word nie. Nabonidus het blykbaar met Nebukadnesar se dogter getrou. Dit maak Belsasar die kleinseun van Nebukadnesar. Nóg Hebreeus nóg Aramees het woorde vir “grootvader” of “kleinseun”; “seun van” kan “kleinseun van” of selfs “afstammeling van” beteken. (Vergelyk Matteus 1:1.) Verder is dit volgens die Bybelverslag moontlik dat Belsasar die seun van Nabonidus kon wees. Toe Belsasar verskrik was deur die onheilspellende skrif aan die muur, het die radelose koning enigiemand wat die woorde kon ontsyfer die derde plek in die koninkryk aangebied (Daniël 5:7). Waarom die derde plek en nie die tweede nie? Hierdie aanbod impliseer dat die eerste en tweede plek reeds gevul was. Trouens, hulle was gevul—deur Nabonidus en sy seun, Belsasar.
10. Waarom is Daniël se verslag van die Babiloniese koningskap uitvoeriger as dié van ander eertydse geskiedskrywers?
10 Wanneer Daniël dus van Belsasar praat, is dit nie ’n bewys van ‘erg verdraaide’ geskiedenis nie. Inteendeel, Daniël gee ons ’n duideliker beeld van die Babiloniese koningskap as eertydse sekulêre geskiedskrywers soos Herodotus, Xenofon en Berossus—al was sy doel nie om ’n geskiedenisverslag van Babilon te skryf nie. Waarom kon Daniël feite opteken wat hulle oorgeslaan het? Omdat hy in Babilon was. Sy boek is die werk van ’n ooggetuie, nie van ’n bedrieër wat eeue later geleef het nie.
WIE WAS DARIUS DIE MEDER?
11. Wie was Darius die Meder volgens Daniël, maar wat is al oor hom gesê?
11 Daniël vertel dat ’n koning met die naam “Darius, die Meder,” begin heers het nadat Babilon tot ’n val gebring is (Daniël 6:1). Geen direkte verwysing na die naam van Darius die Meder is al ooit in sekulêre of argeologiese bronne aangetref nie. Gevolglik beweer The New Encyclopædia Britannica dat hierdie Darius “’n denkbeeldige karakter” is.
12. (a) Waarom behoort Bybelkritici van beter te weet as om te sê dat Darius die Meder beslis nie bestaan het nie? (b) Wat is een moontlikheid aangaande die identiteit van Darius die Meder, en watter getuienis bestaan daarvoor?
12 Sommige geleerdes is versigtiger. Vroeër het kritici per slot van rekening ook Belsasar as ‘denkbeeldig’ beskou. Die geval van Darius sal ook ongetwyfeld so wees. Daar is reeds spykerskriftablette wat toon dat Kores die Pers nie onmiddellik ná die verowering die titel “Koning van Babilon” aangeneem het nie. Een navorser se teorie is: “Wie ook al die titel ‘Koning van Babilon’ gehad het, was ’n onderhorige koning aan Kores, nie Kores self nie.” Kon Darius die heersersnaam, of titel, van ’n magtige Mediese amptenaar gewees het wat in bevel van Babilon agtergelaat is? Party voer aan dat Darius dalk ’n man met die naam Gubaru was. Kores het Gubaru as goewerneur in Babilon aangestel, en sekulêre verslae bevestig dat hy groot mag gehad het. Een spykerskriftablet sê dat hy ondergoewerneurs oor Babilon aangestel het. Daniël meld interessant genoeg dat Darius 120 landvoogde aangestel het om oor die koninkryk Babilon te heers.—Daniël 6:2.
13. Wat is ’n logiese rede waarom Darius die Meder in die boek Daniël genoem word maar nie in sekulêre verslae nie?
13 Moontlik sal daar mettertyd definitiewer bewyse oor die presiese identiteit van hierdie koning aan die lig kom. Hoe dit ook al sy, die skynbare stilte in die argeologie oor hierdie saak is beswaarlik genoeg rede om Darius ‘denkbeeldig’ te noem, en nog minder om die hele boek Daniël as ’n bedrogspul te verwerp. Dit is baie redeliker om Daniël se verslag as die getuienis van ’n ooggetuie te beskou wat meer besonderhede as die beskikbare sekulêre verslae verstrek.
DIE HEERSKAPPY VAN JOJAKIM
14. Waarom is daar geen teenstrydigheid tussen Daniël en Jeremia wat die jare van koning Jojakim se heerskappy betref nie?
14 Daniël 1:1 sê: “In die derde jaar van die regering van Jojakim, die koning van Juda, het Nebukadnesar, die koning van Babel, na Jerusalem gekom en dit beleër.” Kritici het kapsie gemaak teen hierdie teks omdat dit skynbaar nie met Jeremia saamstem nie, wat sê dat die vierde jaar van Jojakim die eerste jaar van Nebukadnesar was (Jeremia 25:1; 46:2). Het Daniël Jeremia weerspreek? Die saak word maklik opgeklaar as ons meer inligting het. Toe Jojakim in 628 v.G.J. deur farao Nego koning gemaak is, het hy ’n blote pion van daardie Egiptiese heerser geword. Dit was omtrent drie jaar voordat Nebukadnesar sy vader in 624 v.G.J. as koning van Babilon opgevolg het. Kort daarna (in 620 v.G.J.) het Nebukadnesar Juda binnegeval en Jojakim ’n onderhorige koning aan Babilon gemaak (2 Konings 23:34; 24:1). Vir ’n Jood wat in Babilon gewoon het, sou Jojakim se “derde jaar” die derde jaar van daardie koning se onderhorigheid aan Babilon wees. Daniël het uit daardie oogpunt geskryf. Jeremia het egter geskryf uit die oogpunt van die Jode wat in Jerusalem gewoon het. Vir hom het Jojakim se koningskap dus begin toe farao Nego hom koning gemaak het.
15. Waarom is dit ’n swak argument om die tyd wat in Daniël 1:1 aangegee word aan te val?
15 Hierdie beweerde teenstrydigheid versterk dus eintlik net die getuienis dat Daniël sy boek in Babilon onder die Joodse ballinge geskryf het. Maar daar is nog ’n groot swak plek in hierdie redenasie wat teen die boek Daniël aangevoer word. Onthou dat die skrywer van Daniël ongetwyfeld Jeremia se boek beskikbaar gehad het en selfs daarna verwys het (Daniël 9:2). As die skrywer van Daniël ’n slim bedrieër was soos die kritici beweer, sou hy dit dan gewaag het om ’n gerespekteerde bron soos Jeremia te weerspreek—en dit in die eerste vers van sy boek? Beslis nie!
VEELSEGGENDE BESONDERHEDE
16, 17. Hoe steun argeologiese getuienis Daniël se verslag van (a) die beeld wat Nebukadnesar opgerig het sodat sy hele volk dit kon aanbid? (b) hoe trots Nebukadnesar op sy bouprojekte in Babilon was?
16 Kom ons beweeg weg van die negatiewe sy en beskou die positiewe. Let gerus op ’n paar ander besonderhede in die boek Daniël wat toon dat die skrywer eerstehandse kennis gehad het van die tye waarvan hy geskryf het.
17 Daniël se vertroudheid met fyn besonderhede oor antieke Babilon is ’n duidelike bewys van die betroubaarheid van sy verslag.Daniël 3:1-6 vertel byvoorbeeld dat Nebukadnesar ’n reusagtige beeld opgerig het wat al die mense moes aanbid. Argeoloë het ander getuienis gevind dat hierdie koning sy volk meer betrokke probeer kry het by nasionalistiese en godsdienstige gebruike. Daniël vertel ook hoe trots Nebukadnesar op al sy bouprojekte was (Daniël 4:30). Eers onlangs het argeoloë bevestig dat Nebukadnesar inderdaad verantwoordelik was vir baie van die bouwerk wat in Babilon gedoen is. Wat trotsheid betref—die man het selfs sy naam op die bakstene laat stempel! Kritici van Daniël kan nie verduidelik hoe hulle vermeende bedrieër uit die Makkabese tyd (167-63 v.G.J.) van hierdie bouprojekte kon geweet het nie—sowat vier eeue ná hulle tyd en lank voor argeoloë hulle ontdek het.
18. Hoe getuig Daniël se verslag oor die verskillende vorme van straf onder die Babiloniese en Persiese heerskappy van akkuraatheid?
18 Die boek Daniël bring ook ’n paar belangrike verskille tussen Babiloniese en Medo-Persiese wette aan die lig. Ter toeligting: Kragtens die Babiloniese wet is Daniël se drie metgeselle in ’n vuuroond gegooi omdat hulle geweier het om die koning se bevel te gehoorsaam. Dekades later is Daniël in ’n leeukuil gegooi omdat hy geweier het om ’n Persiese wet te gehoorsaam wat sy gewete geskend het (Daniël 3:6; 6:8-10). Party het die verslag oor die vuuroond as ’n legende probeer afmaak, maar argeoloë het ’n brief uit antieke Babilon ontdek wat hierdie vorm van straf spesifiek noem. Vuur was egter vir die Meders en die Perse iets heiligs. Hulle het dus van ander wrede vorme van straf gebruik gemaak. Gevolglik is die leeukuil geen verrassing nie.
19. Watter verskil tussen die Babiloniese en Medo-Persiese regstelsels laat die boek Daniël duidelik na vore kom?
19 Nog ’n verskil kom na vore. Daniël toon dat Nebukadnesar op sy eie gesag wette kon uitvaardig en verander. Darius kon niks doen om ‘die wette van die Meders en Perse’ te verander nie—selfs nie eers dié wat hy self uitgevaardig het nie! (Daniël 2:5, 6, 24, 46-49; 3:10, 11, 29; 6:13-17). Die geskiedskrywer John C. Whitcomb skryf: “Die antieke geskiedenis bevestig hierdie verskil tussen Babilon, waar die wet aan die koning onderworpe was, en Medo-Persië, waar die koning aan die wet onderworpe was.”
20. Watter besonderhede met betrekking tot Belsasar se fees weerspieël Daniël se eerstehandse kennis van Babiloniese gebruike?
20 Die treffende verslag van die fees van Belsasar, wat in Daniël hoofstuk 5 opgeteken staan, is ryk aan besonderhede. Dit het klaarblyklik begin met ’n feestelike ete en baie drank, want daar is etlike verwysings na wyn (Daniël 5:1, 2, 4). Trouens, op reliëfwerke van soortgelyke feeste word daar net uitgebeeld dat wyn gedrink word. Wyn was blykbaar uiters belangrik by sulke geleenthede. Daniël noem ook dat daar vroue teenwoordig was by hierdie feesmaal—die koning se vrouens en byvrouens (Daniël 5:3, 23). Die argeologie bevestig dat dit die Babiloniese gebruik was. Die gedagte dat vrouens saam met mans by ’n feesmaal aansit, was onaanvaarbaar vir Jode en Grieke van die Makkabese tyd. Dit is moontlik waarom vroeë weergawes van die Griekse Septuagint se vertaling van Daniël hierdie vermelding van die vrouens weglaat.c En tog sou hierdie beweerde vervalser van Daniël in dieselfde vergriekste kultuur gelewe het, en moontlik selfs gedurende min of meer dieselfde tyd waarin die Septuagint voortgebring is!
21. Wat is die redelikste verklaring vir die feit dat Daniël so goed vertroud was met die tye en gebruike tydens die Babiloniese ballingskap?
21 Met die oog op sulke besonderhede lyk dit byna ongelooflik dat die Britannica die skrywer van die boek Daniël as iemand kon beskryf wat maar ’n “oppervlakkige en onakkurate” kennis van die tyd van die ballingskap gehad het. Hoe kon enige bedrieër uit latere eeue so goed vertroud gewees het met antieke Babiloniese en Persiese gebruike? Onthou ook dat albei ryke lank voor die tweede eeu v.G.J. tot niet gegaan het. Daar was destyds immers geen argeoloë nie; en die Jode van daardie tyd het ook nie bekend gestaan vir hulle kennis van ander nasies se kultuur en geskiedenis nie. Net die profeet Daniël, ’n ooggetuie van die tye en gebeure wat hy beskryf het, kon die Bybelboek wat sy naam dra, geskryf het.
BEWYS EKSTERNE FAKTORE DAT DANIËL ’N BEDROGSPUL IS?
22. Watter bewering maak die kritici oor waar Daniël in die kanon van die Hebreeuse Geskrifte ingedeel is?
22 Een van die algemeenste argumente teen die boek Daniël handel oor waar dit in die kanon van die Hebreeuse Geskrifte ingedeel is. Die rabbi’s van die ou tyd het die boeke van die Hebreeuse Geskrifte in drie groepe gerangskik: die Wet, die Profete en die Geskrifte. Hulle het Daniël nie onder die Profete ingedeel nie, maar onder die Geskrifte. Volgens die redenasie van die kritici beteken dit dat die boek onbekend was toe die werke van die ander profete versamel is. Dit word glo onder die Geskrifte gereken omdat hulle later versamel is.
23. Hoe het die Jode van die ou tyd die boek Daniël beskou, en hoe weet ons dit?
23 Nie alle Bybelnavorsers stem egter saam dat die rabbi’s van die ou tyd se indeling van die kanon so onbuigsaam was of dat hulle Daniël uit die Profete uitgesluit het nie. Maar al het die rabbi’s Daniël onder die Geskrifte ingedeel, bewys dit dan dat dit later geskryf is? Nee. Gerespekteerde geleerdes het ’n aantal redes verstrek waarom die rabbi’s Daniël moontlik uit die Profete uitgesluit het. Hulle kon dit byvoorbeeld gedoen het omdat die boek hulle aanstoot gegee het of omdat hulle Daniël as afsonderlik van die ander profete beskou het aangesien hy ’n sekulêre amp in ’n vreemde land beklee het. Wat in elk geval werklik van belang is, is dit: Die Jode van die ou tyd het hoë agting vir die boek Daniël gehad en het dit as ’n kanonieke boek beskou. Die getuienis dui ook daarop dat die kanon van die Hebreeuse Geskrifte lank voor die tweede eeu v.G.J. voltooi was. Latere toevoegings is eenvoudig nie toegelaat nie, en dit sluit party boeke in wat gedurende die tweede eeu v.G.J. geskryf is.
24. Hoe is die apokriewe boek Ekklesiastikus teen die boek Daniël gebruik, en wat toon dat hierdie redenasie nie geldig is nie?
24 Dit is ironies dat een van hierdie afgekeurde latere werke al as ’n argument teen die boek Daniël gebruik is. Die apokriewe boek Ekklesiastikus, deur Jesus ben Sirag, is blykbaar in ongeveer 180 v.G.J. geskryf. Kritici wys graag daarop dat Daniël weggelaat word uit die boek se lang lys regverdige manne. Hulle redeneer dat mense destyds nie van Daniël geweet het nie. Hierdie argument word algemeen onder geleerdes aanvaar. Maar dink hieroor na: Dieselfde lys laat ook Esra en Mordegai weg (albei groot helde in die oë van die Jode ná die ballingskap), sowel as die goeie koning Josafat en die opregte man Job; en van al die rigters noem dit net Samuel.d Moet ons dan al hierdie manne as denkbeeldige karakters verwerp omdat hulle weggelaat word van ’n lys wat hoegenaamd nie beweer dat dit volledig is nie en boonop in ’n niekanonieke boek verskyn? Die blote gedagte daaraan is belaglik.
EKSTERNE GETUIENIS IN DANIËL SE GUNS
25. (a) Hoe het Josefus van die betroubaarheid van Daniël se verslag getuig? (b) In watter opsig strook Josefus se verslag oor Aleksander die Grote en die boek Daniël met die bekende feite van die geskiedenis? (Sien tweede voetnoot.) (c) Hoe ondersteun taalkundige getuienis die boek Daniël? (Sien bladsy 26.)
25 Kom ons beskou weer die positiewe sy. Daar is al gesê dat geen ander boek van die Hebreeuse Geskrifte so goed deur getuies gestaaf is soos Daniël nie. Ter toeligting: Die beroemde Joodse geskiedskrywer Josefus getuig van die betroubaarheid daarvan. Hy sê dat Aleksander die Grote, gedurende sy oorlog teen Persië in die vierde eeu v.G.J., na Jerusalem gekom het, waar die priesters hom ’n afskrif van die boek Daniël gewys het. Aleksander het self afgelei dat die woorde van Daniël se profesie wat hulle vir hom gewys het op sy eie krygsveldtog teen Persië van toepassing was.e Dit sou plaasgevind het ongeveer anderhalf eeu voor die “bedrogspul” waarvan die kritici praat. Kritici het Josefus natuurlik oor hierdie gedeelte aangeval. Hulle val hom ook aan omdat hy noem dat party profesieë in die boek Daniël vervul is. Maar die geskiedskrywer Joseph D. Wilson het opgemerk: “[Josefus] het seker meer van die saak geweet as al die kritici in die wêreld.”
26. Hoe het die Dooie See-rolle die betroubaarheid van die boek Daniël ondersteun?
26 Die betroubaarheid van die boek Daniël het verdere ondersteuning gekry toe die Dooie See-rolle in die grotte van Qumran, Israel, gevind is. Verbasend baie boekrolle en fragmente van die boek Daniël was deel van die vonds wat in 1952 gemaak is. Die oudste daarvan dateer blykbaar uit die laat tweede eeu v.G.J. Die boek Daniël was destyds dus reeds baie bekend en hoogs gerespekteer. The Zondervan Pictorial Encyclopedia of the Bible sê: “’n Makkabese datering vir Daniël moet nou uitgeskakel word, al is dit net omdat daar onmoontlik genoeg tyd sou wees tussen die tyd toe Daniël geskryf is en toe dit in die vorm van afskrifte in die biblioteek van ’n Makkabese sekte verskyn het.”
27. Wat is die oudste bewys dat Daniël ’n werklike persoon was wat bekend was gedurende die Babiloniese ballingskap?
27 Maar daar is baie ouer en betroubaarder getuienis van die egtheid van die boek Daniël. Een van Daniël se tydgenote was die profeet Esegiël. Hy het ook gedurende die Babiloniese ballingskap as profeet gedien. Die boek Esegiël noem Daniël etlike kere by name (Esegiël 14:14, 20; 28:3). Hierdie verwysings toon dat Daniël selfs gedurende sy leeftyd, in die sesde eeu v.G.J., reeds bekend was as ’n regverdige en wyse man, waardig om saam met die godvresende Noag en Job genoem te word.
DIE GROOTSTE GETUIE
28, 29. (a) Wat is die oortuigendste bewys dat die boek Daniël betroubaar is? (b) Waarom moet ons Jesus se getuienis aanvaar?
28 Maar laat ons ten slotte ons aandag vestig op die grootste getuie vir die betroubaarheid van Daniël—niemand anders nie as Jesus Christus. In sy bespreking van die laaste dae verwys Jesus na “Daniël, die profeet,” en na een van Daniël se profesieë.—Matteus 24:15; Daniël 11:31; 12:11.
29 As die Makkabese teorie van die kritici korrek was, sou een van twee dinge waar moes wees. Jesus is deur hierdie bedrogspul om die bos gelei of hy het nooit die woorde gesê wat Matteus aan hom toeskryf nie. Nie een van hierdie opsies is moontlik nie. As ons Matteus se Evangelieverslag nie kan vertrou nie, hoe kan ons dan ander dele van die Bybel vertrou? As ons daardie sinne wegneem, watter ander woorde sal ons dan nog ook uit die Heilige Skrif verwyder? Die apostel Paulus het geskryf: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om te onderrig, . . . om dinge reg te stel” (2 Timoteus 3:16). As Daniël dus ’n bedrieër was, was Paulus ook een! Kon Jesus om die bos gelei word? Beslis nie. Hy het in die hemel gelewe toe die boek Daniël geskryf is. Jesus het selfs gesê: “Voordat Abraham in aansyn gekom het, was ek” (Johannes 8:58). Van alle mense wat nog ooit gelewe het, sou Jesus tog die beste een wees om oor die betroubaarheid van Daniël te vra. Maar ons hoef nie te vra nie. Soos ons gesien het, kon sy getuienis nie duideliker wees nie.
30. Hoe het Jesus verdere bewys van die betroubaarheid van die boek Daniël gegee?
30 Jesus het toe hy gedoop is verdere bewys van die betroubaarheid van die boek Daniël gegee. Hy het op daardie tydstip die Messias geword, wat ’n profesie in Daniël aangaande die 69 weke van jare vervul het. (Daniël 9:25, 26; sien Hoofstuk 11 van hierdie boek.) Al was die teorie dat Daniël op ’n latere tyd geskryf is ook waar, het die skrywer van Daniël die toekoms nog steeds 200 jaar voor die tyd voorspel. God sou natuurlik nie ’n bedrieër inspireer om ware profesieë onder ’n vals naam te uiter nie. Nee, die getuienis van Jesus word heelhartig aanvaar deur alle mense wat getrou is aan God. Al sou al die kenners en al die kritici in die wêreld soos een man opstaan om Daniël te veroordeel, sou die getuienis van Jesus hulle almal verkeerd bewys, want hy is “die getroue en waaragtige getuie”.—Openbaring 3:14.
31. Waarom is baie Bybelkritici nog steeds nie oortuig van die betroubaarheid van Daniël nie?
31 Selfs hierdie getuienis is nie genoeg vir baie Bybelkritici nie. Ná ’n deeglike ondersoek van hierdie onderwerp kan ’n mens nie anders nie as om te wonder of daar ooit genoeg bewys sal wees om hulle te oortuig. Een professor aan die Universiteit van Oxford het geskryf: “Solank die oorspronklike vooroordeel bestaan dat ‘daar nie so iets soos bonatuurlike profesie kan wees nie’, word niks bereik deur ’n blote antwoord op besware nie.” Hulle word dus deur hulle vooroordeel verblind. Maar dit is hulle eie keuse—en hulle eie verlies.
32. Wat lê vir ons voor gedurende ons studie van Daniël?
32 Wat van jou? As jy kan sien dat daar geen geldige rede is om die betroubaarheid van die boek Daniël te betwyfel nie, dan is jy gereed om ’n opwindende ontdekkingsreis te onderneem. Jy sal die verhale in Daniël opwindend vind, die profesieë sal jou fassineer. Nog belangriker, jy sal vind dat jou geloof met elke hoofstuk toeneem. Jy sal nooit spyt wees dat jy noukeurig ag gegee het op Daniël se profesie nie!
[Voetnote]
a Kritici probeer die aanklag van bedrog versag deur te sê dat die skrywer Daniël as ’n skuilnaam gebruik het, net soos party ou niekanonieke boeke onder vals name geskryf is. Maar die Bybelkritikus Ferdinand Hitzig hou vol: “As die boek Daniël aan enige ander [skrywer] toegeskryf word, is dit ’n ander saak. Dan word dit ’n vervalste geskrif waarvan die bedoeling was om sy lesers te bedrieg, al is dit tot hulle eie beswil.”
b Nabonidus was nie daar toe Babilon geval het nie. Daarom kon Belsasar op daardie tydstip tereg as die koning beskryf word. Kritici soek ’n uitvlug deur te sê dat sekulêre verslae Belsasar nie amptelik die titel koning gee nie. Getuienis uit daardie tyd gee nogtans te kenne dat selfs ’n goewerneur destyds ’n koning genoem is.
c Die Hebreeuse geleerde C. F. Keil skryf oor Daniël 5:3: “Die LXX. het hier, en ook in vs. 23, volgens die gebruik van die Masedoniërs, Grieke en Romeine, enige vermelding van die vrouens weggelaat.”
d In teenstelling hiermee verwys die apostel Paulus se geïnspireerde lys van getroue manne en vroue in Hebreërs hoofstuk 11 blykbaar indirek na gebeure wat in Daniël opgeteken staan (Daniël 6:17-25; Hebreërs 11:32, 33). Maar die apostel se lys is ook nie volledig nie. Daar is baie ander, onder meer Jesaja, Jeremia en Esegiël, wat nie op die lys genoem word nie, maar dit beteken tog sekerlik nie dat hulle nie bestaan het nie.
e Party geskiedskrywers het daarop gewys dat dít verklaar waarom Aleksander so goed was vir die Jode, wat jare lank vriende van die Perse was. Aleksander was destyds besig met ’n veldtog om alle vriende van Persië te vernietig.
WAT HET JY GELEER?
• Waarvan is die boek Daniël beskuldig?
• Waarom is die kritici se aanvalle op die boek Daniël nie gegrond nie?
• Watter getuienis steun die betroubaarheid van Daniël se verslag?
• Wat is die oortuigendste bewys dat die boek Daniël betroubaar is?
[Venster op bladsy 26]
Die taal van Daniël
DIE boek Daniël is in ongeveer 536 v.G.J. voltooi. Dit is in Hebreeus en Aramees geskryf, met ’n paar Griekse en Persiese woorde tussenin. So ’n vermenging van tale is ongewoon, maar nie uniek in die Skrif nie. Die Bybelboek Esra is ook in Hebreeus en Aramees geskryf. En tog hou party kritici vol dat die manier waarop die skrywer van Daniël daardie tale gebruik het, bewys dat hy later as 536 v.G.J. geskryf het. Een kritikus wat dikwels aangehaal word, het gesê dat die Griekse woorde wat in Daniël gebruik word, vereis dat dit in ’n latere tydperk geskryf is. Hy beweer dat die Hebreeus die latere datering ondersteun en dat die Aramees dit ten minste toelaat—dat dit selfs so onlangs as die tweede eeu v.G.J. geskryf is.
Maar nie alle taalgeleerdes stem hiermee saam nie. Party kenners het al gesê dat Daniël se Hebreeus soortgelyk is aan dié van Esegiël en Esra, en dat dit verskil van dié wat in latere apokriewe werke soos Ekklesiastikus gevind word. Wat Daniël se gebruik van Aramees betref, kom ons beskou twee dokumente wat tussen die Dooie See-rolle gevind is. Hulle is ook in Aramees en dateer uit die eerste en tweede eeu v.G.J.—nie lank ná die beweerde vervalsing van Daniël nie. Maar geleerdes het gevind dat daar ’n groot verskil is tussen die Aramees in daardie dokumente en dié wat in Daniël gevind word. Party sê dus dat Daniël eeue ouer moet wees as wat die kritici daarvan beweer.
Wat van die “problematiese” Griekse woorde in Daniël? Daar is gevind dat party van hierdie woorde Persies en glad nie eers Grieks is nie! Die enigste woorde wat kritici nog dink Grieks is, is die name van drie musiekinstrumente. Vereis die teenwoordigheid van hierdie drie woorde werklik dat Daniël later gedateer word? Nee. Argeoloë het gevind dat die Griekse kultuur ’n groot invloed gehad het eeue voor Griekeland ’n wêreldmoondheid geword het. As die boek Daniël daarbenewens gedurende die tweede eeu v.G.J. geskryf is, toe die Griekse kultuur en taal al oral deurgedring het, sou dit dan net drie Griekse woorde bevat het? Tog nie. Dit sou waarskynlik baie meer bevat het. Die taalkundige bewys ondersteun dus die betroubaarheid van Daniël.
[Volbladillustrasie op bladsy 12]
[Prente op bladsy 20]
(Onder) Babiloniese tempelsilinder noem koning Nabonidus en sy seun Belsasar
(Bo) Hierdie inskripsie bevat Nebukadnesar se gespog oor sy bouprojekte
[Prent op bladsy 21]
Volgens die Nabonidus-kroniek het Kores se leër Babilon sonder ’n geveg binnegeval
[Prente op bladsy 22]
(Regs) Die “Versverslag van Nabonidus” sê dat Nabonidus die heerskappy aan sy eersgeborene toevertrou het
(Links) Babiloniese verslag van Nebukadnesar se inval in Juda