Hoofstuk agt
Uit die bek van leeus gered!
1, 2. (a) Hoe het Darius die Meder sy uitgebreide ryk georganiseer? (b) Beskryf die landvoogde se pligte en gesag.
BABILON het geval! Sy grootsheid as ’n wêreldmoondheid wat ’n eeu lank geduur het, is binne enkele ure tot ’n einde gebring. ’n Nuwe era het begin—dié van die Meders en die Perse. As Belsasar se opvolger het Darius die Meder nou voor die uitdaging te staan gekom om sy uitgebreide ryk te organiseer.
2 Een van die eerste take wat Darius aangepak het, was om 120 landvoogde aan te stel. Diegene wat hierdie amp beklee het, is soms uit die koning se familielede gekies. In elk geval, elke landvoog het oor ’n groot streek of ’n kleiner onderafdeling van die ryk regeer (Daniël 6:2). Sy pligte het ingesluit dat hy belasting invorder en aan die koning se hof oorbetaal. Hoewel die landvoog van tyd tot tyd deur ’n besoekende verteenwoordiger van die koning geïnspekteer is, het hy groot gesag gehad. Sy titel het “beskermer van die Koninkryk” beteken. Die landvoog is in sy provinsie as ’n onderhorige koning beskou, en hy het alle mag gehad, maar nie soewereine mag nie.
3, 4. Waarom het Darius Daniël begunstig, en in watter posisie het die koning hom aangestel?
3 Waar sou Daniël in hierdie nuwe reëling inpas? Sou Darius die Meder hierdie bejaarde Joodse profeet, wat nou al in die negentig was, ontslaan? Beslis nie! Darius was ongetwyfeld daarvan bewus dat Daniël die val van Babilon akkuraat voorspel het en dat so ’n voorspelling bomenslike insig vereis het. Daarbenewens het Daniël dekades van ondervinding gehad om met die verskillende gevange gemeenskappe in Babilon te werk. Darius was vasbeslote om vreedsame verhoudings met sy pas verowerde onderdane te behou. Daarom wou hy beslis iemand met Daniël se wysheid en ondervinding naby hom hê. In watter hoedanigheid?
4 Dit sou al erg genoeg gewees het as Darius die Joodse balling Daniël as ’n landvoog aangestel het. Maar stel jou die opskudding voor toe Darius sy besluit aankondig om Daniël een van die drie ministers te maak wat oor die landvoogde toesig sou hou! Nie net dit nie, maar Daniël het bo hulle “uitgemunt”, en getoon dat hy beter as sy medeministers was. Daar was inderdaad “’n voortreflike gees” in hom. Darius was selfs van plan om die posisie van eerste minister aan hom te gee.—Daniël 6:3, 4.
5. Hoe het die ander ministers en die landvoogde ongetwyfeld gereageer toe Daniël aangestel is, en waarom?
5 Die ander ministers en die landvoogde was seker briesend. Die gedagte dat Daniël—wat nie ’n Meder of ’n Pers of ’n lid van die koningsgesin was nie—’n gesagsposisie oor hulle sou beklee, was vir hulle een te veel! Hoe kon Darius so ’n hoë posisie aan ’n uitlander gee en sodoende sy eie landgenote, selfs sy eie familielede, oor die hoof sien? So iets het seker onregverdig gelyk. Boonop het Daniël se onkreukbaarheid die landvoogde sekerlik glad nie aangestaan nie, aangesien dit hulle eie omkopery en korrupsie aan bande gelê het. En tog het die ministers en die landvoogde dit nie gewaag om die saak met Darius op te neem nie. Darius het immers hoë agting vir Daniël gehad.
6. Hoe het die ministers en die landvoogde Daniël in onguns probeer bring, en waarom het hierdie poging misluk?
6 Hierdie jaloerse politici het toe onder mekaar saamgesweer. Hulle het probeer “om ’n grond vir ’n aanklag teen Daniël te vind met betrekking tot die regering”. Was daar enigiets fout met die manier waarop hy sy verantwoordelikhede nagekom het? Was hy oneerlik? Die ministers en landvoogde kon hoegenaamd geen nalatigheid of korrupsie bespeur in die manier waarop Daniël sy pligte nagekom het nie. “Ons sal teen hierdie Daniël geen enkele grond vir ’n aanklag vind nie”, het hulle geredeneer, “tensy ons dit teen hom vind in sy godsdiens.” So het dit dan gebeur dat hierdie agterbakse manne ’n komplot gesmee het. Hulle het gedink dat hulle dan vir goed van Daniël ontslae sou wees.—Daniël 6:5, 6.
’N MOORDDADIGE PLAN WORD IN WERKING GESTEL
7. Wat het die ministers en landvoogde aan die koning voorgestel, en hoe het hulle dit gedoen?
7 ’n Hele groep ministers en landvoogde het nou vir Darius “bestorm”. Die Aramese uitdrukking wat hier gebruik word, dra die gedagte oor van ’n lawaaierige deurmekaarspul. Hierdie manne het blykbaar die indruk geskep dat hulle ’n uiters dringende saak het om met Darius te bespreek. Hulle het moontlik gedink dat hy minder geneig sou wees om beswaar te maak teen hulle voorstel as hulle dit met groot oortuiging aan hom voorlê as iets wat onmiddellike optrede vereis. Daarom het hulle dadelik met die deur in die huis geval en gesê: “Al die ministers van die koninkryk, die bevelhebbers en die landvoogde, die raadsmanne en die goewerneurs het beraadslaag dat die koning ’n verordening moet uitvaardig en ’n verbod bekragtig dat elkeen wat gedurende dertig dae ’n versoek rig aan enige god of mens behalwe aan u, o koning, in die leeukuil gegooi sal word.”a—Daniël 6:7, 8.
8. (a) Waarom sou die voorgestelde wet by Darius byval gevind het? (b) Wat was die eintlike beweegrede van die ministers en landvoogde?
8 Geskiedenisverslae bevestig dat dit algemeen was dat Mesopotamiese konings as gode beskou en aanbid is. Darius was dus ongetwyfeld gevlei deur hierdie voorstel. Hy het ook heel moontlik gesien dat dit tot sy voordeel kon wees. Onthou dat Darius vir die bewoners van Babilon ’n uitlander en ’n nuweling was. Hierdie nuwe wet sou hom as koning bevestig, en dit sou die menigtes wat in Babilon gewoon het, aanspoor om hulle lojaliteit en ondersteuning teenoor die nuwe regering openlik te verklaar. Toe die ministers en die landvoogde die wet voorgestel het, was hulle egter allermins besorg oor die koning se welsyn. Hulle eintlike beweegrede was om Daniël in ’n val te lok, want hulle het geweet dat dit sy gewoonte was om drie keer per dag voor die oop vensters van sy bokamer tot God te bid.
9. Waarom sou die nuwe wet vir die meeste nie-Jode geen probleem gewees het nie?
9 Sou hierdie beperking op gebed vir al die godsdiensgroepe in Babilon ’n probleem skep? Nie noodwendig nie, veral omdat die verbod net ’n maand lank geldig sou wees. Daarbenewens was daar min nie-Jode wat dit as ’n skending van hulle geloof sou beskou om hulle aanbidding tydelik tot ’n mens te rig. Een Bybelkenner sê: “Koningsaanbidding het geen vreemde eise gestel aan hierdie nasie wat so diep by afgodsaanbidding betrokke was nie; en gevolglik het die Babiloniër, as dit van hom verwag is, geredelik daartoe ingestem om aan die veroweraar—Darius die Meder—die hulde te betoon wat ’n god toekom. Dit was alleenlik die Jood wat so ’n vereiste as onaanvaarbaar beskou het.”
10. Hoe het die Meders en die Perse ’n wet beskou wat deur hulle koning uitgevaardig is?
10 Hoe dit ook al sy, Darius se besoekers het hom aangespoor om ‘die verbod vas te stel en die bevelskrif te laat skrywe wat volgens die onveranderlike wet van Meders en Perse onherroeplik is’ (Daniël 6:9). In die antieke Ooste is die wil van ’n koning dikwels as bindend beskou. Dit het die gedagte dat hy onfeilbaar is, laat voortduur. Selfs ’n wet wat die dood van onskuldige mense kon beteken, moes geldig bly!
11. Hoe sou Daniël deur Darius se bevel geraak word?
11 Sonder om aan Daniël te dink, het Darius die bevel onderteken (Daniël 6:10). Deur dit te doen, het hy onwetend die doodsvonnis van sy mees hooggeagte amptenaar geteken. Ja, Daniël sou beslis deur hierdie bevel geraak word.
DARIUS WORD GEDWING OM DANIËL TE VEROORDEEL
12. (a) Wat het Daniël gedoen toe hy van die nuwe wet gehoor het? (b) Wie het Daniël dopgehou, en waarom?
12 Daniël het gou van die wetlike verbod op gebed gehoor. Hy het onmiddellik na sy huis gegaan en in sy bokamer ingegaan, waar die vensters in die rigting van Jerusalem oop was.b Daar het Daniël tot God begin bid “net soos hy tevore gedoen het”. Daniël het moontlik gedink dat hy alleen was, maar die samesweerders het hom dopgehou. Skielik het hulle “aangestorm” gekom, ongetwyfeld net so opgewonde as toe hulle Darius genader het. Hier het hulle dit nou met hulle eie oë gesien—Daniël het ‘gebid en voor sy God om genade gesmeek’ (Daniël 6:11, 12). Die ministers en landvoogde het nou al die bewyse gehad wat nodig was om Daniël voor die koning te beskuldig.
13. Wat het Daniël se vyande vir die koning vertel?
13 Daniël se vyande het Darius slinks gevra: “Het u nie ’n verbod geskrywe dat elkeen wat gedurende dertig dae ’n versoek doen aan enige god of mens behalwe aan u, o koning, in die leeukuil gegooi moet word nie?” Darius het geantwoord: “Die saak staan vas volgens onherroeplike wet van Meders en Perse.” Die samesweerders het nou gou hulle punt gestel. “Daniël, een van die Joodse ballinge, het hom aan u, o koning, en aan u verbod wat u geskrywe het, nie gesteur nie, maar drie maal op ’n dag doen hy sy gebed.”—Daniël 6:13, 14.
14. Waarom het die ministers en landvoogde klaarblyklik na Daniël verwys as “een van die Joodse ballinge”?
14 Dit is betekenisvol dat die ministers en landvoogde na Daniël verwys het as “een van die Joodse ballinge”. Hulle wou klaarblyklik die aandag vestig op die feit dat hierdie Daniël vir wie Darius so ’n hoë posisie gegee het in werklikheid niks meer as ’n Joodse slaaf was nie. Hulle het geglo dat hy as sodanig beslis nie bo die wet verhewe was nie—ongeag hoe die koning oor hom gevoel het!
15. (a) Hoe het Darius gereageer op die nuus wat die ministers en landvoogde vir hom gebring het? (b) Hoe het die ministers en landvoogde verder hulle haat teen Daniël getoon?
15 Die ministers en landvoogde het moontlik verwag dat die koning hulle vir hulle goeie speurwerk sou beloon. As hulle dit gedink het, het ’n skok op hulle gewag. Darius was uiters ontsteld oor die nuus wat hulle vir hom gebring het. Darius het nie vir Daniël kwaad geword of hom onmiddellik in die leeukuil laat gooi nie, maar hy het hom die hele dag lank probeer red. Sy pogings was egter tevergeefs. Kort voor lank het die samesweerders teruggekeer en skaamteloos daarop aangedring dat Daniël doodgemaak moet word.—Daniël 6:15, 16.
16. (a) Waarom het Darius respek gehad vir Daniël se God? (b) Wat het Darius gehoop sou met Daniël gebeur?
16 Darius het gevoel dat hy geen keuse in die saak gehad het nie. Die wet kon nie nietig verklaar word nie, en Daniël se “oortreding” kon nie verskoon word nie. Al wat Darius vir Daniël kon sê, was: “Mag jou God wat jy gedurigdeur vereer [“met standvastigheid dien”, NW], jou verlos.” Darius het blykbaar respek gehad vir Daniël se God. Dit was Jehovah wat Daniël die vermoë gegee het om die val van Babilon te voorspel. God het ook aan Daniël “’n voortreflike gees” gegee wat hom bo al die ander ministers laat uitmunt het. Moontlik het Darius geweet dat hierdie selfde God dekades vroeër drie jong Hebreërs uit ’n vuuroond gered het. Die koning het waarskynlik gehoop dat Jehovah Daniël nou sou red, aangesien Darius die wet wat hy onderteken het, nie kon herroep nie. Gevolglik is Daniël in die leeukuil gegooi.c Daarna is “’n klip . . . gebring en op die opening van die kuil gelê, en die koning het dit met sy ring en met die ring van sy maghebbers verseël, sodat niks anders met Daniël sou gebeur nie”.—Daniël 6:17, 18.
’N DRAMATIESE WENDING
17, 18. (a) Wat toon dat Darius ontsteld was oor Daniël se situasie? (b) Wat het gebeur toe die koning die volgende oggend na die leeukuil teruggekeer het?
17 ’n Bedrukte Darius het na sy paleis teruggekeer. Geen musikante is voor hom ingebring nie, want hy was nie lus om vermaak te word nie. Darius het die hele nag wakker gelê en gevas. “Sy slaap het van hom weggevlug.” Toe die son opkom, het Darius hom na die leeukuil gehaas. Hy het met ’n droewige stem uitgeroep: “Daniël, kneg van die lewende God, was jou God wat jy [“met standvastigheid dien”, NW], in staat om jou van die leeus te verlos?” (Daniël 6:19-21). Tot sy verbasing—en groot verligting—was daar ’n antwoord!
18 “Mag die koning vir ewig lewe!” Met hierdie eerbiedige groet het Daniël getoon dat hy geen vyandige gevoelens teenoor die koning gekoester het nie. Hy het besef dat die ware bron van sy vervolging nie Darius was nie, maar die jaloerse ministers en landvoogde. (Vergelyk Matteus 5:44; Handelinge 7:60.) Daniël het verder gesê: “My God het sy engel gestuur en die bek van die leeus toegesluit, sodat hulle my geen leed aangedoen het nie, omdat ek voor Hom onskuldig bevind is en ek ook teen u, o koning, geen onreg gedoen het nie.”—Daniël 6:22, 23.
19. Hoe het die ministers en landvoogde Darius bedrieg en gebruik?
19 Hoe moes Darius se gewete hom tog aangekla het toe hy hierdie woorde hoor! Hy het die hele tyd geweet dat Daniël niks gedoen het wat verdien het dat hy in die leeukuil gegooi moes word nie. Darius was maar alte bewus dat die ministers en landvoogde saamgesweer het om Daniël om die lewe te laat bring en dat hulle die koning gebruik het om hulle selfsugtige doel te bereik. Deur daarop nadruk te lê dat “al die ministers van die koninkryk” aanbeveel het dat die bevel uitgevaardig word, het hulle geïmpliseer dat Daniël ook daaroor geraadpleeg is. (Ons kursiveer.) Darius sou later met hierdie slinkse manne afreken. Maar hy het eers beveel dat Daniël uit die leeukuil opgetrek word. Wonder bo wonder het Daniël nie eers ’n skrapie aan hom gehad nie!—Daniël 6:24.
20. Wat het met Daniël se kwaadwillige vyande gebeur?
20 Noudat Daniël veilig was, het Darius ’n ander saak gehad waaraan hy aandag wou gee. “Die koning het bevel gegee, en hulle het daardie manne gebring wat Daniël aangeklaag het, en hulle, hulle kinders en hulle vroue in die leeukuil gegooi; en hulle het nog nie die bodem van die kuil bereik nie of die leeus het hulle oorweldig en al hulle bene vermorsel.”d—Daniël 6:25.
21. Watter kontras was daar tussen die Mosaïese Wet en die wette van party antieke kulture wat die optrede teen gesinslede van oortreders betref?
21 Dit lyk dalk onredelik wreed om nie net die samesweerders nie, maar ook hulle vrouens en kinders te laat doodmaak. In teenstelling daarmee het die Wet wat God deur die profeet Moses gegee het, gesê: “Die vaders mag nie vir die kinders, en die kinders mag nie vir die vaders gedood word nie; elkeen moet vir sy eie sonde gedood word” (Deuteronomium 24:16). Dit was nietemin in party antieke kulture nie ongewoon dat gesinslede in die geval van ’n ernstige misdaad saam met die oortreder tereggestel word nie. Dit was moontlik sodat gesinslede nie later wraak sou probeer neem nie. Daniël het egter niks met hierdie daad teen die gesinne van die ministers en die landvoogde te doen gehad nie. Hy was waarskynlik ontsteld oor die onheil wat hierdie goddelose manne oor hulle gesinne gebring het.
22. Watter nuwe proklamasie het Darius uitgevaardig?
22 Die knoeiende ministers en landvoogde was nou nie meer daar nie. Darius het ’n proklamasie uitgevaardig wat gesê het: “Deur my word bevel gegee dat hulle in die hele magsgebied van my koninkryk moet bewe en sidder voor die God van Daniël, want Hy is die lewende God en Hy bestaan in ewigheid en sy koninkryk is een wat nie vernietig kan word nie en sy heerskappy duur tot die einde toe. Hy verlos en red en doen tekens en wonders in die hemel en op aarde, Hy wat Daniël uit die mag van die leeus verlos het.”—Daniël 6:26-28.
DIEN GOD MET STANDVASTIGHEID
23. Watter voorbeeld het Daniël met betrekking tot sy sekulêre werk gestel, en hoe kan ons soos hy wees?
23 Daniël het ’n uitstekende voorbeeld gestel vir alle hedendaagse knegte van God. Sy gedrag was altyd onberispelik. In sy sekulêre werk was Daniël ‘getrou, en geen nalatigheid of verkeerde handeling was by hom te vinde nie’ (Daniël 6:5). ’n Christen moet eweneens ’n vlytige werker wees. Dit beteken nie dat ’n mens ’n hardvogtige en beginsellose sakeman moet wees wat materiële rykdom gretig najaag of op ander trap sodat hy die korporatiewe leer kan klim nie (1 Timoteus 6:10). Die Skrif vereis dat ’n Christen sy sekulêre verpligtinge eerlik en heelhartig moet nakom, “soos vir Jehovah”.—Kolossense 3:22, 23; Titus 2:7, 8; Hebreërs 13:18.
24. Hoe het Daniël bewys dat hy nie bereid was om enige toegewing te maak wat aanbidding betref nie?
24 Wat sy aanbidding betref, was Daniël nie bereid om enige toegewing te maak nie. Almal het geweet van sy gewoonte om te bid. Daarbenewens het die ministers en landvoogde goed geweet dat Daniël sy aanbidding as iets ernstigs beskou het. Om die waarheid te sê, hulle was oortuig dat hy by sy roetine sou bly al het ’n wet dit verbied. Wat ’n uitstekende voorbeeld vir hedendaagse Christene! Hulle staan ook bekend as mense wat God se aanbidding die eerste plek in hulle lewe gee (Matteus 6:33). Mense moet dit duidelik kan sien, want Jesus het sy volgelinge die opdrag gegee: “Laat julle lig . . . voor die mense skyn, sodat hulle julle voortreflike werke kan sien en heerlikheid kan gee aan julle Vader wat in die hemele is.”—Matteus 5:16.
25, 26. (a) Wat dink party dalk van Daniël se optrede? (b) Waarom het Daniël ’n verandering in sy roetine beskou asof dit ’n skending van sy geloof sou wees?
25 Party sê dalk dat Daniël vervolging kon vermy het deur gedurende daardie tydperk van 30 dae in die geheim tot Jehovah te bid. Daar word immers geen spesifieke liggaamshouding of plek voorgeskryf om deur God verhoor te word nie. Hy ken selfs die oordenking van ons hart (Psalm 19:15). Daniël het nogtans enige verandering in sy roetine beskou asof dit ’n skending van sy geloof sou wees. Waarom?
26 Daniël se gewoonte om te bid was algemeen bekend. Watter boodskap sou dit dan oordra as hy skielik nie meer by sy gewoonte gehou het nie? Mense wat dit gesien het, sou dink dat Daniël mensevrees gehad het en dat die koning se verordening belangriker was as Jehovah se wet (Psalm 118:6). Maar Daniël het deur sy dade getoon dat Jehovah sy uitsluitlike toegewydheid ontvang het (Deuteronomium 6:14, 15, NW; Jesaja 42:8). Dit het natuurlik nie beteken dat Daniël die koning se wet met doelbewuste minagting behandel het nie. Maar hy het ook nie teruggedeins deur toe te gee nie. Daniël het eenvoudig aangehou om in sy bokamer te bid “net soos hy tevore gedoen het”, voor die koning se bevel.
27. Hoe kan knegte van God vandag soos Daniël wees (a) deur onderdanig te wees aan die hoër owerhede? (b) deur eerder aan God as heerser gehoorsaam te wees as aan mense? (c) deur in vrede saam met alle mense te probeer lewe?
27 Hedendaagse knegte van God kan uit Daniël se voorbeeld leer. Hulle bly ‘onderdanig aan die hoër owerhede’ en gehoorsaam die wette van die land waarin hulle woon (Romeine 13:1). Wanneer die mens se wette in stryd is met dié van God, neem Jehovah se volk egter dieselfde standpunt in as Jesus se apostels, wat moedig gesê het: “Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense” (Handelinge 5:29). Deur dit te doen, bevorder Christene nie opstandigheid nie. Hulle oogmerk is eintlik bloot om vreedsaam met alle mense saam te lewe sodat hulle “kan voortgaan om ’n kalm en stil lewe met volkome godvrugtige toegewydheid en erns te lei”.—1 Timoteus 2:1, 2; Romeine 12:18.
28. Hoe het Daniël Jehovah “met standvastigheid” gedien?
28 Darius het by twee geleenthede gesê dat Daniël God “met standvastigheid” dien (Daniël 6:16, 20, NW). Die Aramese stam van die woord wat met “standvastigheid” vertaal word, beteken om “in ’n sirkel te beweeg”. Dit skep die idee van ’n voortdurende siklus of iets wat ewigdurend is. Daniël se onkreukbaarheid was so. Dit het ’n voorspelbare patroon gevolg. Daar het geen twyfel bestaan oor wat Daniël sou doen wanneer hy voor beproewinge, groot of klein, te staan gekom het nie. Hy sou voortgaan in die weg wat hy reeds dekades vroeër begin volg het—’n weg van lojaliteit en getrouheid aan Jehovah.
29. Wat leer hedendaagse knegte van Jehovah uit Daniël se voorbeeld van getrouheid?
29 God se hedendaagse knegte wil Daniël se voorbeeld volg. Trouens, die apostel Paulus het alle Christene aangespoor om die voorbeeld van godvresende manne van die ou tyd in oënskou te neem. Deur geloof het hulle ‘regverdigheid bewerkstellig, beloftes verkry’ en—klaarblyklik met verwysing na Daniël—“die bekke van leeus toegestop”. Laat ons, as hedendaagse knegte van Jehovah, die geloof en standvastigheid van Daniël aan die dag lê en “die wedloop wat voor ons gestel is met volharding hardloop”.—Hebreërs 11:32, 33; 12:1.
[Voetnote]
a Die bestaan van ’n “leeukuil” in Babilon word gesteun deur die getuienis van destydse inskripsies wat toon dat Oosterse heersers dikwels klein dieretuine met wilde diere gehad het.
b Die bokamer was ’n private kamer waarheen ’n mens kon gaan as jy nie gesteur wou word nie.
c Die leeukuil was heel moontlik ’n ondergrondse vertrek met ’n opening bo-aan. Dit het waarskynlik ook deure of traliewerk gehad wat opgelig kon word sodat die diere kon inkom.
d Die woord “aangeklaag” is ’n vertaling van ’n Aramese uitdrukking wat ook as “belaster” vertaal kan word. Dit beklemtoon die kwade bedoelings van Daniël se vyande.
WAT HET JY GELEER?
• Waarom het Darius die Meder besluit om Daniël ’n hoë posisie te gee?
• Watter slinkse plan het die ministers en landvoogde beraam? Hoe het Jehovah Daniël gered?
• Wat het jy geleer deur ag te gee op Daniël se voorbeeld van getrouheid?
[Volbladillustrasie op bladsy 114]
[Volbladillustrasie op bladsy 121]
[Prent op bladsy 127]
Daniël het Jehovah “met standvastigheid” gedien. Doen jy dit ook?