Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • jy hfst. 58 bl. 140-bl. 141 par. 2
  • Hy vermeerder brode en gee ’n waarskuwing oor suurdeeg

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hy vermeerder brode en gee ’n waarskuwing oor suurdeeg
  • Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
  • Soortgelyke materiaal
  • Die brode en die suurdeeg
    Die grootste mens wat nog geleef het
  • Die brode en die suurdeeg
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Duisende word gevoed met ’n paar brode en visse
    Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
  • “Wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en Sadduseërs”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
Sien nog
Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
jy hfst. 58 bl. 140-bl. 141 par. 2
Jesus en van sy dissipels in ’n boot

HOOFSTUK 58

Hy vermeerder brode en gee ’n waarskuwing oor suurdeeg

MATTEUS 15:32–16:12 MARKUS 8:1-21

  • JESUS VOED 4 000 MANS

  • HY GEE ’N WAARSKUWING OOR DIE SUURDEEG VAN DIE FARISEËRS

Groot skares het na Jesus toe gestroom in die gebied van die Dekapolis, aan die oostekant van die See van Galilea. Hulle het gekom om na hom te luister en om genees te word en het groot mandjies vol kos saamgebring.

Maar later sê Jesus vir sy dissipels: “Ek voel baie jammer vir die skare, want hulle is nou al drie dae by my, en hulle het niks om te eet nie. As ek hulle huis toe stuur sonder dat hulle iets geëet het, sal hulle op die pad flou word, en party van hulle kom van ver af.” Die dissipels vra: “Waar sal enigiemand op hierdie afgeleë plek genoeg brood kry om hierdie mense te voed?” – Markus 8:2-4.

’n Man hou ’n mandjie vas terwyl Jesus die brode breek

Jesus vra: “Hoeveel brode het julle?” Die dissipels sê: “Sewe, en ’n paar vissies” (Matteus 15:34). Dan laat Jesus die mense op die grond sit. Hy vat die brode en die vis, bid tot God en gee dit vir sy dissipels om uit te deel. Verbasend genoeg eet almal totdat hulle versadig is. Die oorskietstukke wat opgetel is, maak sewe groot mandjies vol, al het sowat 4 000 mans, sowel as vrouens en kinders, geëet!

Nadat Jesus die skares wegstuur, gaan hy en sy dissipels met ’n boot oor na Magadan, aan die westelike oewer van die See van Galilea. Hier probeer Fariseërs en party mense van die sekte van die Sadduseërs Jesus toets deur hom vir ’n teken uit die hemel te vra.

Jesus besef hoekom hulle eintlik die vraag vra, en hy sê: “Wanneer dit aand word, sê julle: ‘Dit gaan mooiweer wees, want die lug is vuurrooi,’ en in die oggend: ‘Dit gaan vandag koud en reënerig wees, want die lug is vuurrooi, maar bewolk.’ Julle kan die weer voorspel deur na die lug te kyk, maar julle kan nie die tekens van die tye verstaan nie” (Matteus 16:2, 3). Dan sê Jesus vir die Fariseërs en Sadduseërs dat geen teken aan hulle gegee sal word nie, behalwe die teken van Jona.

Jesus en sy dissipels klim in ’n boot en gaan na Betsaida aan die noordoostelike oewer van die see. Op pad daarheen besef die dissipels dat hulle vergeet het om genoeg brood saam te bring. Hulle het net een brood. Jesus dink aan wat onlangs gebeur het met die Fariseërs en die Sadduseërs wat ondersteuners van Herodes is, en hy waarsku: “Hou julle oë oop. Pasop vir die suurdeeg van die Fariseërs en die suurdeeg van Herodes.” Die dissipels dink verkeerdelik dat Jesus se woorde oor suurdeeg verwys na die feit dat hulle vergeet het om brood saam te bring. Jesus merk dit op en vra: “Hoekom stry julle omdat julle nie brood het nie?” – Markus 8:15-17.

Jesus het onlangs brood voorsien aan duisende mense. Die dissipels behoort dus te weet dat hy nie bekommerd is oor ’n gebrek aan letterlike brode nie. Hy vra: “Onthou julle hoeveel mandjies julle vol oorskietstukke gemaak het toe ek die vyf brode vir die 5 000 mans gebreek het?” Hulle antwoord: “Twaalf.” Jesus gaan voort en sê: “Hoeveel groot mandjies het julle vol oorskietstukke gemaak toe ek die sewe brode vir die 4 000 mans gebreek het?” Hulle antwoord: “Sewe.” – Markus 8:18-20.

Jesus vra: “Hoe is dit dat julle nie verstaan dat ek nie met julle oor brood gepraat het nie?” Hy voeg by: “Pasop vir die suurdeeg van die Fariseërs en Sadduseërs.” – Matteus 16:11.

Uiteindelik snap die dissipels die punt. Suurdeeg laat brood rys deur ’n gistingsproses. Hier gebruik Jesus suurdeeg as ’n simbool van verdorwenheid. Hy waarsku die dissipels om op te pas vir “die leringe van die Fariseërs en Sadduseërs”, wat ’n verderflike invloed het. – Matteus 16:12.

  • Hoekom stroom mense na Jesus toe?

  • Wat dink die dissipels verkeerdelik wanneer Jesus van suurdeeg praat?

  • Wat bedoel Jesus wanneer hy praat van “die suurdeeg van die Fariseërs en Sadduseërs”?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel