Jesus se lewe en bediening
Jesus onderrig in Jerigo
JESUS en die skare wat saam met hom reis, kom weldra in Jerigo aan, ’n stad omtrent ’n dagreis vanaf Jerusalem. Jerigo is blykbaar ’n dubbele stad, met die ou Joodse stad omtrent anderhalf kilometer van die nuwer Romeinse stad af. Terwyl die skare van die ou stad na die nuwe een beweeg, hoor twee blinde bedelaars die beroering. Een van hulle word Bartimeüs genoem.
Toe Bartimeüs en sy metgesel hoor dat dit Jesus is wat daar verbygaan, begin hulle uitroep: “Wees ons barmhartig, Here, Seun van Dawid!” Toe die skare hulle bestraf en sê dat hulle moet stilbly, roep hulle nog harder uit: “Wees ons barmhartig, Here, Seun van Dawid!”
Jesus hoor die opskudding en gaan staan. Hy vra die mense by hom om dié wat so uitroep te gaan roep. Hulle gaan na die blinde bedelaars en sê vir een van hulle: “Hou goeie moed, staan op! Hy roep jou.” Met grenslose opgewondenheid gooi die blinde man sy bokleed af, spring op en gaan na Jesus.
“Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?” vra Jesus die twee mans.
“Here, dat ons oë geopen mag word”, pleit hulle.
Jesus kry hulle innig jammer en raak hulle oë aan. Volgens Markus se verslag sê Jesus vir een van hulle: “Gaan, jou geloof het jou gered.” Die blinde bedelaars kan onmiddellik sien en albei begin God ongetwyfeld verheerlik. Toe al die mense sien wat gebeur het, loof hulle God ook. Bartimeüs en sy metgesel begin Jesus dadelik volg.
Daar is geweldige skares toe Jesus deur Jerigo gaan. Almal wil die een sien wat die blinde mans genees het. Die mense druk van alle kante teen Jesus aan en gevolglik kan party nie eens ’n glimp van hom sien nie. Onder hulle is Saggeüs, hoof van die tollenaars in en om Jerigo. Hy is te kort om te sien wat aangaan.
Saggeüs hardloop dus vooruit en klim in ’n wildevyeboom langs die pad wat Jesus volg. Van hierdie uitkykpunt kan hy alles goed sien. Toe die skare naderkom, roep Jesus in die boom op: “Saggeüs, maak gou en klim af, want Ek moet vandag in jou huis bly.”
Saggeüs klim met blydskap af en haas hom huis toe om voorbereidsels vir sy vername besoeker te tref. Maar toe die mense sien wat gebeur, begin hulle almal murmureer. Volgens hulle is dit onvanpas dat Jesus die gas van so ’n man is. Jy sien, Saggeüs het ryk geword deur in sy werk as belastinggaarder geld oneerlik af te pers.
Baie mense volg hulle en toe Jesus die huis van Saggeüs binnegaan, kla hulle: “Hy het by ’n sondige man tuisgegaan.” Maar Jesus sien in Saggeüs die potensiaal vir berou. En Jesus word nie teleurgestel nie, want Saggeüs staan op en sê: “Here, kyk, die helfte van my goed gee ek vir die armes: en as ek van iemand iets afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug.”
Saggeüs bewys dat hy opregte berou het deur die helfte van sy besittings aan die armes te gee en deur die ander helfte te gebruik om diegene wat hy gekul het, terug te betaal. Hy kan blykbaar deur middel van sy belastingverslae presies uitwerk hoeveel hy hierdie mense skuld. Hy belowe dus om alles viervoudig terug te gee, in ooreenstemming met God se wet wat sê: ‘As iemand ’n skaap steel, moet hy vier stuks kleinvee vir die skaap vergoed.’
Jesus is bly oor die manier waarop Saggeüs belowe om sy besittings uit te deel, want Hy sê: “Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom, aangesien hierdie man ook ’n seun van Abraham is. Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was.”
Jesus het kort tevore die toestand van die “wat verlore was” met sy verhaal van die verlore seun toegelig. Nou het ons ’n werklike voorbeeld van ’n verlorene wat gevind is. Jesus hou aan om hierdie verlore seuns van Abraham te soek en hulle te herstel al murmureer en kla die godsdiensleiers en diegene wat hulle volg oor die aandag wat Jesus aan persone soos Saggeüs skenk. Mattheüs 20:29-34; Markus 10:46-52; Lukas 18:35–19:10; Exodus 22:1.
◆ Waar ontmoet Jesus klaarblyklik die blinde bedelaars, en wat doen hy vir hulle?
◆ Wie is Saggeüs, en waarom klim hy in ’n boom?
◆ Hoe bewys Saggeüs sy berou?
◆ Watter les kan ons uit Jesus se optrede teenoor Saggeüs leer?