Sien die „teken” met begrip
„Terwyl hy op die Olyfberg gesit het, kom die dissipels alleen na hom en sê: ,Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat sal die teken van u teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel wees?’”—MATTHEÜS 24:3, NW.
1. Waarom was die wêreldskuddende gebeure sedert 1914 nie toevallig nie, en wat het Jesus se dissipels hom gevra?
DIE wêreldskuddende gebeure sedert die Eerste Wêreldoorlog van 1914-1918 was nie toevallig nie. Hulle is 19 eeue gelede deur Jesus Christus voorspel. Hy het sy dissipels vertel van talle verbasende dinge wat gaan gebeur, en daarom het hulle hom gevra: „Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat sal die teken van u teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel wees?”—Mattheüs 24:3, NW.
2. Waarom wou die apostels meer weet as wat voor Jerusalem se vernietiging in 70 G.J. sou gebeur?
2 Daardie apostels wou meer weet as wat van daardie tyd af tot met die vernietiging van Jerusalem sou gebeur. Jesus het nie by daardie rampspoedige geleentheid teruggekeer nie, hetsy sigbaar of onsigbaar. Die stelsel wat reeds sedert die Vloed bestaan het, het ook nie met die vernietiging van Jerusalem in 70 G.J. geëindig nie. „Die teken van [Jesus se onsigbare] teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel” sou in werklikheid lank na die aardse lewe van sy apostels verskyn.
3. (a) Wat toon dat die Christendom se gelowe nie „hierdie evangelie van die koninkryk” gedurende die na-apostoliese afval verkondig het nie? (b) Sal God se Koninkryk te gronde gaan wanneer die Verenigde Volke te gronde gaan?
3 Deur middel van profetiese gelykenisse aangaande God se Koninkryk het Jesus vir sy apostels vertel van die godsdiensopstand wat ná sy terugkeer na die hemel en hulle dood sou plaasvind. Sou „hierdie evangelie van die koninkryk” gedurende die hele tydperk van daardie afval wêreldwyd verkondig word? (Mattheüs 24:14). Beslis nie deur die Christendom se gelowe nie, want in Desember 1918 nog het die Federale Raad van die Kerke van Christus in Amerika die Volkebond, wat op daardie tydstip voorgestel is, as „die politieke beliggaming van die Koninkryk van God op aarde” begroet. In weerwil van daardie kerklike ondersteuning het die Volkebond met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in 1939 te gronde gegaan. Maar het dit beteken dat die ware Koninkryk van God te gronde gegaan het? Nee! En dit sal ook nie te gronde gaan wanneer die Volkebond se opvolger, die Verenigde Volke, binnekort te gronde gaan nie. Daardie goddelike Koninkryk sal eerder die Verenigde Volke vernietig, ongeag hoeveel hemelse engele nodig sal wees om dit te doen!
4. Waarom sou die Koninkrykspredikingswerk deel van die „teken” uitmaak?
4 Al die voorgaande help ons om ’n duideliker begrip van hierdie belangrike feit te verkry: Dit was in antwoord op die versoek om ’n „teken” dat Jesus vir sy volgelinge gesê het: „Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Mattheüs 24:14). Dit beteken dat hierdie aardwye verkondiging van die Koninkryk deel sou uitmaak van die saamgestelde „teken” wat „die voleinding van die stelsel” sou aandui. Dit sou ook ’n sigbare bewys van Jesus Christus se onsigbare „teenwoordigheid” wees. Die manier waarop Jesus die opeenvolging van gebeure beskryf het voordat hy sy profesie oor die Koninkrykspredikingswerk uitgespreek het, is van belang. Hy het onder meer gesê:
5. Wat is sommige aspekte van die „teken” wat Jesus gemeld het voordat hy die wêreldwye Koninkryksverkondiging voorspel het?
5 „Julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie. Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. . . . En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.”—Mattheüs 24:6-13.
6. Waarom is die aspekte van die „teken” nie bloot ’n voortsetting van ’n vroeëre patroon nie?
6 Deur die eeue van ons Gewone Jaartelling heen tot 1914 was daar weliswaar oorloë, hongersnode, aardbewings en pessiektes (Lukas 21:11). Maar niks was te vergelyk met wat sedert die einde van die Heidense Tye in daardie betekenisvolle jaar gebeur het nie. Die internasionale tweedrag wat op verrassende wyse in die noordelike somer van 1914 ontstaan het, het op ’n oorlog uitgeloop waaraan 28 nasies uiteindelik deelgeneem het. Tesame met daardie beroering onder mense het daar natuurlike aardbewings gekom. Daar was hongersnode, en in die laaste jaar van daardie wêreldoorlog het die sluipende pessiekte bekend as die Spaanse griep gekom en meer as 20 000 000 menselewens geëis. Dit alles was nie maar net ’n voortsetting van die vroeëre patroon nie. Dit was die begin van ’n reeks gebeure wat ’n „teken” uitgemaak het dat hierdie stelsel sy voorspelde „tyd van die einde” bereik het (Daniël 12:4). Die laaste boek van die Bybel—die Apokalips of Openbaring—bevestig dit.
7. Waarom is die boek Openbaring geskryf, en wat beteken baie van die dinge daarin wat „in tekens . . . meegedeel” is?
7 Die apostel Johannes, wat die Openbaring ontvang het, is beveel om dit neer te skryf met ’n besondere doel voor oë. Watter doel? Dit: „Om aan [God se] diensknegte te toon wat gou moet gebeur.” En aan die einde van die Openbaring sê die Here Jesus Christus: „Ja, Ek kom gou.” Daarop antwoord Johannes: „Amen, ja kom, Here Jesus!” Baie dinge wat aldus „in tekens . . . meegedeel” is, sou by hulle verskyning in die geskiedenis aandui dat ons in „die tyd van die einde” van hierdie stelsel lewe (Openbaring 1:1, vgl. NW; 22:20). Ja, hulle sou ons help om die saamgestelde „teken” met begrip te sien.
8. Wie is die ruiter op die „wit perd”, en wanneer het God hom gemagtig om teen sy vyande uit te trek?
8 In Openbaring hoofstuk 6 vind ons die beskrywing van die sogenaamde rit van „die vier ruiters van die Apokalips”. Eers verskyn die ruiter van „’n wit perd”, die verheerlikte Jesus Christus, wat uittrek om teen sy vyande oorlog te voer. God het hom gemagtig om dit aan die einde van die Heidense Tye te doen, toe Jesus se vyande in die hemel en op aarde hulle aan sy heerskappy moes onderwerp het.—Psalm 2:1-12.
9. Wie word afgebeeld deur die ruiter op (a) die ,vuurrooi’ perd? (b) die „swart perd”? (c) die „vaal perd”?
9 Die ruiter op die ,vuurrooi’ tweede perd het internasionale oorlog voorgestel, want ’n krygswapen, „’n groot swaard”, is aan hom gegee. Op die derde perd, „’n swart perd”, was daar ’n ruiter wat voedselskaarste afgebeeld het. Hoe weet ons dit? Omdat hy ’n skaal in sy hand gehad het waarmee basiese voedselrantsoene afgemeet en dan teen opgedrewe pryse verkoop kon word. Die vierde ruiter, op ’n perd met ’n sieklike „vaal” kleur, het pessiekte afgebeeld, want die verslag lui: „Hy wat daarop sit, sy naam is die dood, en die doderyk het hom gevolg.” Hierdie vierde ruiter het wel die mag ontvang „om dood te maak met swaard [oorlog] en hongersnood . . . en deur die wilde diere van die aarde”. Maar dit is ook opmerklik dat hy gemagtig is om slagoffers vir die doderyk of graf te eis deur middel van „pes”.—Openbaring 6:1-8.
10. Wat sou gebeur nadat die vyfde en sesde seëls geopen is, en wat sou die bewoners van die aarde moes erken?
10 Nadat die apostel Johannes daardie gesig gesien het van dinge wat „die voleinding van die stelsel” sou aandui, het hy gesien hoe die vyfde en sesde seëls van die profetiese boek geopen word. Toe het hy ’n gesig van skrikwekkende natuurverskynsels gesien, waarvan die eerste „’n groot aardbewing” was. Die bewoners van die aarde moes uiteindelik erken: „Die groot dag van [hulle] toorn [dié van Jehovah God en Jesus Christus] het gekom.” Die afsluiting van daardie simboliese dag van toorn sou beteken dat die einde oplaas aangebreek het vir ondersteuners van hierdie wêreld.—Openbaring 6:9-17, vgl. NW.
Die versameling van diegene wat goedgekeur is vir redding
11. Watter illustrasie het Jesus gebruik om die sekerheid te toon van wat hy oor sy „teenwoordigheid” en „die voleinding van die wêreld” voorspel het?
11 Toe hy die „teken” van sy „teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel” gegee het, het Jesus gesê: „Leer van die vyeboom hierdie gelykenis: Wanneer sy tak al sag word en sy blare uitbot, weet julle dat die somer naby is. So weet julle ook, wanneer julle ál hierdie dinge sien, dat dit naby is, voor die deur. Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie. Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie.”—Mattheüs 24: 32-35.
12, 13. (a) Wat het die Joodse nasionale ramp in 70 G.J. nie beteken nie? (b) Waarvan was daardie katastrofe ’n profetiese tipe? (c) Wat het Jesus dus verder oor sy koms voorspel?
12 Toe Jerusalem en sy tempel in 70 G.J. deur die Romeine vernietig is net soos Jesus voorspel het, het hierdie verskriklike verdrukking van die Jode nie beteken dat hy vir die tweede keer gekom en dat sy onsigbare teenwoordigheid begin het nie (Mattheüs 24:15-21). Aangesien die Bybel eertydse Jerusalem as ’n tipe gebruik, was daardie skokkende katastrofe in 70 G.J. in werklikheid ’n profetiese tipe. Dit het op klein skaal afgebeeld wat op wêreldskaal sou gebeur nadat die Heidense Tye in 1914 geëindig en derhalwe nadat Jesus Christus se onsigbare teenwoordigheid begin het. Daarom het Jesus ook gesê:
13 „En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid. En Hy sal sy engele uitstuur met harde trompetgeluid, en hulle sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan.”—Mattheüs 24:29-31.
14. Van watter verbond en offer praat Psalm 50:5?
14 Die voorspelde insameling van daardie „uitverkorenes” gedurende die voleinding van hierdie stelsel geskied ter vervulling van God se opdrag: „Versamel my [lojales] vir My, hulle wat my verbond by die offer sluit!” (Psalm 50:5, NW). Aangesien Jehovah dit „my verbond” noem, kan dit nie die toewyding wees wat ’n persoon tot God maak wanneer hy ’n Christen word en wat hy bindend kan maak deur homself te offer nie. Nee, hierdie verbond wat tussen Jehovah en die „lojales” gesluit word, is God se beloofde „nuwe verbond” met die huis van geestelike Israel. Die offer waarop daardie nuwe verbond gebaseer is, is die losprysoffer van „die Seun van die mens”, Jesus Christus.—Jeremia 31:31-34; Mattheüs 24:30.
15. Wie is die „lojales”, en wat is hulle nou vir die wêreld?
15 Die „lojales” wat in die nuwe verbond opgeneem word, word geestelike Israeliete (Lukas 22:19, 20). God gee opdrag dat hierdie insameling gedoen word sodat hy die versameldes kan ondersoek, die lojales kan goedkeur en diegene kan verwerp wat nie lewe volgens hulle bewering dat hulle in sy verbond, die nuwe verbond, is nie (Psalm 50:16). Die getuienis sedert die Eerste Wêreldoorlog toon dat die Christendom, wat beweer dat hy in die nuwe verbond is, nie vir Jehovah God aanneemlik is nie. In skerp teenstelling staan ’n klein oorblyfsel van opreg toegewyde, gedoopte dissipels van die nuwe verbond se Middelaar, Jesus Christus. Hulle het getoon dat hulle geestelike Israeliete is. Hierdie lojale ondersteuners van die nuwe verbond is die „uitverkorenes” wat die Seun van die mens deur middel van sy engele by hom versamel. Hulle vervul die bepalings van die nuwe verbond, „my verbond”, soos God dit noem. Weens hulle werksaamheid ter ondersteuning van God se Koninkryk onder Jesus Christus het hulle ’n ,teken’ vir die hele wêreld geword.—Jesaja 8:18; Hebreërs 2:13, 14.
16. (a) Wanneer was daar ’n geestelike ontwaking vir die oorblyfsel van die „lojales”? (b) Wie is die Bruidegom in die gelykenis van die tien maagde, en uit wie bestaan sy simboliese bruid?
16 Gedurende die vroeë deel van „die voleinding van die stelsel” moes daar ’n geestelike ontwaking onder daardie oorblyfsel van „lojales” plaasvind. Dit was ’n belangrike aspek van die „teken” wat Jesus in sy groot profesie voorspel het. Vir die oorblyfsel was daardie ontwaking ’n tyd van groot blydskap, ’n blydskap soos dié van die vyf verstandige maagde wat uit hulle slaap gewek word deur die middernagtelike uitroep: „Daar kom die bruidegom; gaan uit hom tegemoet!” (Mattheüs 25:1-6). Daardie blye ontwaking het in die noordelike lente van 1919 plaasgevind, toe die gesalfde oorblyfsel begin herstel het van die gevolge van die wêreldwye vervolging en dwarsboming wat hulle gedurende die donker tydperk van die Eerste Wêreldoorlog ondervind het. Die Bruidegom van die gelykenis van die tien maagde is natuurlik Jesus Christus, en sy simboliese bruid is sy lojale gemeente van 144 000 lede wat saam met hom in die hemelse Koninkryk sal wees (Openbaring 14:1-4). Bybelchronologie en hedendaagse parallelle toon dat die Bruidegom-Koning in die noordelike lente van 1918 na die geestelike tempel gekom het. Toe het hy begin om die getroue lede van die geestelike bruid uit die dood op te wek en hulle met hom in die hemelse Koninkryk te verenig. Oor die gevoel van die oorblyfsel van die bruid, afgebeeld deur die verstandige maagde, sê Openbaring 19:7: „Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak.”
17. (a) Waarom kon die ,verstandige maagd’-klas hulle verbly? (b) Wat het die verstandige maagde saamgebring, en wat kon hulle derhalwe doen?
17 Ja, die tyd van die geestelike ontwaking van die ,verstandige maagd’-klas en die begrip wat hulle verkry het van die „teken” wat in 1914 begin verskyn het, het aanleiding gegee tot groot blydskap. Die volgende woorde was destyds op hulle van toepassing: „Salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam” (Openbaring 19:9). In Jesus se gelykenis het die vyf verstandige maagde ’n reserwevoorraad olie saamgebring sodat hulle weer hulle lampe kon aansteek en dus met brandende lampe by die vreugdevolle huweliksoptog kon aansluit. Toe die Bruidegom opdaag, het die maagde „wat gereed was . . . saam met hom ingegaan na die bruilof, en die deur is gesluit”.—Mattheüs 25:1-10.
18. (a) Waarvoor het die gesalfde oorblyfsel ná die Eerste Wêreldoorlog nog genoeg van God se verligtende Woord en sy heilige gees in hulle gehad? (b) Wat is by hulle eerste na-oorlogse byeenkoms aangekondig?
18 Soos afgebeeld deur die vyf verstandige maagde het die gesalfde oorblyfsel die hemelse Bruidegom, vir wie die tyd van sy huwelik met sy gemeentelike bruid aangebreek het, met lig en blydskap verwelkom. Ná hulle geestelik ontstellende ondervindinge gedurende die Eerste Wêreldoorlog het hulle, as „erdekruike”, nog genoeg van God se verligtende Woord en sy heilige gees in hulle gehad om opnuut te begin met hulle werk om die mensdom in te lig aangaande God se Koninkryk in die hande van sy Bruidegom-Koning (2 Korinthiërs 4:7). Op 1-8 September 1919 het die ,verstandige maagd’-klas gevolglik hulle eerste internasionale byeenkoms in Cedar Point, Ohio, gehou. Daar is die voorgenome publikasie van ’n nuwe tydskrif as metgesel van The Watch Tower aangekondig. Hierdie nuwe blad sou The Golden Age genoem word, ’n naam wat beskrywend was van die toestande wat die herstelde mensdom gedurende die Duisendjarige Heerskappy van die Bruidegom-Koning Jesus Christus sou geniet. Daardie tydskrif word nog steeds gepubliseer, nou onder die naam Ontwaak!
19. (a) Hoe het die ,verstandige maagd’-klas ’n belangrike aspek van die „teken” van Jesus se „teenwoordigheid” geword? (b) Wie is vandag die gelukkiges op aarde?
19 Kort na daardie byeenkoms is die eerste nommer van The Golden Age—die nommer van 1 Oktober 1919—gepubliseer. Met daardie blad en ander publikasies van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap het die lojale ,maagdklas’ uitgegaan op hulle sending van wêreldverligting. Hulle het begin met die na-oorlogse werk om hierdie evangelie van die koninkryk te verkondig tot ’n getuienis vir al die nasies’ voordat die einde van hierdie stelsel kom (Mattheüs 24:14). So het die gesalfde oorblyfsel, die ,verstandige maagd’-klas, ’n belangrike aspek geword van die saamgestelde „teken” van Jesus se onsigbare „teenwoordigheid” as heersende Koning en „die voleinding van die stelsel”. Daardie verligtingswerk is nog ’n kragtige bewys dat „die tyd van die einde” aan die einde van die Heidense Tye in 1914 begin het. Gelukkig is almal wat met begrip die volle betekenis van hierdie voorspelde aspek van hierdie „teken” sien!
Hoe sal jy antwoord?
◻ Waarvan maak die Koninkrykspredikingswerk deel uit?
◻ Wie of wat word afgebeeld deur die ruiter op die wit perd; die vuurrooi perd; die swart perd; die vaal perd?
◻ Waarvan was die Joodse nasionale ramp in 70 G.J. ’n profetiese tipe?
◻ Wie maak die ,verstandige maagd’-klas uit, en waarom kan hulle hulle verbly?
[Prent op bladsy 14]
‘Vertel ons, wat sal die teken van u teenwoordigheid wees?’