Vrae van lesers
Ek verstaan dat die Griekse woord “toʹte” (dan) gebruik word om iets in te lei wat daarop volg. In die lig hiervan, waarom sê Matteus 24:9: “Dan [“toʹte”] sal mense julle aan verdrukking oorlewer”, terwyl die parallelle verslag in Lukas 21:12 sê: “Maar voor al hierdie dinge sal mense die hande aan julle slaan en julle vervolg”?
Dit is korrek om te sê dat toʹte gebruik kan word om iets in te lei wat daarop volg, iets wat as ’t ware in volgorde plaasvind. Maar ons hoef nie te verstaan dat dit die enigste Bybelse gebruik van die woord is nie.
A Greek-English Lexicon of the New Testament and Other Early Christian Literature, deur Bauer, Arndt, en Gingrich, toon dat die woord toʹte in twee basiese betekenisse in die Skrif gebruik word.
Die een is “op daardie tyd”. Dit kan na “toe in die verlede” verwys. ’n Voorbeeld wat gegee word, is Matteus 2:17: “Toe is vervul wat gespreek is deur middel van Jeremia, die profeet.” Dit verwys nie na iets in ’n reeks gebeure nie, maar dui ’n spesifieke tydstip in die verlede aan, op daardie tyd. Toʹte kan insgelyks gebruik word om na “dan in die toekoms” te verwys. Een voorbeeld word in 1 Korintiërs 13:12 gevind: “Want nou sien ons deur middel van ’n metaalspieël in vae omtrekke, maar dan sal dit van aangesig tot aangesig wees. Nou ken ek gedeeltelik, maar dan sal ek ten volle ken net soos ek ten volle geken word.” Paulus het toʹte hier gebruik in die betekenis van ‘op daardie tydstip in die toekoms’.
Volgens hierdie leksikon is die ander gebruik van toʹte “om iets in te lei wat in tydsorde daarop volg”. Hierdie leksikon gee baie voorbeelde wat in die drie verslae van Jesus se antwoord op die apostels se vraag oor die teken van sy teenwoordigheid gevind word.a Die leksikon het as voorbeelde van die gebruik van toʹte “om iets in te lei wat in tydsorde daarop volg” Matteus 24:10, 14, 16, 30; Markus 13:14, 21 en Lukas 21:20, 27 aangehaal. ’n Kykie na die verband toon waarom dit reg is om te verstaan dat dit na iets verwys wat in tydsorde daarop volg. En dit help ons om die sin te begryp van Jesus se profesie wat die ontwikkeling van toekomstige gebeure bevat het.
Maar ons hoef nie die gevolgtrekking te maak dat toʹte in elke geval waar dit in hierdie verslae voorkom iets móét inlei wat in tydsorde daarop volg nie. Ons lees byvoorbeeld in Matteus 24:7, 8 dat Jesus voorspel het dat nasie teen nasie sal opstaan en dat daar voedseltekorte en aardbewings sal wees. Vers 9 gaan voort: “Dan sal mense julle aan verdrukking oorlewer en julle doodmaak, en julle sal weens my naam vir al die nasies voorwerpe van haat wees.” Sou dit redelik wees om te verstaan dat die voorspelde oorloë, voedseltekorte en aardbewings almal eers moet plaasvind, en miskien moet ophou, voor die vervolging kan begin?
Dit is nie logies nie, en dit word ook nie gestaaf deur wat ons van die eerste-eeuse vervulling weet nie. Die verslag in die boek Handelinge toon dat die lede van die nuwe Christengemeente amper onmiddellik ná hulle begin preek het ernstige teenstand ondervind het (Handelinge 4:5-21; 5:17-40). Ons kan beslis nie sê dat al die oorloë, hongersnode en aardbewings waarvan Jesus gepraat het voor daardie vroeë vervolging plaasgevind het nie. Inteendeel, daardie teenstand het “voor” baie van die ander dinge begin wat voorspel is, en dit strook met die manier waarop Lukas dit gestel het: “Maar voor al hierdie dinge sal mense die hande aan julle slaan en julle vervolg” (Lukas 21:12). Dit gee te kenne dat toʹte in Matteus 24:9 meer in die betekenis van “op daardie tyd” gebruik word. Gedurende die tydperk van die oorloë, hongersnode en aardbewings, of op daardie tyd, sou die volgelinge van Jesus vervolg word.
[Voetnoot]
a Hierdie parallelle verslae in Matteus, Markus en Lukas is in kolomme op bladsy 14 en 15 van Die Wagtoring van 15 Februarie 1994 uiteengesit. Die gevalle waar toʹte as “dan” vertaal is, is in vet letters.