Laaste dae
Definisie: Die Bybel gebruik die uitdrukking “laaste dae” vir die slottydperk wat ’n goddelike voltrekking van oordeel voorafgaan wat die einde van ’n stelsel beteken. Die Joodse stelsel met sy aanbidding met die tempel in Jerusalem as middelpunt het sy laaste dae beleef gedurende die tydperk wat met die vernietiging in 70 G.J. sy hoogtepunt bereik het. Die gebeure van daardie tyd was ’n beeld van wat op ’n baie intensiewer wyse en op ’n wêreldskaal ondervind sou word op ’n tyd wanneer alle nasies die voltrekking van oordeel wat deur God bepaal is, tegemoet sou gaan. Die teenswoordige goddelose stelsel, wat dwarsoor die wêreld strek, het sy laaste dae in 1914 binnegegaan, en sommige lede van die geslag wat destyds gelewe het, sal nog lewe om die algehele einde daarvan in die “groot verdrukking” te aanskou.
Wat toon dat ons vandag in “die laaste dae” lewe?
Die Bybel beskryf gebeure en toestande wat hierdie betekenisvolle tydperk kenmerk. “Die teken” is ’n samegestelde teken wat uit talle fasette bestaan; die vervulling daarvan vereis dus dat al die aspekte van die teken duidelik in een geslag te sien moet wees. Die verskillende aspekte van die teken is opgeteken in Mattheüs hoofstukke 24, 25, Markus 13 en Lukas 21; daar is verdere besonderhede in 2 Timotheüs 3:1-5, 2 Petrus 3:3, 4 en Openbaring 6:1-8. Ons sal ter toeligting enkele belangrike dele van die teken bespreek.
“Die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander” (Matt. 24:7)
Oorlog bederf die lewe op die aarde al duisende jare lank. Internasionale sowel as burgeroorloë is gevoer. Maar in 1914 het die eerste wêreldoorlog uitgebreek. Dit was nie bloot ’n botsing tussen twee leërs op die slagveld nie. Vir die eerste keer was al die groot moondhede in oorlog gewikkel. Hele nasies—burgerlike bevolkings inkluis—is gemobiliseer om die oorlogspoging te steun. Daar word geskat dat 93 persent van die wêreldbevolking teen die einde van die oorlog daarby betrokke was. (Kyk bladsye 264, 265, aangaande die geskiedkundige betekenis van 1914.)
Soos in Openbaring 6:4 voorspel is, ‘is die vrede van die aarde af weggeneem’. Die wêreld was dus sedert 1914 ononderbroke in ’n staat van omwenteling. Die Tweede Wêreldoorlog is van 1939 tot 1945 gevoer. Volgens afgetrede admiraal Gene La Rocque was daar tot 1982 nog 270 oorloë sedert 1945. Meer as 100 miljoen persone het gedurende hierdie eeu in oorlogvoering omgekom. En volgens die 1982-uitgawe van World Military and Social Expenditures was daar in daardie jaar 100 miljoen mense regstreeks of onregstreeks by militêre bedrywighede betrokke.
Is meer nodig om hierdie aspek van die profesie te vervul? Tienduisende kernwapens is vir onmiddellike gebruik ontplooi. Toonaangewende wetenskaplikes het gesê dat indien die nasies slegs ’n breukdeel van hulle kernarsenale gebruik, die beskawing en moontlik die hele mensdom uitgewis sal word. Maar dit is nie die uitslag waarop Bybelprofesie wys nie.
“Daar sal hongersnode wees . . . op verskillende plekke” (Matt. 24:7)
Daar was al talle hongersnode in die mensegeskiedenis. In watter mate is die 20ste eeu daardeur geteister? Wêreldoorlog het tot algemene hongersnood in Europa en Asië gelei. Afrika is deur droogte geteister, en dit het omvattende voedseltekorte tot gevolg gehad. Teen die einde van 1980 het die Voedsel-en-Landbou-organisasie geraam dat 450 miljoen mense so honger was dat hulle ’n hongerdood kon sterf, en dat tot ’n duisendmiljoen nie genoeg gehad het om te eet nie. Sowat 40 miljoen van hulle sterf inderdaad elke jaar—in sommige jare tot 50 miljoen—as gevolg van ’n tekort aan voedsel.
Is hierdie voedseltekorte enigsins verskillend? Openbaring 6:6 het getoon dat ’n klein hoeveelheid stapelvoedselsoorte soos koring of gars ’n dagloon (’n penning; kyk Mattheüs 20:2) sou kos, en dit het gewaarsku om nie voorrade soos olyfolie en wyn te gou op te gebruik nie. Al hierdie dinge is destyds in die Midde-Ooste as noodsaaklikhede beskou; dit het dus groot hongersnood voorspel. Hierdie situasie kom nie meer net plek-plek voor nie, maar oor die hele wêreld. In 1981 het The New York Times berig: “Die verbetering van lewenstandaarde en die toenemende vraag na voedsel rondom die wêreld laat voedselpryse styg sodat dit vir die armste lande moeilik is om genoeg kos in te voer.” In baie lande kon voedselproduksie, selfs met behulp van die hedendaagse wetenskap, nie tred hou met die bevolkingsaanwas nie. Hedendaagse voedseldeskundiges sien geen gewisse oplossing vir die probleem nie.
“Daar sal groot aardbewings . . . wees” (Luk. 21:11)
Daar was weliswaar groot aardbewings in vorige eeue; daarbenewens neem wetenskaplikes nou met hulle gevoelige toerusting meer as ’n miljoen skuddings per jaar waar. Maar geen spesiale instrumente is nodig vir mense om te weet wanneer daar ’n groot aardbewing is nie.
Was daar inderdaad ’n betekenisvolle getal groot aardbewings sedert 1914? Met gegewens wat verkry is van die Nasionale Geofisiese Datasentrum in Boulder, Colorado, aangevul deur ’n aantal standaardnaslaanwerke, is daar in 1984 ’n lys gemaak van net dié aardbewings wat 7,5 of meer op die Richterskaal geregistreer het, of wat skade ten bedrae van R10-miljoen of meer aan eiendom aangerig het, of wat 100 of meer lewens geëis het. Daar is bereken dat daar 856 sulke aardbewings gedurende die 2 000 jaar voor 1914 was. Dieselfde berekening het getoon dat daar in net 69 jaar na 1914 altesaam 605 sulke skuddings was. Dit beteken dat die jaarlikse gemiddelde sedert 1914 20 keer groter is as die jaarlikse gemiddelde van die vorige 2 000 jaar.
“Op verskillende plekke . . . pessiektes” (Luk. 21:11)
Teen die einde van die Eerste Wêreldoorlog het die Spaanse griep die hele aarde geteister en meer as 20 miljoen lewens geëis teen ’n ongeëwenaarde tempo in die geskiedenis van siektes. Ondanks vordering op die gebied van die mediese wetenskap eis kanker, hartkwaal, talle seksueel oordraagbare siektes, verspreide sklerose, malaria, rivierblindheid en Chaga-siekte jaarliks baie lewens.
‘Toenemende ongeregtigheid wat gepaard gaan met ’n verkoeling van die meeste se liefde’ (Matt. 24:11, 12)
’n Toonaangewende kriminoloog sê: “Die een ding wat jou opval wanneer jy na misdadigheid op die wêreldskaal kyk, is ’n deurdringende en volgehoue vermeerdering oral. Die enkele uitsondering hier en daar sal eerlank deur die toenemende vlaag verswelg word” (The Growth of Crime, New York, 1977, sir Leon Radzinowicz en Joan King, bl. 4, 5). Die vermeerdering is ’n werklikheid; dit is nie bloot ’n geval van beter aanmelding nie. Vorige geslagte het weliswaar ook misdadigers gehad, maar misdadigheid het nog nooit tevore so algemeen voorgekom soos nou nie. Bejaardes weet dit uit eie ondervinding.
Die ongeregtigheid waarna die profesie verwys, sluit minagting vir die bekende wette van God in, sodat die persoon homself in plaas van God die spil van sy lewe maak. As gevolg van hierdie gesindheid skiet egskeidingsyfers die hoogte in, word buite-egtelike geslagsomgang en homoseksualiteit algemeen aanvaar, en word daar jaarliks tienmiljoene aborsies uitgevoer. Sulke ongeregtigheid word (in Mattheüs 24:11, 12) geassosieer met die invloed van valse profete, diegene wat God se Woord opsysit ten gunste van hulle eie leerstellings. Wanneer daar op hulle filosofieë ag geslaan word in plaas daarvan om te doen wat die Bybel sê, dra dit tot ’n liefdelose wêreld by (1 Joh. 4:8). Lees die beskrywing daarvan in 2 Timotheüs 3:1-5.
“Mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom” (Luk. 21:25, 26)
“Vrees is inderdaad vandag die grootste enkele emosie wat ons lewens oorheers”, het U.S.News & World Report (11 Oktober 1965, bl. 144) gesê. “Die mensdom was nog nooit tevore so bang soos nou nie”, het die Duitse tydskrif Hörzu berig.—Nr. 25, 20 Junie 1980, bl. 22.
Baie faktore dra tot hierdie wêreldwye atmosfeer van vrees by: gewelddadigheid, werkloosheid, ekonomiese onbestendigheid omdat soveel nasies hopeloos in die skuld is, wêreldwye omgewingsbesoedeling, ’n gebrek aan hegte en liefdevolle familiebande, en die oorweldigende gevoel dat die mensdom deur kernuitwissing in die gesig gestaar word. Lukas 21:25 meld ‘tekens aan son, maan en sterre en ’n see wat dreun’ waar dit die benoudheid van die nasies beskryf. Die son se opkoms wek dikwels nie blye verwagting nie, maar vrees vir wat die dag inhou; wanneer die maan en sterre skyn, laat vrees vir misdadigheid mense agter geslote deure bly. In die 20ste eeu, en nie vantevore nie, is vliegtuie en missiele gebruik om vernietiging uit die hemele te laat neerreën. Duikbote wat met dodelike missiele bewapen is, hou skuil in die see, en net een sodanige duikboot is toegerus om 160 stede uit te wis. Geen wonder dat die nasies benoud is nie!
‘Christus se ware volgelinge sal deur al die nasies gehaat word ter wille van sy Naam’ (Matt. 24:9)
Christus se ware volgelinge word nie vervolg omdat hulle hulle met die politiek bemoei het nie, maar ‘ter wille van die naam van Jesus Christus’, omdat hulle hom as Jehovah se Messiaanse Koning aanhang, omdat hulle aan Christus meer gehoorsaam is as aan enige aardse heerser, omdat hulle sy Koninkryk lojaal aanhang en nie by die sake van menseregerings betrokke raak nie. Soos eietydse geskiedenis toon, is dit die ondervinding van Jehovah se Getuies in alle dele van die aarde.
“Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis” (Matt. 24:14)
Die boodskap wat verkondig sou word, is dat God se Koninkryk in die hande van Jesus Christus in die hemele begin heers het, dat dit binnekort ’n einde gaan maak aan die ganse goddelose stelsel, dat die mensdom onder die bewind daarvan volmaak sal word en dat die aarde ’n paradys sal word. Daardie goeie nuus word vandag in meer as 200 lande en eilandgroepe, tot aan die uiterste van die aarde, verkondig. Jehovah se Getuies bestee elke jaar honderdmiljoene ure aan hierdie werk en doen herhaalde huisbesoeke sodat soveel moontlik die geleentheid kan kry om dit te hoor.
Waarop dui al hierdie gebeure van “die laaste dae”?
Luk. 21:31, 32: “So moet julle ook weet dat die koninkryk van God naby is [dit wil sê, die tyd wanneer dit die teenswoordige wêreld gaan vernietig en self beheer van die aarde se aangeleenthede gaan oorneem] wanneer julle hierdie dinge sien gebeur. Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat alles gebeur het nie.” (Die “geslag” wat gelewe het tydens die aanvang van die vervulling van die teken in 1914 is nou bejaard. Die tyd wat oorbly, moet baie kort wees. Wêreldtoestande toon duidelik dat dit die geval is.)
Waarom sê Jehovah se Getuies dat “die laaste dae” in 1914 begin het?
Die jaar 1914 word deur Bybelprofesie aangedui. Kyk bladsye 209-211, onder “Jaartalle”, vir besonderhede oor die chronologie. Die korrektheid van die jaartal word getoon deur die feit dat wêreldtoestande wat vir hierdie tydperk voorspel is sedert 1914 plaasgevind het presies soos dit voorspel is. Die feite wat hierbo verstrek is, lig dit toe.
Hoe beskou sekulêre geskiedskrywers die jaar 1914?
“As ons vandag terugkyk, sien ons duidelik dat die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog ’n twintigste-eeuse ‘Tyd van moeilikheid’—om die raak uitdrukking van die Britse geskiedskrywer Arnold Toynbee te gebruik—ingelui het, ’n tyd waarvan ons beskawing nog lank nie herstel het nie. Al die beroeringe van die laaste halfeeu kan regstreeks of onregstreeks tot by 1914 teruggespoor word.”—The Fall of the Dynasties: The Collapse of the Old Order (New York, 1963), Edmond Taylor, bl. 16.
“Die mense van die geslag van die Tweede Wêreldoorlog, my geslag, sal altyd aan hulle botsing dink as die groot, hedendaagse kentering. . . . Ons moet ons ydelheid, ons persoonlike rendezvous met die geskiedenis, gegun word. Maar ons moet weet dat, in maatskaplike terme, ’n verreweg beslissender verandering met die Eerste Wêreldoorlog ingetree het. Dit was toe dat politieke en maatskaplike stelsels, waaraan daar eeue gebou is, verbrokkel het—soms in net ’n paar weke. En ander is permanent hervorm. Dit was in die Eerste Wêreldoorlog dat die eeue-oue sekerhede verlore geraak het. . . . Die Tweede Wêreldoorlog het hierdie verandering voortgesit, vergroot en bevestig. In maatskaplike terme was die Tweede Wêreldoorlog die laaste veldslag van die Eerste Wêreldoorlog.”—The Age of Uncertainty (Boston, 1977), John K. Galbraith, bl. 133.
“’n Halfeeu het verloop, maar die merk wat die tragedie van die Groot Oorlog [die Eerste Wêreldoorlog wat in 1914 uitgebreek het] op die liggaam en siel van die nasies gelaat het, het nie vervaag nie . . . Die fisiese en morele omvang van hierdie beproewing was sodanig dat niks onveranderd gebly het nie. Die samelewing in sy geheel: regeringstelsels, landsgrense, wette, strydkragte, betrekkinge tussen state, maar ook ideologieë, die gesinslewe, fortuine, posisies, persoonlike verhoudinge—alles, van bo tot onder, het verander. . . . Die mensdom het eindelik sy ewewig verloor en het dit tot vandag toe nog nie herwin nie.”—Generaal Charles De Gaulle, in ’n toespraak in 1968 (Le Monde, 12 November 1968, bl. 9).
Sal daar hoegenaamd enigiemand op aarde oorbly na die einde van die teenswoordige wêreld?
Ja, beslis. Die einde van die teenswoordige wêreldstelsel sal nie die gevolg van ’n blinde kernslagting wees nie, maar sal aanbreek in ’n groot verdrukking wat “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” insluit (Openb. 16:14, 16). Daardie oorlog sal nie die aarde vernietig of die hele mensdom uitwis nie.
Matt. 24:21, 22: “Dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word.” (Daar sal dus wel “vlees”, lede van die mensdom, behoue bly.)
Spr. 2:21, 22: “Die opregtes sal die land [“aarde”, NW] bewoon, en die regskapenes daarin oorbly, maar die goddelose sal uit die land [“aarde”, NW] uitgeroei, en die ontroues sal daaruit weggeruk word.”
Ps. 37:29, 34: “Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon. . . . Wag op die HERE en hou sy weg, en Hy sal jou verhoog, om die aarde te besit; jy sal met welgevalle neersien op die uitroeiing van die goddelose mense.”
Waarom laat God soveel tyd verstryk voordat hy die goddeloses vernietig?
2 Pet. 3:9: “Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.”
Mark. 13:10: “Die evangelie moet eers aan al die nasies verkondig word.”
Matt. 25:31, 32, 46: “Wanneer die Seun van die mens [Jesus Christus] in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit; en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei . . . En hulle [wat versuim om Christus se geestelike broers as verteenwoordigers van die Koning self te erken] sal weggaan in die ewige straf, maar die regverdiges in die ewige lewe.”
Kyk ook bladsye 168-170 en 366, 367.
As iemand sê—
‘Toestande is vandag nie erger as tevore nie; daar was nog altyd oorloë, hongersnode, aardbewings, misdadigheid’
Jy kan antwoord: ‘Ek kan begryp hoekom u so voel. Ons is gebore in ’n wêreld waar hierdie dinge alledaagse nuus is. Maar geskiedkundiges verduidelik dat daar iets drasties verskillends omtrent die 20ste eeu is. (Lees aanhalings op bladsye 264, 265.)’
Of jy kan sê: ‘Dit is nie bloot die feit dat daar oorloë, hongersnode, aardbewings en misdadigheid is wat betekenisvol is nie. Het u besef dat die teken wat Jesus gegee het ’n samegestelde teken is?’ Dan kan jy byvoeg: ‘Hy het nie gesê dat enige van hierdie gebeurtenisse op sigself sou bewys dat ons in “die laaste dae” lewe nie. Maar wanneer die hele teken te sien is, is dit betekenisvol—en veral wanneer dit wêreldwyd voorkom en begin het in ’n jaar wat deur Bybelchronologie aangedui word.’ (Kyk bladsye 259-263, ook bladsye 209-211.)
‘Hoe weet jy dat ’n toekomstige geslag die profesie nie selfs beter sal pas as ons s’n nie?’
Jy kan antwoord: ‘Dit is ’n interessante vraag, en die antwoord daarop beklemtoon die feit dat ons werklik in “die laaste dae” lewe. Hoe? Wel, ’n deel van die teken wat deur Jesus gegee is, sluit oorlog tussen nasies en koninkryke in. Maar wat sou vandag gebeur indien die teken eers vervul sou word nadat nog ’n volskaalse oorlog tussen die supermoondhede uitgebreek het? Na so ’n oorlog sal daar min indien enige oorlewendes wees. U sien dus dat God se voorneme dat daar oorlewendes moet wees, aandui dat ons nou baie na aan die einde van die ou stelsel is.’
Of jy kan sê: ‘Wanneer ons na die wêreldgebeure soek wat hierdie profesie vervul, is dit soos om na die eienaar van ’n vingerafdruk te soek. Daar sal nie iemand anders met presies dieselfde afdruk wees nie. Die patroon van gebeure wat in 1914 begin het, sal eweneens nie in ’n toekomstige geslag herhaal word nie.’ Dan kan jy byvoeg: (1) ‘Al die dele van die teken is duidelik te sien.’ (2) ‘Ons wil beslis nie soos die mense in Noag se dag wees nie (Matt. 24:37-39).’
‘Ons sal nie die einde in ons lewe sien nie’
Jy kan antwoord: ‘Maar u glo tog dat God wel op die een of ander tyd gaan ingryp, nie waar nie?’ Dan kan jy byvoeg: (1) ‘Die enigste manier waarop enigeen van ons kon weet wanneer dit gaan wees, is as Hy daardie informasie aan ons beskikbaar gestel het. Jesus het duidelik gesê dat geen mens die dag of die uur weet nie, maar hy het die dinge wat gedurende die geslag waarin dit sou plaasvind in besonderhede beskryf.’ (2) ‘Daardie beskrywing handel oor gebeure waarmee u persoonlik bekend is. (Bespreek besonderhede van die teken, indien moontlik, en gebruik die feite wat op die vorige bladsye verstrek is.)’
‘Ek bekommer my nie oor hierdie dinge nie; ek lewe net van dag tot dag’
Jy kan antwoord: ‘Dit is beslis goed om nie te bekommerd oor die toekoms te wees nie. Maar ons probeer almal om ons lewens so te beplan dat ons onsself en ons dierbares beskerm. Realistiese beplanning is prakties. Die Bybel toon dat daar wonderlike dinge voorlê, en ons is verstandig as ons so beplan dat ons daarby baat vind (Spr. 1:33; 2 Pet. 3:13).’
‘Ek tob nie oor al hierdie slegte toestande nie; ek hou daarvan om optimisties te wees oor die toekoms’
Jy kan antwoord: ‘Dit is interessant dat Jesus gesê het dat daar goeie redes sou bestaan vir sy volgelinge om in ons dag optimisties te wees (Luk. 21:28, 31).’ Dan kan jy byvoeg: ‘Maar let op dat hy nie vir hulle sê dat hulle hulle oë moet sluit vir wat in die wêreld gebeur en gelukkig moet wees nie. Hy sê dat hulle optimisme deeglik gegrond sou wees; dit sou wees omdat hulle die betekenis van wêreldgebeure verstaan en weet wat die uitslag sou wees.’