Wat het van naasteliefde geword?
MILJOENE voel verlore, bang en ellendig en dat hulle niemand het tot wie hulle hulle kan wend nie. “Ek eet alleen, stap alleen, slaap alleen en praat met myself”, het iemand gekla. Min mense is gewillig om te help en liefdevol teenoor diegene in nood op te tree.
’n Afgetrede sakevrou het gesê: ‘Een aand het ’n weduwee wat op dieselfde verdieping as ek woon aan my deur geklop en gesê dat sy eensaam is. Ek het beleef maar botweg vir haar gesê dat ek besig is. Sy het om verskoning gevra omdat sy my gesteur het en weggegaan.’
Die vrou het voorts gesê: ‘Ek was nogal trots op myself dat ek my nie deur so ’n laspos laat vang het nie. Die volgende aand het ’n vriend my gebel en gevra of ek die vrou in my woonstelgebou geken het wat die vorige aand selfmoord gepleeg het. Jy het seker al geraai; sy was die vrou wat aan my deur geklop het.’ Daarna het die sakevrou gesê dat sy ’n “harde les” geleer het.
Dit is ’n welbekende feit dat babas wat nie liefde kry nie, kan sterf. Ouer kinders kan ook sterf as hulle nie liefde kry nie. ’n Aantreklike 15-jarige het in ’n selfmoordbrief geskryf: “Liefde is om nie meer eensaam te wees nie.”
’n Hedendaagse tragedie
’n Paar jaar gelede het Newsweek die volgende kommentaar oor etniese haat gelewer: “‘Haat jou naaste’ was blykbaar die leuse van die jaar.” Gedurende konflikte in Bosnië en Herzegowina, vroeër ’n deel van Joego-Slawië, is meer as ’n miljoen mense gedwing om hulle huise te verlaat, en tienduisende is doodgemaak. Deur wie? “Ons bure”, het ’n meisie gekla wat uit haar dorpie gedryf is. “Ons het hulle geken.”
“Ons het in vrede saamgeleef”, het ’n vrou van die 3000 Hutu’s en Tutsi’s gesê wat in die dorpie Ruganda woon. The New York Times het gesê: “Die verhaal van hierdie dorpie is die verhaal van Rwanda: Hutu’s en Tutsi’s het saam gewoon, onder mekaar getrou, nie omgegee of selfs nie geweet wie ’n Hutu en wie ’n Tutsi is nie. Toe het iets skielik geknak”, en “die slagting het begin”.
In Israel bly Jode en Arabiere eweneens langs mekaar, maar baie haat mekaar. Deur hierdie hele 20ste eeu heen het soortgelyke situasies ontstaan in Noord-Ierland, in Indië en Pakistan, in Maleisië en Indonesië en tussen die rasse in die Verenigde State—ja, regoor die wêreld waarin ons woon.
’n Mens kan voortgaan om voorbeeld op voorbeeld van etniese en godsdienshaat op te noem. Nog nooit in die geskiedenis was daar so ’n gebrek aan liefde in die wêreld nie.
Wie dra die verantwoordelikheid?
Haat word, net soos liefde, aangeleer. ’n Gewilde liedjie sê kinders word “geleer voordat dit te laat is/Voordat jy ses of sewe of agt is/Om al die mense te haat wat jou familie haat”. Haat word veral vandag aangeleer. Die kerke in die besonder het hulle lidmate nie geleer om lief te hê nie.
Die Franse koerant Le Monde het gevra: “Hoe kan ’n mens vergeet dat die Tutsi’s en die Hutu’s wat in Burundi en Rwanda in oorlog gewikkel is deur dieselfde Christensendelinge geleer is en na dieselfde kerke toe gegaan het?” Trouens, volgens die National Catholic Reporter is Rwanda ’n “nasie wat uit 70% Katolieke bestaan”.
Vroeër in hierdie eeu het lande van Oos-Europa hulle tot ateïstiese Kommunisme gewend. Waarom? In 1960 het die dekaan van ’n godsdiensfakulteit in Praag, Tsjeggo-Slowakye, gesê: “Dit is ons, alleenlik ons Christene, wat vir Kommunisme verantwoordelik is. . . . Onthou dat die Kommuniste vroeër Christene was. Wie se skuld is dit as hulle nie aan ’n regverdige God glo nie?”
Dink aan wat die kerke gedurende die Eerste Wêreldoorlog gedoen het. Die Britse brigadier Frank Crozier het die volgende oor daardie oorlog gesê: “Die Christelike Kerke is die beste aanstigters van bloeddorstigheid wat ons het, en ons het hulle vryelik gebruik.” Later, ná die Tweede Wêreldoorlog, het The New York Times gesê: “In die verlede het plaaslike Katolieke hiërargieë feitlik altyd die oorloë van hulle land gesteun, die troepe geseën en gebede om oorwinning gedoen, terwyl ’n ander groep biskoppe aan die ander kant openlik vir die teenoorgestelde uitslag gebid het.”
Maar Jesus Christus het liefde in al sy bedrywighede geopenbaar, en die apostel Paulus het geskryf: “Julle word self deur God geleer om mekaar lief te hê” (1 Tessalonisense 4:9). “Ware Christene is broers en susters in Jesus Christus”, het ’n redaksielid van Vancouver se Sun gesê. “Hulle sal mekaar so nooit aste nimmer moedswillig seermaak nie.”
Die kerke dra ongetwyfeld ’n swaar verantwoordelikheid vir vandag se gebrek aan liefde. ’n Artikel wat in die tydskrif India Today gepubliseer is, het berig: “Godsdiens is die vaandel waaronder die afgryslikste misdade gepleeg is.” Maar daar is ’n grondrede waarom ons geslag deur soveel hartelose minagting vir ander gekenmerk word.
Waarom naasteliefde verkoel het
Ons Skepper gee die antwoord. Sy Woord, die Bybel, noem die tyd waarin ons lewe “die laaste dae”. Volgens Bybelprofesieë is dit ’n tydperk waarin mense “sonder natuurlike geneentheid” sal wees. Jesus Christus het aangaande hierdie ‘kritieke tye wat moeilik is om deur te kom’, wat in die Skrif ook “die voleinding van die stelsel van dinge” genoem word, voorspel dat ‘die liefde van die meeste sal verkoel’.—2 Timoteus 3:1-5; Matteus 24:3, 12.
Die hedendaagse gebrek aan liefde is derhalwe ’n deel van die bewys dat ons in die laaste dae van hierdie wêreld lewe. Gelukkig beteken dit ook dat hierdie wêreld van goddelose mense binnekort vervang gaan word deur ’n regverdige nuwe wêreld waarin liefde sal heers.—Matteus 24:3-14; 2 Petrus 3:7, 13.
Maar het ons werklik rede om te glo dat so ’n verandering moontlik is—dat ons in ’n wêreld sal kan lewe waar alle mense mekaar sal liefhê en in vrede met mekaar sal saamlewe?