Volharding—noodsaaklik vir Christene
“Voeg by julle geloof . . . volharding.”—2 PETRUS 1:5, 6, NW.
1, 2. Waarom moet ons almal volhard tot die einde toe?
DIE reisende opsiener en sy vrou het ’n mede-Christen besoek wat in die 90 was. Hy was dekades lank in die voltydse bediening. Gedurende hulle gesprek het die ouer broer oor party van die voorregte gesels wat hy deur die jare geniet het. “Maar”, het hy gesê terwyl trane oor sy wange begin stroom het, “nou kan ek amper niks meer doen nie.” Die reisende opsiener het sy Bybel oopgeslaan en Mattheüs 24:13 gelees waar Jesus Christus gesê het: “Wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.” Toe het die opsiener na die dierbare broer gekyk en gesê: “Die finale toewysing wat ons almal het, ongeag hoeveel of hoe min ons kan doen, is om te volhard tot die einde toe.”
2 Ja, as Christene moet ons almal tot die einde van hierdie stelsel van dinge of tot die einde van ons lewe volhard. Dit is die enigste manier waarop ons Jehovah se goedkeuring vir redding sal ontvang. Ons neem almal deel aan ’n wedloop om die lewe, en ons moet “met volharding die wedloop loop” tot ons oor die wenstreep is (Hebreërs 12:1). Die apostel Petrus het die belangrikheid van hierdie eienskap beklemtoon toe hy mede-Christene gemaan het: “Voeg by julle geloof . . . volharding” (2 Petrus 1:5, 6, NW). Maar wat presies is volharding?
Volharding—Wat dit beteken
3, 4. Wat beteken dit om te volhard?
3 Wat beteken dit om te volhard? Die Griekse werkwoord vir “volhard” (hy·po·meʹno), beteken letterlik “onder bly”. Dit kom 17 keer in die Bybel voor. Volgens die leksikograwe W. Bauer, F. W. Gingrich en F. Danker beteken dit “om te bly pleks van te vlug . . . , om vas te staan, om uit te hou”. Die Griekse selfstandige naamwoord vir “volharding” (hy·po·mo·neʹ) kom meer as 30 keer voor. A New Testament Wordbook, deur William Barclay, sê aangaande dié woord: “Dit is die gesindheid wat dinge kan verdra, nie bloot met berusting nie, maar met vurige hoop . . . Dit is die eienskap wat ’n man op sy voete hou wanneer hy die wind van voor kry. Dit is die deug wat die swaarste beproewing in heerlikheid kan verander, omdat dit die doelwit anderkant die pyn sien.”
4 Volharding help ons dus om standvastig te bly en nie hoop te verloor wanneer ons voor struikelblokke of probleme te staan kom nie (Romeine 5:3-5, NAV). Dit kyk verby die huidige pyn na die doelwit—die prys, of die gawe, van die ewige lewe, hetsy in die hemel of op die aarde.—Jakobus 1:12, NW.
Volharding—Waarom?
5. (a) Waarom het alle Christene ‘volharding nodig’? (b) In watter twee kategorieë kan ons beproewinge verdeel word?
5 As Christene het ons almal ‘volharding nodig’ (Hebreërs 10:36, NAV). Waarom? Basies omdat daar ‘allerlei beproewinge oor ons kom’. Hier in Jakobus 1:2 (NAV) dui die Griekse teks op ’n onverwagte of onwelkome besoeker, soos wanneer iemand deur ’n rower gekonfronteer word. (Vergelyk Lukas 10:30.) Die beproewinge wat oor ons kom, kan in twee kategorieë verdeel word: dié wat alle mense verduur as gevolg van oorgeërfde sonde en dié wat ontstaan vanweë ons godvrugtige toegewydheid (1 Korinthiërs 10:13, NW; 2 Timotheüs 3:12, NW). Wat is sommige van hierdie beproewinge?
6. Hoe het een Getuie volhard terwyl hy deur ’n pynlike siekte geteister is?
6 Ernstige siekte. Soos Timotheüs, ondervind sommige Christene “herhaalde ongesteldhede” (1 Timotheüs 5:23). Veral wanneer ons met ’n chroniese siekte te kampe het wat moontlik baie pynlik is, moet ons met God se hulp volhard, standvastig bly, en nie ons Christelike hoop uit die oog verloor nie. Beskou die voorbeeld van ’n Getuie wat net oor die 50 was en ’n lang, moeilike stryd teen ’n snelgroeiende, kwaadaardige gewas gevoer het. Hy het deur twee operasies onwrikbaar by sy besluit gebly om nie bloedoortappings te aanvaar nie (Handelinge 15:28, 29). Maar die gewas was ná ’n ruk weer in sy maag en het naby sy ruggraat bly groei. As gevolg hiervan het hy ongelooflike fisiese pyn ervaar wat deur geen medikasie verlig kon word nie. Hy het nietemin verby sy pyn gekyk na die prys van lewe in die nuwe wêreld. Hy het voortdurend met dokters, verpleegsters en besoekers oor sy vurige hoop gepraat. Hy het reg tot die einde toe volhard—die einde van sy lewe. Jou gesondheidsprobleem stel dalk nie jou lewe in gevaar of is dalk nie so pynlik soos die probleem wat daardie dierbare broer ondervind het nie, maar dit kan nogtans jou volharding swaar beproef.
7. Watter soort pyn is vir party van ons geestelike broers en susters by volharding betrokke?
7 Emosionele pyn. Van tyd tot tyd ondervind party lede van Jehovah se volk “die smart van die hart” wat lei tot “’n neerslagtige gees” (Spreuke 15:13, NW). Ernstige depressie is iets algemeens in hierdie “swaar tye” (2 Timotheüs 3:1). Die Science News van 5 Desember 1992 het berig: “Die gevalle van ernstige, dikwels aftakelende depressie het toegeneem met elke nuwe geslag wat sedert 1915 gebore is.” Daar is verskillende dinge wat sulke depressie veroorsaak—van fisiologiese faktore tot uiters onaangename ondervindinge. Vir sommige Christene beteken volharding ’n daaglikse stryd om ten spyte van emosionele pyn staande te bly. Maar hulle gee nie die stryd gewonne nie. Hulle bly getrou aan Jehovah ondanks die trane.—Vergelyk Psalm 126:5, 6.
8. Voor watter finansiële beproewing kan ons te staan kom?
8 Die verskillende beproewinge waarvoor ons te staan kom, sluit dalk ernstige ekonomiese ontberinge in. Toe ’n broer in New Jersey, VSA, skielik sy werk verloor het, was hy begryplikerwys bekommerd dat hy nie sy gesin sou kon voed nie of dat hy sy huis sou verloor. Hy het egter nie die Koninkrykshoop uit die oog verloor nie. Terwyl hy ander werk gesoek het, het hy van die geleentheid gebruik gemaak om as ’n hulppionier te dien. Hy het wel later werk gekry.—Mattheüs 6:25-34.
9. (a) Hoe kan die verlies van ’n geliefde deur die dood volharding verg? (b) Watter tekste toon dat dit nie verkeerd is om trane van smart te stort nie?
9 As jy ’n geliefde deur die dood verloor het, het jy die soort volharding nodig wat sal voortduur lank nadat die mense om jou tot hulle normale roetine teruggekeer het. Miskien vind jy selfs dat dit elke jaar om en by die tyd toe jou geliefde gesterf het veral vir jou moeilik is. Om ondanks so ’n verlies te volhard, beteken nie dat ’n mens nie trane van smart mag stort nie. Dit is natuurlik om oor die dood van ’n geliefde te treur, en dit weerspieël hoegenaamd nie ’n gebrek aan geloof in die opstandingshoop nie. (Genesis 23:2; vergelyk Hebreërs 11:18.) Jesus “het geween” ná Lasarus se dood, al het Hy vol vertroue vir Martha gesê: “Jou broer sal opstaan.” En Lasarus hét opgestaan!—Johannes 11:23, 32-35, 41-44.
10. Waarom het Jehovah se volk in ’n unieke opsig volharding nodig?
10 Benewens die feit dat Jehovah se volk dieselfde beproewinge as alle mense verduur, het hulle in ’n unieke opsig volharding nodig. “Julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam”, het Jesus gewaarsku (Mattheüs 24:9). Hy het ook gesê: “As hulle My vervolg het, sal hulle jul ook vervolg” (Johannes 15:20). Waarom al die haat en vervolging? Want ongeag waar ons as God se knegte op hierdie aarde woon, Satan wil ons sover kry om ons onkreukbaarheid teenoor Jehovah prys te gee. (1 Petrus 5:8; vergelyk Openbaring 12:17.) Daarom het Satan al dikwels vervolging aangeblaas en ons volharding tot die uiterste beproef.
11, 12. (a) Met watter toets van volharding het Jehovah se Getuies en hulle kinders gedurende die dertiger- en vroeë veertigerjare te kampe gehad? (b) Waarom salueer Jehovah se Getuies nie die nasionale embleem nie?
11 Gedurende die dertiger- en vroeë veertigerjare is Jehovah se Getuies en hulle kinders in die Verenigde State en Kanada byvoorbeeld vervolg omdat hulle vanweë hulle gewete nie die nasionale embleem gesalueer het nie. Die Getuies respekteer die embleem van die land waarin hulle woon, maar hulle volg die beginsel wat in God se Wet in Exodus 20:4, 5 uiteengesit word: “Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die HERE jou God, is ’n jaloerse God.” Toe party Getuiekinders uit die skool gesit is omdat hulle hulle aanbidding slegs tot Jehovah God wou rig, het die Getuies Koninkrykskole gestig om die kinders te onderrig. Hierdie skoolkinders het na die openbare skole teruggekeer toe die Appèlhof van die Verenigde State hulle godsdiensstandpunt erken het, soos verligte lande vandag doen. Die moedige volharding van hierdie jongmense dien as ’n uitstekende voorbeeld, veral vir jong Christene wat dalk nou bespot word omdat hulle volgens Bybelstandaarde probeer lewe.—1 Johannes 5:21.
12 As ons kyk na die verskillende beproewinge waarvoor ons te staan kom—dié wat alle mense deurmaak sowel as dié wat ons vanweë ons Christelike geloof verduur—kan ons sien waarom ons volharding nodig het. Maar hoe kan ons volhard?
Volhard tot die einde toe—Hoe?
13. Hoe verskaf Jehovah volharding?
13 God se volk het beslis ’n voordeel bo diegene wat Jehovah nie aanbid nie. As ons hulp nodig het, kan ons ons wend tot ‘die God wat volharding verskaf’ (Romeine 15:5, NW). Maar hoe verskaf Jehovah volharding? Een manier waarop hy dit doen, is deur die voorbeelde van volharding wat in sy Woord, die Bybel, opgeteken is (Romeine 15:4, NW). Wanneer ons daaroor peins, moedig dit ons nie net aan om te volhard nie, maar ons leer ook baie oor hóé ons kan volhard. Kom ons kyk na twee voortreflike voorbeelde—die moedige volharding van Job en die volmaakte volharding van Jesus Christus.—Hebreërs 12:1-3; Jakobus 5:11, NAV.
14, 15. (a) Watter beproewinge het Job verduur? (b) Hoe kon Job die beproewinge verduur wat oor hom gekom het?
14 Watter situasies het Job se volharding beproef? Hy het ekonomiese ontberinge ondervind toe hy feitlik al sy besittings verloor het. (Job 1:14-17; vergelyk Job 1:3.) Job het smart verduur toe al tien sy kinders tydens ’n windstorm gesterf het (Job 1:18-21). Hy het ’n ernstige, baie pynlike siekte gehad (Job 2:7, 8; 7:4, 5). Sy eie vrou het druk op hom uitgeoefen om God die rug toe te keer (Job 2:9). Intieme metgeselle het kwetsende, ongevoelige en valse dinge gesê. (Vergelyk Job 16:1-3 en Job 42:7.) Job het egter deur al hierdie dinge standvastig gebly en sy onkreukbaarheid gehandhaaf (Job 27:5, NW). Die dinge wat hy verduur het, is soortgelyk aan die beproewinge waarmee Jehovah se volk vandag te kampe het.
15 Hoe kon Job al daardie beproewinge verduur? Iets wat Job veral onderskraag het, was hoop. “Selfs vir ’n boom bestaan daar hoop”, het hy gesê. “As hy afgekap word, sal hy wel weer uitloop, en sy eie loot sal nie ophou bestaan nie” (Job 14:7, NW). Watter hoop het Job gehad? ’n Paar verse later het hy gesê: “As ’n mens sterwe, sal hy weer lewe? . . . U sou roep, en ek sou U antwoord, na die maaksel van u hande sou U verlang” (Job 14:14, 15). Ja, Job het verby die pyn gekyk wat hy op daardie tydstip verduur het. Hy het geweet dat sy beproewinge nie vir ewig sou voortduur nie. Hy sou hoogstens tot die dood toe moes volhard. Sy hoopvolle verwagting was dat Jehovah, wie se liefdevolle begeerte dit is om die dooies op te wek, hom uit die dood sou opwek.—Handelinge 24:15.
16. (a) Wat leer ons omtrent volharding uit die voorbeeld van Job? (b) Hoe werklik moet die Koninkrykshoop vir ons wees, en waarom?
16 Wat leer ons uit Job se volharding? As ons tot die einde toe wil volhard, moet ons nooit ons hoop uit die oog verloor nie. Onthou ook dat die sekerheid van die Koninkrykshoop beteken dat enige lyding wat ons verduur maar “vir ’n oomblik” is (2 Korinthiërs 4:16-18). Ons kosbare hoop is stewig gegrond op Jehovah se belofte van ’n tyd in die nabye toekoms wanneer ‘hy al die trane van ons oë sal afvee, en daar geen dood meer sal wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie’ (Openbaring 21:3, 4). Daardie hoop, wat ‘nie beskaam nie’, moet ons denke bewaar (Romeine 5:4, 5, NAV; 1 Thessalonicense 5:8). Dit moet vir ons ’n werklikheid wees—so werklik dat ons ons deur die oë van die geloof in die nuwe wêreld kan sien—waar ons nie meer ’n stryd teen siekte en depressie sal voer nie, maar elke dag met goeie gesondheid en met ’n helder verstand wakker sal word; waar ons ons nie meer oor ernstige ekonomiese probleme sal bekommer nie, maar in veiligheid sal woon; waar ons nie meer die dood van geliefdes sal betreur nie, maar die opwindende ervaring sal beleef om te sien hoe hulle uit die dood opgewek word (Hebreërs 11:1). As ons nie sulke hoop koester nie, kan ons só deur ons huidige beproewinge oorweldig word dat ons tou opgooi. Maar as ons hoop het, het ons ’n wonderlike aansporing om aan te hou stry, om aan te hou volhard reg tot die einde toe!
17. (a) Watter beproewinge het Jesus verduur? (b) Wat toon vir ons hoe intens Jesus se lyding moontlik was? (Sien voetnoot.)
17 Die Bybel spoor ons aan om ‘die oog op Jesus gevestig te hou’ en ‘op Hom ag te gee’. Watter beproewinge het hy verduur? Party van sy beproewinge het ontstaan as gevolg van die sonde en onvolmaaktheid van ander. Jesus het nie net met “teëspraak van die sondaars” te kampe gehad nie, maar ook met die probleme wat onder sy dissipels ontstaan het, waaronder hulle gedurige stryery oor wie die grootste was. Daarbenewens het hy ’n ongeëwenaarde toets van die geloof deurgemaak. Hy het “’n folterpaal verduur” (Hebreërs 12:1-3, NW; Lukas 9:46; 22:24). Dit is moeilik om ’n mens selfs voor te stel watter geestes- en fisiese lyding iemand verduur wat aan ’n paal genael word en die skande wat hy beleef om as ’n lasteraar tereggestel te word.a
18. Watter twee dinge het Jesus, volgens die apostel Paulus, gehelp?
18 Wat het Jesus in staat gestel om tot die einde toe te volhard? Die apostel Paulus meld twee dinge wat Jesus gehelp het: “gebede en smekinge” en ook “die vreugde wat Hom voorgehou is”. Jesus, die volmaakte Seun van God, was nie skaam om hulp te vra nie. Hy het “met sterk geroep en trane” gebid (Hebreërs 5:7; 12:2). Veral toe sy grootste beproewing naby was, het hy dit nodig gevind om herhaaldelik en ernstig om krag te bid (Lukas 22:39-44). In antwoord op Jesus se smekinge het Jehovah nie die beproewing weggeneem nie, maar hy het Jesus versterk sodat hy dit kon deurstaan. Jesus het ook volhard omdat hy verby die folterpaal gekyk het na sy beloning—die vreugde wat hy sou smaak om tot die heiliging van Jehovah se naam by te dra en om die mensdom uit die dood te verlos.—Mattheüs 6:9; 20:28.
19, 20. Hoe help Jesus se voorbeeld ons om ’n realistiese beskouing te hê van wat by volharding betrokke is?
19 Ons leer etlike dinge uit Jesus se voorbeeld wat ons help om ’n realistiese beskouing te hê van wat by volharding betrokke is. Die weg van volharding is nie maklik nie. As ons dit moeilik vind om die een of ander beproewing te verduur, kan ons vertroosting put uit die wete dat dit selfs met Jesus die geval was. Om tot die einde toe te kan volhard, moet ons voortdurend om krag bid. Wanneer ons beproewinge verduur, sal ons miskien soms onwaardig voel om te bid. Maar Jehovah nooi ons om ons hart teenoor hom uit te stort, ‘want hy sorg vir ons’ (1 Petrus 5:7). En op grond van wat Jehovah in sy Woord belowe het, het hy hom daartoe verbind om “krag wat die normale te bowe gaan” te voorsien aan almal wat hom in geloof nader.—2 Korinthiërs 4:7-9, vgl. NW.
20 Partykeer moet ons met trane volhard. Vir Jesus was die pyn wat hy aan die folterpaal verduur het op sigself nie ’n rede tot vreugde nie. Die vreugde het eerder gelê in die beloning wat hom voorgehou is. In ons geval is dit onrealisties om te verwag dat ons altyd vrolik en opgewek sal voel wanneer ons beproewinge verduur. (Vergelyk Hebreërs 12:11.) Maar as ons ons oë op die beloning gevestig hou, kan ons dit ‘louter vreugde ag’, selfs wanneer ons ons in die moeilikste situasies bevind (Jakobus 1:2-4; Handelinge 5:41). Wat belangrik is, is dat ons standvastig bly—selfs al moet dit met trane wees. Jesus het per slot van rekening nie gesê: ‘Wie die minste trane stort, hy sal gered word’ nie, maar: “Wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.”—Mattheüs 24:13.
21. (a) Wat spoor 2 Petrus 1:5, 6 ons aan om by ons volharding te voeg? (b) Watter vrae sal in die volgende artikel bespreek word?
21 Volharding is dus noodsaaklik vir redding. Maar in 2 Petrus 1:5, 6 word ons aangespoor om godvrugtige toegewydheid by ons volharding te voeg. Wat is godvrugtige toegewydheid? Hoe hou dit met volharding verband, en hoe kan jy dit aankweek? Hierdie vrae sal in die volgende artikel bespreek word.
[Voetnoot]
a ’n Mens kan moontlik aflei hoe intens Jesus se lyding was uit die feit dat hy as ’n volmaakte mens ná net ’n paar uur aan die folterpaal gesterf het, terwyl die kwaaddoeners wat langs hom gehang het se bene gebreek moes word om hulle dood te bespoedig (Johannes 19:31-33). Hulle het nie die geestes- en fisiese lyding ervaar waaraan Jesus gedurende daardie slapelose nag onderwerp is voordat hy aan ’n folterpaal genael is nie, wat moontlik so erg was dat hy nie eers sy eie folterpaal kon dra nie.—Markus 15:15, 21, vgl. NW.
Hoe sal jy antwoord?
◻ Wat beteken dit om te volhard?
◻ Waarom het Jehovah se volk in ’n unieke opsig volharding nodig?
◻ Wat het Job in staat gestel om te volhard?
◻ Hoe help Jesus se voorbeeld ons om ’n realistiese beskouing van volharding te hê?
[Prent op bladsy 10]
Koninkrykskole is gestig om jong Christene te onderrig wat uit die skool gesit is omdat hulle hulle aanbidding slegs tot Jehovah gerig het
[Prent op bladsy 12]
Omdat Jesus vasbeslote was om sy Vader te eer, het hy om krag gebid sodat hy kon volhard