Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 9/1 bl. 13-18
  • Christengetuies vir Goddelike soewereiniteit

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Christengetuies vir Goddelike soewereiniteit
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Valse getuies
  • Lewe in ooreenstemming met Goddelike beginsels
  • Getuies is studente van die Bybel
  • Jehovah se wonderwerke
  • Die goeie nuus moet verkondig word
  • Getuies teen die valse gode
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • “’n Getuienis vir al die nasies”
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Moet nooit vergeet dat jy ’n getuie is nie!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Jesus Christus, die getroue getuie
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 9/1 bl. 13-18

Christengetuies vir Goddelike soewereiniteit

“‘Julle [moet] die voortreflikhede alom bekend . . . maak’ van die een wat julle uit die duisternis tot in sy wonderbare lig geroep het.”—1 PETRUS 2:9.

1. Watter doeltreffende getuienis is in voor-Christelike tye oor Jehovah gegee?

IN VOOR-CHRISTELIKE tye het ’n lang lys getuies met vrymoedigheid getuig dat Jehovah die enigste ware God is (Hebreërs 11:4–12:1). Hulle was sterk in die geloof en het Jehovah se wette vreesloos gehoorsaam en geweier om in aangeleenthede in verband met aanbidding ’n kompromis aan te gaan. Hulle het kragtig van Jehovah se universele soewereiniteit getuig.—Psalm 18:22-24; 47:2, 3.

2. (a) Wie is Jehovah se grootste Getuie? (b) Wie het die nasie Israel as Jehovah se getuie vervang? Hoe weet ons dit?

2 Die laaste en grootste voor-Christelike getuie was Johannes die Doper (Matteus 11:11). Hy het die voorreg gehad om die koms van die Uitverkorene bekend te maak en het Jesus as die beloofde Messias bekend gestel (Johannes 1:29-34). Jesus is Jehovah se grootste Getuie, “die getroue en waaragtige getuie” (Openbaring 3:14). Omdat vleeslike Israel Jesus verwerp het, het Jehovah hulle verwerp en ’n nuwe nasie, die geestelike Israel van God, aangestel om sy getuie te wees (Jesaja 42:8-12; Johannes 1:11, 12; Galasiërs 6:16). Petrus het ’n profesie oor Israel aangehaal en getoon dat dit op “die Israel van God”, die Christengemeente, van toepassing is toe hy gesê het: “Julle is ‘’n uitverkore ras, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige nasie, ’n volk vir spesiale besit, sodat julle die voortreflikhede alom bekend moet maak’ van die een wat julle uit die duisternis tot in sy wonderbare lig geroep het.”—1 Petrus 2:9; Exodus 19:5, 6; Jesaja 43:21; 60:2.

3. Wat is die vernaamste verantwoordelikheid van die Israel van God en van die “groot skare”?

3 Petrus se woorde toon dat die vernaamste verantwoordelikheid van die Israel van God is om in die openbaar van Jehovah se heerlikheid te getuig. In ons dag het “’n groot skare” getuies wat God ook in die openbaar verheerlik by hierdie geestelike nasie aangesluit. Hulle roep met ’n harde stem uit sodat almal kan hoor: “Redding is ons verskuldig aan ons God, wat op die troon sit, en aan die Lam” (Openbaring 7:9, 10; Jesaja 60:8-10). Hoe kan die Israel van God en hulle metgeselle hulle getuienis lewer? Deur hulle geloof en gehoorsaamheid.

Valse getuies

4. Waarom was die Jode van Jesus se dag valse getuies?

4 Geloof en gehoorsaamheid beteken dat ’n mens in ooreenstemming met Goddelike beginsels lewe. Die belangrikheid hiervan blyk uit wat Jesus oor die Joodse godsdiensleiers van sy dag gesê het. Hulle “het op die stoel van Moses gaan sit” as leermeesters van die Wet. Hulle het selfs sendelinge gestuur om ongelowiges te bekeer. Maar Jesus het vir hulle gesê: “Julle trek rond oor see en droë land om een proseliet te maak, en wanneer hy dit word, maak julle hom ’n voorwerp vir Gehenna, twee keer soveel as julleself.” Hierdie godsdiensyweraars was valse getuies—verwaand, skynheilig en liefdeloos (Matteus 23:1-12, 15). By een geleentheid het Jesus vir party van die Jode gesê: “Julle is van julle vader die Duiwel, en julle wil die begeertes van julle vader doen.” Waarom sou hy vir lede van God se uitverkore nasie so iets sê? Omdat hulle nie op die woorde van Jehovah se grootste Getuie ag gegee het nie.—Johannes 8:41, 44, 47.

5. Hoe weet ons dat die Christendom ’n valse getuienis oor God gegee het?

5 Gedurende die eeue sedert Jesus se tyd het honderdmiljoene in die Christendom eweneens beweer dat hulle sy dissipels is. Hulle het egter nie God se wil gedoen nie en word dus nie deur Jesus erken nie (Matteus 7:21-23; 1 Korintiërs 13:1-3). Die Christendom het sendelinge uitgestuur, waarvan baie ongetwyfeld opreg was. Maar hulle het mense geleer om ’n Drie-enige god te aanbid wat sondaars in ’n helse vuur brand, en die meeste van hulle bekeerlinge lewer nie juis bewys daarvan dat hulle Christene is nie. Die Afrikaland Rwanda was byvoorbeeld ’n vrugbare gebied vir Rooms-Katolieke sendelinge. Tog het Rwandese Katolieke heelhartig aan die onlangse etniese oorlog in daardie land deelgeneem. Die vrugte in daardie sendinggebied toon dat dit nie ’n ware Christengetuienis van die Christendom ontvang het nie.—Matteus 7:15-20.

Lewe in ooreenstemming met Goddelike beginsels

6. Hoe speel regte gedrag ’n belangrike rol daarin om ’n getuienis te gee?

6 Verkeerde gedrag deur diegene wat sê dat hulle Christene is, bring oneer op “die weg van die waarheid” (2 Petrus 2:2). ’n Ware Christen lewe in ooreenstemming met Goddelike beginsels. Hy steel nie, lieg nie, pleeg nie bedrog of maak hom aan onsedelikheid skuldig nie (Romeine 2:22). Hy vermoor beslis nie sy naaste nie. Christenmans hou liefdevol toesig oor hulle gesin. Vrouens ondersteun eerbiedig daardie toesig. Kinders word deur hulle ouers onderrig en word sodoende opgelei om verantwoordelike volwasse Christene te wees (Efesiërs 5:21–6:4). Ons almal is weliswaar onvolmaak en maak foute. Maar ’n ware Christen eerbiedig Bybelstandaarde en probeer werklik om dit toe te pas. Dit word deur ander opgemerk en gee ’n goeie getuienis. Dit het al gebeur dat mense wat voorheen teen die waarheid gekant was die regte gedrag van ’n Christen opgemerk het en toe die waarheid aangeneem het.—1 Petrus 2:12, 15; 3:1.

7. Hoe belangrik is dit dat Christene mekaar liefhet?

7 Jesus het op ’n belangrike aspek van Christelike gedrag gewys toe hy gesê het: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:35). Satan se wêreld word gekenmerk deur ‘onregverdigheid, goddeloosheid, hebsug, slegtheid, mense wat vol afguns, moord, twis, bedrog, kwaadaardigheid is, wat fluisteraars, kwaadsprekers, haters van God, onbeskaamd, hoogmoedig, aanmatigend, uitvinders van skadelike dinge, ongehoorsaam aan ouers is’ (Romeine 1:29, 30). In so ’n milieu sou ’n wêreldwye organisasie wat deur liefde gekenmerk word ’n kragtige bewys van God se gees in aksie wees—’n doeltreffende getuienis. Jehovah se Getuies maak so ’n organisasie uit.—1 Petrus 2:17.

Getuies is studente van die Bybel

8, 9. (a) Hoe is die psalmis deur sy studie van God se Wet en peinsing daaroor versterk? (b) Op watter maniere sal Bybelstudie en bepeinsing ons versterk om aan te hou getuig?

8 ’n Christen wat ’n goeie getuienis wil gee, moet Jehovah se regverdige beginsels ken en liefhê en werklik die verdorwenheid van die wêreld haat (Psalm 97:10). Die wêreld bevorder sy eie denke op kragtige wyse, en dit kan moeilik wees om sy gees te weerstaan (Efesiërs 2:1-3; 1 Johannes 2:15, 16). Wat kan ons help om die regte geestesgesindheid te behou? Gereelde en sinvolle Bybelstudie. Die skrywer van Psalm 119 het herhaaldelik gesê hoe lief hy Jehovah se Wet het. Hy het dit gelees en voortdurend, “die hele dag”, daaroor gepeins (Psalm 119:92, 93, 97-105). Gevolglik kon hy skryf: “Leuens haat ek en het daar ’n afsku van; u wet het ek lief.” Sy innige liefde het hom bowendien tot optrede aangespoor. Hy sê: “Ek loof u sewe maal elke dag oor u regverdige verordeninge.”—Psalm 119:163, 164.

9 Op ’n soortgelyke wyse sal ons gereelde studie van God se Woord en peinsing daaroor ons hart raak en ons beweeg om hom dikwels, selfs “sewe maal elke dag”, ‘te loof’—oor Jehovah te getuig (Romeine 10:10). In ooreenstemming hiermee sê die skrywer van die eerste psalm dat die een wat gereeld oor Jehovah se woorde peins “soos ’n boom [sal wees] wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit” (Psalm 1:3). Die apostel Paulus het ook die krag van God se Woord getoon toe hy geskryf het: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om te onderrig, om tereg te wys, om dinge reg te stel, om in regverdigheid te dissiplineer, sodat die mens van God volkome bevoeg kan wees, ten volle toegerus vir elke goeie werk.”—2 Timoteus 3:16, 17.

10. Wat is duidelik omtrent Jehovah se volk in hierdie laaste dae?

10 Die vinnige toename in die aantal ware aanbidders in hierdie 20ste eeu getuig van Jehovah se seën. As ’n groep het hierdie hedendaagse getuies vir Goddelike soewereiniteit ongetwyfeld liefde vir Jehovah se wet in hulle hart aangekweek. Soos die psalmis word hulle beweeg om Sy wet te gehoorsaam en “dag en nag” getrou oor Jehovah se heerlikheid te getuig.—Openbaring 7:15.

Jehovah se wonderwerke

11, 12. Wat is bereik deur die wonderwerke wat Jesus en sy volgelinge verrig het?

11 In die eerste eeu het heilige gees getroue Christengetuies in staat gestel om wonderwerke te verrig, wat kragtige bewys gelewer het dat hulle getuienis waar was. Toe Johannes die Doper in die gevangenis was, het hy sy dissipels gestuur om Jesus te vra: “Is u die Een wat sou kom, of moet ons ’n ander een verwag?” Jesus het nie ja of nee geantwoord nie. Hy het eerder gesê: “Gaan heen en vertel vir Johannes wat julle hoor en sien: Die blindes sien weer, en die kreupeles loop rond, die melaatses word gereinig en die dowes hoor, en die dooies word opgewek, en aan die armes word die goeie nuus bekend gemaak; en gelukkig is hy wat geen oorsaak tot struikeling in my vind nie” (Matteus 11:3-6). Hierdie kragtige werke het vir Johannes as ’n getuienis gedien dat Jesus inderdaad “die Een [was] wat sou kom”.—Handelinge 2:22.

12 Party van Jesus se volgelinge het eweneens siekes genees en selfs dooies opgewek (Handelinge 5:15, 16; 20:9-12). Hierdie wonderwerke was soos ’n getuienis deur God self ten behoewe van hulle (Hebreërs 2:4). En sulke werke het Jehovah se almagtige krag getoon. Dit is byvoorbeeld wel so dat Satan, “die heerser van die wêreld”, die vermoë het om die dood te veroorsaak (Johannes 14:30; Hebreërs 2:14). Maar toe Petrus die getroue vrou Dorkas uit die dode opgewek het, kon hy dit net deur Jehovah se krag gedoen het, aangesien net Hy ’n mens weer die lewe kan gee.—Psalm 16:10; 36:10; Handelinge 2:25-27; 9:36-43.

13. (a) Hoe getuig die Bybelwonderwerke steeds van Jehovah se krag? (b) Hoe speel die vervulling van profesieë ’n sleutelrol daarin om Jehovah se Godheid te bewys?

13 Vandag vind daardie wonderwerke nie meer plaas nie. Hulle het hulle doel bereik (1 Korintiërs 13:8). Maar ons het steeds die verslag daarvan in die Bybel, en dit is deur baie aanwesiges bevestig. Wanneer Christene vandag die aandag op hierdie geskiedkundige verslae vestig, getuig daardie werke steeds op ’n doeltreffende wyse van Jehovah se krag (1 Korintiërs 15:3-6). Daarbenewens het Jehovah in Jesaja se dag op juiste profesieë gewys as ’n uitsonderlike bewys dat Hy die ware God is (Jesaja 46:8-11). Baie Goddelik geïnspireerde Bybelprofesieë word vandag vervul—’n aantal van hulle met betrekking tot die Christengemeente (Jesaja 60:8-10; Daniël 12:6-12; Maleagi 3:17, 18; Matteus 24:9; Openbaring 11:1-13). Die vervulling van hierdie profesieë toon nie net dat ons in “die laaste dae” lewe nie, maar bevestig ook dat Jehovah die enigste ware God is.—2 Timoteus 3:1.

14. In watter opsigte is die hedendaagse geskiedenis van Jehovah se Getuies ’n kragtige getuienis dat Jehovah die Soewereine Heer is?

14 Ten laaste doen Jehovah steeds groot dinge, wonderlike dinge, vir sy volk. Die toenemende lig op Bybelwaarheid word deur Jehovah se gees gerig (Psalm 86:10; Openbaring 4:5, 6). Die uitsonderlike vermeerderings wat oor die hele wêreld gerapporteer word, is bewys dat Jehovah “dit op sy tyd bespoedig” (Jesaja 60:22, NW). Wanneer hewige vervolging gedurende die laaste dae in die een land na die ander uitgebreek het, het die versterkende ondersteuning van die heilige gees dit vir Jehovah se volk moontlik gemaak om moedig te volhard (Psalm 18:2, 3, 18, 19; 2 Korintiërs 1:8-10). Ja, die hedendaagse geskiedenis van Jehovah se Getuies is op sigself ’n kragtige getuienis dat Jehovah die Soewereine Heer is.—Sagaria 4:6.

Die goeie nuus moet verkondig word

15. Watter uitgebreide getuienis moes deur die Christengemeente gegee word?

15 Jehovah het Israel as sy getuie vir die nasies aangestel (Jesaja 43:10). Maar net ’n paar Israeliete is deur God beveel om vir nie-Israeliete te gaan preek, en dit was gewoonlik om Jehovah se oordele bekend te maak (Jeremia 1:5; Jona 1:1, 2). Profesieë in die Hebreeuse Geskrifte toon nietemin dat Jehovah eendag in groot mate aan die nasies aandag sou gee, en dit het hy deur die geestelike Israel van God gedoen (Jesaja 2:2-4; 62:2). Voordat Jesus na die hemel opgevaar het, het hy sy volgelinge beveel: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies” (Matteus 28:19). Hoewel Jesus sy aandag op “die verlore skape van die huis van Israel” toegespits het, is sy volgelinge na “al die nasies” toe gestuur, selfs “tot in die mees afgeleë deel van die aarde” (Matteus 15:24; Handelinge 1:8). Die hele mensdom moes die Christengetuienis hoor.

16. Watter opdrag het die eerste-eeuse Christengemeente uitgevoer, en in watter mate?

16 Paulus het getoon dat hy dit goed verstaan. Teen die jaar 61 G.J. kon hy sê dat die goeie nuus “vrug dra en toeneem in die hele wêreld”. Die goeie nuus is nie net tot een nasie of een sekte beperk, soos dié wat aan “engeleaanbidding” deelgeneem het nie. Dit is eerder openlik ‘verkondig in die hele skepping wat onder die hemel is’ (Kolossense 1:6, 23; 2:13, 14, 16-18). Die Israel van God het dus in die eerste eeu hulle opdrag uitgevoer om “‘die voortreflikhede alom bekend [te] maak’ van die een wat [hulle] uit die duisternis tot in sy wonderbare lig geroep het”.

17. Hoe word Matteus 24:14 steeds op groot skaal vervul?

17 Maar daardie eerste-eeuse predikingswerk was net ’n voorsmaak van wat gedurende die laaste dae vermag sou word. Jesus het veral tot in ons tyd vooruitgesien en gesê: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matteus 24:14; Markus 13:10). Is hierdie profesie vervul? Dit is inderdaad. Van ’n klein begin in 1919 het die verkondiging van die goeie nuus nou na meer as 230 lande uitgebrei. Die getuienis word in die ysige Noorde en in die snikhete trope gehoor. Groot vastelande word gedek, en afgeleë eilande word besoek sodat hulle bewoners ’n getuienis kan ontvang. Selfs te midde van groot beroering, soos die oorlog in Bosnië en Herzegowina, word die goeie nuus steeds verkondig. Soos in die eerste eeu dra die getuienis “in die hele wêreld” vrug. Die goeie nuus word openlik bekend gemaak “in die hele skepping wat onder die hemel is”. Die resultaat? Eerstens is die oorblyfsel van die Israel van God “uit elke stam en taal en volk en nasie” versamel. Tweedens is daar begin om die miljoene van die “groot skare” uit “alle nasies en stamme en volke en tale” in te bring (Openbaring 5:9; 7:9). Matteus 24:14 word steeds op groot skaal vervul.

18. Wat is van die dinge wat deur die wêreldwye verkondiging van die goeie nuus bereik word?

18 Die wêreldwye verkondiging van die goeie nuus help bewys dat Jesus se koninklike teenwoordigheid begin het (Matteus 24:3). Verder is dit die vernaamste manier waarop “die oes van die aarde” gemaai word, aangesien dit mense na die enigste ware hoop vir die mensdom, Jehovah se Koninkryk, rig (Openbaring 14:15, 16). Aangesien net ware Christene ’n aandeel aan die verkondiging van die goeie nuus het, help hierdie belangrike werk om die ware Christene van die valse Christene te onderskei (Maleagi 3:18). Sodoende lei dit tot die redding van diegene wat preek sowel as diegene wat gunstig daarop reageer (1 Timoteus 4:16). Wat van die allergrootste belang is, is dat die verkondiging van die goeie nuus tot lof en eer van Jehovah God strek, die een wat beveel het dat dit gedoen moet word, wat diegene ondersteun wat dit doen en wat dit laat vrug dra.—2 Korintiërs 4:7.

19. Wat word alle Christene aangespoor om hulle voor te neem terwyl hulle die nuwe diensjaar ingaan?

19 Dit is geen wonder nie dat die apostel Paulus beweeg is om te sê: “Wee my as ek die goeie nuus nie bekend maak nie!” (1 Korintiërs 9:16). Hedendaagse Christene voel dieselfde. Dit is ’n wonderlike voorreg en ’n groot verantwoordelikheid om “God se medewerkers” te wees en die lig van waarheid in hierdie verduisterde wêreld te laat skyn (1 Korintiërs 3:9; Jesaja 60:2, 3). Die werk wat in 1919 op klein skaal begin het, het nou verbasende afmetings aangeneem. Bykans vyfmiljoen Christene getuig vir Goddelike soewereiniteit terwyl hulle meer as ’n miljard uur per jaar daaraan bestee om die boodskap van redding na ander te neem. Wat ’n vreugde is dit tog om ’n aandeel aan die heiliging van Jehovah se naam te hê! Laat dit, terwyl ons die 1996-diensjaar ingaan, ons vaste voorneme wees om nie ons pas te verslap nie. Ons sal eerder meer as ooit tevore ag gee op Paulus se woorde aan Timoteus: “Verkondig die woord, bly dringend daarmee besig” (2 Timoteus 4:2). Terwyl ons dit doen, bid ons van ganser harte dat Jehovah sal aanhou om ons pogings te seën.

Onthou jy?

◻ Wie het Israel as Jehovah se “getuie” vir die nasies vervang?

◻ Hoe dra Christelike gedrag daartoe by dat ’n getuienis gegee word?

◻ Waarom is ’n studie van die Bybel en peinsing daaroor vir die Christengetuie noodsaaklik?

◻ Hoe bewys die hedendaagse geskiedenis van Jehovah se Getuies dat Jehovah die ware God is?

◻ Wat word deur die verkondiging van die goeie nuus bereik?

[Prente op bladsy 15]

Die goeie nuus is nie beperk nie; inteendeel, dit word nou verkondig “in die hele skepping wat onder die hemel is”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel