Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 9/15 bl. 19-24
  • Jehovah se gebruik van “dwaasheid” om die wat glo te red

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah se gebruik van “dwaasheid” om die wat glo te red
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die wesenlike leemte in wêreldse wysheid
  • Koninkryksprediking—Dwaas of prakties?
  • “Dwaasheid vir die wat verlore gaan”
  • ‘Word dwase om wys te word’
  • Ware wysheid roep hard uit
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
  • “Hoe diep is God se . . . wysheid . . . tog!”
    Kom nader aan Jehovah
  • ‘Gelukkig is die mens wat wysheid gevind het’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Het “die wysheid van bo” ’n invloed op jou lewe?
    Kom nader aan Jehovah
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 9/15 bl. 19-24

Jehovah se gebruik van “dwaasheid” om die wat glo te red

“Aangesien in die wysheid van God die wêreld deur die wysheid God nie geken het nie, het dit God behaag om deur die dwaasheid van die prediking die wat glo, te red.”—1 KORINTHIËRS 1:21.

1. In watter sin sou Jehovah “dwaasheid” gebruik, en hoe weet ons dat die wêreld in sy wysheid God nie leer ken het nie?

WAT? Sou Jehovah dwaasheid gebruik? Nie werklik nie! Maar hy kan en gebruik wel wat vir die wêreld na dwaasheid lyk. Hy doen dit sodat hy mense wat hom ken en liefhet kan red. Die wêreld kan nie deur sy wysheid God leer ken nie. Jesus Christus het dit duidelik gemaak toe hy in gebed gesê het: “Regverdige Vader, die wêreld ken U nie.”—Johannes 17:25, NAV.

2. Waarom lyk dit dalk asof Jehovah se weë en die wêreld se weë met mekaar ooreenstem, maar wat toon die feite?

2 Jesus se woorde toon dat Jehovah se weë van die wêreld s’n verskil. Oppervlakkig beskou, lyk dit dalk asof God se voorneme en die wêreld s’n met mekaar ooreenstem. Dit lyk dalk asof die wêreld se strewes God se seën geniet. Die Bybel sê byvoorbeeld dat God ’n regverdige regering gaan oprig wat ’n lewe van vrede, geluk en voorspoed vir die mensdom op aarde gaan bring (Jesaja 9:5, 6; Mattheüs 6:10). Die wêreld basuin eweneens sy voorneme uit om mense vrede, voorspoed en goeie regering te gee deur middel van ’n sogenoemde nuwe wêreldorde. Maar God se voornemens en die wêreld se strewes is nie dieselfde nie. Jehovah se voorneme is om homself as die Oppermagtige Soewerein van die heelal te regverdig. Hy gaan dit doen deur middel van ’n hemelse regering wat alle aardse regerings gaan uitwis (Daniël 2:44; Openbaring 4:11; 12:10). God het dus niks met hierdie wêreld gemeen nie (Johannes 18:36; 1 Johannes 2:15-17). Daarom praat die Bybel van twee soorte wysheid—“die wysheid van God” en “die wysheid van hierdie wêreld”.—1 Korinthiërs 1:20, 21.

Die wesenlike leemte in wêreldse wysheid

3. Waarom sal die mens se beloofde nuwe wêreldorde nooit alle behoeftes kan bevredig nie, al lyk die wysheid van die wêreld indrukwekkend?

3 Vir diegene wat nie deur God se wysheid gerig word nie, lyk die wysheid van die wêreld indrukwekkend. Daar is verhewe wêreldse filosofieë wat die intellek boei. Duisende instansies vir hoër geleerdheid dra inligting oor van mense wat deur baie beskou word as die grootste intellekte van die mensdom. Uitgebreide biblioteke is toegerus met die versamelde kennis van eeue van die mens se ondervinding. Maar ten spyte hiervan kan die nuwe wêreldorde wat wêreldleiers in die vooruitsig stel net ’n heerskappy deur onvolmaakte, sondige, sterflike mense wees. Daardie orde sal gevolglik onvolmaak wees, en dit sal baie van die foute van die verlede herhaal en nooit in al die mensdom se behoeftes voorsien nie.—Romeine 3:10-12; 5:12.

4. Waaraan is die voorgenome nuwe wêreldorde onderworpe, en met watter gevolg?

4 Die mens se voorgenome nuwe wêreldorde is nie net aan menslike verganklikheid onderworpe nie, maar ook aan die invloed van goddelose geesskepsele—ja, Satan die Duiwel en sy demone. Satan het die sinne van die mense verblind sodat hulle nie aan “die evangelie van die heerlikheid van Christus” glo nie (2 Korinthiërs 4:3, 4; Efesiërs 6:12). Gevolglik ly die wêreld onder een probleem na die ander. Die wêreld baklei en bloei in ’n rampspoedige poging om homself te regeer sonder God se hulp en sonder om sy Goddelike wil in ag te neem (Jeremia 10:23; Jakobus 3:15, 16). Dit is dus soos die apostel Paulus gesê het: ‘Die wêreld het deur die wysheid God nie geken nie.’—1 Korinthiërs 1:21.

5. Wat is die wesenlike leemte in hierdie wêreld se wysheid?

5 Wat is dan die wesenlike leemte in hierdie wêreld se wysheid, waaronder hulle planne vir ’n nuwe wêreldorde? Dit is die feit dat die wêreld dít ignoreer wat nooit met welslae geïgnoreer kan word nie—die oppermagtige soewereiniteit van Jehovah God. Hulle weier hooghartig om Goddelike soewereiniteit te erken. Die wêreld laat Jehovah moedswillig uit al hulle planne en steun op hulle eie vermoë en oogmerke. (Vergelyk Daniël 4:31-34; Johannes 18:37.) Die Bybel maak dit duidelik dat ‘die vrees van Jehovah die begin van wysheid is’ (Spreuke 9:10, NW; Psalm 111:10). Maar die wêreld het nog nie hierdie basiese vereiste vir wysheid geleer nie. Hoe kan hulle derhalwe sonder Goddelike steun welslae behaal?—Psalm 127:1.

Koninkryksprediking—Dwaas of prakties?

6, 7. (a) Wat verkondig diegene wat deur God se wysheid gerig word, maar hoe beskou die wêreld hulle? (b) Volgens wie se wysheid preek die Christendom se geestelikes, en met watter gevolg?

6 Diegene wat God ken, openbaar daarenteen die wysheid van God en verkies om daardeur gerig te word. Soos Jesus voorspel het, verkondig hulle “hierdie goeie nuus van die koninkryk . . . in die hele bewoonde aarde” (Mattheüs 24:14, NW; 28:19). Is sulke verkondigingswerk tans prakties, terwyl ons aarde vol onmin, besoedeling, armoede en menslike lyding is? Vir wêreldwyses lyk die verkondiging van God se Koninkryk na volslae dwaasheid, sonder praktiese waarde. Hulle beskou die verkondigers van God se Koninkryk as ’n nuttelose las wat die regering se vooruitgang tot ’n ideale politieke regering belemmer. Hierdie beskouing word gesteun deur die Christendom se geestelikes wat volgens hierdie wêreld se wysheid preek en nie vir mense vertel wat hulle omtrent God se nuwe wêreld en sy Koninkryksregering moet weet nie, selfs al was dit Christus se vernaamste lering.—Mattheüs 4:17; Markus 1:14, 15.

7 Geskiedskrywer H. G. Wells het die aandag op hierdie versuim van die Christendom se geestelikes gevestig. Hy het geskryf: “Die geweldige klem wat Jesus gelê het op die leerstelling wat hy die Koninkryk van die Hemele genoem het, en die betreklike onbeduidendheid daarvan in die prosedure en leerstellings van die meeste van die Christelike kerke is opmerklik.” Maar as mense van hierdie geslag die lewe wil verkry, moet hulle eers van God se opgerigte Koninkryk hoor, en dit is net moontlik as iemand die goeie nuus daarvan verkondig.—Romeine 10:14, 15.

8. Waarom is die verkondiging van God se goeie nuus die praktiesste ding wat ’n mens vandag kan doen, maar watter handelswyse sal geen blywende voordeel inhou nie?

8 Die verkondiging van God se goeie nuus is dus vandag die praktiesste ding om te doen. Dit is omdat die Koninkryksboodskap ’n ware hoop voorsien wat menseharte met vreugde vul gedurende hierdie laaste dae wanneer daar “swaar tye” gaan wees (2 Timotheüs 3:1-5; Romeine 12:12; Titus 2:13). Terwyl die lewe in hierdie wêreld onseker en kortstondig is, gaan die lewe in God se nuwe wêreld ewig wees, te midde van vreugde, oorvloed en vrede reg hier op aarde (Psalm 37:3, 4, 11). Dit is soos Jesus Christus gesê het: “Wat baat dit ’n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal ’n mens gee as losprys vir sy siel?” Van watter waarde is hierdie wêreld wat verbygaan as iemand die reg op lewe in God se nuwe wêreld verloor? Die genot wat so ’n persoon op die oomblik uit materiële dinge put, sal nutteloos, vergeefs en kortstondig wees.—Mattheüs 16:26; Prediker 1:14; Markus 10:29, 30.

9. (a) Watter raad het Jesus aan ’n man gegee wat uitstel gevra het toe hy genooi is om ’n volgeling van Jesus te word? (b) Watter invloed behoort Jesus se antwoord op ons te hê?

9 ’n Man wat deur Jesus genooi is om sy volgeling te wees, het gesê: “Laat my toe om eers my vader te gaan begrawe.” Watter raad het Jesus hom gegee? Jesus het geweet dat die man ’n baie noodsaaklike werk sou uitstel net omdat hy wou wag tot sy ouers aan die einde van hulle lewe kom, en hy het dus vir hom gesê: “Laat die dooies hul eie dooies begrawe; maar gaan jy en verkondig die koninkryk van God” (Lukas 9:59, 60). Diegene wat wysheid toon deur Christus te gehoorsaam, kan nie versuim om hulle opdrag uit te voer om die Koninkryksboodskap te verkondig nie. Goddelike wysheid laat hulle besef dat hierdie wêreld en sy heersers tot vernietiging gedoem is (1 Korinthiërs 2:6; 1 Johannes 2:17). Ondersteuners van God se soewereiniteit weet dat die mensdom se enigste ware hoop in Goddelike ingryping en heerskappy opgesluit lê (Sagaria 9:10). Terwyl diegene wat die wysheid van hierdie wêreld het dus nie in God se Koninkryk glo nie en daardie hemelse regering nie wil aanneem nie, doen mense wat deur Goddelike wysheid gerig word dít wat ware voordeel vir hulle medemens inhou; hulle berei hulle voor vir ewige lewe in Jehovah se beloofde nuwe wêreld.—Johannes 3:16; 2 Petrus 3:13.

“Dwaasheid vir die wat verlore gaan”

10. (a) Met watter werk het Saulus van Tarsus begin toe hy bekeer is, en hoe het hy dit beskou? (b) Waarvoor was die eertydse Grieke bekend, maar hoe het God hulle wysheid beskou?

10 Saulus van Tarsus, wat Paulus die apostel van Jesus Christus geword het, het aan hierdie lewensreddende werk begin deelneem. Is dit redelik om te dink dat toe Jesus Christus Saulus tot bekering gebring het Hy hom ’n toewysing gegee het wat dwaas was? Paulus het nie so gedink nie (Filippense 2:16). Die Grieke is destyds beskou as die mees intellektuele mense ter wêreld. Hulle het met hulle groot filosowe en wyse manne gespog. Hoewel Paulus Grieks gepraat het, het hy nie die Griekse filosofie en lering gevolg nie. Waarom nie? Omdat sulke wysheid van die wêreld dwaasheid is by God.a Paulus het Goddelike wysheid nagestreef wat hom beweeg het om die goeie nuus van huis tot huis te verkondig. Die grootste Prediker van alle tye, Jesus Christus, het die voorbeeld gestel en het hom die opdrag gegee om dieselfde werk te doen.—Lukas 4:43; Handelinge 20:20, 21; 26:15-20; 1 Korinthiërs 9:16.

11. Wat is die kerngedagte van wat Paulus oor sy predikingsopdrag en die wêreld se wysheid gesê het?

11 Paulus sê die volgende oor sy predikingsopdrag: “Christus het my . . . gestuur . . . om die evangelie te verkondig, nie met wysheid van woorde nie, sodat die kruis [“folterpaal”, NW] van Christus nie verydel mag word nie. Want die woord van die kruis [“folterpaal”, NW, oftewel, Jesus se losprysoffer] is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God; want daar is geskrywe: Ek sal die wysheid van die wyse mense vernietig en die verstand van die verstandige mense tot niet maak. Waar bly die wyse [soos die filosoof]? Waar bly die skrifgeleerde? Waar die redetwister van hierdie eeu? Het God nie die wysheid van hierdie wêreld dwaas gemaak nie? Want aangesien in die wysheid van God die wêreld deur die wysheid God nie geken het nie, het dit God behaag om deur die dwaasheid van die prediking die wat glo, te red.”—1 Korinthiërs 1:17-21.

12. Wat bring Jehovah tot stand deur “die dwaasheid van die prediking”, en hoe sal diegene wat “die wysheid van bo” wil hê daarop reageer?

12 Hoe ongelooflik dit ook al mag lyk, dit is juis diegene wat deur die wêreld dwaas genoem word wat Jehovah as sy verkondigers gebruik. Ja, deur die dwaasheid van die bediening van hierdie verkondigers red God diegene wat glo. Jehovah reël sake so dat verkondigers van hierdie “dwaasheid” hulleself nie kan verheerlik nie, en ander mense kan diegene van wie hulle die goeie nuus gehoor het ook nie tereg verheerlik nie. Dit is sodat “geen vlees voor Hom sou roem nie” (1 Korinthiërs 1:28-31; 3:6, 7). Die verkondiger speel weliswaar ’n belangrike rol, maar dit is die boodskap wat hy opgedra is om te verkondig wat redding bewerkstellig vir die persoon wat daarin glo. Diegene wat “die wysheid van bo” wil hê, sal nie die boodskap van die verkondiger verag omdat hy dwaas en nederig lyk, vervolg word en van huis tot huis gaan nie. Die sagmoediges sal ’n Koninkryksverkondiger eerder respekteer as ’n verkondiger wat ’n opdrag van Jehovah ontvang het en as een wat in die naam van God kom. Hulle sal die boodskap wat die verkondiger bring, of dit nou mondelings of deur lektuur is, as baie belangrik beskou.—Jakobus 3:17; 1 Thessalonicense 2:13.

13. (a) Hoe het die Jode en die Grieke die prediking van Christus se folterdood beskou? (b) Uit watter groepe is daar nie baie geroep om Jesus se volgelinge te word nie, en waarom nie?

13 Paulus gaan met sy bespreking van God se weë voort en sê: “Die Jode vra ’n teken en die Grieke soek wysheid, maar ons verkondig Christus wat gekruisig [“aan ’n folterpaal genael”, NW] is, ’n struikelblok vir die Jode en dwaasheid vir die Grieke; maar vir die wat geroep is, Jode sowel as Grieke: Christus, die krag van God en die wysheid van God. Want wat dwaas is by God, is wyser as die mense; en wat swak is by God, is sterker as die mense. Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam.”—1 Korinthiërs 1:22-27; vergelyk Jesaja 55:8, 9.

14. (a) Waarop vestig Jehovah se Getuies die aandag wanneer hulle oor hulle magtiging as predikers uitgevra word? (b) Waarom het Paulus geweier om die Grieke met enige vertoon van die wêreld se wysheid te behaag?

14 Toe Jesus op die aarde was, het die Jode ’n teken uit die hemel gevra (Mattheüs 12:38, 39; 16:1). Maar Jesus het geweier om ’n teken te gee. Net so gebruik Jehovah se Getuies vandag nie sogenoemde tekens wat hulle magtiging as predikers moet staaf nie. Hulle vestig eerder die aandag op hulle opdrag om die goeie nuus te verkondig, soos dit opgeteken is in Bybeltekste soos Jesaja 61:1, 2; Markus 13:10 en Openbaring 22:17. Die eertydse Grieke het na wysheid, hoër opleiding in die dinge van hierdie wêreld, gesoek. Hoewel Paulus in hierdie wêreld se wysheid onderrig was, het hy geweier om die Grieke te behaag deur enigsins ’n vertoon daarvan te maak (Handelinge 22:3). Hy het nie in klassieke Grieks gepraat en geskryf nie, maar in die algemene Grieks wat die gewone mense gebruik het. Paulus het vir die Korinthiërs gesê: “Toe ek by julle gekom het, broeders, het ek nie aan julle die getuienis van God kom verkondig met voortreflikheid van woorde of van wysheid nie, . . . my rede en my prediking was nie in oorredende woorde van menslike wysheid nie, maar in die betoning van gees en krag, sodat julle geloof nie in wysheid van mense sou bestaan nie, maar in die krag van God.”—1 Korinthiërs 2:1-5.

15. Waaraan herinner Petrus spotters van die goeie nuus, en hoe stem die huidige situasie met dié van Noag se dag ooreen?

15 In hierdie laaste dae word spotters van die goeie nuus van God se inkomende nuwe wêreld en die naderende einde van hierdie wêreld deur die apostel Petrus daaraan herinner dat die wêreld van Noag se dag “met water oorstroom is en vergaan het” (2 Petrus 3:3-7). Wat het Noag met die oog op daardie rampspoedige einde gedoen? Baie mense dink net aan hom as ’n arkbouer. Maar Petrus sê dat toe God die Vloed oor daardie eertydse wêreld gebring het, Hy “Noag, die prediker van geregtigheid, met sewe ander bewaar het” (2 Petrus 2:5). Daardie goddelose mense wat voor die Vloed geleef het, het ongetwyfeld in hulle wêreldse wysheid gespot met wat Noag gepreek het en hom dwaas, onrealisties en onprakties genoem. Vandag bevind ware Christene hulle in ’n soortgelyke situasie, aangesien Jesus ons geslag met Noag s’n vergelyk het. Maar ondanks die spotters is die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk meer as blote praatjies. Soos Noag se prediking, beteken dit redding vir die verkondiger en vir diegene wat na hom luister!—Mattheüs 24:37-39; 1 Timotheüs 4:16.

‘Word dwase om wys te word’

16. Wat sal by Armageddon met hierdie wêreld se wysheid gebeur, en wie sal tot in God se nuwe wêreld oorleef?

16 Jehovah God gaan binnekort by Armageddon al “die wysheid van die wyse mense” vernietig. Hy sal al “die verstand [intelligensie] van die verstandige mense [intellektueles]” tot niet maak; hulle wat voorspellings maak van hoe hulle nuwe wêreldorde beter toestande vir die mensdom gaan bring. “Die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” sal al die drogredenering, filosofie en wysheid van hierdie wêreld verdelg (1 Korinthiërs 1:19, vgl. NW; Openbaring 16:14-16). Die enigstes wat daardie oorlog sal oorleef en die lewe in God se nuwe wêreld sal verkry, is diegene wat gehoor gee aan wat hierdie wêreld dwaasheid noem—ja, Jehovah se glorieryke goeie nuus van die Koninkryk.

17. Hoe het Jehovah se Getuies ‘dwase’ geword, en wat is God se verkondigers van die goeie nuus vasbeslote om te doen?

17 Jehovah se Getuies, wat deur sy gees gelei word, is nie skaam om dit wat die wêreld dwaasheid noem te verkondig nie. Pleks dat hulle wêreldwys probeer wees, het hulle ‘dwase‘ geword. Hoe? Deur die Koninkrykspredikingswerk te doen sodat hulle wys kan word, soos Paulus geskryf het: “As iemand meen dat hy wys is onder julle in hierdie wêreld, laat hom dwaas word, sodat hy wys kan word” (1 Korinthiërs 3:18-20). Jehovah se verkondigers van die goeie nuus weet watter lewensreddende waarde hulle boodskap het en sal aanhou om dit sonder onderbreking te verkondig totdat hierdie wêreld en sy wysheid met die oorlog van Armageddon aan hulle einde kom. Jehovah God sal binnekort sy universele soewereiniteit regverdig en ewige lewe aan almal gee wat nou aan “die dwaasheid van die prediking” glo en daaraan gehoor gee.

[Voetnoot]

a Ten spyte van al die filosofiese debatte en navorsing waaraan die wyse manne van antieke Griekeland deelgeneem het, toon hulle geskrifte dat hulle nie ’n ware grondslag vir hoop gevind het nie. Professore J. R. S. Sterrett en Samuel Angus wys op die volgende: “Daar is geen ander letterkunde wat meer patetiese jammerklagtes oor die droefheid van die lewe, die verydeling van die liefde, die bedrieglikheid van hoop en die meedoënloosheid van die dood bevat nie.”—Funk and Wagnalls New “Standard” Bible Dictionary, 1936, bladsy 313.

Wat is jou antwoorde?

◻ Watter twee soorte wysheid is daar?

◻ Wat is die wesenlike leemte in die wêreld se wysheid?

◻ Waarom is die verkondiging van die goeie nuus die praktiesste ding om te doen?

◻ Wat gaan binnekort met al die wêreld se wysheid gebeur?

◻ Waarom is Jehovah se Getuies nie skaam om dít wat die wêreld dwaas noem te verkondig nie?

[Prent op bladsy 23]

Die Grieke het na wêreldse wysheid gesoek en het Paulus se prediking dikwels as dwaas beskou

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel