Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 6/15 bl. 12-17
  • Wees vissers van mense

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wees vissers van mense
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ‘Vang mense lewend’
  • Vissers van mense
  • Vissers in die see van die mensdom
  • Vissers van mense tydens “die dag van die Here”
  • Vier dissipels sal vissers van mense wees
    Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
  • Vier dissipels word geroep
    Die grootste mens wat nog geleef het
  • Vier dissipels word geroep
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Vissers van mense in wêreldomvattende waters
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 6/15 bl. 12-17

Wees vissers van mense

“Jesus sê vir Simon: Moenie vrees nie; van nou af sal jy mense [lewend] vang.”—LUKAS 5:10, vgl. NW.

1, 2. (a) Watter rol het visvangs in die mensdom se geskiedenis gespeel? (b) Watter nuwe soort visvangs het mense byna 2 000 jaar gelede begin leer?

DIE mensdom vang duisende jare lank al in die aarde se seë, mere en riviere vis vir kos. Vis uit die Nyl was ’n belangrike deel van die dieet in eertydse Egipte. Toe die water van die Nyl in Moses se dag in bloed verander is, het die Egiptenare nie net gely omdat daar ’n watertekort was nie, maar ook omdat die visse doodgegaan het en hulle voedselvoorraad daardeur geraak is. Later, toe Jehovah die Wet by Sinai aan Israel gegee het, het hy vir hulle gesê dat sekere visse geëet kon word maar dat ander onrein was en nie geëet kon word nie. Dit het aangedui dat die Israeliete vis sou eet wanneer hulle in die Beloofde Land ingegaan het; party van hulle sou dus vissers wees.—Exodus 7:20, 21; Levitikus 11:9-12.

2 Maar byna 2 000 jaar gelede het die mensdom ’n ander soort visvangs begin leer. Dit was ’n geestelike soort visvangs wat nie net die vissers nie, maar ook die visse tot voordeel sou strek! Hierdie soort visvangs word vandag steeds beoefen, en dit strek miljoene oor die aarde tot voordeel.

‘Vang mense lewend’

3, 4. Watter twee vissers het groot belangstelling in Jesus Christus getoon?

3 In die jaar 29 G.J. is Jesus, die Persoon wat hierdie nuwe vorm van visvangs sou instel, deur Johannes die Doper in die Jordaanrivier gedoop. ’n Paar weke later het Johannes Jesus aan twee van sy dissipels uitgewys en gesê: “Dáár is die Lam van God!” Een van hierdie dissipels, wie se naam Andreas was, het dadelik vir sy broer Simon Petrus gesê: “Ons het die Messias gevind”! Dit is interessant dat Andreas sowel as Simon vissers was.—Johannes 1:35, 36, 40, 41; Mattheüs 4:18.

4 ’n Hele tydjie later het Jesus langs die See van Galilea, nie ver van waar Petrus en Andreas gewoon het nie, vir die skare gepreek. Hy het vir die mense gesê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Mattheüs 4:13, 17). Ons kan ons voorstel dat Petrus en Andreas gretig was om sy boodskap te hoor. Maar hulle het waarskynlik nie besef dat Jesus op die punt gestaan het om vir hulle iets te sê wat hulle lewe vir altyd sou verander nie. Daarbenewens is die dinge wat Jesus in hulle teenwoordigheid sou sê en doen vir ons almal vandag van groot belang.

5. Hoe kon die visser Petrus Jesus ’n diens bewys?

5 Ons lees: “Toe die skare by Hom aandring om die woord van God te hoor, gaan Hy by die meer Gennesaret staan en sien twee skuite aan die kant van die meer lê; maar die vissers het van hulle af weggegaan en was besig om die nette uit te spoel” (Lukas 5:1, 2). Destyds het vissers dikwels in die nag gewerk, en hierdie manne was besig om hulle nette ná ’n nag se visvangs skoon te maak. Jesus het besluit om een van hulle skuite te gebruik om op ’n doeltreffender wyse vir die skare te preek. “Toe klim Hy in een van die skuite wat aan Simon behoort het, en vra hom om ’n entjie van die land af weg te vaar, en Hy het gaan sit en die skare van die skuit uit geleer.”—Lukas 5:3.

6, 7. Watter wonderwerk met betrekking tot visvangs het Jesus verrig, en tot watter woorde ten opsigte van visvangs het dit aanleiding gegee?

6 Let op dat Jesus nie net in gedagte gehad het om die skare te leer nie: “Toe Hy ophou met spreek, sê Hy vir Simon: Vaar uit na die diep water en laat julle nette sak om te vang.” Onthou, hierdie vissers het reeds die hele nag gewerk. Dit is dus nie verbasend nie dat Petrus sê: “Meester, ons het die hele nag deur hard gewerk en niks gevang nie; maar op u woord sal ek die net laat sak.” Wat het gebeur toe hulle dit gedoen het? “Hulle [het] ’n groot menigte visse ingesluit; en hulle net wou skeur. Daarop wink hulle vir hul maats in die ander skuit om hulle te kom help. En hulle het gekom en altwee die skuite vol gemaak, sodat hulle amper gesink het.”—Lukas 5:4-7.

7 Jesus het ’n wonderwerk verrig. Daardie strook see het die hele nag niks opgelewer nie; nou het dit gewemel van visse. Hierdie wonderwerk het ’n kragtige uitwerking op Petrus gehad. “Toe [val] Simon Petrus . . . neer aan die knieë van Jesus en sê: Gaan weg van my, Here, want ek is ’n sondige man! Want verbaasdheid het hom aangegryp en almal wat by hom was, oor die vangs van visse wat hulle gemaak het; en net so ook vir Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeüs, wat Simon se maats was.” Jesus het Petrus gekalmeer en toe die woorde gesê wat Petrus se lewe sou verander. “Moenie vrees nie; van nou af sal jy mense [“lewend”, NW] vang.”—Lukas 5:8-10.

Vissers van mense

8. Hoe het vier vissers gereageer op die uitnodiging om ‘mense lewend te vang’?

8 Jesus het mense dus met visse vergelyk, en hy het hierdie nederige visser genooi om sy sekulêre beroep te laat vaar vir ’n baie edeler vorm van visvangs—om mense lewend te vang. Petrus en sy broer Andreas het die uitnodiging aanvaar. “En hulle het dadelik die nette laat staan en Hom gevolg” (Mattheüs 4:18-20). Toe het Jesus Jakobus en Johannes geroep, wat in hulle skuit besig was om hulle nette heel te maak. Hy het hulle ook genooi om vissers van mense te word. Hoe het hulle gereageer? “En hulle het dadelik die skuit en hulle vader verlaat en Hom gevolg” (Mattheüs 4:21, 22). Jesus het getoon dat hy ’n ervare visser van siele was. By hierdie geleentheid het hy vier manne lewend gevang.

9, 10. Watter geloof het Petrus en sy metgeselle getoon, en hoe is hulle opgelei om in geestelike sin vis te vang?

9 ’n Visser maak ’n bestaan deur sy vangs te verkoop, maar ’n geestelike visser kan dit nie doen nie. Hierdie dissipels het dus groot geloof getoon toe hulle alles verlaat het om Jesus te volg. Hulle het egter glad nie getwyfel dat hulle geestelike visvangs geslaagd sou wees nie. Jesus kon waters wat niks opgelewer het nie van visse laat wemel. Net so kon die dissipels seker wees dat hulle, met God se hulp, mense lewend sou vang wanneer hulle hulle nette in die waters van die nasie Israel sou laat sak. Die geestelike visvangs wat toe begin het, duur nog voort, en Jehovah gee steeds ’n groot vangs.

10 Die dissipels is meer as twee jaar deur Jesus opgelei om vissers van mense te wees. By geleentheid het hy hulle noukeurige instruksies gegee en hulle vooruitgestuur om te gaan preek (Mattheüs 10:1-7; Lukas 10:1-11). Toe Jesus verraai en doodgemaak is, was die dissipels verbysterd. Maar het Jesus se dood beteken dat daar geen visvangs van mense meer sou wees nie? Gebeure het gou die antwoord gegee.

Vissers in die see van die mensdom

11, 12. Watter wonderwerk het Jesus ná sy opstanding met betrekking tot visvangs gedoen?

11 Kort ná Jesus se dood buite Jerusalem en sy opstanding het die dissipels na Galilea teruggegaan. By een geleentheid was sewe van hulle saam naby die See van Galilea. Petrus het gesê hy gaan visvang en die ander het saam met hom gegaan. Soos gewoonlik het hulle in die nag visgevang. Trouens, hulle het hulle net weer die hele nag in die see gegooi en niks gevang nie. Toe, teen dagbreek, het iemand op die strand gestaan en oor die water na hulle geroep: “My kinders, het julle nie iets om te eet nie?” Die dissipels het teruggeroep: “Nee.” Die persoon wat op die strand gestaan het, het toe vir hulle gesê: “Gooi die net aan die regterkant van die skuit, en julle sal kry. Hulle het toe gegooi en deur die menigte van visse was hulle nie meer in staat om dit te trek nie.”—Johannes 21:5, 6.

12 Wat ’n verstommende ondervinding! Die dissipels het waarskynlik die vorige wonderwerk onthou toe hulle visgevang het, en ten minste een van hulle het besef wie die persoon op die strand was. “Daarop sê die dissipel—die een vir wie Jesus liefgehad het—aan Petrus: Dit is die Here! En toe Simon Petrus hoor dat dit die Here is, gord hy sy bo-kleed om—want hy was naak—en werp homself in die see. Maar die ander dissipels het met die skuitjie gekom . . . want hulle was nie ver van die land nie, maar omtrent tweehonderd el.”—Johannes 21:7, 8.

13. Watter internasionale visvangprogram is begin nadat Jesus na die hemel opgevaar het?

13 Waarop het hierdie wonderwerk gedui? Dat die werk om vissers van mense te wees, nie klaar was nie. Hierdie feit is beklemtoon toe Jesus drie keer vir Petrus—en deur hom vir al die dissipels—gesê het om Jesus se skape te voed (Johannes 21:15-17, vgl. NW). Ja, ’n geestelike voedingsprogram het voorgelê. Voor sy dood het hy voorspel: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies” (Mattheüs 24:14). Die tyd het toe aangebreek vir die eerste-eeuse vervulling van daardie profesie. Sy dissipels moes hulle nette in die see van die mensdom laat sak, en die nette sou nie leeg opgetrek word nie.—Mattheüs 28:19.

14. Hoe is die visvangs van Jesus se volgelinge geseën gedurende die jare voor Jerusalem vernietig is?

14 Voordat hy na sy Vader se troon in die hemel opgevaar het, het Jesus vir sy volgelinge gesê: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde” (Handelinge 1:8). Toe die heilige gees met Pinkster 33 G.J. op die dissipels uitgestort is, het die groot werk van geestelike visvangs op internasionale skaal begin. Op Pinkster alleen is drieduisend siele lewend gevang, en kort daarna ‘het die getal van die manne omtrent vyfduisend geword’ (Handelinge 2:41; 4:4). Die vermeerdering het nie opgehou nie. Die verslag sê vir ons: “Daar is meer en meer gelowiges in die Here bygevoeg, menigtes van manne sowel as vroue” (Handelinge 5:14). Nie lank daarna nie het Samaritane die goeie nuus aangeneem, en kort daarna ook onbesnede nie-Jode (Handelinge 8:4-8; 10:24, 44-48). Ongeveer 27 jaar ná Pinkster het die apostel Paulus aan die Christene in Kolosse geskryf dat die goeie nuus “in die ganse mensdom onder die hemel” verkondig is (Kolossense 1:23). Dit is duidelik dat Jesus se dissipels ver van die waters van Galilea af visgevang het. Hulle het hulle nette onder die Jode laat sak wat in die Romeinse Ryk verstrooi was, asook in die seë van die nie-Joodse mense wat skynbaar min belofte ingehou het. En hulle nette het vol opgekom. Wat die Christene van die eerste eeu betref, is Jesus se profesie in Mattheüs 24:14 vervul voordat Jerusalem in 70 G.J. vernietig is.

Vissers van mense tydens “die dag van die Here”

15. Watter verdere visvangs is in die boek Openbaring voorspel, en wanneer sou dit gedoen word?

15 Maar meer het voorgelê. Aan die einde van die eerste eeu het Jehovah aan die laaste oorlewende apostel, Johannes, ’n openbaring gegee van dinge wat gedurende “die dag van die Here” sou gebeur (Openbaring 1:1, 10). Een belangrike aspek sou die wêreldwye verkondiging van die goeie nuus wees. Ons lees: “Ek het ’n ander engel in die middel van die lug sien vlieg met ’n ewige evangelie [“goeie nuus”, NW] om te verkondig aan die bewoners van die aarde en aan alle nasies en stamme en tale en volke” (Openbaring 14:6). Onder leiding van die engele sou God se knegte die goeie nuus letterlik in die hele bewoonde wêreld verkondig, en nie net in die Romeinse Ryk nie. ’n Wêreldwye werk sou onderneem word om vissers van siele te word, en ons het die vervulling van daardie gesig in ons dag gesien.

16, 17. Wanneer het die visvangs in hierdie laaste dae begin, en hoe het Jehovah dit geseën?

16 Hoe was die visvangs gedurende hierdie 20ste eeu? Aan die begin was daar betreklik min vissers. Toe die Eerste Wêreldoorlog geëindig het, was daar net ongeveer vierduisend bedrywige verkondigers van die goeie nuus, ywerige manne en vroue wat grotendeels van die gesalfdes was. Hulle het hulle nette uitgegooi waar Jehovah ook al die weg geopen het, en baie siele is lewend gevang. Ná die Tweede Wêreldoorlog het Jehovah nuwe waters vir visvangs geopen. Sendelinge wat die Wagtoring-Bybelskool Gilead bygewoon het, het in talle lande die voortou geneem met die werk. Lande soos Japan, Italië en Spanje, wat aanvanklik taamlik onvrugbaar gelyk het, het uiteindelik ’n ryk vangs van siele opgelewer. Ons het onlangs ook verneem hoe suksesvol die visvangs in Oos-Europa was.

17 Vandag skeur die nette feitlik in baie lande. Die groot vangs van siele het dit nodig gemaak om nuwe gemeentes en kringe te organiseer. Om na hulle om te sien, word daar gedurig nuwe Koninkryksale en Byeenkomssale gebou. Vanweë die vermeerdering is meer ouere manne en bedieningknegte nodig. Daardie getroues het in 1919 ’n groot werk aan die gang gesit. Jesaja 60:22 (NW) is letterlik vervul. ‘Die kleine het ’n duisend geword’ aangesien daardie vierduisend vissers vandag meer as viermiljoen geword het. En dit is nog nie die einde nie.

18. Hoe kan ons die goeie voorbeeld van eerste-eeuse geestelike vissers van mense navolg?

18 Wat beteken dit alles vir ons as individue? Die Skrif sê toe Petrus, Andreas, Jakobus en Johannes genooi is om vissers van mense te word, ‘het hulle alles verlaat en Jesus gevolg’ (Lukas 5:11). Wat ’n goeie voorbeeld van geloof en toegewydheid tog! Kan ons dieselfde gees van selfopoffering aankweek, dieselfde bereidwilligheid om Jehovah te dien, ongeag wat dit ons kos? Miljoene het geantwoord dat hulle dit kan doen. In die eerste eeu was die dissipels vissers van mense waar Jehovah hulle ook al toegelaat het. Of dit nou onder Jode of nie-Jode was, hulle het sonder voorbehoud visgevang. Laat ons ook vir almal preek sonder om terug te hou of bevooroordeeld te wees.

19. Wat moet ons doen as die waters waar ons visvang nie produktief lyk nie?

19 Maar sê nou dit lyk tans of julle gebied onproduktief is? Moenie mismoedig word nie. Onthou, Jesus het die nette van die dissipels gevul nadat hulle die hele nag tevergeefs visgevang het. Dit kan ook in geestelike sin gebeur. In Ierland het getroue Getuies byvoorbeeld jare lank gearbei met baie min resultate. Maar onlangs het dit verander. Die 1991 Yearbook of Jehovah’s Witnesses berig dat Ierland teen die einde van die 1990-diensjaar 29 agtereenvolgende hoogtepunte gehad het! Miskien sal julle gebied eendag net so produktief wees. So lank Jehovah dit toelaat, moet ons aanhou visvang!

20. Wanneer moet ons vissers van mense wees?

20 In Israel het vissers in die nag gaan visvang, wanneer almal warm en gerieflik in hulle bed gelê het. Hulle het uitgegaan, nie wanneer dit vir húlle gerieflik was nie, maar wanneer hulle die meeste visse kon vang. Ons moet ook ’n studie maak van ons gebied sodat ons as ’t ware gaan visvang wanneer die meeste mense by die huis is en ontvanklik is. Dit kan in die aand, oor naweke of op ’n ander tyd wees. Laat ons, ongeag wanneer dit is, alles in ons vermoë doen om regskape mense te vind.

21. Wat moet ons onthou wanneer ons gebied gereeld gedek word?

21 Sê nou ons gebied word gereeld gedek? Vissers in die wêreld kla dikwels dat daar te veel visgevang word in hulle visvanggebied. Maar kan daar te veel visgevang word in ons geestelike visvanggebied? Nie werklik nie! In baie gebiede is daar ’n vermeerdering selfs wanneer dit gereeld gedek word. Die resultate is beter in sommige gebiede juis omdat dit so goed gedek word. In gebiede waar mense gereeld besoek word, moet ons nietemin doodseker maak dat daar ’n aantekening gemaak word van almal wat nie tuis was nie en dat hulle almal later besoek word. Leer ’n verskeidenheid onderwerpe vir bespreking. Hou in gedagte dat iemand hulle spoedig weer sal besoek, en jy moet dus nie te lank bly of die huisbewoners onbewustelik kwaad maak nie. En lê julle daarop toe om bedrewener te raak in straat- en informele getuieniswerk. Laat sak julle geestelike nette by elke geleentheid en op elke moontlike manier.

22. Watter wonderlike voorreg geniet ons nou?

22 Ons moet onthou dat die vissers sowel as die visse by hierdie soort visvangs baat vind. As diegene wat ons vang, volhard, kan hulle vir ewig lewe. Paulus het Timotheüs aangemoedig: “Volhard daarin; want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as die wat jou hoor” (1 Timotheüs 4:16). Dit was Jesus wat aanvanklik sy dissipels opgelei het om in geestelike sin vis te vang, en hierdie werk word steeds onder sy leiding gedoen. (Vergelyk Openbaring 14:14-16.) Ons het waarlik ’n wonderlike voorreg om onder hom aan die werk deel te neem sodat dit voltooi kan word! Laat ons aanhou om ons nette te laat sak so lank Jehovah ons toelaat. Watter groter werk kan daar wees as om siele lewend te vang?

Kan jy onthou?

◻ Watter werk het Jesus sy volgelinge opgelei om te doen?

◻ Hoe het Jesus getoon dat die geestelike visvangs nie by sy dood geëindig het nie?

◻ Hoe het Jehovah die geestelike visvangs in die eerste eeu geseën?

◻ Watter groot visvangs is gedurende “die dag van die Here” in nette opgetrek?

◻ Hoe kan ons as individue selfs meer welslae as vissers van mense behaal?

[Prent op bladsy 15]

Ná Jesus se opstanding het sy apostels die godgegewe werk om vissers van mense te wees, uitgebrei

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel