Hoofstuk 14
Na die nuwe verbond—die Duisendjarige Koninkryk
1, 2. (a) Met wie kan die miljoene bevoordeeldes van die nuwe verbond vandag vergelyk word? (b) Wat was die bepalings van die nuwe verbond?
MILJOENE mense rondom die aarde geniet reeds wonderlike voordele as gevolg van die nuwe verbond, selfs al is hulle nie daarin nie. Hulle is soos die nie-Israelitiese bewoners in Israel toe die Mosaïese Wetsverbond nog van krag was (Exodus 20:10). Hoe is dit die geval met die toenemende miljoene bevoordeeldes wat vandag aan die oorblyfsel van die geestelike Israeliete verbonde is?
2 In die profesie van Jeremia 31:31-34 het die Een wat die bepalings van die nuwe verbond vasgestel het, gesê: “Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ’n God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees.”
3. (a) In watter vorm is die wet van die ou Mosaïese verbond aan Israel gegee? (b) Waar het God die wette van die nuwe verbond laat neerskryf voordat daar begin is om die Christelike Griekse Skrifte op skrif te stel?
3 In die geval van die Wetsverbond het Jehovah God “die skuldbrief . . . met sy insettinge” deur middel van die profeet Moses as middelaar aan natuurlike Israel gegee (Kolossense 2:14). Maar wat van die wet van die nuwe verbond? Die Middelaar daarvan sou dit nie op klip of in ’n manuskrip skryf nie. Die Middelaar daarvan het geen geskrifte van sy eie nagelaat nie. Ons stel uit die geïnspireerde Christelike Griekse Skrifte vas wat die wet van die nuwe verbond is (2 Timotheüs 3:16). Maar selfs voordat daar omstreeks 41 G.J. begin is om daardie Griekse Skrifte op skrif te stel, het Jehovah God begin om sy wet van die nuwe verbond neer te skryf. Wanneer? Op Pinksterdag van 33 G.J. Waar? Presies waar hy lank tevore beloof het om dit te skryf: “Ek sal my wette in hulle verstand gee en dit op hulle hart skrywe.”—Hebreërs 8:10.
4. Watter goeie gevolge sou voortvloei uit die feit dat God sy wette op sy knegte se hart geskryf en dit in hulle verstand gegee het?
4 Aangesien daardie wette op die hart geskrywe is, sou die moontlikheid kleiner wees dat diegene wat dit gehoorsaam, sou ophou om dit lief te hê. Indien daardie wette “in hulle verstand” geplaas is, sou die moontlikheid kleiner wees dat hulle dit sou vergeet. Die houers van daardie wette sê gevolglik in die woorde van Psalm 119:97: “Hoe lief het ek u wet; dit is my bepeinsing die hele dag.” Uit hulle diepste wese is hulle lief vir Jehovah se wette soos gegee deur sy Middelaar, Jesus Christus. Hulle het dus die regte beweegrede en is vasbeslote om daardie kosbare wette te hou. Dit geld vir sowel die “klein kuddetjie” in die nuwe verbond as die “groot menigte” “ander skape” wat nie in die nuwe verbond is nie, maar daaronder.—Vergelyk 1 Johannes 5:3; Johannes 14:15.
Die Koninkryksgeskil kom op die voorgrond!
5. Wat het die Middelaar van die nuwe verbond in Mattheüs 24:12-14 voorspel?
5 Die houers van die wette van die nuwe verbond mag nie swig voor wat die Middelaar, Jesus Christus, as deel van “die teken . . . van die voleinding van die wêreld” voorspel het nie: “Omdat die ongeregtigheid [“wetteloosheid”, NW] vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word. En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies.”—Mattheüs 24:3, 12-14.
6. (a) Was Mattheüs 24:14 bloot ’n profesie? (b) Wie het dit as meer as profeties beskou, en wat kan omtrent hulle volharding gesê word?
6 Hierdie laaste verklaring oor ’n aardwye getuienis vir die Koninkryk was nie bloot ’n voorspelling nie. Dit was ’n opdrag aan sy dissipels wat in “die voleinding van die wêreld” sou lewe. Dit was ’n riglyn vir hulle korrekte handelwyse reg tot die volbragte einde van ’n liefdelose stelsel wat oor die algemeen deurtrek is van wetteloosheid, nie bloot van minagting vir God se wet nie. Wie toon vandag dat hulle ware Christene is deur hierdie woorde van Jesus Christus as ’n opdrag aan hulle te beskou? Die geskiedkundige feite wat sedert 1919 opgehoop het, antwoord waaragtig: “Jehovah se Getuies”! Hulle Bybelopvoedkundige veldtog in verband met die Koninkryk is die grootste wat bekend is, en hulle voer dit die afgelope 67 jaar al met volharding. Dit word elke jaar groter en kragtiger.
7, 8. (a) Wat het Satan gedurende die Eerste Wêreldoorlog aan diegene in die nuwe verbond probeer doen? (b) Hoe het die Koninkryksgeskil gedurende die na-oorlogse tydperk op die voorgrond gekom?
7 Satan die Duiwel het probeer om hierdie verbasende Bybelopvoedkundige veldtog te voorkom deur die klein oorblyfsel van geestelike Israeliete gedurende die Eerste Wêreldoorlog te laat uitwis. Hy het misluk! Onmiddellik na hulle herlewing uit ’n doodse toestand in die noordelike somer van 1919 het hulle in September van daardie jaar hulle eerste na-oorlogse byeenkoms in Cedar Point, Ohio, gehou. By die tweede byeenkoms te Cedar Point in September 1922 het die Koninkryksgeskil op die voorgrond gekom. Op die vierde dag van daardie byeenkoms, met die titel “Die Dag”, het die president van die Wagtoringgenootskap sy aangrypende redevoering tot ’n grootse hoogtepunt gevoer deur uit te roep:
8 “Keer dus terug na die veld, o seuns van die allerhoogste God! Gord julle wapenrusting aan! Wees nugter, wees waaksaam, wees bedrywig, wees dapper. Wees getroue en ware getuies vir die Here. Gaan voort met die stryd totdat elke oorblyfsel van Babilon verlate lê. Verkondig die boodskap wyd en syd. Die wêreld moet weet dat Jehovah God is en dat Jesus Christus die Koning van die konings en die Here van die here is. Dit is die dag der dae. Kyk, die Koning heers! Julle is sy reklame-agente. Adverteer, adverteer, adverteer dus die Koning en sy Koninkryk.”
’n Dieper kennis van Jehovah word verkry
9. (a) Watter standpunt moet mense inneem omdat die getuienis in verband met daardie regverdige regering toegeneem het? (b) Watter kennis kry diegene wat ’n gunstige standpunt inneem?
9 Meer as 70 jaar het nou verstryk sedert Christus in 1914 in Koninkryksmag op die troon geplaas is. Sedertdien het die getuienis in verband met God se regverdige regering geweldig toegeneem. Die lede van die wêreld van die mensdom moet hulle standpunt ten opsigte van die Koninkryksgeskil inneem, hetsy vír die Koninkryk of daartéén. En diegene wat hulle standpunt vir daardie goddelike regering inneem, geniet die vervulling van hierdie lewensbelangrike woorde van die nuwe verbond: “Hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die HERE [“Jehovah”, NW]; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle.”—Jeremia 31:34.
10. (a) Onder watter naam het die oorblyfsel van geestelike Israeliete gevolglik begin om die “ander skape” te verwelkom? (b) Watter kennis het die “ander skape” verkry?
10 In 1935 het die oorblyfsel van geestelike Israeliete begin om die “ander skape” van die Goeie Herder in aktiewe omgang met hulle in “een kudde” onder Jesus Christus te verwelkom, daar hulle almal Jehovah se Getuies is. Toe het daardie “ander skape”, wat begin het om “’n groot menigte” sonder enige voorbestemde getal uit te maak, hulle voorgeneem om saam met die geesverwekte oorblyfsel “die gebooie van God [te] bewaar” en om “die getuienis van Jesus Christus [te] hou” (Openbaring 7:9-17; 12:17). Uit die staanspoor, sedert 1935, het hierdie “ander skape” Jehovah gevolglik ook leer ken, “klein en groot onder hulle”.
11. Hoe is Christelike kennis van Jehovah anders en beter as dié van die Jode onder die Wetsverbond?
11 Maar in watter opsig verskil Christelike kennis van Jehovah van die kennis wat die Jode onder die ou Mosaïese Wetsverbond gehad het, en in watter opsig is dit veel beter? Die hemelse Oprigter van die nuwe verbond deel ons voorts mee: “Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie” (Jeremia 31:34; Hebreërs 8:12). Dit is weens die feit dat die nuwe verbond berus op ’n beter offerande deur middel van ’n beter Middelaar (Hebreërs 8:6; 9:11, 12, 22, 23). Die beter offerande van die beter Middelaar hoef nie herhaal te word, soos die geval was op die jaarlikse Versoendag onder die ou Mosaïese Wetsverbond nie (Hebreërs 10:15-18). In die lig hiervan is diegene in en onder die nuwe verbond se kennis van Jehovah inderdaad beter, verrykender, dieper en vollediger as wat die Jode onder die Wetsverbond se kennis van God was.
12. Watter posisie beklee Jehovah bowenal ten opsigte van diegene in en diegene onder die nuwe verbond?
12 Jehovah God, die Verbondoprigter, is bowenal die Koning oor diegene wat hy in die nuwe verbond inneem en oor diegene wat hy daaronder stel (Mattheüs 5:34, 35; Jeremia 10:7). Eenduisend-agthonderd-en-vyftig jaar voordat Jesus in 1914 as Koning in die hemele op die troon geplaas is, het die apostel Paulus die aandag gevestig op Jehovah se koningskap oor diegene wat die wette van die nuwe verbond gehoorsaam toe hy gesê het: “Aan die Koning van die eeue, die onverderflike, onsienlike, alleenwyse God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid. Amen.”—1 Timotheüs 1:17.
Die Duisendjarige Koninkryk na “die groot verdrukking”
13. (a) Wanneer en onder watter omstandighede sal die “groot menigte” die seëninge wat uit die nuwe verbond voortspruit in volle maat ontvang? (b) Aan watter wonderlike doel sal die nuwe verbond dan beantwoord het?
13 Die “groot menigte” “ander skape”, wat nie in die nuwe verbond is nie, maar daaronder, sien daarna uit om “die groot verdrukking” te oorleef. Nadat hierdie teenswoordige, gedoemde stelsel vernietig is, sal hulle duisend jaar lank die heerskappy van Jesus Christus en sy mede-erfgename oor die gereinigde aarde geniet (Openbaring 7:9-14). Dan sal die nuwe verbond aan sy doel beantwoord het; dit sou naamlik “’n volk as eiendom” voortgebring het om erfgename van God se hemelse Koninkryk te word (1 Petrus 2:9; Handelinge 15:14). Deur middel van God se Koninkryk sal seëninge in volle maat na die “groot menigte” van oorlewende “ander skape” vloei. Satan die Duiwel en sy onsigbare demonorganisasie sal in die afgrond gewerp wees sodat hulle hulle nie in ander se sake kan inmeng nie.—Openbaring 21:1-4; 20:1-3.
14. Watter goeie voorbereiding sal die oorlewende “groot menigte” dan gehad het?
14 Die oorlewende “groot menigte” “ander skape” sal goed voorberei wees op die lewe in die nuwe stelsel. Net soos die oorblyfsel van geestelike Israeliete het hulle God leer ken, “klein en groot onder hulle” (Jeremia 31:34). In gebed tot God het die heersende Koning eenkeer gesê: “Dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het” (Johannes 17:3). Hierdie universele kennis van Jehovah God sal dus ewige redding bewerk. Dit sal waar wees, nie net in die geval van die “vlees” wat lewend uit die “groot verdrukking” gered word nie, maar ook van die miljarde mensedode wat die stem van die Koning sal hoor en uit hulle gedenkgrafte sal kom. Al die nodige kennis van Jehovah sal aan sulke verresenes oorgedra word.—Mattheüs 24:21, 22; Johannes 5:28, 29; Openbaring 20:11-15.
15. Waarom sal dit nie vir die “groot menigte” “ander skape” ’n verlies wees wanneer die nuwe verbond aan sy doel beantwoord het nie?
15 Wanneer God se nuwe verbond aan sy grootse doel beantwoord het, sal dit gelukkig nie vir die “groot menigte” “skape” wat die vernietiging van hierdie gedoemde stelsel oorlewe ’n verlies wees nie. Dit sal eerder vir hulle die weg tot selfs wonderliker seëninge open hier op die gereinigde aarde wat hulle gaan beërf en waar hulle die eerstes sal wees om dit in ’n globale paradys te begin omskep (Mattheüs 25:34; Lukas 23:43). Diegene wat die aarde verderf, sal binnekort nie meer daar wees nie, “maar die wat die HERE verwag, hulle sal die aarde besit. . . . Die ootmoediges . . . sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede” (Psalm 37:9-11). Laat almal die Duisendjarige Koninkryk van Jehovah God in die hande van die “Vredevors” begroet wat volg nadat die nuwe verbond aan sy doel beantwoord het!
[Prente op bladsy 119]
Die goeie nuus van God se Koninkryk sal oor die hele aarde verkondig word voordat hierdie stelsel eindig