Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • ml bl. 3-31
  • Die lewe behels veel meer!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die lewe behels veel meer!
  • Die lewe behels veel meer!
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • HOE OM DIE ANTWOORDE OP DIE LEWE SE PROBLEME TE VIND
  • HOE DIE HEELAL IN AANSYN GEKOM HET
  • HOE LEWE OP AARDE BEGIN HET
  • WAT “EVOLUSIE” AAN LEWENS GEDOEN HET
  • WAAROM IS DIE LEWE SO VOL PROBLEME?
  • WÊRELDTOESTANDE WAT JOU LEWE RAAK
  • HOE BYBELPROFESIEË HELP OM LEWENS TE RED
  • DIE MANIER OM TE BLY LEWE EN VIR EWIG TE LEWE
  • WAAROM DIE LEWE VEEL MEER BEHELS!
  • VERWYSINGS
  • “Kyk, Ek maak alles nuut”
    “Kyk, Ek maak alles nuut”
  • Meningsverskille oor evolusie—Waarom?
    Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?
  • Evolusie
    Redenering uit die Skrif
  • Staan die waarheid voor in ’n goddelose wêreld
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
Sien nog
Die lewe behels veel meer!
ml bl. 3-31

Die lewe behels veel meer!

1. Waarom put so baie mense so min genot uit die lewe? (Prediker 1:14, 15; 2:17, 18).

VOORSPOED, vrede, ’n goeie lewe! Hoe graag wil ons nie hierdie dinge hê nie! Maar hoe bring jy jou dae deur? Mans wat ’n gesin onderhou, het dikwels betrekkings waarvan hulle nie hou nie, en talle word voortdurend bedreig deur die moontlikheid van werkloosheid. Vir talle huisvroue wag daar lang dae van sloofwerk, terwyl daar dag na dag min verligting en geen besondere bevrediging is nie. ’n Groot aantal jongmense word groot met ’n soortgelyke lewensvooruitsig. Selfs vir die paar wat meen dat die lewe hulle nie te sleg behandel nie, is die toekoms vol onsekerheid.

2. Hoe lyk die toekoms vir die mensdom? (Jesaja 60:2).

2 Is dit werklik al wat die lewe inhou? Net waar jy in hierdie wêreld kyk, lyk dit of die stelsel baie siek is. Dit het te kampe met energiekrisisse en wegholinflasie, voedselskaarstes en omgewingsbesoedeling, opstande, koue en warm oorloë, die ophoping van kernwapens, rasseprobleme en toenemende ontevredenheid onder die massas van die mensdom. Daar is geen deel van die aarde wat nie te kampe het met probleme wat mense se lewe en voortbestaan bedreig nie!

3. Waarom moet ons besorg wees oor die toekoms? (Openbaring 3:10).

3 Party mense het blykbaar die houding: ‘Wat daarvan? So lank dit my net nie raak nie.’ Maar hoe kortsigtig tog! Die onvermydelike gevolgtrekking is dat hierdie probleme binnekort die lewe van almal sal raak.

4, 5. (a) Watter gesindheid het die meeste mense blykbaar, en waarom? (b) Waarom bevat die Bybel moontlik die oplossing? (2 Timotheüs 3:16, 17; Romeine 15:4; 1 Korinthiërs 10:11).

4 Menseleiers het al moontlike oplossings voorgestel—op ’n internasionale skaal, op ekonomiese, wetenskaplike en politieke gebied. Maar was hulle nie almal vrugteloos en onbevredigend nie? Die meeste van die voorgestelde planne om verligting te bring, word nooit eens van stapel gestuur nie. Nie een van die wêreldleiers kan ’n ware oplossing bied wat op die lange duur sal slaag nie. Gevolglik wil dit voorkom of die meeste mense geen doel in die lewe het nie; hulle het die algemene gesindheid: “Laat ons dan eet en drink, want môre sterf ons.”

5 Hierdie pas aangehaalde woorde word in die Bybel, in 1 Korinthiërs 15:32,a aangetref, maar in ’n verband wat ’n positiewe beskouing voorstaan. Is dit moontlik dat die Bybel die oplossing vir die mensdom se probleme bevat? Daar is natuurlik baie mense wat die Bybel verwerp. Maar in die lig van die haglike toestand van wêreldaangeleenthede is dit moontlik tyd om weer ’n slag na die Bybel te kyk. Dit is immers ’n baie ou boek waarvan sekere dele meer as 3 400 jaar gelede geskryf is. Dit het die respek van mense van alle rasse van die mensdom verkry. Dit is die boek wat in die meeste lewende tale vertaal is en dit het verreweg die grootste verspreiding van enige publikasie in die mens se geskiedenis. Wel, toon die Bybel dan vir ons dat die lewe veel meer behels?

HOE OM DIE ANTWOORDE OP DIE LEWE SE PROBLEME TE VIND

6. Hoe beskou die Bybel die Christendom? (Jakobus 1:27; 5:3-5).

6 Party Bybelkritici het al gewys op die Christendom se verlede waartydens die armer mense uitgebuit en baie onskuldige bloed tydens kruistogte, inkwisisies en die oorloë van hierdie twintigste eeu vergiet is. Hulle sê: ‘As dit is hoe die Bybel mense laat optree, wil ons niks daarmee te doen hê nie.’ Maar die waarheid is dat sulke bloedskuldige manne eenvoudig die Bybel gebruik het as ’n dekmantel vir onchristelike dade. Die Bybel self veroordeel hulle handelswyse sterk en lê hulle bloot as naamchristene. Die Bybel staan ’n waarlik sedelike lewe voor.

7, 8. (a) Watter vrae kan die Bybel beantwoord? (Mattheüs 7:7). (b) Hoe het die Bybel baie mense al gehelp? (Psalm 119:105, 165).

7 Ander kritici beweer dat die Bybel onwetenskaplik en verouderd is en dat dit ’n boek vol mites is. Maar is dit so? Ons het vandag ’n groot behoefte aan oortuigende antwoorde op belangrike vrae wat ons lewe raak, soos: Waar kom die mens vandaan? Wat is die betekenis van huidige toestande? Sal menselewe van die aarde af uitgewis word? Wat hou die toekoms vir die mensdom in?

8 Die Bybel beantwoord hierdie vrae en ook baie ander wat mense dikwels vra. Die Bybel bevat nie mites nie; inteendeel, dit handel oor die werklikheid. Feit is dat dit al mense in alle wêrelddele gehelp het om hulle lewe op ’n wyse te gebruik wat hulle ware bevrediging en tevredenheid verskaf. Wanneer jy die Bybel ondersoek, sal jy vind dat dit antwoorde op jou vrae verstrek en jou praktiese hulp verleen om ware geluk in jou lewe te vind. Dit sal jou help om jou lewe sinvol te maak.

HOE DIE HEELAL IN AANSYN GEKOM HET

9, 10. (a) Hoe sê die Bybel het die heelal ontstaan? (Jesaja 45:12, 18). (b) Hoe getuig die heelal self dat dit geskep is? (Hebreërs 3:4).

9 Indien ons wil uitvind waaroor die lewe gaan, is een van die fundamentele vrae wat beantwoord moet word die volgende: Wat is die oorsprong van lewe? Met ander woorde: Waar kom ons vandaan? Is daar ’n rede waarom ons hier is? Die Bybel sê dat “God die hemel en die aarde geskape” het (Genesis 1:1). Maar hedendaagse denkers vra: Is daar werklik ’n almagtige God—’n Skepper? Is dit nie waar dat baie mense meen dat die heelal ’n produk van evolusie is nie?

10 Het jy al ’n planetarium besoek? Indien wel, het jy ongetwyfeld verbaas gestaan oor die ingewikkelde apparate wat ontwerp is om die juiste voorstelling van die hemele op die geboë koepel te projekteer, en ook oor die akkurate beweging van die model van ons sonnestelsel. Jy het moontlik gedink: Wat ’n voortreflike uitvloeisel van die mens se fotografiese en ingenieursvermoëns! Maar dink ’n oomblik daaroor na. As begaafde mense nodig was om so ’n gelykenis van die heelal te bou, was ’n baie meer begaafde Intellek ongetwyfeld nodig om die ontsaglike heelal te maak.

11. Wat moes party geleerde wêreldse denkers al erken? (Romeine 1:20-23).

11 In die negentiende eeu het Charles Darwin met die teorie vorendag gekom dat die heelal ’n produk van evolusie is. Maar dink jy ook dat niemand al hierdie dinge gemaak het nie? Meen jy dat die lewe per ongeluk ontstaan het? Talle intelligente mense vind dat die evolusieteorie te kort skiet. Die geskiedskrywer Arnold Toynbee het byvoorbeeld gesê:

“Ek dink nie dat Darwin se teorie van evolusie ’n positiewe verslag bied van ’n alternatiewe wyse waarop die heelal moontlik in aansyn gekom het nie.”⁠1

Selfs Darwin het dan die volgende tydens ’n bespreking van die bron van lewe erken:

“Ek is beïndruk deur ’n ander bron van oortuiging dat God bestaan, een wat verband hou met rede en nie met gevoel nie . . . Dit is die uitvloeisel van die uiters moeilike of eerder onmoontlike taak om jou voor te stel dat hierdie ontsaglike en wonderlike heelal, waaronder die mens met sy vermoë om terug en tot ver in die toekoms te kyk, die gevolg van blinde toeval of noodsaaklikheid was. Wanneer ek só oor sake nadink, voel ek verplig om na ’n Eerste Oorsaak te soek.”⁠2

12. Wat moet ons nederig erken, en waarom? (Handelinge 14:15-17).

12 Ja, logika sê vir ons dat daar ’n groot Eerste Oorsaak, ’n Skepper—God—moet wees! En wanneer ons daaroor nadink dat die mens se sterkste teleskope maar net kan begin om die dieptes van Sy wonderlike heelal te ondersoek, moet ons nederig erken dat die mens se wysheid en vermoëns inderdaad in die skadu gestel word deur God se oortreffende wysheid en mag. Soos ons sal sien, kan God nie buite rekening gelaat word indien ons ’n gelukkige en sinvolle lewe wil lei nie. Hy moes ’n doel gehad het toe hy die heelal, ons aarde inkluis, geskep het. Namate ons meer omtrent sy wonderlike voornemens leer, kan ons verwag om te vind dat die lewe veel meer behels!

HOE LEWE OP AARDE BEGIN HET

13. Waarom is hierdie aarde ’n besondere deel van God se skepping? (Psalm 104:24).

13 Kom ons vestig nou ons aandag op hierdie klein spikkeltjie in die uitspansel van die heelal—die aarde. Hierdie aarde besit ’n besondere skoonheid. Dit is oortrek met kleur en word verryk deur ’n wonderlike verskeidenheid van lewende dinge. Daar is lewe daarop. Een van die ruimtemanne wat na die maan gereis het, het dit soos volg beskryf:

“Die enigste bietjie kleur in die ganse heelal, ongeag waar ons gekyk het, was op die aarde. Daar kon ons die koningsblou van die seë, die bruingeel en bruin skakerings van die land en die wit van die wolke sien. . . . Dit was die pragtigste ding in die hele hemel. Die mense hier onder besef nie wat hulle het nie.”⁠3

Daar bestaan geen twyfel daaromtrent dat hierdie aarde soos ’n juweel in die onmeetlike ruimte pryk nie. Dit is inderdaad vol lewe. En daar moet bepaald ’n doel met al hierdie lewensvorme wees! Kom ons kyk of ons kan uitvind wat hierdie doel is.

14. Waar het lewe vandaan gekom, en hoe het dit ontstaan? (Psalm 104:30, 31).

14 Dit is nie te moeilik om uit te vind waar lewe vandaan kom nie. ’n Bybelskrywer het 3 000 jaar gelede na daardie Bron verwys toe hy verklaar het:

“Hoe kosbaar is u goedertierenheid, o God! . . . Want by U is die fontein van die lewe; in u lig sien ons die lig.”—Psalm 36:8, 10 NW.

Party geharde Bybelkritici moes al toegee dat God die Bron van lewe is. Selfs die evolusionis Darwin het erken dat die lewe aanvanklik “deur die Skepper in ’n paar vorme, of in een, geblaas”⁠4 moes gewees het. Maar indien God lewe in “’n paar vorme” kon blaas, waarom sou hy dit nie op soortgelyke wyse afsonderlik in honderde geskape “soorte” geblaas het nie? Dit is presies wat die Bybel sê hy gedoen het! Hy het alle lewende dinge “volgens hulle soorte” geskep (Genesis 1:12, 21, 24, 25). God se skepping van die eerste mens word in hierdie woorde beskrywe:

“En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ’n lewende siel geword.”—Genesis 2:7.

Volgens die Bybel is dit hoe menselewe net 6 000 jaar gelede ontstaan het—dit is regstreeks deur God geskep. Dit is noodsaaklik dat ons daardie feit verstaan voordat ons kan begryp dat die lewe veel meer behels.

15. Kon lewe per toeval ontstaan het? (Psalm 100:3, NW).

15 In teenstelling met die Bybel se eenvoudige verslag van die skepping, klink party van die verduidelikings deur evolusioniste soos sprokies. Een evolusionis beskryf dit byvoorbeeld soos volg:

“Eendag, baie lank gelede, moontlik twee en ’n half miljard jaar gelede, het ’n molekule nukleïensuur per ongeluk in aansyn gekom onder ’n dodelike son, in ’n oseaan vol ammoniak onder ’n giftige atmosfeer, te midde van ’n brousel organiese molekules, en hy kon op die een of ander wyse ’n ander een soos hyself voortbring—en vandaar sou die res kom!” (Ons kursiveer.)⁠5

Oortuig dit jou? Die evolusionis Lecomte du Noüy het bereken wat die kanse is dat een proteïenmolekule ’n ander proteïenmolekule onder gunstige toestande in ’n oseaan chemikalieë so groot soos die aarde kan voortbring. Hy het gesê dat dit slegs een keer in 10243 (dit is die syfer 1 gevolg deur 243 nulle) miljard jaar kan gebeur.⁠6 ’n Lewende sel bestaan egter nie net uit een proteïenmolekule nie, maar uit honderde, asook uit talle ander ingewikkelde stowwe! Die lewe het beslis nie per toeval ontstaan nie!

16. Waarom kan evolusie ’n “mite” genoem word? (1 Timotheüs 1:3, 4).

16 Daar is so baie dinge aan die evolusieteorie verbonde wat met die feite bots! Dit is byvoorbeeld ’n onveranderlike genetiese wet dat alle lewende dinge—plante, diere en mense—slegs hulle eie soort kan voortbring. Daar kan miskien veranderinge binne die soort wees, soos waargeneem kan word uit die baie soorte honde. Maar die hondesoort bring altyd honde voort. Dit kan nie met die kat of ander soorte gekruis word nie. Tot groot teleurstelling van evolusioniste het fossieloorblyfsels in rotse nie die voorspelde “ontbrekende skakels” tussen soorte opgelewer nie. Daarbenewens is “mutasies”, of selveranderinge, so te sê altyd skadelik—die teenoorgestelde van wat evolusie beweer—en bring dit by mense slegs mongole of ander gebreklike mense voort. Dit is geen wonder nie dat sekere wetenskaplikes van goeie naam evolusie nou met uitdrukkings beskryf soos “mite”,⁠7 “oordeelkundige raaiery”⁠8 en “die grootste sprokiesverhaal wat hom ooit as wetenskap voorgedoen het”.⁠9

17. In watter opsigte is die mens wonderliker as diere gemaak? (Genesis 1:27, 28).

17 Maar die mens self is nie ’n “mite” nie. Hy lewe. Sy bestaan as ’n intelligente skepsel met sedelike waardes, ’n skepsel wat “na die beeld van God” geskep is en wat deur ’n gewete gelei word, onderskei hom ten volle van al die laer lewensvorme. Die lewe behoort dus veel meer te behels as ’n blote bestaan soos dié van diere. Die mens word deur ’n ontsaglike kloof van die diere geskei. Watter dier bestee tot twintig jaar aan die versorging en opvoeding van elk van sy kleintjies? Dit is slegs die mens wat die voortreflike eienskappe liefde, goedhartigheid, versiendheid, vindingrykheid en ’n waardering vir skoonheid, die kunste en musiek kan betoon. Behoort alle mense wat die lewe liefhet nie koning Dawid se woorde: “O Jehovah, . . . ek sal u prys omdat ek op ’n vreesinboesemende wyse wonderbaar gemaak is”, hulle eie te maak uit dankbaarheid dat hulle so ryklik begaaf is nie?—Psalm 139:4, 14, NW.

WAT “EVOLUSIE” AAN LEWENS GEDOEN HET

18, 19. Watter uitwerking het evolusie gehad op (a) sedes? (Psalm 10:3, 4) (b) die gesindheid van heersers? (1 Johannes 3:15).

18 Hoekom word evolusie vandag so geredelik deur soveel mense aanvaar? Een rede is omdat dit gewild, in die mode, is om daaraan te glo. Dit het ook ’n skuiwergat vir onafhanklike of onsedelike mense geskep wat ‘hulle eie gang wil gaan’ sonder om te voel dat hulle aanspreeklik is teenoor ’n Skepper of sy sedelike wette. In The Outline of History beskryf H. G. Wells hoe die evolusieteorie ontwikkel het en sê: “Dit het niks konstruktiefs gebring . . . om die ou sedelike standaarde mee te vervang nie. ’n Ware demoralisering het gevolg.”⁠10 Dit het niks daartoe bygedra om die lewe die moeite werd te maak nie.

19 Die geskiedskrywer H. G. Wells vertel van nog ’n gevolg van die evolusieleer. Hy sê: “Mense wat die oorhand gehad het . . . het gemeen dat hulle die oorhand gekry het as gevolg van die Stryd om Bestaan waarin die sterkes en geslepenes die swakkes en goedgelowiges uitoorlê. . . . Dit het dus vir hulle reg gelyk dat die groot honde van die mensetrop ander moet afknou en onderwerp.”⁠11 Die “Christendom” het dus evolusie gebruik om wrede oorlogvoering te regverdig. Die boek Evolution and Christians skryf die tragedie van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 en die latere bose gruweldade van Nazisme aan Darwin se leer toe.⁠12 Evolusie moet eweneens sy deel van die skuld aan die opkoms van Kommunisme aanvaar. Karl Marx was glo verheug toe hy Darwin se Origin of Species gelees het, ’n boek wat hy gesê het God “die doodslag” toedien.⁠13 Hy het ook gesê:

“Darwin se boek is baie belangrik en bied vir my ’n grondslag vir die klassestryd in die geskiedenis.”⁠14

Tot vandag toe streef Kommunistiese nasies hulle doel van wêreldoorheersing na op grond van die evolusionêre leerstelling van “die oorlewing van die geskikste”. Ander nasies sluit hulle aan by hierdie stryd om oorlewing, en die gevolg is die ontsaglike wapenwedloop van hierdie kerneeu. Die lewe van die hele mensdom word bedreig.

20. Hoe kan geloof in evolusie jou lewe raak? (Kolossense 2:8).

20 Hoe raak dit jou lewe? Dit kan vir jou baie nadelig wees as jy aan die evolusieteorie glo. Indien evolusie waar is, sal die lewe doelloos en sinloos word. Dit sal bloot ’n stryd om voortbestaan wees, met slegs die dood as die finale lot. Omdat die evolusionis aan die “oorlewing van die geskikste” glo, het hy geen beweegrede om sy naaste lief te hê, om ’n ordentlike, sedelike lewe te lei of om anders as redelose diere op te tree nie. Evolusie het ’n uitsluitlik negatiewe uitwerking op die mensdom. Dit kan nie ’n bevredigende antwoord op enige van die vrae omtrent die lewe bied nie. Maar die Bybel kan.

WAAROM IS DIE LEWE SO VOL PROBLEME?

21, 22. (a) Waarmee kan die mens se huidige situasie vergelyk word? (b) Op watter “teken” het Adam nie ag geslaan nie, en met watter gevolg? (Genesis 2:15-17; 3:17-19).

21 Die situasie kan vergelyk word met ’n gesin wat op ’n pragtige hoofweg reis. Dit loop deur ’n wonderlike paradys. Alles dui daarop dat hulle ’n aangename reis gaan hê. Maar dan sien hulle ’n breë afdraaipad met ’n teken: “Gevaar—Moenie ingaan nie.” Nuuskierigheid en ’n onafhanklike gees oormeester hulle. Hulle draai af op daardie pad en reis al hoe verder van die hoofpad af weg. Eindelik is daar ’n steil afdraand. Die motor is nou buite beheer. Dit is vir hulle onmoontlik om weer by die hoofweg uit te kom. Die remme het onklaar geraak. Hulle kan nie stilhou nie. Hulle beweeg al hoe vinniger teen die steilte af. Eindelik stort hulle oor ’n afgrond en val hulle te pletter.

22 Die Bybel toon dat die mensdom in ’n soortgelyke posisie is. In die Tuin van Eden het God ’n “padteken” vir die eerste mens opgerig: ‘Jy mag van hierdie een vrug nie eet nie.’ Daar is van die eerste man en vrou verwag om hulle liefde vir God te toon deur daardie eenvoudige gebod te gehoorsaam. Maar hulle het dit nie gedoen nie. Hulle het moedswillig van die hoofweg afgedraai op die weg van sonde wat na die dood en vernietiging onder God se oordeel lei. In Romeine 5:12 lees ons: “Soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het.” Omdat ons die afstammelinge van ongehoorsame Adam is, moes ons dus almal op hierdie onaangename pad reis, ver weg van die volmaaktheid wat die ouers van die mensdom in die paradys geniet het. Hoe stamperig en onaangenaam het daardie pad tog tydens onlangse jare geword! Dit is ’n breë eenrigtingstraat, en nie een van die politici of wyse manne van die wêreld kon tot dusver die mensdom die pad terug wys nie. Vir elke mens daarop beteken die end van die pad die dood. En die vernietiging van die hele mensdom het ’n sterk moontlikheid geword.

23, 24. (a) Wat beteken Johannes 14:6, en hoe is dit waar van Jesus? (b) Hoe sal jy daarby baat vind as jy na daardie hoofweg terugkeer? (Johannes 3:16).

23 Maar, kyk! ’n Ligstraaltjie skyn op ’n afdraaipad, ’n smal weg wat van die breë weg teruglei na die hoofweg. Aanvanklik lyk dit baie nou. Dit sal moeilik wees om daar in te draai. Die groot gesin mense wat nou roekeloos op die breë weg reis, ignoreer die smal weg. Hulle verkies dit om saam met die meerderheid te gaan. Die oorgrote meerderheid mense bly op die breë weg omdat dit gerieflik is en omdat dit tydelik genot verskaf. Hulle slaan geen ag op verdere waarskuwings van gevaar vorentoe nie. Maar party oplettende mense draai by die smal paadjie in. Dit hou ’n paar ontberinge in, en hulle moet wakker wees, maar mettertyd word dit aangenaam om daarop te reis. En uiteindelik lei dit hulle na ’n herstelde paradys van oorvloed. Wat ’n lus vir die oog is daardie aangename, vreedsame paradys tog!

24 Soos die Bybel toon, is dit dieselfde met die mensdom. Hoewel die meeste mense aandring op hulle onafhanklikheid en saam met die meerderheid op die breë weg na vernietiging reis, is ’n terugpad geopen. Terwyl hy op hierdie aarde was, het Jesus, die Seun van God, die aandag hierop gevestig en gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe” (Johannes 14:6). Omdat Jesus God se wil getrou op aarde gedoen het, en selfs sy lewe ten behoewe van die mensdom afgelê het, het God hom aangestel as “die Leidsman tot die lewe”. Hy het ook in die wêreld gekom om “vir die waarheid te getuig” en God se voornemens bekend te maak (Handelinge 3:15; Johannes 18:37). Alleen hy kan lede van die mensdom die weg terug wys na die pragtige hoofweg wat lei tot die volle genieting van ’n gelukkige lewe in die aardse Paradys van God.

25. Waarom is lewe op die paradysaarde so begeerlik? (Openbaring 21:3, 4).

25 Sal jy nie daarvan hou om op so ’n hoofweg te reis nie, een wat lei na ’n herstelde aarde waar jy die vooruitsig het om vir ewig in volmaakte gesondheid en geluk te lewe? Daardie soort lewe sal bepaald veel meer inhou!

26. Hoe belangrik is dit dat jy werklik die waarheid leer? (Johannes 8:31, 32).

26 Dit is deur te glo in God se Leidsman tot die lewe dat ons die “weg” na daardie lewe kan vind. Die lewe is so anders wanneer dit ’n doel het, en wanneer daar ’n vaste hoop op ’n bevredigende, lonende lewe is wat ver in die toekoms in strek. En hoe kan ons daardie hoop verwesenlik? Jesus self gee die antwoord in ’n gebed aan sy Vader: “Dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het” (Johannes 17:3). Deur die Skrif naarstiglik te ondersoek, kan ons die waarheid leer; en as ons dit elke dag toepas, kan ons selfs nou al begin om werklik te lewe!

WÊRELDTOESTANDE WAT JOU LEWE RAAK

27. In watter situasie bevind ons ons nou? (2 Timotheüs 3:1).

27 Wêreldtoestande versleg weliswaar. In die groot stede neem armoede en misdaad toe. Waar jy ook al woon, betaal jy meer vir jou brood, meer vir jou vleis, en die koste om net aan die lewe te bly, skiet die hoogte in. In baie plekke heers wetteloosheid op straat. Meer geweld en selfs oorlog kan maklik enige oomblik uitbreek. Dit is asof die mensdom besig is om die laaste entjie op die pad na vernietiging af te lê.

28. Wie sit agter al die moeilikheid, en wat is sy doel? (2 Korinthiërs 4:4).

28 Wat is die mag agter al hierdie dinge? Dit is ’n bose geespersoon, “die groot draak . . . die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei”. Hy trek die toutjies agter die nasies se diplomasie. Maar God se tyd het nou aangebreek om Satan se gesag te vervang met ’n harmoniese, liefdevolle bewind oor die mensdom deur Christus se hemelse Koninkryk. Dit is Sy tyd om diegene wat die lewe liefhet terug te bring na die hoofweg om die ewige lewe in geluk te geniet. Maar Satan weier om pad te gee. Gevolglik is daar vandag weë “[vir] die bewoners van die aarde . . . want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het” (Openbaring 12:9, 12). Sy doel is om die mensdom in die verderf te stort.

29. Wat is God se voorneme vir hierdie tyd? (Psalm 37:9-11).

29 Daar bestaan geen twyfel daaroor nie! Waar jy ook al vandag op aarde kyk, is daar bewys dat “die hele wêreld in die mag van die Bose”, Satan, lê (1 Johannes 5:19). Maar God sal Satan nie toelaat om sy bose voorneme deur te voer nie! Die vernietiging van hierdie wêreldgemeenskap is weliswaar voor die deur. Maar dit is God se voorneme om lewens te red. In die profesieë wat in die Bybel opgeteken is, toon hy presies hoe hy dit gaan doen.

HOE BYBELPROFESIEË HELP OM LEWENS TE RED

30. Waarom kan jy die vertroue hê dat Bybelprofesieë in verband met ons dag vervul gaan word? (2 Petrus 1:19-21; Daniël 9:24-27).

30 Talle Bybelprofesieë het reeds ’n merkwaardige vervulling gehad. Byvoorbeeld, honderde jare voordat Jesus op hierdie aarde verskyn het, het hierdie profesieë die presiese datums van sy predikingswerk—29 tot 33 G.J.—asook talle ander besonderhede in verband met sy lewe en dood voorspel. Al hierdie dinge is vervul. Jesus self het ook ’n paar besondere profesieë geuiter. Een van hulle het gehandel oor “die voleinding van die wêreld [“stelsel”, NW]”. In die eerste eeu het dit ’n opvallende vervulling op die Joodse stelsel gehad.

31, 32. Hoe het ’n profesie gehelp om lewens in 70 G.J. te red? (Lukas 21:20-24).

31 Volgens Mattheüs 24:3, 15-22 het Jesus gewys na die tyd wanneer Jerusalem omsingel sou word deur die “gruwel”, die leërs van keiserlike Rome. In sy profesie het hy gesê dat wanneer Christene dit sien hulle ‘na die berge moes begin vlug’. Ongeveer drie-en-dertig jaar later het daardie leërs inderdaad teen Jerusalem opgeruk. Hulle het talle aspekte van Jesus se profesie vervul. Hulle het byvoorbeeld skanse teen die stad opgewerp en het deurgedring om selfs in die “heiligdom” te staan, want hulle het gekom tot by ’n muur van Jerusalem se tempel (Mattheüs 24:15). Maar hoe kon die Christene die stad in hierdie oënskynlik onmoontlike situasie verlaat?

32 Skielik, en sonder opvallende rede, het die Romeinse leërs teruggetrek! In gehoorsaamheid aan Jesus se bevel kon die Christene nou vir hulle lewe vlug na die berge oorkant die Jordaanrivier. Later het die Romeinse leërs onder aanvoering van generaal Titus teruggekeer en in 70 G.J. is Jerusalem en sy tempel met die grond gelykgemaak. Volgens die geskiedskrywer Josephus het die beleëring, hongersnood en die swaard die lewe van 1 100 000 nasionalistiese Jode geëis, en 97 000 is in slawerny weggevoer. Maar deur aan Bybelprofesieë gehoorsaam te wees, het diegene wat werklik die lewe liefgehad het met hulle lewe daarvan afgekom!

33. Watter hedendaagse situasie kom ooreen met die laaste dae van die Joodse stelsel? (Lukas 21:25, 26).

33 Jesus het hierdie voorspelde gebeure van die eerste eeu gebruik as ’n voorafskaduwing van die gebeure wat die wêreld sou skud en wat sou plaasvind in die geslag wat van 1914 G.J. af sou lewe. Lewens moet vandag ook gered word! Want ons het nou gekom by “die voleinding van die wêreld”, die hele wêreld onder Satan se beheer. Hoe duidelik toon gebeure sedert 1914 tog dat dit die geval is! As deel van die finale vervulling van Jesus se profesie het daardie jaar ’n “begin van die smarte” gesien toe ‘nasie teen nasie opgestaan het’ in die bloedbad van die Eerste Wêreldoorlog. Soos voorspel is, het “groot aardbewings . . . hongersnode en pessiektes” daarop gevolg. ’n Tweede wêreldoorlog, baie verskrikliker as die eerste, het gevolg, en vandag word die aarde geteister deur die ‘vermeerdering van ongeregtigheid’ (Mattheüs 24:7-13; Lukas 21:10, 11). Die nasies is benoud. Nie een van hulle ken die uitweg nie.

34. Watter stappe doen God om lewens te red? (Daniël 2:44).

34 Maar God weet! Waar hy praat van sy oordeel oor die selfsugtige koninkryke, of nasies, van die aarde sê God dat hy ‘’n koninkryk sal verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie’ en wat ‘al daardie koninkryke sal verbrysel en daar ’n einde aan sal maak’ (Daniël 2:44). Dit sal dan die lewe onder vreedsame toestande gee aan almal wat Jesus se Koninkryksbewind aanvaar het. Om al sulke mense wat na die lewe soek te help, neem ware Christene vandag deel aan ’n lewensreddende werk ter vervulling van die verdere deel van Jesus se groot profesie: “En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”—Mattheüs 24:14.

35. (a) Wanneer en hoe sal die einde kom? (b) Hoe kan dit jou tot voordeel strek as jy op profesieë ag slaan? (Lukas 21:34-36).

35 Ons stel natuurlik baie daarin belang om te weet presies wanneer ‘die einde sal kom’. Dit is omdat ons lewe op die spel is! In Job 24:1 lees ons: “Die dag van afrekening is vir die Almagtige geen geheim nie, hoewel diegene wat hom ken glad nie weet wat die datum daarvan is nie” (The New English Bible). Maar dit moet op hande wees! Want Jesus het van mense wat die begin van die “smarte” in 1914 G.J. waargeneem het, gesê: “Hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie” (Mattheüs 24:34). “Al hierdie dinge” sluit die vernietiging van vandag se verdorwe gemeenskap in, soos Jesus dit kort tevore beskryf het: “Dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Mattheüs 24:21, 22). Indien die “groot verdrukking” nie verkort word nie, sal die mensdom op die aarde uitsterf! Maar gelukkig sal diegene wat God liefhet met hulle lewe daarvan afkom. “Die HERE bewaar almal wat Hom liefhet, maar Hy verdelg al die goddelose” (Psalm 145:20). As jy op Bybelprofesieë ag slaan, kan jy ook aan die vernietiging ontkom en bly lewe.

DIE MANIER OM TE BLY LEWE EN VIR EWIG TE LEWE

36. Hoe sal jy 1 Johannes 2:15-17 in jou daaglikse lewe toepas? (Markus 12:28-31).

36 Sal jy onder die oorlewendes wees? Dit sal daarvan afhang of jy afdraai van die breë weg wat na vernietiging lei. Dit sal daarvan afhang of jy gehoorsaam is aan die padtekens langs die pad wat tot die lewe lei. Indien jy werklik wil lewe, is dit nie te moeilik nie. Dit beteken dat jy moet leer om God en jou naaste lief te hê. Dit is soos 1 Johannes 5:3 sê: “Dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar.” Party van die dinge wat hy van ons vereis, word vroeër in hierdie brief van Johannes (1Jo 2:15-17) gemeld:

“Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.”

Om vir ewig te kan bly lewe, om God se beskerming en guns deur die “groot verdrukking” en tot in die herstelde Paradys te kan geniet, moet ons wegbly van die dinge wat God haat—die onsedelikheid, die hebsug, die oneerlikheid, die leuens, die diefstal en die konflikte van die wêreld. Deur dit te doen, kan ons ook die lewe nou die moeite werd maak.

37. (a) In watter opsig moet ons “nie van die wêreld” wees nie? (Johannes 15:17-19). (b) Hoe kan jy toon dat jy God se Koninkryk ondersteun? (Mattheüs 6:33).

37 Jesus self het van sy dissipels gesê: “Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie” (Johannes 17:6). Hoe sal ons dit in ons lewe toepas? Dit beteken dat ons ons afgeskeie moet hou van die doelstellings en programme van ’n wêreld wat in werklikheid afstuur op ’n vernietiging onder sy god en heerser, Satan die “Bose”. In ons daaglikse lewe moet ons nie aan wêreldse bedrywighede deelneem wat in stryd met God se bewind is nie. Soos Mattheüs 24:3 en 25:31 toon, is die teken van “die voleinding van die wêreld” ook die teken van Jesus se “teenwoordigheid” in die hemel met Koninkryksmag (NW). Sedert die jaar 1914 is die profesie dus ook vervul wat sê: “Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here [God] geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:15). Dit is nou die tyd om daardie Koninkryk te ondersteun! Ons toekomstige lewe hang van God se Koninkryk af. Kan ons dan met ’n skoon gewete die oorloë, die opstande, die politieke bewegings of die wêreld se skemas van ons tyd steun? Hulle sal gewis nie in hulle doel slaag nie, want hulle beweer dat hulle sal doen wat slegs God se Koninkryk kan doen. Die hele stelsel is tot ondergang gedoem. Waarom dus help om dit te probeer lap? Laat ons eerder die ware oplossing—God se Koninkryk—ons heelhartige ondersteuning gee!

38. Watter gesindheid moet ons vandag teenoor heersers hê? (Lukas 20:25).

38 Beteken dit dat ons anargiste moet word? Glad nie! Want “God is nie ’n God van wanorde nie, maar van vrede” (1 Korinthiërs 14:33). So lank as wat die bestaande regerings voortbestaan, verwag God dat ons hulle wette gehoorsaam en hulle heersers eerbiedig. Romeine 13:1 sê: “Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is.” Dit beteken dat ons aan “die keiser” (die regering) moet gee wat hom toekom deur belasting te betaal en al die wette te onderhou, mits hulle nie met God se wet bots nie.—Markus 12:17.

39. Hoe kan jy naasteliefde betoon? (1 Korinthiërs 13:4-7).

39 Benewens liefde vir God moet ons ook liefde aan ons naaste betoon. Daar is geen beter plek om te begin as in ons eie gesin nie! Maar hoe kan ons dit doen? Die Bybel se antwoord in Kolossense 3:18-21 is eenvoudig:

“Vroue, wees julle mans onderdanig soos dit betaamlik is in die Here. Manne, julle moet jul vroue liefhê en nie teen hulle verbitter word nie. Kinders, julle moet jul ouers in alles gehoorsaam wees, want dit is die Here welbehaaglik. Vaders, moenie julle kinders terg nie, sodat hulle nie moedeloos word nie.”

Wat ’n voortreflike grondslag om ’n verenigde gesin te bou! En nie alleen in die gesin nie, maar in ons verhouding met alle ander mense kan ons die eienskappe “innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid [en] lankmoedigheid” aankweek. En wat is die belangrikste? “Beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is.”—Kolossense 3:12, 14.

40. Watter soort mense is Jehovah se Getuies? (Johannes 13:34, 35).

40 Jy vra moontlik: Is daar ’n groep mense op aarde vandag wat werklik hierdie liefde vir God en naaste in hulle lewe betoon? Daar is so ’n groep. Indien daar ’n Koninkryksaal in jou omgewing is, hoef jy nie verder na hulle te soek nie. Hulle is ’n internasionale groep wat in die miljoene tel. Hulle is oor die algemeen net gewone mense, verskil nie veel van die meeste van hulle bure wat agtergrond betref nie en volg gewoonlik dieselfde beroepe as ander in hulle gemeenskap. Maar hulle eerste liefde is vir hulle God. Hulle sien uit na die tyd wanneer Sy wil op aarde sal geskied en hulle lei hulle lewe dienooreenkomstig. Gevolglik bestudeer hulle die Bybel met ywer, pas die beginsels daarvan in hulle daaglikse lewe toe en bring die boodskap daarvan aan hulle bure. Hulle is Jehovah se Christengetuies. Vergader gerus saam met hulle by die Koninkryksaal in jou omgewing. Jy sal vind dat daar geen ritusse, kollekteborde of stywe formaliteit is nie. Jy sal eerder ’n hartlike groep mense aantref wat selfs nou al baie bevrediging uit die lewe put en wat uitsien na die ewige lewe in volmaaktheid op ’n paradysaarde.

41. Hoe het die Getuies groot probleme opgelos? (Handelinge 10:34, 35).

41 Sal jy nie graag wil omgaan met mense wat hierdie hoop koester en daarvolgens lewe nie? Hulle geniet ’n wêreldwye eenheid wat voortspruit uit die feit dat hulle volgens Bybelbeginsels lewe. In hulle eie geledere het hulle probleme opgelos waarmee nasies al eeue lank sonder welslae worstel, soos oorlog, rassisme en nasionalisme. Omdat hulle volgens die Bybel lewe, is hulle wesenlik vry van probleme wat verband hou met geweld, misdaad, oneerlikheid en onsedelikheid onder hulle. Hulle word nie geteister deur maatskaplike euwels nie. Indien een van hulle ’n ernstige oortreding begaan, iets wat selde gebeur, word hy op liefdevolle wyse gehelp om te herstel wanneer hy hom bekeer. Hulle weet God “het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon”, en gevolglik laat hulle nie toe dat hulle beskouing van iemand beïnvloed word deur sy stand, sy opleiding of gebrek daaraan, sy nasionaliteit of sy velkleur nie.—Handelinge 17:26.

WAAROM DIE LEWE VEEL MEER BEHELS!

42. Watter toekoms wag daar op diegene wat die lewe liefhet? (Psalm 72:1-8).

42 Daar wag ’n wonderlike toekoms op diegene wat die lewe liefhet en wat nou stappe doen om hulle lewe te red. Watter soort toekoms is dit? Dit sal baie anders wees as die saai lewe wat so baie mense vandag lei. “Die eerste dinge”—die droefheid, dood en geween van hierdie huidige stelsel—“het [dan] verbygegaan.” Wat sal dus volg? God sê self: “Kyk, Ek maak alles nuut” (Openbaring 21:4, 5). In die nuwe stelsel van dinge sal die hemelse koning, Jesus Christus, op liefdevolle wyse as ’n “Ewige Vader” oor die hele mensdom heers, “tot vermeerdering van [sy] heerskappy en tot vrede sonder einde”. Reg en geregtigheid sal die grondslag van daardie Koninkryk wees (Jesaja 9:5, 6 NW). Hoe bevredigend en aangenaam sal die lewe tog onder daardie toestande wees! Die lewe sal ’n doel hê, want mense sal God se wil op aarde doen en naasteliefde betoon. Jesus verseker ons dat selfs diegene in die grafte “sy stem sal hoor” en sal uitkom om daardie paradysaarde te geniet.—Johannes 5:28, 29.

43. Hoe kan jy jou lewe red? (Sefanja 2:2, 3).

43 Hierdie “huidige goddelose stelsel” is op die punt om van die breë weg af in die verderf te stort. Maar jy hoef nie daarmee saam in die verderf te stort nie. Saam met God se volk—diegene wat die lewe liefhet—sal jou lewe moontlik gespaar word wanneer God kom om die bloedskuldige nasies van die aarde te vernietig:

“Kom, my volk, gaan in jou binnekamer en sluit jou deur agter jou toe, verberg jou vir ’n klein oomblik, totdat die grimmigheid verbygaan. Want kyk, die HERE sal uit sy plek uitgaan om die ongeregtigheid van die bewoners van die aarde oor hulle te besoek; en die aarde sal die bloed openbaar maak wat deur hom gedrink is, en die wat op hom gedood is, nie langer toedek nie.”—Jesaja 26:20, 21.

44. Watter wonderlike geleentheid het jy nou? (Deuteronomium 30:19, 20).

44 Deur nou te begin om die ware lewe te lei, dit wil sê volgens Bybelstandaarde, kan jy dus saam met die ywerige, vooruitstrewende gemeenskap van God se volk die “groot verdrukking” oorlewe en sal jy nooit op hierdie aarde hoef te sterf nie. Daar kan inderdaad met vertroue gesê word dat ’n “groot menigte” wat nou lewe nooit sal sterf nie!

45. (a) Wat is dit wat nou en in die toekoms sal slaag? (1 Timotheüs 6:11, 12). (b) Hoe kan jy toon dat jy besef dat die lewe veel meer behels? (1 Timotheüs 6:17-19).

45 In die wêreldwye gemeenskap van sy Getuies wat vandag lewe, het Jehovah iets voortgebring wat nou slaag! Dit kan ook in jou geval slaag! En dit sal op voortreflike wyse slaag op die paradysaarde waar “alles wat asem het” die groot Lewegewer, Jehovah God, sal loof (Psalm 150:6). Die lewe behels inderdaad veel meer!

VERWYSINGS

1. Intellectual Digest, Desember 1971, bl. 59.

2. Charles Darwin: His Life, hoofstuk 3, bl. 66.

3. The Yomiuri, Tokio, 17 Januarie 1969.

4. Charles Darwin, Origin of Species, laaste sin.

5. Isaac Asimov, The Wellsprings of Life, 1960, bl. 224, 225.

6. Lecomte du Noüy, Human Destiny, 1947, bl. 34.

7. Prof. John N. Moore, Michigan se Staatsuniversiteit, koerant van 27 Desember 1971, bl. 5.

8. Isaac Asimov, The Wellsprings of Life, 1960, bl. 85.

9. M. S. Keringthan, The Globe and Mail, Toronto, 26 November 1970, bl. 46.

10. H. G. Wells, The Outline of History, 3de uitgawe, 1921, bl. 956.

11. Ibid., bl. 957.

12. Philip G. Fothergill, Evolution and Christians, 1961, bl. 17.

13. Himmelfarb, Darwin and the Darwinian Revolution, bl. 398.

14. J. D. Bernal, Marx and Science, 1952, bl. 17.

[Voetnoot]

a Tensy anders aangedui, kom die Skrifaanhalings in hierdie publikasie uit die Afrikaanse Bybel, hersiene uitgawe van 1953. Indien dit uit die New World Translation of the Holy Scriptures kom, word die afkorting NW gebruik.

[Illustrasie op bladsy 6]

Vaardige wetenskaplikes het modelle van ons sonnestelsel gebou. Was ’n baie groter Intellek nie nodig om die onmeetlike heelal te maak nie?

[Illustrasie op bladsy 8]

’n Ruimteman het die aarde beskryf as “die pragtigste ding in die hele hemel”. Dit is omdat daar lewe op is, lewe wat deur God geskep is

[Illustrasies op bladsy 10]

Daar is baie soorte honde, en hulle kan met mekaar gekruis word. Maar hulle kan nie met ’n ander “soort”, byvoorbeeld ’n kat, gekruis word nie

[Illustrasie op bladsy 11]

The Seattle Times, November 21, 1971

The Washington Daily News, December 27, 1971

The Express, Easton, Pa., May 3, 1973

[Illustrasies op bladsy 12, 13]

Dit is onmoontlik om die ontsaglike kloof tussen die mens en diere te oorbrug. Hulle is “soorte” wat afsonderlik geskep is

[Illustrasie op bladsy 15]

Die mens is geskep om in ’n aangename paradys te woon. Maar sy voortgesette genieting daarvan het van gehoorsaamheid afgehang

[Illustrasie op bladsy 20]

Hierdie reliëf op die Boog van Titus (in Rome) teken die vernietiging van Jerusalem in 70 G.J. as geskiedenis aan

[Illustrasie op bladsy 21]

Omdat eerste-eeuse Christene op Bybelprofesieë ag geslaan het, het hulle hulle lewe gered. Jy kan vandag jou lewe op soortgelyke wyse red

[Illustrasie op bladsy 23]

‘Die Eerste Wêreldoorlog het die eeu van Totale Oorlog ingelui. . . . Nog nooit was soveel nasies daarby betrokke nie. Nog nooit was die slagting so omvangryk en sonder onderskeid nie.’—“World War I”, deur H. W. Baldwin.

[Illustrasie op bladsy 23]

Daar word geraam dat 400 000 000 mense aan ernstige ondervoeding ly

[Illustrasie op bladsy 29]

Die nuwe gemeenskap van godvrugtige mense sal die ware lewe geniet en God tot in alle ewigheid loof

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel