Verlossing tot in ’n regverdige nuwe wêreld
“Hulle [sal hulle] verlustig oor groot vrede.”—PSALM 37:11.
1, 2. (a) Hoe sal Jehovah se verlossing in ons tyd verskil van verlossings in die ou tyd? (b) In watter soort wêreld sal Jehovah sy volk inbring?
JEHOVAH is ’n God van verlossing. In die ou tyd het hy sy volk by sbaie geleenthede verlos. Daardie verlossings was tydelik, want Jehovah het nie in enige van daardie gevalle sy oordele permanent aan Satan se hele wêreld voltrek nie. In ons dag sal Jehovah egter binnekort die grootste van alle verlossings vir sy knegte teweegbring. Hierdie keer sal hy elke spoor van Satan se stelsel oor die hele wêreld vernietig, en hy sal sy knegte in ’n permanente, regverdige nuwe wêreld inbring.—2 Petrus 2:9; 3:10-13.
2 Jehovah belowe: “Nog ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie wees nie . . . Die ootmoediges daarenteen sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede” (Psalm 37:10, 11). Vir hoe lank? “Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon” (Psalm 37:29; Matteus 5:5). Maar voor dit gebeur, sal hierdie wêreld ’n tyd van groter benoudheid as ooit tevore ervaar.
Die “groot verdrukking”
3. Hoe het Jesus die “groot verdrukking” beskryf?
3 In 1914 het hierdie wêreld sy “laaste dae” ingegaan (2 Timoteus 3:1-5, 13). Ons lewe nou al 83 jaar in daardie tydperk en nader die einde daarvan wanneer, soos Jesus voorspel het, die volgende sal plaasvind: “Daar [sal] groot verdrukking wees soos daar sedert die begin van die wêreld tot nou toe nie plaasgevind het nie, nee, en ook nie weer sal plaasvind nie” (Matteus 24:21). Ja, selfs erger as die Tweede Wêreldoorlog toe sowat 50 miljoen lewens geneem is. Wat ’n wêreldskokkende tyd kom vinnig nader!
4. Waarom oordeel God “Babilon die Grote”?
4 Die “groot verdrukking” sal met verstommende skielikheid kom, “in een uur” (Openbaring 18:10). Dit sal begin wanneer God sy oordeel voltrek aan alle valse godsdiens, wat in God se Woord “Babilon die Grote” genoem word (Openbaring 17:1-6, 15). Eertydse Babilon se oorheersende kenmerk was valse godsdiens. Hedendaagse Babilon is soos haar eertydse eweknie en verteenwoordig die wêreldryk van valse godsdiens. Sy het gehoereer deur kompromisse met die politieke elemente aan te gaan. Sy het hulle oorloë ondersteun en leërs aan beide kante geseën, met die gevolg dat mense van dieselfde godsdiens mekaar doodgemaak het (Matteus 26:51, 52; 1 Johannes 4:20, 21). Sy het die verdorwe gebruike van haar aanhangers deur die vingers gesien en ware Christene vervolg.—Openbaring 18:5, 24.
5. Hoe begin die “groot verdrukking”?
5 Die “groot verdrukking” begin wanneer die politieke elemente “Babilon die Grote” skielik aanval. “Hulle sal die hoer haat en sal haar verwoes en naak maak, en hulle sal haar vlesige dele opeet en haar heeltemal met vuur verbrand” (Openbaring 17:16). Daarna sal haar ondersteuners van vroeër “huil en hulleself in droefheid oor haar slaan” (Openbaring 18:9-19). Maar Jehovah se knegte het dit lank reeds verwag, en hulle sal uitroep: “Loof Jah . . . , want hy het oordeel voltrek aan die groot hoer wat die aarde met haar hoerery verderf het, en hy het die bloed van sy slawe op haar hand gewreek.”—Openbaring 19:1, 2.
God se knegte word aangeval
6, 7. Waarom kan Jehovah se knegte positief wees wanneer hulle gedurende die “groot verdrukking” aangeval word?
6 Nadat die politieke elemente valse godsdiens vernietig het, val hulle Jehovah se knegte aan. Satan, wat in die profesie “Gog, in die land Magog” genoem word, sê: “Ek sal kom by rustige mense wat in veiligheid woon.” Omdat hy dink dat hulle ’n maklike prooi is, val hy hulle aan met “’n magtige leër . . . , soos ’n wolk om die land te oordek” (Esegiël 38:2, 10-16). Jehovah se volk weet dat hierdie aanval sal misluk omdat hulle op Jehovah vertrou.
7 Toe Farao en sy leërs gedink het dat hulle God se knegte by die Rooi See vasgekeer het, het Jehovah sy volk wonderbaarlik verlos en Egipte se leërs uitgewis (Exodus 14:26-28). Gedurende die “groot verdrukking”, wanneer die nasies dink dat hulle Jehovah se volk vasgekeer het, kom hy weer wonderbaarlik tot hulle redding: “In dié dag . . . sal my grimmigheid in my neus opkom. Ja, in my ywer spreek Ek, in die vuur van my grimmigheid” (Esegiël 38:18, 19). Die klimaks van die “groot verdrukking” sal dan op hande wees!
8. Watter bonatuurlike gebeure vind plaas voordat Jehovah die goddeloses teregstel, en watter uitwerking het dit?
8 Die een of ander tyd ná die “groot verdrukking” begin, maar voordat Jehovah sy oordele aan die res van hierdie wêreld voltrek, sal bonatuurlike gebeure plaasvind. Let op watter uitwerking dit sal hê. “Dan sal die teken van die Seun van die mens [Christus] in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde hulleself in weeklag slaan, en hulle sal die Seun van die mens met krag en groot heerlikheid op die wolke van die hemel sien kom” (Matteus 24:29, 30). “Daar sal tekens in son en maan en sterre wees, . . . terwyl die mense flou word van vrees en verwagting aangaande die dinge wat oor die bewoonde aarde kom.”—Lukas 21:25, 26.
“Julle verlossing kom nader”
9. Waarom kan Jehovah se knegte ‘hulle hoofde ophef’ wanneer bonatuurlike gebeure plaasvind?
9 Op daardie tydstip is die profesie in Lukas 21:28 van toepassing. Jesus het gesê: “Wanneer hierdie dinge begin gebeur, rig julle dan op en hef julle hoofde op, want julle verlossing kom nader.” God se vyande sal bewe van vrees, want hulle sal weet dat die bonatuurlike gebeure wat plaasvind van Jehovah af kom. Maar Jehovah se knegte sal bly wees omdat hulle sal weet dat hulle verlossing nader kom.
10. Hoe beskryf God se Woord die klimaks van die “groot verdrukking”?
10 Dan gee Jehovah Satan se stelsel die nekslag: “Ek sal met [Gog] in die gereg gaan deur pes en deur bloed; en oorstromende stortreën en haelstene, vuur en swawel op hom laat reën en op sy leërs . . . En hulle sal weet dat Ek [Jehovah, NW] is” (Esegiël 38:22, 23). Elke oorblyfsel van Satan se stelsel word uitgewis. Die hele mensegemeenskap van godnegerende mense word vernietig. Dit is die klimaks van die “groot verdrukking”— Armageddon.—Jeremia 25:31-33; 2 Tessalonisense 1:6-8; Openbaring 16:14, 16; 19:11-21.
11. Waarom word Jehovah se knegte deur die “groot verdrukking” heen verlos?
11 Die miljoene aanbidders van Jehovah oor die hele wêreld sal deur die “groot verdrukking” heen verlos word. Hulle maak die “groot skare” uit wat “uit alle nasies en stamme en volke en tale” gekom het. Waarom word hulle op so ’n ontsagwekkende manier verlos? Omdat hulle “dag en nag heilige diens” aan Jehovah verrig. Hulle oorleef dus hierdie wêreld se einde en word in ’n regverdige nuwe wêreld ingebring (Openbaring 7:9-15). Sodoende sien hulle die vervulling van Jehovah se belofte: “Wag op die HERE en hou sy weg, en Hy sal jou verhoog, om die aarde te besit; jy sal met welgevalle neersien op die uitroeiing van die goddelose mense.”—Psalm 37:34.
Die nuwe wêreld
12. Waarna kan Armageddon-oorlewendes uitsien?
12 Wat ’n opwindende tyd sal dit tog wees—die verwydering van goddeloosheid en die begin van die wonderlikste tydperk in die hele mensegeskiedenis! (Openbaring 20:1-4). Hoe dankbaar sal die Armageddon-oorlewendes tog teenoor Jehovah wees omdat hulle ’n pragtige, skoon beskawing ingegaan het wat God tot stand gebring het, ’n nuwe wêreld, op ’n aarde wat in ’n paradys omgeskep gaan word! (Lukas 23:43). En hulle sal nóóit hoef te sterf nie! (Johannes 11:26). Trouens, van daardie tyd af sal hulle die verstommende, wonderlike vooruitsig hê om so lank soos Jehovah te lewe!
13. Hoe hervat Jesus die genesingswerk wat hy op die aarde begin het?
13 Jesus, wat deur Jehovah as hemelse Koning aangestel is, sal toesig hou oor die wonderbaarlike seëninge wat die verlostes sal geniet. Toe hy op aarde was, het hy blinde oë en dowe ore geopen en “elke soort kwaal en elke soort gebrek genees” (Matteus 9:35; 15:30, 31). In die nuwe wêreld sal hy daardie groot genesingswerk hervat, maar op ’n wêreldwye skaal. As God se Verteenwoordiger sal hy die belofte vervul: “[God] sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan” (Openbaring 21:4). Nooit weer sal dokters of lykbesorgers nodig wees nie!—Jesaja 25:8; 33:24.
14. Watter verlossing sal Jehovah se knegte wat reeds gesterf het, ondervind?
14 Al die getroue knegte van God wat in die verlede gesterf het, sal ook verlos word. In die nuwe wêreld sal hulle uit die kloue van die graf gered word. Jehovah gee hierdie waarborg: “Daar [gaan] ’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges . . . wees” (Handelinge 24:15). “Regverdiges” sal waarskynlik vroeër opgewek word en help om die Paradys uit te brei. Hoe opwindend sal dit tog vir Armageddon-oorlewendes wees om die ondervindinge te hoor van daardie getroue afgestorwenes van lank gelede, wat nou tot die lewe teruggekeer het!—Johannes 5:28, 29.
15. Beskryf sommige van die toestande wat in die nuwe wêreld geniet sal word.
15 Almal wat lewe, sal dan ondervind wat die psalmis van Jehovah gesê het: “U maak u hand oop en versadig alles wat lewe met welbehae” (Psalm 145:16). Geen honger meer nie: Die aarde se ekologiese balans sal herstel word en dit sal alles in oorvloed oplewer (Psalm 72:16). Geen haweloses meer nie: “Hulle sal huise bou en bewoon”, en elkeen sal sit “onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, sonder dat iemand hulle verskrik” (Jesaja 65:21, 22; Miga 4:4). Geen vrees meer nie: Daar sal geen oorlog, geweld of misdaad wees nie (Psalm 46:9, 10; Spreuke 2:22). “Die hele aarde rus, is stil; hulle breek uit in jubel.”—Jesaja 14:7.
16. Waarom sal regverdigheid aan die orde van die dag wees in die nuwe wêreld?
16 In die nuwe wêreld sal Satan se propagandamedia uit die weg geruim wees. In plaas daarvan sal ‘die inwoners van die wêreld geregtigheid leer’ (Jesaja 26:9; 54:13). Met heilsame geestelike onderrigting jaar ná jaar sal “die aarde . . . vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek” (Jesaja 11:9). Alle mense sal opbouende dinge bedink en doen (Filippense 4:8). Stel jou ’n wêreldwye gemeenskap van mense voor, vry van misdaad, egotisme, jaloesie—’n internasionale broederskap waar die vrugte van God se gees deur almal voortgebring word. Trouens, hierdie eienskappe word nou reeds deur die groot skare aangekweek.—Galasiërs 5:22, 23.
Waarom so lank?
17. Waarom het Jehovah so lank gewag om goddeloosheid te beëindig?
17 Maar waarom het Jehovah so lank gewag om goddeloosheid uit die weg te ruim en sy volk tot in die nuwe wêreld te verlos? Dink aan wat bereik moes word. Allereers is daar die regverdiging van Jehovah se soewereiniteit, sy reg om te heers. Deur toe te laat dat genoeg tyd verbygaan, het hy bo alle twyfel getoon dat menseheerskappy buite sy soewereiniteit ’n volslae mislukking is (Jeremia 10:23). Jehovah is dus nou volkome geregverdig om menseheerskappy met die heerskappy van sy hemelse Koninkryk onder Christus te vervang.—Daniël 2:44; Matteus 6:9, 10.
18. Wanneer sou Abraham se nakomelinge die land Kanaän beërf?
18 Wat gedurende al hierdie eeue plaasgevind het, is soortgelyk aan wat in Abraham se tyd gebeur het. Jehovah het vir Abraham gesê dat sy nakomelinge die land Kanaän sou beërf—maar hulle moes vierhonderd jaar wag, “omdat die dwaling van die Amoriete nog nie tot voltooiing gekom het nie” (Genesis 12:1-5; 15:13-16, vgl. NW). Hier verteenwoordig die woord “Amoriete” (’n vername stam) waarskynlik al die volke van Kanaän. Ongeveer vier eeue sou dus verbygaan voordat Jehovah sy volk in staat sou stel om Kanaän in besit te neem. Intussen het Jehovah die nasies in Kanaän toegelaat om hulle gemeenskappe te ontwikkel. Met watter gevolg?
19, 20. Watter soort gemeenskappe het die Kanaäniete voortgebring?
19 Die Bible Handbook, deur Henry H. Halley, sê dat argeoloë by Megiddo die ruïnes van ’n tempel van Astarot, die godin-vrou van Baäl, gevind het. Hy skryf: “Net ’n paar treë van hierdie tempel was ’n begraafplaas waar baie kruike gevind is met die oorskot van babas wat in hierdie tempel geoffer is . . . Profete van Baäl en Astarot was amptelike moordenaars van klein kindertjies.” “’n Ander afskuwelike gebruik was [wat] hulle ‘fondamentoffers’ genoem het. Wanneer ’n huis gebou sou word, is ’n kind geoffer en is sy liggaam in die muur ingebou.”
20 Halley sê: “Die aanbidding van Baäl, Astarot en ander Kanaänitiese gode het uit die buitensporigste orgieë bestaan; hulle tempels was sentrums van ontug. . . . Die Kanaäniete het aanbid deur losbandigheid, . . . en dan deur hulle eersgebore kinders te vermoor as ’n offerande aan daardie selfde gode. Dit wil voorkom asof die land Kanaän grotendeels ’n soort Sodom en Gomorra op ’n nasionale skaal geword het. . . . Het so ’n verfoeilik onsedelike en wrede beskawing enige verdere bestaansreg gehad? . . . Argeoloë wat in die puin van Kanaänitiese stede uitgrawings doen, is verbaas dat God hulle nie vroeër vernietig het nie.”—Vergelyk 1 Konings 21:25, 26.
21. Watter ooreenkoms is daar tussen die situasie van die Kanaäniete en dié van ons dag?
21 Die goddeloosheid van die Amoriete het “tot voltooiing gekom”. Jehovah was dus nou volkome geregverdig om hulle uit te wis. Dieselfde is vandag waar. Hierdie wêreld is vol geweld, onsedelikheid en minagting vir God se wette. En aangesien ons tereg geskok is deur die afskuwelike kinderofferandes in eertydse Kanaän, wat dan van die opoffering van tienmiljoene jongmense in die oorloë van hierdie wêreld, wat baie erger as enigiets in Kanaän is? Jehovah is beslis nou volkome geregverdig om ’n einde te maak aan hierdie goddelose stelsel.
Iets anders word bereik
22. Wat word in ons tyd deur Jehovah se geduld bereik?
22 Jehovah se geduld in hierdie laaste dae bereik iets anders. Hy laat tyd toe sodat die groot skare, waarvan daar reeds meer as vyfmiljoen is, ingesamel en opgevoed kan word. Onder Jehovah se leiding het hulle ’n progressiewe organisasie geword. Mans, vrouens en jongmense word opgelei om ander Bybelwaarhede te leer. Deur hulle vergaderinge en Bybelpublikasies leer hulle God se liefdevolle weë (Johannes 13:34, 35; Kolossense 3:14; Hebreërs 10:24, 25). Daarbenewens ontwikkel hulle vaardighede in konstruksie, elektronika, drukwerk en op ander gebiede om die verkondiging van die “goeie nuus” te ondersteun (Matteus 24:14). Hierdie onderrigtings- en bouvaardighede sal waarskynlik grootliks in die nuwe wêreld gebruik word.
23. Waarom is dit ’n voorreg om in hierdie tyd te lewe?
23 Ja, Jehovah berei vandag sy knegte voor om deur die “groot verdrukking” tot in ’n regverdige nuwe wêreld te gaan. Dan sal ons nie meer teen Satan en sy goddelose wêreld hoef te stry nie, en daar sal geen siekte, smart en dood wees nie. God se volk sal met groot geesdrif en blydskap begin met die vreugdevolle werk om ’n paradys te bou, waar ons ons in elke dag sal kan “verlustig”. Hoe bevoorreg is ons tog om tydens hierdie klimaks van die eeue te lewe, om Jehovah te ken en te dien en om te weet dat ons binnekort ons ‘hoofde sal ophef, want ons verlossing kom nader’!—Lukas 21:28; Psalm 146:5.
Hersieningsvrae
◻ Wat is die “groot verdrukking”, en hoe begin dit?
◻ Waarom sal Gog se aanval op Jehovah se knegte misluk?
◻ Hoe eindig die “groot verdrukking”?
◻ Watter wonderlike seëninge sal in die nuwe wêreld geniet word?
◻ Waarom het Jehovah so lank gewag voordat hy ’n einde aan hierdie stelsel bring?
[Prent op bladsy 16]
Die hele aarde sal in ’n paradys omgeskep word