Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • kl hfst. 11 bl. 98-107
  • Dit is nóú die laaste dae!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Dit is nóú die laaste dae!
  • Kennis wat tot die ewige lewe lei
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • KENMERKE VAN DIE LAASTE DAE
  • REAGEER OP DIE BEWYSE
  • Lewe ons in “die laaste dae”?
    Wat leer die Bybel werklik?
  • Lewe ons werklik in “die laaste dae”?
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Sal jy ag slaan op God se waarskuwing?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Is die einde van die wêreld naby?
    Wat kan die Bybel ons leer?
Sien nog
Kennis wat tot die ewige lewe lei
kl hfst. 11 bl. 98-107

Hoofstuk 11

Dit is nóú die laaste dae!

1. Waarom voel baie ietwat verlore wanneer hulle die wêreldtoneel beskou, maar waar kan ’n betroubare verklaring van wêreldgebeure gevind word?

HOE het ons veelbewoë wêreld hierdie stadium bereik? Waarop stuur ons af? Het jy al sulke vrae gevra? Baie voel ietwat verlore wanneer hulle na die wêreldtoneel kyk. Werklikhede soos oorlog, siekte en misdaad laat mense wonder wat die toekoms inhou. Regeringsleiers bied min hoop. Maar God gee in sy Woord ’n betroubare verklaring van hierdie angswekkende dae. Die Bybel help ons op betroubare wyse om te sien waar ons in die tydstroom is. Dit toon vir ons dat ons in “die laaste dae” van die huidige stelsel van dinge is.—2 Timoteus 3:1.

2. Watter vraag het Jesus se dissipels hom gevra, en hoe het hy geantwoord?

2 Kyk byvoorbeeld na Jesus se antwoord op ’n paar vrae wat sy dissipels gestel het. Drie dae voor Jesus se dood het hulle hom gevra: “Wat sal die teken van u teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge wees?”a (Matteus 24:3). In antwoord hierop het Jesus spesifieke wêreldge–beure en -situasies gemeld wat duidelik sou toon dat die laaste dae van hierdie goddelose stelsel aangebreek het.

3. Waarom het toestande op die aarde vererger toe Jesus begin heers het?

3 Soos in die vorige hoofstuk getoon is, lei Bybelchronologie ons tot die gevolgtrekking dat God se Koninkryk reeds begin heers het. Maar hoe kan dit wees? Dinge het vererger, nie verbeter nie. In werklikheid is dit ’n sterk aanduiding dat God se Koninkryk wel begin heers het. Hoe so? Wel, Psalm 110:2 sê vir ons dat Jesus ’n ruk lank ‘te midde van sy vyande’ sou heers. Trouens, sy eerste daad as hemelse Koning was om Satan en sy demoonengele na die omgewing van die aarde neer te werp (Openbaring 12:9). Wat was die gevolg? Dit was net soos Openbaring 12:12 voorspel het: “Wee die aarde en die see, want die Duiwel het na julle toe neergedaal en het groot toorn, omdat hy weet dat hy ’n kort tydperk het.” Ons lewe nou in daardie “kort tydperk”.

4. Wat is party kenmerke van die laaste dae, en waarop dui dit? (Sien venster.)

4 Dit is derhalwe nie verbasend nie dat Jesus se antwoord onrusbarend was toe hy gevra is wat die teken van sy teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge sou wees. Verskillende aspekte van die teken verskyn in die venster op bladsy 102. Soos jy kan sien, voorsien die Christenapostels Paulus, Petrus en Johannes ons van verdere besonderhede oor die laaste dae. Die meeste kenmerke van die teken en van die laaste dae behels weliswaar ontstellende situasies. Maar die vervulling van hierdie profesieë behoort ons daarvan te oortuig dat hierdie goddelose stelsel na aan sy einde is. Kom ons beskou party van die vernaamste kenmerke van die laaste dae van naderby.

KENMERKE VAN DIE LAASTE DAE

5, 6. Hoe word profesieë oor oorlog en hongersnood vervul?

5 “Nasie sal teen nasie opstaan en koninkryk teen koninkryk” (Matteus 24:7; Openbaring 6:4). Die skrywer Ernest Hemingway het die Eerste Wêreldoorlog beskryf as “die mees kolos–sale, bloeddorstige, wanbestuurde slagting wat ooit op die aarde plaasgevind het”. Volgens die boek The World in the Crucible—1914-1919 was dit “oorlog van ’n nuwe omvang, die eerste totale oorlog in die ondervinding van die mensdom. Die duur, intensiteit en skaal daarvan het enigiets wat voorheen bekend was of algemeen verwag is, oorskry.” Toe het die Tweede Wêreldoorlog gekom, wat baie vernietigender as die Eerste Wêreldoorlog was. “Die twintigste eeu”, sê professor van geskiedenis Hugh Thomas, “is oorheers deur die masjiengeweer, die tenk, die B-52, die kernbom en, laastens, die missiel. Dit is gekenmerk deur bloeddorstiger en vernietigender oorloë as dié van enige ander tydperk.” Nadat die Koue Oorlog geëindig het, is daar weliswaar baie oor ontwapening gesê. Nietemin raam een verslag dat daar ná voorgenome verminderings nog sowat 10 000 tot 20 000 kernplofkoppe oor sal wees—meer as 900 keer die vuurkrag wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog gebruik is.

6 ‘Daar sal voedseltekorte wees’ (Matteus 24:7; Openbaring 6:5, 6, 8). Sedert 1914 was daar ten minste 20 groot hongersnode. Geteisterde gebiede sluit Bangladesj, Burundi, China, Etiopië, Griekeland, Indië, Kambodja, Nigerië, Rusland, Rwanda, Soedan en Somalië in. Maar hongersnood word nie altyd deur ’n gebrek aan voedsel veroorsaak nie. “Die wêreld se voedselproduksie het oor die afgelope dekades vinniger toegeneem as sy bevolking”, was die slotsom van ’n groep landbouwetenskaplikes en -ekonome. “Maar omdat minstens 800 miljoen mense voortdurend in diep armoede verkeer, . . . kan hulle nie genoeg van die oorvloed koop om hulle uit chroniese ondervoeding te verlos nie.” Politieke inmenging is by ander gevalle betrokke. Dr. Abdelgalil Elmekki van die Universiteit van Toronto meld twee voorbeelde waarin duisende van honger gesterf het terwyl hulle lande ontsaglike hoeveelhede voedsel uitgevoer het. Vir die regerings was dit blykbaar baie belangriker om buitelandse valuta te bekom ten einde hulle oorloë te finansier as om hulle burgers te voed. Dr. Elmekki se gevolgtrekking? Hongersnood is dikwels “’n kwessie van verspreiding en regeringsbeleid”.

7. Wat is die feite omtrent pessiektes vandag?

7 “Peste” (Lukas 21:11; Openbaring 6:8). Die Spaanse griep van 1918-19 het ten minste 21 miljoen lewens geëis. “Nooit in die geskiedenis is die wêreld deur ’n doder geteister wat so baie mense so gou gedood het nie”, skryf A. A. Hoehling in The Great Epidemic. Vandag woed pessiektes voort. Elke jaar sterf vyfmiljoen mense aan kanker, eis diarree die lewens van meer as driemiljoen babas en kinders en word driemiljoen mense deur tering gedood. Asemhalingsinfeksies, hoofsaaklik longontsteking, eis jaarliks die lewens van 3,5 miljoen kinders onder vyf. En ’n ongelooflike 2,5 miljard—die helfte van die wêreldbevolking—ly aan siektes wat veroorsaak word deur te min of besmette water en swak sanitasie. Vigs is nog iets wat die mens daaraan herinner dat hy, ondanks sy merkwaardige mediese vooruitgang, nie daartoe in staat is om pessiektes uit te wis nie.

8. Hoe toon mense dat hulle “liefhebbers van geld” is?

8 ‘Mense sal liefhebbers van geld wees’ (2 Timoteus 3:2). In lande dwarsoor die wêreld lyk dit of mense ’n onversadigbare begeerte na groter rykdom het. “Sukses” word dikwels gemeet aan die grootte van jou inkomste, “vooruitgang” aan hoeveel jy besit. “Materialisme sal een van die dryfkragte in die Amerikaanse gemeenskap bly . . . , asook ’n al hoe belangriker krag in ander groot markte”, het die onderhoofbestuurder van ’n reklameburo gesê. Gebeur dit waar jy woon?

9. Wat kan oor die voorspelde ongehoorsaamheid aan ouers gesê word?

9 “Ongehoorsaam aan ouers” (2 Timoteus 3:2). Hedendaagse ouers, onderwysers en ander het eerstehandse bewys dat baie kinders oneerbiedig en ongehoorsaam is. By party van hierdie jongmense is dit óf in reaksie op óf in navolging van hulle ouers se wangedrag. Al hoe meer kinders verloor geloof in—en rebelleer teen—die skool, die wet, godsdiens en hulle ouers. “Dit lyk of dit onder hulle ’n tendens is om bitter min respek vir enigiets te hê”, sê ’n ervare onderwyser. Maar gelukkig is talle godvresende kinders voorbeeldig in hulle gedrag.

10, 11. Watter bewys is daar dat mense wreedaardig en sonder natuurlike geneentheid is?

10 “Wreedaardig” (2 Timoteus 3:3). Die Griekse woord wat met “wreedaardig” vertaal word, beteken ‘ongetem, wild, sonder menslike simpatie en gevoel’. Hoe goed beskryf dit tog baie van diegene wat vandag geweld pleeg! “Die lewe is so traumaties, so bebloed met gruwels dat dit ’n volstruismaag verg om die daaglikse nuus te lees”, het ’n hoofartikel gesê. ’n Sekuriteitswag by ’n woonstelblok het gesê dat dit lyk of baie jongmense blind is vir die gevolge van hulle dade. Hy het gesê: “Daar is ’n gevoel van: ‘Ek weet nie wat môre inhou nie. Ek sal vandag kry wat ek wil hê.’”

11 “Sonder natuurlike geneentheid” (2 Timoteus 3:3). Hierdie frase is ’n vertaling van ’n Griekse woord wat “harteloos, onmenslik” beteken en op ’n “gebrek aan natuurlike gesinsgeneentheid” dui (The New International Dictionary of New Testament Theology). Ja, geneentheid ontbreek dikwels juis in die milieu waar dit behoort te floreer—die huis. Berigte oor die mishandeling van huweliksmaats, kinders en selfs van bejaarde ouers het onrusbarend algemeen geword. Een navorsingspan het gesê: “Mensegeweld—of dit nou ’n klap of ’n stamp, ’n messtekery of ’n skietery is—kom meer dikwels in die gesinskring voor as in enige ander deel van ons gemeenskap.”

12. Waarom kan daar gesê word dat mense net ’n vorm van godvrugtige toegewydheid het?

12 Mense “wat ’n vorm van godvrugtige toegewydheid het maar die krag daarvan verloën” (2 Timoteus 3:5). Die Bybel het die krag om lewens ten goede te verander (Efesiërs 4:22-24). Maar baie gebruik vandag hulle godsdiens as ’n dekmantel waaronder hulle onregverdige dade verrig wat God mishaag. Leuens, diefstal en onsedelikheid word dikwels deur godsdiensleiers vergoelik. Baie godsdienste verkondig liefde maar steun oorlog. “In die naam van die Opperskepper”, sê ’n hoofartikel in die tydskrif India Today, “het mense die verskriklikste gruweldade teen hulle medemens gepleeg.” Trouens, die twee bloedigste botsings in onlangse tye—die Eerste en Tweede Wêreldoorlog—het in die hartjie van die Christendom uitgebreek.

13. Watter bewys is daar dat die aarde verderf word?

13 ‘Verderwing van die aarde’ (Openbaring 11:18). Meer as 1 600 wetenskaplikes, met inbegrip van 104 Nobelpryswenners, van oor die hele wêreld het ’n waarskuwing onderskryf wat deur die Unie van Besorgde Wetenskaplikes (UCS) uitgereik is en wat gesê het: “Die mens en die natuur stuur op ’n botsing af. . . . Daar is hoogstens ’n paar dekades oor voor die kans om die bedreigings af te weer verby sal wees.” Die verslag sê dat die mens se lewensgevaarlike praktyke “die wêreld so kan verander dat dit nie in staat sal wees om lewe te onderhou op die manier wat ons ken nie”. Osoonverdunning, waterbesoedeling, ontbossing, die verlies van die grond se produksievermoë en die uitsterwing van talle dier- en plantsoorte is gemeld as dringende probleme waaraan aandag geskenk moet word. “Ons inmenging met die onderling afhanklike lewensnetwerk”, het die UCS gesê, “kan wydverspreide gevolge veroorsaak, onder meer die ineenstorting van biologiese stelsels waarvan ons die dinamika nie volkome verstaan nie.”

14. Hoe kan jy bewys dat Matteus 24:14 in ons dag vervul word?

14 “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word” (Matteus 24:14). Jesus het voorspel dat die goeie nuus van die Koninkryk aardwyd verkondig sou word, tot ’n getuienis vir al die nasies. Met God se hulp en seën bestee miljoene Getuies van Jehovah miljarde ure aan hierdie predikings- en dissipelmaakwerk (Matteus 28:19, 20). Ja, die Getuies besef dat hulle bloedskuldig sal wees as hulle nie die goeie nuus verkondig nie (Esegiël 3:18, 19). Maar hulle is verheug dat duisende elke jaar met waar–dering aan die Koninkryksboodskap gehoor gee en hulle standpunt as ware Christene, dit wil sê as Getuies van Jehovah, inneem. Dit is ’n onskatbare voorreg om Jehovah te dien en sodoende die kennis van God te versprei. En nadat hierdie goeie nuus in die hele bewoonde aarde verkondig is, sal die einde van hierdie goddelose stelsel kom.

REAGEER OP DIE BEWYSE

15. Hoe gaan die huidige goddelose stelsel eindig?

15 Hoe gaan hierdie stelsel eindig? Die Bybel voorspel ’n “groot verdrukking” wat sal begin wanneer die politieke element van hierdie wêreld “Babilon die Grote”, die wêreldryk van valse godsdiens, aanval (Matteus 24:21; Openbaring 17:5, 16). Gedurende hierdie tydperk, het Jesus gesê, “sal die son verduister word, en die maan sal sy lig nie gee nie, en die sterre sal uit die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word” (Matteus 24:29). Dit kan op letterlike verskynsels in die hemele dui. Hoe dit ook al sy, die blink ligte van die godsdienswêreld sal aan die kaak gestel en vernietig word. Dan sal Satan, wat “Gog van die land Magog” (NW) genoem word, verdorwe mense gebruik om ’n hewige aanval op Jehovah se volk te maak. Maar Satan sal nie welslae behaal nie, want God sal hulle te hulp kom (Esegiël 38:1, 2, 14-23). “Die groot verdrukking” sal sy klimaks in Armageddon, “die oorlog van die groot dag van God die Almagtige”, bereik. Dit sal elke spoor van Satan se aardse organisasie uitwis en die weg baan vir die oorlewende mensdom om eindelose seëninge te ontvang.—Openbaring 7:9, 14; 11:15; 16:14, 16; 21:3, 4.

16. Hoe weet ons dat die voorspelde kenmerke van die laaste dae op ons tyd van toepassing is?

16 Dit lyk miskien of party van die individuele kenmerke van die profesieë wat die laaste dae beskryf op ander tye in die geskiedenis van toepassing is. Maar wanneer die voorspelde bewyse saam beskou word, wys dit net op ons dag. Ter toeligting: Die lyne wat iemand se vingerafdruk uitmaak, vorm ’n patroon wat aan niemand anders kan behoort nie. Die laaste dae het eweneens hulle eie patroon van kenmerke, of gebeure. Dit vorm ’n “vingerafdruk” wat nie tot enige ander tydperk kan behoort nie. Wanneer die bewyse oorweeg word saam met Bybelse aanduidings dat God se hemelse Koninkryk nou reeds heers, voorsien dit ’n vaste grondslag vir die gevolgtrekking dat dit inderdaad nóú die laaste dae is. Daar is boonop duidelike skriftuurlike bewys dat die huidige goddelose stelsel binnekort vernietig gaan word.

17. Wat behoort die wete dat dit nóú die laaste dae is ons aan te spoor om te doen?

17 Hoe gaan jy reageer op die bewyse dat dit nóú die laaste dae is? Dink hieroor na: As ’n uiters vernietigende storm dreig, tref ons sonder versuim voorsorgmaatreëls. Wel, wat die Bybel vir hierdie huidige stelsel voorspel, behoort ons tot aksie aan te spoor (Matteus 16:1-3). Ons kan duidelik sien dat ons in die laaste dae van hierdie wêreldstelsel lewe. Dit behoort ons te beweeg om al die nodige aanpassings te maak om God se guns te verkry (2 Petrus 3:3, 10-12). Jesus verwys na homself as die instrument vir redding en doen hierdie dringende beroep: “Let op julleself dat julle harte nooit beswaar word met oormatige etery en strawwe drinkery en sorge van die lewe, en dié dag skielik, in ’n oomblik, oor julle kom soos ’n strik nie. Want dit sal oor almal kom wat op die oppervlak van die hele aarde woon. Bly dus wakker en doen te alle tye smeekbedes dat julle daarin sal slaag om te ontkom aan al hierdie dinge wat bestem is om te gebeur en om voor die Seun van die mens te staan.”—Lukas 21:34-36.

[Voetnote]

a Party Bybels gebruik die woord “wêreld” in plaas van “stelsel van dinge”. Volgens W. E. Vine se Expository Dictionary of New Testament Words slaan die Griekse woord ai·onʹ op “’n onbepaalde tydperk, of tyd wat gesien word in verhouding tot wat in die tydperk plaasvind”. Parkhurst se Greek and English Lexicon to the New Testament (bladsy 17) sluit die uitdrukking “hierdie stelsel van dinge” in waar dit die gebruik van ai·oʹnes (meervoud) in Hebreërs 1:2 bespreek. Die vertaling “stelsel van dinge” is dus in ooreenstemming met die oorspronklike Griekse teks.

TOETS JOU KENNIS

Wat het die Bybel voorspel oor wêreldverwikkelinge aan die begin van Christus se heerskappy?

Wat is party kenmerke van die laaste dae?

Wat oortuig jou daarvan dat dit nóú die laaste dae is?

[Venster op bladsy 102]

ENKELE KENMERKE VAN DIE LAASTE DAE

• Ongeëwenaarde oorlogvoering.—Matteus 24:7; Openbaring 6:4.

• Hongersnood.—Matteus 24:7; Openbaring 6:5, 6, 8.

• Peste.—Lukas 21:11; Openbaring 6:8.

• Toenemende wetteloosheid.—Matteus 24:12.

• Verderwing van die aarde.—Openbaring 11:18.

• Aardbewings.—Matteus 24:7.

• Kritieke tye wat moeilik is om deur te kom.—2 Timoteus 3:1.

• ’n Oordrewe liefde vir geld.—2 Timoteus 3:2.

• Ongehoorsaamheid aan ouers.—2 Timoteus 3:2.

• ’n Gebrek aan natuurlike geneentheid.—2 Timoteus 3:3.

• Liefde vir genot eerder as vir God.—2 Timoteus 3:4.

• ’n Gebrek aan selfbeheersing.—2 Timoteus 3:3.

• Sonder liefde vir goedheid.—2 Timoteus 3:3.

• Verontagsaming van die naderende gevaar.—Matteus 24:39.

• Spotters verwerp bewyse van die laaste dae.—2 Petrus 3:3, 4.

• Aardwye verkondiging van God se Koninkryk.—Matteus 24:14.

[Volbladillustrasie op bladsy 101]

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel