Vrae van lesers
“Die Wagtoring” van 1 November 1995 het die aandag gevestig op wat Jesus oor “hierdie geslag” gesê het, soos ons in Matteus 24:34 lees. Beteken dit dat daar twyfel bestaan of God se Koninkryk in 1914 in die hemel opgerig is?
Daardie bespreking in Die Wagtoring het hoegenaamd geen verandering in ons grondleer aangaande 1914 bevat nie. Jesus het die teken gegee wat sy teenwoordigheid in Koninkryksmag sou aandui. Ons het oorvloedige bewys dat hierdie teken sedert 1914 vervul word. Die feite omtrent oorloë, hongersnode, pessiektes, aardbewings en ander getuienis bewys dat Jesus sedert 1914 as Koning van God se Koninkryk optree. Dit toon dat ons sedertdien in die voleinding van die stelsel van dinge lewe.
Wat het Die Wagtoring dan opgeklaar? Wel, die sleutelgedagte was die sin waarin Jesus die woord “geslag” in Matteus 24:34 gebruik het. Daardie vers lui: “Voorwaar, ek sê vir julle dat hierdie geslag hoegenaamd nie sal verbygaan voordat al hierdie dinge plaasgevind het nie.” Wat het Jesus met die woord “geslag” bedoel, in sy dag sowel as in ons s’n?
Baie tekste bevestig dat Jesus nie “geslag” met verwysing na een of ander klein of spesifieke groep, soos slegs die Joodse leiers of slegs sy lojale dissipels, gebruik het nie. Hy het eerder “geslag” gebruik in sy veroordeling van die menigte Jode wat hom verwerp het. Maar gelukkig kon individue doen wat die apostel Petrus hulle op Pinksterdag aangespoor het om te doen, naamlik om berou te toon en ‘hulle uit hierdie krom geslag te laat red’.—Handelinge 2:40.
Dit is duidelik dat Petrus nie in daardie stelling na ’n presiese ouderdom of tydsduur verwys nie, en hy het ook nie die “geslag” met enige spesifieke datum verbind nie. Hy het nie gesê dat mense hulle moes laat red uit die geslag wat in dieselfde jaar as Jesus gebore is of wat in 29 G.J. gebore is nie. Petrus het van die ongelowige Jode van daardie tydperk gepraat—party was moontlik taamlik jonk en ander ouer—wat aan Jesus se onderrigting blootgestel was, wat sy wonderwerke gesien of daarvan gehoor het, en hom nie as die Messias aangeneem het nie.
Dit is klaarblyklik hoe Petrus Jesus se gebruik van “geslag” verstaan het toe hy en drie ander apostels saam met Jesus op die Olyfberg was. Volgens Jesus se profetiese stelling sou Jode van daardie tydperk—in werklikheid Jesus se tydgenote—oorloë, aardbewings, hongersnode en ander bewyse dat die einde van die Joodse stelsel op hande was, ervaar of daarvan hoor. Trouens, daardie geslag het nie verbygegaan voordat die einde in 70 G.J. gekom het nie.—Matteus 24:3-14, 34.
Ons moet egter erken dat ons nie altyd Jesus se woorde in daardie sin verstaan het nie. Onvolmaakte mense is geneig om spesifiek te wil wees oor wanneer die einde gaan kom. Onthou dat selfs die apostels meer besonderhede wou hê en gevra het: “Here, herstel u in hierdie tyd die koninkryk vir Israel?”—Handelinge 1:6.
God se hedendaagse knegte het met soortgelyke opregte bedoelings ’n duidelike tydselement wat van 1914 af bereken word, probeer aflei van wat Jesus oor “geslag” gesê het. Daar is byvoorbeeld geredeneer dat ’n geslag 70 of 80 jaar lank kan wees en uit mense bestaan wat oud genoeg is om die betekenis van die Eerste Wêreldoorlog en ander gebeure te verstaan, en daarom kan ons min of meer bereken hoe naby die einde is.
Was sulke denke, hoe welmenend ook al, in harmonie met die raad wat Jesus vervolgens gegee het? Jesus het gesê: “Aangaande daardie dag en uur weet niemand nie, nie die engele van die hemele nie en ook nie die Seun nie, maar net die Vader. . . . Hou dus aan waak, want julle weet nie op watter dag julle Here kom nie.—Matteus 24:36-42.
Die onlangse inligting in Die Wagtoring oor “hierdie geslag” het derhalwe nie ons begrip verander van wat in 1914 gebeur het nie. Maar dit het ons ’n duideliker begrip van Jesus se gebruik van die woord “geslag” gegee en het ons gehelp om te sien dat sy gebruik van die woord geen grondslag was om te bereken—deur van 1914 af te tel—hoe na aan die einde ons is nie.