Wees dankbaar—Jehovah se Messiaanse Koninkryk regeer
“Ons dank u, Jehovah God, die Almagtige, . . . dat u u grote krag aangeneem en as koning begin regeer het.”—OPENBARING 11:17, “NW”.
1. Wat het die president van die Wagtoringgenootskap na sy toer deur Europa in 1911 gesê?
VROEG in 1911 het die president van die Wagtoringgenootskap, C. T. Russell, ’n reeks Bybellesings in groot stede in Europa gehou. Oor daardie toer het Russell die volgende in The Watch Tower van 15 Mei 1911 gesê: “Ons was verbaas om oral soveel tekens van voorspoed te sien . . . Ons lesers weet dat ons ’n paar jaar al verwag dat hierdie Eeu met ’n verskriklike tyd van moeilikheid sal eindig, en ons verwag dat dit skielik sal losbars nie lank na Oktober 1914 nie, wat, sover ons die Skrif verstaan, die datum is wanneer die Tye van die Nasies—die verpagting van die aarde se regerings aan die Nasies—sal verstryk; dus die tyd wanneer die Messias se koninkryk sy mag sal begin uitoefen.” Is hierdie verwagting vervul?
2. Hoe het vrede in 1914 verdwyn, en met watter droewige gevolge?
2 Gedurende die eerste helfte van 1914 het dit gelyk asof die wêreld veilig en buite gevaar van oorlog is. Maar vrede het skielik verdwyn met die sluipmoord op die troonopvolger van Oostenryk deur ’n Serwiër op 28 Junie 1914. Oostenryk-Hongarye het kort daarna teen Serwië oorlog verklaar. Rusland het hom by Serwië geskaar, en gevolglik het Duitsland op 1 Augustus teen Rusland oorlog verklaar. Daarna, op 3 Augustus, het Duitsland teen Frankryk oorlog verklaar; op 4 Augustus Groot-Brittanje teen Duitsland; op 7 Augustus Montenegro teen Oostenryk-Hongarye; op 23 Augustus Japan teen Duitsland; op 28 Augustus Oostenryk-Hongarye teen België. Baie mense het gedink dat die oorlog gou verby sou wees. Maar pleks daarvan het dit ontwikkel tot die ergste oorlog wat tot op daardie tyd in die geskiedenis gevoer is, met nog 19 lande wat kant gekies het in ’n internasionale bloedbad wat meer as 13 000 000 militêre en burgerlike lewens geëis het, en waarin meer as 21 000 000 vermink en gewond is.
3, 4. Wat het Vrydagoggend, 2 Oktober 1914, by die Genootskap se hoofkwartier gebeur?
3 Russell het op Vrydagoggend, 2 Oktober 1914, vir die hoofkwartierpersoneel van die Wagtoringgenootskap in Brooklyn, New York, gesê: “Die Heidense Tye het geëindig; hulle konings se dae is verby.” Die gesin by Bethel, “die huis van God”, het dit met geesdriftige applous begroet.
4 Watter rede het C. T. Russell en sy medewerkers gehad om daardie oggend in Oktober so vreugdevol te wees? Waar kom die uitdrukking “Heidense Tye”, oftewel “tye van die nasies”, vandaan? Watter bewys is daar dat die tye van die nasies in Oktober 1914 geëindig het? En hoe behoort dit jou te raak?
Jerusalem en die tye van die nasies
5. Waar kom die uitdrukking “tye van die nasies” vandaan?
5 Die uitdrukking “tye van die nasies”, of “vasgestelde tye van die nasies”, kom uit Jesus se groot profesie oor die vernietiging van Jerusalem (Lukas 21:5-36, vgl. NW). Twee dae voor Jesus dit uitgespreek het, het hy hom aan die inwoners van Jerusalem aangebied as hulle Messias. Terwyl hy nederig op ’n esel na die stad gery het, het skares Jode hulle grootliks verheug, soos Sagaria 9:9 voorspel het. “Geseënd is die Koning wat kom in die Naam van die Here”, het hulle hardop geskreeu.—Lukas 19:28-40.
6, 7. Watter verskriklike bloedskuld het eerste-eeuse Judeërs oor hulleself gebring, en met watter gevolge?
6 Maar Jesus het geweet dat die openbare mening binnekort teen hom gedraai sou word weens die moorddadige haat van Jerusalem se godsdiensleiers onder die invloed van hulle vader, die Duiwel (Genesis 3:15; Johannes 8:44). Kort daarna, op 14 Nisan, het ’n skare Jode aangedring op Jesus se dood. “Laat sy bloed op ons en op ons kinders kom!” het hulle vir die huiwerige Romeinse goewerneur geskreeu (Mattheüs 27:24, 25). Pleks dat die owerpriesters Jesus as die Messiaanse Koning aanvaar het, het hulle gesê: “Ons het geen koning behalwe die keiser nie” (Johannes 19:15). Die ware Messias is toe aan ’n folterpaal genael om te sterf omdat hy vals beskuldig is dat hy ’n opstoker teen Rome en ’n lasteraar teen die God van die Jode is.—Markus 14:61-64; Lukas 23:2; Johannes 18:36; 19:7.
7 Goddelike wraak sou beslis oor die inwoners van Judea kom weens hulle verskriklike bloedskuld. Jerusalem, met sy pragtige tempel, kon nie meer “die stad . . . van die groot Koning”, Jehovah, genoem word nie (Mattheüs 5:35; Lukas 13:33-35). ’n Paar dae voor Jesus se dood het sy dissipels met bewondering van daardie stad se tempelgeboue gepraat. In antwoord daarop het Jesus voorspel: “Hierdie dinge wat julle sien—daar sal dae kom wanneer daar nie een klip op die ander gelaat sal word wat nie afgebreek sal word nie.”—Lukas 21:5, 6.
8. Wat was ook daarby betrokke toe Jesus “die teken” van gebeure gegee het wat Jerusalem se vernietiging sou voorafgaan?
8 Jesus se dissipels het verbaas gevra: “Meester, wanneer sal dit dan wees, en wat is die teken wanneer dit gaan gebeur?” (Lukas 21:7). Jesus het geantwoord deur die gebeure wat Jerusalem se vernietiging voorafgegaan het raak te voorspel, en hy het hierdie betekenisvolle gedagte bygevoeg: “Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Lukas 21:8-24). Jesus het dus van iets gepraat wat ná Jerusalem se vernietiging sou gebeur—iets wat moes wag “totdat die tye van die nasies vervul is”. Van “die teken” het Jesus gesê: “So moet julle ook weet dat die koninkryk van God naby is wanneer julle hierdie dinge sien gebeur” (Lukas 21:31). Gevolglik sou die teken ’n tweeledige vervulling hê. Die eerste, of kleinere, vervulling sou toon dat ‘Jerusalem se verwoesting naby is’ (Lukas 21:20). Die tweede, en grotere, vervulling sou kom wanneer die tye van die nasies geëindig het, en dit sou toon dat “die koninkryk van God naby is”.—Vergelyk Mattheüs 24:3.
Aardse Jerusalem vervang deur ’n beter stad
9. Wanneer het aardse Jerusalem sy begunstigde status verloor, en waardeur is dit vervang?
9 Het Jesus bedoel dat die aardse stad uiteindelik in goddelike guns herstel sou word toe hy gesê het: “Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is”? Nee. Na die moord op God se geliefde Seun het aardse Jerusalem vir ewig sy spesiale status verloor en is dit vervang deur ’n “stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem”, wat veel beter is.—Hebreërs 12:22; Mattheüs 23:37, 38; 27:50, 51.
10. Wat beteken die uitdrukking “hemelse Jerusalem”?
10 Die uitdrukking “hemelse Jerusalem” word in die Bybel gebruik om die onvernietigbare hemelse Koninkryk te beskryf waarheen gesalfde Christene geroep isa (Hebreërs 11:10; 12:22, 28). Toe die apostel Paulus hierdie woorde geskryf het, het Jode nog groot bewondering vir die aardse stad met sy tempel gehad. Paulus het Hebreeuse Christene dus daaraan herinner dat “ons . . . hier geen blywende stad [het] nie, maar ons soek die toekomstige”.—Hebreërs 13:14.
Waarom dit hemelse Jerusalem genoem word
11. Wat het aardse Jerusalem voorgestel totdat dit Jehovah se goedkeuring verloor het?
11 Jerusalem was lank die hoofstad van die nasie Israel, van wie se konings gesê is dat hulle “op die troon van die HERE” sit (1 Kronieke 29:23). Jehovah het ook ’n verbond met Dawid gesluit dat die koningskap vir ewig aan sy nageslag sal behoort. Net soos hedendaagse hoofstede soos Washington, Moskou, Canberra en Pretoria gebruik word om hulle onderskeie regerings te identifiseer, word Jerusalem in die Bybel gebruik om die Dawidiese koninkryk voor te stel.—2 Samuel 7:16; Lukas 1:32.
12. Hoe moet die uitdrukking “tye van die nasies” toegepas word?
12 Dawid se koninkryk het ’n beperkte gebied gehad, wat net gestrek het tot by die grense van eertydse Israel wat God vasgestel het. Aardse Jerusalem was gevolglik net ’n afbeelding van die werklike Messiaanse Koninkryk wat uit die hemel sou regeer en die hele aarde as sy domein sou hê (Psalm 2:2, 7, 8; Daniël 7:13, 14; 2 Timotheüs 4:18). Gevolglik het die boek The Time Is At Hand, wat in 1889 deur die Wagtoringgenootskap uitgegee is, onomwonde gesê: “Die term ‘Tye van die Nasies’ is deur ons Heer toegepas op daardie deel van die aarde se geskiedenis tussen die verwydering van die tipiese Koninkryk van God, die Koninkryk van Israel (Eseg. 21:25-27), en die voorstelling en oprigting van sy antitipe, die ware Koninkryk van God.”
Die tye van die nasies—Hoe lank?
13. Wanneer het die tye van die nasies begin, en waarom sê jy so?
13 Die tipiese koninkryk van God is in 607 v.G.J. deur die Babiloniese koning Nebukadnesar omvergewerp. Teen die sewende Joodse maand, omtrent die middel van Oktober, het die land woes gelêb (2 Konings 25:8, 9, 22, 25, 26). As bewys dat dit met goddelike toestemming gebeur het, het Jehovah God Nebukadnesar ’n droom gegee. Dit was van ’n boom wat omgekap is en na ’n periode van “sewe tydperke” weer toegelaat is om te groei. Die droom het sy eerste vervulling gehad toe Nebukadnesar na ’n tydelike aanval van kranksinnigheid tot sy troon herstel is.—Daniël 4:10-17, 28-36.
14. Wat was die hoofgedagte van Nebukadnesar se droom?
14 Maar die tema van Nebukadnesar se droom het getoon dat die vernaamste vervulling daarvan God se tipiese koninkryk geraak het, wat daardie heidense koning toegelaat is om ‘om te kap’. Die droom het afgesluit met hierdie verklaring: “Met die bedoeling dat die lewendes kan erken dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil, en die nederige onder die mense daaroor aangestel het.”—Daniël 4:17.
15. Hoe het Jesus Christus aan die vereistes voldoen om “die nederige onder die mense” te wees? (Mattheüs 11:29).
15 Net een mens kon aan al die vereistes voldoen om “die nederige onder die mense” genoem te word. Die eniggebore Seun van God het getoon dat hy daardie een is deur sy hemelse heerlikheid gewillig te verlaat om gebore te word as ’n mens, as Jesus, wat die vernederendste en wreedste dood uit die hand van Satan gesterf het (Filippense 2:3, 5-11). Na sy opstanding terug tot hemelse heerlikheid moes Jesus wag tot die periode van sewe tydperke van heerskappy deur die nasies verstryk het voor hy as die Messiaanse Koning oor die mensdom gekroon is.—Hebreërs 10:12, 13.
16. Hoe help die boek Openbaring Christene om te bereken wanneer die sewe tye geëindig het?
16 Maar hoe het Jehovah se Getuies besef hoe lank die sewe tydperke is? Die Bybel openbaar dat “’n tyd en tye en ’n halwe tyd”, of drie en ’n half tye, gelyk is aan 1 260 dae (Openbaring 12:6, 14). Daarom sal twee maal soveel, oftewel sewe tye, 2 520 dae wees. Volgens die profetiese gids van “vir elke dag een jaar” sal die sewe tydperke gelyk wees aan 2 520 jaar (Numeri 14:34; Esegiël 4:6). Aan die hand van hierdie berekening het die tye van die nasies, wat in Oktober 607 v.G.J. begin het, 2 520 jaar later, in Oktober 1914, geëindig.
17. Watter verblydende aankondiging kon in 1914 gedoen word?
17 In Oktober 1914 het Jehovah God sy geliefde Seun, die Heer Jesus Christus, in die hemelse Koninkryk op die troon geplaas. Uiteindelik het die Openbaringsgesig van die apostel Johannes ’n werklikheid begin word en kon hierdie aankondiging gedoen word: “Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here [Jehovah] geword en van sy Christus, en Hy [Jehovah] sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 1:10; 4:1; 11:15). Watter wonderlike nuus is dit tog en watter rede tot die grootste blydskap aan die kant van alle mede-erfgename en onderdane van daardie Koninkryk!—Openbaring 11:17.
18. Waarom teister droewige toestande die mensdom sedert 1914?
18 Daar was weliswaar sedert 1914 vir die grootste deel van die mensdom nie veel geluk op aarde nie. Maar die jammerlike toestande op aarde is ’n bewys dat Satan se heerskappy binnekort gaan eindig. Hoe weet ons dit? Die boek Openbaring het getoon dat die oprigting van God se Koninkryk ’n oorlog in die hemel tot gevolg sou hê. Satan en sy demone sou uit die hemel gewerp word en tot die omgewing van ons aarde beperk word. Nadat hy hierdie oorwinning in ’n profetiese gesig gesien het, het Johannes ’n groot stem hoor sê: “Wees verheug, o hemele en die wat daarin woon; wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het.”—Openbaring 12:1-12.
19. Waarom is ware Christene baie dankbaar om nou te lewe?
19 Verslegtende wêreldtoestande sedert 1914 getuig dat Johannes se gesig ’n werklikheid geword het en dat die einde van alle mense wat weier om hulle aan God se soewereiniteit te onderwerp gevaarlik naby is (Lukas 21:10, 11, 25-32). Hoe opwindend is dit tog om in hierdie wonderlike tyd te lewe wanneer Jehovah God, die Almagtige, die groot geskil rakende sy soewereiniteit oor die aarde gaan besleg! Dan sal die aarde in ’n pragtige paradys omskep word en regverdige mense-oorlewendes sal tot volmaaktheid gebring word. Selfs die dooies sal opgewek word en die geleentheid gegun word om aan die vereistes vir die ewige lewe te voldoen.—Openbaring 20:1-3, 12, 13; 21:3-5.
’n Hedendaagse behoefte aan regstelling
20. (a) Wie het voor 1914 op aarde blyk gelewer dat hulle Jehovah se ware knegte is? (b) Watter regstelling was gesalfde Christene bereid om te maak?
20 Die Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies destyds genoem is, het 38 jaar voor 1914 op daardie datum gewys as die jaar wanneer die tye van die nasies sou eindig.c Watter merkwaardige bewys is dit tog dat hulle ware knegte van Jehovah was! Maar soos die eerste-eeuse knegte van God het hulle ook ’n paar verkeerde verwagtinge gehad. Hulle het byvoorbeeld verwag dat die volle getal gesalfde Christene teen Oktober 1914 na die hemel geneem sou word. Hulle het ook gedink dat die oorlog wat in 1914 begin het direk tot die einde van Satan se wêreld sou lei.
21. Watter dissipline het ware Christene gedurende die Eerste Wêreldoorlog ontvang?
21 Gesalfde Christene het egter mettertyd besef dat daar baie werk is wat hulle op aarde moes doen. Weens hulle volharding in die openbare getuieniswerk gedurende die Eerste Wêreldoorlog is hulle wreed vervolg deur die politieke owerhede, wat deur die geestelikes van die Christendom aangehits is (Psalm 2:1-6). Die bedrywigheid van ware Christene is op 21 Junie 1918 ’n swaar slag toegedien toe ampsdraers van die Wagtoringgenootskap in die Verenigde State op valse aanklagte tot 20 jaar tronkstraf gevonnis is.
22, 23. (a) Wat het getroue gesalfde Christene sedert 1919 gedoen, en met watter tweeledige reaksie daarop? (b) Wat is die antitipiese ontroue Jerusalem?
22 In November 1918 het die Eerste Wêreldoorlog skielik geëindig. Daarna, op 25 Maart 1919, is die ampsdraers van die Wagtoringgenootskap uit die tronk vrygelaat. Hulle is later heeltemal vrygespreek. ’n Onverwagte tydperk van vrede het vir daardie getroue gesalfde Christene aangebreek, soortgelyk aan die geleenthede wat vir Christus se vroeë dissipels oopgegaan het na hulle in 33 G.J. krag van die heilige gees ontvang het.—Handelinge 2:17-21, 41.
23 Sedert 1919 het getroue gesalfde Christene as ’n groep die bevel in Jesus se woorde in Mattheüs 24:14 ywerig gehoorsaam: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.” Gevolglik het byna viermiljoen van Christus se “ander skape” hulle lewe daaraan gewy om Jehovah in eenheid met die gesalfde oorblyfsel te dien (Johannes 10:16). Die Christendom, onder die invloed van sy geestelikes, verwerp steeds die Koninkryksboodskap. Sy voorliefde vir menslike politieke skemas en sy vervolging van Jehovah se Getuies kom ooreen met die skokkende manier waarop die eerste-eeuse bewoners van Judea Christus behandel het. Net soos Jehovah sy oordeel oor Jerusalem voltrek het, sal hy dit aan die antitipiese ontroue Jerusalem, naamlik die Christendom, doen. En net soos die geslag wat Christus se oordeelsboodskap gehoor het die vernietiging wat hy voorspel het, beleef het, sal die huidige geslag wat 1914 gesien het “sekerlik nie verbygaan” voor die voorspelde “groot verdrukking” aangebreek het nie.—Mattheüs 24:21, 22, 34.
24. Wat moet ons doen om tot in God se nuwe wêreld behoue te bly?
24 Wat moet ons doen om die groot verdrukking te oorleef en tot in God se nuwe wêreld behoue te bly? Ongeag verkeerde verwagtinge wat enigeen van ons dalk gehad het, ons moet daarteen waak om aan die slaap te raak wat ons Christelike pligte betref (Habakuk 2:3; 1 Thessalonicense 5:1-6). Diegene wat die gebeure van 1914 kan onthou, word al hoe minder. Ons moet dus wakker wees; daar is nie tyd om te verspeel nie (Mattheüs 24:42). Almal wat die einde van Satan se goddelose wêreld wil oorleef, moet nou op ’n manier optree wat toon dat hulle met hierdie geïnspireerde woorde saamstem: “Ons dank u, Jehovah God, die Almagtige, . . . dat u u grote krag aangeneem en as koning begin regeer het.”—Openbaring 11:17, NW.
[Voetnote]
a Sien Die Wagtoring van 1 Junie 1983, bladsye 19, 20.
b Sien “Let Your Kingdom Come”, hoofstuk 14, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., vir meer inligting oor waarom dit die begin van die tye van die nasies kenmerk.
c C. T. Russell het ’n artikel geskryf met die titel “Heidense Tye: Wanneer kom dit tot ’n einde?” wat in die tydskrif Bible Examiner, Oktober 1876, gepubliseer is. Op bladsy 27 het die artikel gesê: “Die sewe tydperke sal in 1914 n.C. eindig.”
Hoe sal jy antwoord?
◻ Wat het eertydse Jerusalem voorgestel, maar hoe het hy sy geëerde status verloor?
◻ Wanneer het die tye van die nasies begin en geëindig, en met watter voorspelde gevolg?
◻ Wat het die vernietiging van Jerusalem voorafgeskadu?
◻ Hoe weet ons dat die groot verdrukking naby is, en wat moet ons doen om daardeur behoue te bly?
[Prent op bladsy 16]
Jerusalem en sy tempel het hulle geëerde status verloor, maar God het sy Seun, die Messias, steeds geseën en het selfs direk uit die hemel met hom gepraat