Hoofstuk 33
Volgehoue waaksaamheid
“AANGESIEN Jesus duidelik gesê het dat geen mens kan weet wanneer ‘daardie dag’ of ‘die uur’ sal wees wanneer die Vader sy seun sal beveel om teen Satan se bose stelsel te ‘kom’ nie, kan sommige vra: ‘Waarom is dit so dringend om in afwagting van die einde te lewe?’ Dit is dringend omdat Jesus in feitlik dieselfde asem gesê het: ‘Bly op die uitkyk, bly wakker . . . waak’ (Markus 13:32-35, NW).”—Die Wagtoring, 1 Desember 1984.
Jehovah se Getuies waak nou al dekades lank. Waarvoor is hulle op die uitkyk? Vir Jesus se koms in Koninkryksmag om oordeel te voltrek aan Satan se goddelose stelsel van dinge en om die volle voordele van Sy Koninkryksheerskappy oor die hele aarde uit te brei! (Matt. 6:9, 10; 24:30; Luk. 21:28; 2 Thess. 1:7-10). Hierdie wakers weet dat die “teken” van Jesus se teenwoordigheid al sedert 1914 gesien kan word en dat die teenswoordige stelsel van dinge in daardie jaar sy laaste dae binnegegaan het.—Matt. 24:3–25:46.
Maar Jesus het nog nie as Skerpregter en Verlosser gekom nie. Hoe beskou Jehovah se Getuies hulle huidige situasie dan?
‘Ten volle verseker’ van hulle begrip
As ’n wêreldwye gemeente het hulle “die volle versekerdheid van hulle begrip” (Kol. 2:2, NW). Nie dat hulle dink dat hulle elke besonderheid van Jehovah se voornemens verstaan nie. Hulle ondersoek die Skrif voortdurend met ’n oop gemoed, en hulle hou aan leer. Maar wat hulle leer, verander nie hulle grondbeskouing oor die fundamentele waarhede van God se Woord nie. Hulle is ‘ten volle verseker’ van hierdie grondwaarhede; dit is nou al dekades dat hulle hierdie grondwaarhede erken en aanneem. Maar wat hulle leer, verbeter voortdurend hulle begrip van hoe sekere tekste in die algemene patroon van Bybelwaarheid inpas en hoe hulle die raad van God se Woord noukeuriger in hulle eie lewe kan toepas.
Jehovah se Getuies het ook “volle versekerdheid” aangaande God se beloftes. Hulle vertrou volkome dat al sy beloftes selfs in die kleinste besonderheid sal uitkom en dat hulle almal op sy vasgestelde tyd vervul sal word. Die vervulling van Bybelprofesieë wat hulle gesien sowel as ondervind het, gee hulle dus die volle versekerdheid dat die teenswoordige wêreld in sy “tyd van die einde” is en dat God se belofte van ’n regverdige nuwe wêreld binnekort verwesenlik sal word.—Dan. 12:4, 9; Openb. 21:1-5.
Wat behoort hulle dan te doen? “Bly op die uitkyk, bly wakker”, het Jesus beveel, “want julle weet nie wanneer dit die vasgestelde tyd is nie. Waak dus . . . sodat wanneer [die Heer] skielik kom, hy julle nie aan die slaap vind nie. Maar wat ek vir julle sê, sê ek vir almal: Waak” (Mark. 13:33, 35-37, NW). Jehovah se Getuies is ten volle bewus van hoe noodsaaklik dit is om te waak.
Die oorywerigheid wat hulle soms ten opsigte van die vervulling van sekere profesieë aan die dag gelê het, verander nie die bewyse wat sedert die Eerste Wêreldoorlog ophoop dat ons ons in die voleinding van die stelsel van dinge bevind nie. Dit is beslis baie beter om gretig—selfs oorgretig—te wees om God se wil vervul te sien as om geestelik aan die slaap te wees wat die vervulling van sy voornemens betref!—Vergelyk Lukas 19:11; Handelinge 1:6; 1 Thessalonicense 5:1, 2, 6.
Wat behels dit om te waak?
Waak—Hoe?
Waaksame Christene sit nie net met gevoude arms en wag nie. Inteendeel! Hulle moet geestelik gesond bly sodat Jesus, wanneer hy as Skerpregter kom, ook hulle Verlosser sal wees (Luk. 21:28). “Pas op vir julleself [“let op julleself”, NW]”, het Jesus gewaarsku, “dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie. . . . Waak” (Luk. 21:34-36). Waaksame Christene moet dus ten eerste ‘op hulleself let’ deur versigtig te wees om elke dag te lewe soos ’n Christen moet. Hulle moet wawyd wakker wees wat Christelike verantwoordelikhede betref en die onchristelike gedrag vermy wat kenmerkend is van ’n wêreld wat “in die mag van die Bose lê” (1 Joh. 5:19; Rom. 13:11-14). Wanneer Christus kom, moet hulle gereed wees.
Wie het waarlik wawyd wakker, geestelik gesond, gebly? Die geskiedkundige verslag in die vroeëre hoofstukke van hierdie boek toon dat dit Jehovah se Getuies is. Dit is duidelik dat hulle die verantwoordelikhede wat ’n mens moet nakom om ’n Christen te wees ernstig opneem. Ten tye van oorlog was hulle byvoorbeeld bereid om gevangenskap en die dood te trotseer omdat hulle wawyd wakker was ten opsigte van die verpligting om geen deel van die wêreld te wees nie en selfopofferende liefde vir mekaar te toon (Joh. 13:34, 35; 17:14, 16, NW). Mense wat hulle by hulle Koninkryksale, hulle groot byeenkomste of selfs by hulle sekulêre werk sien, is beïndruk deur hulle ‘skoon lewenswandel’ (1 Pet. 2:12). In hierdie wêreld wat “alle sedelikheidsgevoel verloor het”, het hulle die reputasie dat hulle ’n eerlike, sedelik rein lewe lei.—Ef. 4:19-24, vgl. NW; 5:3-5.
Maar om waaksaam te wees, behels meer as om ‘op jouself te let’. ’n Wag moet vir ander sê wat hy sien. In hierdie tyd van die einde moet waaksame Christene wat die teken van Christus se teenwoordigheid duidelik sien die “goeie nuus van die koninkryk” (NW) aan ander bekend maak en hulle waarsku dat Christus binnekort sal kom en oordeel aan hierdie goddelose stelsel van dinge sal voltrek (Matt. 24:14, 30, 44). So help hulle ander om vir “verlossing” in aanmerking te kom.—Luk. 21:28.
Wie het gewaak deur die waarskuwing aan ander te rig? Jehovah se Getuies is wêreldwyd bekend vir hulle ywer om God se naam en Koninkryk te verkondig. Hulle het nie ’n gekose geestelikeklas wat preek nie. Hulle besef dat dit die verantwoordelikheid van alle gelowiges is. Hulle beskou dit as ’n noodsaaklike deel van hulle aanbidding (Rom. 10:9, 10; 1 Kor. 9:16). Wat was die resultate?
Hulle maak nou ’n groeiende gemeente van miljoene bedrywige lede in meer as 220 lande oor die hele wêreld uit. (Jes. 60:22; vergelyk Handelinge 2:47; 6:7; 16:5.) Party van die magtigste regerings in die mensegeskiedenis het al hulle werk verbied, hulle selfs gevange geneem en in tronke opgesluit. Maar Jehovah se Getuies het aangehou om God se Koninkryk te verkondig! Hulle is net so vasbeslote soos die apostels wat, toe hulle beveel is om op te hou preek, gesê het: “Vir ons is dit onmoontlik om nie te spreek oor wat ons gesien en gehoor het nie.” “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.”—Hand. 4:18-20; 5:27-29.
“Wag daarop”
Vandag is die situasie van Jehovah se Getuies soortgelyk aan dié van die eerste-eeuse Judese Christene. Jesus het vir hulle ’n teken gegee waaraan hulle sou weet wanneer die tyd aangebreek het om uit Jerusalem te vlug om die vernietiging daarvan vry te spring. “Wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle . . . vlug”, het Jesus gesê (Luk. 21:20-23). Jerusalem is ’n bietjie meer as 30 jaar later, in 66 G.J., deur Romeinse leërs omsingel. Toe die Romeinse magte skielik om geen verklaarbare rede teruggetrek het, het Judese Christene Jesus se opdrag gehoorsaam en gevlug—nie net uit Jerusalem nie, maar uit die hele land Judea—na ’n stad in Perea wat Pella genoem is.
Daar het hulle in veiligheid gewag. Die jaar 67 G.J. het gekom en gegaan. Toe het 68 in 69 verbygegaan. Tog het Jerusalem vry gebly. Moes hulle terugkeer? Jesus het per slot van rekening nie gesê hoe lank hulle moes wag nie. Maar as enigiemand wel teruggekeer het, het dit hom duur te staan gekom, want die Romeinse leërs het in 70 G.J. in sulke groot getalle teruggekeer dat hulle soos ’n onkeerbare vloed was, en hierdie keer het hulle nie teruggetrek nie. Inteendeel, hulle het die stad verwoes en meer as ’n miljoen mense doodgemaak. Hoe bly moes daardie Judese Christene in Pella tog gewees het dat hulle bly wag het op Jehovah se vasgestelde tyd om sy oordeel te voltrek!
Diegene wat vandag waak, bevind hulle in ’n soortgelyke situasie. Hulle besef ten volle dat hoe dieper ons in hierdie tyd van die einde inbeweeg, hoe groter is die uitdaging om op Jesus se koms te bly wag. Maar hulle het nie geloof verloor in Jesus se woorde nie: “Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie” (Matt. 24:34). Die uitdrukking “hierdie dinge” verwys na die verskillende aspekte van die saamgestelde “teken”. Hierdie teken kan al sedert 1914 duidelik gesien word en sal met die “groot verdrukking” sy klimaks bereik (Matt. 24:21). Die “geslag” wat in 1914 gelewe het, word vinnig minder. Die einde kan nie ver weg wees nie.
Intussen is Jehovah se Getuies absoluut vasbeslote om te bly waak, in die volle vertroue dat God al sy beloftes op sy vasgestelde tyd sal nakom! Hulle neem Jehovah se woorde aan die profeet Habakuk ter harte. Omdat dit gelyk het of Jehovah gedurende die tweede helfte van die sewende eeu v.G.J. goddeloosheid in die koninkryk van Juda geduld het, het Jehovah vir die profeet gesê: “Skryf die gesig [aangaande die einde van die verdrukkende toestande] op en graveer dit op tafels, sodat hulle dit in die verbygaan kan lees. Want die gesig sal nog duur tot op die vasgestelde tyd; maar dit spoed na die einde en sal nie teleurstel nie. As dit [oënskynlik] mag vertoef, wag daarop; want alte seker sal dit kom en nie versuim nie” (Hab. 1:2, 3; 2:2, 3). Jehovah se Getuies het insgelyks vertroue in Jehovah se regverdigheid en geregtigheid, en dit help hulle om hulle balans te behou en op Jehovah se “vasgestelde tyd” te wag.
Die gesindheid van Jehovah se Getuies is goed saamgevat deur F. W. Franz, wat in 1913 gedoop is. As president van die Wagtoringgenootskap het hy in 1991 gesê:
“Ons hoop is seker, en dit sal vir elkeen van die 144 000 lede van die klein kuddetjie ten volle vervul word in ’n mate wat ons verstand te bowe gaan. Ons van die oorblyfsel wat 1914 gesien het, toe ons verwag het om almal hemel toe te gaan, het nie ons waardering vir daardie hoop verloor nie. Maar ons glo nog net so vas daaraan as tevore, en ons waardeer dit des te meer hoe langer ons daarvoor moet wag. Dit is die moeite werd om daarvoor te wag, al moet ons ’n miljoen jaar wag. Ek stel ons hoop nou meer as ooit tevore op prys, en ek wil nooit my waardering daarvoor verloor nie. Die hoop van die klein kuddetjie gee ook die versekering dat die verwagting van die groot menigte ander skape, sonder enige moontlikheid van teleurstelling, bo ons hoogste verwagting vervul sal word. Dit is waarom ons tot nou toe steeds volhard, en ons gaan volhard tot God inderdaad sy ‘grootse en kosbare beloftes’ nakom.”—2 Pet. 1:4; Num. 23:19; Rom. 5:5.
Die tyd dat Christus se teenwoordigheid in Koninkryksmag duidelik aan die hele mensdom geopenbaar sal word, kom nou vinnig nader. Dan sal die waaksames “die vervulling van die belofte ontvang” (Hebr. 10:36, NW). Hulle hoop sal inderdaad ‘bo hulle hoogste verwagting vervul word’. Hoe bly en hoe dankbaar sal hulle tog wees dat húlle in die laaste dae van hierdie goddelose stelsel van dinge bly waak het, dat húlle God se Koninkryk ywerig verkondig het!
[Lokteks op bladsy 713]
Hulle het die volle versekerdheid dat die teenswoordige wêreld in sy “tyd van die einde” is
[Lokteks op bladsy 714]
Hulle is versigtig om elke dag te lewe soos ’n Christen moet
[Lokteks op bladsy 715]
Wie het gewaak deur die waarskuwing aan ander te rig?
[Lokteks op bladsy 716]
“Ek stel ons hoop nou meer as ooit tevore op prys, en ek wil nooit my waardering daarvoor verloor nie”—F.W. Franz
[Venster/Prent op bladsy 717]
Rapporte van die wêreldwye getuieniswerk
Jaar Lande
1920 ....... 46
1925 ....... 83
1930 ....... 87
1935 ...... 115
1940 ...... 112
1945 ...... 107
1950 ...... 147
1955 ...... 164
1960 ...... 187
1965 ...... 201
1970 ...... 208
1975 ...... 212
1980 ...... 217
1985 ...... 222
1992 ...... 229
Aantal lande
Die aantal lande is bereken volgens die indeling van die aarde in die vroeë negentigerjare en nie volgens die politieke grense wat op daardie tydstip gegeld het nie, toe gewese groot ryke byvoorbeeld oor gebiede geheers het wat nou ’n aantal onafhanklike nasies uitmaak.
Jaar Gem.
1940 ...... 5,130
1945 ...... 7,218
1950 ..... 13,238
1955 ..... 16,044
1960 ..... 21,008
1965 ..... 24,158
1970 ..... 26,524
1975 ..... 38,256
1980 ..... 43,181
1985 ..... 49,716
1992 ..... 69,558
Aantal gemeentes
Voor 1938 is daar nie volledige internasionale verslae van die totale aantal gemeentes gehou nie.
Jaar Verk.
1935 .. ... 56,153
1940 ...... 96,418
1945 ..... 156,299
1950 ..... 373,430
1955 ..... 642,929
1960 ..... 916,332
1965 ... 1,109,806
1970 ... 1,483,430
1975 ... 2,179,256
1980 ... 2,272,278
1985 ... 3,024,131
1992 ... 4,472,787
Aantal Koninkryksverkondigers
Gedurende die twintiger- en vroeë dertigerjare is die manier waarop die verkondigers getel is etlike kere gewysig. Gemeenterapporte is weekliks, en nie maandeliks nie, aan die Genootskap gestuur. (Daar is eers in Oktober 1932 met maandelikse rapportering begin.) Om as ’n klaswerker (gemeenteverkondiger) getel te kon word, moes ’n mens ten minste 3 uur per week (of 12 uur per maand) aan die velddiens gewy het, aldus die “Bulletin” van 1 Januarie 1929. Skerpskutters (afgesonderde verkondigers) moes ten minste twee uur per week aan die getuieniswerk wy.
Jaar Pioniers
1920 ......... 480
1925 ....... 1,435
1930 ....... 2,897
1935 ....... 4,655
1940 ....... 5,251
1945 ....... 6,721
1950 ...... 14,093
1955 ...... 17,011
1960 ...... 30,584
1965 ...... 47,853
1970 ...... 88,871
1975 ..... 130,225
1980 ..... 137,861
1985 ..... 322,821
1992 ..... 605,610
Pioniers
Die syfers hier sluit gewone pioniers, hulppioniers, spesiale pioniers, sendelinge, kringopsieners en streekopsieners in. Pioniers het vroeër as kolporteurs en hulppioniers as hulpkolporteurs bekend gestaan. Die syfers vir die meeste jare is maandelikse gemiddeldes.
Jaar Bybelst.
1945 ....... 104,814
1950 ....... 234,952
1955 ....... 337,456
1960 ....... 646,108
1965 ....... 770,595
1970 ..... 1,146,378
1975 ..... 1,411,256
1980 ..... 1,371,584
1985 ..... 2,379,146
1992 ..... 4,278,127
Tuisbybelstudies
Gedurende die dertigerjare is ’n paar studies met afsonderlike individue gehou, maar klem is daarop gelê om mense te leer om dit self te doen en ook om studies te organiseer wat deur ander belangstellendes in die gebied bygewoon kon word. Later is daar met individue wat werklik belanggestel het, gestudeer totdat hulle gedoop is. Nog later is die broers aangemoedig om met die persoon te studeer totdat hy genoeg hulp ontvang het om ’n ryp Christen te word.
Jare Ure
1930-35 ....... 42,205,307
1936-40 ....... 63,026,188
1941-45 ...... 149,043,097
1946-50 ...... 240,385,017
1951-55 ...... 370,550,156
1956-60 ...... 555,859,540
1961-65 ...... 760,049,417
1966-70 .... 1,070,677,035
1971-75 .... 1,637,744,774
1976-80 .... 1,646,356,541
1981-85 .... 2,276,287,442
1986-92 .... 5,912,814,412
Uurtotale
Die algemene rapportering van tyd het eers in die laat twintigerjare begin. Die metode waarop ure getel is, is ’n paar keer verander: In die vroeë dertigerjare is net die tyd getel wat aan die huis-tot-huis-werk gewy is—nie die tyd wat aan herbesoeke gewy is nie. Hoewel die verslag hierbo baie indrukwekkend is, gee dit in werklikheid net ’n gedeelte van die groot hoeveelheid tyd aan wat Jehovah se Getuies wy aan die werk om God se Koninkryk te verkondig.
Jare Lekt. versp.
1920-25 ....... 38,757,639
1926-30 ....... 64,878,399
1931-35 ...... 144,073,004
1936-40 ...... 164,788,909
1941-45 ...... 178,265,670
1946-50 ...... 160,027,404
1951-55 ...... 237,151,701
1956-60 ...... 493,202,895
1961-65 ...... 681,903,850
1966-70 ...... 935,106,627
1971-75 .... 1,407,578,681
1976-80 .... 1,380,850,717
1981-85 .... 1,504,980,839
1986-92 .... 2,715,998,934
Lektuurverspreiding
Op ’n paar uitsonderings na sluit die syfers vir die jare voor 1940 nie die aantal tydskrifte in wat versprei is nie, hoewel miljoene eksemplare versprei is. Syfers sedert 1940 sluit boeke, boekies, brosjures en tydskrifte in, maar nie die honderdmiljoene traktate wat ook gebruik is om belangstelling in die Koninkryksboodskap te wek nie. Die altesaam 10 107 565 269 stukke lektuur wat van 1920 tot 1992 in meer as 290 tale versprei is, bewys dat ’n buitengewone wêreldwye getuienis gegee is.
Jaar Opkoms Gebr.
1935 ...... 63,146 ... 52,465
1940 ...... 96,989 ... 27,711
1945 ..... 186,247 ... 22,328
1950 ..... 511,203 ... 22,723
1955 ..... 878,303 ... 16,815
1960 ... 1,519,821 ... 13,911
1965 ... 1,933,089 ... 11,550
1970 ... 3,226,168 ... 10,526
1975 ... 4,925,643 ... 10,550
1980 ... 5,726,656 .... 9,564
1985 ... 7,792,109 .... 9,051
1992 .. 11,431,171 .... 8,683
Gedenkmaalopkoms en embleemgebruikers
Die beskikbare syfers vir die Gedenkmaalopkomste voor 1932 is dikwels onvolledig. Soms is net groepe van 15, 20, 30 of meer in die totale ingereken wat gepubliseer is. Interessant genoeg toon die meeste jare waarvoor syfers beskikbaar is dat ten minste sommige van dié wat die Gedenkmaal bygewoon het nie die embleme gebruik het nie. Teen 1933 was die verskil ongeveer 3 000.