Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 2/15 bl. 13-17
  • Deur die groot verdrukking heen gered

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Deur die groot verdrukking heen gered
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Soos die dae van Noag
  • ’n Eerste-eeuse patroon
  • ’n Groot menigte oorlewendes
  • Bly wakker
  • Party ‘sal nooit sterwe nie’
  • ’n Onfeilbare hoop
  • Sal jy gered word wanneer God optree?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Veroordeel jy die wêreld deur jou geloof?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Dit is dringender as ooit tevore dat ons waaksaam bly
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Water vernietig ’n wêreld—Sal dit weer gebeur?
    Leer by die Groot Onderwyser
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 2/15 bl. 13-17

Deur die groot verdrukking heen gered

“Dit is hulle wat uit die groot verdrukking kom, en hulle het hul klere gewas en hul klere wit gemaak in die bloed van die Lam.”—OPENBARING 7:14.

1. Wie sal die verresenes tydens die aardse opstanding verwelkom?

WANNEER tallose miljoene in die ‘opstanding van die regverdiges en die onregverdiges’ opgewek word, sal hulle nie tot lewe op ’n leë aarde opgewek word nie (Handelinge 24:15). Hulle sal in ’n omgewing opstaan wat pragtig herstel is en vind dat woonplekke, klere en ’n oorvloed voedsel vir hulle voorberei is. Wie sal al hierdie voorbereidingswerk doen? Dit is duidelik dat daar reeds mense in die nuwe wêreld sal woon voor die aardse opstanding begin. Wie is hulle? Die Bybel toon dat hulle oorlewendes van die komende groot verdrukking sal wees. Van al die Bybelleerstellings is hierdie een ongetwyfeld een van die heel boeiendste—dat sommige getroue persone deur die groot verdrukking heen gered sal word en nooit sal hoef te sterf nie. Die Heilige Skrif lewer oorvloedige bewys van hierdie hoop.

Soos die dae van Noag

2, 3. (a) Watter vergelykings word daar tussen die dae van Noag en ons dag getrek? (b) Waarop dui die oorlewing van Noag en sy gesin deur die Vloed heen?

2 In Mattheüs 24:37-39 het Jesus Christus ’n vergelyking getrek tussen die dae van Noag en die laaste dae, waarin ons ons nou bevind. Hy het gesê: “Net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. Want net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het, en dit nie verstaan het voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.”

3 Die wêreldwye Vloed het almal weggevoer wat nie op God se waarskuwingsboodskap ag geslaan het nie. Maar dit het nie Noag en sy gesin weggevoer nie. Hulle het “in die ark gegaan”, soos Jesus gesê het. As gevolg van hulle godvrugtige toegewydheid het Jehovah voorsiening gemaak dat hulle gered kon word. Tweede Petrus 2:5, 9 praat van die oorlewing van Noag en sy gesin wanneer dit sê: “[God het] Noag, ’n prediker van regverdigheid, met sewe ander veilig bewaar . . . toe hy ’n sondvloed oor ’n wêreld van goddelose mense gebring het. . . . Jehovah [weet] hoe om mense van godvrugtige toegewydheid uit beproewing te verlos” (NW). Jesus het ’n vergelyking tussen Noag se dag en die laaste dae getrek om te toon dat mense oor die algemeen nie op God se waarskuwingsboodskap ag sal slaan nie. Deur dit te doen, het hy nietemin ook bevestig dat Noag en sy gesin Jehovah God gehoorsaam het, in die ark ingegaan het en die groot Vloed oorleef het. Die oorlewing van Noag en sy gesin dui op die oorlewing van God se getroue knegte wanneer hierdie wêreld eindig.

’n Eerste-eeuse patroon

4. Watter gebeure het ter vervulling van Jesus se woorde vóór die vernietiging van Jerusalem in 70 G.J. plaasgevind?

4 Jesus het ook oor gebeure gepraat wat aan die einde van hierdie wêreld sal plaasvind. In Mattheüs 24:21, 22 het hy gesê: “Dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word.” Hierdie woorde het ’n vroeë vervulling in die eerste eeu van ons Gewone Jaartelling ondergaan. In 66 G.J. is die stad Jerusalem deur Romeinse leërs onder Cestius Gallus beleër. Die Romeinse troepe het al die tempelmuur begin ondergrawe, en baie Jode was gereed om oor te gee. Maar Cestius Gallus het onverwags en blykbaar sonder rede sy troepe onttrek. Toe die Christene die Romeine sien terugtrek, het hulle gehoor gegee aan Jesus se woorde wat baie jare vantevore geuiter is: “Wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is. Dan moet die wat in Judea is, na die berge vlug; en die wat in die stad is, moet uitgaan; en die wat in die buitewyke is, moet nie daar inkom nie” (Lukas 21:20, 21). Die Jode wat Christene geword het, die uitverkorenes, het die gedoemde stad Jerusalem onmiddellik verlaat en is dus gered van die verskriklike vernietiging wat die stad kort daarna getref het. In 70 G.J. het die Romeinse leërs onder generaal Titus teruggekeer. Hulle het Jerusalem omsingel, die stad beleër en dit verwoes.

5. In watter opsig is die verdrukking oor Jerusalem in 70 G.J. verkort?

5 Die Joodse geskiedskrywer Josefus vertel dat 1 100 000 Jode gesterf het, terwyl 97 000 die vernietiging oorleef het en gevange geneem is. Daardie nie-Christelike Joodse oorlewendes was beslis nie “die uitverkorenes” van Jesus se profesie nie. Jesus het vir die opstandige Joodse nasie gesê: “Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat! Want Ek sê vir julle: Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Mattheüs 23:38, 39). Daar is geen getuienis dat die Jode wat in Jerusalem vasgekeer was Jesus ter elfder ure as die Messias aanvaar, Christene geword en Jehovah se guns ontvang het nie. Maar die verdrukking wat in 70 G.J. oor Jerusalem gekom het, is nietemin verkort. Die Romeinse leër se finale beleg van die stad het nie lank geduur nie. Dit het daartoe gelei dat party Jode dit kon oorleef, al is hulle daarná as slawe na verskillende dele van die Romeinse Ryk gestuur.

’n Groot menigte oorlewendes

6, 7. (a) Watter groot godsdiensstad moet nog vernietig word, as deel van watter ongeëwenaarde verdrukking? (b) Wat het Johannes geprofeteer aangaande die komende groot verdrukking wat oor hierdie wêreld gaan kom?

6 Hoewel Jerusalem se vernietiging in 70 G.J. inderdaad ’n “groot verdrukking” oor daardie godsdiensstad gebring het, moet die grotere vervulling van hierdie deel van Jesus se profesie nog plaasvind. ’n Groter godsdiensstad, Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, gaan ’n dodelike groot verdrukking deurmaak wat onmiddellik deur ’n ongeëwenaarde verdrukking oor die res van Satan se stelsel van dinge gevolg gaan word (Mattheüs 24:29, 30; Openbaring 18:21). Sowat 26 jaar ná die vernietiging van Jerusalem het die apostel Johannes in Openbaring 7:9-14 oor hierdie wêreldwye groot verdrukking geskryf. Hy het getoon dat ’n groot menigte mense dit sou oorleef.

7 Hierdie oorlewendes, wat die “groot menigte” genoem word, word deur sekere besliste dade geïdentifiseer. Volgens Openbaring 7:14 het een van die 24 ouderlinge in die hemel vir Johannes gesê: “Dit is hulle wat uit die groot verdrukking kom, en hulle het hul klere gewas en hul klere wit gemaak in die bloed van die Lam.” Ja, die groot menigte verheerlik Jehovah as die bron van hulle redding. Hulle beoefen geloof in Jesus se vergote bloed en geniet ’n regverdige posisie voor hulle Skepper en sy aangestelde Koning, Jesus Christus.

8. Watter goeie verhouding bestaan daar tussen die “groot menigte” en die oorblyfsel van Jesus se gesalfde broers?

8 Vandag staan byna vyfmiljoen lede van die groot menigte onder die daadwerklike leiding van die hemelse Koning, Jesus Christus. Hulle is onderdanig aan Christus en het ’n noue verbintenis met sy gesalfde broers wat nog op die aarde is. Jesus het aangaande die wyse waarop die groot menigte hierdie gesalfdes behandel, gesê: “Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen” (Mattheüs 25:40). Omdat hulle onselfsugtige hulp aan Christus se gesalfde broers verleen, word die lede van die groot menigte geoordeel asof hulle aan Jesus self goed doen. Dit lei daartoe dat hulle gehelp word om ’n hegte verhouding met Jesus Christus en Jehovah God te verkry. Hulle het die voorreg om by die gesalfde oorblyfsel aan te sluit om God se Getuies en draers van sy naam te word.—Jesaja 43:10, 11; Joël 2:31, 32.

Bly wakker

9, 10. (a) Wat moet ons doen om ons regverdige posisie voor die Seun van die mens te behou? (b) Hoe moet ons optree sodat ons kan bly “waak”?

9 Die groot menigte moet hulle regverdige posisie voor die Seun van die mens behou sonder om te verslap, wat vereis dat hulle tot reg aan die einde toe waaksaam moet bly. Jesus het dit duidelik gestel toe hy gesê het: “Pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie. Want soos ’n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon. Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.”—Lukas 21:34-36.

10 Om voor die Seun van die mens te kan staan, moet ons sy goedkeuring wegdra, wat ons nie sal hê as ons toelaat dat ons deur die denkwyse van hierdie wêreld beïnvloed word nie. ’n Wêreldse denkwyse is verleidend en kan maak dat iemand hom aan vleeslike genietinge oorgee of so beswaar word deur lewensprobleme dat hy Koninkryksbelange nie meer eerste stel nie (Mattheüs 6:33). So ’n handelswyse sal iemand geestelik laat verswak en kan hom onverskillig maak ten opsigte van sy verantwoordelikhede teenoor God en ander. Hy kan onbedrywig raak of sy plek in die gemeente in gevaar stel deur ’n ernstige sonde te pleeg en selfs ’n onberouvolle gesindheid te openbaar. Elke lid van die groot menigte moet op homself let. Hy moet van hierdie goddelose wêreld en sy gebruike afgeskeie bly.—Johannes 17:16.

11. Die toepassing van watter skriftuurlike beginsels sal ons help om Armageddon te oorleef?

11 Daarom het Jehovah ons deur middel van sy Woord, sy heilige gees en sy sigbare organisasie van die nodige hulp voorsien. Ons moet ten volle hiervan gebruik maak. Daarbenewens moet ons altyddeur bid en God gehoorsaam as ons sy guns wil hê. Om maar een ding te noem, ons moet ’n sterk haat aankweek vir wat sleg is. Die psalmis het gesê: “Ek sit nie by valse mense nie, en met slinkse mense gaan ek nie om nie. Ek haat die vergadering van kwaaddoeners, en by die goddelose sit ek nie. Ruk my siel nie weg saam met die sondaars en my lewe saam met die manne van bloed nie” (Psalm 26:4, 5, 9). In die Christengemeente moet oud en jonk hulle omgang beperk met dié wat nie aan Jehovah toegewy is nie. Om God se guns te ontvang, strewe ons daarna om onberispelik te wees en ons vlekkeloos van die wêreld te bewaar (Psalm 26:1-5; Jakobus 1:27; 4:4). Gevolglik sal ons seker wees dat Jehovah ons nie by Armageddon saam met die goddeloses sal uitwis nie.

Party ‘sal nooit sterwe nie’

12, 13. (a) Watter woorde van Jesus, wat hy gesê het voor hy Lasarus opgewek het, het Martha nie ten volle verstaan nie? (b) Wat is nie bedoel met Jesus se woorde omtrent sommige wat ‘nooit sou sterf’ nie?

12 Dit is opwindend om daaraan te dink dat ons die einde van hierdie stelsel van dinge kan oorleef en dat die moontlikheid bestaan dat ons nooit sal hoef te sterf nie. Dít is die vooruitsig wat Jesus aan ons voorhou. Net voordat Jesus sy afgestorwe vriend Lasarus opgewek het, het hy vir Lasarus se suster Martha gesê: “Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie. Glo jy dit?” Martha het in die opstanding geglo, maar sy het nie alles verstaan wat Jesus gesê het nie.—Johannes 11:25, 26.

13 Jesus het nie bedoel dat sy getroue apostels in die vlees sou bly lewe en nooit sou sterf nie. Inteendeel, hy het later getoon dat sy dissipels wel sou sterf (Johannes 21:16-23). Trouens, toe hulle op Pinkster 33 G.J. met heilige gees gesalf is, het dit beteken dat hulle sou moes sterf om hulle hemelse erfenis as konings en priesters te kon ontvang (Openbaring 20:4, 6). Met verloop van tyd het alle eerste-eeuse Christene dus gesterf. Maar Jesus het daardie woorde met ’n doel gesê. Sy woorde dat mense sal lewe sonder om ooit te sterf, sal vervul word.

14, 15. (a) Hoe sal Jesus se woorde oor sommige wat ‘nooit sal sterwe’ nie, vervul word? (b) In watter situasie verkeer hierdie wêreld, maar watter hoop het regverdige persone?

14 Om maar een ding te noem, getroue, gesalfde Christene sal nooit ’n ewige dood ervaar nie (Openbaring 20:6). Jesus se woorde verwys ook na ’n spesifieke tyd wanneer Jehovah God in menseaangeleenthede sal ingryp en goddeloosheid van die aarde sal verwyder, net soos hy in Noag se dag gedoen het. Getroue mense wat gedurende daardie tyd God se wil doen, sal nie vanweë God se oordeel hoef te sterf nie. Hulle sal eerder, soos Noag en sy gesin, die geleentheid hê om die vernietiging van ’n wêreld te oorleef. So ’n hoop is seker, omdat dit op Bybelleringe en -voorbeelde gegrond is. (Vergelyk Hebreërs 6:19; 2 Petrus 2:4-9.) Die vervulling van Bybelprofesieë toon dat die huidige wêreld wat uit ’n onregverdige mensegemeenskap bestaan binnekort in ’n vernietiging gaan eindig. Die huidige situasie is onomkeerbaar, want die wêreld is verstok in sy goddeloosheid. Wat God oor die wêreld van Noag se dag gesê het, is ook waar van die wêreld van vandag. Die meeste mense se harte is vol goddeloosheid, en hulle gedagtes is altyddeur net sleg.—Genesis 6:5.

15 Jehovah het die mens eeue lank toegelaat om die aarde sonder Goddelike ingryping te regeer, maar hulle tyd is amper verstreke. Jehovah sal binnekort al die goddeloses op die aarde vernietig, net soos die Bybel sê (Psalm 145:20; Spreuke 2:21, 22). Maar hy sal nie die regverdiges saam met die goddeloses vernietig nie. God het nog nooit so iets gedoen nie! (Vergelyk Genesis 18:22, 23, 26.) Waarom sou hy diegene vernietig wat hom getrou, met godvrugtige vrees, probeer dien? Dit is net redelik dat Jehovah se getroue aanbidders wat lewe wanneer die groot verdrukking begin in sy oë guns sal vind en nie vernietig sal word nie, net soos Noag en sy gesin nie vernietig is toe die goddelose wêreld in sy dag tot ’n rampspoedige einde gekom het nie (Genesis 7:23). Hulle sal Goddelike beskerming geniet en die einde van hierdie wêreld oorleef.

16. Watter wonderlike dinge sal in die nuwe wêreld gebeur, en wat beteken dit vir oorlewendes?

16 Wat sal dan gebeur? In die nuwe wêreld sal helende seëninge oor die mensdom uitgestort word namate die voordele van Jesus se losprysoffer ten volle toegepas word. Die Bybel praat van ’n simboliese “rivier van die water van die lewe, helder soos kristal, wat uitstroom uit die troon van God en van die Lam. In die middel van sy straat en weerskante van die rivier was die boom van die lewe wat twaalf maal vrugte dra en elke maand sy vrugte gee, en die blare van die boom is tot genesing van die nasies” (Openbaring 22:1, 2). Hoe wonderlik is dit tog om te kan sê dat die “genesing” die oorwinning van die Adamiese dood self insluit! “Hy sal die dood vir ewig vernietig, en die Here HERE sal die trane van alle aangesigte afvee” (Jesaja 25:8). Gevolglik sal diegene wat deur die groot verdrukking tot in die nuwe wêreld leef nooit hoef te sterf nie!

’n Onfeilbare hoop

17. Hoe seker is die hoop dat sommige Armageddon sal oorleef en ‘nooit sal sterf’ nie?

17 Kan ons volle vertroue in hierdie verstommende hoop hê? Beslis! Jesus het vir Martha gesê dat daar ’n tyd sal kom wanneer mense sal leef sonder dat hulle ooit sal sterf (Johannes 11:26). Daarbenewens is daar in hoofstuk 7 van die Openbaring wat Jesus vir Johannes gegee het, geopenbaar dat ’n groot menigte uit die groot verdrukking sal kom, as oorlewendes daarvan. Kan ons Jesus Christus en die geskiedkundige verslag oor die Vloed van Noag se dag glo? Ongetwyfeld! Daarbenewens is die Bybel vol verslae van geleenthede waartydens God sy knegte deur oordeelstydperke en die ondergang van nasies heen gered het. Moet ons in hierdie tyd van die einde enigsins minder van hom verwag? Is enigiets onmoontlik vir die Skepper?—Vergelyk Mattheüs 19:26.

18. Hoe kan ons seker wees van die lewe in Jehovah se regverdige nuwe wêreld?

18 Deur Jehovah nou getrou te dien, het ons die versekering van die ewige lewe in sy nuwe wêreld. Tallose miljoene sal deur die opstanding die lewe in daardie nuwe wêreld verkry. Tog sal miljoene lede van Jehovah se volk in ons dag—ja, ’n groot menigte wat niemand kan tel of beperk nie—die unieke voorreg hê om deur die groot verdrukking heen gered te word. En hulle sal nooit hoef te sterf nie.

Verduidelik asseblief

◻ Hoe is dit in Noag se dag voorafgeskadu dat party Armageddon sal oorleef?

◻ Wat moet ons doen sodat ons staande kan bly wanneer Jesus kom om Jehovah se oordeel te voltrek?

◻ Waarom kan ons sê dat dié wat deur Armageddon heen behoue bly ‘nooit hoef te sterwe nie’?

[Prent op bladsy 15]

Christene het Jerusalem se verdrukking oorleef

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel