Vrae van lesers
◼ Het eerste-eeuse Christene geglo dat die einde van hierdie goddelose stelsel in hulle lewe sou kom?
Jesus se volgelinge in die eerste eeu het met gretige afwagting na die einde uitgesien. Soos ons sal sien, het sommige van hulle gedink dat die einde voor die deur is. Hulle beskouing moes reggestel word. Maar dit is beslis nie sleg wanneer Christene, van die verlede of die hede, opreg glo dat die voorspelde einde ophande is en daagliks met daardie besef lewe nie.
Toe Jesus sy dissipels se vraag oor “die teken” van sy teenwoordigheid beantwoord het, het hy hulle gewaarsku: “Waak dan, omdat julle nie weet watter uur julle Here kom nie” (Mattheüs 24:3, 42). Sulke waaksaamheid behoort hulle gedrag te beïnvloed, want Christus het bygevoeg: “Pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie. . . . Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.”—Lukas 21:34-36.
Let daarop dat Jesus hierdie advies gegee het pas nadat hy die gebeure beskryf het wat “die teken” sou uitmaak. Hy het die apostels dus daarvan verwittig dat sekere dinge in die geskiedenis moes ontwikkel voor die einde kom. Nogtans wou hulle ’n paar weke later van die verrese Jesus weet: “Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?” Hy het geantwoord: “Dit kom julle nie toe om die tye en geleenthede te weet wat die Vader deur sy eie mag bepaal het nie.”—Handelinge 1:6, 7.
Ons kan hieruit sien dat Jesus se intiemste volgelinge so gretig was dat die einde moet kom dat hulle vergeet het wat hy hulle kort tevore vertel het oor die fisiese tekens wat gedurende sy teenwoordigheid vóór daardie einde moes verskyn.
Ons vind nog ’n aanduiding van hulle gretige afwagting in die apostel Paulus se briewe aan Christene in Thessalonicense. Omstreeks 50 G.J. het hy geskryf: “Maar oor die tye en geleenthede, broeders, het julle nie nodig dat aan julle geskryf word nie; want julle weet self baie goed dat die dag van die Here kom net soos ’n dief in die nag. Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons waak en nugter wees” (1 Thessalonicense 5:1, 2, 6). Sommige van daardie geesgesalfde Christene het hieruit die gevolgtrekking gemaak dat Jesus se teenwoordigheid (met Jehovah se dag waarin hy die goddeloses sal verdelg) daar en dan, onmiddellik, sou kom.
Maar hulle het hulle misgis. Trouens, Paulus het in ’n tweede brief aan hulle geskryf: “Ons vra julle, broeders, met die oog op die wederkoms van onse Jesus Christus en ons vereniging met Hom, om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie—deur gees of deur woord of deur brief wat van ons afkomstig sou wees—asof die dag van Christus al daar is. Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word.”—2 Thessalonicense 2:1-3.
Dit het nie beteken dat hulle Jesus se teenwoordigheid en die einde van die stelsel lig kon opneem nie. Met elke jaar wat verloop het, het Jesus se waarskuwing groter betekenis aangeneem: “Waak dan, omdat julle nie weet watter uur julle Here kom nie.”
Sowat vyf jaar nadat hy Tweede Thessalonicense geskryf het, het Paulus geskryf: “Die uur vir ons [is] reeds daar . . . om uit die slaap wakker te word; want die saligheid is nou nader by ons as toe ons gelowiges geword het. Die nag het ver gevorder en dit is amper dag. Laat ons dan die werke van die duisternis aflê en die wapens van die lig aangord” (Romeine 13:11, 12). Nog vyf jaar later het Paulus Hebreeuse Christene gemaan: “Julle het lydsaamheid nodig, om, nadat julle die wil van God gedoen het, die belofte te verkry. Want nog ’n klein tydjie, en Hy wat kom, sal kom en nie versuim nie” (Hebreërs 10:36, 37). En in die voorlaaste vers van Openbaring het die apostel Johannes geskryf: “Hy wat dit getuig, sê: Ja, Ek kom gou. Amen, ja kom, Here Jesus!”—Openbaring 22:20.
’n Christen van daardie tyd was gewis nie onredelik om te dink dat die einde in sy lewe kon kom nie. En as hy voor die einde weens ’n ongeluk of aan natuurlike oorsake gesterf het, sou hy gelewe het met die regmatige dringendheidsgevoel wat Jesus en die geïnspireerde Skrifte aangemoedig het.
Dit alles is des te meer op ons van toepassing, weens die laat uur waarin ons lewe. Ons kan nie ontken dat, om Paulus se woorde te gebruik, ‘ons saligheid nou nader is as toe die vroeë Christene gelowig geword het en toe ons self gelowig geword het nie. Die nag het ver gevorder en dit is beslis amper dag.’
Ons het in die geskiedenis sedert die Eerste Wêreldoorlog gesien hoe die fisiese getuienis hemelhoog ophoop, getuienis wat bewys dat ons aan die voleinding van die stelsel van dinge lewe. Pleks van gedurig te gis oor wanneer die einde sal kom, behoort ons ons besig te hou met die prediking van die goeie nuus, wat ons lewe en die lewens van baie ander kan red.—1 Timotheüs 4:16.
Ons het alle rede om te verwag dat hierdie prediking in ons tyd voltooi sal word. Beteken dit voor die maand, die jaar, die dekade, die eeu om is? Geen mens weet nie, want Jesus het gesê dat nie eens “die engele van die hemele” dit weet nie (Mattheüs 24:36). Buitendien hoef ons nie te weet nie; ons moet net aanhou doen wat die Here ons beveel het om te doen. Die belangrikste saak is dat God se wil en werk gedoen word en dat ons die volste aandeel daarin het. Sodoende ‘kan ons al hierdie dinge wat kom, ontvlug en voor die Seun van die mens staan’.—Lukas 21:36.