Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • jd hfst. 12 bl. 152-164
  • “Bly in afwagting daarvan”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Bly in afwagting daarvan”
  • Lewe met Jehovah se dag in gedagte
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “IN AFWAGTING” EN “GEREED”
  • “IN AFWAGTING” OF “VERSADIG”?
  • LEWE MET GEGRONDE VERWAGTINGE
  • Die dag van Jehovah—’n Lewensbelangrike tema
    Lewe met Jehovah se dag in gedagte
  • Profete wie se boodskappe ons kan raak
    Lewe met Jehovah se dag in gedagte
  • “Hou aan om my te verwag”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Jehovah—Die God wat voorspel en vervul
    Lewe met Jehovah se dag in gedagte
Sien nog
Lewe met Jehovah se dag in gedagte
jd hfst. 12 bl. 152-164

HOOFSTUK TWAALF

“Bly in afwagting daarvan”

1, 2. (a) Watter vrae kan jy jou afvra? (b) In watter situasie het party van die 12 profete gelewe, en watter houding het Miga gehad?

HOE lank wag jy al vir Jehovah se dag om die aarde van goddeloosheid te bevry? Hoe lank is jy bereid om daarvoor te wag? Watter gesindheid en dade wat daaruit voortspruit, sal intussen jou lewe kenmerk? Jou antwoorde sal ongetwyfeld verskil van dié van kerkgangers wat lewe net soos hulle wil en wag om hemel toe te gaan.

2 Terwyl jy daardie groot dag verwag, kan die boeke wat die 12 profete geskryf het, van groot hulp wees. Baie van daardie profete het gelewe toe ’n regterlike ingryping deur God op hande was. Byvoorbeeld, Miga het gedien toe Samaria se straf deur middel van die Assiriërs in 740 v.G.J. nader gekom het. (Sien die tydkaart op bladsye 20 en 21.) Later in die tydstroom, maar net so seker, was die dag van Jehovah teen Juda. Het Miga, aangesien hy nie geweet het presies wanneer God sou optree nie, tot die slotsom gekom dat hy maar net moet sit en niks doen nie, in die hoop dat God gou sou optree? Hier is Miga se woorde: “Wat my betref, na Jehovah sal ek op die uitkyk bly. Ek sal ’n wagtende houding teenoor die God van my redding inneem. My God sal my hoor” (Miga 7:7). Ja, Miga was oortuig van wat sou kom, en daarom was hy soos ’n op en wakker wag op ’n wagtoring.—2 Samuel 18:24-27; Miga 1:3, 4.

Prent op bladsy 153

Sefanja

3. Watter beskouing het Habakuk en Sefanja geopenbaar toe die vernietiging van Jerusalem voorgelê het?

3 Vind nou Sefanja en Habakuk op die tydkaart. Let op dat hierdie twee gedien het gedurende ’n tydperk nader aan die vernietiging van Jerusalem in 607 v.G.J. Hulle het nogtans nie geweet of God se voltrekking van oordeel op hande was of eers dekades later sou kom nie (Habakuk 1:2; Sefanja 1:7, 14-18). Sefanja het geskryf: “‘Hou aan om my te verwag’, is die woord van Jehovah, ‘tot die dag dat ek opstaan tot die buit, want my regterlike beslissing is om . . . my veroordeling oor hulle uit te stort, al my brandende toorn’” (Sefanja 3:8). En wat van Habakuk, wat kort ná Sefanja gelewe het? Habakuk het geskryf: “Die visioen is nog vir die vasgestelde tyd, en dit beweeg hygend voort na die einde, en dit sal geen leuen vertel nie. Al sou dit talm, bly in afwagting daarvan; want dit sal vir seker uitkom. Dit sal nie laat wees nie.”—Habakuk 2:3.

4. Teen watter agtergrond het Sefanja en Habakuk geprofeteer, en met watter houding?

4 Die agtergrond van die verklarings in Sefanja 3:8 en Habakuk 2:3 is insiggewend. Gedurende ’n tyd toe sekere Jode gesê het: “Jehovah sal geen goed doen nie en hy sal geen kwaad doen nie”, het Sefanja “die dag van Jehovah se toorn” verkondig. Op daardie dag sou God se misnoeë oor vyandelike nasies sowel as eiesinnige Jode uitgestort word (Sefanja 1:4, 12; 2:2, 4, 13; 3:3, 4). Dink jy dat Sefanja God se veroordeling en toorn gevrees het? Nee, hy moes dit eerder aanhou “verwag”. ‘Wat van Habakuk?’ wonder jy dalk. Hy moes ook ‘in afwagting daarvan bly’. Jy is reg as jy tot die slotsom kom dat Sefanja en Habakuk nie ongeërg was oor wat voorgelê het en voortgegaan het asof hulle gedink het dat dinge nooit sou verander nie (Habakuk 3:16; 2 Petrus 3:4). Maar soos gemeld is, is ’n belangrike punt wat hierdie twee profete in gemeen gehad het, dat albei ‘in afwagting moes bly’. En dít weet jy: Wat daardie twee profete verwag het, het in 607 v.G.J. ’n geskiedkundige feit geword. Dat hulle “in afwagting” gebly het, was dus die verstandige weg.

Prent op bladsy 154

“‘Hou aan om my te verwag’, is die woord van Jehovah.”—Sefanja 3:8

5, 6. Watter houding moet ons hê met die oog op waar ons in die vervulling van God se voorneme is?

5 Jy kan net so seker wees dat “die dag van Jehovah se toorn” teen die teenswoordige stelsel van dinge sal kom; dit sal ’n feit wees, werklik en betroubaar. Jy twyfel sekerlik nie daaroor nie. Soos Sefanja en Habakuk weet jy nie presies wanneer daardie dag sal kom nie (Markus 13:32). Maar dit sál kom, en die vervulling van Bybelprofesieë in jou tyd is ’n sterk aanduiding dat dit binnekort sal kom. Wat Jehovah vir daardie profete beklemtoon het, is dus op jou van toepassing—“Bly in afwagting daarvan.” En hou hierdie absolute waarheid in gedagte: Ons God is die enigste God wat “optree vir die een wat in afwagting van hom bly”.—Jesaja 64:4.

6 Jy kan die regte afwagtende houding openbaar en deur jou dade toon dat jy daarvan oortuig is dat “die dag van Jehovah se toorn” presies op tyd sal kom. Die feit dat jy hiervan oortuig is en jou oortuiging met gepaste dade laat gepaardgaan, stem ooreen met iets wat Jesus gesê het. Hy het die apostels en alle gesalfde Christene aangespoor: “Laat julle lendene omgord wees en julle lampe brand, en wees julle soos mense wat op hulle heer wag . . . Gelukkig is daardie slawe wat die heer by sy aankoms wakend vind! Voorwaar, ek sê vir julle: Hy sal hom omgord en hulle aan tafel laat gaan en sal nader kom en hulle bedien” (Lukas 12:35-37). Ja, ’n gepaste wagtende houding openbaar die vertroue dat Jehovah se groot dag nie ’n oomblik later sal kom as wat hy hom voorgeneem het nie.

“IN AFWAGTING” EN “GEREED”

7, 8. (a) Wat het God se geduld tot gevolg gehad? (b) Watter gesindheid spoor Petrus ons aan om te openbaar?

7 God se hedendaagse knegte was in afwagting voordat God se Koninkryk in 1914 in die hemel opgerig is, en hulle het sedertdien in afwagting gebly. Hulle afwagting het beslis nie beteken dat hulle ledig was nie. Inteendeel, hulle het bedrywig gebly in hulle godgegewe getuieniswerk (Handelinge 1:8). Maar dink hieroor na: As die groot dag van Jehovah destyds in 1914 gekom het, wat sou jou situasie gewees het? Al het dit ook 40 jaar gelede gekom, was jy toe ’n persoon van “heilige gedrag en dade van godvrugtige toegewydheid”? (2 Petrus 3:11). En wat van jou familie wat Getuies is of jou intieme vriende in die gemeente? Dit is duidelik dat hierdie tydperk van afwagting vir jou en talle soos jy die weg tot redding geopen het, soos 2 Petrus 3:9 toon. Die feit dat Jehovah nie die hele goddelose stelsel vernietig het onmiddellik nadat die Koninkryk opgerig is nie, het baie mense die geleentheid gegee om berou te toon, net soos die Nineviete berou kon toon en gespaar is. Ons het almal rede om dit eens te wees met die apostel Petrus se woorde: “Beskou die geduld van ons Here as redding” (2 Petrus 3:15). En hierdie teenswoordige tydperk gee mense steeds die geleentheid om berou te toon of veranderinge in hulle lewe en denke aan te bring.

8 ’n Christen kan weliswaar met bloot oppervlakkige belangstelling dink aan die situasie wat in die dae van Miga, Sefanja en Habakuk bestaan het. “Dit was immers baie lank gelede!” sê hy dalk. Maar watter lesse is daar vir ons? Ons het reeds Petrus se raad gemeld dat Christene persone van “heilige gedrag en dade van godvrugtige toegewydheid” moet wees. Onmiddellik ná hierdie woorde het Petrus ’n ander belangrike punt beklemtoon—die feit dat ons “die teenwoordigheid van die dag van Jehovah [moet] verwag en goed in gedagte [moet] hou” (2 Petrus 3:11, 12). Ons moet dus daardie dag “goed in gedagte hou”, “in afwagting daarvan” wees.

9. Waarom is dit vir ons gepas om ‘op die uitkyk te bly’?

9 Hetsy ons Jehovah nog net ’n paar jaar dien of al baie dekades lank, ‘bly ons op die uitkyk en toon ons dieselfde wagtende houding’ as Miga? (Romeine 13:11). Dit is so dat ons as mense moontlik baie graag wil weet wanneer die einde gaan kom en hoeveel tyd oor is voor dit gebeur. Maar ons kan eenvoudig nie weet nie. Onthou Jesus se woorde: “As die huisheer geweet het in watter waak die dief kom, sou hy wakker gebly het en nie toegelaat het dat daar by sy huis ingebreek word nie. Daarom moet julle ook gereed wees, want die Seun van die mens kom op ’n uur waarvan julle dit nie dink nie.”—Matteus 24:43, 44.

10. Watter lesse leer jy uit die apostel Johannes se lewe en beskouing?

10 Wat Jesus gesê het, klink baie soos wat Miga, Sefanja en Habakuk geskryf het. Maar Jesus het die punt gestel, nie vir mense van die ou tyd nie, maar vir sy volgelinge, vir ons. Talle toegewyde Christene het inderdaad Jesus se raad toegepas; hulle ‘was gereed’ en het in afwagting gebly. Die apostel Johannes was ’n goeie voorbeeld in hierdie opsig. Hy was een van die vier op die Olyfberg wat vir Jesus oor die voleinding van die stelsel van dinge gevra het (Matteus 24:3; Markus 13:3, 4). Dit was in die jaar 33 G.J., maar Johannes kon nie na ’n tydkaart kyk om vas te stel presies hoe gou dinge sou gebeur nie. Stel jou nou voor dat ongeveer 60 jaar verloop het. Johannes het oud geword, maar hy het nie moeg geword en sy gevoel van afwagting verloor nie. Inteendeel, toe hy Jesus hoor sê het: “Ja; ek kom gou”, het Johannes geantwoord: “Amen! Kom, Here Jesus.” Johannes was nie spyt oor hoe hy sy jare deurgebring het nie. Hy was daarvan oortuig dat Jehovah, wanneer Hy oordeel voltrek, ook elkeen volgens sy werke sal beloon (Openbaring 22:12, 20). Ongeag wanneer daardie oordeel sou aanbreek, Johannes wou “gereed” wees, soos die Here Jesus gemaan het. Is dit hoe jy voel?

“IN AFWAGTING” OF “VERSADIG”?

11. Hoe het mense in Miga en Hosea se dag van hierdie manne verskil?

11 Kyk na nog ’n les wat ons kan leer by die profete wat in ’n tyd gelewe het toe die voltrekking van Jehovah se oordele, eers teen Israel en toe teen Juda, nader gekom het. Terwyl Miga ‘op die uitkyk gebly en ’n wagtende houding ingeneem het’, het baie om hom dit nie gedoen nie. Hulle ‘het gehaat wat goed is en liefgehad wat sleg is’. Miga het gewaarsku dat hulle, as hulle nie verander nie, ‘tot Jehovah om hulp kon roep, maar dat hy hulle nie sou antwoord nie’ (Miga 3:2, 4; 7:7). Miga se tydgenoot Hosea het landboutaal gebruik toe hy die mense in die noordelike koninkryk van Israel aangespoor het: “Saai vir julle saad in regverdigheid; maai in ooreenstemming met liefderyke goedhartigheid. Bewerk vir julle bewerkbare grond, wanneer daar tyd is om Jehovah te soek.” Die meeste het nogtans nie geluister nie. Hulle “het goddeloosheid geploeg”; gevolglik het hulle onregverdigheid gemaai (Hosea 10:12, 13). Hulle het verdorwe gebruike vergoelik of beoefen en ‘op hulle eie weg vertrou’ eerder as op Jehovah se weg. Party wonder dalk vandag: ‘Hoe kon dit met ware aanbidders gebeur wat daar in die Beloofde Land gewoon het?’ Hosea het getoon dat die kern van hulle probleem ’n gesindheid was soos die gesindheid waarteen ons moet waak as ons in afwagting van Jehovah se groot dag wil bly. Dít is om gemaklik en “versadig” te word.

12. (a) Watter ongewenste verwikkeling onder die Israeliete voor 740 v.G.J. het Hosea geïdentifiseer? (b) Watter dinge het getoon dat die volk “versadig” geword het?

12 Nadat God se volk die Beloofde Land, ’n land wat oorgeloop het van melk en heuning, binnegegaan het, het hulle groot voorspoed geniet. Hoe het hulle gereageer? Hosea het Jehovah se woorde oorgedra: “Ooreenkomstig hulle weiding het hulle ook versadig geword. Hulle het versadig geword, en hulle hart het hom begin verhef. Daarom het hulle my vergeet” (Hosea 13:6). God het sy volk eeue tevore oor hierdie einste gevaar gewaarsku (Deuteronomium 8:11-14; 32:15). Nietemin het die Israeliete teen die dae van Hosea en Amos in hierdie strik geval—“hulle het versadig geword”. Amos gee ons spesifieke besonderhede. Hy sê dat baie van die mense weelderige meubels in hulle huise gehad het, en party gesinne het selfs ’n tweede huis gehad. Hulle het die allerbeste kos gehad, goeie wyn uit spesiale houers gedrink en “die keurigste olies” aan hulle vel gesmeer, moontlik as welriekende skoonheidsmiddels (Amos 3:12, 15; 6:4-6). Jy besef waarskynlik dat nie een van hierdie aspekte van die lewe op sigself verkeerd was nie, maar dit was ongetwyfeld verkeerd om te veel waarde daaraan te heg.

13. Watter basiese tekortkoming was daar onder die Israeliete, hetsy hulle voorspoedig was of nie?

13 Maar nie almal in die noordelike koninkryk het voorspoedig en “versadig” geword nie. Party was arm en moes sukkel om ’n bestaan te maak en hulle gesin te voed (Amos 2:6; 4:1; 8:4-6). Dit is ook vandag die geval in baie dele van die aarde. Was God se raad in Hosea 13:6 selfs op die armes in eertydse Israel van toepassing, en is dit vandag van toepassing? Ja, beslis. Jehovah het getoon dat ’n ware aanbidder, hetsy hy voorspoedig is of nie, daarteen moet waak dat hy so behep raak met die materiële aspekte van die lewe dat hy ‘God vergeet’.—Lukas 12:22-30.

14. Waarom is dit gepas dat ons nadink oor ons gevoel van afwagting?

14 Vanuit ons posisie in tyd en met soveel Bybelprofesieë wat nou al vervul is, het ons verdere rede om waaksaam, gereed, in afwagting te wees. Maar sê nou ons is al ’n hele ruk in afwagting, miskien dekades lank? In die verlede het ons ons in die bediening ingespan en het ons persoonlike besluite ons oortuiging weerspieël dat Jehovah se dag nie ver is nie. Maar dit het nog nie gekom nie. Bly ons nog steeds in afwagting? Om dit heeltemal persoonlik te maak, kan jy jou afvra: ‘Is my gevoel van afwagting nog sterk of het dit aansienlik afgeneem?’—Openbaring 2:4.

15. Wat kan aandui dat ons gevoel van afwagting moontlik afgeneem het?

15 Ons kan ons gevoel van afwagting op baie maniere meet, maar kom ons gebruik die einste punte wat voorkom in Amos se beskrywing van mense van sy dag wat “versadig geword” het. Terwyl ons dit ondersoek, kan ons ontleed of ons in ons ’n neiging bespeur om ‘versadig te word’. ’n Christen wat deur die jare heen sy gevoel van afwagting in sy denke en dade weerspieël het, begin dalk daarna strewe om ’n luukser huis of motor, uiters modieuse klere, duur skoonheidsmiddels en juweliersware of keurwyn en ryk kos te hê. Die Bybel sê nêrens dat ons askete moet wees wat van alle redelike genot beroof is nie. Die man wat hard werk, moet “eet en inderdaad drink en die goeie sien vir al sy harde werk” (Prediker 3:13). Maar die gevaar bestaan dat kos, drank en persoonlike voorkoms vir ’n Christen al hoe belangriker kan word (1 Petrus 3:3). Jesus het getoon dat die prioriteite van party gesalfdes in Klein-Asië verander het, wat bewys dat dit ’n gevaar vir Christene is (Openbaring 3:14-17). Het iets soortgelyks in ons geval gebeur? Word ons “versadig”, miskien deur behep te raak met materiële dinge? Het ons gevoel van afwagting afgeneem?—Romeine 8:5-8.

16. Waarom sal dit nie in ons kinders se belang wees om hulle aan te spoor om ’n ‘versadigde’ lewenswyse na te streef nie?

16 ’n Afname in ons gevoel van afwagting van Jehovah se groot dag kan blyk uit die raad wat ons aan ons kinders en aan ander gee. ’n Christen kan by homself redeneer: ‘Ek het besluit om opvoedkundige of loopbaanmoontlikhede prys te gee omdat ek gevoel het dat die einde baie naby is. Nou wil ek seker maak dat my kinders die opleiding ontvang wat hulle in staat sal stel om ’n gemaklike lewe te lei.’ Miskien het party in Hosea se dag soortgelyke gedagtes gekoester. As dit die geval was, sou hulle ouerlike raad wat gedraai het om ’n ‘versadigde’ lewenswyse, in hulle kinders se belang gewees het? En as kinders destyds wel ’n ‘versadigde’, of gemaklike, lewenswyse gevolg het, wat sou hulle situasie in 740 v.G.J. gewees het toe Samaria deur die Assiriërs verower is?—Hosea 13:16; Sefanja 1:12, 13.

Prent op bladsy 160

Watter soort lewenswyse spoor jy jou kinders aan om na te streef?

LEWE MET GEGRONDE VERWAGTINGE

17. In watter opsig moet ons Miga navolg?

17 Soos ware aanbidders van die ou tyd, kan ons seker wees dat wat God belowe het, op tyd, op sy bestemde tyd, vervul sal word (Josua 23:14). Dit was verstandig van die profeet Miga om ’n wagtende houding teenoor die God van sy redding in te neem. Met ons geskiedkundige perspektief kan ons na sy tydperk kyk en sien hoe na aan die verowering van Samaria Miga gelewe het. Wat van ons en die tyd waarin ons lewe? Sal ’n terugblik op ons lewe duidelik toon dat ons verstandige keuses gemaak het, soos dié oor ’n sekulêre loopbaan, ’n lewenstyl en die voltydse bediening? Ons weet weliswaar nie wanneer “daardie dag en uur” sal aanbreek nie (Matteus 24:36-42). Maar dit ly geen twyfel dat ons verstandig optree as ons ’n gesindheid aankweek soos dié van Miga en dienooreenkomstig handel nie. En wanneer Miga beloon word met lewe in ’n herstelde aardse paradys, hoe bly sal hy tog wees om te weet dat ons baat gevind het by sy profetiese boodskap en getroue voorbeeld! Ons sal dan ’n lewende bewys wees dat Jehovah die God van redding is!

18, 19. (a) Op watter komende rampspoed het Obadja gewys? (b) Hoe het Obadja vir Israel hoop in die vooruitsig gestel?

18 Ons vertroue het ’n vaste grondslag. Dink byvoorbeeld aan die kort profetiese boek Obadja. Dit het oor eertydse Edom gehandel en Jehovah se oordeel uiteengesit teen daardie volk wat hulle “broer”, Israel, mishandel het (Obadja 12). Die voorspelde verwoesting het inderdaad plaasgevind, soos ons in Hoofstuk 10 van hierdie boek bespreek het. Die Babiloniërs onder Nabonidus het Edom in die middel van die sesde eeu v.G.J. verower, en Edom het ophou bestaan as ’n nasie. Daar is egter nog ’n belangrike gedagte in Obadja se boodskap, ’n gedagte wat verband hou met die feit dat ons in afwagting van Jehovah se groot dag moet bly.

19 Jy weet dat die vyandelike nasie (Babilon) wat Edom verwoes het, ook God se straf oor sy ontroue volk voltrek het. In 607 v.G.J. het die Babiloniërs Jerusalem vernietig en die Jode in ballingskap weggevoer. Die land het toe ’n verlate woesteny geword. Was dit die einde van die saak? Nee. Deur Obadja het Jehovah voorspel dat die Israeliete weer hulle land in besit sou neem. In Obadja 17 kan jy hierdie bemoedigende belofte lees: “Op die berg Sion sal dié wees wat ontkom, en dit sal iets heiligs word; en die huis van Jakob sal hulle besittings in besit neem.”

20, 21. Waarom moet Obadja 17 vir ons bemoedigend wees?

20 Die geskiedenis bevestig dat wat Jehovah deur Obadja gesê het, wel plaasgevind het. God het dit voorspel, en dit het gebeur. Duisende ballinge van Juda en Israel het in 537 v.G.J. teruggekeer. Met Jehovah se seën het die teruggekeerdes ’n woesteny in ’n ware paradys verander. Jy het in Jesaja 11:6-9 en 35:1-7 profesieë van daardie wonderlike verandering gelees. Van die allergrootste belang is dat ware aanbidding herstel is, met ’n herboude tempel van Jehovah as sentrum daarvan. Obadja 17 kan dus vir ons dien as nog ’n bewys dat Jehovah se beloftes betroubaar is. Dit word altyd vervul.

21 Obadja het sy profesie met hierdie nadruklike woorde afgesluit: “Die koningskap sal Jehovah s’n word” (Obadja 21). Met vertroue hierin verwag jy die glorieryke tyd wanneer Jehovah deur Jesus Christus sal heers sonder enige teenstand in die ganse heelal, insluitende ons planeet. Hetsy jy nog net ’n kort rukkie of al baie dekades lank in afwagting is van Jehovah se groot dag—met die gevolglike seëninge—jy kan absoluut seker wees dat hierdie Bybelse verwagtinge verwesenlik gaan word.

Prent op bladsy 163

Ons dien Jehovah vreugdevol met die ewigheid in die vooruitsig

22. Waarom wil jy hê dat jou uitkyk dié van Habakuk 2:3 en Miga 4:5 moet weerspieël?

22 Dit is dan gepas om Habakuk se versekering, wat beslis in ons tyd van toepassing is, te herhaal: “Die visioen is nog vir die vasgestelde tyd, en dit beweeg hygend voort na die einde, en dit sal geen leuen vertel nie. Al sou dit talm, bly in afwagting daarvan; want dit sal vir seker uitkom. Dit sal nie laat wees nie” (Habakuk 2:3). Al lyk dit ook uit ’n menslike standpunt of Jehovah se groot dag talm, sy dag sal vir seker op tyd kom. Jehovah belowe ons dit. Gevolglik kan diegene wat God al jare lank dien en diegene wat hom onlangs begin aanbid het, saam vooruitgaan met vertroue soos dié wat in Miga 4:5 uitgespreek word: “Wat ons betref, ons sal in die naam van Jehovah ons God wandel tot onbepaalde tyd, ja, vir ewig.”

PUNTE VIR BEPEINSING

  • Watter hoofgedagte oor jou gesindheid leer jy uit Miga 7:7, Habakuk 2:3 en Sefanja 3:8?

  • Waarom is die raad in Jakobus 5:10, 11 vir jou belangrik en nuttig?

  • Hoe kan jy daarby baat vind as jy oor 2 Petrus 3:9, 11, 12, 14 peins?

HOE SAL JY BAAT VIND?

  • Hetsy jy ryk of arm is, watter lesse moet jy uit Amos 3:15; 5:11 en Haggai 1:4-7 leer?

  • Hoe bots die gedagte om versadig te wees met die gedagte om in afwagting te bly?—Habakuk 3:17, 18.

  • Waarom is dit noodsaaklik dat jy ’n sterk gevoel van afwagting behou?—Sefanja 1:12-15.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel