Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • re hfst. 29 bl. 198-205
  • Die triomfantlike nuwe lied word gesing

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die triomfantlike nuwe lied word gesing
  • Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hulle sing as ’t ware ’n nuwe lied
  • Volgelinge van die Lam
  • Die bekendmaking van ewige goeie nuus
  • Wie gaan hemel toe?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Openbaring – Wat dit vir jou toekoms beteken
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
  • ’n Talryke groot menigte
    Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
Sien nog
Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
re hfst. 29 bl. 198-205

Hoofstuk 29

Die triomfantlike nuwe lied word gesing

Visioen 9—Openbaring 14:1-20

Onderwerp: Die 144 000 is saam met die Lam op die berg Sion; aankondigings deur engele weerklink deur die aarde; oeste word ingesamel

Tyd van vervulling: 1914 tot die groot verdrukking

1. Wat het ons reeds in Openbaring hoofstukke 7, 12 en 13 geleer, en wat gaan ons nou leer?

HOE verkwikkend is dit tog om aandag te gee aan Johannes se volgende visioen! In teenstelling met die draak se groteske dierlike organisasies sien ons nou Jehovah se lojale knegte en hulle bedrywighede gedurende die dag van die Here (Openbaring 1:10). Openbaring 7:1, 3 het ons reeds meegedeel dat die vier winde van vernietiging teruggehou word totdat al 144 000 gesalfde slawe verseël is. Openbaring 12:17 het bekend gemaak dat hierdie “oorblywendes van [die vrou se] saad” gedurende daardie tyd die spesiale teiken van Satan, die draak, word. En Openbaring hoofstuk 13 het ’n treffende beskrywing gegee van die politieke organisasies wat Satan op die aarde gestig het om Jehovah se getroue knegte aan hewige druk en wrede vervolging te onderwerp. Maar hierdie aartsvyand kan nie God se voorneme verydel nie! Ons gaan nou leer dat al 144 000 lede triomfantlik ingesamel word, ondanks Satan se vyandige bedrywighede.

2. Watter voorskou van ’n gelukkige einde gee Johannes ons in Openbaring 14:1, en wie is die Lam?

2 Johannes, en saam met hom die Johannes-klas van vandag, ontvang ’n voorskou van hierdie gelukkige uitslag: “En ek het gesien, en kyk! die Lam het op die berg Sion gestaan, en saam met hom honderd-vier-en-veertigduisend met sy naam en die naam van sy Vader op hulle voorkoppe geskrywe” (Openbaring 14:1). Soos ons gesien het, is hierdie Lam dieselfde as die Migael wat die hemele gereinig het deur die Duiwel en sy demone daaruit te werp. Hy is die Migael wat volgens Daniël se beskrywing “ten behoewe van die kinders van [God se] volk staan” terwyl hy hom gereedmaak om ‘op te staan’ en Jehovah se regverdige oordele te voltrek (Daniël 12:1; Openbaring 12:7, 9). Hierdie selfopofferende Lam van God staan sedert 1914 as die Messiaanse Koning op die berg Sion.

3. Wat is “die berg Sion” waarop die Lam en die 144 000 ‘staan’?

3 Dit is net soos Jehovah voorspel het: “Ek, ja ek, het my koning ingehuldig op Sion, my heilige berg” (Psalm 2:6; 110:2). Dit verwys nie meer na die aardse berg Sion, die geografiese ligging van aardse Jerusalem, die stad waarin mensekonings in die geslag van Dawid regeer het nie (1 Kronieke 11:4-7; 2 Kronieke 5:2). Nee, want Jesus is ná sy dood en opstanding in 33 G.J. as ’n fondamenthoeksteen in posisie geplaas op die hemelse berg Sion, die hemelse plek waar Jehovah besluit het om die “stad van die lewende God, hemelse Jerusalem,” te vestig. “Die berg Sion” stel dus hier die verhewe posisie voor van Jesus en sy mede-erfgename, wat hemelse Jerusalem, dit wil sê die Koninkryk, uitmaak (Hebreërs 12:22, 28; Efesiërs 3:6). Dit is die glorieryke koninklike situasie waartoe Jehovah hulle gedurende die dag van die Here verhef. Deur die eeue heen het gesalfde Christene, as “lewende stene”, gretig daarna uitgesien om op hierdie hemelse berg Sion te staan, verenig met die verheerlikte Here Jesus Christus in sy majestueuse Koninkryk.—1 Petrus 2:4-6; Lukas 22:28-30; Johannes 14:2, 3.

4. Hoe staan al die lede van die 144 000 op die berg Sion?

4 Johannes sien nie net Jesus nie, maar die volledige groep van die 144 000 mede-erfgename van die hemelse Koninkryk op die berg Sion staan. In die tyd wat deur die visioen voorgestel word, is baie lede van die 144 000, maar nie almal nie, reeds in die hemel. Later in dieselfde visioen vind Johannes uit dat party van die heiliges nog moet volhard en getrou moet sterf (Openbaring 14:12, 13). Party lede van die 144 000 is dus klaarblyklik nog op die aarde. Hoe kan Johannes hulle almal dan saam met Jesus op die berg Sion sien staan?a In die sin dat hulle nou, as lede van die gemeente van gesalfde Christene, “’n berg Sion . . . en ’n stad van die lewende God, hemelse Jerusalem,” genader het (Hebreërs 12:22). Soos Paulus toe hy nog op die aarde was, is hulle reeds—in geestelike sin—opgewek om in hemelse plekke in eenheid met Christus Jesus te wees (Efesiërs 2:5, 6). Daarbenewens het hulle in 1919 die uitnodiging: “Kom op hierheen” aanvaar en in figuurlike sin “in die wolk tot in die hemel opgegaan” (Openbaring 11:12). Met die oog op hierdie tekste kan ons sien dat al die lede van die 144 000—geestelik gesproke—saam met Jesus Christus op die berg Sion is.

5. Wie se name is op die voorkoppe van die 144 000 geskryf, en wat dui hierdie name aan?

5 Die 144 000 het niks te doen met die aanbidders van die wilde dier, wat met die simboliese getal 666 gemerk is nie (Openbaring 13:15-18). Hierdie lojales het eerder die naam van God en van die Lam op hulle voorkoppe. Johannes, ’n Jood, het God se naam ongetwyfeld in Hebreeuse letters, יהוה, gesien.b Aangesien die naam van Jesus se Vader simbolies op hierdie verseëldes se voorkoppe geskryf is, maak hulle aan almal bekend dat hulle Jehovah se getuies, Sy slawe, is (Openbaring 3:12). Die feit dat hulle ook Jesus se naam op hulle voorkoppe het, dui aan dat hulle erken dat hy hulle besit. Hy is hulle verloofde “man”, en hulle is sy aanstaande “bruid”, “’n nuwe skepping” wat God dien met hemelse lewe in die vooruitsig (Efesiërs 5:22-24; Openbaring 21:2, 9; 2 Korintiërs 5:17). Hulle intieme verhouding met Jehovah en Jesus Christus beïnvloed al hulle gedagtes en dade.

Hulle sing as ’t ware ’n nuwe lied

6. Watter sang hoor Johannes, en hoe beskryf hy dit?

6 In ooreenstemming hiermee vertel Johannes: “En ek het ’n geluid uit die hemel gehoor soos die geluid van baie waters en soos die geluid van harde donder; en die geluid wat ek gehoor het, was soos van sangers wat hulleself op die harp begelei en op hulle harpe speel. En hulle sing as ’t ware ’n nuwe lied voor die troon en voor die vier lewende wesens en die ouderlinge; en niemand kon daardie lied leer nie, behalwe die honderd-vier-en-veertigduisend, wat van die aarde gekoop is” (Openbaring 14:2, 3). Dit is geen wonder dat Johannes aan dreunende watervalle en weergalmende donderslae dink wanneer hy 144 000 stemme in een melodieuse koor hoor saamsing nie. Hoe lieflik is daardie suiwer harpbegeleiding tog! (Psalm 81:2). Watter sanggroep op aarde kan ooit die grootsheid van hierdie luisterryke koor ewenaar?

7. (a) Wat is die nuwe lied van Openbaring 14:3? (b) Hoe is die lied van Psalm 149:1 in ons dag nuut?

7 En wat is hierdie “nuwe lied”? Soos ons in die bespreking van Openbaring 5:9, 10 opgemerk het, hou die lied verband met Jehovah se Koninkryksvoornemens en sy wonderlike voorsiening, deur Jesus Christus, om geestelike Israel “’n koninkryk en priesters vir ons God” te maak. Dit is ’n loflied aan Jehovah wat die nuwe dinge bekend maak wat hy deur middel van en ten behoewe van die “Israel van God” tot stand bring (Galasiërs 6:16). Lede van hierdie geestelike Israel gee gehoor aan die psalmis se uitnodiging: “Loof Jah! Sing ’n nuwe lied tot Jehovah, sy lof in die gemeente van lojales. Laat Israel hom verbly in sy Grootse Maker, die kinders van Sion—laat hulle bly wees in hulle Koning” (Psalm 149:1, 2). Hierdie woorde is weliswaar eeue gelede geskryf, maar hulle is in ons dag met nuwe begrip gesing. In 1914 is die Messiaanse Koninkryk gebore (Openbaring 12:10). In 1919 het Jehovah se volk op die aarde “die woord van die koninkryk” met hernieude ywer begin verkondig (Matteus 13:19). Aangespoor deur die jaarteks vir 1919 (Jesaja 54:17) en aangemoedig deur hulle herstel tot ’n geestelike paradys, het hulle in daardie jaar begin om ‘met musiek in hulle harte tot Jehovah te sing’.—Efesiërs 5:19.

8. Waarom kan net die 144 000 die nuwe lied van Openbaring 14:3 leer?

8 Maar waarom kan net die 144 000 die lied leer wat in Openbaring 14:3 gemeld word? Omdat dit verband hou met hulle ervarings as gekose erfgename van God se Koninkryk. Hulle alleen word as kinders van God aangeneem en met heilige gees gesalf. Hulle alleen word van die aarde gekoop om deel te word van hierdie hemelse Koninkryk, en hulle alleen “sal priesters . . . wees” en duisend jaar lank saam met Jesus Christus “as konings heers” om die mensdom tot volmaaktheid te bring. Hulle alleen word gesien waar hulle “as ’t ware ’n nuwe lied” in die teenwoordigheid van Jehovah sing.c Hierdie unieke ervarings en vooruitsigte gee hulle ’n besondere waardering vir die Koninkryk en stel hulle in staat om daarvan te sing op ’n manier wat niemand anders kan nie.—Openbaring 20:6; Kolossense 1:13; 1 Tessalonisense 2:11, 12.

9. Hoe het die groot menigte op die sang van die gesalfdes gereageer, en aan watter aansporing het hulle sodoende gehoor gegee?

9 En tog luister ander na hulle sang en reageer daarop. Sedert 1935 het ’n toenemende groot menigte ander skape hulle triomfantlike lied gehoor en is hulle beweeg om God se Koninkryk saam met hulle bekend te maak (Johannes 10:16; Openbaring 7:9). Hierdie nuwelinge kan weliswaar nie leer om presies dieselfde nuwe lied as die toekomstige heersers van God se Koninkryk te sing nie. Maar hulle sing ook ’n melodieuse loflied aan Jehovah—’n lied wat Jehovah loof vir die nuwe dinge wat hy tot stand bring. Hulle gee sodoende gehoor aan die psalmis se aansporing: “Sing tot Jehovah ’n nuwe lied. Sing tot Jehovah, alle bewoners van die aarde. Sing tot Jehovah, loof sy naam. Verkondig van dag tot dag die goeie nuus van redding deur hom. Maak onder die nasies sy heerlikheid bekend, onder al die volke sy wonderlike werke. Skryf aan Jehovah toe, o families van die volke, skryf aan Jehovah heerlikheid en sterkte toe. Sê onder die nasies: ‘Jehovah het koning geword.’”—Psalm 96:1-3, 7, 10; 98:1-9.

10. Hoe kan die 144 000 “voor” die simboliese 24 ouderlinge sing?

10 Hoe kan die 144 000 “voor” die ouderlinge sing, aangesien die 24 ouderlinge die 144 000 in hulle glorieryke hemelse posisie is? Vroeg in die dag van die Here is dié “wat dood [was] in eenheid met Christus”, as geesskepsele opgewek. Getroue gesalfde Christene wat oorwin het, is dus nou in die hemel en verrig in simboliese sin werk vergelykbaar met dié van 24 afdelings van priesterlike ouderlinge. Hulle word ingesluit in die visioen van Jehovah se hemelse organisasie (1 Tessalonisense 4:15, 16; 1 Kronieke 24:1-18; Openbaring 4:4; 6:11). Die oorblyfsel van die 144 000 wat nog op die aarde is, sing derhalwe die nuwe lied voor, of voor die aangesig van, hulle verrese broers in die hemel.

11. Waarom word daar na die gesalfde oorwinnaars as die 24 ouderlinge sowel as die 144 000 verwys?

11 Op hierdie stadium kan ons ook vra: Waarom word daar na hierdie gesalfde oorwinnaars as die simboliese 24 ouderlinge sowel as die 144 000 verwys? Dit is omdat Openbaring hierdie een groep uit twee verskillende oogpunte beskou. Die 24 ouderlinge word altyd in hulle uiteindelike posisie rondom Jehovah se troon uitgebeeld, as ingehuldigde konings en priesters in die hemele. Hulle simboliseer die hele groep van 144 000 in hulle hemelse posisie, hoewel ’n klein oorblyfsel van hulle tans nog op die aarde is (Openbaring 4:4, 10; 5:5-14; 7:11-13; 11:16-18). Maar Openbaring hoofstuk 7 vestig die aandag op die 144 000 as ’n groep wat uit die mensdom voortgebring is, en dit beklemtoon Jehovah se groot voorneme om die volledige getal individuele geestelike Israeliete te verseël en om aan ’n ongetelde groot menigte redding te gee. Openbaring hoofstuk 14 gee ’n beskrywing wat bevestig dat die hele Koninkryksklas van 144 000 individuele oorwinnaars saam met die Lam op die berg Sion vergader sal wees. Die vereistes waaraan voldoen moet word om onder die 144 000 te tel, word ook bekend gemaak, soos ons nou sal sien.d

Volgelinge van die Lam

12. (a) Hoe sit Johannes sy beskrywing van die 144 000 voort? (b) In watter sin word die 144 000 maagde genoem?

12 Johannes sit sy beskrywing van die 144 000 wat “van die aarde gekoop is”, voort en sê vir ons: “Dit is hulle wat hulle nie met vroue verontreinig het nie; trouens, hulle is maagde. Dit is hulle wat die Lam bly volg ongeag waar hy gaan. Hulle is uit die mensdom gekoop as eerstelinge vir God en vir die Lam, en geen leuen is in hulle mond gevind nie; hulle is sonder smet” (Openbaring 14:4, 5). Die feit dat die 144 000 “maagde” is, beteken nie dat lede van hierdie klas noodwendig in die vlees ongetroud is nie. Die apostel Paulus het aan Christene met ’n hemelse roeping geskryf dat, hoewel dit vir ’n Christen voordele inhou om ongetroud te bly, dit onder sekere omstandighede verkieslik is om te trou (1 Korintiërs 7:1, 2, 36, 37). Hierdie klas word deur geestelike maagdelikheid gekenmerk. Hulle het geestelike egbreuk met wêreldse politiek en met valse godsdiens vermy (Jakobus 4:4; Openbaring 17:5). As die verloofde bruid van Christus het hulle hulleself rein gehou, “sonder ’n smet te midde van ’n verdorwe en verdraaide geslag”.—Filippense 2:15.

13. Waarom is die 144 000 ’n geskikte bruid vir Jesus Christus, en hoe ‘bly hulle die Lam volg ongeag waar hy gaan’?

13 Bowendien is “geen leuen . . . in hulle mond gevind nie”. In hierdie opsig is hulle soos hulle Koning, Jesus Christus. As ’n volmaakte mens “het [hy] geen sonde begaan nie, en ook is bedrog nie in sy mond gevind nie” (1 Petrus 2:21, 22). Aangesien die 144 000 tegelyk sonder smet en waarheidliewend is, is hulle as ’n kuis bruid vir Jehovah se groot Hoëpriester gereedgemaak. Toe Jesus op die aarde was, het hy regskapenes genooi om hom te volg (Markus 8:34; 10:21; Johannes 1:43). Dié wat gunstig gereageer het, het sy lewenswyse nagevolg en sy leringe gehoorsaam. Gedurende hulle aardse loopbaan bly hulle dus “die Lam . . . volg ongeag waar hy gaan” terwyl hy hulle deur Satan se wêreld lei.

14. (a) Hoe is die 144 000 “eerstelinge vir God en vir die Lam”? (b) In watter sin is die groot menigte ook eerstelinge?

14 Die 144 000 word “van die aarde gekoop”, “uit die mensdom gekoop”. Hulle word as kinders van God aangeneem, en ná hulle opstanding sal hulle nie meer bloot mense van vlees en bloed wees nie. Soos in vers 4 gemeld word, word hulle die “eerstelinge vir God en vir die Lam”. Jesus was weliswaar in die eerste eeu “die eersteling van dié wat ontslaap het” (1 Korintiërs 15:20, 23). Maar die 144 000 is die “sekere eerstelinge” van die onvolmaakte mensdom wat deur middel van Jesus se offerande gekoop is (Jakobus 1:18). Nietemin eindig die insameling van vrugte uit die mensdom nie by hulle nie. Die boek Openbaring het reeds die aandag gevestig op die insameling van ’n ongetelde groot menigte wat met ’n harde stem roep: “Redding is ons verskuldig aan ons God, wat op die troon sit, en aan die Lam.” Hierdie groot menigte sal die groot verdrukking oorleef en sal, namate hulle steeds deur “fonteine van waters van die lewe” verkwik word, tot menslike volmaaktheid op die aarde verhef word. Op die een of ander tyd ná die groot verdrukking sal Hades leeggemaak word, en miljoene der miljoene ander mense sal opgewek word en die geleentheid hê om van hierdie selfde waters van die lewe te drink. Om hierdie rede sal dit korrek wees om te sê dat die groot menigte eerstelinge is van die ander skape—hulle is die eerstes wat ‘hulle klere was en dit wit maak in die bloed van die Lam’ met die hoop om vir ewig op die aarde te lewe.—Openbaring 7:9, 10, 14, 17; 20:12, 13.

15. Watter ooreenkomste is daar tussen die drie verskillende eerstelinge en die feeste wat volgens die Mosaïese Wet gevier is?

15 Hierdie drie eerstelinge (Jesus Christus, die 144 000 en die groot menigte) toon interessante ooreenkomste met die feeste wat volgens die eertydse Mosaïese Wet gevier is. Op 16 Nisan, gedurende die Fees van die Ongesuurde Koeke, is ’n gerf van die eerstelinge van die garsoes aan Jehovah geoffer (Levitikus 23:6-14). Jesus is op 16 Nisan uit die dode opgewek. Op die 50ste dag ná 16 Nisan, in die derde maand, het die Israeliete die fees van die oes van die eerste ryp vrugte van die koringoes gevier (Eksodus 23:16; Levitikus 23:15, 16). Hierdie fees is later Pinkster genoem (afgelei van ’n Griekse woord wat “vyftigste” beteken), en dit was op Pinkster 33 G.J. dat die eerste lede van die 144 000 met heilige gees gesalf is. Ten slotte was daar, in die sewende maand wanneer die hele oes ingesamel is, die Huttefees, ’n tyd van vreugdevolle danksegging wanneer die Israeliete ’n week lank in hutte gewoon het wat onder meer van palmtakke gemaak is (Levitikus 23:33-43). In ooreenstemming hiermee betuig die groot menigte, wat deel is van die groot insameling, dank voor die troon met “palmtakke in hulle hande”.—Openbaring 7:9.

Die bekendmaking van ewige goeie nuus

16, 17. (a) Waar sien Johannes ’n engel vlieg, en wat kondig die engel aan? (b) Wie is by die Koninkrykspredikingswerk betrokke, en watter ondervindinge lewer bewys hiervan?

16 Johannes skryf vervolgens: “En ek het ’n ander engel in die middel van die hemel sien vlieg, en hy het ewige goeie nuus gehad om as blye tyding bekend te maak aan dié wat op die aarde woon, en aan elke nasie en stam en taal en volk, en hy het met ’n harde stem gesê: ‘Vrees God en gee hom heerlikheid, want die uur van die oordeel deur hom het aangebreek, en aanbid dus die Een wat die hemel en die aarde en see en waterfonteine gemaak het’” (Openbaring 14:6, 7). Die engel vlieg “in die middel van die hemel”, waar die voëls vlieg. (Vergelyk Openbaring 19:17.) Gevolglik kan sy stem oor die hele aarde gehoor word. Hierdie engel se wêreldwye aankondiging het voorwaar ’n baie groter bereik as enige televisieflitsberig!

17 Almal word aangespoor om nie die wilde dier en sy beeld te vrees nie, maar Jehovah, wat oneindig magtiger is as enige simboliese dier wat deur Satan beheer word. Jehovah het immers die hemel en die aarde geskep, en nou het die tyd aangebreek vir hom om die aarde te oordeel! (Vergelyk Genesis 1:1; Openbaring 11:18.) Toe Jesus op die aarde was, het hy aangaande ons dag voorspel: “En hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matteus 24:14). Die gemeente van gesalfde Christene voer hierdie opdrag uit (1 Korintiërs 9:16; Efesiërs 6:15). Openbaring onthul hier dat onsigbare engele ook by hierdie predikingswerk betrokke is. En hoe dikwels was dit nie al duidelik dat engele die werk lei deur een van Jehovah se Getuies na ’n huis te bring waar iemand in nood na geestelike hulp gesmag of selfs daarvoor gebid het nie!

18. Waarvoor het die uur aangebreek volgens die engel wat in die middel van die hemel vlieg, en wie sal verdere aankondigings doen?

18 Soos die engel wat in die middel van die hemel vlieg, bekend gemaak het, het die uur vir die oordeel aangebreek. Watter oordeel sal God nou vel? Die aankondigings wat ’n tweede, derde, vierde en vyfde engel nou gaan doen, sal ore laat tuit.—Jeremia 19:3.

[Voetnote]

a Soos 1 Korintiërs 4:8 toon, regeer gesalfde Christene nie as konings terwyl hulle hier op die aarde is nie. Nietemin sing hulle wel, volgens die konteks in Openbaring 14:3, 6, 12, 13, die nuwe lied deur die goeie nuus te verkondig terwyl hulle tot aan die einde van hulle aardse loopbaan volhard.

b Dit word gestaaf deur die gebruik van Hebreeuse name in ander visioene; Jesus word die Hebreeuse naam “Abaddon” gegee (wat “Vernietiging” beteken), en hy voltrek oordeel op die plek “wat in Hebreeus Har–Magedon genoem word”.—Openbaring 9:11; 16:16.

c Die teks sê “as ’t ware ’n nuwe lied”, want die lied self is in die ou tyd in die profetiese woord opgeteken. Maar niemand was bevoeg om dit te sing nie. Nou, met die oprigting van die Koninkryk en die opstanding van die heiliges, het die werklikhede ter vervulling van die profesieë te voorskyn gekom en was dit tyd om die lied in al sy grootsheid te sing.

d Die situasie kan vergelyk word met dié van die getroue en verstandige slaaf wat op die regte tyd voedsel aan die huisknegte gee (Matteus 24:45). Die slaaf as ’n liggaam is daarvoor verantwoordelik om die voedsel te voorsien, maar die huisknegte, die individuele lede van hierdie liggaam, word versterk deur van hierdie geestelike voorsiening gebruik te maak. Hulle is dieselfde groep, maar word uit verskillende oogpunte beskryf—gesamentlik en individueel.

[Prente op bladsy 202, 203]

144 000

24 ouderlinge

Mede-erfgename van die Lam, Christus Jesus, uit twee verskillende oogpunte beskou

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel