Hoofstuk Veertien
Hoe rig Jehovah sy organisasie?
1. Watter inligting oor Jehovah se organisasie openbaar die Bybel, en waarom is dit vir ons belangrik?
HET God ’n organisasie? Die geïnspireerde Skrif sê vir ons dat hy wel een het. In sy Woord gee hy ons ’n paar keer ’n blik op die ontsagwekkende hemelse deel van daardie organisasie (Esegiël 1:1, 4-14; Daniël 7:9, 10, 13, 14). Hoewel ons nie hierdie onsigbare deel kan sien nie, het dit ’n groot invloed op hedendaagse ware aanbidders (2 Konings 6:15-17). Jehovah se organisasie het ook ’n sigbare deel, op die aarde. Die Bybel help ons om te verstaan wat dit is en hoe Jehovah dit rig.
Die sigbare deel word geïdentifiseer
2. Watter nuwe gemeente het God tot stand gebring?
2 Die nasie Israel was 1 545 jaar lank die gemeente van God (Handelinge 7:38). Maar Israel het God se wette nie gehoorsaam nie en het sy Seun verwerp. Gevolglik het Jehovah daardie gemeente verwerp. Jesus het vir die Jode gesê: “Kyk! Julle huis word vir julle verlate agtergelaat” (Matteus 23:38). God het daarna ’n nuwe gemeente tot stand gebring, waarmee hy ’n nuwe verbond gesluit het. Hierdie gemeente sou uit 144 000 persone bestaan wat deur God gekies is om met sy Seun in die hemel verenig te word.—Openbaring 14:1-4.
3. Wat het op Pinkster 33 G.J. plaasgevind as ’n duidelike bewys dat God ’n nuwe gemeente begin gebruik het?
3 Die eerste lede van hierdie nuwe gemeente is op Pinkster 33 G.J. met Jehovah se heilige gees gesalf. Van hierdie merkwaardige gebeurtenis lees ons: “En in die loop van die dag van die Pinksterfees was hulle almal op dieselfde plek bymekaar, en skielik het daar ’n gedruis uit die hemel gekom soos dié van ’n voortstuwende, stywe bries, en dit het die hele huis gevul waarin hulle gesit het. En tonge soos van vuur het vir hulle sigbaar geword en is verdeel, en een het op elkeen van hulle gaan sit, en hulle is almal met heilige gees vervul” (Handelinge 2:1-4). Sodoende het God se gees duidelike bewys gelewer dat God nou hierdie groep mense sou gebruik om sy voorneme te verwesenlik onder leiding van Jesus Christus in die hemel.
4. Wie maak vandag Jehovah se sigbare organisasie uit?
4 Vandag is daar net ’n oorblyfsel van die 144 000 op die aarde. Maar ter vervulling van Bybelprofesie het “’n groot menigte” “ander skape”, miljoene van hulle, met die gesalfde oorblyfsel begin omgaan. Jesus, die Goeie Herder, het hierdie ander skape en die oorblyfsel laat saamsmelt sodat hulle net een kudde onder hom as hulle een Herder vorm (Openbaring 7:9; Johannes 10:11, 16). Hulle maak saam een verenigde gemeente uit, Jehovah se sigbare organisasie.
Teokratiese struktuur
5. Wie rig God se organisasie, en hoe?
5 Die skriftuurlike uitdrukking “die gemeente van die lewende God” toon duidelik wie dit rig. Die organisasie is teokraties, dit wil sê, dit word deur God regeer. Jehovah rig sy volk deur middel van Jesus, die een wat Hy aangestel het om die onsigbare Hoof van die gemeente te wees, en deur middel van Sy geïnspireerde Woord, die Bybel.—1 Timoteus 3:14, 15; Efesiërs 1:22, 23; 2 Timoteus 3:16, 17.
6. (a) Hoe is hemelse leiding van die gemeente in die eerste eeu geopenbaar? (b) Wat toon dat Jesus nog steeds die Hoof van die gemeente is?
6 Hierdie leiding was op Pinkster baie duidelik (Handelinge 2:14-18, 32, 33). Dit kon gesien word toe Jehovah se engel gebeure gerig het sodat die goeie nuus na Afrika kon versprei, toe Jesus se stem instruksies gegee het by die bekering van Saulus van Tarsus en toe Petrus met die predikingswerk onder die nie-Jode begin het (Handelinge 8:26, 27; 9:3-7; 10:9-16, 19-22). Maar mettertyd is daar nie meer stemme uit die hemel gehoor nie, is engele nie meer gesien nie en is wonderdadige gawes van die gees nie meer gegee nie. Jesus het nietemin belowe: “Kyk! ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die stelsel van dinge” (Matteus 28:20; 1 Korintiërs 13:8). Vandag erken Jehovah se Getuies Jesus se leiding. Daarsonder sou dit onmoontlik wees om die Koninkryksboodskap te midde van groot vyandigheid te verkondig.
7. (a) Uit wie bestaan “die getroue en verstandige slaaf”, en waarom? (b) Watter toewysing is die “slaaf” gegee?
7 Kort voor sy dood het Jesus vir sy dissipels vertel van “die getroue en verstandige slaaf” aan wie hy as Heer spesiale verantwoordelikhede sou toevertrou. Hierdie “slaaf” sou teenwoordig wees wanneer die Heer na die hemel vertrek en sou nog steeds hard aan die werk wees wanneer Christus onsigbaar in Koninkryksmag terugkeer. Geen individu kan aan hierdie beskrywing beantwoord nie, maar Christus se gesalfde gemeente beantwoord wel daaraan. Omdat Jesus dit met sy bloed gekoop het, het hy dit sy “slaaf” genoem. Hy het die lede daarvan opdrag gegee om dissipels te maak en hulle progressief te voed deur hulle “hulle [geestelike] voedsel op die regte tyd te gee”.—Matteus 24:45-47; 28:19; Jesaja 43:10; Lukas 12:42; 1 Petrus 4:10.
8. (a) Watter verantwoordelikhede het die slaafklas nou? (b) Waarom is ons reaksie op die onderrigting deur God se kanaal belangrik?
8 Aangesien die slaafklas by die Heer se onsigbare wederkoms in 1914 lojaal besig was om hulle werk te doen, is daar bewyse dat groter verantwoordelikhede in 1919 aan hulle toevertrou is. Die jare daarna was die tyd waarin ’n wêreldwye getuienis van die Koninkryk gegee moes word, en ’n groot menigte aanbidders van Jehovah word ingesamel sodat hulle deur die groot verdrukking heen bewaar kan word (Matteus 24:14, 21, 22; Openbaring 7:9, 10). Ook hulle het geestelike voedsel nodig, en dit word deur die slaafklas aan hulle voorsien. Om Jehovah te behaag, moet ons dus die onderrigting wat hy deur hierdie kanaal voorsien, aanneem en in ooreenstemming daarmee optree.
9, 10. (a) Watter reëling was daar in die eerste eeu om vrae oor leerstellings op te los en die verkondiging van die goeie nuus te rig? (b) Watter reëling bestaan vandag om die werksaamhede van Jehovah se volk te koördineer?
9 Soms ontstaan daar vrae oor leerstellings en prosedures. Wat dan? Handelinge hoofstuk 15 vertel vir ons hoe ’n geskil ten opsigte van nie-Joodse bekeerlinge opgelos is. Die saak is na die apostels en ouer manne in Jerusalem verwys, wat as ’n sentrale bestuursliggaam gedien het. Hierdie manne was nie onfeilbaar nie, maar God het hulle gebruik. Hulle het gekyk na wat die geskrifte oor die onderwerp sê en ook die getuienis in ag geneem dat God se gees werksaam was toe die nie-Joodse veld oopgestel is. Toe het hulle ’n besluit geneem. God het daardie reëling geseën (Handelinge 15:1-29; 16:4, 5). Individue is deur daardie sentrale liggaam uitgestuur om die Koninkrykspredikingswerk te bevorder.
10 In ons dag bestaan die Bestuursliggaam van Jehovah se sigbare organisasie uit geesgesalfde broers uit verskillende lande en is gevestig by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies. Onder die hoofskap van Jesus Christus bevorder die Bestuursliggaam rein aanbidding in alle lande en koördineer dit die predikingswerk van Jehovah se Getuies in hulle tienduisende gemeentes. Die lede van die Bestuursliggaam is dit eens met die apostel Paulus, wat aan mede-Christene geskryf het: “Nie dat ons die meesters oor julle geloof is nie, maar ons is medewerkers vir julle vreugde, want deur julle geloof staan julle.”—2 Korintiërs 1:24.
11. (a) Hoe word ouer manne en bedieningsknegte aangestel? (b) Waarom moet ons ten nouste met die aangestelde manne saamwerk?
11 Jehovah se Getuies in alle wêrelddele vertrou op die Bestuursliggaam om bekwame broers te kies wat op hulle beurt die gesag gegee word om ouer manne en bedieningsknegte aan te stel om na die gemeentes om te sien. Die vereistes vir diegene wat aangestel word, is in die Bybel opgeteken en neem in ag dat hierdie manne onvolmaak is en foute maak. Die ouer manne wat aanbevelings maak en diegene wat die aanstellings doen, dra ’n ernstige verantwoordelikheid voor God (1 Timoteus 3:1-10, 12, 13; Titus 1:5-9). Daarom bid hulle vir die hulp van God se gees en soek hulle leiding in sy geïnspireerde Woord (Handelinge 6:2-4, 6; 14:23). Laat ons ons waardering toon vir hierdie “gawes in die vorm van mense”, wat ons almal help om tot “die eenheid in die geloof” te kom.—Efesiërs 4:8, 11-16.
12. Hoe gebruik Jehovah vroue in die teokratiese reëling?
12 Die Skrif sê dat manne toesig oor die gemeente moet hê. Hierdie reëling verkleineer vroue nie, want party van hulle is erfgename van die hemelse Koninkryk, en hulle doen ’n groot deel van die predikingswerk (Psalm 68:11). Daarbenewens dra vroue by tot die goeie reputasie van die gemeente deur hulle gesinsverantwoordelikhede getrou na te kom (Titus 2:3-5). Maar onderrigting in die gemeente word behartig deur manne wat aangestel is om dit te doen.—1 Timoteus 2:12, 13.
13. (a) Watter beskouing spoor die Bybel ouer manne aan om van hulle posisie te hê? (b) Watter voorreg kan ons almal geniet?
13 In die wêreld word iemand wat ’n vername posisie beklee, as belangrik beskou, maar in God se organisasie geld die reël: “Wie hom as ’n mindere onder julle almal gedra, dié is groot” (Lukas 9:46-48; 22:24-26). Die Skrif maan ouer manne om versigtig te wees om nie baas te speel oor dié wat God se erfenis is nie, maar om eerder voorbeelde vir die kudde te word (1 Petrus 5:2, 3). Nie net ’n uitgesoekte groepie nie, maar al Jehovah se Getuies, mans sowel as vroue, het die voorreg om die Soewerein van die heelal te verteenwoordig deur nederig in sy naam te spreek en mense in alle wêrelddele van sy Koninkryk te vertel.
14. Bespreek die vrae aan die einde van die paragraaf aan die hand van die tekste wat aangegee word.
14 Ons kan ons gerus afvra: ‘Waardeer ek werklik hoe Jehovah sy sigbare organisasie rig? Weerspieël my gesindheid, woorde en dade dit?’ As ons oor die volgende punte redeneer, kan dit elkeen van ons help om so ’n ondersoek te doen.
Wat sal ek na aanleiding van die volgende tekste doen as ek my werklik aan Christus as Hoof van die gemeente onderwerp? (Matteus 24:14; 28:19, 20; Johannes 13:34, 35)
Vir wie toon ek respek as ek die geestelike voorsienings wat deur die slaafklas en sy Bestuursliggaam voorsien word, met waardering aanneem? (Lukas 10:16)
Hoe moet almal in die gemeente, veral die ouer manne, teenoor mekaar optree? (Romeine 12:10)
15. (a) Wat toon ons deur ons gesindheid teenoor Jehovah se sigbare organisasie? (b) Watter geleenthede is daar vir ons om te bewys dat die Duiwel ’n leuenaar is en om Jehovah se hart bly te maak?
15 Jehovah lei ons vandag deur middel van sy sigbare organisasie onder Christus. Ons gesindheid teenoor hierdie reëling toon hoe ons oor die soewereiniteitsgeskil voel (Hebreërs 13:17). Satan voer aan dat ons hoofsaaklik in onsself belangstel. Maar as ons dien op enige manier wat nodig is en dinge vermy wat onnodig aandag op onsself vestig, bewys ons dat die Duiwel ’n leuenaar is. As ons liefde en respek het vir diegene wat die leiding neem onder ons maar weier om ‘vir ons eie voordeel persoonlikhede te bewonder’, maak ons Jehovah bly (Judas 16; Hebreërs 13:7). Deur lojaal te wees aan Jehovah se organisasie, toon ons dat Jehovah ons God is en dat ons verenig is in sy aanbidding.—1 Korintiërs 15:58.
Hersieningsbespreking
• Wat is vandag Jehovah se sigbare organisasie? Wat is die doel daarvan?
• Wie is die aangestelde Hoof van die gemeente, en deur watter sigbare reëlings rig hy ons liefdevol?
• Watter heilsame gesindhede moet ons teenoor dié in Jehovah se organisasie aankweek?
[Prente op bladsy 133]
Jehovah lei ons deur middel van sy sigbare organisasie onder Christus