Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w96 5/15 bl. 21-23
  • “’n Tyd om te swyg en ’n tyd om te spreek”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “’n Tyd om te swyg en ’n tyd om te spreek”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Maniere om die tong te tem
  • Wanneer ons kwaad is
  • Wanneer stilbly nie ’n oplossing is nie
  • “’n Tyd om te spreek” oor God se Koninkryk
  • Gebruik jou tong wyslik
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
  • Hoekom sê ek altyd die verkeerde ding?
    Jongmense vra
  • Toon liefde en respek deur jou tong te beheer
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Aangename woorde bevorder goeie verhoudings
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
w96 5/15 bl. 21-23

“’n Tyd om te swyg en ’n tyd om te spreek”

HOEVEEL keer het jy al gesê: “As ek maar net stilgebly het”? Maar jy onthou dalk ander geleenthede toe jy versuim het om iets te sê. As jy terugkyk, het jy dalk gedink: ‘As ek maar net iets gesê het.’

Die Bybel sê dat daar ‘’n tyd is om te swyg en ’n tyd is om te spreek’ (Prediker 3:7). Dit is dan waar die probleem lê—om te besluit wanneer om te praat en wanneer om stil te bly. Ons onvolmaakte menslike natuur laat ons dikwels dinge op die verkeerde tyd doen en sê (Romeine 7:19). Hoe kan ons ons onbedwingbare tong beheers?—Jakobus 3:2.

Maniere om die tong te tem

Ons het nie ’n lang lys reëls wat elke denkbare situasie dek nodig om ons te help besluit wanneer ons moet praat en wanneer ons moet stilbly nie. Ons moet eerder deur eienskappe gelei word wat ’n inherente deel van die Christelike persoonlikheid is. Wat is hierdie eienskappe?

Jesus Christus het verduidelik dat liefde die vernaamste eienskap is wat sy dissipels motiveer. “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het”, het hy gesê (Johannes 13:35). Hoe meer ons sulke broederliefde betoon, hoe beter sal ons ons tong beheers.

Twee verwante eienskappe sal ook grootliks help. Een hiervan is nederigheid. Dit stel ons in staat om ‘ander hoër as onsself te ag’ (Filippense 2:3). Die ander een is sagmoedigheid, wat ons “onder die kwaad in bedwang” hou (2 Timoteus 2:24, 25). Jesus Christus het vir ons ’n volmaakte voorbeeld gestel van hoe hierdie eienskappe betoon moet word.

Aangesien dit moeiliker is om ons tong te beheers wanneer ons onder druk verkeer, laat ons na die nag voor Jesus se dood kyk—’n tyd toe hy “erg verontrus” was (Matteus 26:37, 38). Dit is nie verbasend dat Jesus so gevoel het nie, aangesien die ewige toekoms van die hele mensdom van sy getrouheid aan God afgehang het.—Romeine 5:19-21.

Dit was gewis ’n tyd vir Jesus om met sy hemelse Vader te praat. Hy het derhalwe weggegaan om te bid en drie van sy dissipels gevra om te waak. Ná ’n ruk het hy teruggekeer en hulle aan die slaap gevind. Daarom sê hy toe vir Petrus: “Kon julle nie eens een uur saam met my waak nie?” Hierdie liefdevolle vermaning is deur woorde gevolg wat ’n begrip vir hulle swakhede getoon het. Hy het gesê: “Die gees is natuurlik gretig, maar die vlees is swak.” Later het Jesus weer gekom en die dissipels aan die slaap gevind. Hy het vriendelik met hulle gepraat en “weggegaan en vir die derde keer gebid”.—Matteus 26:36-44.

Toe Jesus die dissipels ’n derde keer aan die slaap gevind het, het hy hulle nie kwaai aangespreek nie, maar het gesê: “Op ’n tyd soos dié slaap julle en rus julle! Kyk! Die uur het naby gekom vir die Seun van die mens om deur verraad in die hande van sondaars oorgelewer te word” (Matteus 26:45). Slegs iemand met ’n hart vol liefde, met ’n waarlik sagmoedige en nederige geaardheid, kon die tong in so ’n moeilike tyd op daardie manier gebruik.—Matteus 11:29; Johannes 13:1.

Jesus is kort daarna in hegtenis geneem en verhoor. Hier leer ons dat dit soms raadsaam is om stil te bly, selfs wanneer ons aan ons Christelike bediening deelneem. Die hoofpriesters het glad nie daarin belanggestel om die waarheid te leer nie, maar was daarop uit om Jesus skuldig te bevind. In hierdie gespanne atmosfeer het Jesus dus stilgebly.—Vergelyk Matteus 7:6.

Maar Jesus het nie stilgebly nie toe die hoëpriester hom beveel het: “Ek stel jou onder eed by die lewende God om vir ons te sê of jy die Christus, die Seun van God, is!” (Matteus 26:63). Aangesien Jesus onder eed gestel is, was dit tyd vir hom om te praat. Daarom het hy geantwoord: “U het dit self gesê. Tog sê ek vir julle: Van nou af sal julle die Seun van die mens aan die regterhand van krag sien sit en op die wolke van die hemel sien kom.”—Matteus 26:64.

Gedurende daardie belangrike dag het Jesus volmaakte beheer oor sy tong uitgeoefen. In sy geval was liefde, sagmoedigheid en nederigheid ’n inherente deel van sy persoonlikheid. Hoe kan ons hierdie eienskappe gebruik om ons tong te beheers wanneer ons onder druk verkeer?

Wanneer ons kwaad is

Wanneer ons kwaad word, verloor ons dikwels beheer oor ons tong. Paulus en Barnabas het byvoorbeeld eenkeer ’n meningsverskil gehad. “Barnabas . . . was vasbeslote om ook Johannes, wat Markus genoem is, saam te neem. Maar Paulus het nie gedink dat dit gepas is om hom saam te neem nie, aangesien hy hulle van Pamfilië af verlaat het en nie saam met hulle na die werk gegaan het nie. Hierop het ’n skerp uitbarsting van toorn plaasgevind, sodat hulle uitmekaar gegaan het.”—Handelinge 15:37-39.

Michael,a wat al ’n paar jaar met konstruksieprojekte help, vertel: “Daar was iemand op die bouperseel wat ek goed geken en gerespekteer het. Maar dit het gelyk asof hy alewig met my werk foutvind. Ek het gekrenk en geïrriteerd gevoel, maar het stilgebly oor my gevoelens. Eendag het dinge breekpunt bereik toe hy iets gekritiseer het wat ek net klaargemaak het.

“Ek het uiting gegee aan al my opgekropte gevoelens. In daardie oomblik van woede was ek onbewus van die slegte indruk wat dit ongetwyfeld op almal om ons gemaak het. Ek wou die res van die dag nie met hom praat of hom selfs sien nie. Ek besef nou dat ek nie die probleem reg hanteer het nie. Dit sou baie beter gewees het as ek stilgebly het en gepraat het wanneer ek afgekoel het.”

Gelukkig het Christelike liefde hierdie twee persone beweeg om hulle verskille by te lê. Michael verduidelik: “Nadat ons openhartig met mekaar gepraat het, het ons mekaar beter verstaan, en ons is nou goeie vriende.”

Soos Michael geleer het, is dit soms verstandig om stil te bly as ons kwaad is. “’n Man van onderskeidingsvermoë is kalm van gees”, sê Spreuke 17:27 (NW). Onderskeidingsvermoë en broederliefde sal ons help om die drang te onderdruk om kwetsende dinge te sê. As ons te na gekom is, laat ons in ’n sagmoedige en nederige gees alleen met die ander persoon praat, met die doel om vrede te herstel. Sê nou ’n woedeuitbarsting het reeds plaasgevind? Dan sal liefde ons beweeg om ons trots te sluk en nederig te probeer om vergoeding te doen. Dit is ’n tyd om te praat, om te sê dat jy spyt is en gekwetste gevoelens deur opregte kommunikasie te heel.—Matteus 5:23, 24.

Wanneer stilbly nie ’n oplossing is nie

Woede of ergernis kan veroorsaak dat ons nie meer met die persoon praat wat ons irriteer nie. Dit kan baie gevaarlik wees. “Gedurende die eerste jaar van ons huwelik was daar tye wanneer ek etlike dae lank nie met my man gepraat het nie”, erken María.b “Dit was gewoonlik nie as gevolg van groot probleme nie, maar eerder as gevolg van klein irritasies wat opgehoop het. Ek het aanhou tob oor al hierdie irritasies totdat dit ’n bergagtige hindernis geword het. Toe het die dag aangebreek dat ek dit net nie meer kon verdra nie, en ek het net opgehou om met my man te praat totdat my frustrasie oorgewaai het.”

María voeg by: “’n Sekere Bybelteks—‘laat die son nie ondergaan terwyl julle in ’n ergerlike gemoedstemming is nie’—het my gehelp om my denke aan te pas. Ek en my man het hard daaraan gewerk om ons kommunikasie te verbeter sodat probleme nie opgehoop het nie. Dit was nie maklik nie, maar ná tien jaar van getroude lewe is ek bly om te sê dat hierdie tye van kille stilswye baie minder voorkom. Ek moet egter erken dat ek steeds daaraan werk om hierdie neiging te beheers.”—Efesiërs 4:26.

Soos María uitgevind het, is ’n gebrek aan kommunikasie nie ’n oplossing wanneer daar spanning tussen twee mense bestaan nie. Onder daardie omstandighede gaan ’n mens waarskynlik net meer gegrief raak, en die verhouding kan geskaad word. Jesus het gesê dat ons ‘gou moet wees om sake te skik’ (Matteus 5:25). “’n Woord op sy tyd gespreek”, kan ons help om ‘vrede na te streef’.—Spreuke 25:11; 1 Petrus 3:11.

Ons moet ook nie stilbly wanneer ons hulp nodig het nie. As ons vanweë die een of ander geestelike probleem ly, huiwer ons dalk om ander daarmee te belas. Maar as ons stilbly, sal die probleem dalk net vererger. Aangestelde Christen- ouer manne is besorg oor ons en is ongetwyfeld gretig om ons te help as ons hulle sal toelaat om dit te doen. Dit is ’n tyd wanneer ons moet praat.—Jakobus 5:13-16.

Ons moet bowenal, soos Jesus, gereeld in hartgrondige gebed met Jehovah praat. Laat ons dus ‘ons hart uitstort’ teenoor ons hemelse Vader.—Psalm 62:9; vergelyk Hebreërs 5:7.

“’n Tyd om te spreek” oor God se Koninkryk

Die Christelike bediening is ’n Goddelike opdrag wat uitgevoer moet word voor die einde kom. Daarom is dit noodsaakliker as ooit tevore dat Jehovah se knegte die goeie nuus van die Koninkryk verkondig (Markus 13:10). Soos die apostels kan ware Christene eenvoudig ‘nie ophou praat oor die dinge wat hulle gesien en gehoor het nie’.—Handelinge 4:20.

Nie almal wil natuurlik die goeie nuus hoor nie. Trouens, toe Jesus sy dissipels uitgestuur het om te preek, het hy vir hulle gesê om te ‘ondersoek wie verdienstelik is’. Aangesien Jehovah nooit enigiemand dwing om hom te aanbid nie, sal ons nie koppig aanhou om met iemand te praat wat die Koninkryksboodskap onversetlik verwerp nie (Matteus 10:11-14). Maar dit verskaf ons vreugde om oor Jehovah se koningskap te praat met diegene “wat die regte gesindheid vir die ewige lewe” het.—Handelinge 13:48; Psalm 145:10-13.

Liefde, sagmoedigheid en nederigheid is eienskappe wat ons kan help om ons onvolmaakte neiging te beheers om onbesonne dinge te sê of om in ’n gespanne stilte te verval. Namate ons hierdie eienskappe in groter mate toepas, sal ons beter toegerus wees om te onderskei tussen die regte tyd en die verkeerde tyd om te praat.

[Voetnote]

a Nie sy regte naam nie.

b Nie haar regte naam nie.

[Prent op bladsy 23]

Probleme kan deur goeie kommunikasie opgelos word

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel