Christelike neutraliteit in ’n bloedbevlekte wêreld
“Hy wat die bloed van ’n mens vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word; want God het die mens na sy beeld gemaak.”—GENESIS 9:6.
1. Watter wêreldverwikkelinge sedert 1914 gee rede tot kommer?
OSEANE bloed, die bloed van meer as honderdmiljoen mense, is sedert 1914 in oorloë vergiet. En hoe lyk die vooruitsig vir die toekoms? Die verwoesting van twee Japannese stede in 1945 het in ’n oogwink sowat 200 000 lewens geëis en uiteindelik tot ’n nuwe beleid gelei, ’n beleid wat deur die supermoondhede bepaal en tereg “MAD” (Wedersyds Versekerde Vernietiging) genoem word. Dit het die grondslag geword van ’n skrikbalans, gebou op voorraadstapels kernwapens wat ons aarde oor en oor kan vernietig. Duikbote het met hierdie duiwelse wapens die seë ingevaar, en in die laaste tyd het die bedreiging van ruimteoorlog die gevaar vergroot. Selfs die skrikbalans word nou tot in sy fondamente geskud. Is daar ’n uitweg uit hierdie waansinnigheid?
2. Wat het Jesus oor hierdie tyd voorspel, maar met watter versekering aan Christene?
2 Ja, daar is. Maar dit sal nie die nasies se keuse wees nie. Jesus het oor hulle huidige dilemma geprofeteer: “Daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun, en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word.” Jesus het daardie profesie afgesluit met die versekering dat Christene wat bly “waak” ‘al hierdie dinge wat kom sal ontvlug’.—Lukas 21:25, 26, 36.
Jaag vrede met God na
3. (a) Hoe bevorder die nasies die belange van “die god van hierdie wêreld”? (b) Hoe sal Jehovah die geskil besleg?
3 Die nasies, veral dié met kernwapens, is gewikkel in ’n stryd om wêreldoorheersing, wat maklik op wêreldvernietiging kan uitloop. Dit bevorder die belange van “die god van hierdie wêreld”. Die nasies “hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde [Christus]”, wat nou in die hemel sy koningskap aanvaar het. Wanneer Jehovah die bevel gee, sal Christus daardie nasies verpletter asof met ’n ysterstaf. Dan sal die belofte vervul word: “Die God van vrede sal die Satan spoedig onder julle voete verbrysel.”—2 Korinthiërs 4:4; Psalm 2:2, 6-9; Romeine 16:20.
4. Hoe kan ons vrede met God najaag? (1 Petrus 3:11).
4 Ons behoort daarenteen vrede met daardie God na te jaag. Hoe kan ons dit doen? Een manier is deur God se beskouing te verkry van die heiligheid van menselewe en van die kosbare lewensbloed wat deur ons slagare en are vloei.
5. Watter voorbeelde toon dat Jehovah onverskillige bloedvergieting wreek?
5 Jehovah is die Skepper van die mens en van die wonderlike bloedstroom wat die menseliggaam aan die lewe hou deur dit van voedingstowwe te voorsien. God het nooit bedoel dat mensebloed onverskillig vergiet moet word nie. Nadat Kain die eerste moord gepleeg het, het Jehovah gesê dat Abel se bloed om wraak roep. Later het een van Kain se nakomelinge, Lameg, ’n moordenaar geword en digterlik gesê dat sy bloed gewreek moet word as iemand hóm sou doodmaak. Mettertyd het ’n verdorwe wêreld vol geweld geraak. Jehovah het die vloed gestuur om daardie eerste mensewêreld te vernietig. Net die gesin van vreedsame Noag, wie se naam “Rus” beteken, het dit oorleef.—Genesis 4:8-12, 23, 24; 6:13; 7:1.
6. Wat is God se wet in verband met bloed, en vir wie is dit bindend?
6 Jehovah het Noag toe verwittig van Sy uitdruklike wil in verband met bloed. Hy het dit tot ’n klimaks gevoer deur te sê: “Hy wat die bloed van ’n mens vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word; want God het die mens na sy beeld gemaak” (Genesis 9:3-6). Die ganse mensdom is vandag nakomelinge van Noag, en daarom is hierdie goddelike wet wat eerbied vir die lewe beklemtoon bindend vir alle mense wat God se goedkeuring wil geniet. Die sesde van die Tien Gebooie het boonop bepaal: “Jy mag nie doodslaan nie.” Bloedskuld vereis tereg optrede en vergelding.—Exodus 20:13; 21:12; Deuteronomium 21:19; Hebreërs 10:30.
7. (a) Waarom was dit gepas dat Jehovah Israel beveel het om oorlog te voer? (b) By watter oorlogvoering is Christene vandag betrokke?
7 Aangesien bloedvergieting so duidelik verbied is, waarom het Jehovah dan die nasie Israel toegelaat, en selfs beveel, om oorloë te voer? Ons moet onthou dat dit geheiligde oorloë was, oorloë waardeur Jehovah, die Regter van die hele aarde, demonaanbiddende nasies laat verdelg het. Die Kanaäniete was byvoorbeeld plakkers in die Beloofde Land en het ’n demoniese, onsedelike lewenswyse gevolg wat gevaar ingehou het vir God se heilige volk. Jehovah het gesorg dat die land daardie verdorwe mense “uitspuug” uit hulle gebied, en hy het teokratiese oorloë gebruik om dit te doen (Levitikus 18:1-30; Deuteronomium 7:16, 24). Dit regverdig die geestelike oorlogvoering waaraan die Christen vandag deelneem.—2 Korinthiërs 10:3-5; Efesiërs 6:11-18.
8. Wat toon dat God die vergieting van onskuldige bloed afkeur?
8 Jehovah het dit egter nie goedgekeur dat mense na willekeur bloed vergiet nie. Aangaande ’n koning van Juda is daar byvoorbeeld geskryf: “Manasse het ook vreeslik baie onskuldige bloed vergiet totdat hy Jerusalem van end tot end daarmee gevul het.” Hoewel Manasse later berou gehad en hom voor Jehovah verootmoedig het, het daardie bloedskuld aan hom en sy vorstehuis bly kleef. Manasse se godvresende kleinseun, koning Josia, het daadwerklik opgetree om die land te reinig en ware aanbidding te herstel. Maar hy kon nie daardie bloedskuld wegneem nie. Gedurende die heerskappy van Josia se seun Jojakim het Jehovah Nebukadnesar teen Juda laat optrek om oordeel aan daardie nasie te voltrek. “Sekerlik het dit volgens die bevel van die HERE oor Juda gekom, om hulle van sy aangesig te verwyder vanweë die sondes van Manasse, volgens alles wat hy gedoen het; en ook oor die onskuldige bloed wat hy vergiet het, sodat hy Jerusalem met onskuldige bloed gevul het; daarom wou die HERE nie vergewe nie.”—2 Konings 21:16; 24:1-4; 2 Kronieke 33:10-13.
Die standaard vir Christene
9. Watter standaard ten opsigte van bloedvergieting het Jesus vir Christene gestel?
9 Ons sou verwag dat Jesus, die Stigter van die Christelike geloof, vir Christene die standaard ten opsigte van bloedvergieting sou stel. Het hy? Wel, kort nadat hy die Gedenkmaal ter gedagtenis aan sy dood ingestel het, het Jesus daarvoor gesorg dat sy dissipels twee swaarde by hulle het. Met watter doel? Om ’n lewensbelangrike beginsel vas te stel, een waaraan alle Christene hulle sou moes onderwerp. Toe die soldate gekom het om Jesus in Getsemane in hegtenis te neem, het die voortvarende Petrus ’n swaard geswaai en die regteroor van Malgus, ’n slaaf van die Joodse hoëpriester, afgekap. Was dit nie ’n edel gebaar om so ten behoewe van die Seun van God te veg nie? Jesus het nie so gedink nie. Hy het die slaaf se oor genees en Petrus daaraan herinner dat Sy hemelse Vader 12 legioene van engele kon stuur om Hom te help. Jesus het daar die fundamentele beginsel gestel: “Almal wat die swaard neem, sal deur die swaard vergaan.”—Mattheüs 26:51-53; Lukas 22:36, 38, 49-51; Johannes 18:10, 11.
10. (a) Watter belangrike beginsel word in Johannes 17:14, 16 en 18:36 gestel? (b) Watter handelwyse het vir eerste-eeuse Christene redding beteken?
10 Christene van die eerste eeu sou later Jesus se vurige gebed aan Jehovah onthou, waarin hy van sy dissipels gesê het: “Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie.” Hulle sou Jesus se verduidelikende antwoord aan Pontius Pilatus onthou: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie” (Johannes 17:14, 16; 18:36). In daardie dae was Joodse faksies in ’n onderlinge stryd gewikkel wat woordelik sowel as deur bloedvergieting gevoer is. Maar Jesus se dissipels het nie betrokke geraak by daardie revolusionêre kampanjes nie. Sowat 30 jaar lank het hulle in Jerusalem gewag. Toe het hulle gehoor gegee aan Jesus se profetiese teken deur ‘na die berge te vlug’. Hulle neutraliteit en hulle vlug het tot hulle redding gelei.—Mattheüs 24:15, 16.
11, 12. (a) Watter besluit moes Cornelius en Sergius Paulus neem toe hulle gelowig geword het? (b) Waar sou hulle hulp ontvang om die regte besluit te neem? (c) Wat dui dit vandag vir ons aan?
11 Sommige vra moontlik: ‘Wat van Cornelius, die hoofman oor honderd, en Sergius Paulus, die goewerneur in Ciprus wat deur die leër gesteun is? Het hierdie manne nie bande met leërs gehad nie?’ Ja, op die tydstip toe hulle die Christelike boodskap aanvaar het. Die Skrif deel ons egter nie mee wat Cornelius en ander ná hulle bekering gedoen het nie. Sergius Paulus, ’n intelligente man wat ‘verslae was oor die leer van die Here’, sou ongetwyfeld nie op hom laat wag het om sy sekulêre posisie in die lig van sy nuutgevonde geloof te ondersoek en ’n regte besluit te neem nie. Cornelius sou dieselfde gedoen het (Handelinge 10:1, 2, 44-48; 13:7, 12). Ons lees nêrens dat die dissipels vir hulle gesê het wat om te doen nie. Hulle kon dit uit hulle eie studie van God se Woord sien.—Jesaja 2:2-4; Miga 4:3.
12 Net so moet Christene nie vandag vir ander voorskryf watter standpunt hulle moet inneem ten opsigte van geskille oor Christelike neutraliteit nie. Elkeen moet sy eie gewetensbesluit in ooreenstemming met sy begrip van Bybelbeginsels neem.—Galasiërs 6:4, 5.
In hedendaagse tye
13. Hoe het die Bybelstudente gedurende die Eerste Wêreldoorlog gevaar in hul pogings om bloedskuld te vermy?
13 Dit was in 1914 dat totale oorlogvoering op die wêreldtoneel verskyn het. Die nasies het al hulle hulpbronne, met inbegrip van hulle mannekrag, in die stryd gewerp. Baie van die Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies destyds genoem is, het prysenswaardige pogings aangewend om bloedskuld te vermy. Hulle is hewig vervolg, net soos Jesus voorspel het.—Johannes 15:17-20.
14, 15. (a) Hoe het Jehovah gedurende die Tweede Wêreldoorlog riglyne verskaf? (b) Watter duidelike standpunt het Jehovah se Getuies toe ingeneem? (c) Watter kontras het dit gevorm met die optrede van wêreldlike godsdiensbeoefenaars?
14 Toe wêreldoorlog weer in 1939 uitgebreek het, het Jehovah sy knegte van duidelike riglyne voorsien. Binne twee maande na die oorlogsverklaring het hierdie riglyne gekom in die vorm van Bybelstudiemateriaal onder die opskrif “Neutraliteit” in The Watchtower van 1 November 1939. Dit het afgesluit met die sin: “Almal wat aan die Here se kant is, sal neutraal staan ten opsigte van die oorlogvoerende nasies en sal hulle steun geheel en al aan die groot TEOKRAAT en sy Koning toesê.”
15 Wat was die gevolg? As ’n wêreldwye broederskap het Jehovah se Getuies hulle daarvan onthou om die bloed van onskuldige mense, waaronder hulle broers in ander lande, te vergiet. Terwyl Katolieke, Protestante, Boeddhiste en ander mekaar uitgemoor het, was Jesus se ware dissipels gehoorsaam aan sy nuwe gebod: “Soos Ek julle lief gehad het, moet julle ook mekaar liefhê.”—Johannes 13:34.
16. (a) Hoe het Jehovah se Getuies getoon dat hulle eerlike burgers is? (b) Hoe het die Getuies aangehou om aan God te betaal wat God toekom, en waartoe het dit soms gelei?
16 Hierdie Christene het aangehou om aan die keiser te betaal wat die keiser toekom. As eerlike burgers het hulle die landswette gehoorsaam (Mattheüs 22:17-21; Romeine 13:1-7). Maar nog belangriker, hulle het aan God die dinge betaal wat hom toekom, waaronder hulle toegewyde lewens en Christelike aanbidding. Daarom het hulle, toe die keiser dinge geëis het wat God toekom, in ooreenstemming met die beginsels in Handelinge 4:19 en 5:29 opgetree. Hetsy die geskil gegaan het oor bloedvergieting, militêre werk van nie-vegtende aard, alternatiewe diens of die saluering van ’n afbeelding soos ’n nasionale vlag, getroue Christene het uitgegaan van die standpunt dat daar geen tussengrond is nie. In sommige gevalle is hulle tereggestel omdat hulle hierdie standpunt ingeneem het.—Mattheüs 24:9; Openbaring 2:10.
Hulle het geen kompromis aangegaan nie
17. (a) Hoe het die Nazi’s, volgens een boek, Jehovah se Getuies behandel? (b) Hoe was Jehovah se Getuies anders in die manier waarop hulle die uitdaging die hoof gebied het?
17 ’n Onlangse boek met die titel Of Gods and Men het gesê dat Jehovah se Getuies die godsdiensgroep is wat gedurende Hitler se Derde Ryk “die ergste teenstand” ondervind het. Jehovah se Getuies het geen kompromis aangegaan nie. Die lede van ander gelowe in Duitsland het hulle kapelane gevolg en aldus gewyde diens aan die Duitse staat gelewer en die “merk” van die politieke dier “op hulle regterhand en op hulle voorhoofde” ontvang (Openbaring 13:16). Sulke persone het, asof met die regterhand, aktiewe steun aan die Duitse politieke stelsel verleen en openlik getoon waar hulle staan deur heil aan Hitler toe te skryf en die swastika-vlag te salueer.
18. (a) Watter feite toon dat Jehovah se Getuies “polities ‘neutraal’” gestaan het? (b) Hoe moet hierdie geskiedverslag elkeen van ons nou raak?
18 Watter standpunt het ware Christene aldaar ingeneem? Die voormelde werk sê: “Net die Jehovahsgetuies het die regime teengestaan. Hulle het hand en tand geveg, met die gevolg dat die helfte van hulle ledetal gevange gesit en ’n kwart tereggestel is. . . . Hulle is, in teenstelling met [ander godsdienste], nie-wêrelds in die sin dat hulle nie die goedkeuring of die belonings van die materiële wêreld soek en hulleself nie as lede daarvan beskou nie. Hulle staan polities ‘neutraal’ aangesien hulle alreeds aan ’n ander wêreld—God s’n—behoort. . . . Hulle vra of maak geen kompromisse nie. . . . Om in die leër te dien, te stem of die Hitler-saluut te gee, sou neerkom op ’n erkenning dat die eise van hierdie wêreld die voorrang kry bo die eise van God.” Jehovah se Getuies se strewe na vrede en geweldloosheid is selfs in die konsentrasiekampe erken. Hoe so? Wel, “net Getuies is toegelaat om die S.S.-wagte met skeermesse te skeer, omdat net hulle vertrou kon word om [die wagte] nie dood te maak nie”.
19. Hoe het Jehovah se Getuies Jesus se voorbeeld van moed gevolg, en met watter resultaat?
19 Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het Jehovah se Getuies ’n skitterende voorbeeld van Christelike neutraliteit geword. Rondom die aarde het hulle moedig Jesus se voorbeeld gevolg deur “nie van die wêreld” te wees nie; hulle het hierdie bloedskuldige wêreld oorwin, net soos Christus dit oorwin het.—Johannes 17:16; 16:33; 1 Johannes 5:4.
Vind toevlug teen bloedskuld
20. (a) Waarom is dit dringend dat mense uit valse godsdiens vlug? (b) Waar alleen kan ware toevlug vandag gevind word?
20 Godsdiensorganisasies het deur die geskiedenis heen baie onskuldige bloed vergiet in kruistogte, “heilige” oorloë en inkwisisies. Hulle het konkordate gesluit met bloeddorstige diktators. Hulle het hul goedkeuring verleen wanneer daardie diktators Jehovah se Getuies in tronke en konsentrasiekampe gegooi het, waar baie van hulle gesterf het. Hulle het hulle volle steun toegesê aan führers (leiers) wat Getuies doodgeskiet en onthoof het. Hierdie godsdiensstelsels kan nie aan Jehovah se regverdige oordeel ontkom nie. Daardie oordeel sal nie versuim nie. En geen liefhebber van geregtigheid moet versuim om uit valse godsdiens—bloedbevlekte “Babilon die Grote”—uit te gaan en in God se organisasie toevlug te soek nie.—Openbaring 18:2, 4, 21, 24, vgl. NW.
21. Wat is deur God se reëling in verband met die vrystede afgeskadu?
21 Baie van ons het moontlik, voordat ons God se Woord bestudeer het, mensebloed vergiet, of ons was lede van bloedskuldige godsdiens- of politieke organisasies. In hierdie opsig kan ons vergelyk word met die onopsetlike doodslaner in Israel. Hy kon na een van ses aangewese stede vlug waar hy skuiling en, uiteindelik, by die dood van Israel se hoëpriester, bevryding kon vind. Vandag beteken dit dat ons die voordele van die aktiewe diens van God se Hoëpriester, Jesus Christus, moet aanvaar en daaronder moet bly. Deur saam met God se gesalfde volk in so ’n toestand te bly, kan ons behoue bly wanneer die hedendaagse “bloedwreker”, Christus Jesus, God se oordeel aan die bloedskuldiges voltrek. Die “groot menigte” wat nou na God se organisasie vlug, moet in daardie toevlug bly totdat Christus, in sy hoedanigheid as Hoëpriester, ‘sterf’ in die sin dat hy sy versoeningswerk afgehandel het.—Numeri 35:6-8, 15, 22-25; 1 Korinthiërs 15:22-26; Openbaring 7:9, 14.
22. Hoe verskil die volke van die VV van God se heilige volk wat Jesaja 2:4 betref?
22 Op die plazamuur van die VN in New York, V.S.A., kan jy die volgende woorde lees wat op Jesaja 2:4 gebaseer is: “Hulle sal van hulle swaarde ploegskare smee. En van hulle spiese snoeimesse: Nasie sal nie teen nasie die swaard ophef nie. Hulle sal ook nie meer leer om oorlog te voer nie.” Maar wie tree vandag in harmonie met daardie woorde op? Nie een van die lidlande van die sogenaamde Verenigde Volke nie. Dit is net die vredeliewende, wêreldwye “volk” van oor die driemiljoen getuies van Jehovah wat duidelik getoon het hoe Christelike neutraliteit in ’n bloedbevlekte wêreld gehandhaaf kan word.
Hersieningsvrae
◻ Hoe kan ons vrede met God najaag?
◻ Hoe beskou Jehovah onverskillige bloedvergieting?
◻ Wat word met Christelike neutraliteit bedoel?
◻ Watter goeie voorbeelde van onkreukbaarheid het ons?
◻ Hoe kan ons toevlug vind tot redding?
[Venster op bladsy 21]
’n Rekord van geloof, moed en onkreukbaarheid
Die boek New Religious Movements: A Perspective for Understanding Society lewer hierdie bykomende kommentare oor die onkreukbaarheid van Jehovah se Getuies tydens Nazi-vervolging:
“In hulle weiering om toe te gee, het die Jehovahsgetuies ’n uitdaging gebied aan die totalitêre begrip van die nuwe gemeenskap, en hierdie uitdaging, sowel as die hardnekkigheid daarvan, het die argitekte van die nuwe orde duidelik ontstem. Hoe meer die Getuies vervolg is, des te meer het hulle ’n wesenlike ideologiese uitdaging gebied. Die beproefde vervolgingsmetodes, marteling, gevangesetting en bespotting, het nie gelei tot die bekering van Getuies tot die Nazi-standpunt nie en was trouens teenproduktief vir die aanstigters daarvan. Hierdie onvoorspelbare reaksie het die Nazi’s paniekbevange gemaak.”
“Daar was ’n bitter stryd tussen hierdie twee mededingende eisers van lojaliteit, te meer omdat die fisies sterker Nazi’s in baie opsigte minder seker was, minder gegrond in die vastheid van hulle oortuiging, minder seker van die voortbestaan van hulle duisendjarige Ryk. Getuies het nie getwyfel aan hulle eie wortels nie, want hulle geloof was al van die tyd van Abel af duidelik. Ofskoon die Nazi’s teenstand moes onderdruk en hulle ondersteuners moes oortuig, dikwels met taal en beeldspraak wat van die sektariese Christendom geleen is, was Getuies seker van die algehele, onwrikbare lojaliteit van hul lede, selfs tot die dood toe.”
Dit sal voorwaar ’n blye dag wees wanneer hierdie oorwinning deur Christelike lojaliteit voltooi is (Romeine 8:35-39). Dan, onder die Koninkryksbewind van die “Vredevors”, die verheerlikte Jesus Christus, sal die profesie vervul word: “Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring.”—Jesaja 9:5, 6, NAV.
[Venster op bladsy 22]
Jong handhawers van onkreukbaarheid
Wat hier volg, word aangehaal uit ’n dagboek wat onlangs deur ’n waarnemer in ’n Europese land gepubliseer is. Dit dui aan hoe jong Getuies moedig gebly het by die beginsel om “nie van die wêreld” te wees nie.—Johannes 17:14.
‘1945, 12 Maart: ’n Krygshof was in sitting. Twee jong Jehoviste is die beskuldigdes. Die aanklag: diensweiering (volgens die gees van hulle geloof). Die jonger een, wat nog nie 20 jaar oud is nie, is tot 15 jaar in ’n strafgevangenis gevonnis. Die ouer een is egter ter dood veroordeel, en hy is onmiddellik na sy tuisdorp gebring om daar in die openbaar tereggestel te word as ’n afskrikkende voorbeeld. Hy is die 14de slagoffer hier. Mag hy in vrede rus. Hierdie geval het my diep geraak. Teen die Jehoviste kan jy nie so optree nie. Hulle het nie ’n waarskuwende voorbeeld van hierdie seun gemaak nie, maar ’n martelaar. Hy was ’n gesonde seun. Ek treur oor hom.
‘In die middag het ons die besonderhede verneem van die teregstelling van hierdie jong man, wat voor ’n hele aantal mense in die mark plaasgevind het. Een van die soldate wat in die kordon gestaan het, het homself voor die teregstelling uit skaamte geskiet. Dit was omdat ’n kolonel wou hê dat hy die laksman moes bystaan. Maar hy was nie bereid om dit te doen nie. Hy het eerder die hand aan eie lewe geslaan. Die jong man self het moedig gesterf. Hy het nie ’n woord gesê nie.’
Hoe bly sal sulke jongelinge in die opstanding wees dat hulle liewer die angel van die dood gekies het as om hul plek in Jehovah se nuwe stelsel te verbeur!—Vergelyk Hosea 13:14.