Jesus se lewe en bediening
“Hy is die dood skuldig”
JESUS is soos ’n slegte misdadiger geboei en word na Annas, die invloedryke gewese hoëpriester, gelei. Annas was hoëpriester toe Jesus die rabbynse leraars as 12-jarige seun by die tempel verbaas het. ’n Paar van Annas se seuns het later as hoëpriester gedien, en sy skoonseun Kajafas beklee nou daardie posisie.
Jesus word waarskynlik eers na die huis van Annas gelei omdat daardie hoëpriester so lank ’n vername posisie in die Joodse godsdienslewe beklee het. Omdat hulle Annas eers besoek, kan hoëpriester Kajafas die Sanhedrin, die Joodse hoër hof met 71 lede, laat vergader, asook valse getuies bymekaar kry.
Hoëpriester Annas ondervra Jesus nou oor sy dissipels en oor sy leer. Jesus se antwoord is egter: “Ek het ronduit tot die wêreld gespreek; Ek het altyd in die sinagoge geleer en in die tempel waar die Jode van alle kante vergader; en in die geheim het Ek niks gespreek nie. Wat ondervra u My? Ondervra hulle wat gehoor het wat Ek tot hulle gespreek het; hulle weet tog wat Ek gesê het.”
Hierop slaan een van die dienaars wat naby Jesus staan hom in die gesig en sê: “Antwoord U die hoëpriester so?”
“As Ek verkeerd gespreek het”, sê Jesus, “getuig van die verkeerdheid; maar as Ek reg gespreek het, waarom slaan jy My?” Na hierdie gesprek stuur Annas Jesus geboeid weg na Kajafas.
Teen hierdie tyd begin al die hoëpriesters en die ouere manne en die skrifgeleerdes, ja, die hele Sanhedrin, bymekaarkom. Hulle vergaderplek is blykbaar die huis van Kajafas. Maar dit is onteenseglik in stryd met die Joodse wet om so ’n verhoor op die aand van ’n Pasga te hou. Maar dit verhinder nie die godsdiensleiers om hulle goddelose plan uit te voer nie.
Reeds weke vantevore toe Jesus Lasarus opgewek het, het die Sanhedrin onder mekaar besluit dat hy moet sterf. En net twee dae vroeër, Woensdag, het die godsdiensowerhede saam beraadslag om Jesus deur middel van ’n geslepe plan te vang en dood te maak. Stel jou voor, hy is voor sy verhoor veroordeel!
Nou probeer hulle getuies vind wat valse getuienis sal lewer sodat ’n saak teen Jesus gemaak kan word. Maar geen getuies kan gevind word wie se getuienis met mekaar strook nie. Oplaas kom daar twee valse getuies na vore en hulle beweer: “Ons het Hom hoor sê: Ek sal hierdie tempel wat met hande gemaak is, afbreek en in drie dae ’n ander een opbou wat nie met hande gemaak is nie.”
“Antwoord U niks nie?” vra Kajafas. “Wat getuig hierdie manne teen U?” Maar Jesus bly stil. Selfs met hierdie valse aantyging kan die getuies, tot die vernedering van die Sanhedrin, hulle stories nie met mekaar laat strook nie. Die hoëpriester probeer dus ’n ander taktiek.
Kajafas weet hoe sensitief die Jode daaroor is as iemand beweer dat hy die Seun van God is. By twee vorige geleenthede het hulle Jesus oorhaastig bestempel as ’n godslasteraar wat die dood skuldig is, en hulle het eenkeer verkeerdelik gedink dat hy beweer het dat hy aan God gelyk is. Kajafas eis nou met lis: “Ek besweer U by die lewende God dat U vir ons sê of U die Christus, die Seun van God, is?”
Ongeag wat die Jode dink, Jesus is werklik die Seun van God. En as hy stilbly, kan hulle dink dat hy ontken dat hy die Christus is. Jesus antwoord dus moedig: “Ek is. En u almal sal die Seun van die mens aan die regterhand van die krag van God sien sit en kom met die wolke van die hemel.”
Hierop skeur Kajafas in ’n dramatiese vertoon sy klere en roep uit: “Hy het godslasterlik gespreek, wat het ons nog getuies nodig? Kyk, nou het julle sy godslastering gehoor! Wat dink julle?”
“Hy is die dood skuldig”, roep die Sanhedrin uit. Dan begin hulle hom bespot, en hulle sê baie lasterlike dinge teen hom. Hulle slaan hom in die gesig en spuug op hom. Ander blinddoek hom en slaan hom met hulle vuiste en sê sarkasties: “Profeteer vir ons, Christus! Wie is dit wat U geslaan het?” Hierdie lasterlike, onwettige gedrag vind gedurende die nagtelike verhoor plaas. Mattheüs 26:57-68; 26:3, 4; Markus 14:53-65; Lukas 22:54, 63-65; Johannes 18:13-24; 11:45-53; 10:31-39; 5:16-18.
◆ Waarheen word Jesus eers gelei, en wat gebeur daar met hom?
◆ Waarheen word Jesus vervolgens geneem, en met watter doel?
◆ Hoe kry Kajafas dit reg dat die Sanhedrin verklaar dat Jesus die dood skuldig is?
◆ Watter lasterlike, onwettige gedrag vind gedurende die verhoor plaas?