Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w91 7/1 bl. 14-19
  • “Vroue wat hard werk in die Here”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Vroue wat hard werk in die Here”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Jesus se gesindheid teenoor vroue
  • Vroue wat Jesus gedien het
  • Getroue Christinne ná Pinkster
  • Paulus se gesindheid teenoor vroue
  • Hedendaagse hardwerkende vroue
  • Vrouens van reisende opsieners
  • Ouere manne se vrouens
  • Getroue “bejaarde vroue”
  • Heersers saam met Christus
  • Respek en waardigheid omdat God omgee
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Man en vrou—’n Waardige rol vir albei
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Christenvroue verdien eer en respek
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Vroue se verbeterde rol in ons dag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
w91 7/1 bl. 14-19

“Vroue wat hard werk in die Here”

“Groet Trifena en Trifosa, vroue wat hard werk in die Here.”—ROMEINE 16:12, NW.

1. Op watter manier was Jesus se aardse bediening ’n seën vir vroue?

JESUS se aardse bediening was waarlik ’n seën vir Joodse vroue. Die werk waarmee hy begin het, sou vertroosting, hoop en nuwe waardigheid aan vroue van alle rasse gee. Hy het hom nie gesteur aan die tradisies van Judaïsme wat “die gebod van God kragteloos gemaak” het nie (Mattheüs 15:6). Baie van daardie tradisies het die basiese, godgegewe regte van vroue veronagsaam.

Jesus se gesindheid teenoor vroue

2. Waarom kan daar gesê word dat Jesus se benadering van vroue revolusionêr was in sy tyd?

2 Wat ’n duidelike kontras was daar tog tussen Jesus se gesindheid teenoor vroue en dié van die Joodse godsdiensleiers! Volgens die Encyclopaedia Judaica het die laasgenoemdes vroue as “hebsugtig, afluisteraars, lui en jaloers” beskou. Gesprekke met vroue is afgekeur, en “dit was ’n oneer vir ’n geleerde om op straat met ’n vrou te gesels”. (Jerusalem in the Time of Jesus, deur Joachim Jeremias; vergelyk Johannes 4:27.) Baie meer kan gesê word oor die minagtende gesindheid van die leiers van Judaïsme teenoor vroue. Maar die voorgenoemde sal voldoende wees om te toon hoe Jesus se benadering van vroue in sy tyd werklik revolusionêr was.

3. Watter gebeurtenisse gedurende Jesus se bediening toon dat hy gewillig was om vroue diep geestelike waarhede te leer?

3 Jesus voorsien die volmaakte voorbeeld van hoe mans ’n hartlike dog rein verhouding met vroue kan hê. Hy het nie net met hulle gesels nie maar het hulle ook diep geestelike waarhede geleer. Trouens, die heel eerste persoon aan wie hy sy Messiasskap openlik bekend gemaak het, was ’n vrou, en boonop nog ’n Samaritaanse vrou (Johannes 4:7, 25, 26). Daarbenewens toon die gebeurtenis waarby Martha en Maria betrokke was duidelik dat Jesus, anders as die Joodse godsdiensleiers, nie gedink het dat ’n vrou nie die reg het om haar potte en panne tydelik te verlaat sodat sy haar geestelike kennis kan vermeerder nie. Maria het by daardie geleentheid “die goeie deel uitgekies” deur geestelike dinge eerste te stel (Lukas 10:38-42). Maar ’n paar maande later, ná hulle broer gesterf het, was dit Martha, nie Maria nie, wat ’n groter ywer getoon het om die Meester tegemoet te gaan. Hoe besiel dit ons tog selfs vandag wanneer ons daardie diepgaande geestelike gesprek tussen Jesus en Martha oor die opstanding lees! (Johannes 11:20-27). Wat ’n voorreg was dit tog vir Martha!

Vroue wat Jesus gedien het

4, 5. Wie, benewens die apostels, het Jesus gedurende sy Galilese bediening gevolg, en hoe het hulle hom gedien?

4 Jesus het ook die diens van vroue aanvaar terwyl hy deur die land gereis het. In sy Evangelieverslag meld Markus “vroue . . . wat Hom [Jesus] gevolg en Hom gedien het toe Hy in Galilea was” (Markus 15:40, 41). Wie was hierdie vroue, en hoe het hulle Jesus gedien? Ons ken nie almal van hulle se name nie, maar Lukas meld ’n paar en verduidelik hoe hulle Jesus gedien het.

5 Lukas skryf: “Daarna het Hy die een stad en dorp ná die ander deurgereis en gepreek en die evangelie van die koninkryk van God verkondig; en die twaalf was saam met Hom, ook sekere vroue wat genees was van bose geeste en siektes: Maria wat Magdalena genoem word, uit wie sewe duiwels uitgegaan het, en Johanna, die vrou van Gusa, ’n bestuurder van Herodes, en Susanna en baie ander wat Hom almal met hulle besittings gedien het” (Lukas 8:1-3). Jesus het toegelaat dat hierdie vroue hom volg en hulle besittings gebruik om in sy behoeftes en dié van sy apostels te voorsien.

6. (a) Wie het Jesus gedurende sy laaste reis na Jerusalem vergesel? (b) Wie was by Jesus se dood teenwoordig, en hoe is party van hulle beloon? (c) Wat is uit die oogpunt van die tradisies van Judaïsme merkwaardig aangaande die verslag in Johannes 20:11-18?

6 Toe Jesus tereggestel is, was daar “baie vroue wat dit van ver af aanskou het, wat vir Jesus van Galilea af gevolg en Hom gedien het. Onder hulle was daar Maria Magdalena en Maria, die moeder van Jakobus en Joses” (Mattheüs 27:55, 56). Talle getroue vroue was dus ten tyde van Jesus se dood teenwoordig. Dit is ook noemenswaardig dat vroue die eerste getuies van sy opstanding was (Mattheüs 28:1-10). Dit was al klaar ’n slag vir die Joodse tradisie, want in Judaïsme is daar gemeen dat vroue onbevoeg is om as wettige getuies op te tree. Lees Johannes 20:11-18 teen hierdie agtergrond, en probeer jou die intense emosie voorstel wat Maria Magdalena moes ondervind het toe die verrese Meester aan haar verskyn, haar op haar naam genoem en haar as sy getuie gebruik het om sy dissipels te vertel dat hy werklik lewe!

Getroue Christinne ná Pinkster

7, 8. (a) Hoe weet ons dat vroue teenwoordig was toe die gees tydens Pinkster uitgegiet is? (b) Hoe het Christinne aan die vroeë uitbreiding van die Christelike godsdiens deelgeneem?

7 Ná Jesus se hemelvaart was daar godvresende vroue saam met die getroue apostels in die bovertrek in Jerusalem teenwoordig (Handelinge 1:12-14). Dit is ook duidelik dat daar vroue onder diegene was op wie die heilige gees tydens Pinkster uitgestort is. Waarom? Omdat Petrus Joël 2:28-30 aangehaal het, wat spesifiek “dogters” en “diensmaagde” meld, toe hy verduidelik het wat gebeur het (Handelinge 2:1, 4, 14-18). Geesverwekte, gesalfde Christenvroue was dus ’n deel van die Christengemeente toe dit heel aan die begin gestig is.

8 Vroue het ’n belangrike rol, maar nie ’n oorheersende rol nie, in die verspreiding van die Christelike godsdiens gespeel. Maria, die moeder van Markus en die tante van Barnabas, het haar blykbaar groot huis vir die gemeente in Jerusalem beskikbaar gestel (Handelinge 12:12). En sy was gewillig om dit te doen op ’n tydstip toe daar ’n hernieude vlaag van vervolging teen die Christene uitgebreek het (Handelinge 12:1-5). Die vier dogters van die evangelis Filippus was bevoorreg om Christenprofetesse te wees.—Handelinge 21:9; 1 Korinthiërs 12:4, 10.

Paulus se gesindheid teenoor vroue

9. Watter raad het Paulus oor Christinne in sy eerste brief aan die Korinthiërs gegee, en watter goddelike beginsel het hy vroue aangespoor om te respekteer?

9 Soms word die apostel Paulus beskuldig van misoginie, dit wil sê, haat van en wantroue teen vroue. Dit was weliswaar Paulus wat daarop aangedring het dat vroue hulle behoorlike plek in die Christengemeente moet ken. Onder normale omstandighede moes hulle nie tydens gemeentelike vergaderinge onderrig nie (1 Korinthiërs 14:33-35). As ’n Christin tydens ’n vergadering gepraat het omdat daar geen Christenman teenwoordig was nie of omdat sy onder aansporing van die heilige gees geprofeteer het, moes sy ’n hoofbedekking dra. Hierdie bedekking was “’n aanduiding van gesag”, sigbare bewys dat die vrou God se hoofskapreëling erken het.—1 Korinthiërs 11:3-6, 10.

10. Waarvan het party die apostel Paulus beskuldig, maar wat bewys dat hierdie aantyging vals is?

10 Paulus het dit blykbaar nodig gevind om die eertydse Christene aan hierdie teokratiese beginsels te herinner sodat ‘alles welvoeglik’ by die gemeentelike vergaderinge ‘kan toegaan’ (1 Korinthiërs 14:40). Maar beteken dit dat Paulus teen vroue gekant was, soos sommige beweer? Nee, dit is nie wat dit beteken nie. Was dit nie Paulus wat in die slothoofstuk van sy brief aan die Romeine nege Christinne hartlik gegroet het nie? Was dit nie hy wat diepe waardering getoon het vir Febe, Prisca (Priscilla), Trifena en Trifosa nie, en het hy nie na hierdie laaste twee verwys as “vroue wat hard werk in die Here” nie? (Romeine 16:1-4, 6, 12, NW, 13, 15). En dit is Paulus wat onder inspirasie geskryf het: “Julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee. Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus” (Galasiërs 3:27, 28). Paulus het ongetwyfeld sy Christensusters, onder andere Lidia, wat gedurende ’n tyd van beproewing voorbeeldige gasvryheid aan hulle betoon het, liefgehad en waardeer.—Handelinge 16:12-15, 40; Filippense 4:2, 3.

Hedendaagse hardwerkende vroue

11, 12. (a) Hoe word Psalm 68:12 vandag letterlik vervul? (b) Met watter situasie het baie van ons susters vandag te kampe, en waarom het hulle ons liefde en gebede nodig?

11 In die hedendaagse Christengemeente is daar baie Christinne wat “hard werk in die Here”. Trouens, statistiek toon dat ‘die vroue wat die goeie tyding bring ’n groot skare is’, aangesien hulle die grootste deel uitmaak van die leër van Getuies wat Jehovah in hierdie tyd van die einde gebruik (Psalm 68:12). Hierdie hardwerkende Christinne het ’n goeie naam vir hulself verwerf aangesien hulle daarna strewe om hulle rol te vervul as vrouens, moeders, huisvrouens, broodwinners, sowel as Christenbedienaars.

12 Etlike van hierdie goeie susters het ongelowige mans. Hulle moet hierdie situasie 24 uur per dag die hoof bied. Party probeer al jare lank om goeie vrouens te wees, terwyl hulle aan die vereistes voldoen om lojale knegte van Jehovah te wees. Dit was nie maklik nie, maar hulle het volhard, en hulle hoop altyd dat hulle mans deur hulle goeie Christelike gedrag “sonder woorde gewin kan word”. En watter vreugde smaak die hele gesin tog wanneer so ’n man daarop reageer! (1 Petrus 3:1, 2). Intussen het hierdie getroue susters beslis die broederliefde en die gebede van die ander gemeentelede nodig. Net soos die “sagmoedige en stille gees” wat hulle probeer openbaar “baie kosbaar . . . voor God” is, is hulle onwrikbare onkreukbaarheid kosbaar in ons oë.—1 Petrus 3:3-6.

13. Waarom kan daar van ons pioniersusters gesê word dat hulle “vroue [is] wat hard werk in die Here”, en hoe moet hulle in hulle onderskeie gemeentes beskou word?

13 Ons kan beslis sê dat die susters wat as pioniers dien “hard werk in die Here”. Baie van hulle het, benewens hulle predikingswerk, ’n huis, ’n man en kinders om na om te sien. Party doen deeltydse werk om in hulle materiële behoeftes te voorsien. Dit verg alles goeie organisasie, vasberadenheid, deursettingsvermoë en baie harde werk. Hierdie Christinne behoort die liefde en ondersteuning te ondervind van diegene wie se omstandighede hulle nie toelaat om pionierure aan die getuieniswerk te bestee nie.

14. (a) Watter goeie voorbeeld van volharding word genoem? (b) Watter ander Christinne verdien lof, en waarom? Meld enige plaaslike voorbeelde.

14 Party Christinne het buitengewone volharding in die pionierdiens getoon. Grace Lounsbury het in 1914 haar eerste voorsmaak van pionierdiens in Kanada gehad. In 1918 moes sy weens siekte van die pionierlys afkom, maar teen 1924 was sy terug in die voltydse bediening. Toe hierdie artikel geskryf is, was sy steeds ’n pionier, hoewel sy 104 jaar oud is! Baie sendelingsusters wat in die veertigerjare in die eerste klasse van die Wagtoring-Bybelskool Gilead opgelei is, dien nog steeds getrou in die sendingveld of as lede van die Bethelgesin in Brooklyn of in een van die Wagtoringgenootskap se takkantore. Al hierdie Christinne, en trouens al die susters wat hulle in hulle Betheldiens toelê, toon ’n selfopofferende gees en is goeie voorbeelde. Sê ons ooit vir hulle dat hulle waardeer word?

Vrouens van reisende opsieners

15, 16. Veral watter groep Christenvrouens verdien ons hartlike lof, en waarom?

15 Die vrouens van reisende opsieners is ’n ander groep Christinne wat ons hartlike lof en aanmoediging verdien. Hierdie dierbare susters is bereid om hulle mans te volg terwyl hulle van gemeente tot gemeente, of van kring tot kring, gaan om hulle broers geestelik op te bou. Die meeste van hulle het die geriewe van ’n huis prysgegee; hulle slaap elke week in ’n ander bed, en nie altyd ’n goeie bed nie. Maar hulle is gelukkig om te aanvaar wat die broers ook al kan bied. Hulle is ’n goeie voorbeeld vir hulle geestelike susters.

16 Hierdie Christinne verleen ook onskatbare steun aan hulle mans, soos die godvresende vroue wat Jesus vergesel het deur ‘Hom te volg en Hom te dien’ (Markus 15:41). Hulle kan nie baie tyd alleen saam met hulle mans deurbring nie, aangesien hulle mans altyd ‘volop te doen het in die werk van die Here’ (1 Korinthiërs 15:58, NW). Party van hulle, soos Rosa Szumiga in Frankryk, wat in 1948 die voltydse diens betree het, het al 30 of 40 jaar lank tasse vir hulle mans gepak en saam met hulle gereis. Hulle is bereid om opofferinge te maak vir Jehovah en vir hulle broers en susters. Hulle verdien ons waardering, liefde en gebede.

Ouere manne se vrouens

17, 18. (a) Watter eienskappe word vereis van die vrouens van broers wat in diensposisies aangestel is? (b) Watter opofferinge is ouere manne se vrouens bereid om vir Jehovah en hulle broers te maak, en hoe kan ander vrouens hulle mans help?

17 Terwyl die apostel Paulus die vereistes opnoem waaraan broers moet voldoen wat as ouere manne en bedieningsknegte aangestel kan word, noem hy ook vroue en skryf: “Net so moet die vroue waardig wees, geen kwaadspreeksters nie, nugter [“matig in gewoontes”, NW], betroubaar in alles” (1 Timotheüs 3:11). Hierdie algemene raad geld weliswaar vir alle Christinne. Maar dit is uit die konteks vanselfsprekend dat die vrouens van broers wat in diensposisies aangestel is die raad op ’n voorbeeldige wyse moet volg.

18 Gelukkig is dit die geval met duisende vrouens van Christenopsieners. Hulle is matig in hulle gewoontes en in hulle kleredrag, neem hulle Christelike leefwyse ernstig op, is versigtig wat hulle sê en probeer opreg om in alle dinge getrou te wees. Hulle is ook bereid om opofferinge te maak en aanvaar dat hulle mans tyd aan gemeentelike sake bestee wat andersins saam met hulle bestee kon word. Hierdie getroue Christenvrouens verdien ons innige liefde en bemoediging. Miskien kan meer broers voorregte in ons gemeentes nastreef as hulle vrouens nederig sou inwillig om sulke opofferinge tot voordeel van almal te maak.

Getroue “bejaarde vroue”

19. Waarom word talle getroue “bejaarde vroue” in hulle gemeentes besonder waardeer, en hoe behoort ons oor hulle te voel?

19 Ons bespreking van vroue wat in die Bybel genoem word, het ons laat besef dat ouderdom nie vroue van geloof verhinder om Jehovah te dien nie. Hierdie feit word deur Sara, Elisabet en Anna toegelig. Daar is vandag talle bejaarde Christenvroue wat goeie voorbeelde van geloof en volharding is. Daarbenewens kan hulle die ouere manne op ’n taktvolle wyse ondersteun deur die jonger susters te help. Hulle kan van hulle lang ondervinding gebruik maak en wyse raad aan jonger vroue gee, net soos die Skrif hulle magtig om te doen (Titus 2:3-5, NW). Daar moet dalk soms aan ’n bejaarde suster self raad gegee word. Indien wel, moet die ouere man wat dit doen ‘haar soos ’n moeder vermaan’. Ouere manne moet ‘die weduwees eer’ en, indien nodig, reëlings tref dat hulle materieel gehelp kan word (1 Timotheüs 5:1-3, 5, 9, 10). Ons dierbare bejaarde susters moet beslis voel dat ons hulle nodig het en waardeer.

Heersers saam met Christus

20. Watter allergrootste voorreg is aan baie Christinne gebied, en waarom kan die ander skape hieroor gelukkig wees?

20 Dit is baie duidelik uit die Skrif dat “daar . . . geen aanneming van die persoon by God” is wat ras of geslag betref nie (Romeine 2:10, 11; Galasiërs 3:28). En dit geld ook vir die manier waarop Jehovah diegene kies wat saam met sy Seun aan die Koninkryksregering verbonde gaan wees (Johannes 6:44). Hoe dankbaar kan die groot menigte ander skape tog wees dat getroue vroue, soos Jesus se moeder Maria, Maria Magdalena, Priscilla, Trifena, Trifosa en ’n menigte ander in die eertydse Christengemeente, nou ’n deel het aan die Koninkryksheerskappy en daardie regering met hulle diepe begrip van die gevoelens en ondervindinge van vroue verryk! Watter liefdevolle versiendheid en wysheid het Jehovah tog aan die dag gelê!—Romeine 11:33-36.

21. Wat is vandag ons siening van “vroue wat hard werk in die Here”?

21 Ons wat vandag lewe, kan met die apostel Paulus saamstem toe hy met liefde en waardering gepraat het van “hierdie vroue . . . wat met my saamgestry het in die evangelie” (Filippense 4:3). Al Jehovah se Getuies, mans en vroue, beskou dit as ’n vreugde en ’n voorreg om skouer aan skouer saam met die ‘groot skare vroue wat die goeie tyding bring’ te werk, ja, “vroue wat hard werk in die Here”.—Psalm 68:12; Romeine 16:12, NW.

Hersieningsvrae

◻ Hoe het Jesus getoon dat hy nie die vooroordele van die Joodse godsdiensleiers teenoor vroue gedeel het nie?

◻ Hoe het godvresende vroue Jesus gedien, en watter groot voorreg het party van hulle ontvang?

◻ Watter raad het Paulus oor vroue in gemeentelike vergaderinge gegee?

◻ Watter kategorieë van susters verdien ons spesiale liefde en ondersteuning, en waarom?

◻ Hoe behoort ons vandag te voel teenoor al die “vroue wat hard werk in die Here”?

[Prent op bladsy 16, 17]

Vroue het Jesus en sy apostels gedien

[Prente op bladsy 18]

Die selfopofferende vrouens van reisende opsieners en van ander ouere manne lewer ’n kosbare bydrae tot God se werk

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel