‘Die getroue dienskneg’ en sy Bestuursliggaam
“Wie is dan die getroue en verstandige dienskneg vir wie sy heer oor sy diensvolk aangestel het om hulle hul voedsel op tyd te gee?”—MATTHEÜS 24:45.
1. Waarom is Jehovah bereid om gesag te delegeer, en aan wie in die besonder het hy gesag gedelegeer?
JEHOVAH is ’n God van orde. Hy is ook die Bron van alle regmatige gesag. Omdat Jehovah vertroue stel in die lojaliteit van sy getroue knegte is hy bereid om gesag te delegeer. Die een aan wie hy die meeste gesag gegee het, is sy Seun, Jesus Christus. God het inderdaad “alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee”.—Efesiërs 1:22.
2. Wat noem Paulus die Christengemeente, en aan wie het Christus gesag gedelegeer?
2 Die apostel Paulus noem die Christengemeente “die huis van God” en sê dat Jehovah se getroue Seun, Jesus Christus, oor hierdie huis aangestel is (1 Timotheüs 3:15; Hebreërs 3:6). Christus delegeer op sy beurt gesag aan die lede van God se huis. Ons kan dit sien uit Jesus se woorde wat in Mattheüs 24:45-47 opgeteken is. Hy het gesê: “Wie is dan die getroue en verstandige dienskneg vir wie sy heer oor sy diensvolk aangestel het om hulle hul voedsel op tyd te gee? Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, op hierdie manier besig sal vind. Voorwaar Ek sê vir julle, hy sal hom oor al sy besittings aanstel.”
Die eerste-eeuse huisbestuurder
3. Uit wie bestaan “die getroue en verstandige dienskneg”, en wat word hulle individueel genoem?
3 Weens ons noukeurige studie van die Skrif weet ons dat die geesgesalfde lede van God se huis wat enige bepaalde tyd lewe gesamentlik “die getroue en verstandige dienskneg”, die “bestuurder”, of die “huisbestuurder”, uitmaak. Die individuele lede van Jehovah se huis word die “diensvolk” of “liggaam van bediendes” genoem.—Mattheüs 24:45; Lukas 12:42, NW; vergelyk voetnoot in NW-naslaanuitgawe.
4. Watter vraag het Jesus kort voor sy dood geopper, en met wie het hy homself vergelyk?
4 Jesus het ’n paar maande voor sy dood hierdie vraag geopper wat in Lukas 12:42 opgeteken is: “Wie is dan die getroue en verstandige bestuurder wat die heer oor sy diensvolk [“liggaam van bediendes”, NW] sal aanstel om hulle rantsoen op tyd te gee?” Toe, ’n paar dae voor sy dood, het Jesus homself vergelyk met ’n man wat op reis wou gaan en sy diensknegte geroep en sy besittings aan hulle toevertrou het.—Mattheüs 25:14.
5. (a) Wanneer het Jesus ander aangestel om na sy besittings om te sien? (b) Watter uitgebreide opdrag het Christus aan diegene gegee wat lede van sy samegestelde huisbestuurder sou word?
5 Wanneer het Jesus ander aangestel om na sy besittings om te sien? Dit het na sy opstanding plaasgevind. Met die bekende woorde in Mattheüs 28:19 het Christus eers aan diegene wat lede van sy samegestelde huisbestuurder sou word ’n uitgebreide opdrag gegee om mense te leer en dissipels te maak. Die bediendes sou die sendingveld uitbrei waarin Jesus gedurende sy aardse bediening begin werk het deur individueel “tot aan die uiterste van die aarde” te getuig (Handelinge 1:8). Dit het beteken dat hulle as ‘gesante in die plek van Christus’ moes optree. As “bestuurders van heilige geheime van God” sou hulle dissipels maak en geestelike voedsel aan hierdie dissipels gee.—2 Korinthiërs 5:20, NW; 1 Korinthiërs 4:1, 2, NW.
Die huis se bestuursliggaam
6. Wat het die eerste-eeuse bestuurderklas onder goddelike inspirasie voorsien?
6 Geesgesalfde Christene sou gesamentlik die heer se bestuurder, of huisbestuurder, wees, wat aangestel is om geestelike voedsel op tyd aan die individuele lede van die huis van God te gee. Tussen 41 G.J. en 98 G.J. het lede van die eerste-eeuse bestuurderklas onder goddelike inspirasie 5 geskiedverslae, 21 briewe en die boek Openbaring tot nut van hulle broers geskryf. Hierdie geïnspireerde geskrifte bevat puik geestelike voedsel vir die diensvolk, dit wil sê, individuele gesalfdes van God se huis.
7. Met watter doel het Christus ’n klein groepie manne uit die diensknegklas gekies?
7 Hoewel alle gesalfde Christene gesamentlik God se huis uitmaak, is daar oorvloedige bewys dat Christus ’n klein groepie mans uit die diensknegklas gekies het om as ’n sigbare bestuursliggaam te dien. Die vroeë geskiedenis van die gemeente toon dat die 12 apostels, waaronder Matthias, die fondament van die eerste-eeuse bestuursliggaam was. Handelinge 1:20-26 gee ons ’n aanduiding hiervan. In die verslag oor hoe ’n plaasvervanger vir Judas Iskariot gekies is, maak dit melding van sy “opsienersamp” en sy “bediening en apostelskap”.
8. Watter verantwoordelikhede het die eerste-eeuse bestuursliggaam gehad?
8 So ’n opsienersamp het die apostels se verantwoordelikheid ingesluit om bekwame manne in diensposisies aan te stel en om die bediening te organiseer. Maar dit het meer beteken. Dit het ook behels dat hulle geloofspunte aan ander leer en verduidelik. Ter vervulling van Jesus se belofte in Johannes 16:13 moes “die Gees van die waarheid” die Christengemeente progressief in die hele waarheid lei. Diegene wat die woord aangeneem en gedoopte, gesalfde Christene geword het, het hulle van die staanspoor af bly toelê op “die onderrigting van die apostels”. Trouens, daar is juis sewe aanbevole manne aangestel oor die noodsaaklike aangeleentheid om materiële voedsel uit te deel sodat “die twaalf” vry kon bly om ‘hulle aan gebed en aan die bediening van die woord te wy’.—Handelinge 2:42, NW; 6:1-6, vgl. NW.
9. Hoe is die vroeë bestuursliggaam se ledetal tot 11 verminder, maar waarom is die getal blykbaar nie onmiddellik tot 12 herstel nie?
9 Dit lyk of die bestuursliggaam aanvanklik uitsluitlik uit Jesus se apostels saamgestel was. Maar sou dit so bly? Die apostel Jakobus, die broer van Johannes, is omstreeks 44 G.J. deur Herodes Agrippa I tereggestel (Handelinge 12:1, 2). Blykbaar is daar nie soos in die geval van Judas enige poging aangewend om hom as ’n apostel te vervang nie. Waarom nie? Dit was ongetwyfeld omdat Jakobus, die eerste van die 12 apostels wat gesterf het, getrou gesterf het. Judas was daarenteen ’n goddelose afvallige en moes dus vervang word sodat die getal fondamentstene van geestelike Israel tot 12 herstel kon word.—Efesiërs 2:20; Openbaring 21:14, NW.
10. Wanneer en hoe is die eerste-eeuse bestuursliggaam vergroot, en hoe het Christus dit gebruik om God se huis te rig?
10 Die oorspronklike lede van die eerste-eeuse bestuursliggaam was apostels, manne wat met Jesus gewandel het en getuies van sy dood en opstanding was (Handelinge 1:21, 22). Maar hierdie situasie sou verander. Met verloop van jare het ander Christenmanne geestelike statuur verkry en is hulle as ouere manne in die gemeente in Jerusalem aangestel. Op die laatste teen 49 G.J. is die bestuursliggaam vergroot, sodat dit benewens die oorblywende apostels ’n paar ander ouere manne in Jerusalem ingesluit het (Handelinge 15:2). Die samestelling van die bestuursliggaam was dus nie onveranderlik nie, maar God het sake blykbaar so gerig dat dit verander het om by die omstandighede van sy volk te pas. Christus, die aktiewe Hoof van die gemeente, het hierdie groter bestuursliggaam gebruik om die belangrike leerstellige geskille oor die besnydenis van nie-Joodse Christene en hulle onderwerping aan die Wet van Moses te besleg. Die bestuursliggaam het ’n brief geskryf waarin hulle besluit verduidelik is en het verordeninge uitgevaardig wat nagekom moes word.—Handelinge 15:23-29.
’n Tyd van afrekening vir die huisbestuurder
11. Het die broers die sterk leiding waardeer wat die bestuursliggaam gegee het, en wat toon dat Jehovah hierdie reëling geseën het?
11 Individueel en as gemeentes het die vroeë Christene hierdie sterk leiding wat die bestuursliggaam gegee het, waardeer. Nadat die gemeente in Siriese Antiochië die brief van die bestuursliggaam gelees het, was hulle bly oor die bemoediging. Ander gemeentes wat die informasie ontvang en die verordeninge nagekom het, is ‘aanhoudend in die geloof versterk en het van dag tot dag voortdurend in getal toegeneem’ (Handelinge 16:5, NW). Dit is duidelik dat God hierdie reëling geseën het.—Handelinge 15:30, 31.
12, 13. Watter gebeure is deur Jesus voorspel in sy gelykenisse van die ponde en die talente?
12 Maar kom ons beskou ’n ander aspek van hierdie belangrike saak. In sy gelykenis van die ponde het Jesus homself vergelyk met ’n man van hoë geboorte wat na ’n ver land gereis het om koningskap te ontvang en toe teruggekom het (Lukas 19:11, 12). As gevolg van sy opstanding in 33 G.J. is Jesus Christus tot die regterhand van God verhoog, waar hy sou sit totdat sy vyande ’n voetbank vir sy voete gemaak is.—Handelinge 2:33-35, vgl. NW.
13 In ’n parallelle gelykenis, die gelykenis van die talente, het Jesus gesê dat die heer na ’n lang tyd teruggekom het om van sy diensknegte rekenskap te eis. Aan die diensknegte wat getrou was, het die heer gesê: “Oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer.” Maar van die ontroue dienskneg het hy gesê: “Van hom sal weggeneem word ook wat hy het. En werp die nuttelose dienskneg uit in die buitenste duisternis.”—Mattheüs 25:21-23, 29, 30.
14. Wat het Jesus van sy geesgesalfde diensknegte verwag?
14 Na ’n lang tyd—byna 19 eeue—het Christus in 1914, aan die einde van “die tye van die nasies”, koningskap ontvang (Lukas 21:24). Kort daarna het hy ‘teruggekom en rekenskap gevra’ van sy diensknegte, geesgesalfde Christene (Mattheüs 25:19, NAV). Wat het Jesus van hulle as individue en as groep verwag? Die bestuurder se opdrag was nog dieselfde as wat dit sedert die eerste eeu was. Christus het talente aan individue—“aan elkeen na sy vermoë”—toevertrou. Jesus het dus proporsionele resultate verwag (Mattheüs 25:15). Die standaard in 1 Korinthiërs 4:2 is hier van toepassing: “Van die bedienaars [word] vereis dat hulle getrou bevind moet word.” Om met die talente te werk, het beteken dat hulle getrou as gesante van God moes optree, dissipels moes maak en geestelike waarhede aan hulle moes oordra.—2 Korinthiërs 5:20.
Die “dienskneg” en sy Bestuursliggaam in die tyd van die einde
15. (a) Wat het Christus van sy samegestelde huisbestuurder verwag? (b) Wat dui daarop dat Christus verwag het dat die diensknegklas dit sou doen voor hy gekom het om sy huis te ondersoek?
15 Jesus het van gesalfde Christene as ’n groep verwag om as ’n getroue bestuurder op te tree en sy liggaam van bediendes “hulle rantsoen op tyd” te gee (Lukas 12:42). Volgens Lukas 12:43 het Christus gesê: “Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, só besig sal vind.” Dit dui aan dat Christus se geesgesalfde diensknegte reeds geruime tyd voor hy gekom het om van hulle rekenskap te vra besig sou wees om geestelike voedsel aan lede van die Christengemeente, die huis van God, te gee. Wie het Christus só besig gevind toe hy in 1914 met koninklike mag teruggekom en die huis van God in 1918 begin ondersoek het?—Maleagi 3:1-4; Lukas 19:12; 1 Petrus 4:17.
16. Waarom het Christus, toe hy in 1918 gekom het om die huis van God te ondersoek, gevind dat die Christendom se kerke nie geestelike voedsel op tyd gee nie?
16 Toe die lang tyd wat Jesus aan Jehovah se regterhand gewag het ten einde geloop het, het dit mettertyd duidelik geword wie, selfs gedurende die tyd voor 1914, geestelike voedsel aan Christus se diensvolk gegee het. Dink jy dat dit die Christendom se kerke was? Beslis nie, want hulle was diep betrokke by politieke aangeleenthede. Hulle was gewillige instrumente vir koloniale uitbreiding en het met mekaar gewedywer om hulle patriotisme te bewys en het sodoende nasionalisme bevorder. Dit het spoedig swaar bloedskuld op hulle gebring toe hulle politieke regerings wat by die Eerste Wêreldoorlog betrokke was daadwerklik gesteun het. Hulle geloof in geestelike dinge is deur Modernisme verswak. ’n Geestelike krisis het ontstaan omdat baie van hulle geestelikes maklike slagoffers van hoër kritiek en evolusie geword het. Geen geestelike voeding kon van die Christendom se geestelikes verwag word nie!
17. Waarom het Christus sommige gesalfde Christene verwerp, en met watter gevolge vir hulle?
17 Net so het geen heilsame geestelike voedsel van daardie gesalfde Christene gekom wie se persoonlike redding vir hulle belangriker was as om met die Heer se talent te gaan werk nie. Hulle was ‘lui’ en nie geskik om na die Heer se besittings om te sien nie. Hulle is gevolglik “in die buitenste duisternis” gewerp, waar die Christendom se kerke steeds is.—Mattheüs 25:24-30.
18. Wie het die Heer se liggaam van bediendes geestelike voedsel op tyd gegee, en wat bewys dit?
18 Wie het dus aan sy liggaam van bediendes hulle rantsoen op tyd gegee toe die Heer, Jesus Christus, in 1918 gekom het om sy diensknegte te ondersoek? Wel, wie het teen daardie tyd opregte waarheidsoekers gehelp om die losprysoffer, die goddelike naam, dat Christus se teenwoordigheid onsigbaar is en die belangrikheid van 1914 korrek te verstaan? Wie het die leuen oor die Drie-eenheid, die onsterflikheid van die mensesiel en die helse vuur aan die kaak gestel? En wie het teen die gevare van evolusie en spiritisme gewaarsku? Die feite toon dat dit die groep gesalfde Christene was wat verbonde was aan die uitgewers van die tydskrif Zion’s Watch Tower and Herald of Christ’s Presence, wat nou Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan genoem word.
19. Hoe het ’n getroue diensknegklas hom voor 1918 geopenbaar, deur watter instrumente het dit geestelike voedsel voorsien, en van wanneer af?
19 Die Wagtoring van 1 April 1945 het gesê: “Daar was dus in 1878, veertig jaar voor die Here se koms na die tempel [in 1918], ’n klas opregte toegewyde Christene wat van die hiërargiese en geestelikes se organisasies losgebreek het en wat gesoek het om [die Christelike godsdiens] . . . te beoefen. Die volgende jaar, naamlik, in Julie 1879 is ’n begin gemaak om hierdie tydskrif Die Wagtoring [in Engels], te publiseer, . . . sodat die waarhede wat God deur middel van Christus as ‘voedsel op tyd’ verskaf gereeld aan sy hele huishouding van toegewyde kinders uitgedeel kan word.”
20. (a) Hoe het ’n hedendaagse Bestuursliggaam op die toneel verskyn? (b) Wat het die lede van die Bestuursliggaam gedoen, en onder leiding van wie?
20 Die Wagtoring van 1 Maart 1972 het informasie verskaf oor die ontwikkeling van die hedendaagse Bestuursliggaam en het verduidelik: “Vyf jaar later [in 1884] is [Zion’s Watch Tower Tract Society] geïnkorporeer en het dit as ’n ‘agentskap’ gedien om geestelike voedsel te bedien aan duisende opregte persone wat daarna gestrewe het om God te ken en sy Woord te verstaan . . . Toegewyde, gedoopte, gesalfde Christene het met die Genootskap by die hoofkwartier te Pennsilvanië verbonde geraak. Of hulle in die Raad van Direkteure was of nie, hulle het hulle beskikbaar gestel vir spesiale werk van die ‘getroue en verstandige slaaf’-klas. Hulle het met die voeding en leiding van die slaafklas gehelp, en aldus het daar ’n bestuursliggaam verskyn. Dit was blykbaar onder die leiding van Jehovah se onsigbare werkende krag of heilige gees. Ook onder die leiding van die Hoof van die Christengemeente, Jesus Christus.”
21. (a) Wie het Christus besig gevind om geestelike voedsel uit te deel, en hoe het hy hulle beloon? (b) Wat het op die getroue dienskneg en sy Bestuursliggaam gewag?
21 Toe Jesus Christus in 1918 diegene ondersoek het wat verklaar het dat hulle sy diensknegte is, het hy ’n internasionale groep Christene gevind wat Bybelwaarhede gepubliseer het vir gebruik in die gemeente sowel as buite in die predikingswerk. In 1919 het sake inderdaad verloop soos Christus voorspel het: “Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, op hierdie manier besig sal vind. Voorwaar Ek sê vir julle, hy sal hom oor al sy besittings aanstel” (Mattheüs 24:46, 47). Hierdie ware Christene het in die vreugde van hulle Heer gedeel. Omdat hulle getoon het dat hulle ‘oor weinig getrou was’, is hulle deur die Heer “oor veel” aangestel (Mattheüs 25:21). Die getroue dienskneg en sy Bestuursliggaam was op hulle plek, gereed vir ’n groter opdrag. Hoe bly behoort ons tog te wees dat dit die geval was, want lojale Christene vind groot baat by die toegewyde werk van die getroue dienskneg en sy Bestuursliggaam!
Hoofgedagtes om te onthou
◻ Wie is die Hoof van God se huis, en aan wie het Hy gesag gedelegeer?
◻ Watter opdrag het Christus die diensknegklas as groep gegee?
◻ Watter ander samegestelde liggaam bestaan in die diensknegklas, en wat was sy spesifieke pligte?
◻ Wie het geestelike voedsel aan die lede van God se huis gegee toe Christus gekom het om dit te ondersoek?
◻ Hoe het ’n hedendaagse Bestuursliggaam sy verskyning gemaak?
[Prent op bladsy 10]
Die eerste-eeuse “dienskneg” het ’n bestuursliggaam gehad wat uit die apostels en die ouere manne van die gemeente in Jerusalem bestaan het